Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Somtotaal
Somtotaal
Somtotaal
Ebook292 pages4 hours

Somtotaal

Rating: 3 out of 5 stars

3/5

()

Read preview

About this ebook

Ester Labuschagne en Nonthando Majolo het saam groot geword op 'n afgeleë plaas in die Oos-Kaap. Boesemvriendinne gewees – tot een dag van verraad. Nou, soveel jare later, met Nonthando se dogter Mila self al 'n volwasse vrou, kom spook die verlede by Ester. Somtotaal is 'n storie wat geen leser onaangeraak sal laat nie.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 6, 2020
ISBN9780798180863
Somtotaal
Author

Anchien Troskie

Dis ek, Anna is in 2004 onder Anchien Troskie se skuilnaam, Elbie Lötter, uitgegee. Die roman word oornag ’n blitsverkoper en verower in 2005 die Nielsen Booksellers’ Choice-toekenning. It’s Me, Anna, vertaal deur Marianne Thamm, word in dieselfde jaar uitgegee, en daarna volg uitgawes in Nederland, Finland, Slowenië, Thailand en Engeland. Nooit is ’n lang, lang tyd verskyn in 2008, dié keer onder Troskie se eie naam, en daarna volg Die besoeker in 2010. In 2012 word die vervolg van Dis ek, Anna in Afrikaans en Engels as Die staat teen Anna Bruwer en The State vs Anna Bruwer begroet met dawerende sukses. Anchien woon saam met haar man op ’n plaas in die Oos-Kaap.

Read more from Anchien Troskie

Related to Somtotaal

Related ebooks

Related articles

Reviews for Somtotaal

Rating: 3 out of 5 stars
3/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Somtotaal - Anchien Troskie

    Anchien

    Troskie

    SOMTOTAAL

    Human & Rousseau

    Opgedra aan #ImStaying

    It is easier to forgive an enemy than to forgive a friend.

    – William Blake

    For there to be betrayal, there would have to have been trust first.

    – Suzanne Collins, The Hunger Games

    Vrees

    WOENSDAGOGGEND

    1

    Dit is die droom wat haar van koers gooi.

    Sy droom die aand dat sy en Nonthando in die verbode kamer is. Die imbuiahout-hangkas se deure staan oop. Die inhoud is so kleurvol en baldadig soos die sambrele op ’n warm Desemberdag op Jeffreysbaai se strand.

    Hulle gooi die rokke een vir een oor hulle koppe, rooi, blou, geel, groen, lank en kort. Die rokke hang soos sakke aan haar, maar aan Nonthando se lieflike lyf sit dit perfek.

    Nonthando draai in die rondte, in die rondte, haar glim­lag aanvanklik breed. Met elke draai verflou die glimlag, totdat haar lippe net ’n dun lyn is. Al verder weg draai sy.

    Ester roep haar naam, maar dit waai weg voordat dit behoorlik gevorm is. Weer en weer probeer sy. Die hande wat sy wil lig om te beduie hang swaar langs haar sye. Sy moet staan en toekyk hoe Nonthando steeds verder en verder weg ­draai, totdat daar net ’n wasigheid sigbaar is.

    Ester vee die nattigheid van haar wange af, lê lank met ’n bonsende hart na die donker plafon en staar voordat sy op haar regtersy draai, die flou bedliggie aanklik en na die bok­sie slaappille reik. Sy vat dit eindelik raak en haal die velle­tjies uit. Druk die pille een vir een met ’n sagte plopgeluid uit die foelie-omhulsel. Toe al agt-en-twintig pille in haar hand lê, buig sy haar kop agteroor. Haar nek span styf. Dan gooi sy die pille in haar mond en sluk dit af met water uit die glas op die bedkassie.

    Sy weet al jare lank dat sy haar eie lewe gaan neem, hoe­wel sy nie geweet het hoe nie. Of wanneer nie. Het selfs uit desperaatheid metodes gegoogle. Simpel antwoorde gekry. Geweet dat die daad nie morsig moes wees nie, ’n rustigheid moes hê, sodat sy salig die ewigheid kon in. So anders as haar lewe. Haar regte lewe, die een wat sy so geheim hou omdat dit so breekbaar is, nie die een wat sy vir haar familie en die wêreld voorhou nie. Met haar voorgee-lewe kan min mense fout vind. Omdat sy dit ver­sig­tig bestuur. Omdat sy uitstekend is met voorgee.

    Sy is moeg vir die lewe. Al jare. Dalk vandat sy gebore is.

    Die Here het verkeerd gekies, dit moes sý gewees het wat as kind gesterf het. Nie Hansie en Annabelle nie. Maar nou, in die vroeë oggendure, het sy regtig genoeg van die lewe gehad. Sy is moeg vir die skuld wat permanent haar stille, donker metgesel is. Skuld. Dié woordjie slaag nie daarin om die pyn wat dit bring, vas te vang nie. ’n Langer, meer drama­tiese woord is nodig.

    Skuld se meervoudige betekenis staan Ester ook nie aan nie. Wanneer dit kom by finansiële skuld en daardie verrottende skuld wat swerend in haar siel broei, is daar geen oor­eenkomste nie. Aan finansiële skuld kan jy tog iets doen. Aan haar skuld? Niks. Daarvoor is dit veels te laat.

    Sy het tot op hierdie uur nog so blakend gesond gelyk soos wat haar amper vyftigjarige liggaam toelaat, maar onder die vet en spiere, weggesteek, het die vrot gelê.

    Soms wou sy kwaad word omdat niemand dit sien nie, omdat sy dié las alleen moes dra. Dan het haar gesonde verstand weer ingetree en het sy geweet dat sy dit so ver­kies.

    Dit was háár sweer, háár seer, háár skuld.

    2

    Mila Majolo is besig om die eerste van twee appels – rosig en rond, sonder ’n merkie op die fyn skil – in netjiese skywe te sny toe die oproep op haar Galaxy S10 deurkom.

    Sy kyk gesteurd daarna, herken nie die nommer nie en draai die selfoon met die skerm na onder op haar lessenaar. Toe die gelui nie ophou nie, tel sy dit vinnig op en maak die klank dood.

    Dit is net ná agt op ’n Woensdagoggend en vir haar be­teken dit ontbyt. Hierdie uur onderbreek sy slegs vir ’n nood­geval. Gewoonlik eet sy in die vierkant – soos hulle na die stukkie gras met die visdammetjie en die sementbankies daaromheen verwys – en as dit die dag reën, soos vandag, geniet sy haar ete in die koffiekroeg op die grondverdieping. Maar van­oggend val die reën in beson­der mistroostige slierte oor Johannesburg, ongewoon vir Maartmaand. Dis genoeg om jou te laat verlang na mense wat jy nie eens ken nie – soos ’n pasiënt op ’n dag haar verlange beskryf het. Daarom het sy na haar spreekkamer toe gekom.

    Dit is ’n mooi vertrek. Klein maar gerieflik, en bowenal rus­tig. Nie oordadig gemeubileer of versier nie, niks wat die pasiënt se aandag kan aftrek van dit wat belangrik is nie.

    Mila draai haar stoel na die venster, lig haar bene en laat rus die hakke van haar nuwe Christian Louboutins op die vensterbank. Terwyl sy ’n skyfie appel stadig kou, bewonder sy haar nuwe aankoop. Wat sou sy sonder die magiese Hyde Park en Sandton City gedoen het? Daar waar sy haar kan verlustig in die beste skoene, handsakke, sonbrille van die wêreld se beste ontwerpers? Nie dat sy altyd daar is om te koop nie; net die kyk, die versugting is al genoeg. Daar is ook dae dat sy skuldig voel omdat sy nou weer soveel op ’n paar skoene spandeer het, meer as wat sy maandeliks vir haar ma stuur, maar die gevoel duur gelukkig nooit te lank nie. Sy werk hard vir haar geld en sy koop nie net sommer nie. ’n Nuwe paar Louboutins of Jimmys laat haar nou eenmaal beter voel.

    Dis haar tydverdryf, spot haar kollegas wat nie weet dat sy met elke aankoop in die gesig van haar verlede spuug nie – daardie armoede. Sy buig haar voet by die enkel sodat haar tone na die plafon wys, draai haar kop skeef om die skoene uit ’n ander hoek te bewonder.

    Armoede is in haar geval dalk ’n oordrywing. Daar was nooit ’n tekort aan kos of klere of skoene nie. Daarvoor het haar afwesige pa en haar hardwerkende ma gesorg. Maar dit was nooit genoeg nie. Is dit ooit? Selfs noudat sy en haar ma albei goeie salarisse verdien, voel sy dat sy met meer kan doen. Die armoede wat sy onthou, is eerder dit wat sy ge­durende haar grootwordjare om haar gesien het. Kinders met verflenterde klere, so maer dat jy vrees ’n sterk wind sal hulle optel en op ’n totaal ander plek neersit, aan die bedel by Spar en Shoprite en soms in die straat. Maer kinders en maer honde is onlosmaaklik deel van haar grootworddorp – in haar gedagtes in elk geval.

    Haar ma, die hoeder van die gemeenskap, doen wat sy kan. Sy dra finansieel by, sy was aan die voorpunt van ’n groep vroue wat ’n dagsorg begin het. Indien haar ma daar­toe in staat was, sou sy almal se lewens ten goede verander, maar dit is natuurlik net nie moontlik nie.

    Mila kan nie stry dat haar kollegas ’n punt beethet nie. Haar besoeke aan inkopiesentrums hét ’n tydverdryf geword, of ’n stokperdjie. Sy vind ontwerpersetikette, dié van skoene in die besonder, interessanter as mense.

    Al behels haar beroep om met mense te werk. Is sy ver­onderstel om dit ’n roeping te noem? Dit as ’n roeping te sien? Sy sug, laat haar blik oor die nat stad dwaal, wonder vir die hoeveelste keer hoekom sy juis kliniese sielkunde as beroep gekies het. Al die seerkry, al die pyn wat sy elke dag moet aanhoor. Die hoop op haar pasiënte se betraande gesigte dat sy hulle sal kan heel. Dis ’n klug, wil sy hulle soms vertel. ’n Klug. Sy kan haarself nie eens heel nie.

    Daarom haar amperse obsessie met ontwerperskoene – dit is iets moois in hierdie spreekkamer, in haar dag, ’n soort teenmiddel vir die hartseer en swaar woorde wat alles hier uitkom. Nie dat dit altyd slaag nie.

    Sy byt deur nog ’n skyfie appel, maar dit smaak skielik melerig. Sy sluk swaar daaraan en sit die bordjie met die res op die vensterbank neer.

    Die stad wat onder haar lê, het tog ’n bekoring. ’n Mooi­heid. Hoekom verlang sy dan so terug na die dorpie van haar herkoms? Daar is tog niks meer vir haar nie. Behalwe haar ma, natuurlik. Sonder haar ma is dit net nog ’n platte­land­se dorp.

    Dewald. Hoekom nou aan hom dink? Dewald, vir wie sy amper ’n jaar gelede laas gesien het – by die kerkbasaar. Hy bel nie, hy e-pos nie.

    Vergeet van Dewald. Soos die dorp behoort hy tot die verlede.

    Sy sal nooit kan teruggaan nie. Sy wil nie. Sy het ’n goeie ding hier aan die gang. Haar eie praktyk, of dan deel daarvan. Nie sleg vir ’n 31-jarige swart vrou nie.

    Hulle is sewe vennote in die praktyk. Twee algemene prak­ti­syns, twee tandheelkundiges, twee ginekoloë, een kliniese sielkundige. Geen wonder sy is oorwerk nie.

    Vroeg in die jaar het hulle opgewonde die nuwe kantore in ’n luukse gebou in die hartjie van Sandton betrek. Die pasiënte het eers drupsgewys en later in ’n stortvloed aan­gekom, in so ’n mate dat hulle daaraan begin dink om verder uit te brei. Ander spesialiste te betrek. Dalk ook ’n plastiese sjirurg. Doen hulle dit, kan hulle later teater­fasiliteite daar­stel. En dalk ook ’n plekkie, iewers buite die stad dalk, waar daardie pasiënte ’n rukkie kan ver­dwyn terwyl hulle van hulle prosedures herstel. Dit vul haar met opwinding, hierdie voor­uitgang waarvan sy deel is.

    Sy glimlag, want wie sou kon dink dat die destydse dog­tertjie van KwaNomzamo in Humansdorp sulke hoogtes sou bereik?

    Mila kyk om toe die kantoordeur ná ’n vinnige klop oop­gestoot word. Dis Agnes, die ontvangsdame.

    Sorry to disturb you, but I have a message for you from an auntie Sophia. She asks that you phone her back urgently.

    Auntie Sophia?

    Agnes knik. She says she’s been calling you on your cellphone, but you’re not answering.

    O, dis antie Sofie. Dis die meisie se Engelse uitspraak wat haar van koers gegooi het. Yes, thank you, Agnes.

    Sy draai die Samsung om, sien dat daar inderdaad ses oproepe van dieselfde nommer was. Sy druk die skakel­knop­pie.

    Molo, nguSofie othethayo.

    Antie, dis Mila.

    Dankie tog! Mila, ek het slegte nuus. Antie Sofie wag ’n oomblik, dan sê sy stadig en afgemete: Jou mammie is gisteraand oorlede.

    Die hele gesprek wat volg, is vir Mila surrealisties. Sy verluister haar nie soos gewoonlik aan antie Sofie se melo­dieuse stem nie.

    Antie Sofie maak sekerlik ’n fout. Haar ma kan onmoontlik dóód wees.

    Antie Sofie maak ’n fout.

    Antie Sofie maak selde ’n fout.

    Antie Sofie vertel dat sy teen tienuur vanoggend onraad vermoed het omdat Mila se ma nog nie uit haar woonstel gekom het nie. Al moes sy hierdie week middagskof werk, is dit haar gewoonte om vroeg reeds haar deur oop te maak. Soms het sy haar oggendkoffie buite geniet. Mila weet mos.

    Haar ma kan nie dood wees nie.

    Antie Sofie vertel dat sy en umalume uThemba ondersoek ingestel het. En Mila se ma toe in die sitkamer ge­kry het, op die stoel, haar werkskoene voor haar kaal voete.

    Haar ma is nié dood nie.

    Hulle vermoed dat dit ’n hartaanval was, vertel antie Sofie. En dit is vir haar so ’n eienaardigheid, want sy het gister absoluut niks makeer nie. Sy het ook nie oor haar gesondheid gekla nie.

    Natuurlik is haar ma nie dood nie. Sy is heeltemal te jonk om nou al dood te gaan. En natuurlik het sy gister nog niks makeer nie, want sy kan nie dood wees nie. Nie haar ma nie.

    Dit is onmoontlik.

    Haar ma is fiks. Stap sy dan nie bykans elke dag die hele ent pad van haar woonplek na die hospitaal nie? Die Terios wat Mila ’n paar jaar terug vir haar gekoop het, staan meest­al in die motorhuis, dit word net gebruik wanneer haar ma nagdiens werk, of wanneer dit reën – en met die knellende droogte waaronder die Oos-Kaap gebuk gaan, gebeur dit baie selde.

    Haar ma eet gesond, leef gesond, al jare. Sy drink nie. Sy rook nie. Dus is dit nie moontlik vir ’n 52-jarige, fikse, ge­sonde vrou om sommer net dood neer te slaan aan ’n hart­aanval nie. Dit kan nie. Dit moet ’n siek grap wees. Behalwe dat antie Sofie nie sulke grappe sal maak nie.

    3

    As gevolg van ’n reeks toevallighede sterf Ester Labu­s­chag­ne nie die aand van die droom en die hand vol slaappille nie. Dit gebeur só:

    Haar buurvrou van die afgelope ses jaar, die liewe siel, ou Nattie, is vroeg-vroeg die oggend wawyd wakker.

    Nie Ester óf haar kinders kan meer onthou hoekom hulle haar so noem nie. Sy is in der waarheid twee jaar jonger as Ester, tog is dit wat hulle haar (in die stillig­heid) noem. Dit het ’n gewilde besprekingspunt – of be­spiegelingspunt eer­der – geword wanneer Ester en haar gesin saam kuier. Gewoonlik rondom die kombuis- of eetkamertafel, of op Paardenkraal se breë stoep waar hulle met lang bene in die winterson sit.

    Hoekom ‘óú Nattie’? sal Elanie vra.

    Omdat sy oud is? sal Dewald vra.

    Nee, sal Ester haar kop skud, nee, sy is jonger as ek, nog nie eens vyftig nie. Eintlik dus nog bloedjonk. En sy sal maak of sy nie die onderlangse gegrinnik van dié onder dertig sien nie.

    Is dit omdat sy in verkleinwoordjies praat? sal Elanie wonder.

    Nee, sal Dewald sy kop skud, dan sou ons haar ‘ou Nattietjie’ genoem het.

    Hulle sal lag vir die ou wat wragtig weer ingesluip het.

    Is omdat sy ’n oujongnooi is?

    Nee, dis nie dit nie.

    Is omdat sy oud lyk?

    Is omdat sy met haar koddige, ronde lyfie so ’n waggelstappie het?

    Nee, dis omdat sy so óútyds is, amper eng.

    En hulle sal almal kopknik vir Elanie se waarneming. Net om dit by ’n volgende geleentheid weer te bespreek.

    Maar hierdie oggend is ou Nattie vroeër as gewoonlik wakker en omdat sy nie verder kan of wil slaap nie, staan sy op en gaan badkamer toe op dieselfde oomblik as wat Ester se droom begin. Toe Ester uit die droom ontwaak, begin ou Nattie se hond droewig tjank.

    Die hond, ’n bedorwe Yorkie met ’n pienk strik op die kop en die aanvegbare naam Angel, is nie gewoond om so vroeg reeds te moet opstaan nie. Sy tjank omdat sy wil hê ou Nattie moet terug bed toe, sodat sy styf teen haar rug kan nestel en haar verder in haar drome van ’n regte hondelewe kan begeef – vry in die veld agter ’n muis aan, want sy sien nie kans vir iets groters nie. Maar ou Nattie verstaan die getjank verkeerd en neem aan dat Angel ook háár toilet wil doen.

    Dus tel sy die baie verontwaardigde Yorkie op, sluit die agterdeur oop en stap na buite. Angel wil uit ou Nattie se arms beur, wat die vrou dwing om die hondelyfie stywer vas te hou voor sy die deur toetrek en dieper die tuin in stap.

    Aan die oosterkim is die son skaam-skaam besig om sy kop te wys, maar in die tuin is dit nog donker, die struike en bome des te meer.

    Angel se verontwaardiging het plek gemaak vir ’n moe­rig­heid. Sy wurm haar eindelik suksesvol uit ou Nattie se arms en hardloop na die verste hoek van die tuin.

    Ou Nattie skommel agterna. Uit die hoek van haar oog sien sy die flou lig deur die gordyne van Ester se kamervenster. Terwyl Ester die hand vol pille in haar keel afgooi, dink ou Nattie, ag ja, haar buurvrou ly ook vanoggend aan die vroeg-opstaan-sindroom.

    Dit neem haar ’n paar minute om Angel te oorreed om onder die Kaapse kanferfoeliestruik uit te kom. Met die hond stewig teen haar ruim boesem gedruk, stap sy terug na die agterdeur.

    Die oomblik toe sy haar hand daarna uitsteek, weet sy dat die Yale-slot nie teruggedruk is nie. Sy sien voor haar geestesoog die sleutel aan die binnekant hang, aan die spyker langs die deur. Sy laat haar kop ook hang.

    Hier staan sy, Angel onder die arm, in haar pajamas en sonder ’n selfoon. Hoe nou?

    En sy dink: Maar is dit nou nie wonderlike toeval dat Ester se kamerlig brand nie? Sy het mos ’n spaarsleutel vir ou Nattie se huis.

    En ’n vroegoggendkoffie is ook nie te versmaai nie.

    Sy waggel na die erf se voorkant, deur die hekkie en na die buurhuis toe. Daar klop sy herhaaldelik, lui die klokkie ’n paar keer en roep ook. Toe sy steeds geen antwoord kry nie, stap sy na die kant van die huis, daar waar Ester se kamer is, en klop aan die ruit.

    Dis ná die soveelste klop en roep dat sy besef daar is groot fout. Al sou Ester met die liggie aan slaap, moes sy nou al wakker geword het.

    Sy sit vir Angel neer, wat onmiddellik langs die muur gaan hurk, en probeer deur die skrefie tussen die gordyne loer. Al wat sy sien, is ’n bleek arm wat langs die bed hang. Dit maak haar nog meer onrustig.

    Ou Nattie buk, tel ’n klip op en slaan die ruit stukkend. Angel knyp haar piepie af vir die skielike geraas van glas wat versplinter en hardloop terug na haar eie agterdeur, waar sy in ’n bondeltjie op die matjie gaan lê.

    Ou Nattie druk haar hand deur die gat, maak die venster oop en sukkel dan om haar lywige self na binne te beur.

    Sy moet alles eers ’n oomblik met ’n hand op haar dawe­rende hart staan en inneem. Sy sien Ester se onnatuurlike posisie, die leë boksie op die bedkassie.

    Dan draf sy na die ingangsportaal waar die vastelyntelefoon staan en bel vir Dewald, vir Elanie en haar doktersman, en die ambulans.

    In daardie volgorde.

    4

    In die dae wat kom, sal Mila weer en weer dieselfde feite van antie Sofie eis. Sal sy weer alles in detail wil hoor, asof sy eenvoudig nie daartoe in staat is om te verstaan nie. Maar nou, op die moment dat sy die selfoon laat sak, is haar enigste gedagte: My ma kan nie dood wees nie.

    Sy kyk na die foon in haar hand. Het sy vir antie Sofie gegroet? Maak dit saak? Haar ma sou gesê het dit maak beslis saak. Maar haar ma is nie meer hier nie. Sy het geen herinnering van hoe die gesprek geëindig het nie. Dit maak nie saak nie. Antie Sofie sal nie sleg dink nie.

    Hoe maak sy nou? Wat is die eerste ding om te doen wanneer jy sulke verlammende nuus kry? Want dit is hoe Mila op hierdie oomblik voel – verlam. Nie in staat om haar hande, haar voete, haar lyf te beweeg nie. Haar kop staan ook stil. Al wat daardeur maal, is die een gedagte: My ma kan nie dood wees nie. My ma is nie dood nie. ’n Refrein soos die irriterende gedrup van ’n kraan: Tip, my ma is nie, tap, dood nie.

    Tip-tap. Tip-tap. Tip-tap.

    Die emosie oorweldig haar meteens en sy moet haar lin­kerhand se kneukels in haar mond druk om die kreet wat wil ontsnap, te keer.

    Sy moet by die huis kom. Dit is die eerste ding wat sy moet doen. In haar eie ruimte wees, waar sy veilig voel. En dan moet sy so vinnig moontlik op Humansdorp kom, sodat sy hierdie misverstand uit die weg kan ruim.

    Sy staan stram op en stap uit haar spreekkamer.

    Agnes by ontvangs kyk op. Ms Majolo? You have an appointment in twenty minutes …

    Kanselleer. Verwys hulle. Doen jou werk.

    Sy stap aan, haar

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1