Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die derde graf
Die derde graf
Die derde graf
Ebook387 pages4 hours

Die derde graf

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Gawie Calitz ontdek die afgeleë plaas waar ’n voorsaat in 1927 met ’n diamantfortuin verdwyn het – en dan verdwyn hý ook. Tromp Faber, eks-polisieman en familievriend, kan moontlik ’n martelende selfverwyt oor sy boesemvriend se dood besweer deur Gawie te vind, maar in sy weg lê ’n maalkolk van grootskaalse korrupsie en gewetenlose moord wat hom en ander na aan hom gaan insuig.
LanguageAfrikaans
Release dateJan 31, 2014
ISBN9780798163477
Die derde graf
Author

Calvyn van Niekerk

Calvyn van Niekerk was onder meer verhaleredakteur en skrywer by Die Brandwag en Republikeinse Pers, verhaleredakteur van Ster en later redakteur van Keur. Hy is die skrywer van honderde tydskrifverhale, twee jeugverhale, ’n rits radio-vervolgverhale en twee TV-reekse vir Afrikaanse Jeugdrama. Hy en sy vrou woon deeesdae in Kaapstad, na 24 jaar in Johannesburg.

Related to Die derde graf

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die derde graf

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die derde graf - Calvyn van Niekerk

    CALVYN

    VAN NIEKERK

    DIE

    DERDE

    GRAF

    Human & Rousseau

    1927

    Groot Karoo

    7 Maart

    My liefste Hetta,

    Met dié dat die goewerment mos die diamantveld gesluit het, is ek en Giep nou op pad huis toe. Jy sal jou twee bakhande moet hou vir die hoop diamante wat ons daar uitgehaal het, my vrou. Ons is ryk!

    Almal was nie so gelukkig nie. Van die meer as duisend delwers aan die Weskus het baie niks gekry nie, of bitter min. Die meeste is ordentlike mense, maar daar is ook ’n ruwe element en hulle is kwaad oor hulle nie meer mag delf nie. Van hulle weet van ons geluk en daar­om besluit ons toe om liewerster van die grootpaaie af weg te bly en maar ’n draai te ry. En daar laat die ou Fordjie ons in die steek, ses dae terug. Party van hierdie paaie moet eerder slote genoem word. Giep jaag deur ’n knik en die as breek, en daar sit ons in die middel van nêrens.

    ’n Boer het ons darem gekry. Hy was op pad dorp toe met ’n kapkar en ons wou saam, maar hy sê dis ver, hy wil nie sy perde moor met ekstra vrag nie. Dis buitendien net ’n ou gehuggie, net een winkeltjie, en dié hou nie karparte aan nie. Hy het toe vir ons ’n as bestel en ons kom oplaai met die terugkom. Nou sit ons op sy plaas. Vanoggend is hy weer dorp toe en ons hoop en bid net die as het gekom.

    Ons voel nogal jammer vir die man. Hy is soos sy vinger alleen hier op die tamaaie stuk aarde, behalwe vir ’n jong Boesman. Dié sit nou al amper heeldag in die koelte teen die klipkraal se muur. Rus lekker terwyl die baas weg is.

    Die armoed staan geil hier. Dis ’n klein ou huisie, net drie ver­trekke, een slaapkamer. Ons slaap op die solder. Bedags kan jy brood bak daar onder die sink so warm is dit. Ons boer maar hier voor die huis onder die prieel.

    Dalk is ons gelukkig en kom ek nog voor hierdie brief by jou. Ek verlang só, ek moes net met jou praat, al is dit op papier. Ek kan nie wag om jou in my arms te hou nie.

    Die potlood raak stomp. Bart Calitz kerf dit versigtig skerp met sy sakmes en blaas dit skoon. Hy sit op ’n lendelam riempiestoel, die skryfblok op sy knie, en kyk uit oor die verlatenheid. Regs van die huis swaai die pad, net ’n paar dowwe spore, ooswaarts weg na die horison. Hoe ’n mens in hierdie barheid ’n bestaan maak, weet hy nie. Dis myle ver van die beskawing af. Klipkuil, waarheen die boer vanoggend gery het, bestaan uit ’n winkeltjie, ’n paar huise en die murasie van ’n kerkie wat glo in die 1860’s deur ’n sendeling ge­bou is. Hy en Giep is daar deur voor hulle vasgeval het.

    Met die ompad wat hulle gevat het, het hulle diep die verlaten­heid in verdwaal. Nou lê hulle op ’n arm man se nek. As beloning sal hulle ’n mooi diamant hier los en vir hom skryf waar dit weg­gesteek is. Dis tog net christelik om ’n krummel van hul geluk af te staan.

    Sulke geluk verbyster Bart steeds. Hy en Giep was slim genoeg om Hans Merensky te volg. Hoe enigiemand nog die wyse doktor se woord kon betwyfel, ná al sy ontdekkings oral in die land, slaan ’n mens dronk. Die diamantpyp, het Merensky gesê, is in die see, en diamante het oor die eeue uitgespoel. Hy het die bron gekry en op een van sy kleims het daar glo honderde diamante onder ’n groot klip gelê. Bart en Giep se drie kleims was naby genoeg.

    Selfs in die laat namiddag is dit nog snikwarm. Bart tas na die blikbeker op die grond langs hom en sluk dorstig. Die water is lou en brakkerig.

    Voetstappe knars nader en Giep Wiid verskyn om die hoek van die huis. Nes Bart is hy seningrig en sonverskroei ná twee maande se delwery in die bloedige son. ’n Ou bladsak is om sy skouer ge­haak. Soos altyd rus sy linkerhand beskermend daarop, want dit bevat die helfte van ’n fabelagtige vonds.

    Voor hulle die eerste diamant uitgehaal het, het Giep al ge­sweer hy loop liewer die koue, woeste see in tot hy sink voor hy met leë hande teruggaan om maar weer in mynskagte te gaan rondkruip. Nou kan hy nie wag om die familieplaas te gaan terugkoop nie. Dié is ’n kwarteeu gelede in die Engelse Oorlog verwoes en die Wiids het dit verloor.

    Giep vat die beker, vul dit uit die watersak wat onder die prieel hang en ledig dit sonder om asem te skep.

    Waar bly die man? wil hy weet.

    Bart buig weer oor die skryfblok. Geduld, swaer. Dis nog vroeg.

    Ou Giep se senuwees is skoon gedaan. Hier agter die huis staan twee spitskoppies met ronde kranstoppe, so eners soos ’n tweeling, en Giep het netnou weer in die bloedige son teen die een gaan uitklouter om te kyk of die boer al aankom.

    Ek hoop maar die Ford én Giep sal hou tot in Johannesburg! Vir die wis en die onwis het ons die diamante so naastenby in die helfte tussen ons verdeel, dis veiliger as dat net een van ons dit oppas. Wanneer ons dit verkoop, sal ons mooi gelykop deel. Hier sit Giep nou weer met sy hand in sy bladsak en speel met die klippies. Hy moet die goed vóél om seker te wees dis nog daar. Ons albei ken armoede, so ek verstaan.

    My deel het ek in die Bybelsakkie gesit wat jy vir my gegee het. Ek hoop dit was nie sonde om die Bybel uit te haal ter wille van die diamante nie, maar dis al stewige sak wat ek daarvoor het. As dit skud, kan ’n mens hoor dis nie ’n Bybel nie, so ek het die sak solank op die solder weggesteek, onder ’n paar los bakstene net onder die sink. Ek wil nie so behep met die goed raak soos Giep nie. Dis net die derde belangrikste ding in my lewe. Die eerste twee ken jy, my vrou.

    Ons is van plan om op Upington oor te staan en die Ford deeglik te laat deurkyk voor ons die pad vat Johannesburg toe. Ek sal die brief op Upington pos, maar ek hoop nog steeds ek is voor hom by die huis.

    Sê groetnis vir ons grootman. Druk hom en sê dit kom van sy pa af. En sê vir hom ons is klaar met vuil Fordsburg. Ons gaan boer en hy gaan sy eie perd met saal en toom hê.

    Mag die Goeie Vader julle bewaar tot ons mekaar weer sien.

    Van jou liefdevolle eggenoot,

    Bart.

    Herklaas Knoessen kom kort na sononder by die huis aan. Bart en Giep wag hom in by die stal en Giep se gesig verhelder toe hy die nuwe as by Knoessen se voete op die kapkar sien lê. Sy uit­bundige groet bly onbeantwoord. Knoessen klim stroef af met sy haelgeweer in sy hand. Die man is ’n reus, miskien nog duskant veertig, maar dis moeilik om te skat met die gitswart volbaard tot op sy bors. Hy kyk nie eens na hulle nie, beduie net na die tam perde vir Jan Januarie, wat flink naderstaan om te begin uitspan.

    Knoessen trek ’n oranje koevert uit sy sak. Hy gee dit vir Bart, wat verbaas die telegram uithaal en oopvou. Dis aan Knoessen gerig.

    My swaer, sê hy. Op Alexanderbaai. Ek het hom oor julle gevra.

    Die paar woorde laat Bart yskoud word: DRIE KLEIMS STOP RYK.

    Waar’s dit? grom die reus.

    Bart voel lam geskrik. Agter die kapkar begin Giep wegstaan. Die haelgeweer is skuins oor Bart se kop gerig, oënskynlik terloops, maar dit word ferm vasgehou, soos wanneer ’n mens wag vir die skop van ’n skoot, en Giep kan dit ook sien.

    Wat? fluister Bart. Sy keel is droog.

    Die haelgeweer sak. Bart kyk in die swart dieptes van die dubbel­loop af.

    Die diamante.

    Albei lope is oorgehaal.

    Toe Bart na Knoessen kyk, weet hy dit maak nie saak wat hy antwoord nie. Daar is klaar oor hul lot besluit. Niemand weet hulle is hier nie.

    Hy staan by die agterkant van die kapkar en reken hy het ’n geringe kans. Wanhopig gooi hy sy lyf agter die kar in, dan nael hy, die kar vir kosbare oomblikke tussen hom en die geweer. Giep is reeds op vaart. Bart swenk links . . . dan regs . . . twee treë voren­toe . . .

    ’n Donderslag klap agter hom en die skoot tref hom hoog in die rug. Sy bene vou.

    Jan Januarie staan in magtelose vrees voor die perde. Hy weet hy moet ook vlug, maar sy lyf wil nie gehoorsaam nie. Knoessen loop om die kapkar en mik na Giep, maar laat die geweer sak toe die vlugtende man anderkant die huis buite skoot wegswaai.

    Span uit, beveel Knoessen.

    Hy herlaai die haelgeweer terwyl hy die stal binnegaan en kom uit met saal en toom. Jan bid. Sy hande is dom. Knoessen beduie na die swart hings.

    Saal hom op.

    Jan gehoorsaam. Sy hande is dom. Hy het skaars krag om die buikgord vas te trek. Dan staan hy eerbiedig terug en kyk hoe die groot man hom in die saal lig. Knoessen ry weg op ’n draffie, want die perd is tam. Rantjies toe.

    Bart lê roerloos op sy linkersy. Jan gaan behoedsaam nader. Hy hurk by die sterwende en haal sy hoed af, want die doodsengel is hier en ’n mens toon respek. Bloed loop uit Bart se mond. Sy lippe probeer klankloos ’n woord vorm. Sy hand sleep op teen sy bors, na sy sak.

    Jan sien die koevert wat daar uitsteek en trek dit uit. Bart fluister iets en Jan buk nader om te hoor.

    Pos . . . my vrou . . .

    Dis verby.

    Jan kyk rantjies se kant toe. Daar sal die ander man geen redding vind nie. Hy is reeds op pad na sy Maker.

    Dat hy derde op die lys is, weet Jan vir seker. Ná vier jaar op hierdie plaas weet hy dat sy baas die hart van ’n kobra het.

    Hy voel vinnig deur die dooie man se sakke en kry ’n beursie met note daarin.

    Vlug! Maar waarheen, oor hierdie kaal vlakte? Waar Knoessen hom die minste sal verwag. Hy kyk op na die solderdeur. Nee, hy sal vasgekeer wees.

    Hy gee ’n paar treë veld toe, steek vas. Hy sal ingehaal word.

    Hy gaan staan by die hoek van die huis en wag, sy lyf styf teen die muur. Minute gaan verby . . . dan kom ’n gil van die rantjie se kant af. Nog een. ’n Skoot knal. Stilte.

    Dit verg al Jan se wilskrag om te bly staan waar hy is. Hy moet net lank genoeg uit Knoessen se gesigsveld bly. Die aandskemer verdiep en in duisternis is redding.

    Perdehoewe kom nader. Jan sak laag teen die muur af en hou die ruiter om die hoek dop. Knoessen kom op ’n doelgerigte draffie aan en trek die perd tussen die huis en die kraal in.

    Jan! bulder hy.

    Toe niks op die werf roer nie, staan hy in die stiebeuels op en kyk rond. Dan vat hy koers, veld toe, in ’n lyn met die rantjies en die opstal. Jan raai hoe Knoessen dink: sy prooi sou vlug met die huis tussen hulle.

    Hy beweeg om die huis tot dit tussen hom en sy agtervolger is. Dan lê hy rieme neer, rante toe. Die laaste plek waar Knoessen sal gaan soek, is waar hy pas vandaan gekom het.

    Anderkant die rante daal die nag oor Jan Januarie. Sy pa kon ’n gemsbok jaag tot die dier gaan staan en wag vir die mes en Jan het beter rede as ’n honger maag om sy stamina te toets. Eers rek hy sy treë om afstand tussen hom en die moordenaar te kry, en toe hy veiliger voel, slaan hy oor na ’n gemaklike pas.

    Hy wil eers die brief weggooi, maar dan dink hy: Wat reg is, is darem reg. Hy het immers die man se geld gevat.

    Drie weke later pos hy die brief op Upington.

    Een

    As Gawie Calitz geweet het die pad is in so ’n toestand, het hy nooit die verlatenheid in gery nie. Hy nader sy bestemming daar­die skroeiende Dinsdag met die bakkie en woonwa in ’n sidderende ritteldans oor enkeldiep sinkplaat, die kajuit soos ’n oond nadat die lugverkoeling iewers anderkant nêrens die stryd ge­won­ne gegee het teen die Noord-Kaapse Februarieson. Sy vel blink sweterig, van sy yl wit hare af oor sy vervalle wange, deur die stoppel­baard en diep nekplooie. Sewe weke duskant sestig lyk hy minstens ’n dekade ouer.

    Net waar die pad om ’n steil rant wegbuig, kom hy op die naam­bord af, tamatierooi letters teen ’n wit plaat: Swartklip Woon­wa­park. Hy draai af en hou voor die hek stil. Eers bly hy net sit in die welkome stilte. Tam. In die truspieël sien hy sy stofstreep stadig in die windstilte neerdaal. Niks anders roer nie.

    Die plek is verlate, ’n swaar slot aan die hek. In die skadu van ’n ry digte peperbome is ses ruim staanplekke met witgekalkte klip­pe afgemerk. Verder steek ’n wit geboutjie met ’n groen dak agter kameeldorings uit, met langsaan ’n windpomp en ’n watertenk op ’n staaltoring. Anderkant die heining is ’n ronde sementdam en suipkrip.

    Gawie klim stram uit. Hy staan en strek die styfheid uit sy spiere. Die laaste paar maande het hy nog ’n kilogram of twee verloor en nou het hy die lyf van ’n ondervoede jokkie. Hy loop ’n draai om die woonwa om te sien of alles nog daar is, haal sy selfoon uit en skakel. Ses luie, dan antwoord ’n dunnerige manstem. Janna du Toit, eienaar, verseker Gawie hy is binne tien minute daar.

    Met ’n blikkie gemmerbier uit die woonwa klouter Gawie oor die hek. Net dié bietjie inspanning jaag sy asemhaling op en sy hart sit op loop. Hy vermoed die ou wekker is amper afgeloop en hy voel vere. Hy is op pad uit en wat daarvan? Hoekom nou ’n klomp geld op dokters blaas vir nog ’n paar doellose jare? Niemand sal hom mis nie.

    Hy gaan sit op ’n klip in die skadu, drink dorstig en kyk na die kliprant oorkant die pad. Sy testament is in goeie hande en dit bepaal dat sy as hoog teen so ’n rant gestrooi moet word, verkies­lik een waar geen siel al was of ooit sal kom nie. Hy sien selfs uit daar­na. Byna nege jaar dwaal hy nou al deur die Groot-Karoo en Namakwaland, en hy het lief geword vir die stilte. Hy wil vir ewig deel wees daarvan.

    Dis die bouval van ’n sendingkerk wat hom, op pad Johannes­burg toe, die draai na hierdie uithoek laat ry het. Vier maande ge­lede het ’n predikant hom vertel van dié murasie, ’n monu­ment van vergange tye se toewyding aan die verspreiding van die Woord. ’n Sendeling van die Londense Sendinggenootskap, ene Masterson, het in die 1860’s hier aangekom om siele te be­arbei. Hy het dié plek gekies vanweë die sterk fontein en ’n ewe stand­houdende stroom heidene wat deur die water gelok is. Omdat on­gelowiges nie geesdriftige kerkbouers is nie, het dit glo bykans twee jaar geduur om die kerkie te voltooi. En toe het die eerwaar­de die voorreg gehad om net vier dienste in die kerk te lei voor hy skie­lik aan ’n geheimsinnige maagaandoening heen is. Hy is nooit ver­vang nie, want die Genootskap het geglo die plek is ongesond.

    ’n Plek van Stilte, Gabriël Zirk Calitz se eerste fotoboek, is deur ’n resensent beskryf as ’n sensitiewe beeltenis van die mens se spoor deur die Groot-Karoo en Namakwaland. Dit wys hoofsaaklik woon­plekke, van primitief tot modern. Sy volgende boek sal fo­kus op ak­ti­witeite, en daar sal plek wees vir Masterson se kerkie.

    Gawie het gewik en geweeg voor hy so ver uit sy pad gery het. Hy móét oor twee weke in Johannesburg wees vir die herdenking van sy seun se gruweldood elf jaar gelede. Dit sal ’n bitter ironie wees as hy weens ’n onvoorsienigheid hier moet vasval. Amper ’n eeu gelede het sy oupa Bart ook op pad Johannesburg toe ’n wye draai deur dié verlatenheid gery en nooit tuisgekom nie. ’n Knik in die pad, ’n gebreekte as en die Calitz-familie se geskiedenis het ’n tragiese koers ingeslaan.

    Uit die ooste kom ’n dreuning en ’n naderende stofstreep ver­skyn om die rant. ’n Blou Isuzu draai in en hou langs die woon­wa stil. ’n Groot figuur sukkel uit, ’n middeljarige man met ’n ronde, blink gesig onder ’n wyerandhoed. Sy maag hang soos ’n halfsak mielies in sy hemp en hy loop met ’n agteroor pikkewynstappie om die vrag te balanseer. Hy kekkel al daar van die hek af terwyl hy oopsluit en dit oopstoot. Jammer hy is laat. Die verdomde jakkal­se was weer onder sy skaap in en hy was by ’n jakkalsjagter wat nie kan ophou praat nie en hy wou nie ongeskik wees nie, maar elk geval, Gawie is baie welkom.

    Hy wag dat Gawie sy bakkie en woonwa onder die genadige skadu van die peperbome intrek en doen dieselfde. Dan wil hy kuier, soos Karoomense doen. Hy aanvaar ’n blikkie gemmerbier en maak hom tuis op die trap van die woonwa, wat merkbaar skeef sak onder sy gewig. Hy trek ’n sakdoek uit, lig sy hoed en vee sweet af. Waarheen is Gawie nou eintlik op pad?

    Gawie verduidelik hy kom die kerk se murasie fotografeer en natuurlik moet hy verduidelik hoekom en’n Plek van Stilte gaan haal en wys. Janna is gefassineer. Dat mense nou ’n boek sal koop om na prentjies van murasies te kyk, nè?

    Ja, hy ken die storie van die kerkie. Gawie kan dae lank hier besig bly met kiekies van bouvalle. Die jong mense flenter mos stad toe agter die liggies en die goudpotte aan en die plek is te uit die pad vir stedelinge wat platteland toe vlug. Daar’s ’n paar ou huise op die dorp wat leeg staan en inmekaar val. Op plase ook. Deur die jare het party boere opgegee en padgegee. Ander het ryk geword en nuut gebou.

    Niemand darem so ryk soos die Blatts nie. Jy weet mos van die Blatts?

    Wie’s hulle?

    Janna lyk geskok. Ek dog die hele wêreld weet van die Blatts! Twee broers. Ken nie die einde van hulle skatte nie. Baie mense het mos doerie tyd ryk geraak van Namakwaland se diamante.

    ’n Kekkellaggie laat sy oë toevou in die pofferwange. Nou nog, as jy my vra. In die ou dae het vrome manne op die ouderling­bank gereken die diamante is Gods gawe en wie de hel is Hertzog om te wil sê ’n arm man het nie reg daarop nie? Ek sê jou, daar het al meer smokkeldiamante uit Namakwaland gekom as wat wet­tig gedelf is. ’n Man kon dit op ’n kol nie waag om vooruit te boer nie, dan kyk almal jou skeef aan en fluister diamante. Daar by die Blatts trek ook ’n rokie. Die storie loop dat die oupa . . . nee, ek lieg nou, dit was die oupagrootjie, ou Herklaas Knoessen . . . dat hy nooit eers self op die diggings was nie. Stokalleen op sy plaas gebly. Toe raak hy eendag net so stil-stil weg. Meer as ’n jaar later slaan hy weer hier uit, opgetof, in ’n blink motorkar, en hy koop nog grond. Hulle het nou meer as twintigduisend hektaar. Verbeel jou! Nie ’n enkele skaap nie, net wild. Jy sien die Blatts ook net so af en toe. Dan kom hulle hier aan in ’n yslike vliegtuig en dit klink soos oorlog soos hulle maai. Springbok, gemsbok . . . daar’s troppe en troppe.

    Waar woon hulle dan?

    Johannesburg. Ou Knoessen het glo ’n fortuin geloop maak uit eiendom en wat nog daar in Sodom, en sy nageslag het net meer en meer vergaar. Hier staan nou ’n kasteel van ’n huis, en dit net vir nou en dan. Kompleet met ’n landingsbaan en ’n skuur vir die vliegtuig. Dis net die bestuurder en ’n sekuriteitsman wat op die plaas bly, behalwe die werkers. Sekuriteitsman, ek vra jou. Lyk soos ’n stoeier.

    Janna skep ’n slag asem, vee weer oor sy gesig. Hulle is ’n be­neukte spul, hou hulle eenkant. En bewaar die arme wilddief wat hulle vang. Hulle werk sy gal, en jy hoor g’n niks van mense­regte nie. Dis Blatt-regte wat hier tel. Laas jaar was hier stories van moord. ’n Jong knaap – hulle sê hy was ’n wilddief – is op die Blatts se plaas doodgeskiet, maar daar het niks van gekom nie. Die ding is sommer net doodgesmoor.

    Gesmoor? Die polisie moes dit tog ondersoek het?

    Man, ja, dis nie dat ek wil slegpraat van ons plaaslike polisiehoof nie. Maar plaaswerkers praat mos onder mekaar en dis ’n feit, daai man loop gedurig en biltong kou en hy word gereeld op die plaas gesien in siviele drag en met ’n jaggeweer. Hoe lank gaan jy bly?

    Ek sal môre oorstaan en oormôre ry.

    Agter nog murasies aan? Waar’s die familie?

    Geen familie nie.

    Haai! Nie eers vrou en kinders nie?

    Ek is geskei. Daar was ’n seun. Hy is dood.

    My hemel, mens! Was hy siek? Hoe oud?

    Ongeluk. Negentien.

    Dis net makliker om te sê dit was ’n ongeluk – mense dink aan ’n padongeluk. Dit was nie. Elf minute oor vier op ’n Maandag­oggend het die polisie vir Gawie en Mattie kom opklop om hul enigste kind se lyk te gaan uitken. Die uniforms was nie juis sim­patiek nie, klaarblyklik gedink hulle het met gomtorre te doen. Magnus was by ’n dwelmhool, skynbaar om voorraad te kry, toe die polisie toegeslaan en wild en wakker geskiet het. Die koeël is deur sy linkeroog.

    Sjoe. Janna skud sy kop. Ek kan my voorstel.

    Nee, hy kan nie. Niemand kan hom indink in die selfverwyt as jy jou kind na dwelms en die dood gedryf het nie. Jare lank het hy gedink hy doen goed deur sy seun, sy enigste, sy trots, aan te moedig om te studeer en uit te styg tot waar die Calitze eintlik moes gewees het. Werk harder! Jy kán! Eers veel later, hier in sy eensaamheid, het die verskil tussen aanmoedig en dryf tot hom deurgedring. Hy het sy kind na prestasie buite sy bereik gejaag, tot Magnus, wat so hard probeer het en net nie in staat was nie, verligting gaan soek het in dwelms.

    Kry jy baie besoekers hier? stuur hy die gesprek weg van die onderwerp. Dis privaat gebied.

    Janna sug. My vrou het van die begin af gesê ons is te af­ge­sonder, maar toe kry ek mos die mooi water juis hier by die pad en ek dink: hoekom net vir skaap? Die vrou was reg. Jy bly tot oormôre, sê jy?

    Dit hang af. Dalk is daar op Klipkuil ook moontlikhede, dan bly ek nog ’n dag.

    Nes jy wil. Laat weet as jy iets nodig het. O, die kerkie is ander­kant die dorp. Net verby die laaste huis draai die pad links op na die fontein toe. Jy sal die murasie daar naby kry, so half toegegroei al. Gaan voor sononder, die sendeling spook glo.

    Janna gaan maak seker daar’s water in die tenk, oorhandig sleu­tels vir die hek en ablusiegebou en vra dat Gawie tog maar moet sluit as hy by die hek uitgaan. Hy het al probleme gehad met rondlopers wat hulle in die badkamer tuismaak. Nee, dis beter Gawie betaal sodra hy definitief besluit het hoe lank hy gaan bly.

    Janna groet en ry dorp se kant toe.

    Gawie eet ’n peer vir middagete. Hy moet gaan brood soek. Klipkuil behoort net vier kilometer verder te wees, maar hy voel nou te moeg. Gelukkig is daar geen haas nie; hy moet eers oor twee weke in Johannesburg wees. Vanmiddag wil hy deeglik uit­rus. Sommer net rondkyk en die stilte geniet. Hy gaan lê op die bank in die woonwa en raak aan die slaap.

    ’n Toeter skreeu hom wakker en hy gaan uit. Janna staan voor sy bakkie en leun met sy dik voorarms op die hek.

    Man, ek moes jou gesê het. Jy soek ou huise? Ek vertel jou van die ryk Blatts en ek vergeet skoon, ou Knoessen se oorspronklike opstal staan nog. Dis nou ’n murasie, maar dáár is nou vir jou ’n storie as jy geskiedenis soek. Van arm kluisenaarboer tot skielike miljoenêr. Ek dink eers daaraan toe ek op die dorp kom en toe bel ek die plaasbestuurder. Ek dog watse skade kan dit nou aan ’n murasie doen om kiekies daarvan te vat en ek vertel die man van jou boek. Daar klim hy sommer op sy perdjie. Vreemdelinge word nie op Spitsieshoek toegelaat nie. As ek jy is, vee ek my af aan die mense se beneukgeit. Die ou plek is langs Flip Meyer se grensdraad, jy kan dit van die pad af sien. Dis ’n hoë wildheining, maar jy kan jou kiekies vat. Moet liewer nie oorklim nie. Hulle het voorlaaste maand ’n trop leeus daar losgelaat, seker vir ryk buitelanders om van ’n bakkie af te kom skiet. Ek het vir Flip ook gebel. Hy en sy vrou is Stellenbosch toe, die dogter studeer daar, maar hy sê jy’s welkom, maak net die hek toe.

    Gawie het nie lus om met ’n beneukte spul wat wilddiewe skiet deurmekaar te raak nie. Maar hy is nou hier en dalk kan hy tog ’n foto met ’n storie kry.

    Waar woon die Meyers? vra hy.

    In die kantoor op Spitsieshoek skryf Steve Nottingham, be­stuur­der, ’n verslag oor wildverspreiding op die 22 000 hektaar. Hy tik met twee vingers, versigtig en bysiende deur dik brillense, skraal skouers geboggel oor die toetsbord. Die jongste lugfoto’s toon ’n toename van byna tien persent in die wildgetalle. Die plaas kan dit dra, maar daar is ’n wanbalans in die verspreiding, met ’n dreigende oorbevolking in die suide. Die oplossing is beter water­voorsiening in die noorde en hy het ’n geoloog ontbied om daar te gaan water aanwys.

    Hy sluit die verslag af met verwysing na Gabriël Calitz, wat foto’s van die ou opstal wou neem. Die man is glo ’n bona fide-joernalis, met ’n fotoboek,’n Plek van Stilte, van murasies in die Groot-Karoo op sy kerfstok, maar volgens staande instruksies is hy summier toestemming geweier.

    Omtrent alle superrykes, weet Nottingham, is sku vir joernaliste en publisiteit. Meesal net om hul privaatheid te beskerm, of om nie die aandag van misdadigers te trek nie, maar dikwels genoeg ook om onwelkome aandag van die Inkomstediens en selfs die gereg te vermy. Waar die Blatts inpas, kan Nottingham raai, maar dit gaan hom nie aan nie.

    Hy het reeds vir Jason Cooper, die sekuriteitsman, gestuur om die registrasienommer van Calitz se voertuig te kry. Dalk wil die Blatts die man se identiteit bevestig en sy agtergrond ondersoek. Volgens Cooper, wat in Johannesburg by hulle gewerk het, doen hulle sulke dinge.

    Terrier Investigation & Security, ’n minder bekende sekuriteits­firma tussen die paar duisend ander in ’n misdaadgeteisterde land, is gevestig in ’n beskeie dubbelverdiepinggebou met ’n plat beton­dak in Wynberg, Johannesburg. Op die oog af is dit ’n onbe­duidende onderneminkie in die Blatts se sakeryk. Daar is ’n totale personeel van 76, waarvan 71 net kan raai wat die bestuurder, ’n oudkolonel uit Nasionale Veiligheid, en die ander vier doen.

    Hulle is die bevoorregte binnekring. Knap ondersoekers en man­ne met ’n liefde vir die mooi dinge in die lewe, soos motor­bote en BMW’s, uit die SAPD gelok met aanbiedinge van vet sala­risse. Hoewel hulle besig bly met legitieme ondersoeke vir eksklu­siewe kliënte, is hul primêre taak die sekuriteit van die Blatts se sake­ryk. Dit sluit in ondersoeke na die mees intieme besonderhede

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1