Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die dao van Daan van der Walt
Die dao van Daan van der Walt
Die dao van Daan van der Walt
Ebook538 pages8 hours

Die dao van Daan van der Walt

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Toe Daan van der Walt, ’n eerstydse Kalahari-boer, ’n vertigo-aanval kry, laai sy vervreemde seun hom by ’n monnikeklooster in China af. Onder leiding van Meester Yang moet Daan tai chi doen in ’n poging om sy balans te herstel. Maar daar is ook iets anders wat aan Daan vreet, iets wat hy van sy hart móét afkry voor hy sy weg na die hiernamaals kan vind. Dalk is dit tyd dat hy aan Magrieta, sy oorlede vrou, skryf en sê dat hy haar liefgehad het. In Die Dao van Daan van der Walt word die Afrikaner-dilemma in die moderne lewe met ’n fyn lem oopgevlek. “Hierdie boek behoort ’n golf deur Afrikaanse letterkunde te stoot.” – Frederik de Jager
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 10, 2018
ISBN9780624082538
Die dao van Daan van der Walt
Author

Lodewyk G. du Plessis

Lodewyk G. du Plessis is 'n skuilnaam. Hierdie fenomenale debuut én gissings oor die skrywer se identiteit gaan boekliefhebbers vanjaar aan die praat hê.

Related to Die dao van Daan van der Walt

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die dao van Daan van der Walt

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die dao van Daan van der Walt - Lodewyk G. du Plessis

    DIE

    DAO

    VAN

    DAAN

    VAN DER

    WALT

    Lodewyk

    G. du Plessis

    ’N ROMAN

    Tafelberg

    Vir hom wat vir my boeke bring om te lees

    Humanity is the mould to break away from,

    the crust to break through,

    the coal to break into fire …

    – Robinson Jeffers: Roan Stallion

    Jīn Jī Dú Lì

    Die goue haan staan op een been

    28 Februarie

    Maande lank het ek gedors na die genot van ’n jong lyf in my skoot. Kil najaarsnagte, die vroegryp skurfwit op die lusernstoppels, wou ek soos koning Dawid ’n maagdelike Abisag, die Sunamitiese, hê om my lendene te koester.

    Vleeslike gemeenskap is soos koeksisters en melktert vieruur Sondagmiddag op Ystervarkfontein se voorstoep, het ek vir jou gesê en die opsitkers aan die brand gesteek. Jy het ’n hooikoorsaanval gekry. Maar, het ek bygevoeg toe jou niesbui bedaar, "jy moet nooit oor die gevroetel tussen die lakens tob nie, dit ook nie probeer verstaan nie. Daar is niks vieserigs aan die gedoente terwyl jy snuffel en stoom en snak na jou asem nie. Naturalia non sunt turpia. Ovidius se woorde: Wat natuurlik is, is nie skandelik nie. ’n Haan onder die henne, dié man. ’n Banneling … Ek het jou sagte ore tussen my vingers gevryf. Broei oor alles wat jy nog in die kooi wou doen, en ’n kokkerot kruip uit die naat. ’n Doending, die seksding, solank jy nog kan. Voor die maan twee keer vir sy weerkaatsing in jou waterbak glimlag, Kaspaas, slaan die vlietende jare jou heupbeen uit lit en lê jy onder in die put, ’n gebreekte kruik." Jy het my hand gelek en jou stert gewaai.

    Jy het nog gelewe toe ons dié gesprek gehad het. Ons het op Ystervarkfontein gewoon. Nou lê jy onder die grond aan die voetenent van my reeds uitgepleisterde graf op die plaas en ek sit in ’n monniksel op ’n kreupel stoel voor ’n lendelam tafel in ’n heidenland en pen my geskiedenis neer.

    Ek lig my kop van die skryfblok af op. Voor my, in die Tempel van Ewige Vrede, glinster drie Boeddhabeelde in die flikkerlig van pienk lotuskerse. Ja, Kaspaas, Daan van der Walt, jou heer en meester, vertoef nou al ’n week lank in die land van die feniks en die draak. Die luste van my vlees is geblus. Net die gedagte aan boerekos en die naderende dood hou my nog staande. Die kooigoed op my katel is nie meer omgewoel en ruik nie meer na erotiese nagsweet nie. Hier slaap ek op ’n plank sonder lakens. ’n Harde, kaal plank. Soggens eet ek ’n bakkie rys en spinasie en droom van ’n bord mieliepap met kaiings en karringmelk op die witgeskropte dennehouttafel in die kombuis voor die ou koolstoof. Met siel en liggaam verlang ek hier in China na ’n smeersel varkvet en Lyle se gouestroop op ’n sny vars korsiebrood uit die bakoond langs die dooie miershoop. Met ’n kommetjie rys en spinasie in my een hand en twee stokkies in die ander, smag ek na ’n glas rooi wyn uit die Swartland.

    Twee bronsleeus gluur my aan. Wierook brand my oë. Ek staan tussen ’n klomp mans in lang rokke en probeer soos hulle op een been balanseer.

    "Ai ya! Nī bù …" hoor ek sy stem. Met sy buitelyne sag soos dié van ’n souskluitjie sien ek hom deur ’n waas wierook: my tai ji quan-meester. Yang Ying Sheng is sy naam, die man wat my probeer inlei in die geheime van die Chinese gevegskuns, wat my voor die Tempel van Ewige Vrede probeer leer om op een been te staan. Yang Ying Sheng, wat ek eerbiedig aanspreek as Yang, lao shi, meester Yang.

    "Ai ya! Nī bù zhuān xīn. You don’t concentrate, Da Ni Eu. What are you thinking?"

    Hoe, my dierbare ontslape hond, kon ek vir my meester sê dat ek ná my sondeval maande lank gedroom het oor seks? Die daad, nie die liederlike vierletterwoord nie. Hoe kon ek hom vertel dat ek my snags in my monniksel vol wierookdampe verbeel ek ruik braaivleis wanneer ek oor my skuldbelaaide verlede en die hiernamaals wroeg? Die hiernamaals, ja, Kaspaas. Die mens is op reis, die dood net ’n verposing, ’n tussenwerpsel in die tog na die ewigheid. ’n Man moet rigting hê, en ’n bestemming, anders verloor hy die weg.

    My bestemming is die hemel. In watter gestalte ek uit die graf sal opstaan, bekommer my. Ek wil nie deur die Nuwe Jerusalem se strate wandel en oor my eie skaduwee struikel nie. Ek is nie ydel nie, maar ná ek onder basuingeklank die hemelpoorte deur is, wil ek nie met rumatiek, sooibrand en hardlywigheid gepla wees nie. Ek wil ook nie vlerke op my rug en ’n harp in my hand hê nie; ’n Boer fladder nie om ’n wolk vol bliksemstrale en donderslae soos ’n mot om ’n verrotte appel nie. Gedagtig aan die fout wat Eos, onder die Romeine bekend as Aurora, met Tithonus gemaak het toe sy Jupiter gevra het om die beeldskone jongeling wat haar hart gesteel het, vir ewig te laat lewe, maar vergeet het om te vra dat hy vir ewig sy jeug behou, begeer ek in die hemel die lenige liggaam van ’n jong man. Stewige bene. Vastrapvoete. Spiere waar dit hoort. Onderdele wat werk.

    Meester Yang kyk na my en skud sy kop, grys soos myne. Hy is ’n Daoïs, vertel my verlore seun my. ’n Daoïs, ’n afgetrede mediese dokter en ’n deskundige in die gevegskuns. Hy is vol vreemde sêgoed, dié Chinees, en so ondeursigtig soos die oë in ’n gebraaide skaapkop. Hy bly in ’n grot bo teen hierdie heilige berg, aan die voet waarvan ek en ’n stuk of tien monnike nou tai ji oefen. In die Weste staan dié gedoente ook bekend as tai chi.

    ’n Week gelede, die dag na my aankoms in China, het my seun my vertel wat hy hierdie keer aangevang het. Sy nuus het my so ontstig, ek het ’n vertigo-aanval gekry. My balans skoon kwyt, slaan ek neer soos ’n bees waarvan die Mau-Mau die hakskeensenings afgekap het. Dis hy, Jan-Willem, my eie kind, wat my by hierdie kloosteragtige bedryf van die Boeddha kom aflaai het. Meester Yang het ’n klomp naalde in my lyf gedruk en my naakte liggaam met ’n sigaar gebrand. Toe ek my teësit, het hy en my seun besluit dat tai ji my sal kalmeer en my balans herstel.

    Die apostel Paulus het ons gewaarsku dat ons in die wêreld mag wees, maar nie van die wêreld nie. Waar, Kaspaas, was ek vanmôre voor ek by hierdie lendelam tafel kom sit en skryf het? Waar? vra ek jou. Tussen afgodsdienaars besig met die beoefening van duiwelskuns.

    Om my staan dié poenskopmans op een been, arms uitgesprei soos nat rietduikers op ’n drywende boomstomp. Hulle dra saffraangeel rokke, dié monnike, een skouer kaal. Swart haartjies loer na my uit hul oksels: nie krullerige kroesies soos ons mense s’n nie. Hulle s’n is net effens gekreukel, amper reguit. Met ’n vlooipaadjie in die middel lê die haartjies weerskante toe in hul kieliebakke soos Dominee se ge-Brylcreemde hare toe ons eerstejaars was op universiteit.

    Meester Yang bring my dwalende gedagtes terug na die hede: "Concentrate your on your dāntián, Da Ni Eu."

    Die hede is die plek, Kaspaas, waarnatoe ounooi Magrieta my teruggeroep het wanneer ek so in my gedagtes verstrengel raak dat ek nie wis of dit Aandblom se plap-plonsende mis in die afvoersloot is wat ek ruik of die skuimende melk in die emmer tussen my knieë nie. Jy het die ounooi nie geken nie. Sy is dood voor Jan-Willem met jou op die plaas aangekom het.

    Lê jy nou stil hier op jou matjie by my voete en hoor wat ek jou sê.

    Die hede, dis waarvan ek wil ontsnap: die hier en die nou voor die afgodstempel. Ons ou mense ontkom die hede wanneer ons terugtree in die verlede. Ek wil nie die ounooi te na kom nie, maar laat ek jou vertel, toe sy nog geleef het, was die hede vir my alreeds menige dag byna ondraaglik. Sy het my nie net in die hede geteister nie; vanuit die graf verontrus sy my nou snags met haar hedelyn. Vasklou aan die hedelyn, soos klitsgras aan ’n Afrikanerskaap se stert, was een van my lettergierige eggenote se goue riglyne vir skrywers, riglyne wat sy en haar skrifgeleerde Sadduseër-vriende soos onheile uit ’n Pandoradosie kon opdiep om ’n goeie storie te bederf. Die skadu van die ounooi se hedelyn hang swaar oor my waar ek hier sit en skryf. Na elke jakkalsdraai, het sy gesê, moet die verteller terugkeer na die hedelyn, die plek waar hy was voor hy koers verloor het. En dis nie al nie. Sy wou ook weet waar en waarop die skrywer sit wanneer hy sy nering beoefen, of die stoel se pote reguit is, of krom, en of daar kraakgeluide is wanneer hy vooroor leun en sy pen vol ink maak. Is daar ’n barsie in die muur agter sy kop, ’n krapmerk op sy tafel?

    ’n Bewustelike hou by die hedelyn gee ’n skrywer hare op die bors en stekelrige baard op die bolip, hoor ek haar roepstem uit die graf. Wanneer daardie lyn deur ’n geskrif loop soos die pad na die verderf, kan jy maar weet die skrywer is bekwaam.

    Die ounooi is dood voor sy aan eie bas kon voel hoe ’n ou mens se warrelwind-gedagtes stories opraap om die hier en die nou te probeer verstaan. Die hier en die nou waar die doodslag van jou geliefdes en die verlies van jou geboortegrond selfs die maan en die sterre dof maak en Aurora, wanneer die skerpioenmanne die rots voor die tonnel van die nag wegrol en sy daaruit verskyn, skaam haar aangesig agter haar rosige vingers verberg. Voor jy dink ek is saam met verdraaiers van die Woord, valse profete en gevalle engele in Tartaros se kuile van duisternis en triestigheid vasgeketting, las ek ’n paar skerwe van my gebreekte kruik en vertel jou ’n ding of twee van die lewe.

    Ek is net myself, het ek vir my oorlede vrou gesê wanneer sy te geleerd raak vir my. Net myself.

    Om van te huil, sou sy met ’n soet glimlag antwoord. Jy is ’n turksvyblom in die knop gekneus, Daantjie. Met dié woorde sit sy dan vir my ’n klein stukkie melktert op die koekbordjie langs my koppie.

    The mysterious female … The gateway of the mysterious female we call the source of creation, the creation of heaven and earth. Meester Yang se stem pluk my gedagtes terug na die hedelyn.

    Who said that?

    Laozi. En toe, sonder om my te vertel wie dié kêrel is en wat die duistere woorde beteken, vra my meester die vraag wat my al ’n week lank besig hou: "Why are you learning to do tài jí, Da Ni Eu?"

    Tai ji, is ek hier vertel, is die innerlike vorm van die Chinese gevegskuns. Die manne wat mekaar volstruisskoppe gee en met die vuis toetakel, die gong fu-helde, beoefen die uiterlike vorm van die sport. Volstruisskopgeweld verstaan ek. Op my dag was ek ’n volstruisboer. Dié goed vrek as jy net na hulle kyk. ’n Volstruisboer, bekwaam in sy nering, kan tot ses dooie volstruise op ’n kruiwa laai, sê ek altyd. Ek weet ook dié voël kan soos die liefde jou borskas met sy klou oopskeur en jou hartverlamming gee. Dis die tai ji-deel van die gevegskuns, die innerlike een, die een wat ek so langsaam soos ’n skilpad in stadige aksie moet doen om my te kalmeer teen die aanslae van die lewe, wat ek nie verstaan nie.

    "I’m teaching you tài jí, Da Ni Eu, sê meester Yang, to regain your balance: to float like a feather, fly like a leaf, hover like a dragonfly, soar like an eagle. Hy haal twee keer asem. I want you suspended between heaven and earth. I want you to defy the pull of gravity. Sy spierwit wenkbroue wip. Die haartjies krul af oor sy oë wat vas in myne kyk. I am introducing you to the Dao. The Way."

    Die Dao? Die Weg? Die weg waarheen, Kaspaas? Sweef soos ’n arend? Fladder soos ’n naaldekoker? Ek wil nie vlieg nie. Ek het hoogtevrees. My naam is ook nie Da Ni Eu nie. My naam is Da-ni-el. Daniël Jacobus van der Walt, eens die dromer-digter, volstruisteler en boerbokboer op die plaas Ystervarkfontein. Getooi in die familiedooprok is ek in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees Daniël Jacobus gedoop met water uit die silwervont, reg voor die kansel, skúins onder GOD IS LIEFDE in goue letters op die kanselkleed geborduur.

    Ek was die enigste baba wat daardie Sondagoggend nie gehuil het nie.

    Julle sien self sy ogies is droog. Dis net sy voorkop en stêre wat nat is, het my ma vir die starende susters gesê toe sy my doek tussen die Bybels op die geelhouttafel in die konsistorie omruil.

    Ek, appelboud-gerub-kaal, spuit toe net daar ’n sierlike boog pie oor die Psalms van Dawid en Liedere van Korag.

    Daan van der Walt ’n appelboud-gerub! My eerste literêre kragtoer in hierdie geskrif, Kaspaas, ’n dertigkilogram-aartappelmoer in ’n turfland, by wyse van spreke.

    Terwyl my trotse ma my water oor die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls opklad en Gods Woord eerbiedig droogvryf, spog my pa in die wintersonnetjie tussen die broeders ouderlinge voor die huis van die Here: Van der Walts is nie tjankbalies nie. Ons is kragdadige manne. Stil en sterk.

    Daniël Jacobus van der Walt. Dis nou ek. Ek bedoel, dis wie ek wou wees in plaas van die man aan wie vele name toegedig is. Op laerskool was ek Daantjie. Op hoërskool Danie. Op universiteit Daan. In die stad vir ’n paar jaar aanklaer en daarna advokaat Van der Walt. Later op ons dorp oom Daan. Die arbeiders en kleingoed op die plaas het my nóg later Oupa genoem, of Klei’baas. Oupa, omdat ek oud was. Klei’baas, omdat my pa reeds Oubaas was. Na sy dood was ek steeds Klei’baas, en sou dit tot die dag van my eie dood toe bly, het ek gereken. Plaasmense het nie van gewoontes verander nie: Na die winter was die lente daar, na die biddag die reën, indien nie daardie jaar nie dan wel in die jaar daarop. Dinge het dieselfde gebly. Elk het sy tyd en sy plek gehad, het ons geglo.

    Het ons toe maar besef ons kyk in ’n spieël vol raaisels en dat ons eendag slegs eggo’s van ons drome sal beleef.

    Maar daardie tyd, saans op pad huis toe van die melkkamer af met ’n emmertjie room in die hand om saam met buurvrou Elsie Steyn se ingelegde geelperskes te eet, het die rook uit die kombuis se skoorsteen getrek en ek het die braairib se knoffel en tiemie deur die oop vensters en deure geruik en die gemurmel van Magrieta en haar regterhand, Ragel, se stemme in die kombuis gehoor.

    Saans in die aandwindjie het die Here deur Ystervarkfontein se boord gewandel, langs die vyebome, die kwepers en granate op die watervoor se wal, tussen die perske- en pruimbome deur na die fontein se kant toe. Die appelbome se blare het geroer en die hoenders het op hul stellasies tot ruste gekom. Op my plaas, het ek geglo, was die onsigbare sigbaar, die stilte hoorbaar. Altyd dieselfde, vanaf my vroegste jare. Soos in die Paradys, voordat die mens, volgens wat die Bybel ons leer, deur die slang en die vrou van die luste van sy vlees en sy sterflikheid bewus gemaak is. G’n gesoek na God op my plaas nie. Bly net stil, spits jou ore, luister, maak jou oë oop en kyk, en jy het soos ’n kaalperske, blos op die wang, nakend voor jou Skepper gestaan.

    Op my plaas het ek, sondaar wat ek was, in die weë van die Here probeer wandel totdat ek, verby die engel met die gloeiende swaard, die hiernamaals sou instap. Na ons dood sou ek en die ounooi in die skemer ’n glasie rooi wyn drink en die Here sou by ons aansit, indien nie vir ’n slukkie wyn nie, dan sekerlik om saam te peusel aan ’n paar dadels uit die Tuin van Eden. Ons sou gesels oor Paulus van Tarsus, die man sonder ’n vrou, en Zeus van Olimpus, die god met ’n onversadigbare seksdrang, ’n jaloerse vrou en ’n oog vir ’n mooi jongetjie.

    Ja, ek was ’n gelukkige man, geseënd en jubelend, het ek gereken. Maar ek was vol hubris, Kaspaas; ek moes Herodotus beter gelees en Solon se waarskuwing aan Croesus ter harte geneem het: Nie voor die dag van sy dood weet ’n man of hy ’n gelukkige lewe gehad het nie. Ek kan nie onthou of die wyse Solon iets oor die gawe van die woord gesê het nie, maar al draai die ounooi ook in haar graf om as sy dit hoor, ek kan jou belowe ek het darem dié gawe. Laat ek jou ’n geheim vertel, my hond: ’n danige skrywer is ek nie, maar diep in my binneste weet ek ek het die hart en die tong van ’n digter in die kas.

    Ruwe storms het oor my gewoed. Die oom Daan van toe het in die Nuwe Suid-Afrika sommer ou Daan geword: ou Daan vir Sadok die priester, Natan die profeet, die Kreti en die Pleti, die hoipolloi en barbaroi, Doppers en Filistyne. Vir almal sommer net ou Daan.

    En toe … toe kry ek ’n heel besondere naam. ’n Skeldnaam. ’n Naam wat my in my dorp en in my land beswadder, besoedel en beklad het. En toe, nog een: a name that dare not speak its name, Kaspaas.

    En hier in China is ek Da Ni Eu.

    Da Ni Eu! Are you listening to me?

    Dis koud hier voor die tempel op die berg. My neus loop. Ek blaas hom uit en druk my sakdoek terug in my broeksak. Die tai ji-monnike maak of hulle dit nie sien nie, maar onderlangs loer hulle na my, Da Ni Eu, die gwei lo, die bleekgesigspook, wat sy uitskeidings in sy broeksak ronddra.

    Are you listening to me, Da Ni Eu?

    Meester Yang is so knaend soos my lus vir ’n bak lampeertjies.

    Met my gelapte hart en vergrote prostaat probeer ek tussen die monnike soos ’n paddavreter van een been af opstyg uit hierdie moeras, maar voor ek my vlerke span, val ek om.

    You need imagination to balance, sê my meester.

    Verbeelding? My beker loop oor van verbeelding. Die probleem is die sin wat ek uit die droesem moet opdiep.

    "Tài jí is not about technique. It is a state of mind. Now place your weight on your right foot."

    Ek maak soos hy sê.

    Imagine that your foot grows roots anchoring you solidly to the earth.

    My kleintoontjie kriewel. My groottoon kreun. Die vel bars. Wortels kruip wit onder my toonnaels uit en soek vasgroeiplek in die tempelgrond. ’n Skurwe Daantjie word ek, op soek na ruitersalf en ghries, na die balsem van Gilead.

    Feel how light your left leg becomes.

    My kuit verskroei, my dy verdor. Ondraaglik, die gewigloosheid van my been.

    Lift up your right leg.

    Nou is ek Kaspaas by die kraalhek.

    "Fàng sōng." Ontspan.

    Meester Yang klop my saggies op my skouers.

    Die spiere word sag.

    "Màn màn de." Stadig, stadig.

    Hy wag.

    Stilte.

    Stilte …

    See! roep hy uit. You are standing on one leg.

    Lig stroom oor die duister wêreldvloed en alles ontplof in my kop: strykers, hout- en koperblasers, tromme en simbale, almal tegelyk. Soos aan die begin van dinge is ek weer ’n man, ’n jong man …

    En toe …

    Toe stort ek uit die lig terug in die chaos waar twee fris bene en vastrapvoete met krultone nodig is vir balans. Soos in my kleintyd wag ek toe-oë vir my ma se helende hande wat my skurwe wintervoete kom insmeer met paraffien en kerswas …

    Ek maak my oë oop. ’n Monnik met ’n emmer water loop voor ons verby op nat plakkies wat tjierts-tjierts. Hy maak verniet of hy nie sien hoe ek my lyding ootmoedig verduur nie. Hy dra nie eers ’n onderbroek nie. Dié mans vou hul klede versigtig om hul onderlywe as hulle hurk, maar ek het oë in my kop.

    Are you listening to me, Da Ni Eu?

    Speak, Master, for thy student heareth.

    Meester Yang, die Daoïs, langs die tempel van die Boeddha hoog teen die Longshan-berg, het nie ore vir my King James-Engels nie: hy onderrig my in die eeue oue gevegskuns van die Chinese: "The tài jí stance you are now practising, is called Jīn jī dú lì."

    And what, Master Yang, does that mean?

    That, Da Ni Eu, means golden cock stands on one leg.

    Dis donker buite. Ek kyk van my skryfwerk af op en in by die deur van die Tempel van Ewige Vrede. Die goue Boeddhabeeld in die middel gloei in die gedempte lig.

    Jy weet, Kaspaas, meester Yang kyk tot diep in my verborge self. Hy is ’n siener, dié man, maar hy is verkeerd, ek is nie op die weg van die Dao nie. Ek trap versigtig oor duwweltjies en gousblomme teen die klippe in my pad, as ek dié beeld by ons groot digter mag leen.

    Ek het die voorreg gehad om ’n bietjie geleerdheid bymekaar te skraap, maar ek moes my beroep los om op Ystervarkfontein te gaan boer.

    Ek het hard probeer om ’n goeie man vir my vrou te wees. Regtig, Kaspaas. Ek bedoel dit. Ek moes. Ek is so grootgemaak. Die dood vat haar toe weg en ’n studeerkamer vol Engelse boeke en Afrikaanse digbundels uit die vroeër jare bly oor. En haar reuk tussen die rokke in haar hangkas. En herinneringe snags in die donker plaashuis. En die groot verlange Sondagmôrens onder die wilgers by die plaasdam. En Sondagmiddag op die voorstoep met ’n koppie koffie en ’n leë koekbordjie.

    Die tyd het dalk aangebreek dat ek ’n brief aan haar skryf en haar sê ek het haar liefgehad.

    My seun, jou eintlike baas, het opgehou om met my te praat. Vir vyf lang jare het ek nie geweet wat van hom geword het nie. Dit weet jy.

    Wat jy nie weet nie, is dat ek nog ’n seun gehad het, oor wie ék opgehou praat het. Sy dood was die einde van wat ek gedink het my saeculum aureum was, mý goue era.

    Maar nou is Daniël in die vuuroond, draakbeelde teen die wand. Selfs al sou die vyeboom in die bloei staan en die kleinvee tussen soutbosse huppel, jubel hy nie meer nie. Daan van der Walt is klaar met jubel.

    Ek maak my pen weer vol ink en skryf die laaste sinne in hierdie hoofstuk: My mond water vir ’n stukkie melktert voor ek gaan slaap. Tuisgebakte melktert. Hier kan ek net oor melktert droom. In die ouetehuis moes ek winkelterte eet. Winkelterte! ’n Winkeltert stink na bottelgeursel soos ’n mansmens met laventel onder die arms.

    En nou vir daardie brief aan my vrou, Kaspaas.

    Die Tempel van Ewige Vrede,

    Longshan,

    China.

    28 Februarie

    Liewe Magrieta,

    Ek skryf vir jou ’n brief omdat jy snags met my lol. Dertien jaar al lê jy onder die grond en nou roer jy weer die pot. Verlede nag was dit Tea and Sympathy wat ek vir jou moes sing.

    Jy het my altyd daardie kyk van jou gegee as jy dink ek is onnodig dwars. Dan het jy jou koffie gesit en roer al was daar nie suiker in die koppie nie. As ek niks sê nie, het jy ’n stukkie melktert op my bordjie gesit, of vir my ’n koeksister gegee, en gevra: Hoekom praat jy nie as jy iets op die hart het nie, Daan?

    Vanaand het ek baie op die hart, Magrieta. Vanaand praat ek met jou.

    Ek weet nie wat jy alles van daar bo af kan sien nie, maar soos jy die laaste tyd te kere gaan, is wat hier onder gebeur dalk vir jou ou nuus. Om misverstand tussen ons uit te skakel vertel ek jou in elk geval van die onheile wat my getref het sedert jou afsterwe.

    Almal wat vir my dierbaar was, almal behalwe Jan-Willem en Ragel, is dood: Koos en Elsie, Liefie, regter Ferdinand du Plessis en Kaspaas. Almal dood. Jou Poplap en Fielies ook. Kaspaas het hulle doodgebyt. Die hond was ’n kattehater.

    Daar begin jy al weer! Sy naam is Kaspaas, nie Kerberos nie.

    Jan-Willem het met hom op die plaas aangekom.

    Ek woon nie meer op Ystervarkfontein nie. My blyplek is in ’n ouetehuis tussen ’n klomp Engelse, die Spes Bona Retirement Village. In Kaapstad. Maar tans bevind ek my tussen monnike by ’n afgodstempel in China. Al ’n week lank.

    Ek het geweet jou vlerke gaan tril as jy die woord afgodstempel lees, maar jy kan ontspan; die offerrook wat orals hemelwaarts styg, is my nie welgevallig nie. Jan-Willem het my tussen die godloënaars kom aflaai toe ek siek geword het. Ek wil nie daaroor uitwei nie. Ek is kapabel en kapater daai rammetjie. Hy wóón in China. Nie om die evangelie te verkondig soos ek en jy die Here beloof het nie. O, nee! Hy het rooi hakskene staan en kry tussen die kommuniste. Sy kuisheid vir ’n pot noedelsop verruil. En dis nie al nie, na sewe jaar op universiteit werk hy nou in ’n kafee.

    Die onmin met Jan-Willem en jou gekarring aan my snags het my laat besluit om met wat jy my skadukant sal noem om te gaan. Ek gaan my geskiedenis naspoor, ’n kritiese ondersoek doen, my Historia skryf.

    Hou op lag, Magrieta, dis nie ’n grap nie.

    Laat ek jou iets vertel daar in jou wolktoring tussen die engele Gods. Jy het waarskynlik lankal vergeet dat manne van die begin af hulle hand aan geskiedenisse gewaag het. Daar is Herodotus se Historia, ’n boek oor die ondersoek wat hy gedoen het na die Grieke en die barbaroi, en die stories, waar en onwaar, wat aan hom vertel is om dié mense se geskiedenis beter te verstaan; daar is Augustinus wat sy Confessiones neergepen het, ’n geskiedenis so vol van sy skuldgevoelens oor sy sekslewe dat hy die ganse Christendom toe belas het met erfsonde; daar is selfs ’n esel wat met ’n stok geslaan is en teruggepraat het en tot vandag toe vir sy woorde onthou word. Waarom sal Daan van der Walt van Ystervarkfontein swyg?

    Jy kan nuttig wees in die hemel, Magrieta. Jy kan my help met die skrywery.

    My Historia het vandag in medias res begin, sommerso in die middel. Dit kán tog sekerlik nie. ’n Geskiedkundige ondersoek moet by die begin begin, anders verstaan jy later die gebeure verkeerd. Die vraag is hoe ver moet die skrywer teruggaan? Gaia in Uranus se orgasmiese omhelsing voor die aarde en die hemel van mekaar geskei is, gaan sekerlik te ver terug, al is daar mense wat dink ek het dieselfde probleem as Uranus en ’n paar ander gode.

    Moet dit nou nie daar bo uitblaker nie, Magrieta, maar ek oorweeg dit sterk om my Historia te begin by Genesis, in die omgewing van hoofstuk een, by die sondeval, en Adam en Eva se straf en dié van die slang; en dit dan storie ná storie te vertel, want my stories lê wyd en soos Herodotus s’n is hulle geslyp en gevyl deur baie ander stories, stories van die mens, en van die gode wat die mens gedien het, en die onmenslike strawwe waarmee die mens vir sy ongehoorsaamheid gestraf is. Hoe voel jy oor die saak? Sal jy my bystaan, Magrieta? In ’n droom dalk? Tog net nie weer ’n nagmerrie nie.

    Dis al vir vanaand.

    Jou langslewende eggenoot,

    Daan van der Walt

    Naskrif: Ingeval jy regtig oor my skouer gaan loer wanneer ek skryf, sê ek vir jou nog ’n ding: Ek het aan die begin van verlede jaar besluit om ’n bietjie te gaan kuier. Dis nie dat ek soos Uranus paarlustig was nie, die eensaamheid op die plaas het my maar net gevang.

    DIE HISTORIA VAN DJ VAN DER WALT

    ’N ONDERSOEKENDE REIS DEUR SY GESKIEDENIS

    Opgedra aan sy vrou en sy geliefde hond

    An Upbraiding

    Now I am dead you sing to me

    The songs we used to know,

    But while I lived you had no wish

    Or care for doing so.

    Now I am dead you come to me

    In the moonlight, comfortless;

    Ah, what would I have given alive

    To win such tenderness!

    When you are dead, and stand to me

    Not differenced, as now,

    But like again, will you be cold

    As when we lived, or how?

    – Thomas Hardy

    DEEL 1

    DIE WEG VAN ’N MAN

    EEN

    Ingeval die ounooi hier iewers rondswewe, Kaspaas, wil ons haar nie onnodig ontstel nie.

    Ek sit en skryf in ’n monniksel skaars drie meter by drie meter; ’n raps kleiner as die polisiesel waarin ek na die moord opgesluit was. Hierdie sel is ten minste skoon. Die enigste ander meubelstukke is ’n staalraam waaraan ek my klere ophang en my bed, ’n kontrepsie wat die Chinese ’n kang noem, ’n platform met ’n skoorsteen. Soos ouma Annie se voetstofie het ’n kang ’n plek vir kole. Die ding is so hard soos die klipbank op die koppie voor die plaashuis waar ek en die ounooi voor ons troue een Sondagmiddag gelê en vry het. Ek maak geen oog toe op die harde blad nie. Dis koud hier. Kole vir die kang se maag om my snags warm te hou, is hier nie.

    Vanmôre het ek my ryspap en spinasie geëet en tai ji saam met die monnike gedoen. My skryfboek lê nou oop voor my. Dalk sing die ounooi hierdie keer vir mý soos die muse vir Homerus.

    Ja, ek weet ek het toe nie vir haar gesê ek was lief vir haar nie. Gee kans, ek kom daarby.

    Intussen kan jy bly wees jy is dood, Kaspaas. Hier vang die mense jou, slag jou af en braai jou oor die kole vir aandete. Hondevleis hou die bloed warm in die winter, sê hulle. In die gees is jy by my, my vriend. Jy is my honde-muse. Hoe anders as met jou hulp – en dalk dié van die ounooi as sy nie kwaad is oor die naskrif in gisteraand se brief nie – kan ek my geskiedenis neerskryf? Ek hoef my net jou vertrouende oë te verbeel en ek kan die taak opneem.

    Laas nag het ek gelê en wonder watter taal jý in die doderyk verstaan. Toe jy gelewe het, het ek jou gevoelens met eerbied behandel en Engels met jou gepraat, jy wat nie eers weet wat cave canem beteken nie, maar geweet het hoe ek oor die Engelse voel. In hierdie geskrif praat ek dalk meeste van die tyd Afrikaans met jou.

    Na Jan-Willem my in Longshan vertel het hoe hy hom hierdie keer misgaan het, was ek so gekrenk, my maag was skoon onklaar. In sy kleinhuisie – as ’n mens ’n bruingevlekte sloot in ’n sementvloer ’n kleinhuisie kan noem – het ’n duiseligheid my oorval. Alles het begin tuimel. Agter my geslote ooglede het ek iets beleef wat ek die beste met daardie nare woord fantasmagorie kan beskryf, ’n mislike koorsyling. Verwronge beelde het in my kop gerondomtalie. Broek om die enkels, arms om die kop het ek op die vloer neergeval en in die sloot gelê en braak. Daar was geen bo en geen onder nie. Wanneer ek my oë oopmaak, het die aarde gekantel en ek moes vasklou of ek gly af. Soos Gam vir Noag, het Jan-Willem my naaktheid aanskou. Maar kans vir lag was daar nie vir hom nie, hy moes emmers water oor my uitgooi om my skoon te kry. In ’n geleende motor het hy my broekloos na die Tempel van Ewige Vrede toe gebring. Nuweling-monnike het hom gehelp om my uit die kar te kry. Terwyl hy na meester Yang soek, het ek soos ’n fetus inmekaargekrimp op die plek waar hulle my neergelê het. Toe dié man uiteindelik hier aankom, het hy my op die naat van my rug laat lê en my kop stadig van links na regs gedraai, naalde onder my kleintoontjies en in my oorlelle gedruk en alkohol op my bors gebrand. Hy het my omgerol en ’n kruiesigaar op my rug aan die brand gesteek. Toe ek oplaas my oë oopmaak, sien ek ek lê op die blinkgeskuurde blad van een van die kombuistafels, die ou vadoekie oor my skaamte gans te klein vir die doel waarvoor dit daar geplaas is. Daar lê ek soos die dag in die konsistorie voor die starende oë van die susters van die gemeente, ’n spektakel ten aanskoue van ’n klomp monnike, hand voor die mond, verbouereerd aan ’t giggel.

    Een woord verder oor die gebeure daardie nag en ek maak my skuldig aan ’n doodsonde.

    Ek is reeds skuldig aan een van dié sondes. Ek is in China soos die Psalmdigter in die dieptes, gans verlore. Calvyn vermaan en verplig die mens om ondersoek te doen waarom hy ’n misnoeë in homself het. Selfondersoek is nou aan bod, soos die ounooi en haar meelopers sou sê. My opdrag aan myself hier agter my tafel is, in die gees van die Puriteinse wekroep uit die sestiende eeu: a narrow examination of thy selfe and the course of thy life.

    Is daar ’n beter manier om vrede te vind as met ’n belydenis van sonde?

    In jou bruin oë, Kaspaas, sien ek die antwoord, hoor ek jou stem: Bely, Oubaas, bely, bely.

    Ek sal bely.

    Na die belydenis hoop ek kom insig. Na die insig begrip. Soos ’n Rooms-Katoliek in die bieghok gaan ek met pen op papier my sondelas woord vir woord van my gewete afwerp. Wanneer ek alles begryp, wil ek vry wees, so vry soos ’n Kruisvaarder na ’n stywe aflaat.

    Jan-Willem was ’n eerstejaarstudent toe die ounooi dood is. Ses jaar later, met ’n graad in die teologie, het hy my soos ’n flenterlap vol ghries en ou olie in die waenhuis se hoek gegooi. Vier jaar lank het ek in stilte my wonde gelek. Toe, sonder vrou en kind, met net jou geselskap, my hond, het ek Hesiodus en Homerus, Virgilius en Ovidius afgestof en saam met Seneca op die kassie voor my bed langs die Vulgaat neergesit, die ounooi se studeerkamer oopgesluit en weer begin lees. Met mening het ek gelees. Dag en nag. Orals. Op die leunstoel voor die eetkamervenster, op ’n lusernbaal in die stoor, op ’n omgekeerde paraffienblik in die kalwerhok, by die kombuistafel, onder die komberse in my kooi. Wat in my kop vasgeskop het, was Yourcenar se Abyss en Eco se The Name of the Rose. Dié twee boeke was soos ’n reis saam met die heilige Brandaan deur die kerk se skrikbewind gedurende daardie tye. Die toestand van die bruid van Christus het my mistroostig gelaat wanneer die water lou geword het in my bad. Memoirs of Hadrian het ek ook gelees en toe weer en toe nog ’n keer. By die herlees van Seneca se geskrifte en Steinbeck se roman To a God Unknown het ek besef die steen wat die bouers ’n plek ontsê het, kan vir my die hoeksteen word.

    Ek het ’n drang begin ontwikkel om van die pad af te dwaal en langs ’n voetpad ’n blommetjie te pluk.

    Snags het ek na die prent van die Breë en die Smal Weg teen my ontslape ouers se kamermuur gaan kyk en gebid: Leer my, Heer, u regte weë, wys die regte pad my aan. Maar ek het geweet: Video meliora proboque, deteriora sequor, soos Ovidius dit so treffend stel: Ek sien die betere en keur dit goed, maar ek volg die slegte.

    By uilgeroep wanneer die maan oor die familiekerkhof hang, was die Smal Weg aangewese.

    By hanekraai, in die glans van die môrester op die voorstoep, koffiebeker in die hand, ’n kousel anysbeskuit in die kies, het die Breë Weg gelok.

    Heen en weer, soos die klepel van ’n klok, het ek geswaai. Breë Weg, Smal Weg. Breë Weg, Smal Weg. Die vurige hoop en die vaste vertroue van die geloof moes my op die Smal Weg hou, die uitverkiesingsleer my tot troos wanneer ek struikel. Die hemel was immers my bestemming. Dis waar die ounooi is by wie ek ’n paar sake moes gaan regmaak. Maar die Smal Weg hemel toe was nie my beskeie deel nie.

    Ek het ’n vermoede: die mens wik, maar God … God en Satan sluit weddenskappe oor jou lot.

    Pleks dat ek, glas Kaapse Vonkel in die hand, na die ounooi toe opgevaar het met ’n strydwa en vurige perde, bevind ek my een nag ’n jaar of wat gelede tussen die skaapkraal en die koeistal op die riffelrug van die Bokram uit die Weste. Die gedierte tussen my dye bokspring, ek verloor my balans en kom op my rug op die gloeiend warm aarde te lande en daar sien ek ’n gesig. Met hierdie twee oë van my aanskou ek hoe ’n vinger van ’n mensehand teen die dooie miershoop skryf: Daan van der Walt, jou boggel en jou blom is Wellus.

    Wellus, Kaspaas.

    Sonder verhoor is ek skuldig bevind aan die ergste van die sewe Doppersondes. Was dit maar Vraatsug kon ek dalk op ’n eetstaking gaan, maar dit was Wellus, ons vroeë kerkvaders se Sonde Nommer Een.

    Ek het op my knieë voor my bed neergeval en vertroosting gesoek in die gebed van die heilige Augustinus: Da mihi castitatem et continentiam, sed noli modo. Maak my kuis en rein, maar tog nie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1