Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Wanneer God in my pyn verdwyn
Wanneer God in my pyn verdwyn
Wanneer God in my pyn verdwyn
Ebook203 pages2 hours

Wanneer God in my pyn verdwyn

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dit is die verhaal wat hierdie boek vertel: van 'n God wat afsterf in die oomblik van krisis, maar van geloof in die onsterflike God wat terselfdertyd weergebore word.

Daarom bied hierdie boek vir elke getraumatiseerde gelowige - of dit nou deur selfmoord, dood, egskeiding of watter pynlike ervaring ook al is - inspirasie en n oproep tot eerlike geloof te midde van die traumatiese gebeure

LanguageAfrikaans
PublisherCoenie Nolte
Release dateSep 15, 2016
ISBN9781370838004
Wanneer God in my pyn verdwyn
Author

Coenie Nolte

Coenie Nolte started his career as a teacher but later changed careers and became City Manager of Kimberley, South Africa. After his retirement in 1995 he became executive director of the Bloemfontein Chamber of Commerce. In 2008 he retired for the second time and for the next 6 years ran his own web design business. He is the author of “Waar sit jou God? and is also co-author of “Hier staan ek”. He is married to Ria and they have two daughters, Lizette and Marianne.

Related to Wanneer God in my pyn verdwyn

Related ebooks

Related articles

Reviews for Wanneer God in my pyn verdwyn

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Wanneer God in my pyn verdwyn - Coenie Nolte

    Enige gevoel van onskuld, enige ervaring van hoop dat die wêreld ’n goedhartige plek is waarin mense vertrou kan word, was weg. Haar siening van die wêreld is verwoes, net so erg soos daardie geboue in New York. Net soos daardie geboue, het haar geloof in puin gelê.

    – dr Robbert Neimeyer, Universiteit van Memphis, oor ’n vrou wat vir berading by hom was nadat sy ’n familielid in die 9/11-tragedie in die VSA verloor het

    Gedurende die nag van 12/13 November 2003 het my 35-jarige dogter selfdood gepleeg. Van daardie oomblik af was my lewe, my gesin se lewe, vir ewig onherroeplik verander. Die lewe sou vir nie een van ons ooit weer dieselfde kon wees nie. Ons is nou selfdood-agtergeblewenes – suicide survivors, soos die Amerikaners ons noem. En dit beteken dat daar ’n onuitwisbare letsel in jou psige ingebrand is waarmee jy vir die res van jou lewe moet saamleef. Sielkundiges klassifiseer die impak van selfdood op agtergeblewenes onder die kategorie katastrofies.

    Ons wat agterbly ná die selfdood van ’n geliefde ervaar afwisselende gevoelens van verslaenheid, intense emosionele pyn, woede, hartseer, onsekerheid en ’n verlammende ontnugtering. Nie net jou emosies en gemoed word ingrypend geraak deur die enormiteit van wat gebeur het nie, dit het ook ’n geweldige impak op jou sosiale verhoudings en interaksie met ander mense, selfs binne jou gesin. Dit is egter veral jou geloof wat tot die uiterste beproef word. Omdat die boosheid van so ’n gebeurtenis nie versoen kan word met ’n barmhartige God van liefde wat veronderstel is om sy hand van bewaring elke oomblik van elke dag oor ons te hou nie, word jy gedwing om jou begrip van en verhouding met God drasties te revalueer.

    Sommige mense se geloof word deur so ’n tragedie verdiep. Dit bring hulle nader aan God. Ek lees byvoorbeeld in die koerant hoe Rudi Visagie getuig nadat hy in die tragiesste van tragedies in die vroeë oggendure sy dogter doodgeskiet het omdat hy haar vir ’n motordief aangesien het: Maar die Here het ons nodig gehad om sy woord te verkondig … en dit het my kosbare kind se lewe gekos om my in daardie rigting te dwing. Ek en Frieda is nou nog nader aan ons Skepper.

    Ander, weer, word deur so ’n tragedie van God af weggedryf, selfs tot by ’n punt waar hulle God haat. Ek lees op die internet van die Amerikaanse TV-program The Millennial Pope waarop Germaine Greer op ’n uiters roerende manier oor lyding en God gepraat het. Alhoewel sy ’n selferkende ateïs is, het sy met trane in haar oë en deernisvolle waardering verwys na godsdienstige musiek wat sy beskryf het as ’n noodkreet na ’n Teenwoordigheid wat net nie daar is nie. Maar toe, met verwysing na die hartverskeurende lyding van so baie kinders in Afrika, het sy bygevoeg: If God exists, I hate him.

    Hierdie boek handel oor ’n pa wie se geloof in die God met wie hy grootgeword het, saam met sy dogter gesterf het die nag toe sy selfdood gepleeg het. Selfs nou jare ná my kind se dood, is die verwarring en onsekerheid in my gemoed nog net so werklik soos in daardie eerste ure ná haar dood. Hierdie verwarring en twyfel word waarskynlik weerspieël in die warboel van gedagtes wat in hierdie boek weergegee word. Baie van wat ek hier geskryf het, sal seker nie veel sin maak vir lesers wat nog nie ’n trauma van soortgelyke intensiteit ervaar het nie. Dit is egter soos die proses vir mý verloop het, en dit is soos ek dit neergepen het.

    Hierdie boek is nie ’n poging om antwoorde te verskaf op die misterie van die bestaan van onuitspreeklike lyding en pyn in ’n Godgeskape wêreld wat op godsdiens ’n stille verleentheid en op ateïsme ’n beterweterige geraas afdwing nie. Dit is bloot die verwoording van die verwarring en pyn wat my dogter se selfvernietigingsdaad oor my gebring het.

    Dit is nie maklik om jou siel op hierdie manier bloot te lê nie, maar dalk kan ek só iets beteken nie net vir myself nie, maar ook vir ander ouers wat met dieselfde worsteling sit.

    Ek het nie antwoorde nie. Ek kan maar net vertel.

    Coenie Nolte

    Junie 2016

    JY MOET KOM – SY IS DOOD!

    Niemand het nog gegroei deur boeke oor ander se pyn te lees nie. Die boek van lyding moet persoonlik deurgelees word.

    – Marcus Aurelius

    Ons was klaar gepak om vroeg die volgende oggend ’n paar dae lank na ons vakansiehuis in Port Alfred te vertrek toe die telefoon laat daardie Donderdagmiddag, 26 September 2002, lui. Dit was ons skoonseun se suster wat gebel het met die skokkende nuus dat hy vroeër daardie middag in ’n motorongeluk omgekom het. Hy was ons jongste dogter se man.

    Ek en my vrou, Ria, was verpletter. Daardie selfde aand nog het ons in swaar reën deurgery Kimberley toe. Voor hierdie dag het ons reeds met die dood in ons familie kennis gemaak. My suster se man het in 1959 in ’n motorongeluk gesterf; my ouers is op ’n hoë ouderdom ses maande uit mekaar oorlede; my skoonpa het ná ’n beroerte en kort siekbed gesterf. Maar hierdie keer was dit anders. My swaer se ongeluk van byna 45 jaar vroeër het vervaag in ons geheue. Ons ouers was reeds bejaard toe hulle oorlede is. En alhoewel die hartseer en trane ook daar was, was ons in ’n mate voorbereid op hulle dood.

    Die dood van ons skoonseun was egter onverwags en onnatuurlik. Hy was nog te jonk om dood te gaan. Daar was Marianne en hul twee pragtige kinders vir wie hy ’n man en pa moes wees, vir wie hy moes lief wees en sorg. Ons harte wou breek oor die smart en pyn van Marianne ons jongste dogter. In die volgende aantal maande het ons saam met haar geworstel deur die vrae en vertwyfeling, die hartseer en verslaenheid. ’n Mens sou dink dat hierdie ervaring ons in ’n mate sou voorberei het vir wat skaars veertien maande later sou volg.

    Maar daar is niks op hierdie aarde wat jou op enige manier kan voorberei op die selfdood van jou dogter nie.

    Dit was Donderdag, 13 November 2003. Ek het daardie oggend opgestaan met ’n groot onrustigheid wat my reeds die hele nag laat rondrol het. In my hart was daar ’n angstigheid, asof ek toe reeds geweet het watter verskrikking op ons wag. Ek moes vroeg by ’n byeenkoms van sakemanne optree. Voor ek by die huis weg is, het ek vir Ria gesê dat ek bekommerd is oor Anli en dat sy later moes gaan inloer by haar kamer om te kyk of alles in die haak was. Sy het in daardie stadium weer by ons gebly ná haar ontslag uit die psigiatriese hospitaal waar sy ’n tyd lank opgeneem was ná haar derde mislukte selfdoodpoging. Toe ek weg is, het Ria gaan bad en aangetrek. Teen ongeveer kwart voor nege het sy gaan kyk waarom Anli nog nie opgestaan het nie. Sy het normaalweg baie vroeg geroer.

    Toe ek in die vergadering die selfoon in my sak voel vibreer, het ek instinktief geweet iets verskrikliks het gebeur. Ek het my verskoon uit die vergadering, maar voor ek buite was, het die selfoon opgehou lui. Ek het gesien dit was Ria wat gebel het, en ek het haar teruggebel. Haar rou angskreet het soos ’n handgranaat in my kop ontplof: Jy moet kom – sy is dood!

    Ek onthou nie veel van daardie jaagtog huis toe nie, behalwe dat ek so verbyster en geskok was dat ek skaars kon sien waar ek ry. Ek onthou die hek by ons meenthuiskompleks wou nie vinnig genoeg oopgaan nie. Dit het vir my gevoel of ek kon uitspring en die staalhek met my kaal hande uit die grond ruk en oop forseer.

    Ria het buite ons meenthuis vir my gewag. Sy was soos een wat in haar slaap wandel. Ek onthou dat sy vir my onnatuurlik kalm gelyk het. Ek het by haar verby gestorm na ons dogter se kamer. En daar het my kind gelê. Yskoud. Ek onthou dat ek die hele tyd deur my trane gesê het: My kind, my kind, wat het jy gedoen? Oor en oor. Op die tafeltjie langs haar bed was twee leë pilhouertjies en op die vloer langs die bed het ’n halfvol koeldrankbottel gelê.

    Daar bestaan nie woorde in my woordeskat wat die pyn en verslae magteloosheid wat ek by die lewelose liggaam van my kind beleef het, kan beskryf nie. Ek weet nou dat dít die oomblik was toe my siel aan flarde geskeur is en my geloof in ’n onkeerbare stroom weggevloei en in die woestynsand van totale ontnugtering en vertwyfeling weggesink het. Die besef dat ek gefaal het om my kind teen hierdie verskriklike daad van selfvernietiging te beskerm, het my wêreld rondom my in duie laat stort. Miskien was my geloofshuis se fondamente op sand gebou. Ek weet nie regtig nie. Al wat ek weet, is dat ek nooit weer dieselfde sal wees nie.

    Ek het verdwaas uit die kamer geloop en heen en weer in die eetkamer gestap. Vir die eerste keer in my volwasse lewe het ek onbeheers gehuil. Ek was al talle kere in my lewe bewoë, met so ’n knop in my keel dat ek swaar moes sluk. Maar trane het ek nie gestort nie. Ek het immers grootgeword in ’n wêreld waarin mans nie huil nie. ’n Oomblik lank het ek nie geweet wat om volgende te doen nie. Ek kon maar net daar by die eetkamertafel saam met Ria gaan sit met die rou snikke wat deur my liggaam geruk het.

    Die finaliteit van die dood, die magtelose gevoel dat iets verskrikliks gebeur het wat totaal onomkeerbaar was, die besef dat ek my in ’n situasie bevind het waaroor ek geen, maar absoluut geen beheer gehad het nie, het my laat voel of ek van my verstand af sou raak. Uiteindelik het ek genoeg tot verhaal gekom om die ambulansdiens te bel. Minute later het ons huis gewemel van ambulanspersoneel, paramedici en polisiebeamptes. Ek en Ria het verslae gesit en wag. Elke nou en dan was daar iemand wat vrae gevra het. Ek onthou dat een van die polisiebeamptes herhaaldelik gevra het wie ons predikant is. Hy wou hom bel om ons te kom bystaan. Maar in daardie stadium wou ons niemand sien nie.

    Uiteindelik het die ambulans van die staatslykshuis opgedaag. Hulle het ons gevra om in ’n ander vertrek te gaan wag terwyl hulle Anli se liggaam wegneem vir ’n nadoodse ondersoek. Die bedagsame speurder het gevoel dit sou ons net nog meer ontstel as ons moes sien hoe hulle haar daar uitdra.

    Daarna het die beëdigde verklarings gevolg. Dit was immers ’n onnatuurlik sterfte en moes deur die polisie ondersoek word. Die hele kamer en alles buite is deeglik deursoek om vas te stel of daar nie dalk gemene spel was nie. Elke nou en dan het iemand vrae aan ons gevra. Dit was ongeveer twaalfuur voordat ek en Ria weer alleen was.

    Soos in ’n droom het ons Lizette, ons oudste dogter wat in Engeland woon, gebel met die hartverskeurende nuus. Sy is ’n sielkundige en ons het haar gevra om die nuus aan ons jongste dogter, Marianne, oor te dra. Ons het nie geweet hoe om hierdie verpletterende nuus aan haar, wat nog geworstel het met Ronnie se dood, oor te dra nie en het gedink as sielkundige sou Lizette dit beter kon doen. Lizette was in daardie stadium swanger en ek het haar probeer oorreed om nie huis toe te kom nie. Sy het reeds vantevore ’n miskraam gehad en ons wou nie hê sy moes die lang en vermoeiende vlug in haar toestand aanpak nie. Sy en haar man wou egter niks weet nie. Hulle het dadelik vir hulle plek op ’n vlug na Suid-Afrika bespreek. Kort daarna het Marianne ons gebel. Ek onthou die verslae, hartseer stem van ons jongste, sy wat nog nie eens oor haar hartseer oor haar man se dood was nie, is nou weer met hierdie nuwe tragedie trompop geloop. Sy was die een wat in die vier jaar sedert Anli se egskeiding die naaste aan haar was. My hart het opnuut gebreek toe ek haar verdwaasde stem hoor.

    My vrou het haar vriendinne wat haar in soveel maande so getrou bygestaan het, gebel. Ons het die naaste familie laat weet en hulle gevra om asseblief die res van die familie te bel. Ons het net nie kans gesien om dieselfde storie oor en oor te vertel nie. Elke keer wanneer ek moes sê: Anli is laas nag oorlede, het die noodwendige reaksie gevolg: Ai, ons is so jammer om dit te hoor. Wat het dan gebeur? Hierop moes ek antwoord met die pynlikste woorde wat ’n ouer ooit kan uiter: Sy het selfdood gepleeg. Jy self sterf weer en weer en weer, elke keer dat jy hierdie verskriklike woorde uit jou mond hoor kom.

    Die herinneringe van hoe die res van daardie afgryslike dag verloop het, is vaag. Ek onthou egter dat ek Anli se bed uitmekaargehaal en buitentoe gedra het. Ons tuinwerker was die dag daar. Ek het die bed vir hom gegee en gevra hy moet dit asseblief daardie selfde dag nog wegneem. Ek het die kol op die mat waar die koeldrank uitgeloop het, gewas en die miere wat daar rondom geskarrel het uit die diepte van my hart gevloek. Die hartseer gemeng met magtelose woede was in daardie stadium so verskriklik groot. Ek het my kind se klere uit die kaste gehaal, al haar persoonlike besittings in bokse gepak en in die motorhuis gaan pak. Ek wou geen teken van haar in die kamer oorhou nie. Waarom ek dit gedoen het, kan ek nie verklaar nie. Die meeste mense probeer juis hulle kind se kamer net so hou soos dit was – as ’n soort museum vir hulle kind. Ek nie. Ek wou alles uitvee. Miskien het ek gehoop dat as ek alles uitgevee kry, ek ook hierdie verskriklike tragedie wat ons getref het, sou kon uitvee. Ek weet nie regtig nie. Dit was net iets wat ek moes doen. Deur dit ales het Ria soos ‘n slaapwandellaar rond beweeg en doelloos van vertrek na vertrek gedwaal of net by die eetkmertafel gesit en voor haar uit gestaar.

    Dit was eers ’n week of wat later dat ek en Ria die moed bymekaar kon skraap om weer die bokse uit die motorhuis te gaan

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1