Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Brouhaha
Brouhaha
Brouhaha
Ebook352 pages10 hours

Brouhaha

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Van klipdagga en dawidjieswortel uit die Karoo-aarde wat krag en gesondheid aan mens en dier gee tot die luis van Auschwitz wat jou dood beteken – dis die reikwydte van die wêreld wat in Brouhaha aangevat word. Stories om oor te lag of treurig te word. En as jy laatnag nog aan die verhale knibbel en ’n bietjie angstig word, gaan kombuis toe en maak vir jou ’n Warmtoddy.Die resep is op bl. 288.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780624051114
Brouhaha
Author

Eben Venter

Eben Venter word op 'n skaapplaas in die Oos-Kaap groot. Hy studeer filosofie en werk as kopieskrywer en joernalis. In 1986 emigreer hy na Australië, waar hy as sjef twee van sy eie restaurante bedryf. Sy veelbekroonde romans is al in Engels, Duits en Nederlands vertaal.

Read more from Eben Venter

Related to Brouhaha

Related ebooks

Related articles

Reviews for Brouhaha

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Brouhaha - Eben Venter

    Brouhaha

    Eben Venter

    Tafelberg

    Brouhaha

    Om te huil oor jou lewe

    Die begrafnis het die dorp tot stilstand gebring – dis ’n oordrewe ding om te sê, maar tot ’n mate was dit waar: die begrafnis van Clive van Hassel, angoraboer, eggenoot, vader en liefhebber van die Karoo by uitstek, het Prins Albert oor die middaguur stiller laat word. By die 700 mense in die kerk and not a dry eye in the house, soos hulle in Ierland sê. Ek het lank ná die begrafnis nog daaraan gedink: Waarom het hierdie begrafnis mense so laat huil, want nie die dorp nie, maar die lewe van mense is vir ’n oomblik tot stilstand gebring?

    Die laaste keer toe ek vir Clive gesien het, was onder ’n klomp bloekoms in die Langkloof. My pa was destyds ernstig siek en ek het soos ’n vaal duiwel oor die hobbelrige kronkelpad deur die kloof gejaag om by hom uit te kom. Op my hakke het ’n wit kar gelê soos ’n irriterende kleinboetie. Toe ek by die piekniekplek aftrek, trek die wit kar ook af. Toe blyk dit Clive van Hassel te wees; op pad na die lughawe om ’n angorakongres in Texas te gaan bywoon. Clive het my oor die kole gehaal oor my jaery, en daar in die koue wind dink ek toe: Die man ken my skaars, waar kom hy vandaan om vir my te kom voorsê hoe ek moet ry! Ons groet en toe ek omdraai, sien ek teen een van die bloekoms se stam is uitgekerf: Tonie loves Tanja.

    Clive se vaderlike sorgsaamheid en die stukkie liefde daar op die boom het ek onthou, en dit het betekenis gekry daar in die groot ruimte van die NG kerk, eenvoudig en formeel, maar nie onvriendelik nie. Die liturgie waarvolgens die begrafnisseremonie gereël is, was onkonvensioneel. Daar was ’n voorlesing uit die Bybel sonder dat dit deur ’n preek gevolg is. Of so het ek aanvanklik gedink. Een ná die ander het die naaste familielede en vriende opgestaan en agter die kansel – U woord is ’n lamp vir my voet op die fluweelkleed uitgeborduur – laaste woorde oor hom gesê. Al die woorde was merkwaardig en wel om verskillende redes. Hy was ’n fors, gedrewe man; buite die kerk het minstens twee mense vir my gesê hy was ’n tawwe man, maar ook menslik, volkome menslik. Oukei, hy het soms dronk geword, het sy broer gesê, maar hy’t sy vriendskappe nooit verwaarloos of laat staan nie. En wat outoriteit betref, het hy ’n gesonde disrespek gehad. Sulke eerlike goed.

    Dit was een van die redes waarom mense ontroer was – en oor hulle eie lewe stil geword het. Want hoeveel van ons kan of gaan by ons pa se begrafnis sê: Goed, dié pa van my was soms onredelik, bot, suinig en eensaam, maar hy was ook ’n vader vir my, ’n man wat sy liefde op sý manier betoon het: Ek het my pa lief. Meestal kry ons dit nie reg nie, nie op die begrafnis nie. Meestal kry ons dit ook nie reg om by sy negatiewe punte verby te kyk en uit te kom by die kwesbare mens nie. Ek dink hierdie onvermoë én die deurbreking daarvan op daardie Aprildag in die NG kerk op Prins Albert het baie laat huil.

    Daar was nog redes vir ontroering en selfbesinning.

    Een van die opvallendste dinge van die twee Van Hasselkinders, Frances en Jordi, was hulle gepoleerde aksente, gemaak en geslyp op Diocesan School for Girls en St. Andrews College op Grahamstad. Al twee wou op hulle vader se begrafnis praat, al twee kon dit vlot doen. Hierdie kinders het ’n besondere krag getoon – miskien is dit die kosbaarste nalatenskap van hulle vader aan hulle.

    Toe staan ’n swart meisie in die gesinsbank op en stap ook na die kansel toe. Haar naam is Ntombe Vabaza, vorige hoofmeisie van Diocesan en boesemvriendin van Clive se dogter, en trek los met ’n pryslied. Baie van haar frases begin met tata, al Xhosa-woord wat vir die begrafnisgangers begrypbaar is: pappa. Maar dit maak nie saak nie, want haar woorde styg en daal en swiep en golf; haar woorde klink op, dit klink na ’n uitnodiging tot die lewe van hierdie tata, hierdie man wat die einde van sy lewe so vinnig en dapper en woordeloos tegemoetgegaan het. Die krag van Ntombe se pryslied lê in die liriese aard daarvan, die besondere gawe wat sy het om deur haar lewering gevoel oor te dra: nie sentimentaliteit of oordrewe rou nie, maar eerder blydskap en dankbaarheid oor die lewe. Lank nadat sy weer by die voorste gesinsbank ingeskuif het, vul die eggo van haar pryslied nog my ore.

    Stadigaan kom daar ’n beeld van hierdie man en sy gesin na vore: een van heelheid. Uit die aard van ’n familiegeskiedenis is daar verskille, argumente, verwyte – dikwels haat – maar soos jy daar op die houtbank sit, kry jy die indruk dat daar genoeg verdraagsaamheid en genoeg van ’n inklusiewe moraliteit en lewensbenadering aanwesig was in die familie om hulle verskille, soos ’n mens sê, by te lê.

    ’n Derde Van Hasselkind, Eugene, stap nou na die kansel om sy laaste woorde te spreek. Eugene is ’n aangenome seun, ’n bruin seun van die distrik, en ook sy aksent is dié van St. Andrews. Ook hy sê iets kort en kragtigs oor sy gestorwe vader. Nogeens word die merkwaardigheid van die familie binne die konteks van Suid-Afrika beklemtoon, dié keer vanweë sy nie-rassigheid. Daar is in hulle huistaal, Engels, gepraat, maar Eugene het nou ook Afrikaans gepraat, Ntombe Xhosa. Agter die bank waar die hooflede van die gesin sit, sit twintig bruinmense, werkers op die Van Hassel-plase. Dit was glo hulle keuse om reg agter die gesinsbank hulle plek in te neem. Ná die begrafnis is daar vir hulle, soos Clive dit in sy laaste dae versoek het, ’n bok geslag en kerrie en rys gemaak en hulle sou dit geniet op ’n plek wat aan hulle bekend is, naamlik die grasperk voor die Van Hassel-plaasopstal.

    Naby my sit ’n vrou, noem haar Franciska, wat regdeur die verrigtinge nie kon ophou huil nie. Franciska het drie dogters en sy is dapper en selfstandig, ’n bittereinder, omdat sy geen ander keuse het nie. Sy is sonder haar man en haar dogters sonder hulle vader. Die sonder slaan op die man se skisofrenie: Hy was net soms teenwoordig, meestal nie. Franciska se drie dogters het eintlik sonder ’n pa grootgeword.

    Die nie-gebrokenheid van die Van Hassel-gesin en die harmonie wat hulle in hulle huis en op hulle plaas bewerkstellig het, is byna konfronterend. Daar sit die begrafnisgangers in die intieme teenwoordigheid van hierdie besondere gesin en dit maak hulle baie treurig; van die galery af kan ek hulle sien, ek kan my eie treur raaksien. En daar is Franciska wat huil oor die gebrokenheid van haar eie gesin.

    Om nogmaals die (potensiële) heelheid van die lewe te herdenk staan die koortjie van die VGK van Noordeinde nou op en sing met ’n verhoogde melancholie. Dit raak byna te veel, en uit haar handsak stuur Franciska pepermente na ’n paar mense om haar.

    Een van die laaste mense wat praat, is Dampie Jonas, ’n ouerige man met net een been, netjies met ’n das en swart baadjie. En toe kom die preek wat jy gewoonlik by begrafnisse kry, en dít van ’n man wat nie kan lees of skryf nie.

    Die dak het van die huis afgekom, sê Dampie oor die gaping wat Clive se heengaan laat. Baie ander dinge sê hy sonder om ooit op te kyk na die mense. Miskien is dit oor sy beskeidenheid, maar dit kan ook sy manier wees om aan sy ongeskrewe woorde vas te hou. Eindelik, om by die misterie van die hiernamaals uit te kom, vertel hy: Daardie laaste keer toe hy by sy bed gaan sit het, het die seur – sý woordkeuse – nie meer gepraat oor die lewe wat agter hom lê nie, maar net oor dít wat voor hom lê. Dis al.

    Dampie bly toe nog praat asof hy met sy woorde vir oulaas die seur wil vashou. Dan laat hy tog los en loop op sy krukke terug na die gesinsbank.

    Die seremonie is verby. Die Van Hassel-gesin stap eerste uit, daarna die werkers. Buite is die son skerp en helder – herfs hier teen die Swartberge maak so: Jy kan net-net die verskil met somer aanvoel. Voor Pep Stores het ’n klein skare vergader om na die begrafnisgangers te staar.

    Het hulle hom toe gebêre? vra Freddie vir my toe ek gaan petrol ingooi. Seker maar, sê ek.

    *

    Klein dood in die Dopperkerk

    Die Dopperkerk was my redding op al daardie bloedig warm Sondae. Ek praat van die binnekant van die Gereformeerde kerk op Burgersdorp, wat vir my soos die fynste versiersuikerwerk gelyk het, alles spierwit.

    Al daardie Sondae wat ek deur die lang preke moes sit en deur die nóg langer gebede staan, al daardie jare totdat ek weg is kosskool toe.

    Van toe af het ek verander oor die kerk. Die dominees en hulle preke, alles wat net effens na hiet-en-gebied ruik, het ek verwerp.

    Maar ek skryf nie oor daardie rebelsheid nie; ek skryf van daardie oggende wat ek wakker geword het op die plaas, die eerste sonstrale oor my kombers en Jan Fiskaal roep in die tuin, nes altyd, maar jy wéét vanoggend is anders.

    Die eerste teken kom uit die badkamer waar my pa skeer met Prep en Minoras en luister na gewyde musiek oor die Afrikaanse sender.

    En tussenin die aanbieder se stem, rond en eerbiedig, die ene dominee al klaar. En die volume harder as weekoggende daar waar ek kop onder die lakens wil wegkruip, wil verdwyn, wens vir pokkies en pampoentjies, enigiets, net om nie op te staan en kerk toe te gaan nie.

    Die hitte was die grootste bekommernis. Sondae in die winter is nooit so by my geheue ingegrif nie, vir my was kerk toe gaan altyd net kokend.

    Van daardie oomblik dat ek my kaal voet op die bedmatjie sit en moet begin aantrek, langmouhemp, langbroek, baadjie en wurgdas – jy’s klaar morsdood.

    Weekdae kon ek my ma se soetsuur appelkooskonfyt net nie dik genoeg op my roosterbrood smeer nie; Sondagoggende het dit my naar gemaak.

    My ma het die langste gevat om uit die kamer te kom, uitgevat met hoed en bypassende handskoene en handsak en die eetkamer skielik vol van haar parfuum.

    Teen daai tyd het my pa die kar uitgetrek gehad en al drie keer op die toeter gelê. Almal, selfs die boerboel op die klaar warm stoep, was Sondagoggende ongeduldig.

    My pa trek weg in sy trots, sy pikswart Merc, ons vier kinders ingestop agter met minder plek vir bene en arms omdat almal so aangetrek is. En oor die hitte. Ek moet sorg dat ek by die deur sit om die drie hekke oop te maak. My klein boetie is nog té klein, my ouer broer is al op hoërskool, hy’s te oud om hekke oop te maak, en my suster is ’n meisie en meisies maak nie hekke oop nie.

    Lank voor elke hek begin my pa al stadiger ry, al weet hy ook dit help niks nie: Sodra hy briek en stop, kom gooi die plaaspad van agter af ’n laag poeierfyn stof oor daardie silwerskoon swart duco van sy Merc. Hy verpes dit soos niks anders op aarde nie.

    Binne, die vensters bottoe teen die stof, word almal nog ’n paar grade rooier. Verder tot op die dorp is dit net my ma se parfuum wat al hoe sterker bedwelm, soet en dik en donkergoud – gewoonlik ’n teken van liefde wat aankom na jou toe, maar op Sondae op daardie sweterige agtersitplek kan dit jou amper uitsit.

    As ons oor die brug die dorp binnery, is dit hoofsaak in my pa se kop of hy daardie skaduwee onder een van die ligusterbome in die systraat gaan kry. Of het oom Koot met sy Pontiac dit nou weer vanoggend gaan staan en steel?

    Beskeie huisies op en af in daardie systraat langs die Gereformeerde kerk, gebouwd deur onze Vaderen 26 November 1860; nagmaalhuisies, gebruik deur boere wat baie diep die distrik in bly en net een keer per kwartaal kon inkom.

    Dat hulle voordeur toe was, was te verstane, maar die ander voordeure was ook almal toe. Seker maar arm mense wat Saterdagaande kwaai gedrink het en nie wil laat sien dat hulle nog lê nie.

    Dit is wat ek opgemaak het terwyl ons so op ’n skewe ry verbystap en met die leikliptrap opklim.

    Ons bank sou niemand vat nie, dis ’n ongeskrewe wet. Voor ons sit die Hennings in hulle bank, agter op ons koppe kyk die Groblers, skuins links voor sit die Van Wyks, regs die Krugers, die Du Plooys, nog Venters, al daardie ou Doppervanne.

    Die Gereformeerde kerk, gebou in die Gotiese styl en ontwerp deur ’n Duitse argitek met drie balkonne en drie diep vleuels, was natuurlik ook groot genoeg dat niemand iemand anders se bank hoef te vat nie. (Vandag kan Burgersdorp se hele wit gemeenskap van om en by 1400 mense in daardie kerk inpas.)

    Moet ek al begin stories opmaak om my deur die diens te kry? Amper.

    Seënbede word uitgespreek met die dominee se arms uitgestrek van oos tot wes, dan volg die voorlesing van die Tien Gebooie.

    Hoekom sal jy nou jou naaste se esel begeer? Sy vrou, miskien, as jy eendag groot is.

    Wanneer die voorlesing uit die Ou Testament begin, weet ek dis tyd om te begin opmaak. Van nou af en regdeur die eerste lang gebed is dit hel, maar dit mag jy nie sê nie, want die hel is ’n duisend maal warmer, en daar is duiwels met harige puntore wat drietandvurke in jou boude druk.

    Al met die gewelwe van daardie spierwit dak stap my oë, al met die paadjies langs tussen die spierwit vierkantige koeke wat daar in rye vasgeplak is.

    Hoe het hulle dit reggekry? Hoe bly dit eeue lank so spierwit?

    Op en af gly ek na die regter- en linkerbalkon wat gemors word, want hy staan leeg en ’n mens sou so diep daar kon wegkruip en indut.

    Dan na die sentrale kandelaar met sy dik maag van perlemoenglas en vier fakkels, almal aan die brand met so ’n milde lig wat jou moet help om jou naaste lief te hê soos jouself.

    En die dik goue ketting wat daardie lamp, die grootste en swaarste wat ek nóg gesien het, vashou tot bo in die spierwit gewelf waar hy reg in die middel van versiersuikerkrulle vasgemaak is en vir seker eendag gaan afval bo-op die diakens.

    Die lang gebed. Staan op, fluister my ma sag as ek nog nie op is nie. Nou mag jy nie meer jou oë oopmaak nie. Nou is dit net eenstryk deurdruk.

    Jy begin deur op jou hakke te staan en dan probeer jy op die brug van jou voet staan en dan op jou tone so lank soos jy kan.

    Eenkeer moes ek die bank voor vasgryp en raak toe per ongeluk aan tannie Bets se skouer, plomp en warm.

    Visse begin ek onderskei onder die waters van die aarde en voëls wat vlieg op die golwe van die wind, swewe, swewer, swewendste, sweet tussen my boude en sweetdruppels een, twee, drie uit my kieliebakke en ’n duiseling begin stadig posvat al baklei ek hóé daarteen.

    En die dominee is nou eers by die armes van die aarde, dié wat nie so geseënd is soos ons nie, dan kom die ou mense nog en al die siekes op die dorp en op aarde en dan die wysheid en geduld wat na die regeringsmanne toe moet gaan.

    Ek is klaar met al die swewende en swemmende skepsels en die duiseling begin my vasvat in sy sweterige palms, min of meer soos een van die duiwel se adjudante jou vasvat net voordat jy iets groots wil gaps.

    Nou word dit pure psigedeliese (ek het die woord eers op hoërskool geleer) borrels binnekant borrels en wilde, galopperende strepe.

    Moet nou maar eers my oë oopmaak. Twee deure links en regs agter die preekstoel lei na die konsistorie, elkeen van donker hout met die mooiste goudbruin venstertjies.

    In die middel van elke venstertjie is ’n goue lekkertjie. Tussen die twee rye van vyf venstertjies elk is daar vier klein ronde gaatjies.

    Baie min mense weet van hulle en nog minder dat Brolloks se geel oog wat na Skoonlief geloer het, net mooi daarin sal pas – vanaand gaan my pa dalk vir ons uit Langenhoven lees.

    Amen. ’n Blou golf lig val hoog uit die linkerkantste gepunte venster oor die gemeente, nes die Duitse argitek dit bedoel het. Dankbaar kug die susters, die konsentrasie uiteindelik verby. Dankbaar gaan sit die broeders. Sit is skielik hemel op aarde.

    *

    text2.tifimage4.tif

    Die ander Auschwitz

    Min mense weet dat Auschwitz ook ’n dorp is, een met skoolkinders en winkels en gewone mense wat in die sitkamer voor die TV sit en ’n ordentlike lewe probeer lei. Teen 1940 het die Duitsers twee konsentrasiekampe, Auschwitz en Birkenau, hier in die suidweste van Pole begin oprig. Die dorpsmense het nie daarvoor gevra nie, maar dit was reeds besette gebied en die Duitsers kon maak wat hulle wil. Die breuk tussen die dorp en die konsentrasiekampe is tot vandag toe daar.

    Eintlik moet die dorp op sy Poolse naam genoem word, naamlik Oświęcim, maar byna sonder uitsondering hoor jy Auschwitz. Oor die jare het die naam Auschwitz ook sinoniem geword met die Volksmoord van die Jode en vir een van die grootste vergrype teen die mensdom.

    Stel jou nou voor om op ’n dorp met so ’n geskiedenis groot te word: Auschwitz is waar jy skoolgegaan het, dis waar jou ouers en jou oupa en ouma bly, by daardie winkel het jy altyd lewerwors en rogbrood gaan koop, hierso blikkies bier. Die breuk tussen Oświęcim en Auschwitz-Birkenau lê vas; vir die mense van Oświęcim beteken dit volslae ontmagtiging.

    Paweł Zajas is ’n Poolse vriend van my. Hy het in Oświęcim grootgeword en sy ouers woon tot vandag toe daar. Sy oupa-hulle ook – hulle bly in een van daardie woonstelblokke uit die kommunistiese era.

    Paweł lag maklik oor dié soort goed. Hy gaan wys vir my sy skool, ’n gebou waarop enige leerling trots kan wees. Net jammer dis in Auschwitz. In my geselskap huiwer hy nie om sy dorp so te noem nie. Hy beskik oor al drie die gawes waarmee die Pole twee wêreldoorloë, besettings en die partisie oorleef het: gesonde sinisme, ’n oor vir ironie en ’n goed ontwikkelde aptyt vir Poolse bier.

    Deesdae is Paweł medeprofessor aan die Instituut vir Filologie en Engels aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Pozna´n en gaan kuier nog gereeld in Auschwitz.

    Vandag is Auschwitz-Birkenau ’n museum, in der waarheid museums van heilig verklaarde begraafplase. Wil jy na die konsentrasiekampe gaan kyk? vra hy my. Ek weet nie … ons het immers ons eie. Nee, jy moet, sê Paweł, dis deel van jou lewensopvoeding.

    Paweł het reeds ons dag beplan. Sy pa, Wieslaw, is ’n taxibestuurder en hy gaan ons Auschwitz toe vat. (Hoewel ons reeds in Auschwitz is – dís hoe problematies die gebruik van die naam is: Ons praat hier van die konsentrasiekamp, maar dis ook die Zajas-familie se tuisdorp.)

    Wieslaw bied vriendelik aan om ons ná twee uur weer by die hekke te kom oplaai en dan Birkenau toe vat, die tweede en veel groter konsentrasiekamp naby Auschwitz. Daarna gaan ons by die Zajasse se huis iets eet en dan gaan ons koek en vodka geniet by sy Oupa Mieczyslaw-hulle. Sy ouma gaan spesiaal bak.

    In sy taxi gesels ek en Wieslaw in elementêre Duits wat hy tydens die oorlog en ek by die PU vir CHO aangeleer het. As ons nie regkom nie, tolk Paweł. Werkloosheid en gepaardgaande armoede in Oświęcim is aan die orde van die dag. Die implikasies om Auschwitz-Birkenau binne sy munisipale grense te hê is byna ondraaglik. Veral Paweł is uitgesproke hieroor. Oor die jare heen was daar min of geen ontwikkeling hier nie. Groot toerbusse ry in en weer uit, maar oornag nooit in Oświęcim self nie. Die ekonomie het lankal gaan staan.

    Nadat ons die toegangsgeld betaal het, stap ons onder die ingangsboog met sy skreiende leuse van arbeit macht frei (arbeid maak vry) die konsentrasiekamp van Auschwitz binne. Die netheid van die paaie tussen die eweneens netjiese rooibaksteenblokke, die ordelikheid van die kamp, sou elders rustigheid skep, maar hier is dit ’n voorbode. Regs van ons is messelaars besig om een van die blokke te restoureer.

    In die geskiedenis sal dit so staan: Die Duitsers het die konsentrasiekampe gebou, die Pole het dit in stand gehou, lag Paweł. Ironie is die gepaste houding.

    Dieper die kamp in, die son so ’n skraletjie. Ten spyte van heelwat ander toeriste bly die plek swaar en leweloos, en uiters boosaardig. Ons stap van die blokke binne – daar is altesame sewe en vyftig. Elke blok verteenwoordig die tereggesteldes van ’n bepaalde land, byvoorbeeld Blok 14 – Rusland, Blok 15 – Pole, Blok 20 – Frankryk en België, en so aan. Blok 11 is bekend as die doodsblok. Duisende gevangenes, hoofsaaklik Pole, is hier aangehou, ter dood veroordeel en teen die teregstellingsmuur geskiet. In die kelder van blok 11 is gevangenes ook vir die eerste keer in September 1941 met Sikloon B-gas uitgewis. Die Duitsers het die gas laat vervaardig in wat voorheen ’n chemiese fabriek in Oświęcim was. Later het die einste fabriek weer verf vervaardig. Paweł se moeder het toe ’n ruk lank daar gewerk. Daar is ’n historiese vervlegtheid tussen die dorp en sy mense, en die konsentrasiekampe, iets waaroor hulle nooit self kon besluit nie.

    In sekere blokke is vertoonkaste van glas so groot soos slaapkamers. Daar is ’n glaskas vol gebruikte Sikloon B-gas-houers – wat nog min of meer kan gaan. Dis die glaskaste met die persoonlike dinge wat jou ruk: Een is net vol tasse, elk met die naam van die eienaar daarop. Ines Meyer van Keulen of Jette Messing van Steindler. Een van die glaskaste is net vol skoene en brille. In ’n normale museum word ’n skoen ten toon gestel as voorbeeld van ’n vroeëre styl, ’n bril oor sy antieke waarde. Hierdie persoonlike besittings is van mense se voete en kop afgeruk. Die geweld van die handeling skuil in daardie leë skoene en nuttelose brille, skuil oral waar ons in die kamp kom. Dis waarom dit heeltyd so onheilig voel.

    Die ontstellendste is egter die glaskas – onthou,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1