Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

'n Palet vol vreugde: 366 dagstukkies
'n Palet vol vreugde: 366 dagstukkies
'n Palet vol vreugde: 366 dagstukkies
Ebook772 pages6 hours

'n Palet vol vreugde: 366 dagstukkies

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Aletté Winckler, influencer, voorkomskonsultant, vrou en ma neem jou met hierdie 366 dagstukkies nader aan God. Sy daag jou reguit uit om die Here te vertrou in elke aspek van jou lewe: van ma-wees, jou gesin se finansies, die toekoms en negatiewe gedagtes tot jou selfbeeld, loopbaan en nog soveel meer. Ontdek saam met Aletté God se palet vol vreugde vir elke dag. Met insette van vriendinne soos Marciel Hopkins, Anel Alexander, Christi Panagio, Donnalee Roberts-Botha en Chireze Hoogendyk.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 17, 2021
ISBN9780796321381
'n Palet vol vreugde: 366 dagstukkies
Author

Aletté-Johanni Winckler

Aletté het ’n graad in joernalistiek en is ’n gepubliseerde skrywer, motiveringspreker, liedjieskrywer, TV-aanbieder en stylkonsultant. Aletté en Heinz is die trotse ouers van vier pragtige kinders. Hulle woon in Somerset-Wes, Wes-Kaap. 

Related to 'n Palet vol vreugde

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for 'n Palet vol vreugde

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    'n Palet vol vreugde - Aletté-Johanni Winckler

    Voorwoord

    Wat ’n voorreg om my vingers, gedagtes, hart en openbarings neer te pen in ’n dagstukkieboek vir vroue van verskillende ouderdomme. Ek skryf nie hierdie boek uit ’n plek van ek weet alles en daarom moet julle vir my luister nie, maar eerder ek wil hierdie pad om die Here op ’n dieper en meer lewende wyse te leer ken, saam met elkeen van julle stap.

    Met die skryf van hierdie boek het ek ’n klomp vroue nader getrek om te help dink, te help droom en om sommer net my eie horisonne te verbreed. Ek wou hoor wat in ander vroueharte aangaan. Ek wou weet ek lug nie net my opinie oor sekere onderwerpe nie. Daarom het ek vroue van elke ouderdom en sfeer van die lewe genader om te hoor wat dink húlle (júlle) van geloof, die huwelik, ma-wees, seks en gewig (om maar ’n paar te noem). Ek het ’n onderwerp gegee en gevra vir die eerste woorde wat by hulle opkom, en ek gaan deurgaans in hierdie boek daardie eerste woorde met julle deel.

    Omdat daar so baie fasette van vrouwees is, wou ek die boek nie een­dimensioneel skryf nie, maar uit elke moontlike hoek. Ek wou ook elke moontlike algemene area in die vrou se lewe dek. Daarom is my go-to-vers vir die jaar so mooi van toepassing:

    Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys. Moenie jou eie wysheid oorskat nie. Hou eerder die Here voor oë en vermy wat sleg is.

    – Spreuke 3:5-7

    Dit is waardevol om hierdie gedeelte ’n paar keer te lees met die klem op verskil­lende plekke. Vertrou op die Here met ALLES wat jy het. Moenie staatmaak op jou EIE INSIGTE nie! Die Engelse vertaling stel dit so mooi: Trust in the Lord with ALL your heart and lean NOT on your OWN understanding (NIV, be­klem­toning deur die skrywer). Verder sê dit: Vra na die wil van God in ALLES wat jy doen.

    Predikers sal soms van die kansel af grap en vra: Wat dink julle is die oorspronk­like Griekse vertaling vir die woord ‘alles’? en dan sal hulle hulself sommer vinnig antwoord met: Alles! As die Bybel sê: Moet oor niks bekommerd wees nie … dan moet ons oor niks bekommerd wees nie. Ons kan nie uit ons eie vleeslike mens­wees besluit dit is nie wat hulle werklik bedoel het nie, want kom ons wees nou maar eerlik, die Bybel is 2 000 jaar gelede geskryf voordat daar koronavirusse, MIV, aard­verwarming, plaasmoorde en seksslawerny was. Sekerlik sou daar eerder ge­staan het: Eintlik moet jy oor niks bekommerd wees nie, maar omdat julle in die 21ste eeu leef met soveel uitdagings, pandemies, geweld, droewige ekono­miese tye, huwelike wat verbrokkel, internet-affairs, en so meer, kan julle maar ’n bietjie be­kommerd wees. Nee! Die Woord van God bestaan buite tyd. Dit was van toe­pas­sing voor die grondlegging van die aarde en dit gaan van toepassing wees tot nadat Jesus teruggekom het om ons op hierdie aarde te kom haal en ons terug te vat na die huis wat Hy tans besig is om vir ons gereed te maak.

    Terug by Spreuke: Vertrou die Here met álles wat jy doen. Ons gaan deur die loop van hierdie boek uitgedaag word om die Here te vertrou in ons ma-wees, sekslewe, finansies, die toekoms, negatiewe gedagtes, ons selfbeeld, in beserings, in ons loopbaan, in oefe­ning en nog soveel meer.

    Hierdie boek het twee vereistes: Jy moet elke woord glo wat uit die Bybel kom, en jy moet oop wees om uitgedaag te word! Kom geniet hierdie reis saam met my.

    Baie liefde

    Januarie

    1 Januarie’n Nuwe begin

    Hierdie maand sal van nou af die belangrikste maand wees. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin.

    – Eksodus 12:2

    By Jesus kry ons overasamasses

    Elke dag is ’n nuwe begin. Ons het elke liewe dag die kans om beter keuses en besluite as gister te maak, om meer te leer, om meer te groei. ‘Be a work in progress ’till the day you die!’

    ~ Christi Panagio

    Ons kry nie net in Januaries die geleentheid om ’n nuwe begin te maak nie, maar ek weet Januaries het gewoonlik die vermoë om ons te inspireer om uiteindelik by dié dinge uit te kom wat al baie lank op die lysie wag.

    As die jongste van vier kinders het ek grootgeword met die sêding overasamasses wat in my kleindogtertjiebrein gepaardgegaan het met iets wat baie groot of enorm was. Maar soos met baie ander misplaaste woorde uit my jeug, het ek in my tiener­jare eers die storie agter overasamasses gehoor. My pa en oudste broer het albasters gespeel toe dié so in graad een was. Paul (my boetie) het begin deur aan te kondig: "Pappa, onthou, ek het overasamasses! en begin speel. Toe hy ná tien­talle beurte nie vir my pa ’n kans gee om saam te speel nie en dié hom daaroor uitvra, antwoord hy: Pappa, onthou, ek het overs as dit mis is!" Met ander woorde: As jy raak gooi, kry jy nog ’n kans; as jy mis gooi, kry jy overs; so uit die staanspoor is dit over met jou opponent wat net nooit ’n beurt gaan kry nie.

    Dit is die hart van Jesus. Dit is die hart van Christen­skap. Dit is die hart van hoe ons ge­maak is. Deur Jesus se kruisdood en opstanding het ons elke dag "overs as dit mis is". Mag jy met die aanbreek van die nuwe jaar met oortuiging weet dat jy overs kry as jy dalk verlede jaar iets gemis het.

    2 JanuarieFinansies

    Dit is die Here se seën wat rykdom bring. Hy gee nie hartseer daarmee saam nie.

    – Spreuke 10:22

    Hoe ryk is jy vandag?

    God se grootheid en goedheid is meer as die rand-en-sent-waarde in ons bankrekenings. Ek kan nie sy getrou­heid aan my bankstaat koppel nie.

    ~ Karien Basson

    Die Here gee vir ons die sleutel tot rykdom in hierdie teksvers. Dit is die­selfde sleutel tot rykdom wat Hy al 2 000 jaar tevore vir sy uitverkore volk, die Jode, gegee het. Die Jode is dié rykste nasie op aarde en wat doen hulle elke Vrydagaand tydens Sabbat? Hulle was mekaar se voete, seën hul kinders en hulle seën mekaar.

    God het die ganse heelal en alles daarin met net sy woorde geskep. Ons is na God se beeld ge­maak, en daarom kan ons ook ons woorde ge­bruik om ander én onsself te seën. Wanneer laas het jy jou jaar, jou kinders, jou man, jou besig­heid, jou moederskap, jou verhoudings, jou in­vloed, jou gemeenskap, jou huishou­ding, jou bank­rekening, jou talente, jou drome en jou ideale geseën met die seën van die Here?

    Wel, hier is jou kans sommerso vroeg in die jaar. Neem ’n oomblik, skryf elke area van jou lewe neer waar jy graag die seën van die Here wil ervaar. Dink nou diep en innig na oor die Woord van die Here, spreek gereeld die seën uit en sien hoe die seën van die Here jou ryk maak, soos Hy in sy Woord belowe.

    3 JanuarieSeks

    Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle julle meer volkome aan gebed kan toewy. Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing.

    – 1 Korintiërs 7:5

    Wat is die gom van jou huwelik?

    Seks is die gom van ’n huwelik. Daarsonder is julle kamermaats wat langs mekaar die pad stap, nie saam met mekaar nie.

    ~ Kona Brown

    Seks is seker een van God se beste weldeurdagte planne waarmee Hy vorendag gekom het.

    Partykeer probeer ek myself verbeel dat ek ’n vlieg teen die muur kon wees in die lede­vergadering tussen God, Jesus en die Heilige Gees voor die grond­legging van die aarde waar alle strategiese, lewensvatbare, lewensomwentelende of sommer net álle besluite geneem is. Hulle sou dink aan ’n manier om mense één te maak. Om twee lig­game te ontwerp wat soos legkaart­stukke in­mekaar pas. Lewe sal dan ook op hierdie manier voort­spruit deur die intiemste daad waar twee mense op hul kwesbaarste sal wees. Dit sal die manier wees waarop daar ’n verbond gesmee word tussen twee mense en die uiteindelike manier waarop liefde aan mekaar betoon word. Dit sal eksklusief en duur wees, en vir iemand om dit te kan geniet, moet hulle hard daar­voor werk en daarvoor wag. Dit gaan selfop­offe­ring verg, maar dit sal die moeite werd wees.

    Ongelukkig was daar ’n ander vlieg teen die muur wat besluit het om hierdie ganse plan te vat en dit te verdraai. Hy het toe met ’n verwronge prentjie van seks vorendag gekom wat direk die teenoorgestelde is van die oorspronklike plan. Dit is goedkoop, maklik, met almal, selfsugtig en sonder enige eksklusiewe verbintenis. Dit is nie soos God dit wou gehad het nie.

    Kies om vandag die kwaliteit, intimiteit, eksklusiwiteit en heiligheid in jou sekslewe terug te sit. Vertrou dan die Here om dit wat die vyand by jou gesteel het te kom genees en vir jou terug te gee.

    4 JanuarieMa-wees

    Wat jy by hulle leer, sal jou lewe met goedheid kroon en ’n versiering wees om jou nek.

    – Spreuke 1:9

    Die hardste werk van jou lewe

    Oe dis lekker en dis moeilik en dis my grootste werk ooit! Niks is so lekker soos daardie armpies om my nek nie; om die lewe nuut te sien deur haar oë en saam met haar opgewonde te raak oor absolute nonsens. Die verant­woorde­lik­heid ruk my partykeer steeds om te weet dat al is sy reeds sewe jaar oud, speel ek steeds ’n ongelooflike groot rol in haar toekomstige grootmenslewe.

    ~ Marlese Wallis

    Nou die dag ontmoet ek ’n paartjie wat onlangs getroud is en ek kon sien hulle is nog pens en pootjies in die wittebroodfase van hul huwelik. Daar word gekoer en daar word geloer en al die grappies is nog snaaks. Vir enigiemand wat langer as tien jaar getroud is, is dit duidelik dat die realiteit van die huwelik nog gaan tref. Die werk, die opofferings, die baklei, die opgee, die oorgee, die vergifnis.

    Nét so is dit met ’n jong vrou wat droom van ’n baba en dan uitvind sy is swanger. Sy sien net pienkvoete en ’n soet geslaap en gesus op haar skoot, maar die nagte van brandboude, koliek en tandekry is nie op die bemarkingsmateriaal van ma-word nie. Dit is dié hardste werk wat ek al in my lewe aangepak het. Dit is dié groot­ste verantwoordelikheid om hulle groot te maak volgens die Woord van God. Dit is dié meeste geduld wat ek al uit lang vergete stoor­kamertjies van my hart moes gaan uitkrap. Maar vra vir enige ma en sy sal onom­wonde vir jou sê sy verruil dit vir niks!

    Dink aan vandag se teksvers: Dit wat hulle by jóú leer, sal hul lewe met goedheid kroon en ’n ver­sie­ring wees om hul nek. Maak seker daar­die ver­siering is mooi!

    5 JanuarieHuwelik

    Soen my weer en weer! Jou liefde is soeter as wyn.

    – Hooglied 1:2

    Moet nooit uitgesoen raak nie

    My veilige plek.

    ~ Elsa Winckler

    Êrens in my jongmeisiebrein lê die herinnering aan ’n storie oor ’n uitgesuigde lemoen. Dit was moontlik my pa, my ma, my ouma of ’n onderwyser wat deur middel van ’n eksperiment die impak van rondvry wou verduidelik. Ek sien die prentjie nog glashelder in my gedagtes.

    In die huwelik is daar egter nie iets soos ’n uitgesuigde lemoen nie. Dit is inteendeel soos enigiets in die koninkryk van God waar ons in teen­oorgesteldes werk. In plaas daarvan dat jy van te veel soene minder soene wil hê, maak meer soene nog meer soene. In die huwelik word die lemoen al hoe plomper van al die soene, kompleet of ’n goeie dermatoloog dit met ’n paar fillers bygekom het.

    Ek verstaan dat dit ná jare van dieselfde-man-soen dalk vir jou eentonig of ver­velig kan voel, maar lees net weer hierdie uiters romantiese vers: Soen my weer en weer! Jou liefde is soeter as wyn. Twee van my gunstelinge in een Skrif­gedeelte: soene en wyn! Ek is mal oor hoe relevant die God is wat ons dien dat Hy selfs oor hierdie pragtige goed praat in sy Woord. As ’n skrywer van liefdes- en inspirerende verhale weet my skoonma, Elsa, van soene beskryf, van soene skets en van soene uitdeel, en sy weet dat soene in die huwelik haar nóg veiliger in haar veilige plek laat voel.

    6 JanuarieKos

    As jy genoeg geëet het, is heuning nie meer lekker nie. Wanneer iemand honger is, is selfs ’n bitter ding lekker.

    – Spreuke 27:7

    Die verhouding tussen jou en kos

    Kan ’n mens so versot op en terselfdertyd so vreeslik vies vir een en dieselfde ding wees?

    ~ Christi Panagio

    Daar is min … nee, laat ek weer probeer. Daar is bitter min vroue daarbuite wat nie die een of ander verwronge beeld of slegte verhouding met kos het nie. Die tye waarin ons leef met al die tegnologie rondom kos, help vir seker ook nie. Ons oumas en oupas sou nie die verskil verstaan tussen organiese groente en grasgevoerde botter nie. Dit is ál wat hulle geken het, en hulle het lank en gelukkig geleef.

    Jy het waarskynlik al agtergekom wanneer jy een keer op sosiale media op ’n skakel klik wat oor ge­wigs­verlies gaan, is dit dadelik die einde van jou onkunde. Van daardie oomblik af word jy gebom­bardeer met hiérdie kosse en hiérdie program versus dáárdie kosse en dáárdie program. Met die een moet alle stysels waai, met die ander leef jy op botter en room, en met nóg ander mag jy nie jou mond aan vrugte sit nie. Dit is alles kos wat God gemaak het vir ons om te geniet, maar wat is reg en wat is verkeerd, en wat is sleg en wat is goed?

    Dit is hier waar jy die Heilige Gees, jou beste Vriend en Raadgewer, moet toelaat om jou in die waarheid te lei. Ek het self al week ná week verskillende diëte en programme gevolg, en eintlik net my liggaam in die proses mishandel. Nou het ek egter die plek bereik waar ek vra: Wat sê God? Die Een wat my aanmekaar­ge­weef het? Die Een wat elke sisteem in my liggaam aanmekaargesit het? Wat sê Hy oor suiker, stysel en heuning? Want as ek na my Ontwerper en Maker luister, is dit onmoontlik om nie die heel beste uit my jare op hierdie aarde te put nie.

    7 JanuarieGeloof

    As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon.

    – Hebreërs 11:6

    Tevrede of nie tevrede nie

    Abba Vader, Jesus, Heilige Gees is my alles, my lewe. My begin en my einde. Ek is niks sonder die Drie-Eenheid nie.

    ~ Vicki van Wyk

    Die lewe op aarde sonder ’n lewende, asemgewende, bloedpompende, hart­klop­pende verhouding met die énigste lewende God is dood. Ek moet eer­lik wees, ek weet nie hoe mense elke dag opstaan sonder ’n verhouding met die Here nie. Ek weet nie hoe enigiemand ’n huwelik aanpak sonder die Here nie. Ek weet nie hoe enigiemand met ’n familie begin sonder die leiding en voorsiening van die Heilige Gees nie. In my oë is dit een­voudig nie moontlik nie.

    Die Een wat ons gemaak het; die Een wat elke sisteem op en in hierdie aarde in werking gestel het; die Een wat die huwelik beplan, ontwerp en aanmekaargesit het, wil ’n ver­houding met jou hê sodat Hy jou deur middel van die verhouding kan coach in hoe om sy sisteme, planne, middele en verhoudings ten volle te benut en te gebruik. En met verhouding bedoel ek beslis nie: Dankie, liewe Jesus, vir die lekker dag nie. Ek bedoel konstante ge­sprekke, luister en praat, gehoorsaamheid aan sy leiding, stilbly en wag, aanbidding, intense gebed en natuurlik sommer net fun hê. Só sal jy God vir seker tevrede stel!

    8 JanuarieToekoms

    Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het.

    – Handelinge 27:25

    Maar wat van môre?

    "Dit is opwindend. Ek love dit om nie te weet wat gaan kom nie, en ek is altyd opgewonde oor die moontlikheid van énigiets. Daar is geen perke nie."

    ~ Jacolene Combrinck

    Van een ding is ek seker, en dit is dat nie almal oor die toekoms voel soos Jacolene nie. As ek ’n steekproef moes doen onder die gewone man op straat, sou die oorweldigende gevoel een van vrees oor die toekoms wees. Wat van my werk? Wat van my kinders? Wat van my huwelik? Wat van my gesondheid? Wat van my ouers? Wat van my besigheid? Wat van ons land? Wat hou die toekoms in vir al hierdie dinge?

    Nie een van ons het voorsiening gemaak vir Covid-19 nie. Ons word gebombardeer met slegte nuus. Ons word oorweldig met vrees en daar word (té veel na my sin!) WhatsApps aangestuur oor dit wat gaan kom. Maar hóé weet hulle dit? Is God nie die enigste bron wat buite ruimte en tyd die begin en die einde terselfdertyd kan raaksien nie? Hy wat was en wat is en wat weer gaan kom. As Hy voor die grond­legging van die aarde in die Woord van God gesê het dat álles gaan gebeur soos dit moet, waarom twyfel ons oor die toekoms?

    Wanneer ons bang is vir die toekoms, twyfel ons in die God van die toekoms. Trek saam met my vandag Jacolene se baadjie aan en dink aan die toekoms as exciting met no limits!

    9 JanuarieGebed

    Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

    – Efesiërs 6:18

    Wie ontmoet jy gereeld?

    ’n Gereelde ontmoeting met die Koning van alle konings.

    ~ Marita Caley

    Anders as ander populêre gelowe is gebed nie vir Christene verpligtend nie. Niks wat die Woord van God vir ons as gereedskap gee om met vreugde in ons hart deur die lewe te kom, is ver­plig­tend nie. Ons dien so ’n absolute gentleman van ’n Koning en Skepper met al die mag en krag in die wêreld, maar wat alles kan uitwis met net die knip van ’n oog. Ja, Hy is só groot. Die kinderliedjie met die liriek: My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen, is nie net geskryf vir kindervermaak nie. Nee, dit is werklik waar. Daar is niks wat ons God nie kan doen nie.

    God kan jou programmeer om elke oggend om vieruur wakker te skrik en met Hom te begin praat in gebed, maar Hy staan terug en wag. Hy vertel ons presies wat om te doen. Hy leer ons presies hoe om dit te doen, wanneer om dit te doen, wat om te doen, en dan is Hy ook nog so gaaf om vir ons te verduidelik watter voordele dit vir ons inhou. Maar met al hierdie kennis wat Hy aan ons gee, staan Hy steeds terug en sê: "Goed, nou wag Ek vir jou om met My te wíl praat. Nou wag Ek vir jou om met My te wíl connect en Ek staan gereed met ope arms om jou dan te ontvang, te ontmoet en vas te hou net daar waar jy is."

    Miskien sien jy, op grond van hoe jy grootgeword het, gebed as ’n straf of ’n voor­vereiste vir die seën van die Here. Ek wil jou egter vandag uitdaag om met die Vader, Jesus en die Heilige Gees te begin gesels asof Hulle heeldag in en om jou is – want Hulle is.

    10 JanuarieBlydskap

    Hy het ook vir hulle gesê: ‘Gaan eet ’n lekker maaltyd en drink soet drankies. Deel ook van die kos met mense wat niks voorberei het nie. Hierdie is ’n dag wat aan ons God toegewy is. Moenie terneergedruk wees nie, want die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’

    – Nehemia 8:10

    Jy het ’n keuse

    Vind dit in die klein dingetjies, want dit is nie in die groot goed soos die wêreld wil hê ons moet glo nie.

    ~ Anel Alexander

    Ek wens ons kan snap dat wanneer iets in die Bybel staan, dit is wat God be­doel het daar moet staan. Ek wens ons kon ophou grou vir al die Hebreeuse en Griekse vertalings en verskillende konkordansies, en sommer net eenvoudig glo wat die Here vir ons in Nehemia 8:10 sê: Die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees! Ons álmal ken die Engelse weergawe: The joy of the Lord is your strength (NIV).

    Wat vir my so bemoedigend is uit hierdie vers en wat jy amper eers raaksien wanneer jy dit oor en oor lees, is die volgende: Die blydskap wat die Here gee … Wat beteken dit? Dit beteken ek hoef dit nie uit my eie vlees of self te genereer nie. Ek hoef nie bloed uit ’n klip te tap en myself te dwing om elke dag met ’n oor-tot-oor-glimlag rond te loop totdat die blydskap begin borrel nie. Nee. Die Woord sê God gee vir ons die blydskap.

    Hoe kry ons dan die blydskap wat God vir ons moet gee sodat ons die krag het om deur elke dag te kom? Ons vra Hom! Ons lees in Jakobus 4:2: Julle kry nie, omdat julle nie bid nie (1983-vertaling). Kom ons sit nou twee en twee by­mekaar: Ons het krag nodig om deur elke dag te kom. Die Woord leer ons die blydskap van die Here is ons krag, maar ons moet eers blydskap kry. Hoe kry ons dit? Deur in gebed daarvoor te vra. En voilà! ’n Wen-wen-resep!

    Mag jy van vandag af dit deel maak van jou gebed om vir blydskap te vra. Wanneer die Here dit dan vir jou gee, moet jy dit kies.

    11 JanuarieVrede

    Mag die God van vrede julle volkome aan Hom toewy. Ja, mag God julle so bewaar dat julle na gees, siel en liggaam volkome vlekkeloos sal wees wanneer ons Here Jesus Christus terugkom.

    – 1 Tessalonisense 5:23

    Vrede, vrede, ons voel vrede!

    Dit is nie ’n plek of ’n program of ’n projek of ’n plan nie. Vrede is ’n Persoon. Sy Naam is Jesus. Ons lewe is die stil poel waarin Hy sy vrede wil reflekteer aan ’n opgeklitste wêreld.

    ~ Kona Brown

    Ek dink nie ek kan dit self beter as Kona stel nie. Die vrede van die Here is die uit­ein­delike beloning vir en met álles in die lewe.

    Onthou julle die TV Bar-advertensie van die 1980’s waar die twee seuntjies op die bankie by die bushalte in die reën sit. Die een sê: Ek’s honger, en die ander een hap terug: Mmm. Verbeel jou dit reën heerlike krakerige, smaak­like brosrys en ge­roos­terde klapper … en so beskryf hy dit verder. Die arme honger man­ne­tjie se maag begin behoorlik grom en hy droom al van daardie sjokolade in sy mond. Dan eindig die advertensie met: Verbeel jou jy eet dit alles, nóú! en daar­mee hou hy die sjokolade reg voor sy maat se neus.

    Ek wil hierdie advertensie vandag herskryf met: Ek’s bang, en die antwoord: Ver­­beel jou ’n lewe met Jesus aan die stuur van jou huwelik, jou kinders, jou liggaam, jou verhoudings, jou gesondheid, jou familie, jou besigheid en jou toe­koms waar jy in elkeen van hierdie areas net kan terugsit en ontspan met die ongelooflik wonder­like wete: ‘He’s got this!’ Die waarheid is: Jesus ís vrede, vrede ís Jesus, en as jy Jesus het, moet jy vrede ook hê. Dit is skriftuurlik onmoontlik om jouself ’n kind van God te noem en nie die vrede van die Here te ervaar nie. Dit is waar. Jy het dit. Verbeel jou dit alles, nóú!

    12 JanuarieRus

    Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ’n stil plek en skep ’n bietjie asem.’

    – Markus 6:31

    Vir party is rus ’n vloekwoord

    Ja, asseblief! Die begin van die jaar kan te vinnig begin met werk en skool en sosiale geleenthede. Nog ’n bietjie rus sal wonderlik wees! Die beste plek om te gaan rus, is dalk . . . De Rust? #eksênet

    ~ Marlese Wallis

    Kan jy dink hoe ongelooflik dit sou wees as jy na ’n vulstasie vir jou liggaam kon gaan en vra: Vul my asseblief op met rus. En wanneer jou tenk vol is, kan jy weer aangaan en het jy nuwe energie en stamina (omdat dit met rus ge­paard­gaan). Sodra jy weer ’n bietjie leeg en uit­gebrand voel, gaan stop jy net weer by die vulstasie.

    Verbeel jou egter iets nóg beter as dit. Verbeel jou daar kom elke liewe oggend ’n robot-vul­stasie na jou kamer, en nog voordat jy jou voete uit die bed kan sit, vul dit jou op met rus en vrede en alles wat jy nodig het om deur die dag te kom. Elke dag nuwe voorraad. Verbeel jou dit! Die waarheid is, jy hoef jou dit eintlik nie te verbeel nie, want elke oggend voordat jy jou voete uit die bed sit, het jy die geleentheid om stil te word en asem te skep, en in daardie asemskep-oomblik jouself te vul met rus.

    Net soos met vrede is rus ’n Persoon. Net soos met vrede en blydskap is rus ’n keuse. Ek weet hoe dit voel om so besig te wees dat jy nie weet waar jy begin of eindig nie. Ek het vier kinders, ses besighede, agt werknemers wat aan die einde van die maand salaris moet kry én ’n man. Ek weet hoe dit is om so op dreef te kom dat jy amper voel as jy nóú moet stop, gaan jy val. En dan hoor ek my ma se stem, en ek hoor my skoonma se stem, en ek hoor my man se stem, en elke ander dierbare vriendin en suster: Jy moet rus, Aletté!

    Rus was vir my ’n vloekwoord. ’n Woord waaroor ek met trots (en onkunde) gespog het omdat dit nie in my woordeskat bestaan het nie. Ek het intussen die lig gesien. #eksênet

    13 JanuarieVrees

    Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek laat jou oorwin met my regterhand wat mense red.

    – Jesaja 41:10

    Vader of vrees?

    Vrees word gebore uit ’n tekort aan volmaakte liefde. As ek werklik Vader se liefde vir my verstaan en wie Hy is, kan ek nie vrees nie, want Hy beskerm my, veg vir my, voorsien vir my en wil net die beste vir my hê!

    ~ Jonanda Burger

    Toe my ouma agterkom sy is swanger met haar derde babatjie het sy (met goeie rede) benoud geraak. Hulle was sende­linge met so te sê geen inkomste nie en het werklik in geloof gelewe. Sy het toe voor die Here gaan kniel en vir haar Vader van haar penarie vertel. Baba een en twee het alles gaar gedra en daar was werklikwaar niks meer wat sy kon oordra na nommer drie toe nie.

    Sy het haar Bybel oopgeslaan by vandag se teks­vers. Sy het dit oor en oor gelees totdat God se vrede oor haar gespoel en sy in haar gees gevoel het hoe God vir haar sê: Maak ’n lysie van wat jy nodig het vir jou baba. Sy het gedink dit is baie verwaand, maar het tog haar pen en papier nader getrek en punts­ge­wys geskryf wat sy moes/wou kry (tot in die fynste detail van ’n naelskêrtjie). My ouma het die lysie by hierdie vers in haar Bybel ge­bêre en sonder enige verdere vrees deur haar dae gegaan.

    ’n Paar weke later was daar ’n klop aan die deur. Dit was ’n baie ryk, ouer vrou wat nie eens geweet het my ouma was swanger nie. Sy het my ouma vertel dat haar dogter haar baba verloor het en niks van die goed wou hou wat sy vir haar babatjie aangeskaf het nie. Die ouer dame het gevoel sy moet dit by hierdie adres kom aflewer. Ek het seker nie nodig om te sê elke liewe ding op haar lysie was in die houer gepak tot en met die kleine naelskêrtjie nie.

    As jou hemelse Pappa vir jou sê om Hom te vertrou, kan jy dit maar gerus doen.

    14 JanuarieDeurbraak

    Kom en luister, dienaars van God, ek sal vertel wat Hy vir my gedoen het. Ek het na Hom om hulp geroep, Hom geprys terwyl ek praat.

    – Psalm 66:16-17

    ’n Woord wat werk

    Deurbraak = verligting!

    ~ Mia Smith

    Ek luister na verskillende internasionale kerkleiers. Een week luister ek na sus en die volgende na so. Deur die jare het dit vir my duidelik geword dat enigeen van hulle enige tyd van enige maand van enige jaar oor die behoefte en noodsaaklikheid van ’n deur­braak kan preek en hulle sal met ’n dawerende applous begroet word.

    Almal het ’n deurbraak nodig in ’n sekere area van ons lewe. Hetsy dit ons huwelik, ons kinders, ons ge­sond­heid, ons finansies of ons werk raak, ek kan jou amper R10 000 wed dat jy ’n deurbraak nodig het in een van hierdie areas. Dit is of dit ’n belofte is wat God in die fondament van hierdie wêreld neergelê het … O ja, dit ís ’n belofte wat Hy in die fondament van sy Woord neergelê het in Johannes 16:33: Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.

    Dit is dus onmoontlik om sonder ’n skrapie of selfs, vir sommige, letsels en baie wonde deur hierdie lewe te kom. Maar ek wil jou bemoedig: Wanneer jy aan die Here vashou, is jou deurbraak altyd naby en sal jy ook binnekort soos Dawid uitroep dat die Here jou gebede beantwoord het. Hou vas aan Hom, spreek lewe en glo dit!

    15 JanuarieSiekte

    En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees.

    – Johannes 14:16

    Siek vir siekwees

    Voorsiening is gemaak deur die verbond.

    ~ Marita Caley

    Die Here het aan alles gedink toe Hy ons gemaak het. Hy het geweet die Tuin van Eden en die sondeval wat daarmee gepaardgegaan het, het die mensdom oop en ontvanklik gemaak vir siektes en be­serings. Hy het geweet 2020 gaan aanbreek en die wêreld ruk. Hy het ook geweet van die Spaanse griep en ander pandemies.

    Dink net hoe dit God, as ons Vader, se hart breek. Dit was deel van die voor­waarde: Maar die Here God het hom gewaarsku: ‘Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet, maar van die boom van kennis van reg en verkeerd mag jy nie eet nie. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf’ (Gen 2:16-17). God is nie ’n man dat Hy sal lieg nie. Sy woord is sy woord, en die mens het ’n keuse gemaak en vir seker verkeerd gekies. Die loon van die sonde is die dood.

    Die Here is gelukkig só ’n wonderlike voorsiener dat Hy die Heilige Gees vir ons gee sodat ons nooit alleen hoef te voel in ons tyd van siekte of besering nie. God maak niemand siek nie. Dit is die vyand wat kom om te slag, te verwoes en dood te maak, maar God sal alles wat die vyand teen jou gebruik tot sy verheerliking gebruik. Die genesing is joune. Vat dit. Stap daarin en glo dit. Dit is sy hart vir jou om binne en buite gesond en heel te wees. Dit is wat ons Pappa gelukkig maak.

    16 JanuarieSosiale media

    Ek ontvang nie eer van mense af nie.

    – Johannes 5:41

    Eerste dinge eerste

    The Good, the bad and the ugly . . .

    - Aletté Winckler

    Ons lewe in baie ander tye. Ek dink ons grootouers draai in hul grafte om as hulle moet sien watter soort goed vandag ons aandag kry en dit behou. Ek onthou hoe my ouma gereeld die volgende gesê het, en ná haar dood het ek dit steeds gereeld by my ma gehoor, maar dit was voor sosiale media: In die laaste dae sal hulle skande hulle eer word.

    En dink gereeld daaroor na. ’n Paar jaar gelede sou die samelewing ’n (half)naak­foto in ’n tydskrif as taboe beskou het en almal betrokke sou hul kop in skaamte laat sak. Die model sou in ’n onderhoud vir jou vertel sy het geen ander heenkome of uitweg nie en dat dit nie is wat sy wíl doen nie, maar sy móét dit doen om haar klein vierjarige aan die lewe te hou. Vandag word Instagram gebombardeer met elke Tom, Dick en Harry, of dalk eerder Dominique en Harriet, wat halfnaakfoto’s van hulself opsit. Dan is sy nie eens ’n model wat betaal word daarvoor nie, maar ’n 17-jarige Afrikaanse boeremeisie uit Kakamas wie se identiteit gegrond is in hoeveel likes sy vir haar skrapse bikini kry. Dit terwyl haar ouers nooit by die huis is nie en waarskynlik sou dink dit is skadeloos.

    Waarom doen ons wat ons doen op sosiale media? Waarom post ons wat ons post? Miskien is dit ’n lekker stukkie huiswerk om te gaan verwerk.

    17 JanuarieVriendinne

    Eerlike raad van ’n vriend is so aangenaam soos parfuum en so heerlik soos wierook.

    – Spreuke 27:9

    ’n Goeie vriendin, dit is waar dit begin

    Geskenke uit die hemel.

    ~ Sumari Schoeman

    Ek en Sumari het die eerste dag van graad 9 in die hoof se kantoor ontmoet. Ons het albei van tegniese hoërskole na akademiese skole geskuif. Ons het albei musiek en Duits as vak op skool gehad, albei het in ’n jeugkoor gesing, my pa was ’n pastoor en hare ’n dominee. Ons het boon­op met mekaar begin praat omdat ons albei lipsalf nodig gehad het en ons s’n verloor het.

    Dit was vriendskap met die eerste oogopslag en vandag, amper meer as 25 jaar later, is ons steeds beste vriendinne. Ons was al deur dik en dun (letterlik en figuurlik). Ons het al saam gebid, saam aanbid, saam ge­speel, saam gelag, saam gehuil, saam gewerk en ons maak behoorlik mekaar se sinne klaar. Só ’n vriendin in ’n mens se lewe is onskatbaar en uiters onvervangbaar.

    Tog het nie almal van ons 25 jaar lange vriendskappe wat die storms van die tye deurstaan het nie. Ek het ook daardie nuwe vriendinne wat ek twee maande gelede per ongeluk in ’n winkel of by die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1