Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Koljander
Koljander
Koljander
Ebook326 pages6 hours

Koljander

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Wanneer Karen en Ben Strauss se baba gebore word, besef Karen en haar ouers opnuut dat haar broertjie Roux se lang skadu nog altyd oor hulle elkeen val. Sal Karen se kind ’n nuwe begin wees, in haar pa se woorde “’n impakspeler wat net voor beseringstyd op die veld kom en die blerrie WP ’n slag laat wen?” Want onwillekeurig is haar pa, Hendrik, se aftrede tyd vir bestekopname, vir die verskrikking van saamleef met jou doen en late. En wat van Karen, wat glo haar ma het haar nooit vir haar broer se dood vergewe nie? Gaan vrees wéér die motiveerder wees vir hierdie nuwe wedloop van haar lewe, soos met die meedoënlose maatslag van die Radetzky-mars op elke atletiekbyeenkoms van destyds? Sy moet boonop ’n ontwerpkompetisie wen, want daardie podium sal haar en Ben se finansiële redding moet wees.

In hierdie roman word die leser geneem op ’n reis na die binnewêreld van die kunssinnige Karen en van haar siniese fisikuspa. Dit is die verwikkeldheid van vergiffenis wat die verhaal rig, en hulle eindelik ook ná die trauma laat kennis maak met die gestroopte skoonheid van Mali in Wes-Afrika.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 5, 2013
ISBN9780798159272
Koljander
Author

Carié Maas

Carie Maas is the author of the runaway bestseller of 2011, Jannie Mouton: and then they fired me. She has built up an impressive career in financial journalism, working at some of South Africa's most prestigious publications as a financial and travel writer. In 2012, she resigned to focus on writing full time, resulting in From Corner Café to JSE Giant and a recently published novel, Koljander. Carie divides her time between her home in Johannesburg and her parents in Mpumalanga.

Related to Koljander

Related ebooks

Related articles

Reviews for Koljander

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Koljander - Carié Maas

    Koljander

    Carié Maas

    Human & Rousseau

    Vir Henry Liversage

    Hoofstuk 1

    Trek uit jou hemp, hoor Hendrik Karen se stem deur die skrefie van die deur.

    Hel, skrik hy hom skoon regop.

    Karen, sê sy skoonseun, ook so halfhol oor die teëls, maar dit is asof die jammerte die verwyt in sy stem inhaal en vastrap.

    Hendrik hoor ’n geritsel van materiaal vanuit die toe kamer, maar leun gou teen die muur terug toe hy haastige voetstappe in ’n dwarsgang hoor nader kom. Hy maak asof hy die afdruk van ’n blom of ’n ding aan die oorkantste muur verveeld staan en dop­hou terwyl die mense agter hom klaarmaak. In ’n private hos­pi­taal­kamer is daar mos nie die afskorting van daardie stort­gordyne om die bed nie – net so grillerig en glad soos die operasie­saal­groen wat dokters in die gange dra.

    En dank die hemel die verpleegster knik net haar kop en groet hom nie hardop in die nagstilte nie.

    Sy het Bettie-kuite op plat hakke. Hoelykit! het ’n petrol­joggie hom die ander dag gespot, juis toe hy opkyk na ’n mooi vrou.

    ’n Ou bal, noem die jonges jou mos nou, asof ’n liesbreuk of prostaatgelol nie ook op dié MXit-poepholle wag nie.

    Aan weerskant van die gang hang daar elke twee meter iets van ’n Impressionis, die pastelle nog pisseriger deur die glas; Karen kry seker die stuipe. En desjare se haaks besoekerstoele staan nou ewe gestoffeerd na mekaar toe gedraai, net asof dit ’n verskil sal maak.

    Is daar iets wat hy meer haat as ’n hospitaal? Dit is net teëls so ver as wat die oog kan sien.

    Hoeveel drome het ’n ou nie gehad toe jy met getrimde sidies voor die preekstoel gestaan het nie, die soet van die katjiepiering op jou lapel in jou neusgate. Jy sou die pilaar wees waarop almal steun, maar die werklikheid is toe dat dit bly voel asof jy immer voete van klei het: die veronderstelde vader van die huis.

    En vir hierdie geboorte, was die spanning nie byna ondraag­liker nie? Elke moontlike voorsorgmaatreël is getref: vrugwater­toetse en sonars, alles werklikhede wat in sy en Bertha se tyd nie eens ’n gedagte was nie. Maar nog altyd die angs dat iets kan skeef­loop. En later, sê nou ’n pa was nie op sy pos nie? Vra vir ’n fisikus, vyf minute kan ’n leeftyd wees. Dit is ’n verskil of versuim wat ’n lewensverwyt kan word.

    Nee, dit is reg dat hy hier is, dat hy kom kyk het wat aan­gaan. Al hou hy hom skraal agter ’n toe deur.

    Toe hy die kameralens uit die gulp hoor glip, ontspan sy skouers en sy mondhoeke trek. Karen neem net foto’s.

    Bring die verwarmer nader en haal sy kombersie af, asseblief, sê sy.

    Die asseblief is seker boetedoening omdat sy te ver gaan. Die kind is dan skaars twee dae oud!

    Liefling, probeer die onbeholpe Ben weer, maar Hendrik hoor tog ’n bedveer kraak. En as hy ’n koue kry?

    Sy dogter antwoord net met die sluiter.

    Die blerrie Karen. Sy neem nou pa en seun saam af. Hy wil-wil kwaad word. Die perfekte prentjie. Dit is wat sy moet bly skep, al is die prys ook wat. ’n Groot, sterk, nog bruingebrande bors­harepa teenoor die pap, weerlose wit babatjie; as sy nie die kamera boon­op vir dramatiese effek op swart en wit gestel het nie, die lakens sonder twyfel reeds gestileer soos vir ’n tydskrif.

    Links, onderbreek sy die geklik. Na die lig toe. Klik. Draai hom. Klik. Kyk vir die lens.

    Sal hy wat Hendrik is met grys borshare en al hierdie winter­jas ooppluk en da-dam! die kamer binnespring vir sý rol in die kaal­prent?

    Toe die baba ’n kreungeluidjie maak, sê Ben: Dis genoeg. En die klikke kom al hoe stadiger.

    Hou jy hom ’n bietjie, Karen.

    Hy kom agter dat hy saam met die stilte asem ophou.

    Bertha het in die motor bly sit, en sowaar vir ’n tweede keer gepleit: Los nou eers die kinders, Hendrik, hulle verwag ons eers later.

    Maar hy moes mos net gou kom hoor. Sy kleinseun!

    As Karen se kind tog net ’n nuwe begin kan wees, ’n impakspeler wat net voor beseringstyd op die veld kom en die blerrie WP ’n slag laat wen.

    ’n Gesinsfoto van hom en Bertha en die twee kinders kon hulle nooit laat neem nie – nie eens daai sagte lense of flokatimatte van die jare tagtig waarvan mens kon kots, sou dit knussies kon laat lyk nie. Nog minder as wat lief blompies in die maanskyn op die voorgrond die prentjie sou red.

    Sy ouer broer het altyd gemeen naas jou gesin is jou werk die curriculum vitae van jou doen en late.

    En kyk nou met watter skoen onder die alie is hy weg by die universiteit. Buitendien, net in die laaste handvol jare het so­veel be­grippe bygekom wat hom, indoena in sy veld, oorbodig kan ver­klaar. Pleks van aan die voorpunt van tegnologie in die fisika­departe­ment, word mens oornag ’n ou man in ’n velrok wat weer twee stukkies hout grinterig vryf tot ’n vuurvonk vlam vat in sy grot. Nog ’n jaar of wat en Cambridge en die Amerikaners sal sy foto en al sy navorsing oor termodinamika in sepia was.

    Hoe is dit dan dat die minusse van dié soort optelsom altyd die grootste gaap?

    Ek vat die baba dan maar gou eers weer vir ’n rukkie terug vir die suster, sê-vra Ben. Ek moet nog gaan regmaak met die gaste­huis voor jou ouers kom.

    Hendrik skil hom met lang, stil treë van die deur los en om die draai haas hy hom na onder, na die motor waar Bertha vir hom wag. Die bordjies is verhang. Sy sit seker met dieselfde ruste­loos­heid as waarmee hy gisteroggend onder die sipresse die stuur­wiel sit en tik het tot hulle hul ry na die noorde kon kry.

    Het jy Ben en Karen gesien? vra sy vrou.

    Nee, ek wou net gaan hoor of alles reg is.

    Ek hoop jy het jou oortjies in, sê sy droog.

    Die goed maak my seer, mompel hy.

    In die donker doof sy seker ’n proes en snuit haastig ’n neus skoon uit, dalk uit verligting dat hy nie die kinders gepla het nie.

    Hoofstuk 2

    Karen wil iets in die kamer teken, maar nie ’n traliebed of alom­teenwoordige nierbakkie nie.

    Netnou, in die helderte van die buislig, was die mure nog blou­wit. In die kringskadu wat die muurlamp gooi, lyk dit sagter.

    Daardie boek oor sukses wat Ben by Jakob gekry het, sê Inuïete het toe nie ’n dosyn woorde vir wit nie. Of was dit vir sneeu? Dit bly ’n mooi gedagte. Soos igloe. ’n Woord wat koester, rond, soos die ruimte om jou. ’n Eie klein wêreld.

    Die rit in haar kinderjare met die bakkie van oom Dawie se plaas af dorp toe was net so. Pa-hulle het voor ingeryg gesit en sy het agterop onder ’n deken gery. Deur twee sigaretgaatjies in die lap kon sy loer na die motors wat naderkom en verbyry. Of sy kon haar oë weer toeknyp en verdwyn in die blou beskutting wat om haar in die wind geklap het. Sy moes verbete aan die vlerk­pante klou. As sy heeltemal omgedraai het, kon sy Pa en oom Dawie se koppe van agter sien, koppe wat gesels en lag. Mens kon dit sien, al kon mens in daardie wind niks hoor nie. Rouxtjie se ge­sig was kant toe gedraai. Hy het haar natuurlik probeer sien, maar selfs as hy sou kon omdraai, het hy te skeef gesit en was sy kop te terug­gesak in sy nek. Sy ore het nie eens uitgesteek nie. As sy die gaatjies teen haar oë gehou het, kon sy hulle al drie tegelykertyd sien, maar sy het liewers teruggedraai. Sy het haar vaster gewoel in die deken, teen die wind en in die blou.

    Met die lilapastel wat sy uit die dosie vat, begin sy los strepe oor die wit vel trek. Dominique sal uitbars van die lag omdat sy vir ’n verandering so sonder die dissipline van ’n buitelyn begin, maar dié is ook voorbereiding, al sal dit later onder die res van die kleur verdwyn.

    Die belang van grondwerk – letterlik – het sy eienaardig genoeg by haar ma geleer, tydens hulle gesteelde tydjies in die tuin.

    Sy sien die beeld voor haar soos gister: Haar ma krap die saam­geperste klei om die wortels los, lig die saailing uit en plant dit weer, ’n aks linkser.

    Dalk het sy te stip vir haar ma gesit en kyk, want dié het met haar oë op die volgende plantjie gesê: Lote kry ’n lewe van hulle eie, my kind.

    Haar ma met haar toe al verborge woorde.

    Dit is Heleen se irisse, die hele pad uit Nieu-Seeland bestel, wat op die papier vorm kry. Die wilde pers spatsel staan uit teen die piramide krisante wat Eerste Nasionale Bank gestuur het, en die sterk lyne gee oor in ’n losheid, in die mins beteuelde van alle kroonblare.

    Die los stingels is verkieslik bo die appels, pere, druiwe en triet­sige mango wat nog een van haar korporatiewe kliënte ge­stuur het, ’n stillewe in sellofaan tussen die oordaad blomme. Óf die nuwe persoonlike assistent het deurmekaar geraak en ver­geet die ruiker is bestem vir die hoogswanger ontwerper wat hulle kom­buis oorgedoen het óf die bloemiste het twee ruikers se bood­skap­pe om­geruil. Word gou gesond, lui die kaartjie.

    Sy rol weer haar oë. Het die Engelse nie hoeka van ’n condition gepraat nie?

    Vader, die ou gesiggie is gebore, met sy blindblou oë en sy voor­kop wat so vinnig in ’n frons span. Hy wat aan die troos van sy vuisie bly proe.

    Die vertedering maak haar weer rou.

    Ben, ek sê jou, iemand soos ek moenie ’n kind hê nie, het sy nog probeer teëstribbel, al het sy geweet ná twaalf maande se ge­stry was die skrif aan die muur.

    Vir hoe lank, Karen, wil jy nog agter jou broer se onvoorsiene dood skuil om ons ’n gesin te ontsê? Ons word nie jonger nie!

    Sy kon nie glo dat hy die onsêbare opgehaal het nie, dat hy, ’n plaaskind, binnewoorde soos ’n afgeslagte gemsbokvel onbe­handel en vleiskant bo in die son oopgespan en vasgespalk het.

    Maar hy het breekpunt bereik en die pakkie met die agt en twintig blink pyltjies op in die asblik gesmyt.

    Later het hy haar een nag met een van sy plaasstories gesus. Hy het in haar hare gefluister, liewe Ben, teen die weerloosheid van haar nek, en toe het sy lippe geproe-proe al langs haar ruggraat af. En daarna het sy nag vir nag gewonder oor die pad van die saad.

    Eers het die waterige urine die blokkie pienk gekleur en later het die vaal mat in die ginekoloog se kamers gekom. En metter­tyd het die skerm ’n sterrenag in wiegvorm gewys. Kyk, daar sit die kind se geslag. En algaande groei die bewussyn in mens, vin­niger as die vlees van jou vlees: Hy kom.

    Miskien sal hy altyd binne bly, dink jy, in sy voorwêreldse water. Hy was ’n stil kind wat net soms na die einde toe in die na­nag geskop het teen die beperkinge van sy vrugsak se wande. Het hy geweet hoe bang sy was vir wat kom? Is dit hoekom sy lyfie net met kommas en geen uitroepe nie gepraat het?

    Geluidloos. Dit is ook hoe hy, Ben en die suster die eerste dag hier uit is.

    Is dit goed as ons eers die baba uitskuif? het Ben vir die uni­form gevra, asof hy geweet het sy aantreklikheid gee hom ’n on­regverdige voordeel as hy die suster in die oë sou kyk.

    Die koorspen het vir ’n oomblik in die suster se hande stil ge­word, en toe het sy haar kop geknik.

    Ben, wat altyd hou van redeneer, het saam met die suster sy kop geknik asof hy bang was vir sy eie idioom.

    Met ogen die wisten, het haar pa soms geprewel as mense ver­by hulle gesin loop en na Rouxtjie staar. Só is die suster hier uit, haar ongemak of weersin versluier deur haar ooglede; die ma ma­keer dan niks, want op haar verslagkaart wys geen medikasie nie.

    Kier, het die blikwiele van die waentjie gemaak toe sy die baba begin stoot, maar nog ’n gekras het nie gekom nie.

    Die vrou het haar nou netjies ingedeel volgens die gekleurde lêerstelsel in haar kop. Pas sy in een van daardie wat tot teenaan die drukboog se hefboom met kolhase of strepe of abstrakte pa­trone oorgetrek is?

    Maar sy is voorbereid, al dink die suster wat. Voor haar bed by die huis lê die boekie met ’n lys pediaters se nommers uit die gids. En sy kon al in haar kinderjare raakvat met ’n koorspen. Die glasbuisie met sy minuskule hoeveelheid rooi alkohol is die eintlike meetinstrument. En een graad maak ’n verskil: 37,5 is normaal, 39 is skrik.

    Haar oë vergelyk weer die irisse in die pot en dié op die papier.

    Genade, moet sy eerder solank aan die ontwerpprojek werk? Maar nee, netnou is dit te gou. Haar ma sal in haar stilligheid hart vas­hou as sy hier moet afkom op ’n hospitaalbed wat omskep is in ’n soort stelbouersateljee besaai met materiale, sjablone en ske­matiese voorstellings. En tuis moet sy buitendien nog eers ’n pro­jek of twee, drie afhandel.

    Sy sal die suster sus met ’n skets van die baba. ’n Paar sirkels en skadu’s in potlood kan wondere verrig in die land van dié wat net stokmanne kan teken. Dit sal die maklikste verklaring wees vir haar wegskram van die baba. Tot tyd en wyl sy die moed kry om dié toets in almal se oë te slaag: Karen moet ’n kind grootkry. Op haar eie. Sal mens haar nou, soveel jare later, kan vertrou?

    Ja, man, moet jou nou nie kom simpel hou nie, sal haar pa vir almal blaf. Hy sal.

    En haar ma sal seker met net ’n paar kraaloë antwoord.

    Wie weet wat die ooms en tannies destyds gedink het.

    Julle, kunstenaars is maar weird, sal die suster, tekening in die hand, vir haar kollegas agter hulle toonbank sê, en tas oor die skêrtjie in haar bosak, of loer op die horlosie wat aan sy ses skakels hang.

    Hoofstuk 3

    Hier aan die Rand vertrap mense mekaar ook oral, verdomp. Voor die kykglas is nog ’n klomp oumas en oupas wat saam met hom en Bertha militêr betyds staan en wag dat die suster die gordyntjie van die babasaal se vertoonvenster ooppluk.

    Hendrik. Bertha se sagte stem beteken seker hy moet ophou staar na die ou wat voor hulle ingedruk het. Sy kyk na haar hor­losie.

    Sal ons besoek strook met sy roetine? het sy vrou ook al klaar gisteraand vir Ben by die gastehuis gevra.

    Mens moet oe en a al is hulle almal skreeulelik. ’n Pas­gebore baba is ’n uilskuiken of niks anders as ’n skoongeskeer­de bobbe­jaantjie nie – al moet mens volgens die voorskrifte liries raak.

    Kyk hoe volmaak gevorm is die oortjie al, Pappie, koer die vrou langs hulle toe die suster die eerste baba omhoog hou. En sy ou handjie.

    Bles Pappie van seker vyf en vyftig sluk aan die knop in sy keel, bly aan sy neus vat en pomp Hendrik in die ribbes. Dis ons eerste kleinkind, van die oudste seun, verduidelik hy met so ’n halfoop glimlag.

    Is dit nie nes ’n spesiale soort ouer wees nie? knoop Mammie ewe gemeensaam ’n geselsie aan. Mens kan sommer sien julle is dit al meer gewoond as ons.

    Die vrou moet heldersiende wees.

    ’n Spesiale ouer? vra Bertha, heeltemal uit haar aard, asof sy tas na die begrip.

    Hy kan sy vrou iets aandoen, maar gelukkig wis die stamelende mense van niks en is Ben iewers agter in die skaapbondel.

    Mens raak iets spesiaals nooit gewoond nie, sê Bertha sag, miskien eerder vir haarself, maar Mammie en Pappie blom oor dié Radio Kansel-antwoord wat hulle wou gehad het.

    As hy net in hierdie dae sy bek gehou kan kry.

    Toe Ben aan sy skouer vat, skrik hy.

    Dis nou sy beurt, Pa.

    Onwillekeurig reik hy na sy vrou se hand. Die ogies is bot toe, mens kan nie ’n ding op dié afstand eien nie, maar iewers in sy derms pluk ’n spier. Dit is tog ’n perfekte gevreetjie en die suster woel aan die kombers sodat die lappopgesig sowaar ’n nekkie wys.

    Hierdie trots is ’n ander trots, ou Ben! het hy en die glas rooi gisteraand gesê.

    Dié keer het Bertha se oë nogal kraaipootjies gemaak vir haar man.

    Laat jou skoonpa jou nou vertel, dit is nie soos om skoonskip te maak met al die ouens se albasters nie. Dit is nie die belle of the ball wat ja gesê het vir ’n dans nie. Dit is nie eens ’n ou se M met lof nie ...

    En Ben het gelag.

    Maar nou weet hy van beter. Dit is die warmte en soet deur jou hele lyf van ’n koppie dun vla wat sy ma bed toe gebring het as hy kleintyd siek was. Langs hom is al die kleur uit Bertha se wange, maar hy weet sy sal nie huil nie, haar mond is net sag, en haar oë.

    Nee, gaan staan julle ook voor die ruit soos die ander mense, het Karen hulle netnou uit haar kamer geboender.

    Te gou, te gou is dit die volgende baba se beurt.

    Net die kringe onder Karen se oë lyk vir hom aardig, al bors­voed sy glo ook nie. Maar sy klink nie vir hom sleg nie.

    Hy wonder wat sy ouma daarvan sou gesê het: Het sy dan haar melk weggeskrik?

    Karen sou die piep gekry het oor so ’n dwars woord in haar privaatheid in; min sal sy weet hoe moeilik die Nederlandsheid in sy vader se moeder verwater het.

    Miskien wou sy nie by wees wanneer Bertha die kleintjie die eerste keer sien nie.

    Hy is bly hy en Ben het netnou in die binnehof, waar ’n man ’n dampie mag slaan, ’n gedagte of wat geruil. Buite rook was sy voorland, al die jare, lank voor vandag se wette. Koue of reën, op die stoep, en die sigarette se bêreplek was altyd ver bo in die kas.

    Die vierkant is skaars ’n meter of drie by twee met wit winter­gras, hardnekkige impatiëns in twee potte en ’n bank. En ’n selons­roos. Hoe plant hulle dan so ’n gifboom waar kinders kan kom? Net so bolangs was sy en Ben se praat, soos ’n stetoskoop se koud tussen die blaaie.

    Met die onderkant van sy tone het Ben na een van die potte staan en skop. Nee wat, vir my lyk Karen heeltemal goed, al het sy die ginekoloog se arm probeer draai om langer in die hospitaal te kan bly, het sy skoonseun gesê. Sy het dan tot gevra vir haar tekengoed.

    Dié belangstelling van haar wat al uit die paddaklasse kom, sal seker wragtig nooit taan nie.

    Die mens bly maar aperig, sê hy toe hulle by Karen instap. Sy hart ruk. Op haar gesig is daardie selfde verleë-bly onsekerheid van ná ’n wedloop. Dis Nagmaal op Kestell voor daardie venster, sê ek jou.

    Ja, Hendrik, sê die een wat lyk asof hy ’n piering room gesteel het, onderbreek Bertha hom, weer so teen haar geaardheid. Wat gaan aan? Mens vergeet hoe klein so ’n seuntjie kan wees, voeg sy nadenkend by, asof haar eerste sin te haastig was, en nog voor hy sy verleentheid kan wegsnork.

    Karen kyk deur die venster en ’n stilte wil posvat.

    Maar Ben maak keel skoon. Pa, Ma, ek het slegte nuus.

    Bertha se hand, wat pas na haar mond op pad was, maak sy pad klaar. Moet net nie ...

    Nee, nee, die baba is piekfyn, Ma. Julle het mos gesien.

    Tien toontjies, tien vingertjies, sê Karen vinnig. Ek het nie besef wat ’n kwessie ’n baba se gewig is nie; dit is wat al my vrien­dinne heel eerste wou weet. Hulle sê 3,5 kilogram is gesond, en hy het ná die geboorte net ’n bietjie verloor. Hulle sê dit is normaal, Ma, dié verlies.

    Dit lyk sowaar asof Bertha wil huil. Hy het die mooiste ge­siggie, sê sy, haar stem skor van wat nie gesê kom nie.

    Ons het ons Group Five-kontrak verloor, sê Ben.

    O hel, ou Ben! Sy hand vlieg na sy skoonseun se skouer.

    Bertha se nek ruk verskrik, maar toe kyk sy vinnig af.

    Ons sal oukei wees, piep Karen.

    Praat van ’n emmer koue water.

    Die euforie oor die Sokkerwêreldbeker wat kom, was tot nou toe ’n buffer tussen die resessie en die konstruksiebedryf. Die groot ouens, waaroor die koerante die graagste skryf, is nog reg, sê Ben gelate. Die ou wat die uitkontraktering doen, het my ver­lede week ingeroep en hy kon nie besluit of hy moet staan of sit terwyl hy met my praat nie, want hy het geweet Karen is op haar laaste.

    Die bliksems!

    Dis maar hoe die dinge loop, Pa, trek Ben sy skouers op.

    Wat gaan julle nou maak?

    Wel, Pa, die geboorte was ’n bietjie op dié storie, ek sal nou maar nog moet gaan sit en somme maak en kyk. Maar met die Wêreldbekerplan wat skeefgeloop het en die tendergemors met daardie brug vir die myn is ek in elk geval lelik in die knyp. Die kleiner kontrakte begin skaarser raak en een ontleder meen ná die sokker gaan dit eers ’n gemors wees. Die pêre wat huise bou, kou ook al klippe. En sonder ’n bestelboek sal dit byna onmoont­lik wees om in hierdie mark oorbruggingskapitaal te kry. ’n Klein outjie soos ek is nie groot op gatslae nie.

    Ag, Ben, jy het dalk nie die Statue of Liberty opgerig nie, maar so klein is jy darem nou ook nie, troos hy.

    Bertha gaan sit skoon. Weet jou mense al? vra sy terwyl sy haar rok weer onder haar invou.

    Ek en Jakob is mos saam in die ding, Ma. Hy het, flegmaties soos hy is, hom bleek geskrik oor dié jongste nuus. Mens weet mos half daar is fout, al wil jy dit nog nie weet nie. En hy is ’n man met ambisie.

    Bertha vroetel net met haar sakdoek wat iewers vandaan moet gekom het.

    Ai, man. Kan julle nog ’n rukkie met die kontrak aangaan, ou Ben?

    "Nee, Pa. Ons projek is so te sê klaar, ons wag net vir ’n be­sending bitumen. Jakob het teen hierdie tyd seker al begin

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1