Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort
Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort
Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort
Ebook499 pages6 hours

Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort

Rating: 2 out of 5 stars

2/5

()

Read preview

About this ebook

Hertzogprys vir prosa (1976), WA Hofmeyr-prys (1977), CNA-prys (1977).
Anna M. Louw se indrukwekkendste werk is die groots opgesette familieroman Kroniek van Perdepoort (1975), wat die lotgevalle van die Lotriets deur verskillende dekades volg. Die Bolander Koos Lotriet vestig hom aan die begin van die twintigste eeu aan die voet van die Swartberge en bou met die jare 'n spogplaas op, al word hy en sy vrou as gevolg van sy hoogmoed – wat aan hom die bynaam Koos Nek besorg – nooit volledig in die samelewing opgeneem nie.
Ná sy dood sit vier van sy seuns die boerdery voort, maar nie een van hulle is vergelykbaar met hulle vader wat werkywer, idealisme en deursettingsvermoë betref nie en die hele familie, ook die kleinkinders, toon tekens van agteruitgang.
Met die tipiese situasies en figure sluit Kroniek van Perdepoort by die ouer Afrikaanse verhaalkuns aan, al word die swakhede van die seuns simbolies-allegories verdiep sodat die familie in sy totaliteit die voordurende aktiwiteite van verskillende doodsondes illustreer. Met die achronologiese struktuur swaai die roman egter weg van die tradisionele Afrikaanse prosakuns.
Kroniek van Perdepoort is een van die merkwaardigste romans van die sewentigerjare.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateDec 17, 2016
ISBN9780624078227
Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort
Author

Anna M. Louw

Anna Margaretha Louw (oorlede 12 Junie, 2003) is op 31 Desember 1913 op ’n plaas naby Calvinia gebore. Sy het ’n BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Sy het daarna saam met haar eerste man in New York gewoon waar sy kursusse in joernalistiek en visuele kuns by Colombia Universiteit gedoen het. Later het sy ook ’n B.Soc.Sc-graad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Sy het aanvanklik tydskrifartikels en kortverhale, radiopraatjies, hoorspele en novelles geskryf. Haar debuutwerk Die onverdeelde uur het in 1956 verskyn. Anna M Louw het verskeie pryse vir haar boeke ontvang – soos die Scheepersprys vir Die voortreflike familie Smit, die WA Hofmeyr-prys vir Die groot gryse, en die Hertzogprys en WA Hofmeyr-prys vir haar bekendste werk, Die kroniek van Perdepoort. In 1990 ontvang sy ’n eredoktorsgraad in die lettere van die Potchefstroomse Universiteit. Anna M Louw is op 12 Junie 2003 op 89-jarige ouderdom in Kaapstad oorlede. Prof Helize van Vuuren het haar in ’n huldeblyk in Die Burger beskryf as “’n sterk vroueskrywer, een van die oergrootmoeders van die Afrikaanse letterkunde”.

Related to Klassiek reeks

Related ebooks

Related articles

Reviews for Klassiek reeks

Rating: 2 out of 5 stars
2/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Klassiek reeks - Anna M. Louw

    Anna M. Louw

    Kroniek van Perdepoort

    Tafelberg

    Vir Audrey Blignault

    en

    Toekies Nieuwoudt

    Het die goeie dan vir my die dood geword?

    Nee, stellig nie! Maar wel die sonde,

    dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit

    deur die goeie vir my die dood bewerk,

    sodat die sonde deur die gebod

    uitermate sondig kon word.

    ROMEINE 7

    After this the Lord brought to my mind

    the longing that I had to Him afore.

    And I saw that nothing letted me but sin.

    And so I looked generally, upon us all,

    and methought: If sin had not been,

    we should all have been clean and like

    to our Lord, as He made us …

    But Jesus, who in this Vision, informed me

    of all that is needful to me, answered

    by this word and said: "It behoved that there

    should be sin, but all shall be well,

    and all shall be well, and all manner

    of thing shall be well."

    DAME JULIAN OF NORWICH

    Voorwoord

    Meer as dertig jaar nadat Kroniek van Perdepoort verskyn het en onmiddellik daarna met die CNA- (1975) en Hertzogprys vir prosa (1976) bekroon is, bring die herlees daarvan genotvolle herontmoetings sowel as verrassende nuwe insigte en interpretasies.

    Destyds het André P. Brink die roman beskryf as ’n kragtoer … een van die seldsame handjievol waaragtig indrukwekkende werke van ons prosa. Die fokus op die stryd tussen die Bose en die Goeie is beklemtoon en ’n verband gelê tussen Louw en Dostojevski, Faulkner en Vestdijk. Kroniek van Perdepoort is inderdaad ’n klassieke roman. Dit fokus op die lewensbeskoulike en ’n bepaalde metafisika, en word ’n onverbiddelike verhoor waarin die mens – eintlik ’n hele beskawing – tot verantwoording geroep word met elke gebeurtenis deel van noodsaaklike getuienis*. Maar in die postkoloniale, postmoderne tydsgees van die 21ste eeu, sien die leser ook nuwe nuanses en aksente.

    Die driedaagse kroniek rondom die herbegrafnis van die eens arrogante Koos (Nek) Lotriet, en die weergawe van hoe sy vyf seuns die eertydse spogplaas bestuur het, word ’n meesleurende verhaal. Die Lotriets se materiële agteruitgang en morele degenerasie blyk uit die sewe doodsondes van die kinders en kleinkinders. Sommige ouer lesers het die kleinkinders as losbandig beoordeel; Jaco selfs as die mees diaboliese karakter in die roman. Tog wek Louw deur die besondere perspektiefwisseling en karakterbeelding vir al haar karakters ’n diep empatie. ’n Nuwe geslag lesers sal waarskynlik anders oor die jongmense in die verhaalwêreld oordeel. Wanneer in Deel Een van die laaste van die drie dae vertel word, is die fokus op Jaco, die doener; en op Adriana, die gevoelsmens. Dié selfversekerde, gekoesterde meisie bring ’n korrektief op die verbittering en vernedering van al die ander vroue in die kroniek.

    Die ruimtes in die verhaal is met betekenis gelaai. Perdepoort, Ertmanstasie, die dorp en lokasie behoort tot die Suid-Afrika van die 1970’s, maar verbeeld ook die historiese gebeure daarna. Die Lotriet-seuns se wêreld verbrokkel. Chris verwerp sy familie en roeping en vlug eerste. Die Land van Onskuld, waar Kobus tussen sy stookketel en kospotte Mietjie se vernedering en lyding toegelaat het, word deur selfmoord vernietig.

    Volgens Kannemeyer sluit die verhaal aan by die ouer Afrikaanse verhaalkuns: die ongenaakbare plaasmilieu, die verhouding tussen landheer en arbeiders, die Joodse handelaars, bruin karakters in parallelle situasies en temas soos die vadersvloek en aktiewe bose magte. Vandag besef ’n mens dit was ook die voorloper van verhale soos Toorberg en Duiwelskloof. Wat in daardie romans opgeval het: die magiese realisme, die klem op storievertel, die vrae rondom identiteit en hoe die lot van ’n gemeenskap en land weerkaats word in ’n gesin se lotgevalle, is in Louw se verhaal reeds oortuigend aanwesig. Kroniek van Perdepoort verteenwoordig ’n hoogtepunt in Afrikaans. Dit is ’n boek wat emosie en intellek aangryp en boei.

    Henriette Roos

    Pretoria, 2007

    Brink, A.P. 1976. Voorlopige rapport. Beskouings oor die Afrikaanse literatuur van Sewentig. Kaapstad: Human en Rousseau, p.158-160.

    Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. II. Kaapstad: Academica, p.312-314.

    Minnaar, L.C. 1977. Kroniek van Perdepoort van Anna M. Louw in: Rondom Sestig. Perspektiewe op die nuwer Afrikaanse Prosa. Saamgestel deur D.H. Steenberg. Pretoria: HAUM, p.112-130.

    Van der Merwe, C.N. 1988. Sirkel en sfeer. Opstelle oor literatuur en werklikheid. Kaapstad: Perskor. p.116-121.

    * Berta Smit in die oorspronklike flapteks

    Die Lotriets van Perdepoort

    KOOS LOTRIET (bygenaamd Koos Nek)

    DORAsy vrou

    Hulle kinders en kleinkinders

    JAN Pampoen

    LETTAsy vrou

    JACOhul seun

    ATTIE Hardehand

    MIEMIEsy vrou

    ADRIANAhul dogter

    KOLIEhul seun

    KOBUS Karba

    ISOBELsy vrou van wie hy geskei is

    DOREENKobus se dogter

    YVONNEKobus se dogter

    KLAAS Kamer

    ANNIEsy vrou

    CHRISPredikant

    Die Bruinmense van Ertmanstasie

    OOMPIE Vaalwater

    TA’JEHANNAsy vrou

    MIETJIEKobus se bediende

    FIELIEShaar oorlede seun

    GRIETsy weduwee

    OUMA OUMEIDGriet se ma

    MEGIELFielies se seun

    RISLYNTJIEsy dogter

    OORTJIESsy jongste seun

    OOMPIE Danster

    ARRIESsy seun

    JANNETJIEArries se vrou

    Deel Een

    Die Lykskouing

    Sondag 9 Maart

    1

    Vertel my iets oor hom, het die junior prokureursvrou fraaitjies by Mevrou gepleit, hy’s mos glo een van die distrik se legendes?

    Dit was enkele minute voor die val van die kis: die draers het al reggestaan om die handvatsels te neem en die kis met die voetpad langs teen die steilte uit na die grot te dra. Ná die afloop van die kort rede het Mevrou bevel van haar man gekry om verder in die motor te gaan wag. Sy’t haar vierde verwag, met die hoop op ’n dogter dié keer. (Dit wás toe ’n dogter!) En die junior prokureursvrou het ná ’n oomblik van aarseling by Mevrou gaan inklim. Om geselskap te hou. Om uit die wind te kom. Dit kon ook lei tot kennismaking met die regte soort mense op die dorp, want ná ses maande op die platteland het die verveling begin druk.

    Mevrou het die motorvenster ’n aksie afgedraai – die hitte, ten spyte van die wind! – sy het haar handskoene uitgetrek en bymekaargevat, sodat die junior prokureursvrou begin ys het vir ’n afjak. Eintlik het sy gekom omdat sy gehoor het van die huis en sy fabelagtige inhoud. Tot dusver was dit egter ’n dooierige affêre, sonder selfs die tikkie drama van ’n gewone begrafnis. Bowendien was die besienswaardighede alles uit die gesig en weggesluit.

    Die junior prokureursvrou het sit en kyk na die vergrote sweetgaatjies op Mevrou se neus toe sy tog ’n antwoord kry: Ons weet ook nie veel nie: toe ons sestien jaar gelede na die gemeente beroep is, was hy al oud en het kort daarna gesterf. Niks meer nie.

    Hulle het in ongemaklike stilte sit en kyk en die junior prokureursvrou se gedagtes het al hoe meer liefdeloos geword. Sy’t begin soek na ’n verskoning om weer uit te klim. Toe albei se aandag getrek word deur die dik, blonde vrou. Die heeltyd al het die mens moeilikheid gehad met die twee kranse van mak-gousblom wat sy saam met ’n groot pienk hoed in die tierende wind moes behartig. Nou stap sy jou wrintig agter die kis die steilte uit en druk terselfdertyd een van die kranse op die agterste punt van die kis met haar hand vas. Dit lyk of dit ’n onmoontlike taak kan word – met die hoed wat terselfdertyd op die kop vasgehou moet word.

    So ’n vreemde vrou! het Mevrou onverhoeds laat val.

    Aldus aangemoedig, het die junior prokureursvrou op beskaafde toon aangevoer: U kan wel sê, Mevrou … die dame het gedurende die diens by die huis langs my gesit en sy’t so ’n snaakse ding gesê: dat ou mnr. Lotriet dan op sy sterfbed gesê het hy gaan weer kom.

    Die bygeloof onder ons mense darem! het Mevrou reggestel. Die stomme vrou behoort glo aan ’n sekte.

    ’n Koddige familie, vind Mevrou nie?

    Kan wees, het Mevrou gesê. Sy’t sydelings gekyk na niks nie – toe die rug van die sitplek voor haar vasgevat, op haar onderlip gebyt en haar swaar lyf vorentoe gehys. Die junior prokureursvrou het pas besluit dat Mevrou ’n suurknol is en dat sy die dorpsgemeenskap op eie stoom gaan verower toe dit gebeur.

    En weke, maande daarna het die distrik daaroor gepraat. Iets het iewers heen beduie. En toe al die stories bymekaargebring is, was daar diegene wat gesê het dat geeste van die lug gedurende die drie dae op PERDEPOORT uitgekom het agter die skeiding tussen die sienlike en die onsienlike. Maar, omdat die gesonde verstand oorsaak-en-gevolg se onderdaan is, is daar byna dadelik redelike uitlegte gesoek vir die val van Koos Nek se kis daardie dag met sy herbegrafnis.

    Jy sê dit natuurlik nie graag nie, maar dit was net nog ’n voorbeeld van Attie Hardehand, ou Koos se tweede seun en die eintlike boer van die poort, se vrekkerigheid. Hy’t die onkoste ontsien om die voetpad na die bek van die grotjie wyer te laat uitskiet, die draers kon onmoontlik met gemak weerskante van die kis loop. (En wat sou dit tog gekos het om ’n muurtjie vir die veiligheid op te haal?) ’n Stukkie van die rotssoom moet onder ’n voet padgegee het, een of meer van die draers helling se kant van die voetpad moet gestruikel het, daar het ook die dag ’n woedende bergwind gewaai, daar was sprake van ’n grondstorting hoër op, ’n rotsblok het losgekom. Die draers kon geskrik het. Enigiets kon gebeur het.

    Maar die wakkeres wat onmiddellik daarna opgeklim het om te kyk, moes twyfel. Die boonste rand van die ysterklip-plaat, wat, glad soos seep – kinders het vroeër daar botterboom gery – afhel na die trap onder waar die motors geparkeer was, het op ondersoek onverganklik gelyk en nie ’n teken van ’n rotsstorting dáár nie. Die groot klip – nie ’n rotsblok nie – wat losgekom het, het agter ’n boskasie tolbos bly vassteek. En kon nie … Die vraag het ook bly pla waarom een of meer van die draers dan nie saam met die kis afgeduiwel het nie? ’n Toevallige sameloop van omstandighede dan: soos dit maar voorkom. Soos die ruit wat sonder waarneembare rede in die middel van die nag aan skerwe spring, soos die broodnodige skroef wat wegval en nie weer opgespoor kan word nie. ’n Uitleg, as jy deeglik ondersoek, is daar altyd.

    Maar wie in sy hart der harte glo aan die toeval? Heel agter in die skedel kom die oerskepsel op sy voete en wys ’n teken uit. Die begrafnisgangers het in die stilligheid onthou die onaardse oomblik toe die kis voor hulle oë met die klipplaat afgeseil gekom het, en dit was of dit nooit weer gaan ophou met kantel en gly en skuur nie. Party het versteen bly staan, party het begin hardloop, een of twee het boontoe geroep. Die sterkste argument van die gesonde verstand was dat jy nooit kan weet met die span Lotriets nie! Maar die vroue, altyd groter realiste as die mans, het reguit gesê dit was ’n teken: dit was die hoogmoed, die hoogmoed wat letterlik tot ’n val gekom het.

    En ou Gert Garing, leier van die kerkraad, het hom verskeie kere laat oorhaal om weer die staaltjie te vertel – hy had dit nog van sy oorlede vader – van hoe Koos Nek daardie Sondagmôre die kerk binnegery het op sy swart hingsperd, Appolus, tot voor die kansel en die destydse dominee voor die hele gemeente uitgevreet het oor ’n preek wat dan na hom sou verwys het. (Wanneer ou Gert vertel, is daar ingewikkelde gevoelens op sy gesig te lees: dit was skokkend, maar daar was ook iets heldhaftigs daaraan.)

    Was hy nie dalk getee nie? Iemand stel altyd voor.

    Nooit aan sterk drank geraak nie, verseker ou Gert dan, nooit ’n speld op sy gedrag te steke nie – net die hovaardigheid. Later in sy lewe het hy met die godsdiens gedweep: ek self onthou nog die dag toe hy by die kerk om vergifnis kom vra het …

    Maar niemand het waffer belangstellings vir ou Koos Nek se bekering nie: dis van daardie inry in die kerk op die swart hingsperd dat hulle keer op keer wil-hoor, wil-hoor. Want die Lotriets is een van die families oor wie mense graag lag, of filosofeer. (Soos te wagte, is die voorval ná sowat ’n jaar byna vergete. Die distrik het egter ’n nuwe spreekwoord bygekry: Pas op! Aans val die kis! Dit word gesê van iemand wat hom op ’n stok steek. Of ’n verwate onderneming wat beloof om op niks uit te loop.)

    In ernstiger gesprekke is daar altyd verwys na die feit dat ou Koos se lote almal wild is. Sagkens gestel: waterlote. Of abnormaal. En dít, as jy dan tekens wil soek, staan altans vas. Die tragedie wat kort daarop plaasgevind het, was net bykomend en al lankal te wagte.

    Wie tog is normaal? het die dominee gesug toe ’n kerkraadslid eenkeer in dier voege teenoor hom geskimp het. (Dié soort vrae sonder antwoorde maak die dominee ongewild, want ’n dominee se werk is om antwoorde te verskaf.)

    Om die waarheid te sê, wás die voorval daardie Saterdagnag ná die herbegrafnis vir die dominee self ’n teologiese versoeking. In die sestien jaar van sy bediening op die dorp het die dominee, soos ander voor hom, dikwels probeer om die juiste gebied van die sonde te kaart. Lank kon hy dit nie aanvaar nie dat die raamwerk van sy teologiese struktuur net te strak was vir die veelvormige steentjies van sy gegewens. Daar was tye toe hy woedend geworstel het om uit die doolhof te kom met die hulp van talle aantekeninge uit boeke, feite, ingewings, eie bepeinsings. Daar was tye toe hy ure lank op straat rondgeloop het, elke gesig dopgehou het, elke gesprek probeer afluister het. Maar telkens moes hy terugkeer in die raaiselagtige opdrag om nie te oordeel nie. Sodat die dominee se mosaïek onvoltooi gebly het.

    Die Saterdagnag by sy lessenaar in sy studeerkamer moes die dominee tog opnuut wonder: bied die Lotriet-geval nie die juiste proefbuis nie? Is die trots nie – soos Augustinus en ander beweer – die moeder van die doodsondes nie: ’n sewekoppige hidra? Die dominee het ’n soort seekatbeeld voor oë gehad. Soos sy wandhorlosie voortgetik het, het dit al hoe waarskynliker gelyk. En sou hy die geleentheid kon gebruik om dalk in ’n preek? (Daar was ook ’n glips wat hy in sy vrou se oë moes regstel.)

    Maar toe hy sy heel laaste ontmoeting met ou Koos Nek onthou, het die dominee die versoeking nogmaals van hom afgedoen. Weer eens het hy besef dat die verborgenisse van die menslike natuur veel dieper lê as wat hy dit moontlik vind om te peil.

    Ou Koos Nek het nie meer dienste bygewoon nie, maar het so mildelik bygedra dat die jong dominee dit destyds sy plig geag het om huisbesoek af te lê.

    Wat wil die vadertjie hê ek moet die Here vra?

    Die verkrimpte ou mannetjie het verskriklik broos gelyk in die oë van die agt-en-twintigjarige dominee. Maar blymoedig – daaraan kon jy nie twyfel nie. Dit was vreemd, die dominee het natuurlik van die omstandighede gehoor: die liewe mense praat, hulle praat!

    Niks nie! het Koos Nek gesê.

    Die dominee sou afgehaal kon gewees het as sy opleiding hom nie onderskraag het nie. Veral toe die ou man voortgegaan het met wat ’n gebrek aan Christelike nederigheid kon wees: Ek bid nie vra-gebede nie, ek het alles wat nodig is.

    Iets moet daar tog wees, het die dominee deemoedig gemurmel, voortgegaan om te verduidelik dat niemand volmaak is nie, dat die stryd tussen goed en kwaad voortwoed tot aan die einde.

    Dit het die ou man laat lag kry, maar nie aanstootlik nie: Goed en kwaad? Hulle is maar net twee kante van die stok waarmee ons onsself hel gee.

    Op ’n manier het dit bekend geklink, die dominee sou eers weer moes naslaan. Op die oomblik kon hy skaars dink.

    Nie dat jy nie moet probeer verdien wat nooit verdien kan word nie, het Koos Nek daardie namiddag op die wingerdbeskutte systoep van sy huis gesê. Toe opgestaan en ’n jong trossie onder een van die geil lote ondersoek, so aandagtig dat die jong dominee onrustig geword het.

    Koos Nek het weer gepraat: Die dag kom wanneer jy weet jy’t verloor, en alles word makliker, want Hy vat die leisels. Dan begin leef jy ligvoets en dink nie meer so swaar nie. Die dae is nou my vriendjies, ons speel met mekaar. Dis die moeite werd om gebore te word net om dit te ontdek. Hy’t die druiwetrossie steeds tussen sy deurskynende oumansvingers gehou, dit het die dominee al hoe meer verleë laat voel. Wat sê en doen jy onder sulke omstandighede?

    Dalk het Koos Nek geraai: hy’t die druiwetros laat los en byna guitig gekyk: Sien jy waarom ek alles het? Soms word ek verniet opgeneem – so lyk dit.

    Die gesprek het, wat die dominee betref, handuit geruk. Hy’t gevoel dis sy plig om te keer: Ons leef darem nie net vir ons eie saligheid nie; u het seuns. En half bevrees gewag, terwyl Koos Nek woorde soek en verwerp.

    My seuns was nie altyd só nie, het die ou man eindelik gesê, om dié rede sal hulle nie altyd só bly nie. Daar sal ander swangerskappe en geboortes wees. Ja, op ’n manier is dit waar wat jy gesê het: die stryd duur wel op ’n manier voort, die pad eindig nooit nie, dit sou onregverdig wees. Weer het daar die ondeunde trek om die mond en oë gekom: Weet jy, daar is nog altyd dae wanneer ek die afgodsbeelde wéér moet vernietig?

    Die dominee had geen keuse nie – hy moes vra, die byna onnutsige oë was op hom. Beeld-van-die-bedroefde-vader, beeld-van-die-bidder, beeld-van-die-kinds-ou-man … die oë vol ingehoue lag het op die dominee gevestig gebly. Of hy vra dat daar gelag moet word oor ’n grappie wat dalk te eenvoudig kon wees. Die dominee het begin voel hy moet wegkom uit ’n situasie waarin hy vasgespin kon raak. Hy’t opgestaan.

    Moenie moed verloor nie, het die ou man met skielike deernis gesê. Ek self het nooit ’n stem hoor roep nie: kan maar sê ek is van agter ingestamp.

    Op pad huis toe het die jong dominee besluit dat kindsheid, soos die mense gesê het, ’n aanneemlike uitleg was. Sestien jaar later, daardie Saterdagnag ná die herbegrafnis, moes hy twyfel. Was Koos Nek een van dié wat op water leer loop het? Een van dié wat leer balanseer het op die meslem waar God die siel ontmoet wat deur die smeltkroes gegaan het? Was Koos Nek een van daardie soort akrobate?

    En hoe om dit in woorde te stel – hý wat aangewys is op woorde?

    Ag, Here, het die dominee gekreun, gee my dan woorde. Maar met min oortuiging. Hy self het al begin insien: jy kry dalk wat jy later nie meer wil hê nie.

    2

    Opmerkenswaardig die Sondag ná die herbegrafnis was dat Attie Hardehand en Jan Pampoen met hulle gesinne soos gewoonlik die diens bygewoon het – Jan, natuurlik, in die ouderlingsbank van waar hy fel blikke gewerp het uit daardie bruin effens uitpeuloë van hom. Daar was heelwat gedraai van koppe en vroue het hulle mans skelm met die elmboog aangeraak; onderdrukte glimlagge ook, omdat Letta Jan ’n hoed met ’n veer vir die kerk opgesit het. Verwagtings was daar wel, maar die gemeente kon skaars glo dat die dominee dit sou waag om toewysings te maak. Nietemin was alle oë op die dominee gevestig toe hy, lank en rysig in sy swart toga, voor die kerkraad uit die konsistorie kom en buitengewoon lank aan die voet van die kanseltreetjies talm om te bid voor hy begin opklim. Sy gesig was bleek en ernstig met skaduwees onder die diepgekaste oë, of hy heelnag met die waarheid geworstel het. Ná die afkondigings het hy, sy groot, benerige hande leunend op die preekstoel, sy gesig opgehef en oë toegeknyp of ’n visioen hom sou kon ontsnap, inniglik gebid. Hand omhoog het hy met nadruk die seëngroet uitgespreek: Vrede vir julle!

    Die eerste voorlesing was uit Matthéüs 7, verse 1 tot 5. Die versoeking was groot om dadelik in jou eie gedagtes te keer, dié van die balk in die eie oog is alte uitgedien. Die tweede voorlesing het egter die gemeente se aandag vasgegryp: die dominee het voorgelees uit Spreuke 16:5, 18, 19 en 32.

    Die dominee het sy preek op ’n wakkere stemtoon aangehef: As ons teksvers vandag kies ons die 18de vers van Spreuke 16: Trotsheid kom voor die verbreking en hoogmoed kom voor die val.

    Intense afwagting het opgelaai: Die voorlesing was so gruwelik toepaslik. Die intrek van asems, die voorbereidende regskuif, die beweeg van koppe het ’n hoorbare geruis deur die kerk laat vaar. Kolie, Attie Hardehand se ongelukkige seun, het opgestaan onder die indruk dat die kerk aan die uitgaan was. Die dominee het effens bleker geword, ’n oomblik geswyg, en, sy blik stip op die horlosie teen die galeryreling oorkant die kansel, gewag tot twee hulpeloos giggelende skoolmeisies uit is onder die voorwendsel dat hulle neuse aan bloei geraak het in die hitte. Toe het hy voortgegaan met sy preek.

    Die eerste om te begin rondskuif, was die dogtertjies in hul fyn kerkrokkies, wit hoedjies, armbandjies en halskettinkies; en die seuntjies in hulle pakkies klere net soos Pa s’n. Jong moeders had hulle hande vol om die kleingoed te berispe en kon skaars self luister. Aanvanklike belangstelling het gekwyn, weer opgeflikker en weer gekwyn. Uiteindelik verdamp toe dit blyk dat die dominee dit tog nie oor die Lotriets had nie – eerder besig was om een van sy geleerde preke te ontvou.

    Die dominee was besig om sy uitgangspunt te konstateer – hoe die opbloei van die wetenskap en die kollektiewe trots die afgelope eeu hand aan hand gegaan het; hoe die Nemesis van die sonde besig is om hierdie ongeëwenaarde hubris in te haal – en mense het gevind dat hulle kort-kort moes hoes. In die ouderlingsbank het die oë wat pligshalwe op die dominee gevestig gebly het, stokstyf van die verveling geword; ou Gert Garing het opentlik gedut: sy amp gee hom reg daartoe.

    Net een van die diakens het manmoedig geluister: ’n jong onderwyser met ’n meer verligte standpunt en ’n hartstog vir kennis. Hy het ’n manier om so vurig te luister na kennis dat hy beurtelings by die een oog, dan die ander van sy mededeler inkyk, maar selfs hý het ongemaklik begin voel toe dit begin lyk asof die dominee net vir hom preek. Die dominee het die proses van die sonde aan die hand van Augustinus en Thomas Aquinas se geskrifte ontleed en gesê dat die mens van ons tyd die laaste bitter vrug aan die pluk was – die traagheid van gees, die acedia: ’n sondige toestand van die siel waarin alles sonder betekenis word, wanneer God vir die mens dood is en hy alleen op aarde gelaat is.

    Die jong diaken se ore het al hoe rooier geword, hy’t sy oë laat sak, hy’t sy ontluikende lewensbeskouing vinnig begin hersien. Toe hy weer opkyk, was hy verlig om te vind dat die dominee se aandag intussen afgetrek is na die ouderlingsbank waar ou Gert Garing met ’n baie ligte snorkie wakker geskrik het.

    Ou Gert was streng na die dominee aan die kyk, ’n ernstige uitdrukking op sy ou breë kaasgesig; een of twee keer het hy gesteurd verskuif of sy broek se naat hom knel. Die dominee het so pas iets kwytgeraak wat as ou Gert nie abuis het nie, onortodoks kon wees: Is dit nie beter wanneer die duiwel onrustig is nie? het die dominee gevra. Is dit nie beter nie wanneer jy hom dreigend in die lug sien sweef nie, sy kantige vlerke uitgestrek, honend aan die grom en lag nie? Want dié wat op die draad sit, sal weggeveeg word wanneer die storm losbars. Vlieg dan op, geliefdes, vlieg op! Al vlieg julle tydelik – God verhoed dit! – verkéérde kant toe …

    Of die dominee die uitdrukking op ou Gert se gesig opgemerk het? Sekerlik het hy byna dadelik oorgegaan na enkele gedagtes uit die eerste voorlesing: hoe dit ons betaam om in alle nederigheid gedurig die hand in eie boesem te steek.

    Niks besonders hieraan nie: elke Sondag word dié vermaning van honderde kansels verkondig. Dit was die heel laaste paar sinne van die preek wat die gemeente weer te denke gegee het; die dominee het hulle met soveel hartstogtelike erns uitgespreek, dat dit maklik op iets in sy eie lewe kon dui. Die gemeente het skielik hulle ore gespits.

    Ons wat meen ons het daarin geslaag om die vernietigende instinkte te verslaan, kom ten laaste te staan voor die éérste sonde in sy mees sluwe gedaante – die geestelike hoogmoed. Die groot geloofshelde onder mense het dit nog altyd geweet en hulleself daaroor verag. Waak dan gedurig – eers dan kan ons hoop om gereken te word by die weinige wie se regverdigheid groter was as dié van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes: die weinige wat hulle laat lei het deur die raadgewings van die volmaaktheid. Amen.

    3

    Ná die diens, soos dit die goeie gebruik is, het daar groepies buite rondom die kerkdeure versamel om ’n paar woorde te wissel, veral boere van die distrik, te kenne aan hulle bruinrooi gesigte, fleurige hemde en dasse. Kinders het, ná die kwellende stilsit, om die kerk gekattemaai, sodat mammas moes waarsku teen die verniel van die fyn kerkrokkies en die pakkies klere net soos Pa s’n. Eerbiedige stilte het gedaal wanneer een van die Lotriets verbykom. Mans het manlik na vore getree en hand geskud met ’n gemompelde: Jammer van gister! Eers op pad uit plase toe, of aan die etenstafels op die dorp, kon jy luister na die onbevange opvattings.

    Ou Birnbaum, eienaar van die Royal Hotel (onlangs vernoem tot President Hotel) het met sy ou rasgenoot, Levin, eienaar van Dames Uitrusters en Algemene Winkel (onlangs van twee yslike toonvensters voorsien) verveeld op die hotelstoep sit en kyk hoe die Christene uit die kerk kom. Hulle is lankal uitgespog oor hulle seuns wat ’n merk in die stad in beroepe aan die maak is; hulle is uitgekla oor die verdwyning van die dorp se sinagoge weens gebrek aan ondersteuning; Birnbaum lag nie meer vir Levin, wat ’n boerse sin vir humor opgedoen het, se grappe nie; Levin is heimlik buikvol vir Birnbaum se gekla oor sy vrou se swak hart en dat hy in Seepunt wil gaan aftree, maar sy hotel nie verkoop kan kry nie. Eintlik is ras ál gemene deler, want Levin se oorlede vader het al in 1910 (datum op vooraansig) hier kom winkel open, terwyl Birnbaum eers in 1938 deur die Nazi’s verjaag is. Met sy donker gelaatskleur en haakneus, is Levin ’n troue afgietsel, terwyl Birnbaum blond is en met sy krullerige grys hare wat hy agteroor kam, effe na ’n leeu lyk. Hulle praat liewers Afrikaans (aangeklam met Engels) omdat Birnbaum minagtend deur sy growwe neus snuif wanneer Levin Jiddisj probeer. Dis net wanneer Birnbaum – seldsaam – glimlag dat sy grysblou oë Semities skeef trek. Niemaars ’n dag vry, het Birnbaum weer die oggend gekla, immer op diens, die staf word by die dag meer ongetoë: die meer geld, die minder arbeid. ’n Jeder is jou baas en myne vrou word elke dag korter van asem.

    Noem jou prys, het Levin lusteloos gesê, kan wees ek koop.

    Man noem nie nommers nie, het Birnbaum aangevoer, wel wetende Levin gaan nie koop nie, maar zum voorbeelde: die verbeterings het my R20 000 gekostet. En van die bar in die lokasie geopen is, is myn drankwinkel ook na syne moer.

    Só: konstant bly net die trekke van die lotgeval, die mense wat verduur, is toevallig. Verslind en uitbraak, verslind en uitbraak …

    Van die kerkgangers doen aan om verversings te geniet, party in die private loungie waar Birnbaum tegemoetkomend iets sterkers skink; party bestel skinkborde met tee op die stoep. En Levin, die Joodse nar, word gevra om weer sy staaltjies oor Attie Hardehand te vertel: snaaks, maar nie so dánig snaaks nie; dit het egter ’n manier om raaiselagtige dimensies te open. Dit blyk dat Attie Hardehand se dogter ’n jaar of twee gelede by Levin op rekening begin koop het: langbroeke en truie, halskettings en allerlei byderwetse goed. Ses maande verby en Attie Hardehand betaal nie. Toe Levin takvol in dié rigting praat, moet hy dan hoor jy gee nie aan ’n minderjarige sonder die pa se skriftelike verlof nie.

    Wat kon ek doen? Levin – skouers opgetrek, handpalms hulpeloos na bowe. Ek het gesê ek sal nie weer gee nie.

    Dan volg die ontknoping wat Levin altyd laat lag dat hy stik: Die man het bleek geword, ek dog die man gaat faint: Jy moet aangaan gee, Levin!

    Levin het kop geskud. Asseblief, Levin! Die man was amper op sy knieë.

    Mr. Lotriet, dis nie my dogter nie, ek moet ook lewe!

    Jy moet gee, Levin.

    Levin het kop geskud: Nooit weer nie! Ek het my lesson geleer.

    Toe haal Attie Hardehand sy tjekboek uit en hy teken ook dat die dogter kan koop.

    Die Le Granges, wat ook ’n halfuurtjie by die hotel aangegaan het, het dit op pad uit plaas toe steeds oor die Lotriets. Piet is Jan en Attie se tydgenoot en sy twee dogters is al uitgetroud. Nou het hy en Esther net nog die ouerpaartjie by hulle in die huis. Dié sit agter in die kar – het sommer in die motor onder ’n skaduweeboom ’n koeldrankie gekry – wonderlike ou mense, al oor die neëntig en nog gereeld in die kerk Sondagoggende.

    Die Le Granges is vir meer as een tot voorbeeld; jy kan byna sê die ou mannetjie en vroutjie – ewe doof, ewe goedaardig, ewe kinds – is die stokperdjie van Piet le Grange en sy vrou. Esther trek hulle soggens self aan, byna soos twee poppe waarmee sy speel. Mettertyd het hulle so op mekaar begin lyk, jy ken hulle skaars uitmekaar: dieselfde fyn, gelerige vel waaruit selfs die rimpels padgegee het, dieselfde trippelpassie, dieselfde kraakstemmetjies, want die een het hoër, die ander laer geword. Is hulle nie wonderlik nie? vra Esther altyd vir besoekers en sy wys die tweetjies waar hulle langs mekaar op die rusbank sit.

    Ek sê nog dis lelik van die Lotriets om hulle oorlede ouers se grafte te ontstig, sê Esther nou. Die ding van gister was ’n teken. Draai tog op die venster, ou man, die stof kom in.

    Ons sal versmoor van die warmte, protesteer Piet, met ’n uitdrukking om te wys hoe Esther se lollery oor karvensters hom altyd irriteer. Uit wraak verdedig hy die Lotriets: goeie landbougrond word skaars, daar’s nie meer plek vir die yslike begraafplase nie. En wát vir ou Koos Nek destyds moet besiel het?

    Pa! skree hy agtertoe. Pa onthou mos nog vir ou Koos Lotriet? Ou Koos Nek! herhaal hy ongeduldig vir die hand agter die oor. Hulle word nou so doof soos kwartels, kla hy teenoor Esther.

    Hy was ’n jintelman, sê die ou mannetjie, nie die soort wat eers vir ’n Hotnot gebid het voor hy laat ooptrek het om te slaan nie. Soos ’n draaiorrel elke keer wanneer daar na Koos Nek gevra word: Nie die soort man wat ’n dier of ’n meisiemens mishandel het nie. Lief vir sy perde. Die mense het altyd gaan staan om te kyk: daar kom Koos Nek op Appolus aan … En hy lag, nugter weet waaroor.

    Dit was ’n aardigheid, kraak die ou vroutjie op haar beurt, hoe hy die seuntjies van kleins af voor hom op die perd gevat het. Ek het partykeers met die naaldwerk gaan help.

    Stil, Ma, ek praat, sê die ou mannetjie, maar so goedaardig, dis net nog ’n weerklankie uit die verre verlede.

    Die mense het altyd gesê, die koning en sy kroonprings, volhard die ou vroutjie. Ek het my partykeers gevies …

    Piet en Esther luister nie meer nie.

    Ek hoor, sê Piet, dat Attie Hardehand ou Jan se verband gaan opsê. Hy moet maar lig loop vir daardie klein Jaco, dié is so reg uit ou Koos Nek se kluitjiepot.

    Die mense praat, hulle praat, sug Esther, gedagtig aan die laaste deel van die preek, maar dis nie vir my ’n mooi ding om die dooies se rus te verstoor nie. Draai die venster weer effens af jou kant, Piet, dis warm …

    Die dominee, wat sterk voel oor bewaring, het ná ogies toe gesê hoe jammer dit tog is van die mooi ou begraafplase wat die een ná die ander aan die verdwyn is. Ou Koos Lotriet het destyds ’n mode laat ontstaan: ’n paar morge moet dit beslaan, alles met inheemse struike beplant. Dit was nog ’n lushof sestien jaar gelede: besoekers van die stad het kom kyk. Nou kom dit ook onder die trekker.

    Ek wil gaan rus, onderbreek sy vrou sy bepeinsing. Sy’t met opset vroeër laat eet.

    Ek sal die mense seker moet gaan besoek, sê hy.

    Ek sal seker moet saam, sê sy met ’n tikkie rebellie en lê ’n hand op haar buik.

    Onder die omstandighede … gee hy toe, as … Hy bly stil; die oudste seun het ’n ongemaklike ouderdom bereik. Gaan julle seuns nou maar speel, sê hy vriendelik, maar ferm, en, Jantjie, jy moet afleer tande tel.

    My preek vanoggend, begin hy sodra die seuns uit is, soos sy vrou ook gevrees het, bokant hulle vuurmaakplekke?

    Wanneer sal jy tog leer dat elke preek net vir die reeds bekeerdes is, my man? sê sy ietwat skerp. Jy moet net jou plig doen en hoop op die beste.

    Maar wat is plig? Vlugtend onthou hy vir Pilatus.

    Meer verenigingslewe, minder teorie, sê sy. Sy glo aan die horisontale benadering en wil bowendien gaan rus.

    Die twee broers wat so totaal uitgesak het, murmel hy agter haar rug aan. Hy trek sy wenkbroue pynlik saam. By Kobus Lotriet het hy nog skeurtjies menslikheid ontdek, waar iets kon wortel skiet, maar Klaas Lotriet het hom opnuut oortuig dat ’n bietjie geleerdheid gevaarlik is. Die man se vinnige, foutiewe argumente plaas jou in die posisie van ’n geoefende skaakspeler teenoor ’n beginner wat voordeel trek uit onortodokse, lukrake skuiwe. Hy’t al met geleentheid die jongste broer, wat vanjaar sy kandidaatseksamen aflê, attent gemaak op sy plig teenoor die ouer broers.

    Die dominee het in sy studeerkamer gaan sit en die tande begin verwyder uit sy preek vir die aand.

    Die junior prokureursvrou het in elk geval nie gegaan vir die preek nie. En ná die diens het sy haar meer as ooit uitgesluit gevoel, sy’t al begin wonder of dit haar klere is wat aanstoot gee.

    Moenie verspot wees nie, sê haar man terwyl hulle peusel aan die gesondheidskosse wat hulle Sondae – die bediende se af dag – verkies. Dis juis die plattelandse meisies wat die uitspattigste modes dra. En die meide bly nie agter nie.

    "Die saaiheid, gaan sy egter voort om te kla, swangerskappe, troues, begrafnisse."

    Jy plaas dit in die juiste volgorde, sê hy prettig.

    Haar mooi blonde gesiggie word effe rooier: sy sal nooit hier aanpas nie. Hy

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1