Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Blou Erfporsie: Van Isilimela tot Stilbaai: 'n Lewensreis
Blou Erfporsie: Van Isilimela tot Stilbaai: 'n Lewensreis
Blou Erfporsie: Van Isilimela tot Stilbaai: 'n Lewensreis
Ebook275 pages4 hours

Blou Erfporsie: Van Isilimela tot Stilbaai: 'n Lewensreis

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Blou Erfporsie is die storie van 'n lewensreis wat begin met 'n twaalfjarige seuntjie wat impulsief beloof om 'n sendeling te word, as die Here tog net sy oog sal laat ophou pyn. En ’n dogtertjie wat viooltjies verkoop vir haar sendingbussie. Die storie kry momentum met 'n skip wat aan die Pondoland se kus strand tydens die Tweede Wêreld-Oorlog en Isilimela Hospitaal wat met 'n noodoperasie ingewy word.
Hierdie ware lewensverhaal van Nico en Marthé Geldenhuys, pionier mediese sendelinge, speel af teen die agtergrond van die ongetemde Wildekus van die Transkei toe die NG kerk daar begin het met mediese sendingwerk in 1940 - 1980. Dis ook hier waar 'n romantiese liefde begin blom. Dit is die storie van "Smiles" (of was dit waterige blou ogies?) en sy donkerkop bruid.
Die stryd om die werk op mediese, sowel as geestelike vlak te laat vorder, die struikelblokke, die geskiedenis van die gebied, sowel as ‘n uitbeelding van die Xhosa-gemeenskap, vorm 'n interessante deel van die beskrywings.
Dit is ook die storie van agt kinders... en 'n 94-jarige ouma wat met 'n olifant aan die hand die koerant stormloop.
Dis bowenal die verhaal van geloof in God en ‘n onwrikbare begeerte om Hom te dien, al kos dit baie opofferinge.

Blou Erfporsie (Blue Inheritance) is the life and love story of Nico and Marthé Geldenhuys. They were true pioneers in the medical missionary work of the Dutch Reformed Church in the Transkei, where they worked at Isilimela (1940 -1956) and Thafalofefe (1970 - 1976) Mission Stations. Set against the luscious backdrop of the Transkei, the Xhosa people and the beautiful sea and landscape of the Wild Coast, one of their children tells of the weal and woe of life on a mission station and of their parents' struggle to make difficult decisions in obeying God's calling.
An interval of 14 years in Paarl in the Western Cape was necessary to give their eight children a good education, but being true missionaries, they longed to be back at their true calling as doctor and nurse on a mission station.
The story ends with their retirement at Stilbaai and Nico's death in 1988. Marthé continued the good work and renewed her close relations with her big family. Today, at the age of 97 she is this family's chief intercessor. More than fifty children, grand children and great grand children are the people that were (and still are) raised with Faith, Love and Hope as children of God - a true Royal Blue Legacy.

LanguageAfrikaans
Release dateNov 17, 2013
ISBN9781310654756
Blou Erfporsie: Van Isilimela tot Stilbaai: 'n Lewensreis
Author

Annette du Plessis

Annette du Plessis het haar BA Hons. in tale aan die Universiteit van Stellenbosch en Unisa behaal. Sy het by Hugenote Hoërskool, Wellington, by haar alma mater, La Rochelle in die Paarl, en op Tulbagh skoolgehou. Sy stap en reis graag en het begin skilder toe sy die Onderwys verlaat het. Blou Erporsie is haar debuut boek.

Related to Blou Erfporsie

Related ebooks

Related articles

Reviews for Blou Erfporsie

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating1 review

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    Ek het die boek geniet. Interessant, goed geskryf en inspirerend.

Book preview

Blou Erfporsie - Annette du Plessis

’n Vreemde Lentedag

Vyf en twintig bladsye is heeltemal te min, het ek gedink.

Na alles verby was, het ek agter die huis gaan sit met my rug teen die warm muur en die blou boek op my skoot. Septembermaand is nog net effens lente en ek het sleg gevoel. Al was die wisteria pers opgerank in die akkerboom het ek nog steeds sleg gevoel. Binne was mense en gewoel. Ek wíl nie nou vir enigiemand koffie maak nie, het ek gedink. Ek wíl hierdie sleg vóél, met my gesig wat warm opswel en my keel wat huilstyf toetrek.

Toe begin ek lees aan Pa se blou boek.

Net voor die laaste blos uit sy wange verdwyn het, het hy dit klaar geskryf. Die Here se handelinge met my lees ek op die getikte buiteblad. Ek lees van dinge wat baie lank gelede gebeur het, hoe hy grootgeword het, hoe hy sy roeping gekry het, hoe hy ons Ma gekry het, hoe die Here met hom gehandel het.

My gesig was later rooiwarm – maar nie van die son nie. Ook nie meer van slegvoel nie. ’n Baie vreemde soort bly het oor my gekom. Oor Pa. Oor daardie blou erfporsie in my hande.

’n Storie wat baie meer as vyf en twintig bladsye verdien.

Deel een: ISILIMELA-DAE

Die sendingstasie en hospitaal is baie naby die see aan die Wildekus

Nicolaas...Nicky...Nico?

Naam:

Nicolaas Daniel Geldenhuys

Geboortedatum:

11 Januarie 1914

Datum van toelating:

24 Julie 1964

Beserings:

Skedelbreuk, harsingskudding, ernstige gesigsbeserings

Slegs die pasiënt se oë steek tussen al die verbande uit. Hy lê en luister na die twee verpleegsters wat sy bedkaart invul. Praat hulle van my? wonder hy. Nicolaas Daniel Geldenhuys? Nicolaas? ...die Here se oog is op jou Nicky! Hy sien jou. Hy hoor jou. Hy weet wat in jou gedagtes omgaan.

Nicky?

Die son skyn flou deur die groot vensters aan die noordekant van Paarl Hospital. ’n Middeljarige vrou sit in die stoel oorkant hom. Haar donker hare is in ’n bolla agter in haar nek. Sy het ’n donkerblou jas aan. Mooi vrou. Haar grysblou oë hou hom dop. Sy lyk baie bekommerd. Kort-kort antwoord sy as die verpleegsters vashaak met hulle vorm. Wie is sy? Is sy my vrou? Hoe het dit gebeur?...Nicky...nee, hy is mos nie ’n ladies man nie? Wat gaan hier aan? Hy probeer regop kom, maar die vrou keer hom vinnig. Jy moet rustig wees, Nico.

Nico?

Wat het gebeur? Hoekom is ek hier?

Terwyl sy begin verduidelik van ’n ongeluk tussen drie motors en dat hy sleg seergekry het, maar gelukkig nou sy bewussyn herwin het, maar dat daar nou ’n delikate skedeloperasie voorlê weens ’n redelike groot gat in die kopbeen en…raak hy weer weg in ’n beswyming.

Mevrou Geldenhuys, u man word môre oorgeplaas Groote Schuur toe. Matrone Nash sal verder met u reël vir vervoer en so aan.

Dankie, Suster. Ek kom vanaand weer. Kyk tog mooi na hom?

Tuis het sy nie tyd om haar verder te bekommer nie. Sy moet die kinders wat hongerig van die skool af gekom het en nou wonder hoekom net die bediende en die baba daar is, se vrae beantwoord en kosgee en die telefoon wat onophoudelik lui, antwoord. Gelukkig het sy die vis en pampoenkoekies klaar gehad toe die oproep vanoggend kom. En sy self het al effens bedaar, noudat sy weet haar man is buite gevaar. Voorlopig. Sy vertel hulle so kalm moontlik wat gebeur het.

Die ongeluk het net hier onder, waar Breda- en Thomstraat kruis, gebeur. Wie nou eintlik in wie vas gery het, is nog nie mooi duidelik nie. Pappa het lelike kop- en gesigbeserings. Hy word môre geopereer. Kom ons sê net eers dankie dat sy lewe gespaar is. Sy neem die tweejarige Gustav by Sêra en saam met die vyf groter kinders sit hule daar om die kombuistafel. Sy dank die Here vir sy veilige bewaring. Sy bid vir die operasie wat voorlê en dat hulle sal kalm wees. Sy bid ook vir volkome herstel.

Die aand na besoektyd lê sy lank en rondvroetel in die bed voor sy tot rus kom. Vandat Nico agt jaar gelede die pos by Paarl Hospitaal aanvaar het, het hulle lewe holderstebolder verander. Lewe in ’n groot dorp soos die Paarl is amper soos om in ’n vreemde land te wees, nadat jy 16 jaar op ’n sendingstasie gewoon het. Nico het gemeen dis heel normaal om met die fiets werk toe te ry. Skielik was daar sosiale taboes. Nee, Mevrou, ek dink nie jou man moet met die fiets ry nie. Dit pas regtig nie by sy status en by die van die hospitaal nie. Die vrou het dit goed bedoel, maar hulle twee het by die dag meer verontrus geraak. Wat van hulle klere? Redelik eenvoudig - beslis geen status stelling daarmee te maak nie. En waar moet die geld vir ’n motor vandaan kom? En al ons kinders? Trek die mense dalk daarvoor ook hulle neuse op? As dit nie vir die Lutz-familie was nie, sou ons seker nou nog gesukkel het om hier aan te pas. Mevrou Lutz, ja, sy en die Vrouesendingbond...tog wonderlik dat die Here juis vir háár oor ons pad gebring het. Sy het ons daar by ons eerste huurhuis gaan haal, gehelp om hierdie lekker groot en gerieflike huis te koop, ons oral rond gery en aan mense en verenigings voorgestel. Meneer Lutz het weer vir Nico onder sy vlerk geneem. So het hy toe darem ’n motor gekoop gekry. En wat nou? Die Kombi is glo ’n wrak. Hulle reken al drie motors in die ongeluk moet afgeskryf word.

Toe Nico weer in ’n algemene saal in Paarl Hospitaal terug is na die skedeloperasie, lê hy baie ure lank sommer net deur die venster na buite en staar. Een van die verpleegsters het ’n Paarl Post op sy bedkassie neergesit: Jy’s in die koerant, Super! Hy voel nog baie deurmekaar, maar lees tog die stukkie onder Hospital Chief injured: Dr. N. Geldenhuys, Medical Superintendant of the Paarl Hospital, was a patient in his own hospital yesterday…his condition after the operation was reported to be satisfactory…

Hy lag half verleë toe die verpleegster kom verneem of haar vername pasiënt darem gerieflik is. Gelukkig weet hy darem nou weer wie en waar hy is.

Dokter Geldenhuys, hier is besoekers!

Die kinders, Elizabeth, Philippie, Vorster en die tweeling kom saam met hulle ma en matrone Nash ingestap.

Hallo, Pappa, groet hulle skaam. Blomme vir Pappa. Elizabeth, in standerd nege, en die oudste in die huis vandat haar twee ouer broers klaar met skool is, sit die blomme in ’n potjie op die vensterbank neer. Die kinders kyk verwonderd na al die verbande om hulle pa se kop en die pypies uit verskeie masjiene wat piep-geluide maak. Hy kan nog nie lekker praat nie en lê maar net vir hulle en kyk.

Dink Pa Pa sal reg wees vir Interskole? Philippie is kaptein van Gimnasium se onder vyftien rugbyspan. Pa was nog altyd daar as hulle wedstryde speel. Nou lyk dit nie juis of dit moontlik sal wees nie – nie met al daardie apparate rondom hom nie. Maar Nico knik tog sy kop.

Die tweeling, Maretha en Annette, bestudeer die pasiëntekaart aan die onderent van die bed. In st. 4 het hulle nog nie met grafieke begin werk nie, maar die op en af strepe lyk vir hulle of dit iets gevaarliks kan beteken. Dit wys die pasiënt se koors – hoe dit op en af gaan. Veral na ’n groot operasie is voortdurende koors ’n duidelike teken vir die personeel dat daar fout is, verduidelik die suster aan diens.

Nicolaas kom die naweek huis toe, Nico. Hy het gisteraand gebel en baie uitgevra oor die opening wat daar nou in jou kopbeen gaan wees. Hoe gevaarlik dit is en of dit gaan toegroei? Hy skryf môre sy laaste predikaattoets. Sover het dit goed gegaan. Vir Coert kon ek nog glad nie in die hande kry nie. Die kapelaan by Voortrekkerhoogte sê hulle is op ’n boskamp.

Besoektyd is verby. Hulle groet en stap uit. Af met die lang gang tot by die hysers. Die kinders hou daarvan om in die hyser te ry. Vorster is eerste by om die knoppie te druk. Daar is baie knoppies vir so ’n agtjarige seuntjie om te druk en dis lekker en sleg as jou maag so aa-af gaan. Pa se werkplek is ’n deel van hulle pa se lewe wat hulle nie eintlik ken nie. ’n Vreemde plek – dit ruik soos Dettol en dit blink. ’n Plek waar hulle selde kom en tog altyd so ’n welkom-gevoel kry. Asof almal weet dis húlle pa se hospitaal. Ses verdiepings af tot by Pa se kantoor. Die rooi liggie buitekant gloei om te wys dr. Morrison wat kom waarneem het, is besig. Dan uit buitentoe.

Napier, waar alles begin het

In die middel van die Overbergse dorpie Napier, in die middel van die hoofstraat, is oom Nick se slaghuis en winkel. Die dorpskinders kom koop graag middae na skool van die oranje appelkooslekkers in die groot glasflesse. Hy is altyd stylvol aangetrek, met onderbaadjie en kruisbande en sy borselsnor is netjies geknip. Hy is vriendelik, maar nie juis geselserig nie. Eintlik stil. Maar tog kan jy hom nie miskyk nie, daarvoor sorg sy indrukwekkende neus. Die dorpsmense hou van hom en respekteer hom selfs. Oorkant die winkel is die woonhuis. Soos baie ander huise in die dorp, is daar ’n toegeboude stoep, gekleurde ruite in die glasdeure en stewige houtluike voor die vensters. In die agterplaas is ’n hoenderkampie en ’n paar vrugtebome.

Tannie Bettie is oom Nick se tweede vrou. Gou is sy bekend as Bettie Nick, wat haar onderskei van Bettie Piet en Bettie Tiet. ’n Mens sou ook kon sê Bettie Neus, want net soos haar nuwe bruidegom, het sy ’n wel bedeelde neus. Hy het na haar begin vry na sy eerste vrou se onverwagte dood aan ’n longkwaal in 1912, toe hulle skaars ’n paar maande getroud was. Die De Kocks van Oude Bakoven was eers huiwerig om die jonge Bettie met die wewenaar te laat trou, maar hy het hom nie laat keer nie. En hy sorg goed vir haar en sy gesin. Hulle is nie welgesteld nie, maar dit ontbreek hulle ook nie aan lewensmiddele nie.

Tannie Bettie se trots in die dorpshuis is die eetkamer met die tiensitplek-tafel en die bypassende stoele. Ruim sitplek vir die hele gesin: pa, ma, ses kinders en nog ’n tante en oom of twee wat kom kuier. Hierdie vertrek is meestal donker en somber as die luike toe is. In die week word daar voor ete huisgodsdiens rondom die eenvoudige eettafel in die kombuis gehou. Sondae word die tafel in die eetkamer egter spesiaal gedek . Tannie Bettie en Annie, haar enigste dogter, pak die eetstel met die rankrosies en gekrulde handvatsels op die tafel met die wit gestyfde tafeldoek uit en vul dit met Sondagkos: brosgebraaide hoender en aartappels, stoweperskes, geelrys met rosyne en soetpatats in hulle stroopsousie. Op die groot vleisbak lê die netjies gesnyde skaapboud in skywe. Op die buffet wag die goudgeel ingelegde perskes en brandewynpoeding en vla.

Nicky is die oudste van die ses Geldenhuys-kinders. Hy is skraal gebou; as jy hom die eerste keer sien, word jy getref deur sy helder blou oë wat jou reguit aankyk. Van kleins af het hy ’n besondere Godbewustheid. God sien my. Hy hoor my. Hy weet wat in my gedagtes aangaan. Is ek spesiaal vir hom? Dit dink hy dikwels by homself. Hy voel soms so afgesonder van die ander dorpskinders terwyl hulle in die oop veld buite die dorp speel. Albaster, kennetjie, jan-blou; aan al die speletjie het hy deelgeneem, maar die gevoel van andersheid kon hy maar net nie afskud nie.

In die lang somervakansie het die Napier-mense dikwels op Struisbaai gaan uitspan. Maande vooruit is al reggemaak: gemmerkoekies gebak, biltong in slopies gebêre en tannie Bettie se spesialiteit, suikerbrood, is saam met bottels vol gekookte rooi koeldrankstroop ingepak. Op die trekdag eet hulle koue frikkadelle en waatlemoen. Agter op die vragmotor wat by Oude Bakoven geleen is, kom al die huisraad vir die uitspanning en ’n hoenderhok met hoenders en al.

By die see speel die kinders heeldag. Duine-ry, strandkrieket, stap, swem, visvang. Die dogters tel skulpies op en werk dit om die rande van gehekelde doilies vas. Saans is daar volkspele op die strand en soms is daar speletjiesaande by die stranddienswerkers. Maar ook hier moet Flip en Piet, Nicky se broers, soms smeek:

Ag kom speel nou saam, toe jong, Nicky!

Ja toe Boetie, los nou jou boek en kom stap saam na die spuitgate toe vra die jonger drie, Jurie, Johan en Annie ook. Hulle het nogal opgesien na hom. Dis nie dat hy onwillig is om saam te speel nie. Hy wil net graag soms alleen in die veld ronddwaal. Daar is so baie vrae in sy kop. Die wêreld is oop rondom hulle en hy weet so min. Die insekte en blomme van die veld was vir hom baie interessant. Dis asof elke plant en dier in die veld ’n aparte lewe het, met elk sy eie stel reëls. Het God dit alles so uitgedink? En tussen hierdie magdom lewe en krioelende wesens sien God my raak? Hy wens hy kon met iemand daaroor praat. Maar sy maats sal hom net uitlag en sê hy is simpel.

Oom Nick het hom nie veel aan die kinders gesteur nie. Hulle moet gesien en nie gehoor word nie. Die kinders moet in die winkel en in die huis hulle ouers help en daarmee basta. Tannie Bettie het egter nader aan haar kinders se behoeftes gelewe. Sy het alles raakgesien en gewonder wat van haar stemmige en eenkant oudste kind gaan word.

Die skoolkinders het omtrent almal aan die Christen Jongeliede Vereniging behoort. (Later was dit die Christenstudentevereniging; CSV) Daar is gereeld byeenkomste gehou. Eendag kom praat die jong en gewilde dominee van ’n naburige dorp met die kinders.

Wat beteken Jesus se woorde aan sy dissipels, ‘En julle sal my getuies wees, in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uiterstes van die aarde’? Het dit enigiets met ons wat vandag hier bymekaar is te doen? En hy begin praat oor getuie wees vir Jesus, oor wat sending nou eintlik beteken en oor sendelinge oor die hele wêreld heen. Die kinders luister aandagtig.

Nicky sit saam met sy standerd vyf klasmaats in die agterste ry. Hy luister verwonderd. Is die klonkies op Oupa se plaas ook heidene? Die uiterstes van die aarde... waar sou dit wees? Dalk Siberië? Japan? Hoe kan ’n mens ’n getuie vir Jesus wees in Japan? Hoe sal ’n mens dan daardie prentjiestaal kan praat?

Ja kinders, Jesus verwag ook van elkeen van julle om so te lewe dat elke mens sal kan sien dat julle anders is as die wêreldling.

Meteens begin Nicky se linkeroog geweldig pyn. Hy probeer beter konsentreer op Dominee se woorde, maar die pyn bly. Dit word erger. Dit steek nou soos ’n skerp pen in sy kop in. Hy leun vooroor en druk sy oog met sy hand toe. Dit help niks nie.

Nicky, wat makeer? Voel jy sleg? vra Hans, sy bankmaat.

My oog pyn, antwoord hy so gewoon hy kan. Maar hy begin paniekerig voel. Hy hoor niks meer wat Dominee sê nie. Maar hy wil ook nie hê Hans moet die aandag op hom vestig nie. Toe sit hy maar weer regop en knip sy oë vir die vale. Niks help nie. Dis nou ’n kloppende volbloed pyn. Sê nou ek word blind? Ag nee, Here, net nie dit nie. Asseblief net nie dit nie, begin hy bid. Here, neem tog net hierdie pyn weg, dan sal ek ’n sendeling word. Ja, Here, tot aan die uiterstes van die aarde...

So begin hy in sy benoudheid met die Here onderhandel. Terwyl hy weer met sy hand oor sy oog druk, begin die pyn bedaar. Sowaar, die pyn is weg!

Maar Nicky was maar net ’n twaalfjarige kind. Later het hy vergeet van sy gelofte.

Paarl

Die meeste kinders wat die middelbare skool op Napier bygewoon het, het maar by hulle ouers se besighede ingeval na hulle klaar was met skool. Of in die bank gewerk. Of by die garage. Of op plase uitgehelp. Baie van die dogters het na standerd ag na die afrondingskool Rosenhof op Stellenbosch gegaan. Daar kon hulle alles leer wat ’n huisvrou nodig het: koekversiering, kunsnaaldwerk, blommerangskikking.

Maar algaande het ouers begin om hulle kinders vir Matriek na die groot Bolandse skole te stuur. Veral diegene wat skrander was en gretig om verder te leer. Dit was deur tannie Bettie se toedoen dat Nicky in 1931 sy laaste twee skooljare by Hoër Jongenskool/Boys’ High in die Paarl begin het. Oom Nick wou eers van niks weet nie.

Die kind kan my dan so goed in die winkel help het hy teëgeskop. Sy boekhou is beter as myne en ek word nie jonger nie, Vrou. Maar sy het aangehou dat hy so ’n kans behoort te kry. Hy gaan dit nog ver bring, jy sal sien.

Die eerste ruk by Hoër Jongenskool is ’n groot nuwe ervaring. Groot geboue, nuwe maats, nuwe onderwysers. Soveel geleenthede! Om in ’n koshuis saam met ’n klomp ander seuns te woon, was so ver verwyderd van die beskutte lewe op Napier. Maar stadig begin Nicky uit sy dop kruip. Hy hou van die groot sportdae, waar almal die skoolspanne baie geesdriftig ondersteun. ’n Mens kan nie anders as om saam te skree en opgewonde te juig nie. Interskole is groot in die Paarl: Gimnasium teen Boys’ High. Al die verskillende sportsoorte en al die spanne ding mee teen mekaar. En tog, as die eerste rugbyspan wen, dan is die interskole gewen.

Vir die eerste keer voel hy deel van ’n groep mense. Ook in die klaskamer kom ’n groot nuwe wêreld na vore. Dis nie net die handboekstorie nie, dis ’n onderwyser wat méér gee. Wat Geskiedenis en Wetenskap laat lewe. Wat letterkunde laat sin maak. Wat gedigte so bespreek, dat dit jou eie gedagtes vleuels gee. Hulle moet dikwels ellelange gedigte uit die kop leer. Op ’n dag lees hulle Wordsworth se Ode on intimations of immortality from recollections of early childhood:

There was a time when meadow, grove and stream,

The earth, and every common sight

To me did seem apparell’d in celestial light...

Nicky voel asof die woorde spesiaal vir hom geskryf is: die wonderwêreld wat hy as kind in die natuur ontdek het, is hier beskrywe. Hy wou graag met iemand daaroor praat, maar hier praat die digter met hóm.

Hy het nie juis uitgeblink in sport nie, maar op akademiese gebied was daar gou ’n sterk kompetisie tussen hom en twee ander seuns vir die eerste plek in die klas. Tannie Bettie was tevrede: as Boetie so goed vaar, kan hulle vir

Enjoying the preview?
Page 1 of 1