Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Verstevlei
Verstevlei
Verstevlei
Ebook277 pages3 hours

Verstevlei

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Soos ’n Don Quijote van ouds dool Renier Proot deur die Suid-Afrikaanse landskap: van ’n uitsiglose bestaan in ’n woonstel in Vereeniging en Huis Genade waar sy suster Michelle opgeneem is, tot die plaas Verstevlei in die Boland waar hy hulp en stuurjonge is vir die bejaarde Bill Andrais, tot ’n kamer in Kaapstad en ’n kroeg in Bellville. Oral op Renier se pad is daar vreemde en vlugtige ontmoetings, en sy omswerwinge raak ’n ondersoek na identiteit, maar veral na die sin van die lewe. Jaco Fouché se kenmerkende skryfstyl – fyn gestem, suiwer, ironies, komies – sorg vir ’n onvergeetlike verhaal.

Met hierdie roman het Fouché die derde prys verower in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd, 2012. Lof van die beoordelaars: “Verstevlei is ’n goed afgewerkte roman wat ’n mens verras met ’n onkonvensionele aanpak van bekende temas in die Afrikaanse literatuur.”– Louise Viljoen, en “’n Reis deur die hoogs sensitiewe gees van die ewige buitestander.” –Linda Rode
LanguageAfrikaans
Release dateApr 1, 2013
ISBN9780798158701
Verstevlei
Author

Jaco Fouché

Jaco Fouché se debuutroman, Die ryk van die rawe (1996), is in 1997 met die Eugène Marais-prys bekroon sowel as vir die M-Net-prys benoem. Ander werke sluit in: Paartie by Jake’s (1997), Die avonture van Pieter Francken (2005), Twee dae in Mei (2007), Ed van Inligtingstelsels (2009) en Die grysland-verblyf (2010). Van Jaco se kortverhale word in Sarie gepubliseer en hy doen ook vertalings na Engels, o.m. Kleinboer se veelbesproke roman Kontrei, onder die titel Midnight missionary (Zebra Press, 2007). Sy roman, Verstevlei, het die derde prys verower in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd, 2012. Siobhán van die sirkus is Jaco se eerste jeugroman.

Read more from Jaco Fouché

Related to Verstevlei

Related ebooks

Related articles

Reviews for Verstevlei

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Verstevlei - Jaco Fouché

    Verstevlei

    Jaco Fouché

    Human & Rousseau

    Vir my vrou, Lorraine, en die Retiefs van Welvanpas in die Bovlei

    Even if it’s only for six months that might be six months of happiness and anyway it’s six months of life got through.

    Poor Cow: Nell Dunn

    In die begin was daar niks nie. Of ten minste, daar was baie min – net ’n bries en ’n kraai wat tande gewissel het, en die kraai het gehoes en ’n melktand het uitgekom en is in die bries weggewaai. En die tand het my heelal geword.

    Vroeër drome was daar ook, veral van moord en water. Ek sou saam met my ouers in die motor ry en ons sou oor ’n brug oor ’n vol rivier ry, en dan glip die motor van die brug af en ons is onder water. Dan het ek my asem opgehou en opgehou tot ek nie meer kon nie. En dan het ek ontdek ek kan onder die water asemhaal en ek het so veilig en gekoester gevoel terwyl ek opkyk na die oppervlak bo my.

    Ander kere het ons met ’n pad langs gery, al nader aan ’n groot dam of die see, en dan het die water oor die pad begin loop en ons kon nie omdraai nie.

    Party nagte het ek uit ’n aardige droom wakker geword: ons huis is aangeval en mans het ons in die sitkamer aangehou. Hulle was op die punt om ons dood te skiet. Ek het my solank dood gehou in die hoop om die werklike dood vry te spring, maar ek het altyd wakker geword voor ek kon uitvind of my plan werk.

    Ek het ook gedroom ek val van ’n krans of gebou af, en dan word ek wakker net voor ek die grond tref. By die kleuterskool waar ek bedags was, het ons vir mekaar gesê as jy droom jy gaan dood, gaan jy regtig dood.

    Die lewe was onseker. Ons het getrek, nie ver nie, net van Bronkhorstspruit af Vereeniging toe, maar in Vereeniging was die lorrie met ons meubels nie by die nuwe huis nie. Toe maak Ma vir ons beddens met komberse en klere in die sitkamer, en ons het viennas en tjips geëet, ek en Pa en Ma en my suster oor wie ek hartseer voel.

    Drie Riviere, Vereeniging: dit was ons nuwe adres. Ek onthou nie meer waar ons in Bronkhorstspruit gewoon het nie, net dat dit op die hoek van twee strate was. Eendag het ’n vrou met drie bene in die straat verbygekom, dit het ek vir lank gesweer, maar Ma het gesê dis onmoontlik.

    Wat ook op Bronkhorstspruit gebeur het, is dat ek my suster met ’n klip teen die kop gegooi het. Dit het gebloei en Ma moes van haar hare wegsny om die seerplek te dokter. Ek het in die vuilgoeddrom gaan wegkruip, bang vir Pa, en bang vir my eie woede wat maak dat ek sulke dinge doen. Pa het my daar gekry en net gesê ek moet inkom huis toe. Ek het nie pak gekry nie.

    Die huis in Drie Riviere het ’n okkerneutboom agter die motorhuis gehad. Ek het die okkerneute met ’n gesukkel gepluk en met ’n stukkie baksteen oopgeslaan. Die neute was in wit dons gehul, skimmel wat gegroei het in elke vrug wat ek oopgemaak het. ’n Mens moes dit seker nie geëet het nie, maar ek het. Ek onthou nog die smaak; dit was houterig.

    Langs die okkerneutboom was ’n komposgat wat Pa gegrawe het. Wanneer hy gras gesny het, het ek en my suster in die warm, soet gras gespeel. Tot Pa kom sê het ons moet pasop vir slange.

    Pa was ’n beheerbeampte in ’n staatsdepartement. Ek onthou die gebou waar hy gewerk het: rye mense in donker gange voor kantore met houtmeubels en liggroen blindings voor die vensters. Terwyl die stemme van amptenare uit die kantore dryf, kyk die wagtende mense na my en praat soms met my. Ek, die verskrikte maar nuuskierige wit kind wat nie die swartmense se taal verstaan nie.

    I

    Ek ontmoet Pamela vir ontbyt in ’n braairestaurant. Ons voer ons vriendskap nie in eleganter plekke nie.

    Pamela is ’n bejaarde vrou wat na sigaretrook en motballetjies ruik en vir almal kans sien. Nader jy haar, skreef sy haar oë agter haar bril en wuif vrolik terwyl sy iets sê, of roep as jy nog nie naby genoeg is nie.

    Hello, Renier!

    Sy kom met ’n ligte waggel nader, ’n swaai van die een been wat deur ’n dik skoensool verleng word. Sy dra ’n uitgewaste moulose rok met ’n blompatroon, en haar handsak is onder haar boarm vasgeklem. Haar gesig is breër as wat dit lank is.

    Jy’s al weer vroeg, sê sy toe sy kom sit.

    Die kelnerin is gou by. Ons bestel koffie.

    En jy tel gewig op. Een van die dae gaan die meisies nie meer lank na jou kyk nie.

    Dankie vir die waarskuwing. Maar ek is in my veertigs, dit sal seker gebeur.

    Hoe gaan dit met Michelle?

    Goed. Ek het haar lanklaas gesien.

    Jy moet rigting kry, sê Pamela vriendelik. Die tyd staan nie stil nie.

    Daarop reageer ek nie. Ek gebruik net die naam Michelle wanneer ek voel my heteroseksualiteit word bevraagteken.

    Ons drink ons koffie, eet broodjies met kaas en aarbeikonfyt. Die kelnerin doen van tyd tot tyd by ons aan en ons stuur haar sagkens weg.

    Pamela is uit die Boland. Sy het my een aand in ’n soortgelyke restaurant haar verhaal vertel. Sy het grootgeword in ’n huis met ’n slaweklok in die tuin, en daar was eekhorings in die ou akkerbome. Dit was op die dorp, maar hulle het gereeld op ’n plaas gaan kuier, Verstevlei. Ek onthou die naam, want dit wek ’n mooi prentjie.

    Ek sit en luister hoe sy praat met ’n stem wat aan ’n aktrise s’n herinner, so dra dit wanneer sy ernstig raak. ’n Mens gee nie om om in haar geselskap te sit nie. Haar aksent is ’n bietjie Engels en ek raak weer lief vir haar, sy wat dertig jaar ouer is as ek.

    Ek is ook bevriend, of praat ten minste, met mense wat sou neersien op hierdie vrou, oor die reuk van sigarette en motballetjies, oor die taaierige hare, oor haar algemene onaansienlikheid. Ek sou sekerlik self min van haar gedink het as ek meer gereeld in daardie mense se geselskap was en hulle menings vir my belangriker was. Maar ek is nie meer so nie.

    My skooldae het my op niks meer voorberei as die gedagte dat ek altyd lojaal teenoor my skoolvriende moet bly nie, en dat ek sekere soorte mense moet vermy. Dekades later verstaan ek egter die wêreld beter, meen ek. Die wêreld, my wêreld, elkeen van ons se wêreld, is nie ’n hoofroete nie, maar ’n systasie soos die een waar Pa die nag op die trein na Klerksdorp gewag het. Vandat ek losgekom het van die bande met my skoolvriende, besef ek dis nie waar dat ons só by ons medemens moet inskakel dat ons elke liewe idee en vooroordeel moet deel nie.

    Pa werk ná skool in die Kaap, ek dink drie jaar lank. Hy vang vis en swem en speel rugby. Hy is jonk. Hy het vriende met dik arms en een wat ’n dominee is. Die dominee is bekend onder die ander rugbyspelers omdat hy eendag ’n speler van ’n besoekende span van sy voete af geklap het. Dis ’n spesiale ding vir ’n dominee om te doen en die storie is lank daarna nog oorvertel.

    Toe word Pa verplaas en moet hy met die trein Transvaal toe gaan. Hy reis eers na ’n klein stasie, ek dink per bus, of miskien laai iemand hom daar af, waar die trein hom drie-uur die nag moet kry. Intussen sit hy op sy bagasie voor die kaartjieskantoor en dit raak donker en hy kry koud en loop later op en af op die perron. In daardie nag kom iemand na hom toe, ’n bruin man wat met hom oor die einde van die wêreld begin gesels. Die man sê dit sal uit die water kom en die vorm van ’n slang aanneem, ’n slang met ’n juweel voor sy kop. En die slang sal begin rol en die wêreld in hom oprol en dit sal goed wees, want dan kan die wêreld verteer word en weer uit die slang se uitwerpsels gebore word. Dit onthou Pa, en ook dat hy die volgende dag in die Transvaal van die trein afgeklim het en dit was winter en die wêreld so vaal, hy het amper omgedraai en die volgende trein terug Kaap toe gehaal. Maar hy het daar gebly en hy het begin werk, my ma ontmoet en met haar getrou. Ek is daar gebore.

    Pamela weet dit; ek het haar al baie van my lewe vertel. Sy weet van my voorskoolse dae, my laerskooldae, my hoërskooldae, my dansery, my alles. Of feitlik alles.

    Ek wil hê jy moet saam met my kom, sê Pamela. Vir ’n week.

    Ek is traag, nie oor haar nie, maar oor die guns. Ek wil niemand meer tegemoetkom nie. Dis een ding om in ’n restaurant te kuier, dis ’n ander ding om jou aan iemand te verbind, al is dit net vir ’n paar dae.

    Waarheen? vra ek.

    Wellington.

    Wat is daar?

    Dis waar ek vandaan is.

    Maar wat is nog daar vir jou?

    Verstevlei.

    Die plaas waarvan jy altyd praat? Wat is daar?

    Mense wat ek ken.

    Ken hulle jóú nog?

    Dis mense saam met wie ek grootgeword het, ’n neef van my.

    Ken ’n mens familie nie net só lank nie?

    My neef is die laaste tyd siek. Hulle is Andrais’s – Andrais soos Marais. ’n Hugenootvan wat nou met my neef uitsterf, want hy het net twee dogters. Ek wil gaan kyk hoe dit met hom gaan. En ek wil sien hoe dit deesdae op die plaas lyk, ek het kleintyd daar gespeel.

    Maar ’n mens hoef mos nie lojaal te bly aan die dinge van jou kindertyd nie?

    Ek onthou die gloed op die werf wanneer die son sak. Dit was so ’n goue kleur teen die akkerbome en die lemoenboord. En ’n mens kon met die paadjie langs die lemoenboord af tot by Soetvlei sien.

    Soetvlei? Wat ’n naam.

    Dis spesiale wêreld.

    Wanneer wil jy gaan?

    So gou moontlik.

    Ek sal daaroor dink, Pamela.

    1

    Die nagte, met hul vae ligvlekke langs die gordyn, met hul skadufigure teen die meubels, bring onbetroubare herinneringe. Van stadskappe met geboue opmekaar, toringblokke, huise met erwe en honde, katte wat met tuinmure langs loop, muise en budjies wat deur prisoniers in hokke aangehou word.

    Paaie kerf in heuwels in en stort motors in parkeerterreine van winkelsentrums uit waar avokado’s op uitverkoping is. Die water van die Vaalrivier sleep tydsaam en swaar aan boomstompe en maal om vasmeerplekke waar bote aan hulle toue trek. Fabrieke werk dag en nag met vae dreuning en bolle rook wat bo die vlamme in die hoogoonde uitbiggel, en ’n masjien kap heelnag eentonig op dieselfde metaalnoot, sodat skofwerkers huis toe gaan en ween oor die stilte daar.

    Ek onthou vriende wat in my jeug vir ’n wyle die plek van familie ingeneem het, en familie wat later weer vriende geword het. Ons kuier tradisioneel, bewus van ons plek in die vertrappingsorde. Die lug bewe in die mikrohel tussen die kole en die vleis op die rooster, en iemand glimlag vir iemand oor iemand anders wat iets lomp doen, op daardie manier wat ons mense het. Swaers klop skaam mans op die skouer. Koketterige susters probeer hulle voor hulle broers inhou. Skoolvriende emigreer na Kanada, Nieu-Seeland, Australië, en in die maande voor hulle vertrek, kan hulle oor niks anders praat as hoe goor Suid-Afrika geword het nie.

    Ek onthou ’n briefie wat my ma in my sak ontdek het toe ek in standerd twee was. Op die stukkie papier staan: Ek vra die kys. Ek wou dit vir Sanet gee, en het nooit nie.

    Snags kom soetsuur drome. Van reise met busse en treine, van verblyf in inrigtings. Iemand klap my en dae lank beplan ek my weerwraak, net om te ontdek die persoon het geval en sy arm ernstig seergemaak. In die droom was dit ék wat verantwoordelik was en ek skaam my vir my mag.

    Ek probeer in ’n tronk slaap terwyl skoolvriende verbyloop en in my rigting kyk, maar sonder dat hulle naderkom, of wil naderkom. Ek is bevlek met die smet van werkloosheid, van rigtingloosheid. Wat sal ek word? ’n Skrywer? Moontlik. ’n Skilder? Dalk. ’n Danser? Dit wás ek, en dit was goed. Ek hunker soms na die beloftes van my matriekjaar met ’n felheid wat my siek laat voel. My vyfjaarplan … My tienjaarplan … Al my planne is verminder tot een kritieke tog, wat die hele lewe is. Die lewe is ’n wanordelike vaart met ’n rivier langs waarvan die oewers so hoog is dat jy nie die landskap kan sien nie.

    Wie kan die landskap sien? Net vlieërs en dromers. En die vlieërs val hulle dood en die dromers word opgesluit.

    Droom. Reis van indruk tot indruk, soos van een muurprent na ’n volgende. Onderskrifte vir my bestaan lyk só: ’n Lewe ná Vereeniging. Waar is jou ouers? Hoe lank nog, Groot Pampoen?

    In die oggend, laterig, klop iemand aan my kamerdeur. Ek kyk op. ’n Almanak hang agter die deur, met ’n datum omkring. Ek is vandag 43. Dis waarskynlik iemand wat my wil gelukwens.

    Meneer Proot, dis halftien.

    Ja …

    Meneer Proot, dis ongesond om so baie te slaap.

    Ek het veertien uur ’n dag nodig.

    Meneer Proot!

    GOED!

    Ek sit regop. Die kamer is in vaagheid gehul. Agter die gordyne gloei daglig, kan ek aan weerskante sien waar die lig in die hoeke weerkaats. My mond smaak na middelklas. My stokperdjie is tandsteen bou. Ek moet ’n manier vind om geld in te bring. My heil is ek, of ek het geen heil nie.

    Sy klop weer.

    Ek vloek sag, maar nie sag genoeg nie.

    Meneer Proot, ek laat nie so met my praat nie!

    Skuus, suster.

    Ek het wel geskrik. My heil is nie werklik ek nie – dis Huis Genade. Huis Genade is 570 vierkante meter kamers, gang, badkamer, kombuis en sitkamer op ’n erf met ’n groentetuin aan die suidekant wat laat vaar is, ’n digte heining oos en wes, en die straat waarop my venster uitkyk aan die noordekant. Mense sit in die tuin, inwoners met hulle kalm liggaamshouding, selfs bedees. Sommige is besonder bedees. Ons gebruik verskillende medikasie, wat verskillende gevolge het. Michelle maak die grappie dat dit belangrik is om goed gedous te wees, want dan kry ’n mens komplimente oor jou persoonlikheid terwyl jy dromerig glimlag en geluidjies maak met die spoeg in jou mond.

    Ek wens sy was hier om die woord te versprei dat ek verjaar.

    In die gang kyk ’n vrou na my toe ek verbyloop. Die inwoners is wantrouig oor my wanneer Michelle nie hier is nie. Ek het net my onderbroek aan, maar die handdoek hang laag tussen die bondel klere voor my maag en bedek in elk geval die ergste.

    Meneer Proot! roep die suster ergerlik waar sy in die deur na die kombuis staan. Genoeg is genoeg.

    Sy is kort maar groot. Sy dra ’n bril op ’n vierkantige gesig en haar hare is stekelrig.

    Skuus, suster, skuus, suster.

    Ek stort in louwarm water, maar dis ’n somersdag en dit maak nie saak nie. Langs die stort skyn lig deur die halfdeursigtige glas. Ek trek aan (denimbroek en ’n bont hemp wat ek volhou ’n Afrika-hemp is, maar Michelle sê dis eerder ’n Hawaii-hemp) en wonder of ek moet skeer. Die suster kla as ek twee dae oorslaan en wys my op die huisreëls, wat bepaal dat ’n mens tussen sewe soggens en tien saans betaamlik moet wees en gereed om besoekers te ontvang en die naam van die tehuis hoog te hou.

    Ek smeer dus my gesig seep en haal die lemmetjie uit om dit oor my vel te trek. My ken los ek, soos ek nou al ’n week lank maak. Dis tyd vir ’n baardjie, soos die mode deesdae van so een uit 24 mans vereis. ’n Mens ontkom nie aan die mode nie. Elke kledingstuk wat jy dra, elke nerfaf skoen, elke stukkie baard of ongeknipte haar op jou kop sê iets oor jou.

    Meneer Proot! praat die suster anderkant die badkamerdeur.

    Ja?

    Ek wil jou nou dadelik sien.

    Ek is besig om te … Ek is sterk in die versoeking om ’n banale liggaamsfunksie te noem, maar my geïndoktrineerde ordentlikheid verplig my om te sê: … skeer.

    Ek maak klaar en stap met handdoek, skeergoed en seep gang toe. Die suster staan daar, kort maar solied soos ’n Bybel. Haar arms is dik en pofferig en haar regterhand is in haar sy gedruk. Haar linkerhand hou ’n manuskripboek vas. Ek kan Renier Proot op die buiteblad lees.

    Dis my eiendom daardie, sê ek.

    Kom kantoor toe.

    Inwoners loer by hulle kamers en die sitkamer uit terwyl ons met die lang gang langs stap. In die kantoor maak sy die deur agter my toe. Teen die mure is rakke met potplante en boeke. Ek kan een oor noodhulp uitmaak voor die suster my aandag opeis.

    Ek het al voorheen hieroor gepraat.

    Dis myne.

    Wat is dit?

    Dis myne! Dis wat dit is.

    Dis selfmoordnotas.

    Dis skeppende skryfwerk.

    Sy lees: ‘Stilte in die huis ondraaglik. Dink aan lemmetjies en bier. Sny myself toe ek negentien was en proe aan die bloed.’ En hierdie: ‘Is daar lewe ná Vereeniging? Sal iemand Proot by ’n poort ontvang en welkom heet?’

    "Dis ’n woordspeling – poort en Proot.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1