Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Oorkant jou: 'n Verhaal uit die binnekamer
Oorkant jou: 'n Verhaal uit die binnekamer
Oorkant jou: 'n Verhaal uit die binnekamer
Ebook302 pages4 hours

Oorkant jou: 'n Verhaal uit die binnekamer

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Oorkant jou is gevul met die stories van die uiteenlopende mense wat Juliana Coetzer se pad kruis as psigoterapeut. Deur hul verhale van swaarkry en herstel, neem Juliana die leser op 'n reis wat eintlikons almal s'n is: die pad van grootword en eienaarskap neem.
Sy vertel hoe sommige kliënte haar inspireer en uitdaag om haar eie vrese te konfronteer, maar ook watter uitwerking dit op terapeute het om aan die wreedheid van die mensdom blootgestel te word. Daar is die families wat uitmekaargeskeur is as gevolg van seksuele misbruik, die man wat sukkel met sy selfbeeld weens afknouery en ook die prostituut Venicia wat 'n tragiese simbool van verwaarlosing word.
Juliana se aardse humorsin maak dat sy egter ook die komiese oomblikke raaksien – totdat die volgende storie oor die menslike toestand jou wind uitslaan.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateSep 4, 2017
ISBN9781868428168
Oorkant jou: 'n Verhaal uit die binnekamer
Author

Juliana Coetzer

Juliana Coetzer is die skrywer van die topverkoper Bloedvreemd. Sy het haar eie praktyk as psigoterapeut in Pretoria.

Related to Oorkant jou

Related ebooks

Related articles

Reviews for Oorkant jou

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Oorkant jou - Juliana Coetzer

    Lof vir Bloedvreemd:

    Aangrypend, ontroerend, inspirerend. – Marita van der Vyver

    "Ek besef maar alte goed dat ek (dalk té) dikwels woorde soos ‘ont­roerend’ en ‘aangrypend’ in resensies gebruik, en dat hierdie woorde daarom dalk nie meer die impak het wat hulle behoort te hê nie. Nietemin is dit die eerste woorde wat by my opkom wanneer ek Bloedvreemd wil beskryf." – Willie Burger, Vrouekeur

    Juliana Coetzer se uitstekende boek oor haar en haar familie se stryd om ’n groteske terugslag te oorleef, is een van die sterkste en mesmeriserendste outobiografiese verhale wat sekerlik die afgelope jaar verskyn het. Haar storie is rou soos ’n oop wond, so eerlik vertel sy dit. Haar robuuste skryfstyl is vars en onderhoudend, as’t ware ’n pleister teen die seer. Hou maar vas, want sonder om sensasioneel te wees en in hiperbole te verval, gaan haar teer verhaal jou hard skud . . . Ek sien daarna uit om Coetzer se volgende boek te lees, want sy kan skryf. – Herman Lategan, LitNet

    "Soms kom ’n mens ’n boek teë wat jou feitlik onmiddellik laat vermoed dat dit een van die uitstaan-leeservarings gaan wees tussen die versameling van alles wat jy al in jou lewe onder oë gehad het. Bloedvreemd is só ’n boek . . . [en] ’n besonder sinvolle toevoeging tot traumaliteratuur." – Douwleen Bredenhann, LitNet

    Hierdie boek sal enige leser aangryp en jou nie onemosioneel laat nie. Dis ’n boeiende en roerende leeservaring. Phyllis Green, Sarie

    ’n Onvergeetlike leeservaring. – Hanlie Retief

    Dié outobiografie sal lesers nie teleurstel nie. Hartseer en skokkend is dit wel – maar dit is ’n fassinerende leeservaring wat die leser lank sal bybly. – Dewald Koen, Rapport

    Juliana Coetzer

    Oorkant jou

    JONATHAN BALL UITGEWERS

    Johannesburg & Kaapstad

    Vir my ouers,

    Johnnie en Annie Nortjé

    In hierdie boek is waarheid en verdigsel gekombineer sodat niemand herkenbaar is nie. Karakters en inhoud is aangepas, verander en gefabriseer. Die onderwerpe is met groot omsigtigheid benader om vertroulikheid te verseker. Stories is na willekeur verander, maar waar die werklikheid behou is, is toestemming verkry. Elkeen van die betrokkenes het die hoop uitgespreek dat ander uit hul ervarings sal leer. Dit sal sin gee aan hul moei­like tye.

    Hulle is die helde van die boek.

    Die psigoterapeut werk nie net ter wille van sy kliënt nie, maar ook ter wille van homself. In die proses is albei besig om ’n klein bydrae te maak tot die groei van die mensdom in sy geheel. Carl Jung

    Contents

    Een

    Twee

    Drie

    Vier

    Vyf

    Ses

    Sewe

    Agt

    Nege

    Tien

    Elf

    Twaalf

    Dertien

    Veertien

    Vyftien

    Sestien

    Sewentien

    Oor die boek

    Oor die skrywer

    Een

    "Toemaar, jy sal gewoond raak daaraan. Dis vir ons wat al lank hier werk nie meer snaaks nie." Ons sekretaresse/ontvangsdame Rina probeer my paai.

    Gewoond raak? Watse mens kan ooit daaraan gewoond raak? vra ek. Ek probeer nie eens my verontwaardiging in toom hou nie. Die res van die maatskaplike werkers en sielkundiges vou teen dié tyd dubbel soos hulle lag. Dit is teetyd, ons staan agter die toonbank, voor in ontvangs. Ek vertel van die kliënt wat oomblikke gelede my kantoor uitgestorm het.

    Fok jou, jou vieslike vroumens! het die vrou in my rigting ge­spoeg in haar diep, donker, mansagtige stem. Haar man het homself klein gemaak op die stoel, soos ’n kind wat vir ’n klap wag. Dit was duidelik wie in hierdie huis eintlik die pak klere dra.

    Wat het haar so kwaad gemaak? vra die senior maatskaplike werker.

    Ek het gesê sy behoort nie so met haar man te praat nie.

    Wat het sy dan gesê?

    Teen hierdie tyd is almal se aandag op my en die sessie wat skou­spelagtig skeef geloop het. Tee- en koffiekoppies in die hand. Koekie in die mond. Mense met meer ervaring tussen hulle as wat ek treë op die aardbodem gegee het.

    Die agtergrond is dit: die man het ’n kind uit sy eerste huwelik en die vrou hou nie daarvan dat hy so baie aandag aan sy dogter gee nie. Oorhoops jaloers en dit op ’n kind! Maar tussen al die geskel kon ek hoor sy wil eintlik sê, sy wil eerste wees in haar man se lewe. Pleks dat sy dit sê, maar toe kla sy die hele tyd oor die man nie kan sien die kind holhang nie.

    Wat in die lewe is holhang? vra een van die sielkundiges.

    Ek wou ook weet, maar toe ek vra, is Atilla die Hun erg verontwaardig dat ek so bitter dom en onkundig is. ‘Jy woon seker nie in Goodwood nie,’ sê sy uit die hoogte en trek haar oë op skrefies vir my blink sandale. Die ergste van alles is, ek wóón in Goodwood, maar dit sal ek nie sê nie. Netnou wag sy my met ’n spanner by die huis in. Toe verduidelik sy ’n holhanger is iemand wat aan jou hol hang om sy sin te kry. Iemand wat net wil hê, en sal aanhou tot hy dit uit jou uit kry. ‘Soos die simpel kind van hom,’ sê sy.

    Nou het ek alles gehoor, lag ’n ander sielkundige. Ons behoort ’n terapie-woordeboek te skryf om die woorde wat ons in dié beroep teëkom in die annale te verewig. No pun intended.

    Maar die rede hoekom sy so kwaad geword het, is omdat ek gesê het sy behoort haar man met meer respek te behandel. Toe sy hom ’n ‘driedubbele drol’ noem, kon ek nie meer na haar onvergenoegdheid luister nie. Dit het die vrou verby woedend gemaak. Noudat ek daaroor praat, besef ek dit het seker geklink of ek kant kies.

    Ek is so jammer, maar ek gaan nou lag, sê Rina en probeer ’n histeriese giggellaggie beheer deur onder die toonbank te skuil. Toe sy uiteindelik bedaar, sê sy soos iemand wat gou ’n kristalbal onder die toonbank geraadpleeg het oor my toekoms: Dit sal nie die laaste keer wees nie. Berei jouself voor. Hierdie woorde sal jy nog baie hoor.

    Ek moes my daardie dag gesteur het aan Rina se profetiese woorde. Veral toe die ander hul koppe entoesiasties op en af knik. Toe moes ek al geweet het, hier kom ’n ding. My lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Maar sou ek geluister het?

    Dit is 1999. Ek het pas veertig geword. ’n Goeie ouderdom, het ek gedink, om weer die werksmilieu te betree en my voet in die lewe, buite die veilige omgewing van my huis te waag. Tussen hierdie aanstelling en my vorige agt jaar as maatskaplike werker in die staatsdiens, lê twaalf jaar van drie kinders grootmaak en huisvrou wees. Jy kry professionele huisvroue en ma’s in wie se teenwoordigheid ander vroue ’n konstante minderwaardigheid voel omdat hulle tekorte net te opsigtelik teruggekaats word. En dan kry jy genadiglik ook die soort mense wat soos ’n voël in ’n kou hunker om vrygelaat te word. ’n Semipermanente begeerte het om iets op ’n ander plek te wees. By hulle vind ek aanklank. Ons praat mekaar se taal.

    So nee, ek sou nie na Rina luister nie. Drie oggende per week maak ek met ander mense bemoeienis en is ek meer as iemand se vrou en drie kinders se ma.

    Vry om enigiemand te wees!

    My nuwe werk is by ’n organisasie nie ver van die huis af nie. Ons werk met verhoudings-, gesins- en ander sosiale kwessies. Die jare by die huis het my selfvertroue nie goed gedoen nie en in ’n desperate poging om beter oor my vaardighede te voel, bly ek met my neus in ’n boek om kennis te versamel. Maar dit blyk nog nie genoeg te wees nie.

    Aan die begin van elke sessie klop my hart in my keel en ek wonder altyd of ek bekwaam genoeg is om die geval te hanteer. Sal ek nie die mense teleurstel nie? Sal hulle terugkom? En elke keer wanneer ek met ’n nuwe kliënt en nuwe omstandighede te doen het, dink ek ek weet nog nie genoeg nie. Dit is hierdie vertwyfeling wat my agter die boeke hou terwyl kinders rondom my voete speel en op notas kwyl.

    Snags wanneer almal slaap, studeer ek verder in sielkunde. My eerste liefde.

    Dit is gesonde druk wat terapeute wat hulle werk ernstig opneem, op hulself plaas, stel Sonja, my supervisor, my gerus.

    In hierdie beroep is die supervisor (Afrikaanse uitspraak) die hoof­indoena. Sy hou ’n waaksame oog oor die terapeute om toe te sien dat hulle werk lewer wat van hoogstaande gehalte is en bybly met die nuutste beginsels en teorieë. Ook dat terapeute se persoonlike omstandighede nie inbreuk maak op die werk nie of dat die werk nie die oorhand kry en die terapeute se persoonlike lewe affekteer nie.

    Supervisors word altyd met die nodige agting bejeën op grond van hulle ervaring. Behalwe Sonja. Vir haar is ons doodeenvoudig bang.

    Kliënte wat vir die eerste keer oopmaak oor hul lewe moet met die nodige bekwaamheid hanteer word, anders is dit dalk die laaste keer. Dit is die goeie nuus. Ek wag vir die aanmaning en sy stel my nie teleur nie.

    Maar as dit te veel spanning binne jou veroorsaak, is dit nie ge­sond nie en sal ons die oorsaak daarvan moet soek. Dit dui dalk op jou eie onsekerheid, of ’n vrees waarby jy nog nie uitgekom het nie.

    As ek een moet kies wat my analiseer, sal dit beslis nie Sonja wees, wat met haar streng kyk bo-oor ’n veelkleurige leesbril agter elke sin maar sê net om haar terapeute wankelrig te hou nie. Te veel vertroue in jouself is blykbaar nie ’n goeie ding in hierdie beroep nie.

    Ek sê niks van die vloekende vrou nie. Die situasie moes anders hanteer gewees het, dit weet ek sonder Sonja se gebruiklike afranseling.

    Gelukkig, as gevolg van die baie nuwe gevalle, is daar nie tyd om daaroor te tob nie. Die stof gaan lê. Die lewe gaan aan.

    ’n Week nadat die vrou die kantoor uitgestorm het met haar man verwese agterna, kom Rina my kantoor inderhaas binne. Ek het net met ’n sessie klaargemaak en is besig om notas in die lêer te plaas.

    Die direkteur het gevra jy moet haar bel voor jy dié egpaar sien, sê sy en wys met ’n kopwink in die rigting van die wagkamer waar die nuwe aanmelding reeds wag.

    Dis vreemd. Hoekom sal die direkteur met my oor kliënte wil praat en nie Sonja nie? Rina trek ook net haar skouers op. Sy is ons veilige tussenganger, maar ’n mens kan seker nie verwag dat sy altyd al die antwoorde sal hê nie.

    Nog voor ek ’n oog op die egpaar plaas, maak ek ’n oproep na ons hoofkantoor in Kaapstad en word deurgeskakel na die direkteur.

    Ek wil jou nie bang praat nie, maar dit is vooraanstaande mense. Die vrou is ’n bekende in die uitvoerende kunste en die man ’n professor by ’n universiteit. Hulle woon in Waterkloof.

    Ek wil nog die mens ontmoet wat nie in angs en bewing uitslaan as iemand sê: Ek wil jou nie bang praat nie. Al wat ek van Water­kloof weet, is dat die rykes daar woon, en Naas Botha. Ek kry die boodskap helder en duidelik: moenie ons organisasie in die skande steek nie.

    Wat maak hulle dan hier? wil ek senuweeagtig weet.

    Die vrou het gevlug. ’n Baie goeie vriendin van my wat ’n vriendin van die vrou is, het gebel en gevra dat ons hulle help.

    Ek is maar te goed bekend met die goeie-vriendin-van-’n-vriendin-situasie en dit voorspel gewoonlik niks goeds nie. Iemand se naam is noodwendig op die spel. Ek voel die druk asof ’n hoop bakstene op my onervare terapeut-skouers afgelaai word. Dis ook nie sommer enige vriendin se vriendin nie. Ons praat hier van ’n direkteur wat ons organisasie met ’n gefokusde hand dryf, wie se naam gereeld in tydskrifte skitter: dié kundige op die gebied van gesins- en interpersoonlike verhoudings en ander sosiale kwessies. Die beeld van die organisasie is haar hoogste prioriteit en sy marsjeer heel voor sonder om die stok een keer te laat val. Sy het statuur in die samelewing en jy sien dit sommer as jy na haar kyk. Die vrou is regop, elke haar op sy plek, fyn lyntjies in die gesig sorgvuldig toegesmeer en die klere en juwele van Garlicks af, vermoed ek. Daar waar die belangrike vroue mekaar ontmoet en fyn komkommer-en-roomkaas-toebroodjies eet, soos die Engelse.

    Ek werk nog net ’n paar maande by die organisasie en voel beslis nie gereed om by mense betrokke te raak wat ’n direkte lyn na die direkteur het nie. Poste by hierdie plek is skaars en jare se ondervinding is ’n voorvereiste. Ek voel bevoorreg om hier te werk en wil nie myself in die voet skiet nie.

    Maar hoekom na Goodwood se kantoor? Hoekom sien hulle nie eerder die supervisor of een van die seniors by julle in Kaapstad nie? Ek voel hoe ek die hoop bakstene benoud in haar hande wil terug­plaas. Laat sy maar die verantwoordelikheid vir haar vriendin se vriendin neem.

    Omdat julle kantoor nader is aan waar hulle tuis is. Moenie bang wees nie, jy kan dit doen, beëindig sy die gesprek saaklik.

    Jy kan dit doen, herhaal ek haar woorde saggies toe ek die telefoon op sy mikkie terugplaas.

    Natuurlik glo ek dit nie.

    Goodwood, oftewel Good’ood, soos die inwoners dit hier noem, se hoofweg waar mense parkeer om na ons kantoor te stap, is nie bekend vir sy natuurskoon nie. Vir ’n toeris bied dit nie veel nie, want Goodwood is nie vir die vertoon nie. Hier word gelééf. Pandjieswinkels en fabriekswinkels staan styf neffens mekaar. Dáár staan ’n Moskee en ’n klipgooi weg, ’n kerk. Dáár in ’n motorhuis koop ons roti’s by ’n toegedraaide Moslemvrou en net om die draai, by ’n antie met ’n moesie op die lip, koesisters. Straataf kry jy vis in dik deeg en vet chips in koerantpapier. Dit waarmee die res van die land nog sukkel, het Goodwood lankal baasgeraak. Die lewe se selfgemaakte klasse en groeperings van mense, verteenwoordig in een voorstad. Almal welkom. De laaste een. Inklusief.

    As jy opkyk, lê die berg net daar, maar meestal moet jy jou rok so styf vashou om te verhoed dat die wind hom oor jou kop waai, dat die berg hoofsaaklik as baken gebruik word en nie die bewondering kry wat hom toekom nie.

    "Ry in Voortrekkerstraat af, al die pad berg se kant toe. Net voor die 7-Eleven op die hoek sal jy die winkel sien waar Ralph Rabie sy verhoognaam gekry het. Dit is Goodwood se claim to fame. Daar, ’n blok van die Johannes Kerkorrel-musiekwinkel af, is ’n groot houtdeur. Dit is die ingang na ons kantoor."

    Jy versuim om te sê: op die hoek naby daardie winkel sal jy iemand sien staan wat jy tog nie aanstoot moet gee nie. Haar naam is Venicia, sy het rooi lippe en dra ’n nog rooier pruik. Sy is nog een van Goodwood se bakens.

    Venicia gee nie om dat die wind haar rok oor haar kop waai nie.

    It pays to advertise, sê sy.

    Soggens, wanneer ek vroeg kantoor toe ry, is ek gelukkig om haar nog met die laaste stuk van haar skof op haar gewone plek te kry. Van dag een af was ek gefassineerd en aangetrokke tot die mens wat geen wag voor haar mond plaas nie en ’n ding sê soos wat dit is. Mettertyd leer ons mekaar beter ken. Venicia vat nie nonsens nie. Ek het eendag gesien hoe klap sy ’n jonger, mooier model dat dié se pruik soos ’n tolbos in die straat af rol. Sy beskerm haar gebied soos ’n tierwyfie.

    Ek deel nie my shop se window met ’n ander bitch nie, sê sy.

    Hoe lyk dit met die besigheid? vra ek.

    Nei, laas nag was maar stil. Dis mos mirrel vannie maand. Mense hettie geld nie en die dae van vir peanuts werk, is nie meer vir Venicia nie.

    Goed so, Venicia, sê ek. Dis genoeg dat ek vir peanuts werk. Jy hoef nie ook nie.

    Djy sien! sluit sy ons gesprek af net voor die wind my by die houtdeur inwaai.

    Ek kan nie langer huiwer nie en gaan haal die lêer van die belang­rike Waterkloof-mense by Rina. Die goeie vriendin se vriendin.

    Jy ag jouself te min, sê Rina toe sy soos ’n bemoedigende ma my hand saggies druk.

    Komaan, Namakwaland, gaan doen jou ding. Moenie skrik vir die titel nie. Dit gaan oor die mens agter die rang en epoulette, die een agter die status.

    Professor en Mevrou sit oorkant my in die kleinste van die drie kantore, die een wat deur die nuutste terapeut beman word. Voorheen het dit my nie gepla nie, maar nou lyk die staalkabinet en die grys stoele baie eenvoudig en die vuil kolle op die mat so groot soos plase. Ek herinner myself om tog prente teen die muur te hang. Die kantoor vriendeliker te maak.

    Die vername mense voel vir my onvanpas in die kantoor wat die helfte is van baie mense se klerekas. My knieë skuur so te sê teen die vrou se gekousde bene, kuis teenmekaar. Die skoene het ’n effense hak. ’n Ligte trui bedek haar skouers. ’n Mooi, elegante vrou met ’n goed versorgde, deurskynende vel. Skamerig, duidelik nie geraak deur die status wat deur ander aan haar toegedig word nie. Sy sit afsydig, met die arm naaste aan haar man beskermend oor haar lyf gevou. Die netjiese figuur en regop nek beur weg van hom af. Sy kyk ver, anderkant toe, by die klein venster uit. Professor lyk of hy ’n afspraak met die kerk of universiteit het, stemmig en formeel geklee in ’n pak klere en gestreepte donkerblou das. Hoekom kom ’n mens met ’n pak klere Kaap toe?

    Dalk ’n Waterkloof-ding.

    Hy sit op die stoel in die hoek. Sy gesig lyk bekommerd en die skraal, lang lyf is onderdanig na sy vrou toe gedraai. Hy loer kort-­kort bekommerd na haar. My pa het geglo mense met hoë voorkoppe is slim en syne is uitermate breed. Op ’n manier straal hy ’n soort aristokrasie uit. Soos prins Philip van Engeland. Net so.

    My oë probeer die woord professor op die lêer langs my op die les­senaar vermy. Dit is in enige situasie ’n intimiderende titel, troos ek myself. Hopelik nie net vir my nie.

    Ek loer vinnig na hul ouderdomme in die lêer. Sy is diep in haar vyftigs. Hy, net verby sestig.

    Dit voel of ek vir my pa en ma moet raad gee.

    Waar begin ek? wonder ek angstig. My hart klop doef-doef in my ore. Dit is die hardste geluid in die kantoor. Dit sou soveel makliker gewees het as die direkteur se asem nie in my nek blaas nie. Of as ek nie haar goue armbande agter my hoor klingel nie.

    Mevrou spring my genadiglik voor en begin in ’n sagte, gemoduleerde stem praat. Sy is verfynd, iemand wat tee uit lieflike porseleinkoppies drink, stel ek my voor, en nie van mense verwag om koek met teelepels te eet nie. (My pet hate, net omdat die versiersel gewoonlik in die lepel se holte gaan plak.)

    Dankie dat jy ons op kort kennisgewing sien, sê sy.

    Dit was ’n opdrag, nie ’n keuse nie, vlieg die gedagte deur my kop.

    Ek leer hulle ken deur haar storie. Ek hoor van suksesvolle loopbane, slim, geleerde kinders en oorvloedige besittings. Ek hoor van ’n naweek-bosveldplaas en die lewe agter hoë mure in Waterkloof. Ek hoor van ’n bestaan wat mense gewoonlik laat vra: maar waarom is sy ongelukkig, sy het dan alles wat haar hart begeer? Asof geluk gemeet word aan die aantal motors in die oprit en skoene in die instapklerekas.

    Terwyl ek na die twee mense luister, na haar weergawe en toe syne, verdwyn die titels, kwalifikasies en status en word die kern van die storie ons almal s’n.

    Voor my sit ’n vrou wat bewondering geniet in die openbaar en op die A-lys van Waterkloof se teepartytjies is, maar dit nie as priori­teit beskou nie.

    Die rede hoekom sy gevlug het: haar man verwaarloos haar. Tussen sy beroep, die plaas, gholf, die Old Boys Club en die verantwoordelikheid teenoor sy eerste vrou, suig sy aan die kortste speen.

    Verbaas kyk ek na die egpaar. Die verpakking verskil soveel van dié van die vloekende vrou en haar bang man. Selfs die stemtoon is dra­maties anders. Die kontras in status kan nie eens gemeet word nie.

    Maar die behoeftes, eners.

    Albei wil belangrik geag word. Eerste wees.

    Hoeveel keer hoor ek dit nie in hierdie kantoor en selfs tussen vriende nie: my man, of vrou, sién my nie meer nie. Hóór my nie.

    Moenie van my ’n gewoonte maak nie, het ’n man oorkant my vir sy vrou gesê. Ek wil nie hê jy moet my in dieselfde lig sien as tande borsel en hare kam nie.

    Ek luister na ’n man wat met ’n pak klere Boland toe gereis het om sy vrou te kom soek. ’n Man wat sy eerste vrou steeds op ’n skewe manier wil laat voel sy hoort ook êrens, en skuldig voel omdat sy alleen is. ’n Professor wat nie daarvan hou as mense vir hom kwaad is nie. ’n Sagte man met geen venyn in sy hart nie, wat verwerping vrees.

    Terwyl hy verduidelik hoe jammer hy is, sien ek die styfheid geleidelik uit sy vrou se lyf sypel en voel ek haar knieë nie meer aan myne raak nie. Haar bene kantel na haar man se kant toe.

    Wat het jou laat weggaan? vra ek.

    Ek kon net nie meer nie. Praat wou nie help nie en toe my vriendin vir my sê sy kan nie meer in my ongelukkige gesig vaskyk nie, het ek besluit om myself uit die prentjie te verwyder sodat ek perspektief op die saak kan kry. Haar woorde het my erg geskok: ‘Jy ly permanent aan ’n emosionele hangover,’ het sy gesê. Sy ken julle direkteur.

    Nog ’n woord vir die terapie-woordeboek.

    Ek het gevlug. En dit laat my goed voel. So dramaties. Vir een keer in my lewe het ek uit die kou ontsnap, uit die veiligheid van my omgewing. My eie ding gedoen. Die ander vriendinne sal seker in hulle Earl Grey stik as hulle hiervan uitvind.

    Nog een wat uit ’n kou wou ontsnap.

    Dit was ’n goeie besluit om weg te gaan, sê sy. "Die afstand het my perspektief gegee. Ek het gedink ek wen tyd sodat ek oor ons verhouding kan besin. Hoe langer ek weg was, hoe meer het ek besef dit is nie tyd wen nie, dit is tyd verloor. Kosbare tyd waarin ons saam kan wees.

    "My pa was veral in my gedagtes. Hy was ’n alkoholis vir die grootste gedeelte van my kinderlewe. Toe hy uiteindelik ophou drink, het ek baie keer op hom afgekom, huilend op ’n stoel in sy studeerkamer.

    Hoekom huil Pa? het ek eendag gevra toe ek nie meer die smart kon aanskou nie.

    "‘Ek huil oor die verlies aan tyd,’ het hy gesê.

    Toe word hy met ’n ernstige hartsiekte gediagnoseer. Op ’n dag het my pa by my woonstel opgedaag, op die stoel oorkant my gaan sit en gesê: ‘Ounooi, vertel my alles. Vertel my wat ek gemis het in jou lewe.’

    Die professor vat haar hand. Ek sien hy is aangedaan. Ek wonder of hy die storie ken.

    Het die besef jou gehelp om ’n besluit te neem?

    Ja, dit het. Ek kan nie my man alleen vir ons probleme blameer nie en is jammer as dit is hoe die boodskap oorkom. Ek weet ek het verwagtinge van hom waaraan hy nie kan voldoen nie en daarmee sal ek óf moet vrede maak, óf hom moet vra om dit te verander. Die eintlike fout wat ek gemaak het, was om die verantwoordelikheid vir my geluk op sy skouers te plaas en van hom te verwag om van my ’n gelukkige mens te maak. Dit is nie sy taak nie.

    Toe sê sy, terwyl sy skuins afkyk na die mat, asof sy met haarself praat: Vir te lank in my lewe het ek ongedefinieerd geleef. Ek weet nie wie ek is nie.

    Dit was agtien jaar gelede. Ek was baie keer spyt die vrou het nie later in my lewe opgedaag nie. Toe was ek jonk en dom en het nie regtig verstaan wat sy met die woorde bedoel nie. Ek troos myself dat dit nie toeval was dat die rolle op daardie oomblik omgeruil was sodat ek by haar moes leer en nie sy by my nie.

    Iets of iemand moet die katalisator wees wat ’n mens aan die dink sit oor jouself. Die vrou van Waterkloof was dit vir my, die een wat my oor myself laat wonder en bewus gemaak het: hier binne is ’n mens. Die vraag laat vra het: Wie is ek?

    Ek het die egpaar nooit weer gesien nie. Sy het aan die einde

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1