Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Maak jou huwelik affair-bestand
Maak jou huwelik affair-bestand
Maak jou huwelik affair-bestand
Ebook231 pages4 hours

Maak jou huwelik affair-bestand

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

’n Affair is een van die pynlikste ervarings wat ’n persoon kan beleef. Bekende Bybel- en seksualiteitkenner Timothy Kieswetter ondersoek affairs en rus jou toe om jou huwelik so ver moontlik affair-bestand te maak. Hy ondersoek wat affairs veroorsaak, hoe dit verloop en wat jy kan doen as jou huwelik deur een bedreig word. Hierdie boek is vir almal – of jy nou pasgetroud is, al jare getroud is, die slagoffer van ’n affair is en of jy die een is wat in die affair is. Daar is hoop vir jou huwelik.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJul 1, 2016
ISBN9780796319821
Maak jou huwelik affair-bestand
Author

Timothy Kieswetter

Timothy Kieswetter is ’n Bybel- en seksualiteitskenner. Hy het vir jare interkerklik bedien en het ’n baie groot behoefte raak gesien om mense se huwelike te help herstel en het besluit om daadwerklik iets daaromtrent te doen. Hy en sy vrou het saam die Gesonde seks Mentorskap-program ontwikkel om paartjies te help om die passie weer terug in hul huwelik te sit.

Related to Maak jou huwelik affair-bestand

Related ebooks

Related articles

Reviews for Maak jou huwelik affair-bestand

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Maak jou huwelik affair-bestand - Timothy Kieswetter

    Maak jou huwelik

    affair-

    bestand

    Timothy Kieswetter

    Lux Verbi

    Skrywersnota

    Voordat ek oor enige onderwerp skryf, probeer ek eers genoeg marknavorsing doen en dalk sommer ook ’n bietjie uit persoonlike ondervinding praat. My vrou het egter gesê hierdie boek sal eerder ’n meer teoretiese boek moet wees.

    Dit is vir my belangrik om ’n duidelike definisie oor ’n onderwerp te kry. Toe ek begin rondspeel met ’n tema vir die boek, wou ek dit dadelik aan ’n duidelike definisie van ’n affair knoop. Ek het gou besef dit is moeiliker as wat ek aanvanklik gedink het.

    Die woordeboek beskryf ’n affair as ’n seksuele verhouding tussen twee mense, van wie een of al twee getroud is, maar net nie met mekaar nie.

    Affairs. Daar is nie regtig ’n sterk genoeg Afrikaanse woord daarvoor nie. Wat van buite-egtelike verhouding of egbreuk? Ja, maar dit klink soveel groter en erger as waarmee ons dink dat ons eintlik besig is. Ek knyp net so ’n bietjie die kat in die donker; Dit is nie ’n verhouding nie; Ons is net vriende met byvoordele; Ons is net Facebook-pelle.

    Juis daarom gaan ek die woord affair aanhou gebruik. (Jammer, al die Afrikaans-taalpuriste! My pa is ’n Engelsman, voer die saak gerus verder met hom.)

    Die probleem met die woordeboekdefinisie is dat dit glad nie ooreenstem met my kliënte se standaardantwoorde wat so duidelik hul buitemuurse aktiwiteite aan my verduidelik nie:

    Nee, ek het nie ’n affair nie. Ons het nie penetrasieseks gehad nie.

    Nee, ek het nie ’n affair nie. Sy is nie getroud nie, en ek en my vrou gaan in elk geval skei.

    Nee, ek het nie ’n affair nie. Ek kuier net by prostitute.

    Nee, ek het nie ’n affair nie. Ons gesels net oor Facebook.

    Nee, ek het nie ’n affair nie. Ons drink net gereeld koffie saam.

    Nee, ek het nie ’n affair nie. Ek is nog lief vir my vrou.

    Nee, ek het nie ’n affair nie. Ek voel niks vir daardie persoon nie.

    Ons almal weet dat affairs sleg is en dat ons feitlik enigiets sal doen om onsself te kan verdedig en ons goeie naam en eer te beskerm, al is ons besig met ’n soort-van-affair, maar gelukkig is dit nie heeltemal ’n affair nie.

    Daarom kyk ons die kern van die saak heeltemal mis deur ’n definisie te probeer vind vir wanneer ’n affair regtig ’n affair is en wanneer dit ophou om een te wees. As huweliksberader werk ek met gevoelens, en nie met wie reg (in die groen sone) en wie verkeerd (in die rooi sone) is nie. Daarom gee ek nie om wie tegnies dit of dat gedoen het nie. Gaan pluis (of baklei) dit uit in die skeihof uit, want dit is waar hierdie nie-affair jou gaan laat eindig.

    Ek stel baie meer in die groter prentjie belang – in die emosionele prentjie, die gesinsprentjie, die Tuin van Eden-prentjie, die lewe-as-hel-prentjie. Ja, in die filosofiese definisie van affairs, buite-egtelike dinge en wat ons huwelike en intieme lewe skade doen.

    En om daardie breë definisie te kry moet ons bereid wees om ons bestaande sienings en persepsies rondom affairs eenkant toe te skuif en hierdie Pandoraboks met nuwe, vars oë te bekyk.

    Inleiding

    Affairs is verwikkeld en kompleks. Dit klink soos ’n goeie plek om by te begin.

    In elke liewe gesprek oor affairs, in al wat anonieme vraag op my Gesonde Seks-Facebookblad is, en selfs by paartjies wat berading oor affairs soek, reageer almal op dieselfde manier: "Nee, sies … Dit is verkeerd … Die sleg ding … Sy verdien beter … Die gras is altyd groener aan die ander kant … – Ja, want sy is vol daarvan."

    Duidelik is ons gevoelens oor affairs en egbrekers reeds in sement gegiet en ongekompliseerd. Kruisig hom! Stenig haar!

    Die probleem ontstaan egter wanneer ons gevoelens en emosies só sterk oor ’n saak raak dat ons die vermoë om die kompleksiteit van die saak raak te sien volkome verloor. Om dan nie eens te praat daarvan om dit te probeer herstel óf voorkom nie.

    Juis daarom skryf ek nou hierdie boek oor affairs, cheaters, egbrekers, geheime, skelmpies, wegsteekkansies, dubbele lewens, one-night stands, pornografie, chat-sites, ekse, fantasieë, onskuldige en skuldige vriendskappe.

    Verskeie studies en gewone lewenservarings leer ons dat affairs die grootste pyn en seer is wat ’n persoon kan beleef, afgesien van die dood van ’n geliefde. Maar is dit nie presies wat ’n affair is nie? Dit is die dood van jou huwelik. Die dood van liefde. Die dood van vertroue. Die dood van gevoelens. Die dood van alle dood, want jy leef nog, die sleg ding leef nog en die skelmpie leef nog. (Maar nie vir lank nie.)

    Dit is juis al hierdie dinamika wat dit geweldig moeilik maak om ’n boek oor affairs te skryf wat meer inligting en woorde bevat as: Staak dit!; Moenie dit doen nie!; Wat dink jy doen jy?; Skei hom en krap haar oë uit!

    Weens die kompleksiteit van affairs en die sterk emosies wat dit ontlok, gaan ek nie eens probeer om die hele Pandoraboks oop te maak nie. Vir eers wil ek net saam met jou daarin loer. Ons gaan op ’n vars, nuwe en ander manier na affairs, huwelike en liefde kyk sodat ons die slaggate kan raaksien voordat ons daarin trap.

    Met hierdie affair-boek gaan ek slegs fokus op die hoofredes wat ek oor die jare in my beradingskantoor teëgekom het. Die woord hoofredes is dalk nie ’n akkurate beskrywing daarvan nie, want elke affair se redes is uniek en veelsydig. Kom ons kies eerder die woord slaggate. Sommige mense swik ’n enkel om die eerste draai, waar ander mense vir jare daarmee wegkom om landloop in die wildernis te doen sonder om ’n voet verkeerd te sit.

    Soos ek dit sien, het ons twee opsies: Ons kan voortgaan om vas te hou aan ons perfekte huweliksprentjie, dat so iets nooit met ons sal gebeur nie, of ons kan opgewasse raak vir al die slaggate in die huwelik en dit doelgerig probeer vermy.

    Die eerste deel van die boek gaan oor die tipiese verval tot kniediep in ’n affair – van Dit sal nooit met my gebeur nie tot Hoe het ek myself in hierdie gemors laat beland?. In elke hoofstuk word gefokus op een van hierdie slaggate, wat soveel mans en vroue reeds in die affair-lokval laat beland het. Die tweede deel van die boek gaan oor die herstel ná ’n affair. Hoe om weer ’n suksesvolle toekoms daarna te bou, hoe om te vergewe en weer onvoorwaardelik lief te hê, al sal jy nooit die pyn kan vergeet nie.

    Hierdie boek skryf ek vir almal: die gelukkige paartjie wat nog in die wittebroodfase is; die paartjie wat ná jare lange getroude lewe verveeld raak met mekaar; die paartjie wat mekaar nie meer kan verdra nie; die persoon wat ’n affair begin het; die persoon wat verneuk is. Hierdie boek skryf ek vir my en my vrou.

    Affairs verwoes lewens. Dit plaas jou in ’n hel op aarde. Dit ontneem jou kinders van gelukkige kinderjare.

    So, kom ons sit regop en luister met ons hart sodat ons ons huwelik affair-bestand kan maak.

    Deel 1

    Die ontwikkeling van ’n affair

    Ek wil sommer begin deur te sê: Affairs het niks met seks te doen nie. Soos baie dinge in die lewe, eindig dit gewoonlik met die seksuele. Hierdie boek gaan oor voorkoming, nie om te skree: Aha, jy is besig met ’n affair, wêla kepêla! nie. Hoe langer ons aan ons bestaande seksuele definisie van affairs vashou, hoe skraler is die kans dat ons ooit die gevaar sal kan sien voordat dit gebeur. Geen man het per ongeluk seks met ’n ander vrou nie. Seks gebeur nie net vanself nie. Seks is die eindresultaat van ’n aanloop van gebeure.

    Selfs met iets so oombliklik soos ’n one-night stand gebeur seks nie net vanself nie:

    ■Jy gaan uit. Alleen.

    ■Jy raak dronk – nie alleen nie.

    ■Jy flirt.

    ■Jy gaan huis toe. (Nie joune nie.)

    ■Jy trek uit. Jy trek aan. (As jy safe seks beoefen.)

    Met ander woorde, al sien jy nooit weer die one-night stand of fling nie, is die seks nie net iets wat vanself gebeur het nie. Dit is iets wat vir altyd by jou sal spook.

    Seks is altyd die eindresultaat, nooit die begin nie. Daarom moet ons minder gefokus wees op die seksuele deel van affairs en ons oë vroeër oopmaak vir die ontwikkeling van die affair.

    Wanneer ons definisie van affairs gekoppel bly aan die eindresultaat, sal ons nooit ons huwelik affair-bestand kan maak nie. Kom ons wees eerlik met mekaar, want die oomblik wanneer daar seks betrokke is, is dit baiekeer te laat. Die koeël is deur die kerk, die papaja het klaar die waaier getref.

    Gelukkig is die meeste mense darem nie tans besig met ’n seksuele verhouding nie, maar dit beteken nie dat baie nie deeglik daarheen op pad is nie. En die hartseer ding is, ons kom dit nie eens agter nie.

    Ek nooi jou uit om saam met my die reis aan te durf om anders na affairs te begin kyk, anders oor liefde, vertroue en vergifnis te dink. En ek belowe jou, jou huwelik sal beter wees as gevolg daarvan. Dalk nie mooier of meer perfek nie, maar vir seker meer outentiek en dus gesonder. Laat ons ontslae raak van die idee van "trou met jou sielsgenoot en dan sal ons happily-ever-after saamleef. ’n Perfekte huwelik is een wat foute, bakleiery en verskille (soms groot verskille) bevat, maar een wat nie bereid is om toe te laat dat dit hul liefde vir mekaar omskryf nie.

    Die belangrikste ding wat mense nodig het om te hoor wat by my kantoor instap, is dat hulle normaal is. Want volgens hulle, is hulle die enigste paartjie wat deur hierdie of daardie fase gaan. En die oomblik wanneer jy dink dat jy alleen is of unieke probleme het, selfs dat jy die een is wat nie in die perfekte sielsgenoot-happily-ever-after-boksie pas nie, verloor jy alle hoop en moed om eens te probeer.

    Dit is waar ek inpas, om vir jou te sê dat daardie perfekte sielsgenoot en happily-ever-after eintlik nie normaal is nie, en dat jy met jou gemengde gevoelens, wipplank-emosies, irritasies en al vir jou maat heel normaal is. So, moenie jou maat verander om by jou perfekte huweliksprentjie te pas nie, verander eerder jou perfekte huweliksprentjie om beter by jou maat te pas.

    Noudat jy bereid is om jou huidige seksdefinisie van affairs eenkant toe te skuif, wil ek jou vra om ook jou bestaande narratiewe, oftewel storielyne, van Adam en Eva opsy te sit.

    Wanneer ons dit doen, glo ek ons sal raaksien wat ons albei ongemaklik laat voel, asook dit wat ons die sleutels sal gee om ons huwelik affair-bestand te maak.

    Adam en Eva – die eerste egbrekers

    Adam en Eva se storie is meer as net die eerste storie in die Bybel. Dit doen veel meer as om die eerste bladsy van ’n Kinderbybel vol te maak en met prentjies van appels, vyeblare en slange versier te wees. Die storie van Adam en Eva gaan oor soveel meer dinge, maar vir eers stel ek slegs belang in wat dit my kan leer oor my paradys-huwelik en my hel-huwelik, en hoe die lees van Adam en Eva se storie my huwelik affair-bestand kan maak.

    Adam en Eva se storie is ook my en jou storie. Vandag. Nou. Al is my naam Timothy en my vrou se naam Janet. Niemand van ons leef meer in die geografiese paradys nie, maar ons almal het nog ’n prentjie hoe ons hoop ons lewe en ons huwelik gaan uitdraai. Die meeste mense wat al lank genoeg geleef het en getroud is, besef dat die werklikheid van ’n huwelik nie altyd dieselfde is as die mooi happily-ever-after-prentjie nie. Ons raak bewus van die kennis van goed en kwaad. (Soms meer kwaad as goed.) Ons begin twyfel in hierdie paradysprentjie. Ons begin antwoorde en kort paaie na die volgende naaste geadverteerde paradys soek, wat altyd deur ’n vriendelike slang-ding aan ons bemark word.

    Dit was nie Adam en Eva wat mekaar verneuk het nie, maar eerder die mens wat God verneuk het. Die mens het God, met wie hulle ’n intieme verhouding gehad het, verneuk. God het daagliks in die Tuin van Eden saam met hulle gewandel. Hy het hulle elke dag meer geleer van die boom van die lewe. Hy het die kennis van Hom en van mekaar en van hulself verdiep.

    Maar soos met enige normale verhouding is daar eie wil betrokke. Daarom staan die boom van kennis, van goed en kwaad, langs die boom van die lewe. Adam en Eva het dalk geen keuse gehad as om mekaar te kies nie (daar was nie ander Adams en Evas om van te kies nie), maar hulle het vir seker ’n keuse gehad om God te kies en Hom lief te hê. Want God was nie die enigste god nie. Lucifer het (in sy eie oë) ’n god geword en daardie selfde godheid aan Eva verkoop. Eet van hierdie boom van kennis, goed en kwaad, en jy sal soos God word. Dit was die versoeking. Nadat Eva in haar eie oë ’n god geword het, deur soos God alles te weet van goed en kwaad, gee sy van hierdie eie wil-vrug ook vir Adam, wat direk by God gehoor het dat hy nie sy eie wil mag en moet volg nie. Daar was reëls wat spesiaal en spesifiek ingestel is – reëls wat groter as hy is, reëls wat lewensgebeurtenisse beheer. Adam het nie na God se wil geluister nie en sy vrou se wil bo God s’n verheerlik. Hy het haar sy god gemaak.

    Ons hoef glad nie uiters geestelik te raak met wat God is en wat sy wil vir ons lewe is nie. Dit waarop ek nou wil fokus, is dat daar sekere beginsels, reëls en ideale is, wat ons dan as God se wil kan beskryf. As ons daarby bly, sal ons die positiewe vrugte daarvan pluk. Soos om getrou te bly. Die teendeel is ook waar: Hoe verder ons van God se wil wegdwaal, hoe meer negatiewe vrugte is daar wat ons vir onsself pluk. Soos om ’n affair aan te knoop.

    Ek wil hê jy moet een ding dadelik raaksien in Adam en Eva se storie. Hulle het ’n verhouding met ’n ware, perfekte God gehad. Adam en Eva het sekerlik geen ware behoefte of tekort in die verhouding gehad nie. Hoe kon God nie die perfekte vennoot wees nie?

    Ten spyte daarvan om in ’n ware paradys met ’n ware God in ’n ware intieme verhouding te wees, het die mens steeds meer gesoek. Hulle was ontevrede met wat hulle van God ontvang het. God was nie vir hulle genoeg nie. Hulle was lus vir nog. Lus vir iets buite die verhouding met God. Lus vir iets buite die paradys. Lus vir iets wat God nie vir hulle kon of wou gee nie.

    Dink ’n bietjie hieroor: As God nie eens genoeg kon wees vir die mens nie, hoe op aarde dink jy sal jy genoeg kan wees vir jou huweliksmaat?

    Volgens die algemene stereotipe glo ons dat ’n affair uit ’n ongelukkige huwelik ontstaan, een waar ons maats nie aan al ons behoeftes en begeertes voldoen nie. En wanneer een persoon ’n affair aanknoop, dan sak die ander een se wêreld en selfbeeld ineen, want ek het misluk. Dit is die sin wat ons glo. Ek moes beter! Wat het ek verkeerd gedoen?

    Dink jy God het hierdie soort vrae gevra toe Adam en Eva Hom verneuk het? Nee! God het besef dit is ’n mensprobleem en nie ’n Godprobleem nie.

    Of jy nou hierdie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1