Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kospotte van Egipte en Italië
Kospotte van Egipte en Italië
Kospotte van Egipte en Italië
Ebook232 pages3 hours

Kospotte van Egipte en Italië

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die jong konstabel Danie de Jager toon in sy vertelling van die oorlog se verskriklikheid hoe weerbaar party van hierdie vrywillige “vryheidsvegters” was. Hy self kom in die boek voor as ’n toonbeeld van selfstandige denke, gesonde verstand, ’n sin vir humor en ’n uiters praktiese gees. Dit het hom veral gehelp om as kok kos te prakseer te midde van die grootste gruwels en hongerte. Hy het in die proses na vore gekom as moedige oorlogsheld en lid van die Italiaanse versetsmag.

LanguageAfrikaans
Release dateNov 30, 2015
ISBN9781310315169
Kospotte van Egipte en Italië

Related to Kospotte van Egipte en Italië

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Kospotte van Egipte en Italië

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kospotte van Egipte en Italië - Alet Gardner

    Deel Een

    Die dief in die nag

    Daar kom die polisieman! Een van my jonger boeties kom met sy klonkie-maters aangehardloop.

    Die hele swetterjoel kinders (daar is veertien van ons, en ook ’n paar swart maatjies van die strooise af) probeer tussen die grootmense en bediendes deur sien wat aangaan. Die konstabel klim van sy perd af en gee nonchalant die teuels vir my aan om vas te hou – ek is veertien jaar oud en skielik voel ek self ook ewe vernaam.

    Konstabel Engelbrecht moet ondersoek instel na die diefstal in ons plaashuis op Morningstar, maar hy kry nie hond haar-af gemaak nie. Hy groet maar weer my ouers en neem die teuels by my – om onverrigtersake die nege myl terug dorp toe aan te pak.

    Dit alles omdat ’n dief laasnag die huis binnegekom het deur die hortjies van die spensvenster te verwyder en dit daarna weer netjies terug te sit. Die inbreker het nie veel gesteel nie – slegs ’n stuk van die varsgemaakte wors en van Moeder se ingemaakte vrugte. Hy het natuurlik probeer slim wees deur net so een of twee vrugte uit elke bottel te eet en die bottel weer mooi toe te maak. Seker gedink dat niemand dit sou agterkom nie.

    Ek brand om vir die grootmense te sê: Die dief moes die huis goed geken het! Kyk, hier loop sy voetspore van buite die venster tot daar waar sy perd aan die draadheining vasgemaak was.

    Maar dis 1930 en kinders word net gesien en nie gehoor nie. Ek hou liefs my opinie vir myself.

    Dit duur natuurlik maande voordat my oudste broer, Jakobus, met die sak patats uitkom – hy was toe al die tyd die skuldige! Maar my belangstelling in polisiewerk is geprikkel en al is ek nog ’n leerlingskrynwerker by die ambagskool, werk ek met nuwe ywer om klaar te maak sodat ek ’n polisieman kan word.

    Hier staan ek nou op die rype ouderdom van twintig in die polisiekantoor op Senekal – een van heelwat jong rekrute wat bevoorreg is om werk te kry so kort na die Groot Depressie. ’n Heerlik interessante toekoms wink!

    Met trots neem ek my uniform met al die parafernalia én drie komberse in ontvangs. Geklee in ’n rybroek en kamaste en met pragtige leerhandskoene is ek nou self ’n polisieman wat kan help om die probleme van die land op te los – min wetende of ek in ’n mynveld van nagmerries gaan instap of nie.

    Terug in die ryskool as nommer 13

    Ek is ’n jong konstabel in ’n eenmanpolisiestasie op Goedemoed in die Vrystaat. My kindertyddroom is wel bewaarheid, maar die lewe wil nie sin maak nie – my donkerkopnooi het my afgesê. Sy is glo nie regtig lief vir my nie.

    Troos is darem by die drankwinkel beskikbaar en ná werk gaan pak ek voor die voet in – sommer ’n paar bottels van alles op die rak, en ook ’n bottel kersielikeur. By die woonkwartiere langs die polisiekantoor aangekom, gaan sit ek met die kas drank langs my op my bed – reg voor Stienie Strachan se lewensgrootte, vollengte foto. Die Chatoga Art Company het dit nog ’n paar maande vantevore vir my op ’n konvekse glas gemonteer. So in die verbystap lyk dit kompleet asof die pragtige, vrolike meisiekind in lewende lywe by my is en my hart skeur sommer weer.

    Ek plak my op die bed neer en kyk hoe die maanlig op die foto van my verlore liefde skyn, gereed om my verdriet te verdrink: Op jou gesondheid, Stienie!

    Met die lig van die tweede glas besef ek skielik: Danie, jy is nou wragtig op ’n verkeerde pad!

    Ek vlieg op en gooi die bottels een vir een by my oop kamerdeur uit waar hulle op die stoep stukkend breek. Een van die bediendes kan maar môre die gemors kom opruim. Van die drank ontslae, sit ek ’n rukkie voor die portret en besluit: Ek gaan nie toelaat dat sy die res van my lewe ruïneer nie! – en, al het die pragtige portret my ’n allemintige £22 gekos, gryp ek my bajonet en begin die ding flenters slaan. Sy kan maar die verdomde duur verloofring hou!

    Teen dagbreek is ek vasberade om van my hartseer te vergeet – ek gaan by die Polisiebrigade van die Suid-Afrikaanse Weermag aansluit. As ek dan nie geluk in ’n huwelik kan vind nie, sal ek ’n edel doel gaan nastreef en die wêreld van onreg help red.

    Na die oorlogsverklaring deur Brittanje op 3 September 1939 ontwikkel die oorlog op die Europese front vinnig. Op 10 Mei 1940 val die Duitsers Holland binne en ek ontvang ’n telefoonoproep uit Bethulie: Pak al jou houtwerkgereedskap en persoonlike besittings. Die HK-vervoer kom jou binne ’n uur oplaai!

    Ek pak in aller yl; klim sommer met die voete in om my klere alles in ’n trommel te kompakteer en neem my persoonlike besittings na die store om toegesluit te word. My ’28 Buick is van die goeie ou soort – ek het immers ses weke met hom gery sonder om agter te kom dat die waaierband gebreek was. Ek trek hom in die motorhuis en skryf ’n vinnige briefie aan my familie in die Hoopstad-distrik om my goed te kom haal. Met dié dat hulle uiters een maal per week pos kry, het ek nie die vaagste benul wanneer hulle die brief gaan kry nie, maar daar is nou ernstiger dinge waaraan ek aandag moet skenk.

    Op Bethulie by die HK aangekom, kry ek my reisdokumente. Die bestemming: Pretoria Polisiedepot. Die volgende paar uur is maar deurmekaar. Mense wat rondskarrel met papiere in die hand, hier en daar ’n rekruut wat met ’n tas langs hom sit of staan en wag: of vir sy papiere, of vir inligting oor ons vertrek.

    So staan die paar van ons in privaatklere op die donker, verlate perron om die 02h00-goederetrein te haal, twee darem gelukkig genoeg om ’n geliefde te hê wat vir oulaas kom groet. Ek het niemand om my af te sien nie, maar ek is mos nou mooi groot en gaan myself nie bejammer nie. Droëbek en honger kom ons uiteindelik op Pretoriastasie aan en moet rondvra tot ons uiteindelik ’n taxi na die SAP-depot toe kry. Ons moet om 17h00 inklok.

    Hier by die Depot gaan ek van nou af bekend staan as nommer dertien van die A-kompanjie van die Suid-Afrikaanse Polisie-bataljon, 6de Suid-Afrikaanse Infanterie-brigade. ’n Troep neem ons na die voorraadmagasyne toe waar ek met uniform, matras en komberse toegerus word. ’n Paar van ons stap met ons bagasie by die Ryskool in – ’n groot lokaal met ’n dik sandvloer waar 36 perde op ’n slag kan oefen. Die oefeninge is natuurlik stopgesit omdat die lokaal nou deur troepe beset word.

    Die nuwe aankomelinge sit hulle bagasie en slaapgoed in ’n ry teen die muur neer. Ek staan nog so en wonder wat nou toe ’n bekende stem bulder: My magtig, Daantjie, is jy ook hier?

    Ben Roode! Nou is Bethulie sommer goed verteenwoordig! en ek help hom om as nommer veertien sy plek langs my in te neem. Ek is in my noppies – ek het my vriend met die warm hart langs my en ons is in die bekende omgewing van die Ryskool.

    Dis in hierdie einste Ryskool dat ek in 1936 as berede polisieman opgelei is. Wat ek en my makkers destyds nie besef het nie, was dat die perde die bevele reeds beter as ons geken het. Dis dan ook nie snaaks dat een stadsjapie, P.A. van Wyk, op ’n dag nie gereageer het op die sersant se bevel nie en reguit gemik het terwyl sy perd links geswenk het.

    Voor die stowwerige P.A. tot verhaal kon kom, het die troepsersant te perd op hom afgejaag: Wie de donder het jou die reg gegee om af te klim? Wie, wie, wie?!

    Arme P.A. het weer op sy perd geklouter en met ’n Kruis stiegrieme! moes die hele troep sonder stiebeuels ry. Gelukkig was ek ’n plaasjapie wat kán perdry en het nie soos ’n hele paar ander afgeval nie.

    Ek onthou hoedat ons op ’n keer te perd op veldoefeninge uit was. Ons was in uitgestrekte orde en moes op bevel ’n kwartsirkel voltooi. Die buitenste ruiters moes dus op vol spoed vorentoe terwyl die nommer een man op die linkerflank die pas markeer. Ek en P.A. van Wyk was nommers 18 en 19. Alles het goed gegaan tot P.A. se jong perd geweier het om oor ’n slootjie te spring. P.A. is oor die perd se kop; toe hy regop kom, het sy té groot helm só vas op sy kop gesit dat net sy tandelose mond uitgesteek het!

    Met teuels in die hand moes hy hoor: Verdomp, man! Hoe is dit dan met jou dat jy aanmekaar ongemagtig afklim?!

    Terwyl ou P.A. nog gesukkel het om sy helm van sy kop af te kry, het ek links voor my ’n groot kolhaas van een bossie na ’n groter bos gesien wip. Dis toe net daar dat die boerseun in my wakker word: ek het met my hand vir die troepsersant beduie om te wag, my teuels vir P.A. aangegee en stadig tot net by die haas verbygestap. Wel wetende dat ek net een kans het en baie mooi moes mik, het ek ’n klip net voor die haas gegooi en toe dié vorentoe spring, het die klip hom vol in die ribbetjies getref!

    Die troepsersant, wat mal was oor haasvleis, het met vreugde nadergery, die haas gevat en beveel: Terug stalle toe en saal af, julle klomp donners!

    Die sersant was tevrede en ou P.A. tydelik gered.

    Nou is ek in my element – ek is terug by die Ryskool, Stienie Strachan is vergete en ek op pad om die wêreld te gaan red. Nie ek of een van my maats het nog ooit nodig gehad om iemand dood te skiet nie, maar hieroor tob ons nie te lank nie – ons gaan immers die wêreld red! Ons mag dalk vorentoe agterkom hoe groot die hap is wat ons afgebyt het.

    Kos en konsertina, brekfis en bruilof

    Menu: Alfresco ontbyt

    Mieliepap

    Melk en suiker

    Gekookte eiers

    Bruinbrood

    Witbrood

    Botter

    Konfyte

    Goue stroop

    Koffie en tee

    Dit is Mei 1940. Hier by die SAP-Ryskool in Pretoria-Wes het ons klomp weermagrekrute nie veel te doen nie, behalwe om nuwe aankomelinge, almal polisie, reg te help. Sommer gou is die gebou se sandvloer vol matrasse. Een van die hoogtepunte van die dag is natuurlik die aankoms van die possakke met briewe van geliefdes, maar my hart voel taamlik leeg wanneer die manne sit en lees – ek kry wel af en toe ’n brief van my ma af, maar dis darem nie dieselfde as ’n meisie wat my mis en allerhande nusies met my deel nie.

    Die groot gewerskaf om ’n stuk veld skoon te maak sodat rye-rye tente opgeslaan kan word, hou nou al dae lank aan. Sommige tente sal as slaapkwartiere dien, sommige as was- of toiletgeriewe en ander as veldkombuise. ’n Vreeslike ontplof-fing laat ons almal uitstorm, net om te vind dat een van die werkers die hoofkabel met sy koevoet raakgekap het. In die proses is een hele muur van die kragstasie aan die dorp se kant weggeblaas! Sjoe, nogal ’n dramatiese begin vir ’n klomp soldate in opleiding! Ek kan nie anders as om te wonder hoe dit op die Front sal gaan waar daar sekerlik gereeld ontploffings gaan wees nie.

    Wie van julle weet iets van kokery af? Toe, Daantjie, jy het mos in Bloemfontein gekook.

    Ondersersant Lappies Labuschagne en ek het mekaar leer ken toe ek in 1936 onder sy bevel op die Polisie-sportgronde verfwerk gedoen het – dié dat hy weet dat ek in die De Wet-re-giment in Bloemfontein en ook in 1937 in Suidwes-Afrika vir agthonderd SAP’s gekook het.

    Die middeljarige sersant Harris het vorige militêre ondervinding as kok gehad en hy staan nader. Hy word in bevel geplaas van die sowat ses van ons en is ook verantwoordelik vir die daaglikse rantsoene.

    Ek sleep vir Willem Crause van Riversdal nader. Hy het nou wel geen vorige ondervinding as kok nie, maar kan met sy musiek ’n bietjie lewe aan ons tent naby die kombuis verskaf. Sommer gou is daar ’n waarderende gehoor – die man speel bokant die kop, agter die rug, tussen die bene deur ... alles sonder om van wysie af te raak.

    Die stewiggeboude Farrell het ook glad nie nodig om terug te staan nie. Toe dinge begin jolig raak, staan hy vir ’n paar gratis doppe op sy kop en drink twee, drie biere na mekaar uit. Dis mos oorgenoeg afleiding vir die kookspan.

    Ons tydelike kookgeriewe bestaan uit twee parallelle steen-muurtjies, so kniehoogte, met ’n steenkoolvuur tussenin. Die groot ovaal dixies (kommandopotte) rus netjies met die twee punte weerskante op die muurtjies. Met twee hake kan ’n mens die swaar potte vol kos oplig van die kookmuurtjies wat soms rooiwarm word. Daar is geen ander manier om die potte met kos te hanteer as om teenaan die warm muurtjie te staan en natuurlik met die omdraaislag weer koue op die knieë te kry nie. Geen wonder my knieë begin gou protesteer nie. Kleintyd se dassies jag in die klipkoppies op die plaas was natuurlik ook nie eintlik sag op my knieë nie.

    Sersant Harris hou homself meesal met die proviand vir ons A-kompanjie besig en ons kom gou agter dat die man nogal lief is vir sy dop. Dis dié dat ek en Willem hier in ’n Pretoriase drankwinkel naby die stasie staan en konkel: Kyk daardie yslike bottel Talana-brandewyn op die boonste rak!

    Ja, kom ons koop dit sodat ons vir Harris ’n paar doppies kan reghê – ’n mens weet nooit wanneer hy vir ons ’n guns of twee moet doen nie.

    Met die dag se werk agter die rug kom ons in ons agt-man beltent byeen en probeer die bottel kamma wegsteek. Dit trek natuurlik dadelik Harris se aandag: I can see what you blokes are doing there!

    Ons is ewe onskuldig: Wil jy proe hoe dit smaak? Ons het nie gedink dis so ’n goeie brandewyn nie.

    Ons sersant is baie in sy skik met die eerste skoon brandewyntjie en ons is nou daarvan verseker dat hy vorentoe behulpsaam sal wees wanneer ons met klein versoekies vir die kombuis kom.

    Crause skink vir homself ook ’n dop van die brandewyn en trek sy konsertina nader. Nie te lank nie of ’n klomp manne van die ander tente af drom saam om sy musiek te geniet – party sing saam, ander luister sommer net. ’n Paar van die manne gaan gooi ’n draai by die biersaal en kom dan weer terug om lekker verspot te dans of sommer net gesellig saam te kuier, soos die kêrels maar maak as hulle van diens af is.

    Ek en Willem moet sorg vir die voorbereiding en opdis van die kos vir so honderd-en-vyftig man. Hierdie getal groei daagliks soos wat nuwe aankomelinge bykom.

    Ons dag begin al 05h00 met die stook van die vuur sodat ons 05h30 koffie kan bedien voor die mense 06h00 op parade gaan. Dan bedien ons ontbyt tussen 07h00 en 08h00 – pap en melk, ’n eiergereg, brood en botter en konfyte wat op die tafels uitgesit word. En na ontbyt moet ons spring om alles skoon en reg te hê vir die voorbereiding van die volgende maaltyd.

    Noudat ek tweede kok is, het ek so ses-en-dertig van die troepe wat help met die voorbereiding van groente en opruim na etes. Die rantsoene is goeie kwaliteit en meer as genoeg. Dit word weekliks by ’n sentrale markiestent afgelewer en daarna aan die verskillende afdelings uitgereik. Ons berei ons etes volgens ’n uitgewerkte spyskaart en improviseer sommer self as daar fout kom met die aflewerings. Soos dit maar in die lewe gaan, kry die offisiere voorkeurbehandeling: feitlik elke dag nagereg en, met spesiale geleenthede, selfs ’n vyfgang maaltyd.

    Ons maaltye word alfresco bedien. Die eettafels is ’n paar breë planke op bokke met smaller planke, ook op bokke, vir sitplekke. Daar is nie tyd vir fieterjasies nie en ons sit sommer die tweepond-blikke konfyt en die blokke botter net so op die kaal tafels neer. Sal so ’n witkop-kêrel waaragtigwaar sy ontbyt in die kombuis kom kry, aan die punt van die tafel gaan sit en na die tyd die blok botter binne-in die vol blik kosbare Lyle’s stroop druk sodat die lieflike goue stroop sommer so oorloop op die tafel!

    Met die 1930 Depressie-jare se swaarkry wat sommer nog vlak lê, storm ek op hom af: Hei! Wat dink jy doen jy?

    Dis wat ek van julle kos dink!

    Ek hoop die dag sal kom dat jy spyt sal wees daaroor, snou ek hom toe. Die man verdien verdomp om sonder enige kos toegesluit te word!

    Dis ’n sonskyn-Sondagoggend in Junie en Ben Roode kom by die kombuis ingestap nes ek kastrolle vir ontbyt begin regsit. Kom saam stad toe, dan gaan kuier ons by my niggie.

    Ek is steeds lugtig vir vroumense, maar besluit tog: Wel, siende dat ons ná ontbyt die res van die dag af het, sal dit seker nie skade doen nie.

    Ek begin sommer dadelik die honderd-en-sestig eiers aftel – van die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1