Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Ebook883 pages16 hours

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op 'n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. Snaar Windvogel, vroeër van Matjiesfontein, is nou in transisie onder die lem van ’n enigmatiese plastiese chirurg. En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe . . . Hierdie en vele ander fassinerende karakters bevolk ’n landskap waarin die enigste sekerheid ónsekerheid is. Want Etienne van Heerden se tergend aktuele nuwe roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar privaatheid en identiteit abstrakte begrippe geword het, fopnuus ononderskeibaar van die werklikheid, en “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 22, 2019
ISBN9780624089223
Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Author

Etienne van Heerden

Etienne van Heerden is in 1954 in Johannesburg gebore. Hy ontvang die Eugène Marais-prys vir sy kortverhaalbundel My Kubaan. In 1986 verskyn Toorberg, wat wyd bekroon word. Hy is ook bekend vir romans soos Die swye van Mario Salviati (2000), 30 nagte in Amsterdam (2008) en Klimtol (2013). Hy is professor in o. m. kreatiewe skryfwerk aan die UK.

Read more from Etienne Van Heerden

Related to Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden

    Tafelberg

    Vir Kaia

    NOTA

    Hierdie historiese riller is ’n eerste weergawe van die geskiedenis.

    Daar is ruim gesmous met werklike gebeure.

    Die orde van insidente volg nie die werklike chronologie nie.

    Uiteraard is karakters in hierdie spektakelroman denkbeeldig

    en die storielyn verdag.

    Fopnuus, al die pad.

    Bisarliteratuur.

    Pulpgeskiedenis!

    ’n Trigger warning is gepas.

    Jia zuo zhen shi zhen yi jia,

    Wu wei you chu you huan wu.

    Truth becomes fiction when the fiction’s true;

    Real becomes not-real when the unreal’s real.

    – Cao Xueqin, The Story of the Stone

    #

    DEEL 1

    Brandmuur

    1

    Die Bund, Shanghai

    ’Ellos partner! Can I trust you?

    #

    Aan die einde van die storie wat jy nou begin lees, druk die gety wat van die Oos-Chinese See instoot, Thuli stadig suidwaarts. Sy dryf op die swart water van die Huangpu-rivier wat teen die Bund in Shanghai verbyvloei. Haar ledemate is swart en stokkerig uitgesprei.

    Dis laatsomer, en aand. Die meeste van die wandelaars op die promenade dra baadjies of jasse en oorkant die straat beweeg lang skaduwees teen die geboue af.

    Sy lê gesig na onder in die water, maar kort-kort kan jy ’n deel van haar gesig sien. Dis asof sy asem skep.

    Haar lyf draai in die skuimstreep van ’n baggerboot. Die skuim is silwerwit, want dit weerkaats lig van oorkant die water.

    Op ’n aand soos vanaand snuif jy kwalik ’n vegie besoedeling in die lug.

    Hier van duskant sien jy strale speel deur die hipermoderne geboue wat oorkant die water die beroemde Pudong-stadsprofiel vorm. Bokant die Oriental Pearl TV-toring uit die Deng Xiaoping-era hang die volmaan soos ’n seepbel.

    Die toring blink hemelhoog, die silwer van ’n poskaartfoto.

    Lonely Planet, het Thuli gelees, beskryf die toring as ’n versnit van wetenskapsfiksie en Sowjet-geïnspireerde brutaalargitektuur.

    Maar die duskantste wal vorm die romantiese kant van die water. Hier by die neoklassieke strip. Hier is die beroemde promenade waar die stadspolisie ’n wakende oog hou. Net hier anderkant die Waibaidu-brug staan die Hotel Astor met sy Peacock Ballroom, tot vandag toe steeds die liefling van besoekende Westerlinge wat van koloniale nostalgie hou. Aan sy oorkant die nors granietblok wat diens doen as Russiese konsulaat.

    Teen die breë Zhongshan-weg aan die kant van die promenade strek die marmer-en-klip-geboue van die Bank van China met twee wapperende landsvlae verby die voormalige Palace Hotel tot by die Hongkong en Shanghai Bank met sy twaalf sontekens vir die wêreld se destydse twaalf finanssentrums.

    Dis asof die swaar voetspoor van die koloniale geboue oorkant die blink water beantwoord word deur die futuristiese blanko gesig van ’n nuwe ambisie.

    Tegnologies. Hipermodern. Skoon lyne, sonder sentiment. Glas en staal.

    Hier duskant staan bruide in rooi sy teen die Bund se relings om afgeneem te word teen die agtergrond van die swart water en die verligte Pudong-stadsprofiel. Thuli het baie aande hier kom stap om haar te verwonder aan die bruide wat almal eenders aangetrek is. Bloedrooi, blink rokke wat op die grond sleep. Sluiers wat meters ver in die wind wapper en soos sygordyne voor die Pudong-ligte verbysweef.

    #

    Dit is reg oorkant die Custom House-gebou dat so ’n bruid, terwyl die fotograaf sy kamera op haar fokus, ’n uitroep gee en oor die swartblink water wys: dáár. Sy trek geskok haar rooiblink rok op dat jy haar Adidas-skoene met neongroen sokkies sien.

    Vir ’n oomblik stoot die gety die bolyf op. Die rug en skouers word duidelik sigbaar en iemand gil oor die pyl in die rug.

    Aanvanklik sien niemand die man wat desperaat vorentoe hardloop nie.

    ’n Groep van nege Boeddhistiese monnike wat met kaalgeskeerde koppe en in hul oranje gewade teen die relings vir foto’s geposeer het, bars uitmekaar van skrik; hulle dag eers die man kóm vir hulle.

    Die man, ’n Afrikaan, gil iets onverstaanbaars. In die hardloop skud hy sy jas van sy skouers af.

    ’n Taal vol klapklanke, eksoties. En omstanders besef: die mens in die water het iets aan hom, en hy iets aan haar.

    Die polisiemanne wat nader gehardloop het, probeer hom bedwing, want hy wil met mag en mening in die water spring terwyl sy tong teen sy verhemelte klap en hy, soos dit vir hulle klink, sy kieste ontsteld suig.

    Hierdie geluid, dan, is die amperse einde van ons storie.

    Nie heeltemal die einde nie, want watter storie kan ooit ’n volslae einde hê? Is die einde van een storie nie maar, onafwendbaar, die begin van ’n ander nie?

    Die geskiedenis is ’n rolbos, en hy tol deur ons drome.

    #

    Huff-huff-huff!

    Die nasionale vastrap. Die toyi-toyi.

    Kaapstad. As dekor: die ikoniese beeld van die breë trappe, die Jameson-saal met sy pilare as simbool van institusionele geleerdheid, en daaragter: die ruwe kop van Duiwelspiek.

    ’n Stuk nukkerige klip.

    Op die Universiteit van Kaapstad se Bo-kampus, aan die voet van die trap, skiet ’n slordige kar se kattebak oop. Hiervandaan, waar die kar se oliedampe nog hang soos dit inderhaas gebriek het, kyk jy teen die trappe op na die Jameson-saal asof teen die steiltes van geleerdheid uit. Daar bo, nes ’n rooi anemoon in die getye van die tye, is die skare reeds opgewonde aan ’t vou en ontvou.

    Die boodskap het gou op WhatsApp geblits – rituele skaapslag op die Jammie se trappe, nóú!

    Om die Jameson te suiwer van die bose geeste van kolonialisme!

    Huff-huff!

    In die kattebak: die skaap met vasgebinde, dun bene. ’n Ooi met wit, starende oë, ’n tong wat oor tande stoot en dan lel. ’n Blêr wat jy eerder in die tong se trilling sien as hoor.

    Gretige hande tel die ooi onhandig uit. Doef op die teer. ’n Dynserige dag en vaagheid oor die Kaapse vlakte: mis of rook. Die selfone mis niks nie – soos oë op uitgestrekte arms.

    Sleep-dra die dier, wat skop en hyg en die wit van oë wys. Die rooi see maak boontoe oop vir die deurgang van die Vallisteleiers wat die skaap sleep-dra. Trap-op, na die saal se boonste trappe.

    Huff-huff! Huff-huff!

    2

    Sending na China

    Thuli het vooraf niks oor haar planne om na China te gaan aan haar pa en haar ma gerep nie.

    Hoekom nie? Want sy is ’n sluipmoordenaar – soort van – wat haar eie familie gaan uitwis. Dít het sy eers werklik besef toe die vliegtuig by Shanghai se lughawe insak. When a writer is born, a family starts dying. Een slag, iewers in ’n voorgraadse lesingsaal, het sy dit gehoor.

    As dertigjarige nagraadse student wat nog by haar ouers woon, moes sy altyd die balans vind, in haarself, tussen onafhanklikheid en afhanklikheid. Soms sou haar ma vir haar sê: Jy’s my ou dogtertjie. Bly so lank moontlik by ons, en ander kere: Jy’s nou ’n groot vrou. Kom, kom.

    Daardie groot vrou was nooit juis oortuigend nie. Sy was die fynste in die familie. Skraal. Korter as haar ouers. Hoë wangbene, ’n wye, oop voorkop wat altyd lyk asof dit pas skoongewas is en nooit die sorge van die wêreld sal dra nie. Fyn, skerp ken: hardkoppig. Gewoonlik dra sy haar hare styf teen haar kopvel geknoop. Of bedek dit, soos die gewoonte onder sommige vrouelede van die Fees Must Fall-beweging is, met ’n helder, opvallende kopdoek. ’n Viering. ’n Opmerksaamheid. Iets wat die son en die kameraoog vang.

    Aan die een kant was haar tersluikse vertrek uit Kaapstad dus ’n onafhanklikheidsverklaring, wat haar onverwags ’n vreugde gegee het. Aan die ander kant dag sy dat sy die waarheid in China gaan ontdek. Wat sy nie voorsien het nie, was die verskrikking van keuse. Van die ou Yogi Berra-gesegde: As jy by ’n vurk in die pad kom, neem dit.

    Wat beteken dit? Dat daar nooit werklik ’n keuse is nie?

    Dat die vurk jou lot is, en nie een van die twee bene van die vurk nie?

    Want hoe kies jy tussen twee vaderlande? Een vaderland, jou pa. Ja, vir haar: die pa as vaderland, so inkorrek, so patriargaal as wat dit is. En tog, in haar geval, wáár.

    Jou gewroegte, oorwerkte, deurdrenkte pa.

    Pa met kant nog wal.

    En die tweede vaderland, die ánder been van die onmoontlike en wrede vurk, was die republiek wat meer as twintig jaar ná wat bevryding genoem is nog wag om gebore te word.

    Die republiek, nes haar pa, kapot gewroeg. Oorwerk en deurdrenk. ’n Onmoontlike ding om oor te regeer. Haar pa se woorde.

    Só ’n geskiedenis, sê hy altyd.

    Vat dit net, wil sy dan sê. Vat die republiek. Vát die land!

    Gryp.

    Grondgryp!

    Want: die republiek, een groot wit titelakte.

    En, wat haar betref, een groot gangsterstaat. ’n Kleptokrasie, met die diepstaat wat te papbroekig is om in een fel gebaar die grond terug te gryp en dus met allerlei krimi-uitlopers eerder afskep. Die handel in fopware, van Adidas-skoene tot sigarette, polisielede wat met bendes konkel. Kaderontplooiing. Munisipaliteite wat tot kitsbanke vir ANC-families verval, die tendersirkus …

    Hoe kan jy ’n Afrikaan wees as jou voete staan en jou voete loop op grond waarvan die titelakte meer as twintig jaar ná sogenaamde bevryding steeds spierwit is? En is dit wat die republiek wil wees: die wêreldleier in staatsboewery?

    Ja, China sou haar te staan bring voor die wrede vurk met twee bene: die een been was die belofte van ’n voorspoedige republiek in Afrika. Die ander been van die vurk: haar liewe, liewe intrigedronk pa.

    Vir haar, sy enigste dogter (My enigste kínd! roep hy dikwels sentimenteel uit), is hy steeds die geur van die seemis daardie oggend lank gelede toe die veerboot stadig van Calais na Dover skuif en sy, ’n klein dogtertjie, op sy skoot sit. Teen die wind in waar hulle heel voor op die boeg op ’n stoel sit terwyl die bries met hulle serpe speel: Kyk, kyk, Thuli, the white cliffs of Dover.

    Eers later, toe sy ouer word, het sy besef daar’s ’n snykant aan daardie frase. The white cliffs of Dover. En dat daar ’n snykant was, al die jare, aan baie van sy skynbaar terloopse opmerkings.

    ’n Man met vele bodems.

    ’n Man wat nou, tesame met als wat hy opgebou het sedert sy dae as bokwagtertjie aan die rand van ’n verflenterde township in die Oos-Kaap, ’n man wat nou bedreig word deur sy eie.

    Sy enigste.

    Sy geliefde dogter.

    ’n Man wat ver gekom het en sy pad boontoe moes oopknoei. Maar daardie dag, tydens die oorgang oor die Engelse Kanaal, was sy te klein om dit als te weet. Sy’t net na die spierwit land wat nader skuif gesit en kyk en veilig gevoel in die arms van haar pa. Hy’t die kniekombers wat hy vir haar saamgebring het uit die motor wat in die boot se buik was onder haar ken vasgehou. Knus en beskermd.

    Want was hy nie (so het sy altyd gedink) onmoontlik om te verraai nie? Hy was die geur van sy serp: diepsweet en sigaretrook, whisky en redenasies. Hoop en wanhoop.

    Maar hoop, het sy kleintyd in Londen al geleer, is intrige. Daar was ’n voorwaarde. As jy die hoop wáár wil maak. As jy die hoop wil realiseer. Moet jy knoei.

    En dít wou sy afskud. Sy wou kom daar waar hoop hóóp is. Na China, na Shanghai, het sy gekom, op reis na hoop.

    Suiwer hoop. Hoop sonder voorwaardes.

    Moet jy eers jou ouers vermoor voordat jy daardie hoop kan kry?

    Dít was haar vraag toe die vliegtuig by Shanghai indaal en sy besef: jy is ’n sluipmoordenaar, Thuli.

    Teikens is geverf op jou pa se bors, op jou ma se rug.

    Watter hoop kan daar wees vir iemand soos jy?

    Daardie geurige ANC-serp was sy lieflingserp. Dit was om sy nek geknoop die dag toe Mandela uit die gevangenis stap. Bleek en broos het die bandiet gelyk op wie die hele wêreld wag. Tuis het haar pa dikwels die VHS-band herspeel (sentiment oor die Struggle-dae, het haar ma verduidelik) en haar gewys: Kyk, Thuli – daardie dag het Mandela ’n onsekere beroemdheid aan hom gehad. Sy vuis was talmend in die lug, sy lang lyf te maer en ingeperk in ’n stigtelike kerkpak. (Dit was voor die tyd van die hemde.)

    Inderdaad: ontuis het Mandela daardie dag die gesigsveld van die TV-kameras ingestap, die kerkpak te konvensioneel vir hom, die ikoon.

    Hy’t uitgeput gelyk. ’n Man wat opstaan uit die siekbed van gevangenskap. Kyk mooi: niks van die latere robuuste Mandela nie. Só broos.

    Winnie, op haar plek aan sy hand, in die oë van die wêreld opnuut ’n bruid. (Onthou, dit was vóór als voor die Waarheid-en-versoeningskommissie en die hofsake uitgekom het en voordat, later, die vuilspel van die veiligheidspolisie én die sokkerklub op die lappe gekom het).

    Winnie, stigtelik en ingehoue langs hom. Geen teken aan die buitewêreld van hoe hul twee geeste – Nelson en Winnie s’n – op daardie oomblik aan ’t stoei was juis met mekáár nie.

    Net die ingewydes, van wie haar pa een was, het geweet.

    En dan sien hulle op die VHS-opname: Haar pa, jonk nog, bloedjonk en gretig, effe skuins agter die leiers op die stadsaalbalkon op die Parade in Kaapstad, toe Mandela die volk die eerste keer toegespreek het. Met Cyril Ramaphosa, die kroonprins (ja, onthou, dit was vóór) wat die mikrofoon vir Mandela vashou.

    Ja, haar pa was vir haar die geur van die kos uit die Indiërwinkel nadat hulle van Dover na die Britse hoofstad is waar haar pa by die ANC se Londen-missie moes aansluit. Hy was die geur wat uit die winkel opgedryf het van straatvlak na haar slaapkamervenster vlak onder die dakpanne van Kensington – masala en naan en hoendertikka, wierook en lemoene en stomende ryspotte. En verontwaardiging.

    Want wat sy ook van die Indiër-gesin met hul restaurant onthou, was hul verontwaardiging oor die swaarkry van die gesinnetjie bannelinge uit Afrika wat in die dak van hul restaurant moet woon.

    Die drie bakkies lamstikka en rys wat soms opgestuur is wanneer die Britse koerante die een of ander oor die Suid-Afrikaanse regime gepubliseer het.

    Dis wat haar pa vir haar was en is – geur.

    Die geur van die instemming en meelewing van die Indiër-gesin onder, die geur van kommer en boodskappers en onverwagte reise. Vreemde mense wat skielik in hul kombuisie met die lae plafon staan, hul reënjasse wat drup en hul sambrele wat na skrik en misreën en sigaretrook ruik. Haar pa was die geur van onverwagte stasies en agtervolgings en perronne en skielik op die bus spring en by die volgende halte onverwags haar hand gryp en uitspring en dan die winkel in en skielik, by die lekkergoedtoonbank, die sjokolade as troos. Die duiseligheid van suiker bo-op skrik.

    Dit was ’n geur wat haar lewe omgeef, en sy sukkel tot vandag toe steeds om die verleiding van daardie Londense troossuiker af te skud. Fees Must Fall het haar ses kilogram laat optel. Spanning en suikerontspanning.

    Al hierdie dinge het die naam Pa gedra. Dit was die wêreld van haar eerste herinneringe. Die vaderland noord van die ewenaar.

    En later, onseker, súid.

    Om al hierdie redes het Thuli daar in die water van die Huangpu-rivier, met die pyl wat aanvanklik haar rugspiere eers verdoof het maar toe ’n brandpyn deur haar rugmurg en oor haar skouer met haar nek laat opskiet het, aan die lewe gebly. Ja, weens die herinnering aan haar pa se serpgeur het Thuli daar in die water aan die lewe geklou met die Pudong-toring met sy lang nek soos dié van ’n silwer reier wat oor die rivier waak.

    Hieroor elke asemteug. Hoop. Moet. Móét.

    #

    Familieverraad was die geur van die vuurhoutjie se swael en ’n brandende kers.

    Want dit was ’n groot besluit: hoe om haar Kaapstadse kamer agter te laat. Sy sou iets vir haar ouers moes los voordat sy geepad na China; ’n boodskap. Maar wat?

    Haar ouers was klaar op hete kole oor die studenteproteste op die kampus van die Universiteit van Kaapstad, en baie senuagtig oor haar deelname. Haar ma het begryp, maar ook nie begryp nie. Haar pa het gereeld na haar gekap. Hy het ’n bedreiging vir die ANC gesien in hierdie weerbarstige jong mense wat so lief was vir die rooi van die EFF. Hulle het reeds die parlement bestorm en die minister van hoër onderwys verneder waar hy stamelend deur die geslote ysterhekke van die parlement met die protesteerders gepraat het. In Johannesburg wou studenteleiers die sekretaris-generaal van die ANC dwing om voor hulle te gaan sit. Om hom te verneder. Tot een van die ANC-gesinde studenteleiers hom gered het. Wat sou nog kon gebeur?

    En bowenal: sy eie dogter!

    Thuli het geweet dat haar ma ná haar vertrek die eerste een sou wees om tuis te kom. Eers die gerommel van die outomatiese veiligheidshek in haar ma se ore, dan die handrem van die motor. Die piep van die alarm wanneer sy langs die palmboom, digby die voordeur, die stelsel deaktiveer en eers stilstaan om te luister of sy geen voeteval, ’n vinnige skuurgeluid van klere tussen plante deur, of ’n asemhaling bespeur nie.

    Ou Londen-gewoontes. Tóé die behoedsaamheid vir die gevreesde operateurs van die Suid-Afrikaanse regime, en ook die laksmanne van die internasionale wapenhandelaars. (Dít sou Thuli eers later ontdek.) En nou: die vrees vir die inbreker hier in die misdaadgeteisterde suidelike voorstede.

    Só was haar ma. Spits altyd die ore. In die gesin word gesê: Ore is Ma se primêre organe. Haar hart sal al staan, dan luister sy nog. Haar pa se speelse waarskuwing: Ma gaan ons nog eendag uit die graf afluister!

    Dan sou haar ma die sleutel in die slot draai. Daarna die klank van haar eie voetstappe op die ruim voorportaal se vloer, daar aan die onderpunt van die breë trap. Haar ma het al die jare in ballingskap gedroom van ’n huis met so ’n swierige trap na ’n boonste verdieping; ’n trap wat ruim slaapkamers beloof met groot skuifvensters wat lig laat instroom en op ’n groen tuin uitkyk, beddens met dubbelkatoenlakens, gul, opgestopte kussings en badkamers met Italiaanse krane …

    Tafelberg, Duiwelspiek, in elke vensterraam.

    Haar ouers het die eiendom nog nie gekoop nie, hulle pot nog kapitaal op. Dit kom. Dit kom.

    Haar pa wou koop. Dadelik. Natuurlik het hy genoeg verdien om dadelik ’n groot verband te diens. Maar haar ma. Outyds, konserwatief. Iets van ’n trofee wat sy voor haar gesien het, dis wat die blyplek vir haar ma was. Ons gaan dit kontant koop.

    Haar pa het geprotesteer. Dis onnodig! Ons neem ’n verband uit en betaal verbandrente en boonop elke maand ’n stuk van die kapitaallening af!

    Haar ma was beslis: "As die bank die eienaar is, gaan ek nog nie voel die grond is swárt nie. Die banke is wit, julle weet tog.

    Eers as ek kontant betaal, weet ek swart voete loop op swart aarde. Dis myne. Ek is in Afrika.

    En koop jy die grond nou terug van die wittes? wou Thuli haar ma vra.

    Is dit nie lank terug van ons afgeneem nie?

    Vát dit!

    Maar sy’t eerder stilgebly. Want haar ouers moes boonop black tax betaal. ’n Verlangse neef se seun wat wou gaan studeer, help. Gogo in die Oos-Kaapse Karoo, maandeliks. Bloedfamilie en aankloppers om hulp, wat nie weggewys kan word nie.

    Daar aan die voet van die trap sou haar ma, instinktief die moederhen, haar liewe, liewe, swaargeleefde ma; daar sou haar ma gaan staan, haar kop skeef draai, en sonder dat sy enige ander inligting het, hoor aan die kwaliteit van die stilte, hoor aan die suising van niks, daarin sou sy hoor, soos net ’n ma kan hoor, met die oor van bloed en naelstring:

    Haar dogter, haar Thuli.

    Hul enigste.

    Is weg.

    En daar’s ’n geur van ’n brandende kers in die huis.

    #

    Terwyl die vliegtuig van Hongkong-lughawe opstyg op pad na Shanghai en oor toringhoë woonstelblokke uitswaai en haar oë die rooi puntjie van die vlerk volg soos dit oor dikgroen bosse, woonstelblokke, petroleumparke en inhamme met water en bos veeg, toe wil-wil Thuli begin huil.

    Haar ma, luisterend aan die voet van die trap.

    Haar ma, weet sy, sou haar ophaas na Thuli se slaapkamer, die deur oopstoot en dadelik sien – hand voor die mond – wat Thuli so versigtig uitgestal het.

    ’n Klein altaartjie.

    ’n Kersvlam wat flikker in die trek van die deur wat vinnig oopgestoot is.

    Geraamde foto’s:

    Foto een: Thuli en haar ma, laggend voor die ANC se destydse kantoor in Parys. Daar is die hoekbistro waar, oor wyn en met sigare en bravade en verdiep in intrige, haar pa, ’n jong-jóngman, geluister het na die oueres, die Thabo Mbeki’s, die Steve Tshwetes, die Jacob Zumas.

    Mbeki, kompleksiteit-in-tweedbaadjie-en-pyp en dromerige uitdrukking in die oë, ’n teddiebeeragtige intelligensie wat later die African Renaissance sou uitdink, ’n konsep wat die land mettertyd vergeet het. Steve Tshwete, sportiewe kaak in kontras met onwaarskynlike dik brilglase en ’n gravitas wat vertroue inboesem, selfs op daardie ouderdom.

    En Zuma, hail fellow well met, jou braaivleis-en-bier-vriend. ’n Gekkigheid, ’n roekeloosheid, in sy kom-ons-paartie-smaail.

    En nou is hy die president wat sy land laat modder vreet. Die trogleier.

    Sy kry haar ouers jammer. Al daardie jare in ballingskap. En nou het dit hiertoe gekom! Hierdie man!

    Al wat haar pa, Cat Khumalo, ooit sê wanneer haar ma Jacob Zuma opper, is dat die republiek ’n work in progress is.

    Dan antwoord haar ma: Eerder ’n ramp!

    Foto twee: Daar, dáár die bushalte waar sy en haar ma in die winterkoue op die bus na die kleuterskool gewag het. Haar ma, gesteld daarop dat hulle netjieser as die Londenaars moes aantrek. Skoner en mooier en meer versorg. Haar ma se groot vrees: dat hulle aangesien word vir slordige, agterlike Afrikane, verlore in ’n wêreldstad. Bedelaars by ’n bushalte.

    Thuli, gaan terug spieël toe. Is dit hoe jy wil uitgaan op die strate?

    En: Jy verteenwoordig die nuwe Afrika.

    Foto drie: Hogarth Road, Kensington. Die klein speelparkie. So klein, jy’s benoud. Drieverdiepingwoonstelle alom. Ses bome, sy’t daar in daardie parkie behoorlik leer tel. Boom één, boom twéé, boom drié, dan die swaai. Boom vier, boom vyf, dan die rondomtalie! En by boom ses, die gewaagde, die maagdraaiende, die suising teen die glyplank af tot in die wagtende hande van haar laggende pa.

    Foto vier: Haar pa, haar ma, en sy, veel jonger. In die middel, die ikoon in sy glansende Mandela-hemp, die messias.

    Haar pa se brom-brom-messias. Laat hulle maar so glansryk lyk op die foto. Agterna, onthou sy glashelder, in die motor ná die fotonemery, haar pa se gebrom oor hoe Mandela se man, Cyril, die ANC gaan uitverkoop aan grootkapitaal; hoedat als neerkom op kompromie en nie op revolusie nie; hoedat die land, die grond, hulle aanhou ontglip, ’n lugspieëling, altyd net voor jou, daar voor, die immer wegglyende – in haar pa se woorde – mirage van ’n Afrika wat óns s’n is.

    Tussen die portretjies uitgestal, pront sit hy daar met sy kort, vet beentjies en blink voetsole: haar teddiebeer wat haar pa destyds van die Ooste gebring het. Hy’t daardie dag by sy aankoms op Heathrow op sy hurke gegaan en dit aan haar gegee. Vir haar as klein dogtertjie was die sending onmoontlik lank. Sy het op die metro van die lughawe af huis toe reeds verlief geraak op die fronsgesiggie van die beertjie met sy digte hare. Maar, tuis gekom in Hogarth Road, moes sy huilend toekyk hoe hy sy knipmes neem en voor haar oë die maag van die beertjie oopsny en ’n pakkie daaruit haal.

    Haar ma het die beertjie agterna met naald en gare aanmekaargestik, ’n geel lint om sy nek gestrik, en hom aan die angstige dogtertjie teruggegee. Pas terug van die hospitaal, soos sy dit aan die kleine Thuli gestel het.

    En nou, in dié tyd dat die kampusstandbeeld van Cecil John Rhodes uiteindelik aan ’n hyskraan swaai soos aan ’n welverdiende galg, sit die beertjie daar in Thuli se slaapkamer. Nog fronsend, nog gepynigd, die operasielitteken ’n lomp toegenaaide naat oor sy bors.

    Ook, in ’n potjie langs die teddie, ’n rooi angelier.

    En ’n notatjie. Ek is jammer, Ma, en ek is jammer, Pa. Ek is op ’n sending na China.

    Aspris gebruik sy die frase waarmee haar pa hulle daar in Hogarth Road so dikwels alleen gelaat het in die Struggle-jare, op ’n sending. Sy weet hoe daardie frase die grond onder jou voete laat geepad oor die skielikheid en bestemmingsloosheid daarvan; hoe jy dan begin dwaal in die groot afwagting.

    Die onverwagsheid deel van haar pa se geur.

    Eers later, reeds op universiteit, kon sy naam begin gee aan hoe sy en haar ouers Londen ervaar het. Jy dwaal deur die onbekende strate. Jy besef: niks wat jou aan hierdie stad bind nie. Ballingskap. Jy dwaal asof jy nooit weer huis toe – Suid-Afrika toe – sal gaan nie en asof jy nie net die kantel van die lig en die reuk van die land verloor het nie, maar ook jou eie naam.

    Op ’n sending na China.

    #

    Ian Brand is tevrede met sy blog se eerste knalsinne: Vorentoe gaan jou gesig jou grootste las word. Jy gaan jouself vervloek oor jou vrygewigheid met jou bakkies – ja, jy – ek ook; álmal van ons!

    Ek sien hoedat die media anderdag Afrikaanse TV-sterre en akteurs se gesigte neem, dit vir ’n app voer wat die gesigte verouder om te wys hoe hulle twee dekades vorentoe gaan lyk. Dit op papier en digitaal uitstal.

    Besef die mediamense wat hulle doen? Besef hierdie TV-sterre en akteurs wat in hulle naam prysgegee word?

    Waar hy in sy woonstel teen die skuinstes van die Kaapse stadskom sit, begin die stad stadig vibreer. Sonstrale skiet van ver agter die Hottentots-Hollandberge oor die metropool uit.

    Die oggend-Boeings is blink vuurvlieë wat by Kaapstad Internasionaal insak ná ’n wye, gulhartige draai oor die skiereiland.

    ’n Knik van die vlerk seekant toe om passasiers ’n beter uitsig te gee oor die voet van Afrika en die stad met sy liggies wat nog flonker soos ’n juweel in die kwiksilwer see.

    Ian voel die lieflike stad om hom asemhaal. Hy verbeel hom hy ruik die geur van branders wat spat teen die Atlantiese kus en wit skuim in die inhamme van Bakoven en Clifton.

    Ook verbeel hy hom die reuk van dou op dennenaalde van die Nuwelandse bos om die voet van Duiwelspiek, en, as ’n herinnering dat hy in Afrika woon, vuurrook van Gugulethu en Langa se kant af.

    Sy maagspiere is styf ge-six-pack van gymwerk. As hy mooi kyk, glinster die gebou waarin sy kantoor sit, daar ver onder, net duskant die hawe se hyskrane, en ’n vyfverdieping-plesierboot digby die plek waar hy destyds – voor 1994 – as weermagsoldaat in die dieptes van die nag saam met Vlootduikers spesiale operasies geoefen het. Dis in die dae toe sy kop poenskop geskeer was en die twyfel sy maag soos ’n vuis laat bal het.

    Julle mense is net eenvoudig nie woke genoeg nie! skryf hy nou. Julle stommerike wat ewe vrygewig die gesellige wekroep van Facebook beantwoord om ’n foto van julleself soos julle nou lyk naas een van tien jaar gelede te pos, is onwetend besig om saam die deftigste stel data gratis te bou.

    Wat dink julle gaan Facebook met daardie pare foto’s, mooi eweredig tien jaar uitmekaar in elke Facebooker se geval, doen?

    Wel, die saak staan so: ongetwyfeld gaan daardie stelle foto’s aan ’n algoritme gevoer word as gratis opleidingsmateriaal.

    Die resultaat? Beter insig in die veroudering van die menslike gesig!

    Dit gaan gesigsherkenning nóg gevaarliker maak – jy sal nooit aan jou jeugdige self ontkom nie!

    Kyk wat skryf Kate O’Neill in Wired!

    As jou gesig vorentoe merkbaar ouer lyk as wat die algoritme dag jy gaan teen hierdie tyd lyk, gaan jy dalk sukkel om mediese versekering te kry, of dan moet jy meer betaal vir ’n mediese fonds – want ooglopend verouder jy vinniger as verwag.

    Dalk pas jy jou nie op nie! Bly jy nie fiks genoeg nie!

    Penaliseer!

    Ek, Ian Brand, kondig nou ’n protesveldtog aan.

    My versoek is dat ons die inligtingsbank peper met vals foto’s – gaan nóú, waar jy ook al is, en pos ’n foto van jouself uit enige jaar naas ’n foto van hoe jy nou lyk.

    Maak dit dan duidelik dat jy die jaar van die ouer foto nie gaan verklap nie en dat jy die netjiese tienjaarformule só ondermyn.

    Kom ons verdrink Facebook met vals pare!

    Só kelder ons die formule waarop die algoritme staatmaak en word jy ’n privaatheidsaktivis!

    Maar wág! Lees eers verder: sorg dat jou digitale foto geen inligting dra oor wanneer dit geneem is nie. Sny die EXIF-data uit. Of maak eerder ’n skermgreep van ’n bestaande foto.

    Jy weet mos, elke foto dra sy genetiese string nes elk van ons in ons selle inligting oor ons afkoms en geaardheid dra.

    Jy moet eers daardie data verwyder.

    Jou gesig, sien, is minder onskuldig as wat jy dink.

    Jou glimlag is ’n adder wat jou gaan pik.

    Surveillance is immers die internet se besigheidsmodel!

    Ian sit ’n rukkie na sy woorde en kyk en besluit dis genoeg vir eers.

    Hy sny en plak die paragrafie in waarmee hy elk van sy bloginskrywings afsluit: Onthou, dis soos die geleerde gesê het: kunsmatige intelligensie se impak op die mensdom gaan groter wees as wat die impak van vuur of elektrisiteit op die mensheid was.

    Ons regsgeleerdes sal moet bontstaan!

    Ian Brand; Brand, Nortier & Cele Inc.

    Die Glaspaleis

    Penthouse, Farsight-gebou

    Foreshore, Kaapstad.

    www.theglasspalacelawboys.org

    Forget the fly-by-nights – come to the Legal Eagles!

    Tevrede loods hy die blog die kuberruim in. Hy moet ry, die Alfa wag, ’n interessante dag lê voor.

    #

    Uiteindelik het Thuli haar pa se oproepe beantwoord. Sy was reeds op O.R. Tambo in Johannesburg. Die vlug vanaf Kaapstad het ’n uur vantevore geland.

    Die altaartjie wat sy vir haar ouers gelos het, met die teddie en kers en foto’s, het gebrand in haar gemoed.

    Sy kon heelpad tydens die vlug daardie kers ruik.

    Nadat sy deur paspoortbeheer is, het sy met afgeskakelde foon deur die boekwinkel en boetieks gedwaal. Toe sy dit aanskakel, was daar reeds ses oproepe van hom. ’n Pyn het deur haar bors gesny. Niks van haar ma nie. In tye van groot krisis gee haar ma oor aan haar man. Byna onmiddellik nadat sy dit aangeskakel het, neul die foon weer.

    Sy antwoord duiselig:

    Ek is op pad China toe.

    Hoekom nie? Hoekom kan ek nie?

    Wel, Pa, ek is mondig. Is dit nuus vir Pa?

    Nee, ek kon nie, want julle sou my nooit laat gaan het nie.

    Nee, ek sal nie. Nee.

    Nee, Pa, dit het niks met Fees Must Fall te doene nie. Niks.

    Ek het Pa al soveel kere gesê. Nie die EFF nie. Ek ís nie EFF nie.

    Dan is Pa se inligting verkeerd.

    Weet Pa tot vandag toe nie hoeveel splintergroepe daar in Fees Must Fall is nie?

    Nee, ek ís nie.

    En as ek wás, so what? Ek is oor 30!

    Ek gaan vir my kursus ’n projek in narratiewe niefiksie doen.

    Wat is dit? Dis duimsuigery, Pa. Ontspan net. Narratiewe niefiksie is nie belangrik nie.

    Ja, ek weet dis ’n pretensieuse term.

    Ja, dis ’n term wat g’n sin maak nie, okay, Pa.

    Ja, Pa. Vir universiteitswerk. ’n Lang essay. Vir een van my kursusse. Ja, ek weet.

    Pa, dis oor skryfwerk. Oor boeke. Oor grond. Oor Chinese skrywers en hul lewe daar en hul verhouding met grond. Grond en prekêriteit.

    Ek weet dis al weer ’n spoggerige nuwe woord, Pa.

    Ek moet. Ek moet China toe.

    Hoekom nie?

    Ek het dit geleen.

    Ek was by die bank.

    Ek weet mens moet skuld afbetaal. Natuurlik weet ek dit.

    Natuurlik weet ek China is duur.

    Dis my keuse, Pa.

    Pa weet hoe ek daaroor voel.

    Pa? Verraad? Waar kom Pa daaraan?

    Hoekom sal ek …?

    Ek …

    Haar pa se stem raak hees en vir die eerste keer teenoor haar hoor sy vrees. Hoe word hiërargieë omgekeer? Sy is heeltyd daarmee besig by Fees Must Fall. Hoe om die hegemonie te vernietig.

    En nou, haar eie pa. Die oomblik toe sy, die dogter, die oorhand kry.

    Verleë voel sy, en woedend. Tegelykertyd.

    Sy weet hy besef sy weet iets. Hy besef sy het iets gehoor van sy praatjies met sy vriend Sello. Hy besef sy is op die spoor.

    Hy sal verskriklik voel. My dogter. Ek het haar universiteit toe gestuur. Om te doen wat sy nou doen.

    Om juis te werk met dinge soos sy nou met my gal werk.

    Ek het haar universiteit toe gestuur om slim te word. Die eerste een in ons familie om ’n kwalifikasie te kry.

    En toe raak sy te slim.

    Slim verby.

    Te slim vir my.

    Sy het haar mes in vir my.

    Sy gaan my slag.

    Sy gaan my ondertoe bring (een van haar pa se geliefkoosde uitdrukkings), my eie dogter. My liefling.

    My enigste.

    Sy moet dit beëindig.

    Pa, ek weier om verder te luister. My vlug gaan nou vertrek. Ons moet instap. Daar gaan die mense al.

    Pa. Pa!

    Dit nadat sy die foon al doodgedruk het. So hard sê sy dit dat twee Nigeriese mans in lang gewade in die verbystap omdraai en vraend na haar kyk.

    #

    Begin in Beijing, het haar pa gesê. Baie Suid-Afrikaners wat stylvol maar stil in Beijing wil leef, woon in daardie lekker hotelletjie in die (sy kan die naam nie mooi hoor nie) hutong. Hy sal daar kan bel, sê Cat Khumalo aan sy dogter. Hy ken die eienaar, ’n verloopte New Yorker, goed. Die man sal jou help om met ’n goeie VPN verby te kom by die digitale brandmuur wat om China gebou is. Die man weet als van Abdullah Ibrahim en Hugh Masekela. Sy kennis van Suid-Afrika se musiek is ongelooflik. Mens is verstom om in Beijing iemand te kry wat soveel weet van ons musiek. Miriam Makeba in ’n hutong in China!

    Wat ’n hutong is, het sy nie geweet nie. Dit was ook nog voor sy Susan Sontag se essay oor China gelees het. Maar die woord hutong het paslik Oosters en eksoties geklink.

    Nee, ek het net een bestemming, Pa. Shanghai.

    Ek weet dis ’n wrede stad, Pa.

    Ek weet.

    Ek gee nie om nie.

    By private mense. By kontakte.

    Pa …

    Sy het die foon doodgedruk, teen sy uitasem stem in. Sy’t besef. As hy haar Beijing toe wil stuur, is Shanghai eintlik die regte keuse. Sy’s op die regte spoor. Hy was opgewerk. Hy was benoud. Hy was in ’n hoek. Hy weet. Hy weet wat die eintlike rede vir haar sending na China is. Hy weet, of hy vermoed; hy vermoed stérk. Op daardie troebel, agterdogtige manier waarmee hy dinge vermoed en, in die verwytende woorde van haar ma, soms dinge wat nooit daar was nie waar máák net omdat hy dit so koppig vermóéd.

    Maar soos met baie ander dinge, bly hierdie ding nou ongesê tussen hulle. Ongesê, agter ’n muur so ondeurdringbaar soos dit waarteen sy gewaarsku is: die groot digitale brandmuur van China waaragter sy op pad is om te verdwyn.

    Pa … fluister sy, en val by die tou in. Haar skootrekenaar rem aan haar skouer. Lonely Planet se Shanghai glim in haar hand.

    Reis, sendings, onbekende bestemmings. Dit is in my bloed, sê Thuli aan haarself.

    Sterk. Staal. Kom nou.

    3

    Skin cred

    Nou eers tref dit hom behoorlik. Vertraagde skok. Ian Brand sit in sy kantoor in die Glaspaleis, Foreshore, Kaapstad. Hoog in die lug, boaan die toringgebou, wag hy op sy kliënte. Dankbaar dat hulle laat is. Oop sit hy hier in die suidooster, verblind deur die lig wat van Tafelbaai opkaats. Hy’t flussies in die kelder stilgehou, die ontvangstoonbank se mense was besig en het net gewaai, en gelukkig was daar niemand in die hyser nie.

    Hy’t hom hier kom neerplof agter sy lessenaar en toe tref die bewerasies hom. Oor wat so pas gebeur het. Sulke dinge moet hom nie oorkom nie.

    Nee.

    Want.

    Hy is nou weer. Weer in. Die helikopter en bloed. Stank. Kantel.

    Niks ruik. Ruik soos.

    Die dood nie.

    Hy skud sy kop. Jy’s hier. Jy’s hier, prewel hy. Kaapstad. Swank pad, Glaspaleis. Kick-ass lawyer.

    Hier.

    Kom nou.

    Hy het van Jannie Smuts se standbeeld in Adderleystraat afgery gekom en was aan die terugdink aan die vorige aand se ete aan huis van sy ouers. Een van die gaste, ’n bejaarde romanskrywer wat deesdae in ’n aftreeoord in Oranjezicht woon, het begin praat.

    Terwyl hy verby Jannie Smuts se standbeeld ry, was Ian se gemoed nog vol van haar woorde.

    Haar stil en meedoënlose beslistheid oor die verbygaan van dinge, die manier waarop die geskiedenis sigself herhaal, en die dae wat hulle beleef, wat vreemder as fiksie is.

    Dis asof ons, die wit Afrikaners, het sy gesê, "na die werklikheid geruk word. Geruk word úit ons uniek Afrikaanse verhaal wat met die drif van pioniers opgedroom is en wat ons oor geslagte heen aan onsself vertel het totdat ons almal dit geglo het.

    "Ons klou nog vas aan nostalgie deur ou voorblaaie van Landbouweekblad uit te stal. Ou uitgawes van tydskrifte in gedenkuitgawes weer uit te gee. Te lees oor kosters en voetestamp en hanslammers, kerkbasaars en ou treinhaltes.

    Maar als was net ’n droom. ’n Volkome droom, was haar woorde aan hulle.

    "’n Historiese vergissing, die Afrikaner.

    "Ons kultuur is soos ’n groot biblioteek wat in ligte laaie staan.

    ’n Oogknip in die tyd, die wit stam van Afrika.

    Ja, dis hoe dit deesdae gaan aan die etenstafel van Ian se ouers, wat graag die Kaapse adel onthaal.

    #

    Terwyl Ian met hierdie gedagtes by Jannie Smuts en toe die blommeverkopers verbygery het, stroom die protesteerders skielik om hom. Die beplande optog na die Parlementsgebou is die vorige dag in die media aangekondig, maar hy dag dit sou eers later plaasvind. Nou het hy midde-in die chaos beland.

    Sommige betogers was met klippe bewapen, sweet het hulle afgetap. Langs die betogers, onbeholpe in die draf aan ’t retireer, was die onlustepolisie, hul toerusting skrikvreemd in hierdie omgewing van winkels en blommeverkopers en toeristewoonstelle.

    Regs was die Goue Akker, met die groot glasvensters waarop die son weerkaats, met die Wimpy se logo. Glaskristalle lê oor die straat versprei en knars onder sy kar se wiele. Groot snye glas sit nog in rame.

    Toe Ian spoed verminder vir die voetoorgang, stroom betogers om hom en klap op sy motor se dak. ’n Paar begin die kar skud om dit om te dop, slaag nie, en hol dan verder.

    Toe ’n jong swart man ’n ent weg van Ian sy hand terugtrek om die baksteen deur die Wimpy se groot glasvensters te gooi, deins die teiken anderkant die glas reeds weg.

    Hulle’t hom sien kom.

    Dis ’n bruin gesin, en die vrou met burka is al half orent. Die man met sy stoppelbaard bak sy arm en skouer óm die seuntjie, wat nog strooitjie in die mond met sy melkskommel sit.

    ’n Klein prinsie is hy. Ian kon net sowel iewers in die Midde-Ooste gewees het; die seuntjie het donker, intense oë, verbeel Ian hom nou waar hy in sy kantoor sit en bewe. Gene wat terugspoel na wie weet waar, deur die smart van apartheid terug, verby die tye, na slawerny en gevangenskap en ’n land ver van hier.

    En op daardie oomblik.

    Die oomblik net toe die baksteen begin vlieg, toe boor ’n pyl van agter deur die kaalbolyf baksteengooier, tussen die swart, glimmende skouerblaaie in en voor by die bors uit, asof dit deur botter glip.

    In sy motor verloor Ian byna beheer. Sy voet glip van die rem af en hy trap per abuis die petrol. Die Alfa spring vorentoe en toe Ian betyds rem om nie teen die motor voor hom te bots nie, stol die enjin.

    Die aansitter stotter.

    Skouspelagtig vlieg die baksteengooier se rooi bandana van sy kop af. ’n Man met ’n kamera vang die rooi stralekrans bokant die gooier se kop en ook vasgevang is die vlugtende gesin daardie skriksekond net voor die baksteen die glas tref.

    Die verkeer, tot stilstand geruk, begin benoud beweeg. Op die agtergrond, besig om oor die straat na die aanvaller aan te kom: ’n falanks onlustepolisie in macho uniforms. Rubberkoeëlskieters.

    En ’n volgende YouTube-greep: bloed uit die man se bors spuit agter die pyl aan asof dit die pyl jaag en rooi waaier die bloed uit oor die venster net voor die baksteen deur die glas bars. Die baksteen tref die stoppelbaardman teen sy slaap sodat hy terugsteier, agteroor val en die kind van die stoel aftrek. Die kind trek die spattende melkskommel saam en in nog ’n foto, uit ’n ander hoek (deur iemand vanaf die Wimpy se toonbank): die spattende groen melkskommel, die gooier, Maxwell Tshabalala, se spattende bloed, glas wat in skitterende kristalle teen die oggendson sprei, en die verbaasde stoppelbaardman se kwyl wat by sy skewe kaak uitskiet.

    As jy mooi kyk, sien jy ook op stilfoto’s iets wat soos ’n streep in beeld lyk. Effe blinkerig. Nat, rooi. Jy kry dit net as jy op die foto’s inzoem. Eers lyk dit soos dalk ’n lysie teen die Wimpy se muur, of selfs ’n fout op beeld – dalk ’n wimper voor die lens.

    Maar later sou dit uitgewys word: dis die moordpyl, nog in volle vlug.

    Klaarblyklik afgeskiet deur ’n hoogs gesofistikeerde kruis- of langboog. Dodelik. ’n Skut wat sy storie ken.

    Teen só ’n pyl lyk die klippe en uitgebreekte sypaadjieplaveisel waarmee die studente hul revolusie voer, na primitiewe wapens.

    #

    Die klein en skaars hoorbare pieng wat aandui dat sy kliënte gearriveer het. Hier by Brand, Nortier & Cele Inc. is als gedemp en diskreet. Hipermoderne, gestroopte en papierlose kantore. Saggies brom die databergingstelsel in die kamer langsaan.

    Hy trek sy asem diep in. Staan op, sit eers weer.

    Veeg oor sy oë. Nie die eerste mens wat hy sien sterf nie, nee.

    Op, Ian! Húp!

    #

    Kom binne, menere. Welkom.

    Hulle het almal hulle oë op hul slimfone. Die rede vir die verkeersophoping in die middestad en hoekom hulle laat is, en die sluipmoordaanval met die pyl – dis als in hulle hande.

    Ek het dit self gesien, sê Ian. Ek het pas daar verbygery. Hy haal weer diep asem. So, waar begin ons? Wil julle eers die uitsig sien?

    Het ons maar nes die Chinese gesigsherkenningstegnologie geïnstalleer in Kaapstad se CCTV-kamerastelsel, was daardie skutter van die moordpyl se gesig én sy naam nou al oral op die internet, sê die lang kliënt aan sy kollega.

    Hulle staan in die daktuin van Brand, Nortier & Cele Inc. se kantore, wat van ver gesien nogal ’n komieklike glasboks bo-op ’n toringgebou is. Ian se vennoot, Rudolph Nortier, sê altyd: As jy hier bo in die daktuin uitloop, weet jy net een spesie broei hier – en dis die arend. Legal eagles!

    Ian, anders gerat, sou die daktuin nooit in sulke brawe terme beskryf nie. Nog bewerig ná wat hy in Adderleystraat beleef het, staan hy nou saam met die vyf mans, potensieel nuwe kliënte, op die rand van die tuin en hel oor die afgrond. Dis soos om in ’n heli oor die stad te hang. En soos altyd wanneer hy aan helikopters dink, ruik Ian bloed en limf en daardie reuk wat jy nooit van jou hande kan afwas nie: die reuk van die dood. Hiervandaan die witblink flits van oggendson op die see, daar ver die rookkolom waar die een of ander trein vandag weer op die Kaapse Vlakte brand, en nog verder die blou branders van die Hottentots-Hollandberge wat soos die voorpunt van ’n tsunami na die stad aanrol.

    Hier ruik jy ligweg traangas op die lug, maar geboue versper die uitsig na die stadsdeel waardeur die studente pas beweeg het.

    Hulle staan daar rond en bespiegel oor wat pas gebeur het, en Ian is maar te bly dat hy kans het om sy gedagtes agtermekaar te kry.

    Die man met die goue das skrik (Hierjy! onder gelag) toe die daktuin se hidrobesproeiing skielik aangaan. Later gaan hulle na binne, maar Ian het hulle klaar geëien. Die Goue Das is die alpha male – en hy lei aan aandagafleibaarheidsindroom. Toe die kabelkar daar buite begin opkatrol teen Tafelberg het sy oë soontoe geflits, nes ’n verkleurmannetjie s’n wat ’n vlieg gewaar.

    Die Goue Das se oog val ook, toe hulle om die ovaal tafel gaan sit, op die mikrospuitjie naaste aan die glasdeur, die druppels wat spat teen die glas. Sy oog volg die beweging van ’n albatros aan die westekant verby. Sy oog blits na die getrommel van sy kollega, die buitengewone hoogleraar, se vingers.

    Dis die man wat, toe hulle aansit, kyk na Ian se iPhone langs sy hand op die tafel en sonder ’n sweempie ironie sê: Hallo, Google. Ian wil eers met ’n kwinkslag kom oor Google, die groot luistervink, maar toe hy sien dat die ander hul kollega se opmerking as doodnormaal aanvaar, staan hy op, glimlag na die hoogleraar en gaan sit sy foon in die kantoor langsaan neer.

    So ja, sê hy toe hy weer kom sit.

    Die vyf wou voor die tyd nie veel verklap oor hul besoek nie. Net dat hulle ’n uurafspraak verlang om Brand, Nortier & Cele aan die tand te voel, soos die Goue Das dit gestel het toe hy die afspraak maak. Nadat hy Ian se blog gelees het. Ons dag jy’s dalk die man vir ons. En bygevoeg: Dis net ’n possibility meeting.

    Tog het Ian ’n goeie gevoel gehad van die terrein waarop hulle beweeg. Vooraf, om die afspraak te knoop, moes Ian ’n opiniestuk oor die konflik tussen privaatheid en sekuriteit vir hulle skrywe en aanstuur. Buitengewone versoek. Nog voordat hulle hom formeel opdrag gee, moes hy dus al werk verrig.

    Toe hy sien waaroor hul versoek gaan, het hy besluit om tog die stuk te skrywe. Die onderwerp het hom geïnteresseer.

    Hy was juis ’n jaar gelede by die jaarlikse Privacy Conference in Amsterdam.

    Dis nie elke dag dat ’n Kaapstadse prokureur so ’n versoek kry nie.

    Hy’t dit oppervlakkig gehou, want wat help dit hy wys sy volle arsenaal met die eerste skote? Hy’t begin met ’n trefsekere verwysing na een van die internet se grotes. Jeff Bezos beskryf die konflik tussen privaatheid en sekuriteit as een van die groot konflikte van die moderne tyd.

    Die vyf mans voor hom is nie juis die geeks wat jy sou verwag agter ’n projek soos die een wat hulle in gedagte het nie. Hulle besit ’n maatskappy wat in tegnologie wil begin belê, verduidelik die een met die goue das, die onrustige hande en die skaars waarneembare brei.

    Die brein is ’n deeltydse hoogleraar (buitengewone professor) in ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch en verbonde aan die Lab, ’n kwasi-navorsingsmaatskappy wat hom toelê op datagedrewe tegnologie en dinge soos kunsmatige intelligensie, satelliete en biotegnologie – ’n veld dus so wyd soos die Heer se genade.

    Ian: Ons weet immers wat wag, menere: Data is die nuwe olie. Die datatycoons is die nuwe mynbase. Dit lees ons orals. En wanneer data, kunsmatige intelligensie en biotegnologie ’n trits vorm, dan het die nuwe nóú gearriveer.

    Met die nóú kap hy met sy wysvinger op die tafelblad.

    Die buitengewone professor het aan Chinese universiteite klas gegee tydens sy sabbatsverlof en kontak gemaak met ’n klomp geeks in Pudong, Shanghai, wat sagteware ontwikkel wat jou uit die water sal blaas (Goue Das).

    Een van China se miljoene startups.

    Ian het sy huiswerk oor die Lab in Stellenbosch gedoen. Saadkapitaal, glo, van die mitiese Stellenbosse mafia – maar dis gerugte. Duidelik, egter, toe Ian nou pas fooie met hulle bespreek het, dat hulle min of meer gemaklik is met die bedrae wat hy uitgooi.

    Tussen die reëls: daar is boonop saadkapitaal uit China. Kontakte.

    Verstaan ons mekaar. Verstaan ons mekaar. Dis die lang, maer man wat aandagtig soos ’n priester lyk. Hy praat oor die internet in spirituele terme, wieg sy skouers saam met sy sinne. Geneig om frases te herhaal. Domeine van dophou. Domeine van dophou.

    Hy’s die dromer, dink Ian. Kennelik ’n introvert, en hy kom die naaste aan die tipiese geek-prentjie. Hier aangekom sonder ’n slimfoon in sig, ’n sak of skootrekenaar.

    Sê min. Sukkel met oogkontak.

    Kug gereeld. Bewapen net met ’n droom.

    Die Goue Das, Grotius de Grootte, verduidelik. Hy gee die swaai aan dinge: Hulle wil belê in gesigsherkenningstelsels (vir ’n oomblik verloor hy sy draad toe ’n teelepel teen glas klink en sy oë soontoe blits). Waar was ek nou … weer … o, ja, ons wil belê in stelsels wat … wat … vir … housing estates … jy weet, soos Kleine Zalze buite Stellenbosch … Hy soek na die woord. Sekuriteitslandgoedere … Hy klap sy vingers. A, dís die woord. Sekuriteitslandgoedere. Lifestyle estates. Die moderne ekwivalent van die ossewalaer. Hy kyk oor sy skouer asof iets agter hom roer. Gaan dan voort. Wat aanvanklik in sulke estates geïnstalleer kan word en as daar geen protes daarteen kom of wetgewing nie dan later vir enige privaatwoning se eienaar en dalk klein besighede – vir buurte … later groot kettingwinkels en inkopiesentrums. Hy kyk buitentoe. Dalk hele stede.

    Die hele fokken lánd, brom een van sy kollegas binnensmonds. Die donnerse kriminele …

    Grotius kreun, buk af en haal iets uit sy tas. Dis ’n sakdoek. "Maar ons kan nie met massavervaardiging begin voordat daar ten minste redelike regsekerheid is nie.

    Anders as in China is hierdie ding by ons dalk iets wat deur menseregteaktiviste gestop kan word.

    Ian leun dadelik vorentoe. Deur sy gedagtes flits die waarskuwing: Hou dit algemeen. Moenie verklap dat jy net één aktivis in Suid-Afrika nodig het soos die VSA se Brian Hofer nie, dan is hierdie menere se projek in sy maai. Hier kom ’n lekker rekening. Hou dit vaag. Jy’t reg. Die hoop gaan dalk inderdaad beskaam. Daar mag net hier te lande te veel mense wees wat meen dat jy ’n outomatiese reg het op privaatheid – die reg om nie gefotografeer en opgeneem en geïdentifiseer te word nie. Hy stoot die skinkbord met koffie na hulle aan. Soos dit maar met die internet en nuwe tegnologieë gaan, is skerp idees en tegnologiese ontwikkeling die reg ver vooruit. Ek praat nou teen my eie belange in, maar ons regsgeleerdes kom gewoonlik moeg agterna om vure dood te slaan, landmyne uit te wys en roetes te probeer kaart.

    Hy snuif. Maar dalk belangriker vir ons is menseregte-waghonde. Al slaan die reg ’n rigting in, is dit nie te sê dat drukgroepe uit daardie sektor dit sal aanvaar nie.

    Ek hou van jou benadering, sê die kwasiprofessor. Beter om prakties te wees.

    Eerstens dus, gaan Ian voort: "Hoe moet die reg reageer op massiewe stelsels soos dié wat China reeds geïmplementeer het om sy een komma vier miljard burgers dop te hou?

    "Belangriker nog, voordat julle groot geld aan diepleer of Chinees ontwikkelde sagteware uitgee: Hoe gáán die Suid-Afrikaanse reg reageer? Die Wet op Persoonlike Inligting lê byvoorbeeld nog en wag op Nommer Een se handtekening. Hoe lank al! Hoekom teken hy nie? You ask me!

    "En: Weet die een hand wat die ander doen? Dit word beweer dat terwyl Jeff Bezos ’n heads-up gee oor die konflik tussen privaatheid en sekuriteit, sy eie Amazon nie skroom om gesigsherkenningstegnologie aan owerhede en selfs private besighede verkoop nie.

    Daar’s ’n groot debat rondom Amazon se Projek Rekognition, wat mense in real time kan herken.

    En net om te wys hy’t sy huiswerk oor China gedoen: "Hyper-surveillance – hiper-bewakingstoesig is my woord daarvoor – is klaar stewig in China gevestig. Byvoorbeeld: kameras dek honderd persent van Beijing se oppervlakte, en die res van ons weet gesigsherkenning is die voorland van slimstede oral ter wêreld. Geweldige implikasies vir privaatheid, nie waar nie?

    "Ek bedoel, wie van ons is ooit aflyn? Ons slimfone is prosteses van ons lywe. Lê nooit verder as ’n meter van ons harte af nie.

    "En selfoonmaatskappye is promisku met die deel van inligting oor ons presiese geografiese ligging, enige tyd van die dag of nag, ek verseker julle. Hulle verskoning is dat hulle moet weet waar jy is om die oproepkwaliteit hoog te hou. In die VSA kom ’n rede by: sou jy 911 bel, kan hulle blitsig vasstel waar jy is.

    "Ek twyfel of dit als ooit gestuit sal kan word. Daar is eenvoudig net te veel startups wat ’n vinniger, veiliger en gesonder lewe met hierdie tegnologie beloof.

    "En hulle beloof dit aan die gretige Chinese owerheid, wat reeds 170 miljoen CCTV-kameras werksaam het en binne die volgende drie jaar nog 400 miljoen kameras gaan installeer.

    Gaan lees maar wat Shoshana Zuboff sê oor die aard van die transaksie wat surveillance capital onderlê.

    Hy rep niks daarvan dat Brian Hofer se aktivisme reeds in 2014 in Oakland, VSA, die owerheid in die bek begin ruk het nie.

    Koffie stoom uit die glasbeker en ’n Boeing kom stadig, byna gevaarlik stadig en lewensgroot digby die Glaspaleis verby soos hy insak na Kaapstad Internasionaal. Die Goue Das volg die gang van die swaar voël. Kyk oor sy skouer. Terug tafel toe. Buite, die meeu. Vang ook sy oog.

    "Gesigsherkenning gaan ’n vinniger en makliker omgewing skep, want jy kan byvoorbeeld nou al by ’n Chinese lughawe aanteken deur net jou gesig te wys. Niks toustanery meer nie. Groot planne. Op treinstasies sal jy nie, as jy opbetaal is, ’n kaartjie hoef te koop of selfs op die trein jou kaartjie aan ’n kondukteur te wys nie. Jou gesig sal jou kaartjie wees. Of jou handpalm. Jy veeg hom net oor ’n palmleser en daar gaan jy! Huawei belê groot hierin. Dink aan die implikasies: in Beijing ry meer as tien miljoen mense daagliks trein.

    "Die Chinese wil sigbewakingstelsels oor die hele land instel, op gesigsherkenning gebaseer. Hulle troos die bevolking dat dit ’n veiliger omgewing belowe.

    "Van groter belang, egter, is dat hierdie biometriese tegnologie ook emosies op gesigte en van lyftaal kan aflees – nou al.

    "Wat mense sal laat regop sit, is dat die Chinese reeds die tegnologie gebruik om te noem en te verdoem vir klein munisipale oortredinkies. Byvoorbeeld, wanneer jy teen ’n rooi lig oor die straat loop, sien jy môre jou gesig tussen dié van ander teen die videomuur in die duikweg by die stasie.

    Byvoorbeeld, herhaal Ian. "Ek laat my gedagtes gaan. En dis hoekom ek sê hierdie opdrag is nie sommer vir hier en daar iets gaan uitklap nie. Mens sal the lay of the land moet vasstel. Byvoorbeeld. Julle sal nou dink ek gaan haal dit te ver. Hoe lyk die bedrywighede van die Amerikaanse Burgerregte-unie rondom gesigsherkenning? Ek vra, want: Het hulle enige Suid-Afrikaanse kontakte? Weet julle van iemand wat iewers hier te lande begin mor het omdat sy privaatheid deur die een of ander algoritme bedreig gaan word?

    "Iemand wat dalk vra: Wat is die doel van jul herkenningstegnologie? Sekuriteit? Ja, maar hoe gaan jy keer dat dit vir ánder doeleindes gebruik word? Dit blyk uit my vinnige en voorlopige verkenning daar’s in die EU ’n hele gesprek oor wat die Engelse noem purpose.

    Riaan Cruywagen sprak na my wete geen sprook dat my bure … – en hy beduie na die Media24-gebou ’n ent weg – … sy bakkies vir ’n gesigsverouderingsapp gevoer het nie?

    Die Boeing is verby en Bloubergstrand se geboueprofiel vibreer in sy hittestroom.

    Miskien, dink Ian terwyl hy kyk hoe Grotius sy (te lang; Trump-styl) goue das oor sy boep platstryk, gooi ek ’n Huffington Post-bydrae uit, oor hoe ons regsgeleerdes sukkel om in die verblindende lig te sién.

    Later sou hy terugdink: dit was die eerste fout.

    #

    Dis twee weke ná die besoek van die beleggers in Ian Brand se kantoor en vele maande voor Thuli Khumalo se vertrek na China. Als lê nog voor. Ian kom in Adderleystraat afgery, rigting hawe. Wat hy twee weke gelede op hierdie selfde roete gesien het, spook nou by hom. Die groot vensters van die Goue Akker aan regterkant is al weer herstel, maar die glassplinters saai oor sy gemoed uit.

    Soos ’n videogreep sit die toneel wat hy gesien het – nee, belééf het – in die hardeskyf van sy brein. Dit speel oor en oor: die oomblik voor, tydens en ná die pyl deur Maxwell Tshabalala en die Wimpy-venster getrek het.

    Die blinknuwe Alfa Romeo SUV swaai vanuit Adderley by Strandstraat in. Ian is op pad na Hoofweg, Observatory, en diep ingedagte. Op die oog af het hy niks om oor te kla nie. Hy is aantreklik, in sy veertigs. Fikse veertigs, sou hy graag haastig byvoeg. ’n Skerp regsgeleerde aan die snypunt van regskwessies rondom kunsmatige intelligensie, masjiengeleerdheid, privaatheid, kubersekuriteit en biotegnologie (die nuwe voorpos, vertel hy graag).

    In die Kaapse regsomgewing is hy eintlik nog ’n youngblood, Mandela-Rhodes-beurshouer, met ’n LLM van Oxford én een van Cambridge, waar hy in die nat en koue sy spore verdien het.

    Niks om te kla nie, behalwe die gevoel dat die helikopter oor die landskap kantel, ’n groot draai rakelings oor donkergroen boomtoppe gooi en jy afhel en onder die oop deur hier langs jou skiet die vlekke van groen en bruin verby en jy voel duiselig en op die punt om te spring. Niks om te kla nie, behalwe hierdie seisoen in Suid-Afrika, wat almal wat hier woon se gemoedere omroer. Die land ruik soos batterysuur kort ná ’n motorongeluk en dis die geur wat nou in hom opkom, diep uit sy binnemaag, wanneer hy vanuit Strandstraat verras na die Kasteel op regterhand kyk.

    Normaalweg smelt die grys klip van die Kasteel in die stadsprofiel weg. Maar vandag! Die klipmure bied die perfekte pawiljoen vir studenteaktiviste wat uitgestal sit met hul rooi bandanas en Castle Must Fall-baniere. Die skuins oggendson doen sy deel en verrys glorieryk van agter die Hottentots-Hollandberge na die oostekant.

    Oornag is die Kasteel die Goeie Hoop, in die sewentiende eeu in Kaapstad gebou toe die Hollanders hul voet op die gesig van Afrika kom neersit het, omskep in ’n oorlogsfregat.

    Só – nes ’n skip – lyk die Hollandse koopmanne se klipfort vir hom. Ian sit in sy Alfa en staar. Die verkeer het tot stilstand gekom en motoriste vergaap hulle aan die toneel. Ian is op sy hoede; die helikopterhoede kom oor hom. Hoe dun is die blink membraan van die motorruit tussen my en daardie woede! dink hy. Tussen my motor se rooi blikvel en daardie studente is daar niks!

    Ek is ’n sitting duck. ’n Motor op elke buffer, voor én agter.

    Helikopterwaaksaamheid skerp sy sintuie op. Om hom adem die stad die geur van laaggety, ongeduldige verkeer, traangas en duur parfuum. En die kamerade haal soos een mens asem. In die vroegmôreson glim hul velle met die sjarme van hul tye. Hulle is uitgesprei op die mure, elke enkeling of groepie dankbaar vir die ewe dankbare kameras. Die politiek van skouspel.

    Bykans elke student staar by ’n selfoon in. Dis die seisoen, dink Ian, van twiets wat deur die kuberruim skeur soos ’n sardienskool deur die dieptes van die oseaan. Dan en wan skiet ’n haai deur die donker proteïenwolk en verstrooi die swetterjoel.

    Dis asof die land vergly, dink Ian, na ’n era waar niks meer gaan verras nie. Onlangs, oral in die stad, het hangende hane verskyn. Soggens, onverwags in die Heerengracht, terwyl hy op pad is Glaspaleis toe, aan ’n lamppaal: ’n haan wat aan sy nek opgehang is, die kam wat bleek lel oor die snawel. Voor ’n boetiek in Groenpunt se galerybuurt, opeens: ’n hangende haan, tereggestel, sy pote met draad vasgewoel, sy vlerke nog

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1