Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kat in die Hoenderhok
Kat in die Hoenderhok
Kat in die Hoenderhok
Ebook233 pages3 hours

Kat in die Hoenderhok

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Kat in die Hoenderhok lyk op die oog af dalk soos 'n soort outobiografie, maar die skrywer is nie 'n oud-president, -Springbokkaptein of suksesvolle sakeman nie. 'n Outobiografie is dit dus nie.

Kat in die Hoenderhok beskou die 'goed' in die goeie ou dae van die vorige politieke bedeling op die keper, aan die hand van 61 ware verhale. Die lewensintriges van die skrywer en sy mense, word bekyk teen die agtergrond van die politieke- en gepaardgaande godsdienstige opvattings van die tyd.

Dis 'n ernstige boek oor 'n ernstige onderwerp, maar volop komiese verligting kom gereeld voor om Kat in die Hoenderhok 'n aangename leeservaring te maak.

Lesers wat wel die ou Suid-Afrika beleef het, sal waarskynlik hierdeur geprikkel word om hul eie grootwordstories te herroep. Jonger lesers wat die ou Suid-Afrika misgeloop het, vind dalk hier 'n bietjie stof tot dankbaarheid.

Met trots aangebied deur Crystal Lake Uitgewers / Publishing

LanguageAfrikaans
Release dateSep 3, 2017
ISBN9781386959427
Kat in die Hoenderhok

Related to Kat in die Hoenderhok

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Kat in die Hoenderhok

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kat in die Hoenderhok - Amos van der Westhuizen

    ’N LESERSINDRUK—LEANA LATEGAN, HOOFVAKKUNDIGE BY NALN

    Bestekopname is ’n natuurlike menslike behoefte, en skrywers was nog altyd barometers van gebeure en emosies wat Jan Alleman ervaar. Amos van der Westhuizen onderneem in hierdie bundel ’n reis deur ’n groot stuk van sy grootwordjare, vanaf 1976 tot 1994. Op ’n interessante wyse word die vertellersperspektief van die klein kind ingespan om op ’n onbevange wyse die outobiografiese lewe in te kleur: Die aard van vriendskappe en verhoudings word ondersoek; die gesins-en familiedinamiek kom in die spel, en die leser ervaar saam met die ouerwordende seun die verwikkelde en soms oorweldigende werklikheid daarbuite. Politieke, en sosiaal-maatskaplike gebeure wat ’n beslissende impak op Suid-Afrikaners gehad het, word in herinnering geroep; sportgebeure word entoesiasties onthou; so ook skooldae, weermagdae, sensuur, vakansietye as student, en hulp met sy pa se boerdery. Die vertellings oor studentedae is kleurryk en lewendig. Sonder dat die leser dit gewaar, het die onskuldige kinderstem in dié van ’n jongman verander, en word die inhoud van die episodes spontaan aangepas.

    Elke vertelling word afgesluit met ’n besinnende Terugblik, wat onmiddellik ’n sekere diepgang aan die teks besorg, en die persoonlike aard van die nostalgiese inhoud vir ’n wyer lesersgroep verruim. Die blywende indruk wat ’n mens van hierdie bundel vertellings oorhou, is die besef dat dit inderdaad ander tye was, vroeër. Hierdie vertellings belig, en sê veel oor die aard van die menslike psige, en die verhoudings tussen mense oor verskillende grense heen. Lesers wat met hierdie bepaalde tydperk in Suid-Afrika kan identifiseer, sal veel genot uit die vertellings put, en op ’n heerlike herinneringsreis gaan.

    VOORWOORD

    Grootword in die ou Suid-Afrika was vir die meeste wit kinders ’n sorgelose ervaring in ’n beskermde omgewing—op die oppervlak in elk geval. Voeg daarby dat ’n mens se geheue meestal die slegte uitsny, dan kan herinneringe maklik die vorige bedeling na Utopia laat lyk.

    Hierdie boek gaan daardie prentjie uitdaag of jy nou in Toronto se sneeu, London se grysheid, Oosterse vreemdheid, onder Australië se magdom wette en regulasies, in Christchurch se koue of agter ’n duiwelsvurkheining en veiligheidshek in die nuwe Suid-Afrika sit en terugverlang.

    Dis stories uit my eie lewe én die van mense om my oor wat fout was met die ou Suid-Afrika. Vandag het die woorde ‘politieke korrektheid’ ’n negatiewe reaksie op die meeste mense. Wel, in die ou dae was politieke korrektheid omtrent allesoorheersend, veral omdat daar feitlik geen skeiding tussen staat en kerk was nie. Onpatriotisme en kettery was sondes wat as etikette gehang is om die nekke van hulle wat durf waag het om anders te wees.

    Hierdie boek vertel stories van groot politieke gebeure gesien uit die oog van ’n kind met beperkte perspektief uit die relatiewe isolasie van die verre platteland. Dit vertel ook hoe iets soos diensplig my al op negejarige ouderdom beïnvloed het. Dit vertel van politieke verskille in die huis, vriendekring en gemeenskap.

    Belewenisse van sportisolasie, klein-Apartheid, amper heilige politieke leiers, politiek in my eie sport, vooroordele en klasverskille word verhaal. Die meeste van ons is deur die meul van katkisasie en belydenis van geloof, maar as jy enkele weke voor jy ‘aangeneem en voorgestel’ word, in ’n potensiële skandaal betrokke is, strek die implikasies veel wyer as net kerklidmaatskap.

    Dan is daar die tyd van rooi hakskene. Ontdekking van die teenoorgestelde geslag met die gepaardgaande sondes soos vry en dans en die doodsonde van voorhuwelikse seks wat jou reguit hel toe kan stuur. Wee die ongehude moeder voor die kerkvaders. Die tyd van verlore liefdes en onrealistiese drome is ook die tyd waar die plattelandse rassisme waarmee jy grootword jou eendag verraai voor die meisie wat Apartheid aktief beveg.

    Koshuislewe en die gepaardgaande kattekwaad word geskets. Min dinge was normaal. ’n Ruit wat breek in ’n seunskoshuis is normaal, maar as dit gebeur op Sowetodag, enkele maande na die Kerkstraatbom, is dit iets anders.

    Dissipline is afgedwing met lyfstraf. Alle volwassenes is eerbiedig ge-oom en -tannie. Daar is met vrees regeer en enige misstap kon jou in ’n blits laat buk vir iemand om sy of haar woede en frustrasie op jou sitvlak uit te haal.

    Dis ook die tyd van vriendskappe wat beproef word. Een van hulle, ’n jarelange komplekse een, met ’n meisie natuurlik, vorm my jongmenslewe. Sommige vriendskappe oorleef, ander nie.

    Enkele onderwysers en hul invloed word uitgelig. My voorbeelde is waarskynlik baie tipies: Daar is die hart-en-siel onderwysers wat alles vir jou sou doen, die outoritêre latswaaiers, die sagte intellektueles en die slapgatte. Die kortste storie vertel in net 153 woorde hoe ’n onderwyser in dieselfde asem kon dreig met geweld, God en staatspresident gelykstel en dan bid tot ’n liefdevolle God.

    Op universiteit is daar dan ook politiek. Vir my draai dit meestal om die koshuis waar ek was. My universiteitsjare was die tyd van ’n groot vriendskap en ook ’n groot liefde. Dié keer uiteindelik darem wedersyds, maar in die skaduwee van die komende diensplig en die bly-of-gly vraagstuk.

    Dan uiteindelik diensplig wat ek seker kon vryspring as dit nie was vir ’n belediging uit my prille jeug wat ek verkeerd wou bewys nie. My army stories verskil egter van meeste ander wat jy sal hoor. In 1993, net na die Nag van die generaals, was die weermag uit my oogpunt ’n organisasie sonder ’n doelwit bestaande uit mense in vertwyfeling.

    In my dienspligjaar staan ek vriende aan die dood af. Nie mede-dienspligtiges soos my voorgangers op die grens nie, maar vriende oor die kleurgrens wat vir my groot verliese was, maar in ons kultuur gesien as net nog ’n onbenullige en goedkoop swart lewe.

    As John Vorster, Connie Mulder, Inligtingskandaal, P.W. Botha, André P. Brink, H.S. van Blerk, Noodtoestand, Betogertoer, Rebelletoer, Pik Botha, Suidwes, Martti Ahtisaari, Resolusie 435, UNTAG, Kerkstraatbom, Koos du Plessis, sanksies, disinvestering, diensplig, Angola, Chester Crocker, Jonas Savimbi, Samora Machel, Kodesa, referendum, Boipatong, Bisho, Chris Hani, F.W. de Klerk en Nelson Mandela herinneringe by jou oproep is dié boek waarskynlik vir jou.

    Maar moenie bekommerd wees nie, die boek gaan nie daaroor nie. Dis nie nog ’n politieke- of bosoorlogboek nie. Dis stories oor gewone mense met gewone lewens wat staan teen hierdie agtergrond. Die stories is grotendeels waar. Hier en daar moes ek die tyd van die storie skuif om parallel te kom met geskiedkundige gebeure en my geheue aanvul met ’n bietjie verbeelding.

    Die boek poog nie om enigiemand te veroordeel nie. Met die stories van familie, vriende, onderwysers, meisies, teenstanders en selfs vyande probeer ek met deernis en hier en daar selfs ’n skeut humor te illustreer hoe ons maar almal op ons eie manier en in verskillende omstandighede geswem het in die golf van die geskiedenis. Waar daar derms uitgeryg word is dit meestal my eie.

    Om stories so outentiek as moontlik te hou, gebruik ek mense se regte name sover moontlik. In stories van sensitiewe aard, waar mense benadeel kan word, gebruik ek skuilname en dui dit aan met ’n asterisk (*). Waar een persoon se naam so aangedui word, geld dit ook vir familielede.

    1. DAAR IS ’N KAT IN DIE HOENDERHOK

    Gariep 1976

    Nee, dis nie die Verwoerddam wat Gariep geword het in die nuwe Suid-Afrika, of een van die baie ander plekke en besighede wat ewe skielik onder die Gariepnaam bedryf word nie. Dis die enigste Gariep in die ou Suid-Afrika:

    Gariep is deel van die benede Oranjerivier-besproeiingskema. Gariep lê tussen Groblershoop en Upington langs die Oranje. Gariep het ’n laerskool. Oorkant die rivier is Grootdrink. Daar is ’n Algemene Handelaar, BF Duraan en Seuns, ’n poskantoor, Grootdrink NG kerk en ’n lokasie vir die bruinmense.

    Ek is in Sub B (graad 2). My juffrou is tannie Sophie Krapohl. Haar dogter, Veronica, Wilhelm van der Westhuizen en Dirk Steenkamp, is saam met my in die klas van laasjaar. Klasie Louw, wat Sub B gedruip het, is ook nou saam met ons. Ons deel die klas en die juffrou met die Sub A’s en die Standerd Een’s, want die skool het net drie onderwysers en omtrent vyftig leerlinge.

    My lewe is lekker. Ons woon al so twee jaar in ons nuwe huis wat heelwat groter is as die oue. Ons het nou lopende water in die huis, so dis nie meer nodig om in die aand al die pad na ’n puttoilet toe te stap nie. Ouboet Dawie, wat laas jaar matriek was en nou vir die poskantoor werk as tegnikus en Chris wat in matriek is, het die huis bedraad. Pa het ’n Lister-enjin gekoop om krag op te wek. Nou het lanterns, olielampe en kerse ook uit ons lewe verdwyn. Die Lister se water moet so een of twee keer deur die loop van die aand aangevul word, maar dis ’n klein prys om te betaal.

    16 Junie 19h00: Ons het klaar aandete gehad maar sit nog om die kombuistafel. Etenstyd word bepaal deur sononder en in die winter is dit vroeg. Pa sê, Gaan haal die boeke. Ek loop na Pa en Ma se kamer en kry die Bybel, twee psalm- en gesangeboeke en twee hallelujaboeke. Terwyl ek loop hoor ek die man op die Radionuus iets sê oor die polisie wat op ’n oproerige skare geskiet het. Hulle praat ook van onluste.

    Ek wil weet wat onluste is, maar die antwoorde is ontwykend. Ek kon netsowel gevra het waar ek vandaan kom. Pa sê iets van ’n kat in die duiwehok wat ek nie verstaan nie.

    Na die nuus, skakel ma die draadloos af. Pa lees uit die Bybel. Daarna kniel Pa, Joos (standerd vyf), Hannes (standerd drie) en ek by ons stoele. Ma bly sit. Pa bid vir die regering en die moeilike besluite wat geneem moet word en vir die manne wat op die grens vir ons veiligheid moet veg en omvattend vir omtrent elke saak waaraan jy kan dink. Ma bid ook, maar gelukkig nie so omvattend soos Pa nie. Ons sê eenvoudige kindergebedjies, maar die manne op die grens kom daar óók voor.

    Pa vra voorstelle vir ’n lied. Ek kies Halleluja lied 444: Wat ’n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan?

    Laatnag skrik ek wakker uit ’n diepe slaap van ’n helse geraas by die hoederhok en Pa wat opstaan om met flitslig en geweer buite toe te gaan. Toe hy later terugkom, hoor ek hom saggies met Ma praat. Ek kan nie uitmaak wat gesê word nie, maar hulle klink bekommerd.

    Dis nou al ’n paar weke wat daar sporadies van Ma se rooi hoenders gevang word, een op ’n slag. Ons het al alles gedoen om die hok meer katbestand te maak. Ons het selfs ou oliedrommetjies op die hok se pale omgekeer sodat ’n kat nie bo-oor kan klim nie. In die oggend hoor ons dat die probleemkat weer in die hok gekom het. Hy het seker gesukkel om uit te kom en toe mal geword. Nege van Ma se henne is doodgebyt. Die kat het nietemin weggekom.

    In die dae wat kom word die veldtog teen die kat verskerp met alles wat ons het. Slagysters en vanghokke word met presisie gestel en soggens nagegaan, maar die kat bly ons ontwyk. Ek loop getrou soggens vroeg in die winterkoue saam met Pa om te gaan kyk. Selfs toe die vakansie aanbreek bly ek getrou in hierdie taak.

    Intussen het Joos ’n paar takke uit bome afgesaag, op so ’n manier dat daar aan die een punt ’n knoets van die groter tak bly sit. Hy het dit ’n bietjie afgewerk om redelik ruwe knopkieries te maak. Dit, sê hy, is om ons te verdedig as die onluste by ons ook kom.

    Een mooi môre maak Pa my weer wakker om te gaan kyk. Hy sê hy sal vanoggend die vanghok by die kraal gaan kyk, dan kyk ek die een by die houthoop. Na al die bome wat met 1974 se vloed uitgespoel het, het ons ’n groot houthoop wat ma se koolstoof vir jare aan die gang sal hou.

    Die hok by die houthoop is eintlik vir ape gemaak en nie vir katte nie. Ape gee soms probleme in die wingerd of hulle kom verniel die grondboontjiehope op die lande. Dié hok se valdeur is dus bietjie groter as die ander een. Terwyl ek nader kom sien ek dat die deur geval het, maar ek weet al dit beteken nie noodwendig sukses nie. As die toutjie met die aas net te fyn gestel is, val die deur soms vanself.

    Ek druk my kop teen die sifdraad om te sien wat agter die valdeur aangaan. Die verwoede kat spring teen die draad reg voor my gesig op. Ek ruk agteroor soos ek skrik. Pa het natuurlik reeds geweet van die kat, so hy het agter die houthoop staan en loer. Hy lê soos hy lag vir my wat skrik én van lekkerkry oor ons die vuilgoed gevang het. Die kat het oor ’n paar weke tydperk in totaal twintig hoenders gevang.

    Omdat ek so getrou help kat jag het, is dit my voorreg om die teregstelling waar te neem. Die .22 is te lank om teen my skouer te druk, so ek knyp hom onder my arm vas om die taak af te handel.

    Ek sou nog baie hoor hoe die storie van die skade met die kat en my skrik met kleur en geur oorvertel word. Ma se hoenders sou weer meer word, sodat ons gereeld ’n slaghoender het en genoeg eiers om te eet.

    Daar is nie meer ’n kat in die hoenderhok nie en alles is klopdisselboom. En vir eers was kommer oor die kat in Soweto se duiwehok ook oorbodig vir hierdie sewejarige. Ons het immers Joos se kieries.

    Terugblik:

    Ek het in onlangse jare op TV gehoor hoe ooggetuies van 16 Junie 1976 in Soweto vertel, dat die vonk in die kruitvat ’n polisiehond was wat losgeruk het. Die hond was berserk, het die skare aangeval en is deur hulle gedood in die daaropvolgende chaos. Ek kon dus nie help om die storie aanmekaar te sit toe ek onthou van die gelyktydige gebeure tuis nie.

    2. DIE NAT SEUNTJIES GAAN NIE ARMY TOE NIE

    Donderdag, 28 September 1978

    Ons sit almal met gespanne aandag en luister na die draadloos. Die Nasionale Party waarvoor Pa ’n ywerige werker is, se koukus sit vandag in die Kaap om ’n nuwe eerste minister te kies na die bedanking van John Vorster. Die kandidate is P.W. Botha, Pik Botha en Connie Mulder.

    Ek, Pa en Hannes sit voor die draadloos. Ma werk in die kombuis. Joos is nou, soos Dawie en Chris voor hom, in HTS Upington in die koshuis. Chris was laasjaar op Tukkies om ingenieurswese te studeer, maar het opgeskop na een jaar. Hy werk nou saam met ouboet Dawie as tegnikus by die poskantoor. Omdat hulle as tegnici by die poskantoor werk, gaan hulle nie weermag toe vir diensplig soos meeste ander skoolverlaters nie.

    Ek dink Pa wil hê P.W. moet wen of Pik as alternatief. Vir een of ander rede is hy nie positief oor Connie Mulder nie. Dit het iets te doen met ‘inligting’ wat ek nie verstaan nie.

    Die omroeper beskryf hoe die hele optog by die Senaatsaal uitkom. Op die trappe word die aankondiging gemaak: P.W. Botha is die nuwe eerste minister.

    Die Sondag stop Pa ook na kerk by BF Duraan en Seuns om die Rapport te koop. Hy doen dit nie normaalweg nie, maar vandag is daar ’n bylaag oor die nuwe eerste minister. Daar is foto’s van P.W. saam met sy gesin en met hulle pragtige perde. P.W. met ’n pak en ’n hoed op die perd en ander met die perde ingespan voor windmaker kapkarre.

    In die eerste week van die vierde kwartaal gee die nuwe juffrou ons ’n taak—om inligting te bring oor die nuwe eerste minister. Gariep Laerskool het altyd een nuwe juffrou. Sy is dan vir ’n jaar die nuwe juffrou en gaan dan weg aan die einde van die jaar. Dan sê hulle altyd hulle wil na ’n plek toe gaan wat nie so warm is nie. Ek reken met een jaar ondervinding kan hulle dan seker ’n pos op ’n koeler plek kry.

    Ons is nou standerd twee (graad vier) en deel die klas met die standerd drie’s.

    In elk geval, ek maak ’n mooi taak met die hulp van uitknipsels uit die Rapport-bylae. Pa sê as die juffrou vra waar ek die mooi prente kry moet ek net sê, Stem Nasionaal! Ma sê hy moenie moedswillig wees nie, maar in die klas het ek toe iewers die ‘Stem nasionaal’ ingewerk. Die juffrou sê ons moenie politiek praat by die skool nie.

    Veronica Krapohl vra of die grand mense ook toilet toe moet gaan soos gewone mense. Die juffrou verduidelik dat hulle ook net gewone mense is al lyk hulle so grand.

    Buite op die speelterrein vind ek uit nie almal dink P.W. Botha is wonderlik nie.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1