Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Anderkind
Anderkind
Anderkind
Ebook109 pages1 hour

Anderkind

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

'n Storie oor twee dapper tieners, Johannes en Dina, tydens die dodelike griepepidemie van 1918. As die enigste oorlewendes uit hul gesinne op twee buurplase in die Sandveld kruis hul paaie met oom Andries, 'n dorpenaar wat ook sy hele gesin verloor het. Tesame met Lya, wat vir Johannes help grootmaak het, durf hulle verskeie aanslae aan - van wilde diere en boewe tot die regering se beleid oor weeskinders en die eienaarskap van plase. 
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateNov 8, 2021
ISBN9780624092919
Anderkind
Author

Betsie van Niekerk

Betsie van Niekerk (21 Desember 1956, Vredendal) studeer aan die US, waar sy in 1981 'n M.A.-graad verwerf. Gedurende haar Honneurs-jaar is sy deel van DJ Opperman se Letterkundige laboratorium.  Sy het die CP Hoogenhout-prys in 1992 ontvang vir Die Rooiberg is hol en 'n Sanlam-prys in 1996 vir Gamkab. Sy woon tans op Malmesbury.  

Related to Anderkind

Related ebooks

Related articles

Reviews for Anderkind

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Anderkind - Betsie van Niekerk

    G od is kwaad vir ons. Sy ma kyk na hom en sit die toutjie met die kamferblokkie moeisaam in sy hand, haar stem net ’n skor fluistering in die warm skemerte laatoggend in die kamer.

    Johannes hang dit om sy nek. Om die pessiek weg te hou, het sy ma gister nog probeer verduidelik.

    Daar is swart kolle op haar wange, haar oë … haar gloeiende oë, bloed op die kussing, haar longe fluit in en uit, in en uit. Die hele huis ruik na mufstrooi, bergboegoe en geeljasmyn.

    ’n Vlieg zoei eentonig teen die vensterruit waar hy by haar bed staan en deur die skrefie tussen die gordyne uitkyk oor die warm, verlate werf.

    Die huishorlosie in die voorhuis slaan twaalf afgemete slae. Sy ma maak haar oë weer toe. Die hele huis, die hele werf vou toe onder haar ooglede.

    Die kamer word wág.

    Wag dat sy haar oë weer oopmaak, wag vir netnou. Die meubels staan soos altyd, die lappie waarop sy ma fyn blommetjies uitgewerk het, lê op haar spieëltafel. Hy sien haar haarborsel, ’n kam en ’n stringetjie pêrels in ’n glasbakkie, net soos altyd.

    Maar niks is soos dit moet wees nie, nie die skemerte oordag terwyl die son moet skyn nie, nie die stilte terwyl daar oral stemme moet wees nie. Selfs die sonbesies in die seringboom voor die agterdeur bly stil, net wit blommetjies sif, sif af op die skoongeskropte houttafel en die duiwe koer.

    Soesa, my lam!

    Waarom is jy bang?

    Nêrens klap ’n deur nie, of roep of sing iemand, of kraai ’n haan nie. Die hele werf het wag geword, soos skemertyd voor mens gaan slaap.

    Klaas Vakie die kom

    by die skoorsteen in,

    Hy vra waar klein Annatjie is;

    Sy lê op haar bedjie so soet en so stil

    En sy maak haar ogies toe.

    God is kwaad vir ons, het sy ma gesê net voor sy dood is.

    God se kwaad ruik na mufstrooi. Die groot natuurwet, elkeen is sy broer se hoeder, het soos ’n blinde sambok kom slat onder die mense en nie eers wildeals, perdepis, duiwelsdrek, gal-en-slympille help teen dié houe van die siekte nie. Dis 1918 en die Spaanse griep maai onder die mense.

    Ja, die swartreën het begin val, dit sif deurdringend, onkeerbaar uit die giftige bo-lug uit, in by die skoorsteen, deurdrenk alles en oral.

    Die mense praat van swartreëndriedagsiek, longpes, God se kwaadsiek.

    … haar bedjie so soet en so stil, sif die woorde af in Johannes se bewussyn, en word ’n gedagte.

    Uit die melkkamer hoor en bespied Johannes nou alles. Eers die aanhoudende hamerhoue wat uit die huis weerklink, vier kiste word verbygedra. Sy pa, sy ma, twee broers … Nou staan hulle onder die seringboom netjies in ’n ry, een, twee, drie, vier …

    By die melkkamer se venster met die hortjies kyk hy uit hoe die twee mans, wat swart hoede dra, die vier kiste agter op die perdewa laai.

    Een man gee ’n laaste pluk aan die riempiestoue om die vier kiste bondel te bind.

    Johannes ruk soos hy skrik. Die riempiestou pluk dwarsdeur hom en hy moet vashou aan die roomafskeier se handvatsel om regop te bly.

    Waar’s die ander kind? vra een man.

    Die perde kopspeel onrustig.

    Agterop, beduie die ander een, leisels in die hand, met ’n knik van die kop na die kiste.

    Daar moet nog een wees, nog ’n seunskind, antwoord die eerste man wat klaar aan die opklim is.

    Seker al gekom laai. Die tweede man pluk die leisels.

    Toe die perdekar draai, glip Johannes uit die bekende koelte van die melkkamer en hardloop óm die rietdakhuis se hoek. Hy staan doodstil en kyk hoe die perdekar met die vier kiste stadig by die hek uitry en verdwyn onder die groot bloekombome langs.

    Net die bome se dofgroen stippel bly agter.

    Die gordyne in die kamer is nou byna heeltemal toegetrek.

    Johannes loer van buite af by sy ouers se kamer in. Met sy neus teen die ruit gedruk, sien hy die leë bed in die skemer kamer, die bruin botteltjies, die kristalkraffie nog vol water, die handdoek op die rooi bessies van die linoleumvloer, ’n dooie vlieg op die vensterbank.

    Hy draai om en gaan sit onder die seringboom voor die agterdeur. Dis nou-nou uitvaltyd op die plaas. Die son sit langbeen teen die stam langs hom en teen die witgekalkte muur van die melkkamer.

    Later gaan vat hy die ysterstaaf wat aan die wasgoeddraad se paal hang, en hy slaan en slaan die ploegskaar.

    Dis die teken, die geluid wat mense laat kom of mense laat gaan. Die deurdringende slae weergalm in sy kop, deur die huis, oor die plaaswerf, slaan vas teen die koppe, eggo terug tot by hom.

    *

    Hy stap om die huis. In die stoepkamer vat hy die slopie beskuit wat op sy bed lê, sit sy mondfluitjie in sy broeksak en loop, weg, wég. Uit by die werfhek.

    Hy’s nie Kleinboeta of Boetiejan nie, maar die Anderkind, nog ’n seunskind. Niks het meer name nie: melkkamer, houtkamer, buitekamer raak een groot leë vertrek in sy kop, selfs Trap der Jeugd se heel eerste woorde – bad, blad, had – verdwyn met elke tree.

    Engeltje, engeltje, vlieg en reis weg.

    Je vader is dood, je moeder is dood,

    Je kindertjes eten droog brood.

    By die bo-dam pluk hy swart en blinkrooi skilpadbosbessies, sit hulle in sy broeksak, lê plat op sy maag en drink happe water. Hy druk sy kop onder die koel water in tot by die slik van akkerblare op die bodem, en voel hoe hy verdrink … hoe hy verdrink.

    Toe hy regop ruk en snak na asem, met flertse slik in sy hare, sien hy, asof deur ’n waas van waterdruppels en takke, nog net van ver af die wit van ’n huis se mure, ’n hek en ’n seringboom met soet wit blommetjies wat sif en sif.

    Nou hoor hy g’n duif koer nie.

    Plat gaan sit hy in die warm sand, tel ’n akker op en gooi dit in die water voor hom, nóg een, nóg een. Handeviervoet kom hy orent. Hy is al ’n ent weg toe hy gebukkend, met sy hande op sy knieë neerval, en naar word. Sy maag ruk, sy hele lyf ruk, maar toe daar niks uitkom nie, buk hy weer handeviervoet op die grond.

    Hy staan op. Hy gee treë.

    Sy bene loop soos vanself Boegoekop toe, loop onder die swartreën uit, onder die geroep van die ploegskaar uit, weg van die koelte van die rietdak, van die stoepkamer met drie beddens, van die mufstrooireuk.

    Later ruk hy die kamferblokkie van sy nek af en gooi dit tot in die harpuisbos, slinger dit die giftige lug in. Oordag verskiet dit soos ’n ster in die blou hemel.

    Sy woorde glip terug tot by die eerste klanke in die Trap der Jeugd: pa, ma.

    Die skadu’s begin lank word in Boegoekop.

    Hy kruip en gaan sit, knieë opgetrek, onder ’n knokkerbos met sy rug na die veraf wit huis, die duif wat nie koer nie, die soet wit blommetjies wat bly val.

    Sy mondfluitjie steek skeef vas in sy broeksak, en hy haal dit uit.

    Hoekom lag hy?

    Hy lag, hy lág in die houtgleufies in, hy lag en haal asem saam met die note in en uit, in en uit.

    Hulle drie boeties het altyd gelag in die mondfluitjie in, stemme en musieknote. Sonder trane, sonder stem word sy lag die gehuil van ’n kind teen Boegoekop.

    Kop tussen die knieë huil hy in sy mondfluitjie in onder ’n knokkerbos terwyl spoeg langs sy mondhoeke afloop. Hy’s Anderkind.

    Soesa, my lam!

    Waarom is jy bang?

    Maak jou ogies toe …

    Soesa, my lam.

    Waar is Lya nou met haar grootmaakarms, haar abbarug, haar sagsing-stem? Nou kyk hy liewer net naby: kalkoentjiebos se rooi afhangblomme.

    Miere wat voor hom op die grond agter die fluweelrooi jakkalsblom se nektar aan string.

    Klippies in ’n lukrake kring.

    ’n Insek se grondgaatjie.

    Tone, sy tone wat deur sy linkerskoenpunt steek.

    Hy

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1