Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Skepsel
Skepsel
Skepsel
Ebook356 pages9 hours

Skepsel

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Aan die Kaapse Weskus versorg Rebecca Maas haar sterwende pa in ’n tegnologies gevorderde slimhuis, ’n huis wat praat in ’n halfbekende stem. Op die horison, ’n olietenkskip.
’n Posthuman biohacker trou met die enorme skip, en maak kuns oor die wittebroodsreis. 
En in die yswildernis van Svalbard verdwyn ’n navorser se minnaar spoorloos. Hulle is daar om geheimsinnige spierwit items te ondersoek – dalk beendere, maar dan beendere wat vertak en ineensmelt soos geen bekende skepsel s’n nie.
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateSep 26, 2020
ISBN9780795802188
Skepsel
Author

Willem Anker

Willem Anker (1979) se eerste roman, Siegfried (Kwela, 2007), is met die UJ-debuutprys en die Jan Rabie/Rapport-prys bekroon. Hy doseer skeppende skryfkunde en Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch en is ook die skrywer van teatertekste soos Slaghuis, Skrapnel en Samsa-masjien.

Read more from Willem Anker

Related to Skepsel

Related ebooks

Related articles

Reviews for Skepsel

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Skepsel - Willem Anker

    9780795802188_FC

    Willem Anker

    Skepsel

    Queillerie

    Vir my ma en vir my pa

    Great holes secretly are digged where earth’s pores ought to suffice, and things have learned to walk that ought to crawl.

    – HP Lovecraft, The Festival (1925)

    Sirius is eight-point-six light years away

    Arcturus is thirty-seven

    The past is the past

    and it’s here to stay

    Wikipedia is heaven

    – Nick Cave and the Bad Seeds, We Real Cool, Push the Sky Away (2013)

    KRAKEN 1

    Daar is ’n video op die internet van ’n cyborg wat met ’n olietenker trou.

    Jou nuutste film se voorprent ontsteek in die kuberruim. Die virale twee minute word binne die eerste 24 uur 1.3 miljoen keer gekyk.

    In die eerste skoot vlieg die drone laag oor helder water teen 160 km/h. Aanvanklik is daar geen klank nie, maar ná vyf sekondes begin die meedoënlose slae van die komponis L∞p se musiek.

    Wanneer die land naderkom, styg die tuig hoër en wys ’n reusehawestad. Agter die stad die duine, die olievelde met hul vuurtonge en die knikkende oliebore; ’n dynserigheid waar die horison moes wees, die son wat wegsink in ’n massiewe mirage.

    Die kamera pyl af op ’n olietenker wat buite die hawe lê. Die naam van die tenkskip, Kraken, is ’n oomblik teen die bakboord sigbaar voordat die kamera skiet oor die tenker se roesbruin dek, oor die kilometers vervlegte pypwerk, die hyskrane, radio- en radarmaste, lere en loopweë, tot by die wit mure van die brug.

    Jy sien jouself staan op die dak van die brug, rug na die kamera in ’n moulose wit PVC-uitrusting en blou veertien-vetergat Dr. Martens. Jou wit-en-chroom mioëlektriese linkerarm weerkaats die laaste sonstrale in die lens. Die kamera draai om jou en die twee mans by jou. Dit neem jou altyd ’n oomblik om jouself te herken: die benerige lyf, die bioniese arm. Die sykante van die kop gladgeskeer, die wit hare styf na agter, die bakore albei vol metaalornamente. In jou regteroog die neonblou kontaklens, in die linkeroogkas die blou LED langs die ingeboude kameralens.

    Jy staan by Darren Abbott – hoofpriester van die Kerk van Kunsmatige Intelligensie, in ’n rooi tuxedo – wat jou in die eg verbind. Langs jou staan Doktor Sleepless, jou strooijonker en persoonlike snydokter/mechanic, soos altyd vermom in sy wit doktersjas, pruik, sweisbril en chirurgiese masker: vir hierdie geleentheid ’n gele met ’n swart Smiley-glimlag.

    Op maat van die musiek volg vinnige skote deur die drone-kamera, deur Gunnar se skouerkamera en deur jou oogkamera. Die voorlees van die formulier; jy, besig met jou troubeloftes; die enjinkamer vanwaar Kraken dreunend antwoord; flitse van Sleepless wat die goue ring aan jou metaalvinger soldeer; die matroos wat laat sak word en die groter ring teen die boeg sweis.

    Die kamera trek terug en swaai oor die dek. Die son is onder; in die bewegende spreiligte lyk die pype en hyskrane lewend. Op die agtergrond brand die haweligte en daaragter die olievure. Die laaste skoot deur jou oogkamera fokus op die enjin. Jy hoor jou stem in ’n maalkolk wat vinniger draai soos die musiek die woorde sluk: To plug me into you, in jou harde aksent. Jy hoor jou stem saam met die tromslae – your Mitsubishi-UE 7UEC85LSII engine – tot dit net nog ’n instrument word. Die beeld doof uit terwyl jou ooglid in vertraagde aksie oor die kamera knip, oopgaan, en dan weer sluit, die vel wat styf oor die lens span. Wanneer die skerm swart word, die titel: UNTIL RUST US DO SCRAP.

    Die titelteks verdwyn, dan:

    Starring SULLA ČAPEK & VLCC KRAKEN

    Swart.

    A Film by GUNNAR ARNARSON

    Swart.

    Music by L∞P

    COMING SOON

    SLIMHUIS 1

    Laatmiddag neem Rebecca Maas die verkyker, koplamp en pepersproei wat bo-op die rak met die veertien regterkunsbene lê en stap in die rigting van haar pa se huis.

    Sy lê op die duin en loer deur die verkyker, maak seker sy gewaar niemand nie. Sy jaag die Jack Russell terug huis toe. Dit is nog nie skemer nie, maar sy is versigtig. Die afgelope week is daar nuwe mense in die rondte. Sy kom maak elke tweede of derde dag ’n draai: Die proses gaan vinniger as wat haar pa gesê het. Oor ’n maand of wat sal alles verby wees. Toe sy oom Petrus ’n week gelede vertel het dat sy mense by die huis sien rondsnuffel, het hy aangedring om saam te kom, maar sy het geweier. Ek moet alleen gaan, het sy gesê. Al weet hy nie wat sy daar doen nie, het dit gelyk of hy verstaan.

    Sy hou tussen die lae bosse wat ’n bietjie beskutting bied en stap al hoe stadiger hoe nader sy kom, bang dat sy iets of iemand gemis het. Toe sy by die huis kom, loop sy met harde treë om haarself aan te kondig; sy wil niemand laat skrik nie. ’n Vaalmuishond hardloop verby haar by die deurlose ingang uit. Sy klim stadig by ’n groot stukkende ruit in om nie die huis wakker te maak nie. Vanmiddag is sy nie versigtig genoeg nie.

    Goeiemiddag, sê die huis oorverdowend. Is dit jy, Rebecca?

    Pris! Sjt, jy raas.

    Jammer, Rebecca, ek het nie meer beheer oor my volume nie. Sal ek die koffiemasjien aktiveer?

    Pris, nee. Bly net stil.

    Ek maak so, Rebecca.

    Sy stap vinnig met die gang af. Enigiemand in die rondte sou nou hoor hier is iemand in die huis. Sy gaan nie lank welkom wees nie. Sy maak die deur oop, sit die koplamp aan, en stap met die trap af. By die deur aan die onderkant van die steil trap gaan staan sy om die sleutel te soek. Dit verbaas haar elke keer dat die deur nog nie afgebreek is nie. Miskien is dit die ryp reuk, reeds sterk aan hierdie kant van die deur, wat hulle weghou.

    Terug by oom Petrus, gaan sit sy op haar matras onder die rak met die vier-en-vyftig snow globes. Wanneer sy weer haarself is, maak hulle saam kos. Haar pa is byna drie weke dood en sy bly al twee weke by oom Petrus in sy wrakmuseum.

    Sy prop haar foon by die charger uit. In China is 1 500 mense al dood aan die virus, 66 500 geïnfekteer.

    Oom Petrus skraap die rooiboontjies uit die pan. Sy skep die rys op terwyl sy hom vertel van die duikers langs die lagoon. Hy vra nooit uit oor haar besoeke aan die huis nie.

    * * *

    Haar pa sou vir Rebecca Maas vertel dat sy twee maande voor die lansering van Voyager 2 gebore is. Later sou die ensiklopedie en die internet haar vertel dat die Pioneer 10 en 11, die Voyager 1 en 2 en die New Horizons klein onbemande ruimtetuie is wat Homo sapiens uitgestuur het om hul sonnestelsel te verken. Hulle sal ligjare ver van die son reis, elkeen op ’n verskillende ontsnappingsbaan. Indien hulle in niks vasvlieg nie, sal hulle deur kosmiese bestraling en botsings met reuse- molekulêre wolke op atomiese vlak verswak word tot hulle oor vyfmiljard jaar, meer as ’n miljard jaar ná die son uitgebrand het, volkome sal disintegreer. Die laaste oorblywende artefakte van die menslike spesie sal vyf dooie robotte wees wat deur die interstellêre ruimte dryf.

    Op Vrydag 29 November 2019 eet Rebecca haar middagete van gevulde pannekoek, heritage tamaties en broccolini in die kafeteria van die NCA, die Nederlandse Comitee voor Armoedebestrijding, se hoofkantoor in Den Haag.

    Sy is pas klaar met ’n multimedia-aanbieding oor hoe Eerstewêreldse kapitaal inwoners van Suid-Afrikaanse informele nedersettings kan help om van hulle ekskresie ontslae te raak. Die gehoor is beeldmateriaal gewys van ’n vrou in ’n plakkerskamp se besoek aan ’n puttoilet, meer as tweehonderd meter van haar eenvertrek-sinkplaathuis. ’n Belegger in die tweede ry het opgespring en na die naaste hipermoderne spoeltoilet gehardloop.

    Soos al die ander alleeneters in die kafeteria, fokus sy op haar foonskerm om enige oogkontak met mense by ander tafels te vermy. Sy sien sy het vier oproepe van ’n Suid-Afrikaanse nommer gemis. Ná ’n paar minute op die internet bel sy terug. ’n Vrou met ’n Shona-aksent, gekrui met Kardashian-infleksies, antwoord. Sy sê haar naam is Ariel.

    "Like in The Little Mermaid?"

    Like in the Ariel School in Zim where the aliens landed in ninety-four.

    Die TV gemonteer in die verste hoek wys ’n helikopterskoot van ’n gestrande olietenker waarvan die vrag op ’n strand uitspoel. Die plastiekvurk breek af in een van die drie broccolini-stamme. Rebecca besef nie sy het hardop gevloek nie, maar die alien meermin is skielik angstig.

    Please, don’t hang up.

    It’s not you, it’s my fork. Oh, ja, I remember. The children saw the little aliens at breaktime? Who are you?

    Terwyl sy met een hand die plastiekvurktande probeer trek uit die organies gekweekte langsteelhibried van broccoli en Chinese kale wat, volgens haar Wikipedia-soektog minute vantevore, in die 1990’s deur die Japannese Sakata-saadmaatskappy in Salinas, Kalifornië, ontwikkel is, sê Ariel: Please. Never mind the aliens. Sy bel oor Henk Maas. Sy het Rebecca se nommer op meneer Maas se foon gekry en sy het aangeneem die familie moes weet dat hy in die hospitaal opgeneem is. Net vir observasie. Net vir die nag.

    You know, just FYI, with the cancer and all …

    Ariel. What cancer and all?

    Oh, my god. Sorry. I didn’t mean to interfere.

    No, please, sê sy vir die vrou wat vernoem is na ’n UFO sighting. By all means.

    Toe sy vyftien was, het Rebecca gelees dat, van die verkenningstuie wat die interstellêre ruimte sou bereik, die twee Voyager-tuie die bekendste was. Hulle het die mense se verbeelding aangegryp met die manier waarop die tuie uitgereik het na lewe op ander planete. Op albei Voyagers is ’n sogenaamde Goue Plaat gemonteer: ’n metaallangspeelplaat in ’n goudkleurige aluminiumhouer. Die houers is gegraveer met grafika wat wys hoe om ’n LP uit die 1970’s te speel, asook aanwysings na Homo sapiens se sonnestelsel vanuit die posisies van verskeie pulsars. Op die plaat is 27 musiekstukke, 55 menslike boodskappe, 21 opnames van niemenslike klanke, en 115 foto’s en sketse van lewe op aarde.

    Toe sy dronkverdrietig by die huis kom ná haar twee-en-dertigste verjaardagpartytjie, het sy die plaat van ’n torrent site afgelaai. Haar gunstelinge is die opnames van Bach, Blind Willie Johnson se Dark was the Night, die inisiasielied van die Kongolese pigmeemeisies en die boggelrugwalvisse se paringslied.

    Op die vroeëre Pioneer-tuie, gelanseer in 1972 en 1973, is 152 x 229 mm goud-geanodiseerde aluminiumplate aangebring met buitelynillustrasies van ’n man en ’n vrou, tesame met verskeie grafiese uitbeeldings wat die oorsprong van die tuig aan geïnteresseerde ruimtewesens verduidelik.

    New Horizons, wat in 2006 gelanseer is, sou sy later met ’n glimlag uitvind, dra geen boodskappe aan ander wêrelde nie.

    Rebecca tref reëlings by die werk, fiets huis toe, pak ’n naweektas, gaan haal vir Mandla by die crèche, pak weer uit en pak ’n tas vir twee weke. Terwyl sy wag dat Lindiwe van die kantoor af kom, lees sy op haar newsfeed dat Walmart al ’n hele paar jaar gelede outonome robotbye gepatenteer het.

    Sy praat met Lindi, bespreek ’n vliegkaartjie, speel Lego met Mandla en verduidelik aan hom dat sy oupa siek is. Sy probeer huil. Op die agtergrond wys die smart TV stom beelde van mense wat olie op ’n strand opruim. Elke nou en dan kyk sy op haar bespreking of sy die tyd reg het, of die bestemming steeds Kaapstad is. Sy maak haar tas oop en pak alles uit om seker te maak sy het niks vergeet nie.

    Ariel Mutsvairo, actually into interiors, and, like, not a caregiver at all, bel terug ná Rebecca twaalf keer geweier het om ná die biep boodskappe op Ariel en Henk se selfone te los. Rebecca verneem dat haar pa al ses maande maagkanker het. Ariel sê sy het nie opgesign hiervoor nie. Rebecca sê sy ook nie.

    Haar vingers en voete voel dood, soos altyd net voor die paniekaanvalle. Sy drink die pille wat moet help, doen die voorgeskrewe asemhalingsoefeninge. Sy sê vir Mandla sy kan nie nou speel nie. Sy weet sy moet huil. Lindi kom by die woonstel aan en druk haar vas. Sy probeer weer huil.

    Op die televisie is die olieramp nou vervang met ’n orkaan wat op pad is na Florida. Iets oor metaangas wat uit die smeltende ysgrond ontsnap. Lindi sit die TV af en gryp haar foon by haar.

    Niks meer nuus vir jou nie, Madam.

    Rebecca borsel haar tande, neem haar medikasie en klim kwart voor twaalf in die bed. Sy wil seks hê voor sy weggaan. Al doen sy en Lindiwe Mkhize wát aan mekaar, is haar kop by kanker en die visse op Facebook met stukke plastiek in hulle pense. Hulle gee op en Lindi hou haar vas. Toe sy die sagte gesnork in haar nek hoor, skuif sy Lindi se kop versigtig van haar bors af en staan op.

    Woman’s Tongue Gets Inseminated By Squid After Eating Undercooked Seafood lees sy om halfdrie op iflscience.com. Sy vergeet dat sy nie haar hande kan voel nie. Sy laat val die koppie waarin sy wou tee maak. Uit die kamer vra Lindi of sy okay is. Mandla sal deur ’n kernoorlog slaap. Dit is koud op die balkon. Sy gaan sit op een van die grys aluminiumstoele van IKEA se Tunholmen-patiostel. Die mis laat die straathoeke hul buitelyne verloor.

    Die volgende oggend drink sy ’n dubbel espresso, rook twee Marlboro Reds, groet haar mense, ry nege-en-dertig minute met die trein na Schiphol en om vyf oor tien styg sy op in ’n Boeing 787-9.

    Miskien was dit die gerugte oor die Goue Plaat wat die wêreldwye belangstelling in die Voyager-lansering veroorsaak het. Die wetenskaplikes moes glo die dag van die lansering inderhaas ’n perskonferensie reël. Die konferensie het om tweeuur in die saal van Frank Wolfe’s Beachside Motel plaasgevind. Die wetenskaplikes was verbaas toe hulle met hul aankoms besef dat hulle die saal sou deel met ’n Poolse huweliksonthaal. In opnames van die onderhoud met Carl Sagan kon Rebecca die klanke van die koza, trekklavier en gaste duidelik hoor.

    Die Voyager 2 is later daardie dag, Saterdag 20 Augustus 1977 – presies twee maande ná Rebecca se geboorte – met buitediensgestelde interkontinentale missiele gelanseer, en die Voyager 1 op 5 September, maar op ’n vinniger trajek, sodat hy spoedig by die Voyager 2 verbygeskiet het.

    Wanneer sy haar voorkop styf teen die klein kajuitvenstertjie druk, kan sy een of ander oneindige woestyn sien. Sy is nie lus vir enigiets wat die klein touch screen aanbied nie. Sy is nie lus om met die jong Kanadees met die gevlegte hennep-sandale langs haar te praat nie. Sy wil net haar kop teen die koelte van die plastiekruit druk.

    Die Kanadees blaai deur die rederytydskrif en probeer met haar praat oor hoe die advertensies vir luukse jagplase en reservate die natuur eksotiseer. Sy weet nie of sy genoegsaam knik nie. Toe sy vegetariese maaltyd voor die vleisgeregte voorgesit word, besef sy dat sy nog niks geëet het sedert die pannekoek en gemuteerde broccoli vol plastiekskerwe nie.

    Ariel het gesê sy doen die PR vir ’n nuwe ontwikkeling. Haar pa was baie geheimsinnig oor sy projek toe hy laas kom kuier het – ’n stopover van drie dae tussen Kaapstad en Oslo, byna twee jaar gelede. Sedertdien is dit geselsies maak op video. Wanneer sy uitgevra het oor werk, was hy ontwykend, en het sy nie genoeg belanggestel om hom te pols nie. As jy een gated community gesien het, het jy almal gesien. Sy lees die jaar oue artikel waarop sy afgekom het toe sy Henk Maas op die lughawe gegoogle het.

    Hulle noem hom The Lord of the Fences. Hulle sê hy is seker die grootste eiendomsontwikkelaar in die land, een van die bekendste Suid-Afrikaners waarvan jy nog nooit gehoor het nie. Hy sê hy voel nie sewentig nie. Hulle sê hy praat sag, maar duidelik. Hy sê argitektuur is sielkunde as ruimte. Hy sê, om eerlik te wees het iemand anders dit gesê. Hulle vra hoeveel ontwikkelings sy firmas al gedoen het. Hy sê hy weet nie, maar hy is baie ryk. Hulle dink hy het ’n sin vir humor. Hulle vra waaraan hy tans werk. Hy sê dit is iets wat niemand al ooit tevore gesien het nie.

    Selfs met haar oorfone op – Nick Cave, die song Push the Sky Away op repeat – hou die man aan babbel oor renosterhorings, bygelowige, impotente Japannese miljoenêrs en die koolstofvoetspoor wat hierdie vlug in die blou hemel agterlaat. The world is ending all over the place.

    Kry mens iets soos premature rou?

    Sy drink twee kalmeerpille en drie van die klein botteltjies whisky. Sy voel haar ledemate verdoof, haar vel vol fyn, genietlike prikkelings voor dit stelselmatig afskakel. Die sitplek met die ag sentimeter ekstra beenspasie, waarvoor sy die prys van ’n goeie gram suiwer, uncut horing betaal het, begin vir haar soos ’n dubbelbed voel.

    Haar ma het begin spook lank voor sy dood is.

    Die skuimplastiekbekertjie met die Delftse blou KLM-windmeulens op die afslaanskinkbord word ’n Vermeer-stillewe. ’n Mens kan net sien dat die vliegtuigie op die skerm enigsins beweeg as jy ’n tyd lank nie daarna kyk nie.

    Haar pa is lankal begrawe maar begin nou eers doodgaan.

    Sy moes al lankal oor hulle albei gerou het.

    Terwyl sy kyk, staan die vliegtuigie stil.

    Die Kanadees vertel iets van ’n maand lange Reiki en energy healing mindfulness retreat in Houtbaai. Sy is hoog soos ’n vlieër, te veel benzo’s en te min suurstof – KLM-enlightenment – en hy kan nie sy bek hou oor alles wat woke is, of nie is nie. #Verstik-aan-jou-lentils.

    Toe hy opstaan om badkamer toe te gaan, roer sy oorgenoeg Xanax’e in sy koffie en toe sy oë begin toeval, fluister sy in sy oor: My dad has stomach cancer and we’re all going to choke on plastic forks.

    Hy lig sy kop in haar rigting, kyk verward rond. You know, the thing about the oil industry is … Hy maak nie die sin klaar nie.

    Ekonomiese klas het haar nog altyd te kloustrofobies laat voel om werklik haar bewussyn te verloor. Maar wanneer sy seker is haar buurman slaap en sy die komplimentêre slaapmasker en oorfone opsit, kan sy darem ’n bietjie huil.

    Half aan die slaap en oorgemedikeer wonder sy hoe dit voel om ’n vlieënier te wees, hoe dit voel om ’n Boeing te wees.

    Die vliegtuig lyk nog nuut. Sy verbeel haar dit is die Boeing 787-9 se eerste vlug. Die vlieënier en die jong vliegtuig sukkel albei om hulself in toom te hou. Met die opstyg en die landing verlustig hulle hulle in die troppe perdekrag, deel hulle die uitbundige energie, albei hiperbewus van elke prik in die meganiese senuwees. Indien sy lang loopbaan in kilometers gemeet word, dink Rebecca, het haar vlieënier reeds byna halfpad son toe gevlieg. Die vlieënier sal ook vir ’n oomblik wens hy kan voel wat ’n splinternuwe GEnx-enjin voel wanneer dit ontbrand. Wanneer die vliegtuig met sy sestigmetervlerkspan en drie-en-sestigmeterlyf op die Kaapstadse aanloopbaan tot stilstand kom, is Rebecca seker dat iets in hulle albei bewe. Dat hulle onmiddellik weer wil lostrek.

    Die bagasieband hipnotiseer haar, dieselfde tasse wat weer en weer verskyn. Sy sweet in die lugverkoelde saal. Haar bors trek toe, asof haar lyf die gesirkuleerde lug weier. Haar swewende angs gryp na haar oksels vir vashouplek en die outomatiese fiksasie laat haar nog meer sweet. ’n Hond kom snuif aan haar. Sy vou haar arms om die donker kolle op haar swart T-hemp weg te steek. Die sekuriteitswag bly staan langs haar tot haar tas op die band verskyn. Sy moet dit oopmaak vir die hond.

    Daar is die anonieme gedruis van die mense om haar en dan word sy bewus van ’n tweede, verder dreuning uit die dak, wat musiek moet wees. Dit voel of die gedreun met elke polsing harder word; sy voel ingeprop by die bedrading van die lughawe.

    Die lughawe is oorgebou sedert sy laas hier was. Dit lyk nou meer soos alle ander lughawens. Golwende dakke op verskillende vlakke, sonder plafonne. Staal, glas en spieëls. Alles deurskynend, maar nêrens ’n venster nie. Deconstructivist as fuck. Die winkels dieselfde klone as in elke ander stad. Sy stoot die bagasietrollie tot op die roltrap na die boonste verdieping, besef dan eers die uitgang is wel onder. Toe die roltrap haar herinner dat sy haar trollie moet lig wanneer sy afklim, bedank sy die stem hardop.

    Die sintetiese dennegeur in die Toyota Etios se kajuit herinner haar aan werksreise in onpersoonlike voertuie: uitruilbare masjiene met minuskule uniekhede in hul hantering en gevoel, alles van die koppelaar en wielsporing tot by die spesifieke sitplekmateriaal wat kilometers ver teen haar boude sal skuur – toestelle en oppervlakke waaraan haar lyf nooit tyd kry om gewoond te raak voor dit vervang word met dié in ’n ander motor nie.

    Op die GPS-skerm lê die omgekeerde rooi druppel van haar bestemming op ’n stuk leë kaart langs die Weskus. Sy moet ver uitzoem om enige herkenbare bakens te sien, bakens wat sy nie wil herken nie. Sy ry eers ’n ompad, middestad deur, nog nie reg vir die Weskus nie, nog nie reg vir haar pa nie.

    Die GPS-sagteware se nasale stem stuur haar vanaf die lughawe verby die selfrepliserende plakkerskampe wat gedeeltelik van die hoofweë versteek word agter reuse-advertensieborde.

    In six hundred metres, turn left at the exit. In two hundred metres, turn left at the exit. Turn left at the exit. Turn left. Turn left now.

    Sy word verby rankende glasgeboue aan die rand van die middestad gestuur, en deur die inploffende stadskern, die stadsgebied ’n groot amorfe ligeen wat na buite groei, terwyl die sentrum uitdroog en wegval. Sy ry deur die metastaserende voorstede en hul grasperke.

    In two kilometres, turn right.

    Onder die LED-beligting van die nasionale pad volg sy die stem, verby ’n horison van antennas en digitale skottels. Die hartkloppings skop in. Sy ry onderdeur die spreiligte van die industriële sones en, toe sy die metropool verlaat – In seven kilometres, take exit 31 on the M19 – verby kleiner plakkerskampe, elektriese spantorings en monokulturele industriële boerderye. Koringlande is godsvervelig, selfs in die donker. Die platteland lyk nog dieselfde, die doringdraad en roadkill nou net opgegradeer na elektriese heinings en verlatenheid. Wat het geword van die diere wat doodgery kon word?

    Die mis lê dik tussen die heuwels. Haar bors trek toe. Sy ry soos ’n hond in ’n advertensie, met haar kop by die ruit uit, tot sy weer kan asemhaal.

    Die enigste lewe wat sy gewaar, is deurnagvragmotors met donker kajuite. Die name van die brands op die trokwaens flits verby. Soos sy hulle aflees, vorm hulle soms byna sinne. Sy onthou uile op telefoonpale toe hulle kleintyd hier gery het, maar sy sien nie een nie. Regs van die pad draai die veertig meter lange lemme van ’n windplaas.

    Die enigste konstante op haar reis is die massiewe spantorings langs die pad. Sy verbeel haar hoe die drade sing. Sy verbeel haar hoe klein eenhede elektrisiteit oor die landskap tot in die motor se kajuit, tot in haar lyf lek.

    Links van die pad, teen die branders van die Atlantiese Oseaan, lê die verligte koepels van die kernkragsentrale nes ’n verlate stel van ’n sci-fi-fliek uit die 1950’s. Op die reguit pad drink sy nog ’n kalmeerpil en versnel.

    In twenty-nine kilometres, turn left.

    Toe die laning bloekombome op die regterskouer van die pad opdoem, ry sy stadiger, haar oë op die bome. Sy trek af en loop oor die pad. Sy stap langs die bome af, tik teen elkeen se bas, tel hulle af, buk dan by een. Sy ondersoek die stam met haar vingers, vee met haar hand oor die bas. Sy soek na ’n letsel wat onder die bloekomvel toegegroei het.

    Oor die laaste ses kilometer na haar bestemming ignoreer sy die spoedgrens. Sy moet vinnig rem om nie die afdraai te mis nie.

    In two hundred metres, turn left. Turn left.

    Hier by die natuurreservaat waar sy en haar pa kom kampeer het toe sy klein was, hier moet sy indraai.

    Turn left now, sê die geïrriteerde en verkoue GPS-vrou.

    Sy draai links.

    In four hundred metres, turn right.

    Sy stuur vir Lindiwe ’n voice note: Sawubona, Lovey. Ek’t veilig aangekom. This must be the place: Pappa wag my in met ’n fokken drone!

    Die Voyager-tweeling, sê die internet, het die aarde verlaat om die vier gasreuse te gaan verken en nie weer terug te kom nie, maar ook nooit hul huis uit sig te verloor nie. Elke 225 miljoen jaar sal hulle hul wentelbaan binne die Melkweg voltooi.

    Vandat sy op die grondpad afgedraai het, agtervolg die drone haar. Die rooi agterligte van die Etios weerkaats in die kameralens in haar truspieël. Sy probeer vir die drone wegjaag, al langs die geëlektrifiseerde heining af. Toe sy die mis binnery, trap sy rem. Die GPS stel byna huiwerig voor dat sy regs draai by die hek wat vanuit nêrens opdoem. Sy hou stil by die hekwaghuis. Checkpoint Charlie, dink sy, ontwerp deur ’n Japannese postmodernis. Sy sien hoe die drone wegsak in die dak van die platdakgebou.

    Die sekuriteitswag – gewapen met ’n pistool en ’n koeëlvaste baadjie oor sy uniform – kom by die outomatiese skuifdeur uit. Vir ’n oomblik verdwyn hy in die swaar mis, vreemd vir hierdie tyd van die jaar, en verskyn dan weer in die koepelvormige membraan van die spreilig om die motor.

    Mademoiselle Maas, sê die wag in ’n sterk Franse aksent. Welcome to Barbara’s Cove. We’ve been expecting you.

    Rebecca, please, monsieur.

    Ovide.

    Hy vra of hy die drone moet stuur om haar na die huis te begelei.

    Non merci, ça va, Ovide. It’s creepy enough already.

    Hy bied aan om self voor haar uit te ry. Hy beduie na die jeep voor die stoep.

    No, thanks, I’ve got this bitch in a box that tells me where to go.

    Hy beduie haar in die rigting van die see, sê sy moet links draai as die pad teen die rotse doodloop: You can’t miss it. Il n’y a qu’une maison. Only house.

    Only house?

    No houses. Just your father’s house.

    I guess that’s how gated communities work. First the gates. Then the communities.

    Hy gryns: Oui. Just your papa and his gate.

    Merci, Ovide. I’ll see you around – à bientôt, n’est-ce pas?

    Bien sûr! Tu parles bien le français.

    Only the basics. Où sont les toilettes? sê sy in ’n plat Afrikaanse aksent.

    Tes toilettes, c’est le monde, sê hy en beduie die mis in. Hy hurk by haar venster: I’m sorry, Rebecca. Your father. He’s a beautiful man, and sad.

    Iemand êrens het gesê dat die Voyagers skepsels is wat spesifiek ontwerp is om lomp en gestremd te wees op hulle eie planeet, maar grasieuse dansers in die ruimte. Hulle is meestal gemaak uit silikon en aluminium en elkeen weeg min of meer 800 kg. Hulle het tienkantige lywe, 3.65 m breë antennas, drie arms en ’n paar pote waaraan die vuurpyl gekonnekteer was vir die verspring die ruimte in. Een arm hou die magnetiese veldsensor vas. Aan die punt van die tweede arm is al die sintuie, die groot oë en lang ore, die kameras en mikrofone en voelers. Die derde arm dra die plutoniumkragtoevoer wat die masjien van energie voorsien, ver genoeg uitgestrek sodat die lyf vry bly van radiasie.

    Toe sy deur die onbeboude, beboste erwe die misbank binnery, is die motor se wiele onhoorbaar op die nuutgeteerde pad. Henk het die straatligte en die wit-op-groen padtekens skynbaar so laag as moontlik laat bou, die padtekens skaars hoër as die ruie fynbos, die straatligte slegs drie meter hoog en voorsien van bewegingsensors wat die ligte slegs aktiveer wanneer ’n voertuig naby is. Gekamoefleerde beskawing.

    Die hoofligte slaan ’n paar meter voor haar teen die mis vas. Sy is seker sy kan voel hoe haar lyf ’n resonansiekamer vir die diep, bas polsslae van die onsigbare see word. Die nagemaakte dennegeur is ryp in die kajuit. Die mis klou aan die motor se bakwerk, laat druppels agter op die verwarmde metaal en

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1