Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Portier
Die Portier
Die Portier
Ebook379 pages6 hours

Die Portier

Rating: 3 out of 5 stars

3/5

()

Read preview

About this ebook

Max is portier by Strubenhof Hospitaal. Hy is onlangs gediagsoneer met obsessief-kompulsiewe gedrag, waaroor hy baie selfbewus is. Die enigste manier om beter te word, sê sy terapeut, is om portier te word, by ’n hospitaal . . .  En so begin ’n heel nuwe lewe vir Max – tussen eksentrieke pasiënte en nog meer eksentrieke personeel . . . ’n Splinternuwe roman deur die skrywer van die blitsverkopers Kroes en Die val van die dice.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateSep 1, 2011
ISBN9780795703386
Die Portier

Read more from Pat Stamatelos

Related to Die Portier

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die Portier

Rating: 3 out of 5 stars
3/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Portier - Pat Stamatelos

    Hoofstuk 1

    1

    Hy kyk afgetrokke na die figuur voor hom. Waar hy half gebukkend aan die voetenent van die trolliebed staan, hou hy die stil, bleek vrou dop vir tekens van lewe. Haar bene is effens oopgesper en haar voete willoos omgekantel.

    Hy bekyk die spierwit voet met sy skurwerige hakskeen wat onder die hospitaalkombers uitsteek, die ronding van haar heup, die effens ontblote borste. Haar gesig lyk pofferig, twee vol lippe op ’n skrefie oop, met ’n dun straaltjie kwyl wat tot op die kussing drup.

    Hy ril, knip sy oë ’n paar maal. Daisy de Melker.

    Sy laat hom dink aan Daisy de Melker. Haar voorkoms, nie haar dade nie. Opgeblase, onaantreklik. Vingers wat aan die dun kombers klou, die enigste teken van lewe, haar asemhaling só sag, sy kon net sowel dood wees.

    Hy is dankbaar dat sy so stil is. Soms kan hulle in hul bedwelmde toestand sulke snert kwytraak. Party huil onbeskaamd, ander deel klappe uit. Nog ander skel en kreun.

    Ontstellend en tog fassinerend, soos monotone skadu’s van skimme. Kadaweragtig en tog lewend, met wonde wat aanhou bloei onder wit verbande.

    Vlieë lê hul eiers in die openinge van die liggaam: die oë, naeltjie en oop wonde. Die maaiers is so groot soos ’n ongekookte korrel rys.

    Wat is dit omtrent die bewusteloses, die halfdooies, wat maak dat hy hom met hulle vereenselwig? Is die mens in sy verdoofde toestand op ’n hoër vlak, meer in voeling met sy wese, sy God, sy omgewing? Of totaal en al verlate?

    Hulle sien gesigte, soms gedrogte, soms ’n winkende lig in ’n donker tonnel. Dis wat hulle jou agterna vertel, hul jammerlike toestand vergete: die teaterrok wat jou stroop van alle waardigheid.

    Hy besef, met verbasing en afgryse, dat Strubenshof Privaat Hospitaal stadigaan onder sy vel begin inkruip. Hy peins en wonder al meer oor die hospitaal en sy mense.

    Dis sy kopsiekte, soos sy pa sou gesê het, wat hom dwing om terapie en genesing te soek tussen kranklike en gepynigde mense. Tog bly hy stewig staan ondanks sy eie ondervelse kneusings, al is dit soms krom in die bakarm van genade.

    Hy het sewe lange jare vir sy pa gewerk op die stuk grond wat sy sweet getap het. Maar aan die einde daarvan het hy nie ’n Lea of ’n Ragel gekry nie, net ’n dooie pa en die gevoel van leegheid in hom. Sy pa het hom aangedryf, dag ná dag, en skielik was daar niks.

    Dit was Ouboet wat voorgestel het hy gaan werk tussen siek mense.

    Jy het nooit as kind so baie hande gewas nie, Max. Nog minder was jy neuroties oor vuilheid. Pa se skielike dood was vir ons albei ’n skok, maar ek dink dit het jou dieper geraak as wat jy besef. Gaan doen iets vir jou medemens, dis goeie terapie. Sluit aan by ’n welsynsorganisasie, of neem kos vir die siekes. Enigiets om jou nuttig te laat voel en jou gedagtes af te lei.

    Hy het by Strubenshof Privaat aansoek gedoen vir werk en is aangestel as portier.

    Suster Doortjie ruk hom uit sy gedagtes.

    Vat, Max! sê sy driftig en wys na die kopkant van die bed.

    Hy tree vorentoe, begin trek aan die trolliebed. Hoekom moet mense altyd kop eerste na die teater en uit die teater gestoot word? wonder hy. Maak dit nie meer sin om hulle om te swaai sodat hulle kan sien waarheen hulle gaan nie? Met die verbystoot kan hulle ander in die oë kyk, dankbaar knik vir ’n simpatieke glimlag.

    Miskien herinner dit te veel aan die stootjie na die lykshuis, voete eerste.

    Die hospitaal het reëls en regulasies wat hy nie verstaan nie, soos die teaterrok met sy bandjies wat agter vasmaak. Hy wil liewer die aanskouing van vervalle vlees en sellulietbebulte boude en bobene gespaar word. Het bestuur nog nie van Velcro gehoor nie?

    Skielik wens hy hy was tuis, met ’n glasie van Ouboet se geskenkwyn in die een hand en ’n boek in die ander, langs die gekerfde biltong in die keramiekbak en die bos blomme in die mooi vaas.

    Hy sug onderlangs toe suster Doortjie beduie hulle moet vinniger beweeg.

    Doortjie. Agt letters, ’n gelyke getal.

    Suster, het jy geweet, begin hy, Velcro is die uitvindsel van ’n Switser, George de Mestral, wat sy uitvindsel reeds in 1955 gepatenteer het. Ná hulle hom jare lank uitgelag en gesweer het niks kan die ritssluiter vervang nie, het hy uiteindelik sestig miljoen meter per jaar daarvan verkoop.

    Ja, en . . . ? moedig suster Doortjie hom aan. Hy herken die ek-weet-wat-kom-uitdrukking op haar gesig.

    Waarom gebruik die hospitaal nie Velcro in plaas van bandjies aan die teaterklere nie? Velcro is al oor die vyftig jaar met ons en –

    Ja, ek weet, maar Velcro is van plastiek gemaak en hoë hitte sal dit laat smelt. Dus kan dit nie gesteriliseer word nie. End of story.

    Nou ja, nou weet hy ook. Moes dit eintlik self uitgewerk het, dis so logies.

    Hy kyk af na die trolliebed, sien hoe skeef die wit kombers hang. Hoe ongelyk Daisy de Melker se hare gesny is – of miskien is dit net plein deurmekaar. Hoe onegalig haar vingernaels geknip is.

    Hy trek sy skouers op ’n knop en sy nekspiere span styf. Dis alles dinge waarin hy ’n renons het. Eintlik is grillerig die regte woord.

    Suster Doortjie het klaar alles afgemerk in die pasiënt se lêer en plak dit eenkant op die bed neer. Hy sien van die papiere steek uit, plakkers gly onder uit. Hy loop vinnig om die bed, tel die lêer op, skud alles netjies in plek.

    Toe nou, Max. Die saal is besig, ek moet terug. Suster Doortjie lig haar wenkbroue en tuit haar mond vir nog ’n paar toe-toe-toe’s.

    Haar lang hare is in haar nek vasgemaak, die lokke hang links en regs. Stofvangers. Maar haar nuuskierigheid vergoed.

    Hy hou van nuuskierige mense. Nuuskierig genoeg om die pap te proe, om op die stoeltjie te sit, om op die bed te lê. Hulle is gewoonlik goeie gespreksgenote omdat hulle meer weet as die meeste mense, en nóg meer wil weet.

    Kyk nou wat weet suster Doortjie van Velcro af. Wys jou net.

    Die swaar hek gly geluidloos oop. Sy woonstel staan amper teenaan ’n groot, moderne huis in ’n pragtige tuin. Die huis behoort aan hom, gekoop met sy erfgeld, maar hy verkies die woonstel en verhuur die huis. Dis sy grootste inkomste, die hospitaal eintlik net sy terapie, die klein salaris sy sakgeld.

    Hy parkeer sy nuwe Golf onder die afdak. Dié is teenaan sy voordeur-agterdeur, die enigste buitedeur wat hy het. Hy sluit oop, trek sy skoene uit, draai sy sakdoek om die deurknop en gaan binne.

    ’n Effense Dettol-reuk kom hom tegemoet. Met sy rug teen die toe deur, skoene in die een hand, bos blomme in die ander, bekyk hy die kombuis.

    Die moderne kombuis met sy netjies afgewerkte wit-en-room kassies lyk silwerskoon. Nie ’n vingerafdruk aan die yskas of op ’n handvatsel nie, nie ’n stoffie op die spierwit keramiekteëlvloer of ’n druppel water in die ronde wasbak nie.

    Hierdie woonstel is sy hemel op aarde, sy troos, sy tuiskoms. Sy redding.

    Nou ja, Max, nou het jy jou eie spasie. En jy kan daarmee doen net wat jy wil, het Ouboet gelag toe hy hom help meubels indra het.

    Sy eie spasie. Die blote gedagte het hom lighoofdig laat voel.

    Hy sit sy skoene op hul gewone plek op die bankie langs die stoof neer. Loop na die wasbak, strek om ’n vaas van die boonste rak af te haal en tap water in. Hy rangskik die blomme so goed hy kan.

    Hy gee ses treë, gaan die vier trappies af na die sitkamer. Aan sy linkerkant staan die sofa met die diep sitplekke, roomkleur, met twee kussinkies van wit sybokhaar. Aan die linkerkant van die sofa staan ’n bypassende bankie vir sy voete. Alles egte leer, vir vinnig se afvee en maklik se skoonmaak.

    Aan elke kant van die sofa staan ’n klein maar soliede glastafeltjie. Hy sit die vaas met blomme op die regterkantste tafeltjie neer. Elke mens behoort blomme in sy huis te hê, dink hy. ’n Titseltjie kleur en geur moet deel wees van die daaglikse lewe.

    Teen die muur reg oorkant die sofa staan die yslike flatscreen TV. Op die muur agter die sofa is ’n geraamde prent van ’n dik tannie en ’n oom wat dans, amper spotprentagtig. Die kleure is helder rooi en geel en staan uit teen die wit muur. Regs van die prent hang twee bobbejaanvarings. ’n Groterige wit Afgaanse mat lê tot teenaan die sofa.

    Nie ’n stoffie op die tafeltjies nie, nie ’n stoffie op die breë TV-skerm nie.

    Ses treë deur die sitkamer na sy slaapkamer, wat afgeskort word deur ’n cherrywood-skerm met wit gordyne. Aan die ander kant staan sy driekwartbed.

    Die bed het hy van sy ouma geërf, ook die outydse spieëlkas langsaan. Hy het alles laat afskuur en toe donker vernis, ’n mooi kontras teen die spierwit duvet en kussings. Langs die bed is sy ingeboude kaste wat strek van muur tot muur. In wit en room.

    Bo die bed hang ’n paar foto’s in breë rame. Een van hom, Ouboet, sy skoonsuster, Suzie, en hulle twee kinders wat op ’n spesiale geleentheid geneem is. Daar is nog foto’s van hom en die kinders, hulle arms om sy nek.

    Ouboet se kinders, sy hartklop, die groot liefde in sy lewe, sy inspirasie vir baie dinge. Hulle aanvaar hom soos hy is: sy eienaardighede, sy hebbelikhede, sy tekortkominge.

    Nog vier treë en hy is by die kas. Die kas met skuifdeure wat nie kan sluit nie. Die kas met binneligte wat ’n mens van bínne kan aanskakel – jy weet nooit wanneer jy jou in ’n donker kas bevind nie.

    Daar’s iets aan die donkerte, iets aan ’n spasie so eng en beknop soos ’n kas, met deure wat van buite sluit, wat hom soms in die nag laat wakker lê. Dan sien hy die buitelyne van ’n dooie wat stadig in ’n kis afsak, dieper en dieper die donker gat in, en punte van skoene wat oor die gat se rand verskyn. Die dooie maak sy oë oop en al wat hy sien, is die onpeilbare donkerte. Die gevoel van ’n deur wat bo hom gesluit is.

    Die spens het so ’n kas gehad, met groot deure en ’n lekker wegkruipplek. Hy skud sy kop om die gedagte weg te kry. Eendag gaan hy nog die drade bymekaarbring, sy vrees vir beknopte spasies uitpluis.

    Hy haal vinnig ’n skoon hemp en broek van ’n hanger af, vat skoon onderklere van die rak, skakel die lig af. Hy maak ’n ander deur van die kas oop en bevind hom in sy luukse badkamer met die ruim storthokkie, groot wasbak, toilet, ’n gevlegte wasgoedmandjie en sy pragstoel. Aan die houthake teen die muur hang hy sy klere.

    Bo die wasbak is ’n yslike spieël. Nog ’n spieël, vollengte, teen die symuur. Op die vloer is ingevoerde teëls van die beste gehalte en ’n los matjie met ’n dik pool.

    Hy trek sy sokkies uit, gooi dit in die wasgoedmandjie, steek sy voete in die sagte geel-en-wit satyn van sy Koreaanse pantoffels. ’n Geskenk van Otto – ook die enigste geskenk wat sy sielkundige hom ooit gegee het. Nie dat ’n sielkundige verplig is om vir sy pasiënte geskenke te gee nie, maar met die geld wat Otto Sas al uit hom gemaak het, reken hy die man kon dit seker bekostig.

    ’n Week voor Otto na die Ooste vertrek het, het Max hom pertinent gevra om vir hom ’n stukkie satyn saam te bring. Hulle het albei gelag.

    Tien dae later het Otto teruggekom, en die dag daarna het Max oorkant hom in sy spreekkamer gesit. Sommer met die inloopslag het Otto die klein pakkie in sy hande gedruk. Die kaartjie het gelees: Max, jou stukkie satyn. Dra hulle goed. Van Otto Sas.

    Tien woorde, die volslae opsomming van hulle verhouding. Onpersoonlik.

    Hy trek vinnig uit, gooi als in die wasgoedmandjie, draai die stortwater oop, voel met sy hand totdat dit die regte temperatuur het. Hy maak sy pantoffels netjies langs mekaar staan en gaan die stort binne, maak die glasdeur toe.

    Eers sy hande ontsmet met Dismed, dan naels borsel en hande en gesig goed was met rooibos-en-olyfseep. Inseep en afspoel, inseep en afspoel, hare sjampoe en nog ’n maal sjampoe. Hy droog hom af, bekyk die handdoek, hang ’n skoon een in sy plek.

    Met die klam handdoek vee hy oor die krane en teëls totdat dit droog en blink is, gooi dit dan in die wasgoedmandjie. Hy trek aan, kam sy hare, borsel sy tande. Vier treë terug deur sy slaapkamer, ses treë terug deur die sitkamer, op met die vier trappies, ses treë tot by sy voordeur-agterdeur. Langs die deur, aan sy regterkant, die houttrappies wat na die mezzanine-vloer lei.

    Hy vat die gekerfde houtreling vas en swaai hom om op die trappies, breed genoeg vir twee mense om ingehaak sy aan sy te loop. Hy tel, soos altyd: vyf trappies, maak ’n draai na regs, nog vyf trappies en hy is bo. Vyf en vyf is tien. ’n Gelyke getal.

    Vir ’n oomblik staan hy stil op die boonste trappie. Regs staan sy lessenaar met sy rekenaar bo-op, omring deur boekrakke vol boeke. Omtrent almal kinderboeke – sy groot liefde. Vyf daarvan het hy self geskryf, vir agtjariges, en skoonsus Suzie het die illustrasies gedoen.

    Van Dickens tot Jan Terlouw – hy het hulle almal. En so nuut soos die dag toe hy hulle gekoop het, want hy was sy hande voordat hy een deurblaai, en hy leen ook nie uit nie.

    Wanneer die grootmenswêreld van woede en geweld, onvolmaaktheid en malligheid dreig om hom te verswelg, soek hy toevlug in ’n kinderstorie. Sy boeke, sy ontspanning en sy ontvlugting. Sy batterylaaier.

    Hy skakel vier liggies aan teen die linkermuur, dan vier liggies teen die regtermuur. Die muur oorkant hom bestaan uit ’n groot venster met ’n bamboesblinding. Aan die kante hang wit gordyne.

    En sy gunsteling: sy wit vleuelklavier, ook gekoop met sy erfgeld. Langs die klavier op ’n houtkassie lê sy viool en strykstok, netjies gebêre in die vioolkissie. Die harpuis in die kassie se een laaitjie, bladmusiek in die ander laaitjie.

    Hy loop tot by die venster, sien tannie Hartjie se wasgoed hang nog op die lyn. Twee rokke, twee bloese, een romp, twee mansbroeke, onderbroeke, sokkies, tannie Hartjie se onderklere, kussingslope, handdoeke – alles verskillende kleure. Die wind ruk die wasgoed diékant toe, dan daaikant toe, alles in ’n warboel.

    Hy voel hoe sy keel toetrek. Daar is geen orde in die manier waarop die vrou wasgoed ophang nie. Party goed het net een pennetjie, party twee. Onderbroeke hang tussen handdoeke, broeke aan broekspype. Party goed is styf gespan, party hang slap.

    Sy eerste indruk destyds van tannie Hartjie toe sy die huis wou huur, was dié van ’n agtermekaar vrou. Prakties. Haar grys hare dra sy in ’n netjiese kapsel, ’n raamlose moderne bril op haar neus. Haar klere smaakvol en kleurvol, haar gunstelingkleure aalwynrooi, helder groen of neonpers. En sy kan ’n kar deur die hek reverse soos ’n man.

    Maar sy kan nie wasgoed ophang nie.

    Hy maak sy oë styf toe, draai om en voel sy pad na die klavier. Gaan sit en maak sy oë oop, laat sy vingers liggies oor die klawers gly. Nie ’n stoffie nie.

    Vandag is Maandag, 2 September. Jy is ses en twintig jaar oud, Max. Veels geluk.

    Hy begin speel: Veels geluk, liewe maatjie, omdat jy verjaar . . . Hy druk die klawers met mening.

    Ja, Max. Ses en twintig jaar en stoksielalleen.

    Nog elke jaar was Ouboet daar om sy geluk op dié dag te deel, maar nie vandag nie. Ouboet-hulle het ’n groot ruiker met biltong, beskuitjies en wyn gestuur. Suzie het gebel en ook ’n e-pos gestuur. Selfs die kinders het ’n e-pos gestuur.

    Maar vir die eerste keer in sy lewe vier hy sy verjaarsdag alleen. Omdat hy daartoe ingestem het. Omdat hy glo hy moet homself van alles en almal afsny in hierdie tyd dat hy ’n sielkundige spreek. Dalk sal dit help om vir hom ’n pad deur die moeras van verwarring oop te kap.

    Hy trek sy asem diep in, maar al wat hy ruik, is die koue, muwwerige reuk van eensaam wees.

    Vrees en verlies. Dís wat hom die afgelope paar jaar oorweldig, en hy weet nie hoe om dit te hanteer nie. Verlies aan sy ma, sy onskuld, die bekende. En dan die vrees met elke sonsopkoms, die vrees vir elke dag.

    Met sy kop agteroor trek hy die stilte diep in sy longe in. Sy gedagtes draai onwillekeurig terug hospitaal toe. Die hospitaalbestuurder, meneer Siegfried, het hom vroeg vanoggend ingeroep, hom gelukgewens en sy hand hard gepomp.

    Veels geluk, Max, jy is nou oud genoeg. Ernstig.

    Hy verpes sulke niksbeduidende stellings. Geluk met wat? Oud genoeg vir wat? Siegfried. Nege letters, ’n ongelyke getal.

    Oud genoeg vir wat, meneer?

    Vir alles! en meneer Siegfried kraai van die lag. Maak dit die eerste dag van die res van jou lewe – jy ken mos die gesegde. Ons het almal een of ander tyd in ons lewe die behoefte om ’n nuwe begin te maak. Vandag is dit jóú beurt.

    Dis die meeste woorde wat meneer Siegfried nog op een slag met hom gepraat het, al kon hy dit nie doen sonder ’n afgesaagde gesegde nie. Siegfried. Nege letters, geen wonder nie.

    Toe hy vanoggend by die hospitaal instap, het suster Jennifer, Strubenshof se vroedvrou, haar arms vir hom oopgehou. Sy was eers ’n suster in die kraamsaal, toe die eenheidsbestuurder en het uiteindelik haar eie praktyk as vroedvrou in die mediese sentrum langs die hospitaal begin. Sy het ’n eenvoudige reëling met die hospitaal: sy mag al hulle fasiliteite gebruik, solank haar pasiënte slegs van Strubenshof gebruik maak om te kraam.

    Dis ’n reëling wat goed werk. As ’n pasiënt se kraampyne te lank aanhou en Jennifer bekommerd is oor die welsyn van die baba, is daar altyd ’n ginekoloog of dokter byderhand om ’n keisersnee te doen. Sy en die dokters vul mekaar op dié manier aan.

    Happy birthday, Max! Haar blou oë het ondeund gelag. Today I don’t need an excuse to hug you. I hope you grow up quickly and age even quicker, so that we can get married!

    Van die personeel het hande geklap toe Jennifer hom styf maar vinnig teen haar vasdruk.

    Hy het verleë geglimlag. My Alice in Wonderland, I’ve already told you: Run away with me. I’ll read you fairy tales for the rest of your life and do car watching to support you. We’ll stay in a garage and live happily ever after.

    Oh Maxie, promises, promises. Come to my office at ten and we’ll do tea, darling, het sy genooi.

    Hy het belowe, maar hy het geweet dit sal nie net tea, darling wees nie. En hy was reg. Sy geskenk het vir hom gewag, toegedraai in kleurvolle papier langs ’n bos blomme.

    You’re the only man I give flowers to, Max, because I know you will appreciate them. And . . . I have something else for you.

    Sy het afgebuk om haar handsak op te tel. Here we go. Sy het twee kaartjies triomfantelik na hom uitgehou. Two tickets for a ride in a hot-air balloon!

    Toe hy verstom stilbly, pleit sy mooi: "Please, please say you’ll go with me. We leave from the Hot Air Balloon Club, fly to Magaliesburg, have a divine breakfast and come back a few hours later."

    Hy het gemaak of hy ingenome is, maar sy kop geskud.

    In die klein spasie van ’n mandjie, honderde meter bo die grond, skouer aan skouer met ’n klomp vreemde mense. Miskien nog aan vuilgevatte toue vashou . . . Dis om ’n hartaanval van te kry.

    I’m afraid of heights, het hy verskoning gemaak. Why don’t you take your daughter instead?

    Jennifer het sy afwysing met grasie aanvaar.

    Sy geskenk was ’n boek. An English classic does wonders for the soul, het sy gesê, en hy het haar hand met groot gebaar gesoen en haar innig bedank.

    Hy het besluit om die blomme en geskenk in Jennifer se kantoor te los tot huistoegaantyd, nie lus vir Pikkie, die ander portier, se geterg nie.

    Geskenke van Jennifer, gelukwensings van die personeel, selfs van die bestuurder. Biltong, biscuits en wyn van Ouboet en Suzie, happy birthday e-pos. Wat meer wil hy hê?

    Aesopus se hond wou ook meer hê.

    Hy het sy weerkaatsing in die water gesien en, gulsig om nog ’n stuk vleis te bekom, sy bek oopgemaak om daarna te hap. Die vleis het uit sy bek geval en onder die water verdwyn.

    The moral of the story is seker dan dat gulsige mense soms niks kry nie. Is hy gulsig omdat hy meer wil hê? Meer wát? wonder hy en voel soos die ou oom wat op sy stoep sit en huis toe verlang.

    ’n Warm gloed stoot teen sy nek op, sy hande effens sweterig. Is hy besig om ’n angsaanval te kry? Nee wat, hy’s maar net ongedurig.

    Otto sê as iets hom ontstel, moet hy aan iets moois dink, iets rustigs.

    Met sy oë styf toe probeer hy dink aan die see, die groot branders wat ingerol kom. Hulle word al kleiner hoe nader hulle aan die kuslyn kom, om uiteindelik, saggies, op die wit strand uit te spoel. Ver weg, waar see en lug mekaar groet, lê ’n mistigheid. Bo hom skree die seevoëls met hul pragtige wit vere, hul vlerke wyd oopgesprei.

    Uiteindelik kom lê ’n rustigheid oor hom, van sy toontjie tot sy kroontjie. Ontspan, ontspan, hou hy aan om vir homself te sê.

    Hy druk die klawers, saggies-saggies, swaai sy lyf effens heen en weer toe die strelende klanke die kamer vul, gedemp deur die dik roomkleurige mat.

    La mer. Die see.

    Eensaamheid vra ’n strykstok en snare, besluit hy.

    Hy staan op, maak die vioolkissie oop, haal sy viool uit, haal die harpuis uit die laaitjie. Die strykstok word opgewen, harpuis aan die hare gesmeer, stempenne ’n bietjie gedraai tot die klanke suiwer uitkom.

    Hy druk die viool in die knak van sy nek.

    Violin: Four-stringed instrument tuned in fifths, played with a bow, and held between the shoulder and chin. Meneer Le Duc, sy musiekonderwyser, se woorde aan hom met sy eerste vasvat van die viool.

    Merci, monsieur Le Duc, jy het my goed geleer.

    Hy gaan staan met sy rug na die venster, voete effens uitmekaar, haal diep asem en begin om die snare te bestryk, die strykstok ’n verlenging van sy arm. ’n Stukkie Couperin, Leclair, Duval. Franse komponiste op hul beste.

    Molto adagio, saggies, saggies. Met nat sand wat deur sy tone peul en die reuk van soutwater in sy neusgate, die dreuning van die branders op die agtergrond.

    Die see. Hy moet teruggaan. Maar alleen?

    Hoekom nie?

    Die viool is ’n alleen-instrument. Hy sal kniediep die see inloop, sy viool teen sy skouer oplig. En op die maat van Beethoven se Negende Simfonie, met koorstemme wat dreun in sy ore, sal hy die finale speel, allegro assai.

    Daar is nie ’n kamer groot genoeg in die wêreld om dié klanke te hou nie, geen akoestiek goed genoeg nie. Dis die oseaan, die gedruis van waters, die breek van branders en geskree van seevoëls. Niks anders as die see kan met die finale vergelyk word nie.

    Daar is ’n eensaamheid aan die see só erg jy wil huil en doodgaan van verlange, geluk en blydskap. Dit laat ’n gat in jou hart as jy weggaan, wat net kan genees as jy terugkeer. Om weer ’n gat te word as jy nogmaals weggaan.

    La mer,

    qu’on voit danser le long des golfes clairs,

    a des reflets d’argent.

    La mer . . .

    Die see dans teen die helder golwe en gooi silwer weerkaatsings.

    Vergeet van tannie Hartjie se wasgoed, die hospitaal se patetiese siek mense, stinkende gastrotoilette, skoonmakers wat oor en weer skree, en polishers wat jou tot waansin dryf met hul geraas.

    Hy sien die reëndruppels in die deinende oseaan val, die lug pragtig witgrys en die wêreld omhul deur ’n wasige sagtheid. En uiteindelik ontmoet drade van gedagtepunte mekaar, maak ’n volledige sirkel.

    La mer.

    Hoofstuk 2

    2

    Suster Doortjie is vroegoggend weer heen en weer teater toe. Toe sy en Max die eerste pasiënt terugvat saal toe, kom dokter Pottas Piek op hulle afgestorm nog voor hulle die teaterdeure bereik. Hy gryp die lêer op die trolliebed se voetenent, maak oop en begin lees.

    Gee my jou pen, asseblief, suster, vra hy.

    Max bekyk hom onderlangs. Sy blonde hare kruip onder sy teaterkappie uit, sy gesig rooi van inspanning. Dié man is ’n regte Dr Jekyll en Mr Hyde, jy weet nooit watter kant die wind met hom waai nie. Gewoonweg lyk sy yl blonde krulle soos ’n pruik, sy bewegings neuroties, korrek.

    Suster Doortjie gee die pen aan.

    My liewe suster, maak tog seker dat sy dié kry, tik dokter Piek op die lêer. Sy is geneig tot erge braking ná narkose. Hy skryf, praat ingedagte met homself: Een ampulle metoclopramide.

    Ek maak so, dokter.

    Hy maak nog ’n paar notas, dan sy handtekening.

    O, hallo, Max.

    Môre, dokter.

    Toe beweeg hulle weer.

    Hy loop voor, trek aan die bed en suster Doortjie stoot. Dan staan die bed met die drie mense vir ’n oomblik stil in die breë gang. Hy trek die reuk van narkose ’n laaste maal diep in sy longe in en maak dan die teaterdeure behendig toe.

    Hy kyk suster Doortjie vlugtig deur. Haar uniform is netjies, hier en daar ’n mooi plooi ingestryk. Die twee penne wat bo by haar sakkie uitsteek, ewe lank, en die dienende hande wat die traliebed vasklem, goed versorg.

    Hy’t seker vergeet om haar die inspuiting vir naarheid te gee, dié dat hy die ampulle inderhaas kom bylas, brom sy.

    Jy moenie kla nie, suster, vandag is jy liéwe suster.

    Ag toe nou, teen vanmiddag is ek weer die vark in Palestina.

    Hy draai sy rug op haar en met sy regterhand trek hy aan die bed. Hulle gaan om die eerste draai. Trek, stoot. Trek en stoot.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1