Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Oorkom depressie
Oorkom depressie
Oorkom depressie
Ebook182 pages2 hours

Oorkom depressie

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Izak de Villiers, bekende predikant, digter, joernalis en voormalige redakteur van Sarieen Rapport, was onder die indruk dat sy stryd met depressie sou verdwyn namate hy ouer word. In hierdie hersiene weergawe van Oorkom Depressie – die Siekte van ons Tyd, skryf hy op aangrypende wyse, hoe hy steeds met die swart hond worstel. Izak deel jare se persoonlike ervaring en gee advies, oor hoe om met depressie saam te leef. Destyds het dit as radioprogram met ’n psigiater begin, en toe ’n topverkoper boek geword wat talle herdrukke beleef het. In 1986 is sy boek met die Andrew Murray-prys bekroon.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 28, 2011
ISBN9780624051473
Oorkom depressie
Author

Izak de Villiers

Izak de Villiers was een van Suid-Afrika se mees geliefde skrywer-dominees. Hy was predikant in onder meer Albertinia, Bonnievale en Constantia, voor hy in 1983 redakteur van Sarie word. Hier het sy beroemde rubrieke lesers bekoor en inspireer. In 1991 word hy hoofredakteur van Rapport, tot met sy aftrede. Deurgaans skryf hy vir ’n wye gehoor, alles van digbundels tot inspirasieboeke en handleidings tot gesange vir die Liedboek van die Kerk. Maar dis veral vir sy aangrypende rubrieke en preke dat hy onthou word. Hy is in 2009 oorlede, en een van sy waarderende lesers, die bekende Amanda Botha, het hierdie bundel saamgestel.

Read more from Izak De Villiers

Related to Oorkom depressie

Related ebooks

Related articles

Reviews for Oorkom depressie

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Oorkom depressie - Izak de Villiers

    Oorkom Depressie – Die siekte van ons tyd

    Izak De Villiers

    Tafelberg

    Aan die nagedagtenis van Mari

    Vooraf

    Hierdie boek is nie ’n wetenskaplike studie oor die siekte van depressie nie. Dis ’n geselsboek wat vir iemand wat daaraan ly, van waarde kan wees – al is dit net om te weet iemand anders het al dieselfde pad geloop. Of dit kan vir ’n vriend of familielid van ’n depressiewe persoon van hulp wees.

    Die laaste paar jare het ek weer agtergekom hoe baie mense aan depressie ly. Ná die verskyning van die eerste uitgawe van hierdie boek (in 1983!) was ek uiters bewus hiervan. Die boek het eintlik begin as ’n radioprogram in medewerking met ’n psigiater, dr. K, en toe talle herdrukke beleef ná sy eerste verskyning, ook toe ek onbeskaamd oor die onderwerp begin preek het. Daardie tyd is dit nog dikwels as ongeloof en byna ’n skande afgemaak.

    Maar voordat jy begin lees: Daar word baie oor dié siekte bespiegel. En diegene wat bespiegel, kom nie altyd tot dieselfde gevolgtrekking nie. Ek het probeer om die saak vanuit die geloof in Christus te benader – die metode wat my persoonlik gehelp het.

    Daar is nie maklike antwoorde nie, nou nog nie, selfs al is daar hope nuwe navorsing gedoen en behandelings ontwerp, en al het daar tientalle nuwe tipes medikasie op die apteekrakke verskyn. Daar is ook geen kitsoplossings nie. Daarby is dit onmoontlik om alle aspekte van depressie in ’n boek soos dié deeglik te bespreek. Verskil gerus met my indien jy oor ander insigte beskik.

    Tydens een van die regstreekse uitsendings oor die radio het ’n ouerige dame gebel om ook saam te gesels. Sy wou vertel van die Groot Depressie, die pes en die droogte van 1933. Toe sy hoor dat dit oor ’n siekte handel, het sy opgemerk: Nee, dit het ek nog nooit gehad nie, tien kinders en al.

    Sy is gelukkig. Die depressielyer ervaar in sy gemoed die droogte, die armoede en die pes!

    Intussen het ’n jong vrou laat weet dat sy ’n ou uitgawe van die boek iewers tweedehands raakgeloop het en dat dit haar baie gehelp het. Op aandrang van talle mense het ek besluit om Depressie – die siekte van ons tyd te hersien. Dit het immers in 1986 die Andrew Murray-prys vir godsdienstige publikasies verower, waaroor ek baie dankbaar is.

    Ek het nie veel aan die oorspronklike boek verander nie, maar moes ’n paar nuwe feite bywerk. Verder glo ek soos Marita van der Vyver onlangs by ’n Sarie-dag gesê het: Elke boek het sy eie persoonlikheid, klaar. As jy hom eenmaal geskryf het, is hy geskrywe. Jy kan dit nie jare daarna weer doen nie.

    Ek stem hiermee saam. En onthou, ek is nie ’n kenner nie. Ek het sielkunde bestudeer, maar eintlik tel net dat ek self in die dieptes van die donkerte van hierdie siekte afgekyk het en soms nog afkyk. Ek kon dit leer hanteer. Soms wankelrig, maar darem. En met die hulp van die Here kon ek nog altyd voortgaan. Ek hoop jy ook.

    Izak de Villiers

    Johannesburg

    Laatsomer 2008

    1

    Bedruk? Jy verkeer in goeie geselskap …

    Die man se vrou het my oor hom gebel.

    Kan Dominee nie asseblief met Pieter praat nie? Hy tree die afgelope tyd so gans anders op as waaraan ons gewoond is. Hy is so … ek weet nie eintlik hoe om dit te stel nie … so … afwesig! Dis asof niks hom interesseer nie, nie eens wanneer ons ’n grappie maak of iets nuuts wil aanpak nie. Hy kom by die huis en sit en staar voor hom uit. Ek weet nie of hy siek is nie, want hy wil nie dokter toe gaan nie. Kan jy dalk help?

    En kon niks belowe nie, maar het onderneem om my bes te doen. Sy moes hom omhaal om met my te kom praat.

    Gelukkig – en dit is baie gelukkig, want gewoonlik wil depressiewe mense nie graag met ’n leraar of sielkundige of psigiater praat nie – het hy een aand ná biduur by my kom inloer. Annatjie het gesê ek moet ’n bietjie kom gesels, het hy dit gewaag – verskonend, so asof hy nie my tyd wou mors nie.

    Omdat hy ’n hooggekwalifiseerde professionele mens is, het ons oor ’n koppie tee dadelik tot die punt gekom. My vriend het bedruk gevoel (Asof ’n swaar gewig op my bors te lande gekom het en nie weer wil af nie); hy het soms aan die huil gegaan (Alleen, in my motor, waar ander mense my nie kan sien nie, want wat sal hulle van my dink?); en hy het partykeer verskriklik gejaag gevoel en hartkloppings gekry (So asof iemand my in die maag skop en wurg dat ek nie kan asem kry nie – dan word ek bang dat ek dalk besig is om van my verstand af te raak … ).

    Sy hande het liggies gebewe toe hy die teekoppie by my neem (Soms voel dit asof my hele binneste bewe); hy het belangstelling verloor in sy werk (Dis net ’n gejaag na geld); hy moes ’n nuwe bril kry omdat dit vir hom gevoel het asof sy oë aansienlik verswak het (Daar is soms ’n soort waas voor my oë … maar dis seker die naderende ouderdom – hy was 45); hy had klagtes van liggaamlike aard (Slegte spysvertering, en dit voel asof daar naalde en spelde in my hande steek); hy het nie meer ’n eetlus gehad nie (Ek moet myself dwing om die vurk tot by my mond te bring); en sy groot klagte: Hy sukkel om te slaap (Ek raak maklik aan die slaap, maar hier teen halftwee in die nag skrik ek skielik wakker en dan kan ek maar vergeet, ek slaap nie weer nie … ).

    Dit was baie duidelik dat hy aan depressie of bedruktheid gely het. Ek kon hom gerusstel dat dit ’n taamlik algemene verskynsel is, dat sy tipe depressie veral met die middeljare gepaardgaan en dat psigiaters reken dat drie tot vier uit elke tien mense vroeër of later aan dié siekte ly. Sowat een uit tien van dié mense beland in die hospitaal. En statistieke dui daarop dat dié persentasie aan’t styg is. Soos dit gewoonlik die geval is, was my besoeker nie baie geneë om ’n psigiater te raadpleeg nie (Ek het die Here al gevra om my net weg te hou van ’n psigiater, want dit sal vir my die laaste strooi wees. Ek sal voel dat ek tou opgegooi het en nou ’n psigiatriese ‘geval’ geword het … ). Dis ’n totaal verkeerde houding wat later bespreek word.

    ’n Internis het my vriend deeglik ondersoek en het tot dieselfde slotsom gekom: Al sy kwale en verwarde gevoelens het uit ’n redelik ernstige depressie gespruit. Die internis wou hom ook na ’n psigiater verwys, maar hy was steeds daarteen gekant. Gelukkig het die internis goeie kennis van die sielkunde gehad en kon hy die nodige medikasie voorskryf. My vriend het ook nog gereeld na my gekom om te gesels. My eerstehulp-sielkunde het ’n doel gedien. Ons het saam gebid. Ná ’n paar maande kon hy die medikasie los en was hy emosioneel weer op dreef.

    Ander kom nie so maklik daarvan af nie en moet – al wil hulle nie – die hulp van ’n psigiater of kliniese sielkundige inroep. Dit is nie ’n skande nie en die meeste mense wat ek nog na ’n psigiater of sielkundige verwys het, het tot die slotsom gekom dat hulle baie baat daarby gevind het. Maar meer daaroor later.

    Depressie of bedruktheid word die siekte van ons tyd genoem. Tog was die Duitse kerkhervormer Martin Luther al baie goed daarmee bekend. Anfechtungen was sy woord vir sy aanvalle van depressie en hy het dit beskryf as ’n gevoel van groot donkerte en twyfel, ’n smart wat ’n mens nie kan beskryf nie en wat jou sonder rede beetpak, ’n geweldige twyfel aan alles (God, vrou, vriend, kind, koning), verwardheid, wanhoop, trane en ’n gesug, paniek en angs.

    ’n Moderne sielkundige soek vir hierdie simptome voordat hy die woord depressie begin gebruik.

    Luther vertel dat hy sy Anfechtungen alleen kon hanteer deur die Psalms oor en oor te lees en hulle hardop te bid. Indien ek langer leef, skryf hy in ’n brief aan die hervormer Philip Melanchthon, "sal ek nog ’n boek skryf oor Anfechtungen. ’n Mens móét hulle beleef, anders kan jy nie ware vreugde waardeer nie. Hierdie insinkings van die gees is nodig om geestelike probleme in perspektief te sien. Maar dan moet ’n mens altyd in gedagte hou dat die duiwel graag ’n luis in ’n kameel verander. Wanneer Anfechtungen soos ’n trop kamele op jou afstorm, vra die Here om hulle in luise te verander, wat hulle waarlik is!" Tipies Luther, maar ’n depressiewe pasiënt weet dat dit nie altyd so maklik gaan nie. En luise kan soms ellendig seer byt!

    In 1979 het die beroemde Amerikaanse prediker Billy Graham sy aanhangers en bewonderaars skeef laat opkyk toe hy aan verslaggewers verduidelik het dat hy soms aanvalle van depressie kry. In sy boek Till Armageddon skryf hy: Christene is veral vatbaar vir vermoeienis wat tot depressie lei. Hulle werk vir die Here met groot toewyding, aanvaar soms bomenslike uitdagings en ignoreer waarskuwende tekens. Met niemand om te help nie, probeer hulle te veel dinge op hulle eie aanpak, raak tot sterwens toe moeg en bevind hulle oornag onder die donker wolk van depressie. Christen-leiers en -helpers moet gedurig hiervoor op die uitkyk wees.

    Sint Teresa van Avila, die beroemde Spaanse non, sou met hom saamgestem het. Kort voor haar dood in 1579 skryf sy in haar beroemde boek Die wonings: ‘‘Daar is baie soorte hartseer. Sommige kom skielik en gaan net so gou verby. Ander vestig hulle in die woning van ons hart en wil nie vertrek nie."

    Die beroemdste staatsman van die vorige eeu, sir Winston Churchill, het sy lewe lank geworstel met die duiwel van depressie (terloops, dis Luther wat dit ’n duiwel genoem het). Maar wat ander mense in ’n maalstroom van ondergang kon laat beland het, het Churchill tot groter dade aangespoor. Toe hy in 1931 sy parlementêre setel verloor, het hy messelwerk leer doen om besig te bly en iets nuuts te kon doen. Ná die ramp van Gallipoli, waarvoor hy die blaam moes dra en as minister van oorlog moes bedank, het hy begin skilder. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, het dié depressielyer sy volk tot moed en geloof aangespoor soos niemand anders kon nie: We shall fight on the beaches … we shall fight in the fields and in the streets … we shall never surrender. Dis ook die beste strategie teen die siekte van depressie: om nooit moed te verloor nie.

    Die skrywer van die pragtigste sprokies, Hans Christian Andersen, het teenoor sy vriende beken dat dit soms vir hom voel of hy van sy verstand af raak. Hy het partymaal dae lank in sy kamer gesit en deur die venster gestaar. Maar dit het hom nie ondergekry nie. Hy het geskryf en rondgereis, hy het nuwe vriendskappe gesluit en nuwe stories vertel van skone prinse en meerminne, van lelike eendjies en grasieuse swane …

    William Cowper, digter en skrywer van onsterflike Christelike himnes, het soms sy kop teen sy kamermuur gestamp en gebid dat God hom van die verskriklike hel van sy siel moes verlos. Vriende moes by hom waak. Maar nogtans kon hy skryf:

    God moves in a mysterious way

    His wonders to perform.

    He plants his footsteps in the sea

    and rides upon the storm.

    Die lys van beroemde depressielyers is indrukwekkend: die sanger Barbra Streisand, komediante Carol Burnett en Peter Sellers, Billie Jean King (tennisspeler), Isadora Duncan (danser), John F. Kennedy, Arthur Conan Doyle (skepper van die karakter Sherlock Holmes), Sigmund Freud (die vader van psigoanalise!), Victor Hugo, Thomas Edison, Clare Booth Luce (joernalis en skrywer), Adelle Davis (voedingkundige en skrywer), John Lennon (die beroemdste Beatle), Charles Dickens, Samuel Johnson (sy biograaf, James Boswell, skryf dat depressie die verskriklike prys was wat Johnson vir sy intellek moes betaal), koninginne Wilhelmina en Juliana en prins Claus van Nederland, Frederik die Grote van Pruise, Abraham Lincoln, Mark Twain (bekend vir sy humor), Vincent van Gogh en talle ander beroemde skilders, digters soos Samuel Coleridge, Francis Thompson (die Christen-skrywer van The Hound of Heaven) en W.B. Yeats, Maria Callas, Elvis, moderne musieksterre, geestelikes, filosowe … Die lys is oneindig lank.

    Daar is mense wat selfs reken dat Paulus se doring in die vlees, die engel van Satan wat hom met die vuis slaan, endogene depressie kon gewees het – iets wat ek al hoe meer begin glo.

    Maar, soos Billy Graham in sy boek waarsku: Christene moet nie dink dat hulle dit sal vryspring nie. Leslie Weatherhead, die beroemde Britse prediker en sielkundige, het in sy jonger jare tot in sy middeljare van tyd tot tyd aanvalle van terneergedruktheid deurgeworstel. Dit het hom, soos hy dit stel, by tye so verlam dat hy nie in staat was of lus gehad het om sy skoenveters vas te maak nie. In Prescription for Anxiety skryf hy: Selfs nou nog beleef ek my donker dae: dae waarin ek deur ’n gevoel van totale mislukking oorweldig word. Dan kyk ek in daardie diep, donker afgrond af wat ’n mens wanhoop noem. En ek weet dat derduisende mense saam met my kyk … Maar ek is ook seker daarvan dat die donkerheid baie dikwels ’n liggaamlike oorsaak het.

    Oor die oorsake, liggaamlik en/of emosioneel, verskil psigiaters, sielkundiges, dokters, leraars, maatskaplike werkers, beraders – en lyers – met mekaar. In my navorsing vir dié boek het ek telkens agtergekom dat daar omtrent net soveel verklarings is vir depressie as wat daar mense is wat dit probeer verklaar. Daar is ook talle verskillende soorte depressie, nes verkoue: Een nies en proes, die ander een se bors trek toe; die een kan met sy werk aangaan, hoewel bedremmeld, die ander moet in die bed bly en selfs antibiotika neem. ’n Internis het op ’n dag teenoor my opgemerk: ’n Mens moet elke geval van depressie byna soos die kruiedokters van ouds sit en beluister en oorweeg. Toetse moet gedoen word. Hulp van die psigiatrie moet ingeroep word. Medikasie moet probeer word.

    Veral Christene beskuldig mekaar of hulself van ontoereikende geloof, ongehoorsaamheid teenoor God – en selfs duiwelbesetenheid! ’n Depressielyer het my eenmaal grootoog kom vertel dat hy nou genees is: "Dit was toe nooit ’n siekte nie, Dominee. Dit was

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1