Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Drieklawerblaar
Drieklawerblaar
Drieklawerblaar
Ebook470 pages7 hours

Drieklawerblaar

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Ná haar aftrede gaan soek Kate Jooste, met jare lange vrae in haar binneste, na Abel Marais op sy wildplaas in die Klein-Karoo. Hoe het haar Ierse oumagrootjie in hierdie dorre streek beland, en wat het alles op dié stuk grond afgespeel? Abel, ’n ambisieuse sakeman, is ook gemoeid met sy familiegeskiedenis: sy Hugenote-herkoms lei hom na die Franse platteland, waarna hy hom vestig op ’n stuk grond digby sy oupa se plaas van vroeër. En dan is daar Tinneke le Grange, ’n gastehuiseienaar en weduwee wat moet vrede maak met haar man se fratsdood en die feit dat sy hom verloor het, lánk reeds voor sy afsterwe . . . Barkhuizen-le Roux, die gewilde skrywer van Padmaker en Getuie, verweef hier die verhale van drie eiesoortige karakters. Drieklawerblaar is ’n meesleurende roman oor familie, oor grond, en die ystergreep wat die verlede op ’n mens kan hê.
LanguageAfrikaans
Release dateAug 8, 2016
ISBN9780798174046
Drieklawerblaar
Author

Christine Barkhuizen-le Roux

Christine Barkhuizen-le Roux is in 1959 in Vryburg gebore. Sy behaal in 2005 ’n Meestersgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Sy is digter en kortverhaalskrywer en drie van haar boeke het by H&R verskyn: Padmaker (2010), Wat die oog gesien het (2011) en Getuie (2012). Drieklawerblaar is haar derde roman.

Read more from Christine Barkhuizen Le Roux

Related to Drieklawerblaar

Related ebooks

Related articles

Reviews for Drieklawerblaar

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Drieklawerblaar - Christine Barkhuizen-le Roux

    titel.jpgH%26R%20logo.jpg

    HUMAN & ROUSSEAU

    Vir Abré Marais

    wat my die verhaal vertel het – en

    my mede-Barrydalers

    vir wie ek die grootste waardering

    en respek het

    Out beyond ideas of wrongdoing

    and rightdoing, there is a field.

    I’ll meet you there.

    Jelaluddin Rumi

    Hoofstuk 1

    blaar.jpg

    Omdat ek myself nie kon toelaat om iemand ooit weer so na aan my te laat kom nie. Die stem van die ou vrou in die swart rok was gelate, suf geleef.

    Met elke tree wat Kate op pad na die Katolieke kerk in Graaff-Reinet gee, eggo ouma Sarah se antwoord op haar vraag van destyds; sý toe ’n dogtertjie van sewe of ag wat by die kombuistafel haar somme sit en doen het.

    Bo die rante stoot wit koppe donderwolke steeds hoër op in die lug, dreigend. Van vanoggend vroeg af is die weer broeiend. Die romp kleef aan Kate se bene; in die Green Cross-sandale wat sy gekoop het om in Ierland mee te loop gly haar voete, daar is ’n verbetenheid in die seningrige kuite. Vandag, meer as enige ander dag, moet sy by hierdie kerk uitkom.

    Die bulterriër by die grys huis aan haar regterkant storm blaffend uit die agterplaas en spring teen die voorheining. Hy druk sy varkkop deur die drade en sper sy bek oop dat die skerp tande wys; die klein spleetogies gluur haar aan. Sy loop nog vinniger, probeer die skrik vir die hond en die onrus in haar binneste van mekaar skei.

    Voor die kerkie staan sy ’n paar minute, leun teen ’n boom. Sy hyg om haar asem terug te kry. Dan loop sy tussen die eenvoudige steenpilare deur. Sy is moeg. Die houtkruis wat teen die wit muur hang, is deels in die son, deels in die skaduwee. Regs en links van die ingang blink twee lang, smal brandglasvensters. ’n Skielike windvlaag ruk aan haar klere.

    By die deur aan die agterkant van die kerk gaan sy in, kry die sleutel waar die koster dit op ’n spesiale plek vir haar laat, soos hy vroeër vir ma Grace ook gedoen het. Sy het Protestants grootgeword, maar in haar hart het sy Katoliek gebly. Soos haar ma. En ouma Sarah.

    Dis donker in die kerk, somber, strak eintlik, afgesien van die skille­tjies sonlig wat deur die brandglasvensters op die banke val. Die klok van die groot kerk verder weg slaan afgemete. Drie slae. Toe sy nog by die hospitaal gewerk het, het sy eers ná sewe in die aand by die huis gekom.

    Sy buig haar vooroor, probeer haar leegmaak van die warboel ge­dag­tes in haar kop. Vanoggend, sesuur, het die onrus haar buitentoe gedryf; sy het haar stapskoene aangetrek en die strate van die dorp deurkruis. Terug by die huis was sy natgesweet maar rustiger. Op die bank in die sitkamer het sy aan die slaap geraak. Toe sy wakker word, het die son hoog gesit.

    Met albei hande vou sy die Bybel oop. Prediker, waaruit haar ouma so baie gelees het dat die blaai vanself daar oopval:

    1 All things have their season, and in their times

    all things pass under heaven.

    2 A time to be born and a time to die. A time

    to plant, and a time to pluck up that which is

    planted.

    3 A time to kill, and a time to heal. A time

    to destroy, and a time to build.

    4 A time to weep, and a time to laugh. A time

    to mourn, and a time to dance.

    5 A time to scatter stones, and a time to

    gather. A time to embrace, and a time to be

    far from embraces.

    6 A time to get, and a time to lose. A time to

    keep, and a time to cast away.

    7 A time to rend, and a time to sew. A time

    to keep silence, and a time to speak.

    Ouma Sarah het dié reëltjie soveel keer onderstreep dat die dun Bybel­­blaadjie voos en stukkend is by die teksvers. ’n Lang tyd bly sy sit, kyk na die figure in die vensters waardeur die middaglig val.

    Maria, bid sy, "Moeder van ons Redder, wys my die weg. My ma se woorde op haar sterfbed was maar net dit wat ek van kleintyd ingegee is: Jy is die laaste lewende van hierdie geslag wat wéét, Kate. Aan my lê dit om daardie stilte te verbreek, die swye tussen my ma en ouma Sarah, die dooie oë van oupa Jakob. Maar hoe gee ek woorde aan so ’n gebeure? Hoe vertel ek ’n ander mens wat alles in die geskiedenis gebeur het?"

    Meteens is daar weer ’n rukwind, dan sidder ’n harde donderslag oor en deur die kerkie. Kate kyk op – hoog teen die muur, byna teen­aan die dak, het ’n stuk van ’n luik afgeruk en op die vloer neergetuimel. Deur die opening stroom ’n verblindende bondel wit lig na binne tot by die bank waar sy sit; die helder straal val oor haar kop en bolyf. Sy voel haar hande ruk, haar hele liggaam bewe; ook haar binneste kom onwillekeurig in beroering.

    Na ’n lang tyd – sy weet nie hoeveel minute verbygegaan het nie – skuif sy uit die bank. Haar bene is rukkerig toe sy die Douay-Rheims-­­Bybeltjie in haar somerbaadjie se sak steek en in die paadjie opstap na die deur. Net voordat sy uitloop, kyk sy terug. Die lig deur die brand­­glasvensters gooi ’n groen-en-rooi beeld op die vloer. Sy bly staan. Kyk. Kyk weer. Deur die ligval is dit ’n hand wat op die vloer geteken lê. ’n Hand met ’n vinger wat vorentoe wys?

    Sy stap huis toe onder die skadu van die bome deur, so vinnig haar bene haar nou toelaat. Hier en daar hang groot rooi, trompetagtige blomme tussen die blare. Of dit God is wat haar vandag geantwoord het, weet sy nie. Maar dat sy moet gaan, dit weet sy. Vanmiddag nog. Ierland sal moet wag.

    Nou, wanneer sy by die huis kom, sal sy pak. Sy sal Alex vra om te kyk of hy op die internet ’n plek kan kry waar sy vir so twee weke in die omgewing van die wildplaasman kan bly. Sy sal die regte tyd moet afwag; ’n mens kan nie sommer op iemand afstorm en met die deur in die huis val nie.

    Vandat sy uitgevind het wat in die lang jare voor haar geboorte gebeur het, het sy gebid dat sy ’n antwoord mag kry, en vergifnis. Absolusie. Vir hulle almal. So het haar ouma dit op die papiertjies in die Bybel van grootouma Fanny geskryf.

    Sy loop ’n ander pad as die een verby die huis met die kwaai hond. Bo die dorp troon die hoë toring van die NG kerk uit. Sy huiwer, bly staan. Om die spits vlieg ’n klompie duiwe in ’n sirkel. Rondom, rond­­om, rondom. Op hulle vlerke flits die lig wat tussen die wolke deur blits.

    Wanneer sy verder loop, is daar meer vastigheid in haar bene en voete. Daar het druppels begin val; sy ruik die grond, die aarde, die stof waar­uit die mens gemaak is en waarna hy terugkeer.

    Maar voordat sy huis toe gaan, al reën sy ook nat, sal sy by Mathilde, haar buurvrou, móét stop. Haar tienerseun en sy kennis van die kuber­ruim het Kate al met baie dinge gehelp. En dis immers ook hy wat haar die vorige dag gesê het dat die man oor wie sy destyds die beriggie in die koerant gelees het, nou oor die internet sebras bestel het. Dis die herroep van hierdie Marais se naam wat haar die vorige nag wakker gehou en vroegdag deur die dorp se strate laat swerf het.

    Daar is ’n klomp goed wat sy nou baie vinnig hier agtermekaar moet kry. Vir alles onder die son is daar ’n tyd – óók om die gebeure van die afgelope maande by die hospitaal agter haar te laat. Want nou is die tyd om Abel Marais te gaan soek.

    * * *

    By die Midlandshospitaal kon die ander personeel en Matrone nie begryp waarom sy so skielik wou bedank nie. Dis nie asof sy sieklik was of ander verpligtinge gehad het nie en in ’n paar ekstra jare kon die neseier vir haar oudag nog aansienlik groei. Sy was byna op aftree­ouder­dom, ja, maar sy sou langer kon aanbly, het die superintendent haar verseker, hulle het haar kundigheid nodig gehad. Die toestemming daar­voor sou nie ’n probleem wees nie.

    Hý, dokter Ludick, het haar na sy spreekkamer laat kom toe hy die bedanking kry. Jy was nog altyd koelkop, ’n redelike mens, Kate. Wat is dit dan nou van ’n bedanking so uit die bloute?

    Sy kon kwalik met hom gepraat kry die middag. Op die ou end vol­staan met iets soos: Ek vertrou nie meer my eie professionaliteit nie.

    Hy het haar daar laat sit en sweet; gesê nie hy, óf sy, gaan êrens heen voor hy die hele storie gehoor het nie. Op langelaas het sy hortend begin vertel wat haar weke na die voorval steeds snags laat wakker lê.

    Sy het afgekyk op haar skoot terwyl sy praat, haar woorde gesmoord in die somerwarmte van die vertrek. Hy het haar nie in die rede geval nie; af en toe het sy hom hoor keelskoonmaak. Toe sy klaar was, het hy gewag tot sy opkyk voordat hy gepraat het.

    Hy het oorgeleun na haar, tussen die silwerwit hare kon sy sy kop­vel sien deurskyn. Niemand, nie ’n siel, het iets oor hierdie saak gerep nie. Die Maandagoggend toe ek by die hospitaal kom, het ek Matrone se inskrywing gesien; ons het twee of drie minute oor die geval gepraat. Maar niemand het enigiets genoem van ’n ongerymdheid nie.

    Hy het afgekyk na sy vingers, die smal, sterk hande wat sekuur en fyn met ’n operasiemes kon omgaan. "Kate, is jy nie te hard op jouself nie? Ek ken jou oor die dertig jaar; nog altyd was jy een van die betrou­baarste susters wat ’n mens maar kan verlang. Ons het byna dieselfde tyd hier begin, dieselfde leerskool deurgemaak. As daar gepeuter is – ek weet dit kon nie jy gewees het nie. En om nou terug te gaan op die saak, om die personeel wat die nag aan diens was te ondervra, sal vir niemand iets beteken nie.

    Vergeet daarvan, vergeet van so iets, of probeer ten minste. Jou reputasie by Midlands was nog altyd bo verdenking. Ons het jou vaar­digheid en kennis hier nodig; buitendien, suster Visagie wat net onder Matrone is, tree af. Sonder jou is ons dan regtig verlore.

    Sy het haar eie voetstappe gehoor toe sy die middag wegstap uit die hospitaal, weg van die verweerde buitemure met die afgedopte wit verf. Soveel jare was hierdie plek haar hawe, haar wegkruipplek. Hier kon sy bloed stelp en wonde toewerk, pasiënte probeer gerusstel oor die noodsaaklike en wrede ingrepe op hulle liggame.

    Maar sy kon nie aanbly nie; minder nog kon sy dokter Ludick vertel van die onrus wat sy met haar saamdra. Selfs ’n algehele bloedoortapping sou haar nie kon skoonwas van dit wat sy met DNS en moedersmelk ingekry het nie.

    Haar bedanking het die middag op die superintendent se lessenaar bly lê. Deur die blindings agter dokter Ludick se stoel het die skadu van die bloekom voor die venster op die woorde geval: Hiermee wens ek …

    Sy het tot laat die middag agter haar huisie bly sit, tot ná die donker oorgeneem het. Niks sou haar oortuig om die betrekking weer op te neem nie, al was die hospitaal ook hoe kort aan personeel.

    * * *

    Die wete waarmee sy loop, iets veel dieper as die gebeure by die hos­pitaal, kan sy ná gister en vanmiddag in die kerk nie langer ignoreer nie. Soms, in die nagte wanneer sy wakker lê, die vensterrame bo en onder oopgeskuif sodat die lug kan deurtrek, wonder sy: kan ’n mens iets regmaak wat jy nie self verbrou het nie? Is dit soos Afrikaners ook voel? Dat almal, ook die jongste geslag, ly aan kollektiewe skuld; dat hulle moet jammer sê oor wat gebeur het, al het hulle nie self deel gehad aan die onreg van apartheid en die nawerking daarvan nie?

    Maar ’n mens se bloed dra die reg én die onreg in jou are. So spreek die Bybel. Die onreg en sondes van die vaders word besoek aan die kinders, van geslag tot geslag. Soggens wanneer sy steeds oopoog lê en staar, hoor sy die uil in ’n boom ’n paar strate verder op roep.

    Die dinge van gister en eergister sit met weerhake in haar wese. Sy wou ook nie trou met Dewald van Greunen wat haar lank gelede vir meer as twee jaar probeer oortuig het om sy ring te aanvaar nie. Al was hy ’n internis wat saam met haar lewens probeer red het en al het hulle soos ’n tweeling by mekaar gepas.

    Ná haar bedanking twee maande terug het sy nog eens geweet: sy het reg besluit destyds. Dis beter dat Dewald padgegee het Johannesburg toe en met die fisioterapeut getrou het. Iemand wat met die kennis in haar brein en haar hande die knoppe uit medemense se lewens kon wegmasseer.

    By Mathilde se hekkie staan sy ’n oomblik stil. Haar vingers bewe toe sy die hingsel oopmaak, haar binnekant is wiebelrig soos dié van ’n mens wat die eerste keer in ’n boot op see kom. Sy voel skuldig, asof sy misbruik maak van Alex, maar wie anders kan sy vra? Sy is nie geskool in hierdie kuberruimte-hede nie. Sy druk die knip af, stoot die hek oop; dit skree piepend soos sy dit oop- en dan weer toedruk. Mathilde se man is vyf jaar terug dood; wie olie die skarniere, wie vervang jou gloeilampies as daar altyd iemand was wat dit kon doen? Of hoor sy nie die gekerm van die hekkie nie?

    Vir ’n wonder kry sy die seun buite onder die prieel – sonder oorfone.

    Sal jy my help, Alex? vra sy sonder om eers middag te sê. Asseblief? Ek moet vanmiddag nog ry. Wat jy gistermiddag gesê het oor die man in die Klein-Karoo – ek kan nie anders nie. Ek kan ook nie verduidelik nie. Maar jy ken die internet en Google en al daardie goed. Kan jy nie asseblief vir my kyk waar ek blyplek naby daardie wild­plaas kan kry nie? Barrydale is mos daar naby? Of Riversdal?

    Sharp, suster Kate. Moenie worry nie, ek gaan sommer nou kyk. Ek sal jou kom sê wat ek gekry het, jy kan maar jou goedjies gaan pak, ’n blyplek sal ek kry. Maar vir hoe lank? En wat nou van Suster se Cork-toe-ganery?

    Sy’t klaar na die hekkie begin loop, maar draai ’n halfslag terug. Ek weet nie, Alex, dit moet eers bly. Ek weet jy het my alles help uitsoek, maar nou moet ek eers Klein-Karoo toe. Miskien net vir ’n paar dae, of dalk vir lank. Ek het geen idee nie. Maak dit sommer twee weke. As ek vroeër moet weg, dan skryf ek maar die ekstra geld af.

    Die klere glip onder haar hande terwyl sy inpak. Wat vat sy? Wat los sy? Hoe is die weer dié tyd van die jaar in die Klein-Karoo? Herfs. Soms baie warm nog, soms te koud om sonder trui of baadjie te loop? Die weer is niemand se maat nie. Ook nie dié van die weervoorspellers saans na die nuus nie.

    Sy skakel die ketel aan, gooi solank twee lepeltjies van die Jacobs Krönung-kitskorrels in die beker. Dokter Waterfall het haar die eerste keer skeef aangekyk toe hy die flessie koffie in haar kantoor sien: Duits! Maar later het hy hom ook die troostende geur laat welgeval na ’n lang teatersessie.

    Terwyl sy wag vir die water om te kook, gaan staan sy in die gang. Lang jare terug het haar ouma een Saterdag op ’n bankrotvendusie ’n afdruk van die Angelus-skildery van Millet gekoop en die aand vir haar sit en vertel hoe die mense met geboë hoofde op die lande gestaan en bid het wanneer hulle die kerkklok hoor slaan. Om die Here te hoor. Om erkenning te gee aan sy almag, sy genadegawe waarvan ons elke dag nog eet.

    Hoekom, het sy later op vyftienjarige ouderdom wysneusig vir ouma Sarah gevra, hoekom het Ouma dit eintlik gekoop? Mamma sê dis van ’n Franse skilder en dit het met hulle godsdiens te doen, niks met Ierland of ons nie. Ook nie met Suid-Afrika nie. En meneer Pieterse van ons aardrykskundeklas sê die mense staan by ’n kissie van ’n dooie kind en dat Dali, hy was ’n skilder met ’n snor, gesê het …

    Dit kom nie daarop aan nie, het haar ouma geantwoord, haar hande op die raam van die prent met die biddende mense, dis dieselfde geloof, dieselfde Here. En dié vent met die snorbaard, wat kan hy weet van ’n kind wat dood is?

    Kate druk haar hand agter die prent teen die muur in, lig die toutjie van die haak. Dis hierdie God, die God van die Angelus, die Een wat alles sien en alles weet, wat snags met haar praat. En nou, veral in die tyd nadat sy weg is van die hospitaal, noudat sy die vrees al hoe feller in haar voel woeker.

    Sy moet die plek waar die Marais-man bly, gaan soek. Sy het haar lewe daaraan gewy om siek mense te versorg en op te pas, maar dit het die skuld nie weggeneem nie. Die dubbele skuld, maar waarmee sy vir Abel Marais miskien ’n ander kant van die verhaal kan laat sien.

    Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat … Nog een van ouma Sarah se onder­streepte reëltjies.

    Dis meer as twee jaar terug dat sy die stukkie die Saterdag in die koerant gesien het. ’n Onderhoud eintlik, waarin ene Abel Marais gesê het dat hy ’n wild-cum-vakansieplaas op die plaas Doringboomlaagte wou vestig. En dat sy familie jare gelede hulle grond daar naby verloor het.

    Kyk vir my, asseblief, het sy dié dag vir Alex gevra, kyk of jy dié man se voorgeslag dalk kan opspoor? Of sy oupa se naam dalk Abraham was? En waar hy vandaan kom, waar hy gebly het voordat hy die plek in die Klein-Karoo gekoop het.

    Haar aanvoeling was reg. Sy was op die regte spoor. Abel wás die kleinseun van Abraham Bier. Maar twee jaar terug was sy nog by die hospitaal. Die stukkies aftyd om sommer die vertes in te ry was nie daar nie. En, sy het geweet: sy was self ook nog nie reg om die man van aangesig tot aangesig te sien nie. Die brokkie inligting het sy agter, in ’n ver onthouplek van haar brein, gebêre. Eendag sou die tyd kom – dan sou sy hom in die oë moes gaan kyk.

    Haar koffer staan in die gang. Die Angelus het sy tussen klere toe­gedraai, seker gemaak dat dit nie sal breek nie. Vir oulaas loop sy deur die huis; in die kamer huiwer sy, vat die breë koperarmband van die spieëltafel af en skuif dit oor haar linkerhand sodat dit die rooi plek aan haar pols toemaak. Op die ingewing van die oomblik draai sy na haar ouma se buffet met die glasruitjies. Sy steek haar hand diep in, tot agter, en haal die porseleingoedjies uit, draai dit toe in die vorige dag se koerant wat langs die vuilgoedsak lê.

    Die wolke het weggetrek wanneer sy die tas en drasak met skoene in die kar laai. Maar dit is die uur wat gekom het, al moet sy ook die fel lig in haar oë verduur. Alex het oor die heining gespring, opgewonde, kom sê dat daar ’n gastehuis is wat Doringboom heet; dat dit lyk of dit reg langs Abel Marais se plaas, Doringboomlaagte, is. En dat dit lyk of daar wel plek is. Hy het die nommer, geskryf op ’n stuk­kie afgeskeurde koerant, uit sy sak gehaal. Hy het ’n paar ander plekke ook genoem. Die Warmwaterberg Spa, ’n paar gastehuise op Barrydale, plekke op Riversdal. Met al dié se nommers ook.

    Die vrou wat geantwoord het, was saaklik. Ja, daar was ’n kansellasie by Doringboom. En die dae nadat die mense van die vorige bespreking sou vertrek, is oop. Die veertien dae is hare. Maar sy het skepties ge­klink. Asof sy nie kon glo dat iemand twee weke lank in die middel van die Klein-Karoo sou wou oorbly nie.

    Sy sal op Beaufort-Wes oorslaap, dink Kate. Dit sal donker wees as sy daar aankom, maar sy is nie bang nie, sy was altyd onafhanklik. Sy het nooit toegelaat dat ’n man haar voorsê wat om te doen nie.

    Tussen wat haar ouma Sarah verswyg het en wat haar ma vertel het nadat sy dood is, het sy dit aangevoel – dis mans wat die wêreld regeer en mans wat vroue bring tot soveel verdriet dat hulle hul eie mens­wees verloor. Na haar pa se vroeë dood het ma Grace nog meer in haarself gekeerd geraak. Soms het sy, wanneer sy op haar eentjie besig was om ’n pot te skuur of die vloer te was, ouma Sarah se woorde saggies vir haarself herhaal: Ek moes nie getrou het nie. Wat het tog daarvan oorgebly?

    Kate het na haar ma se rug gekyk. Gedink: Dan was ek ook nie hier nie. Dalk was dit dan beter.

    Daar was tye nadat sy Dewald afgewys het dat sy ’n gesin gemis het, tye dat sy na ander mense se kinders gekyk het, gewens het sy het iemand of iets van haar eie. Maar dan het haar rede ingeskop.

    Sy skuif die kantspieëltjie sodat sy nie heeltyd die helfte van haar eie gesig in die weerkaatsing hoef te sien nie. Die hoë voorkop het sy van oupa Jakob geërf, iets waarmee sy moet saamleef.

    Die pad is nie besig nie, dis nog ’n rukkie voor die einde van die eerste kwartaal en die begin van Paasnaweek. Die skole is nog aan die gang.

    Sy sit die radio aan. Tjailatyd met Amore. The truth is, everyone is going to hurt you. You just got to find the ones worth suffering for … Bob Marley se woorde dwing haar vingers na die kruis om haar nek. Kelties. Onder haar hand voel sy die reliëf binne-in die ring.

    Hierdie land is in die moeilikheid. Die regering is korrup, die geld wat moet gaan na die mense wat ’n nuwe bestaan moet vind, word weggemoffel deur amptenare. Parlementariërs skree in die parlements­gebou, jou mekaar uit. Hospitale is oorvol, personeel is min en die kragkrisis het al die dood van meer as een pasiënt veroorsaak.

    Matrone het haar die vorige week weer gebel, gevra sy moet asseblief terugkom, al is dit net vir ’n tydelike pos. In Matrone se oë is sy wat Kate is gesond en fiks; sy kan vir die hospitaal nog van groot waarde wees. Selfsugtig, so het sy haar genoem, en ’n ekstra skuldlas op haar skouers gelaai.

    Hoe moes sy aan die gesagsvervulde vrou met die vreemd platterige gesig en prominente ken, altyd omgewe deur die reuk van hospitaal, verduidelik wat gebeur het, selfs al het dit miskien net in haar eie gemoed afgespeel. Hoe sê jy van die woorde wat jou ma by jou ingebeitel het dat jy nooit op enige manier aandadig moet wees aan ’n pasiënt se lyding of dood nie; dat jy daar geplaas is om mense se nood te verlig. En hoe sê jy vir die streng blou oë dat daar iets anders is wat jy moet gaan doen, sonder dat sy sal kan verstaan wat so dringend is. Sonder dat jy self weet wat – maar wel dat jy moet gaan bieg.

    Na haar bedanking het sy haar begin besighou met die hospies op die dorp. Gewag. Haar ouma sou sê dis ’n bestiering dat die Alex-kind die naam van Marais en sy sebrakopery raakgelees het op die internet. ’n Naam wat haar ouma soms laat val het, en dan onderlangs geprewel het: Ja, so het die bokant onder gekom, Jakob Doherty, maar waarom moes die onreg wat jy gedoen het, my ook alles laat verloor?

    Twee jaar terug toe Kate die berig gesien het oor die man wat die stuk grond gekoop het om ’n wildplaas daar te vestig, het die koerant die letters met naam en van na haar toe uitgespuug. Implisiet was daar toe al die wete: daar is nie omdraaikans nie. Dit was slegs ’n kwessie van tyd.

    En gister, toe Alex so ongeërg Abel Marais se naam noem, het sy geweet, langer kan sy nie wag nie. Sedert sy daardie inligting gelees het, het die ding waarmee sy geleidelik grootgeword het, in haar nesgemaak. Maar ’n nes waaromheen die voëls onrustig heen en weer vlieg, die woning weer uitmekaar pluk en aanhoudend van voor af begin sodat daar geen nuwe lewens gebore kon word nie.

    Ís dit haar verantwoordelikheid? Is dit reg dat haar ouma, en haar ma, omdat hulle dit sélf nie kon doen nie, haar hierdie plig opgelê het? Maar sal sy ooit van die las ontslae kan raak as sy versuim? En sal dit vir dié man nie ’n stuk vertroosting bring om te weet daar is nog ’n kant van die saak nie?

    Dit kan tog nie toeval wees dat sy daardie berig gelees het nie. Is daar iets soos toeval? Of is daar slegs dinge wat saamval op ’n bepaalde tyd?

    Agter haar, tot daar waar sy nie kan sien nie, lê die Vallei van Verlatenheid, weerskante van haar die Kamdeboo-natuurreservaat. In die truspieël sien sy Spandaukop, blou in die laatmiddaglig. Langs die pad is borde met afbeeldinge van skilpaaie om te wys dat hulle dwars­­oor die pad voor voertuie kan inloop, dat jy op die uitkyk moet wees sodat jy nie die kraak van die dop onder jou rubberbande hoor nie.

    Daar is ’n paar High Accident Zone-waarskuwings. Wanneer die pad reguit is, verloor ’n mens jou konsentrasie, is die kans op ’n ongeluk soveel groter. So waarsku die verkeersowerhede. Hou stil. Rus. Daar kan koedoes voor jou in die pad spring.

    Voor haar strek ’n grys lintwurm; tot in die verskiet sluk dit gulsig aan die kilometers na die stuk land waar haar grootouma tereggekom het. Dit trek haar in, teen wil en dank. Ten noodsaak.

    Sy laat ’n vallei van godverlorenheid agter haar, maar in haar ge­moed word die eensaamheid steeds groter. Weerskante van die pad glip blou­apies met wit-omrande oë wat lyk of hulle verskrik is, maar hulle onnutsigheid weerspreek die onthutste blikke. Buite Aberdeen staan daar vir kilometers ver verkiesingsborde wat mense aanmoedig om ANC, DA of SAKP te stem.

    Sy ry die dorp in om petrol in te gooi; haar lyf bewe nog altyd. So deurmekaar was haar kop dat sy nie eens by Graaff-Reinet se laaste petrolpomp stilgehou het nie. Wanneer sy stilhou, stamp sy die petrol­pomp liggies met die buffer. Sy ry agteruit, bevrees vir die skade aan die kar sowel as aan die pomp. Sy druk die deur oop, klim uit, gaan kyk na die wit merk wat die pomp afgegee het aan die voertuig. Sy sien die petroljoggie naderkom. Ek is verskriklik jammer, ek het nie bedoel, ag, ek is …

    Nee wat, Mevrou, daai’s oukei, net ’n ou stampie. Ál die petrol is nog hier binne-in, eintlik onder die grond, nè, daai kan nie ’n duik maak in dié outjie nie, hy staan al jarre hierso, al baaaie merke gekry. Moenie warrie nie!

    Anderkant Aberdeen is padwerke; dit gaan maak dat sy definitief in die skemer, of eerder nog, donker, by Beaufort-Wes aankom.

    Regs, westekant toe, is die wolke brandende koraalriwwe teen die horison. In die skemerlig is die blou van die garingbome en hul dooie, skewe blomstele nog indrukwekkender as gewoonlik. ’n Musseljaatkat wip oor die pad en maak dat hy wegkom deur die draad.

    ’n Hele aantal kilometer voor Beaufort-Wes sien sy die skynsel van die dorpsliggies wat opslaan teen die rant aan die westekant. Die staan en wag by die padwerke het ’n groot duik in haar tyd gemaak. Sy soek net iets basies. Êrens om te slaap, êrens om te was. Sy is nie honger nie; die toebroodjie wat sy gemaak en onderweg geëet het, sit nog op haar krop. Aan haar pols kriewel die vel wat haar die afgelope weke so begin pla het.

    Sy ry agter die advertensieborde aan wat oornagkamers adverteer. Dis anderkant toe, Leeu-Gamka se rigting. As sy uiteindelik stilhou en binnetoe loop, is dit donker. Bo in die swart hemel blink die vlieër van die Melkweg. Dis nie regtig so laat nie, maar haar oë brand van die ent se bestuur. Dis baie jare laas dat sy buite Graaff-Reinet bestuur het. En hemel, sy was so bang die eienaar van die vulstasie by Aberdeen kom vreet haar uit, of stel ’n eis teen haar in.

    Die man by ontvangs lyk alreeds dof en deur die slaap toe sy binne­kom. Kamer regs af in die gang, nommer 8, is oop, sê hy en vee met die agterkant van sy hand oor sy oë. Die badkamer moet Mevrou deel met die kamer langsaan se mense. Dit kan sluit van al twee kante af. As dit orraait is so, dan kry ek gou handdoeke.

    Voor die venster in die ordinêre vertrekkie trek sy die gordyne oop. Sy nies. Die stof van jare het deel geword van die karige mat onder haar voete. Sy haal haar pajamas uit die tas, klop aan die deur aan haar kant van die badkamer; daar is geen geluid uit die vertrek nie. Die mense in die kamer aan die ander kant slaap waarskynlik lankal of eet ’n hamburger en tjips by die Spur.

    Sy draai die stort oop, dit neem ’n rukkie voor sy die water uit af­son­derlike krane so gereguleer kry dat daar ’n net-net-louwarm stroom­pie water oor haar spoel. Met die spons uit haar sakkie was sy haar, skrop haar met die harde kant sodat haar bene en arms rooi uitslaan. Sy wil skoon wees, klinies, onbevlek. Sonder sweet, sonder stof, vlekkeloos. Teen haar linkerpols slaan die merk onder die vel deur.

    As sy eindelik in die bed lê, is die lakens verbasend vars en koel en welriekend. Laventel. Sy probeer haar oë oophou, dink aan hoe sy hier­die reis moet aanpak. Die allerlaaste wat sy uit die donker onthou, is die roep van ’n onbekende voël êrens nie ver vandaan nie.

    * * *

    Fanny, die jongste van die groepie Ierse meisies, gaan staan ’n entjie opsy van die res. Niemand sal haar wil hê nie. Julle gaan om te gaan werk, het die vrou by die weeshuis gesê, so moet julle nie ’n Bybelse paradys voorstel nie!

    Die vrou wou haar nie laat gaan nie – so ’n ongeskoolde, onopgeleide kind! Maar haar tante, haar ma se suster wat werksaam was in die kombuis van die weeshuis, het vir haar ingetree: Laat haar gaan – saam met Mary, saam met haar suster; dit sal wreed wees om die twee te skei, nie een van hulle het iemand anders oor nie.

    Fanny se klere is dun en die wind van die see af maak haar koud al skyn die son. In die Workhouse het hulle aan lang tafels gesit en sop gekry wat soos effens sout louwarm water gesmaak het; op die skip was min groente. Van die mense is dood onderweg; elke paar nagte het die matrose in die donkerte iemand oorboord laat val. ’n Seeman. Of kinders. Later, na ’n paar weke, het sy snags gewag om die dowwe slag te hoor wanneer nog ’n toegedraaide lyf met toue wat daarin keep in die blinkswart water beland. Sy het oor haar eie lyf ge­vryf, die vel oor haar bene en arms was styf getrek, die dun vlies van ’n skaap se binnegoed.

    Soggens het sy saam met Mary en die res van die meisies geloop en tel, gekyk wie nie meer daar is nie. Tot Fanny op ’n oggend in die gierende wind op die dek loop en soek het na haar suster. Ook sy was weg.

    In die helder lig van die Kaap die Goeie Hoop is die dogtertjie se gesig wit, die kleur van die dikmelk van beter tye, toe haar ma soggens vir elke kind genoeg daarvan in ’n kommetjie kon uitgooi. Maar ná haar pa is haar ma ook dood, en ook een van haar susters. Haar boetie is na ’n ander weeshuisplek geneem as sy en Mary, waar hy moes leer om met hout- en handwerk sy kos te verdien. Sy het hom nie weer gesien nadat hulle hom kom haal het nie. Hy was haar beste maat.

    Fanny is die jongste van die gesin, haar pa se lieflinkie. Maar haar pa lê êrens onder die sooie weggebêre in ’n land wat sy nooit weer gaan sien nie.

    Sy kyk om haar rond. Die mense wat die vragte van die skip afdra, is amper swart; sy verkyk haar, so iets het sy nog nooit gesien nie. Nog net ’n paar van die weeshuismeisies is oor, byna almal is al gevat deur boere wat werksmense kom soek het.

    As sy net ’n bietjie water kon kry. Die honger is iets waaraan sy deur die maande gewoond moes raak, maar haar keel brand van die dors. Sy wens sy kon Mary se hand om hare voel.

    Daar is ’n geklap van perdepote. ’n Groot man klim van ’n perde­kar af en kom aangeloop na die vier meisies wat nog daar staan.

    Mijnheer Redelinghuys! Die man wat die meisies uitgee aan die kopers groet die man met die vilthoed met ’n harde stem.

    Fanny sien die gesigte van die ander meisies, hoe elkeen pleit dat dié mijnheer háár sal kies. Maar daarmee saam is daar die vrees. Wat sal hulle moet doen vir ’n vreemde man en vrou op die plek waar hulle gaan bly? Die mense wat hulle uit die weeshuis gehaal en weggestuur het om op die skip te klim, het gepraat van plaaswerk. Van vloere skrop en skoonmaak weet hulle, maar hoe sal hulle die taal in hierdie vreemde land verstaan?

    Sy voel die man se oë op haar. Sy kyk op; die lig flikker in haar oë. Hierdie land se son is honderde kerse wat gelyktydig in jou oë brand.

    Die grond knars onder sy skoene toe hy nader tree en haar aan die dun armpie vat.

    Dié een. Sy verstaan sy woorde nie, maar sy weet dat hy haar wil saamneem.

    Die man wat die meisies uitgee teen betaling begin hard en vinnig praat; hy skud sy kop, wys na die ander, ouer meisies wat nog daar staan. Maar Mijnheer steek sy hand uit na die man, sit ’n sakkie daar­in en trek Fanny agter hom aan soos hy na die perdekar toe loop.

    Hy tel haar teen die kant van die perdekar op; in sy arms voel sy vir haarself soos ’n stuk hekellap, so lig. Sy sit met haar voete op die trommeltjie waarin haar paar stukkies klere is, voel met haar hand aan die ketting om haar nek. Dit het Mary self om haar nek gesit toe sy die koors begin kry het.

    Toe hulle almal nog saam was, het hulle na die mis gegaan, elke keer wanneer hulle maar kon. Sy, haar pa, haar ma, haar susters en die een broer. Nou is sy al wat oor is. Sal die man wat haar nou saamneem ook ’n kerk hê? As sy vir sint Patrick net een ding kan vra, is dit dat hy die drome oor Mary en haar dun, dun lyf en wit gesig voor sy dood is, van haar sal wegvat.

    Die pad wat hulle ry, is lank. Dis koud toe dit donker word. Die man gooi ’n velbaadjie oor haar skouers, maar nog steeds voel sy die wind teen haar ribbes. Sy kry die dierereuk van vel en vet en harigheid aan die baadjie van die man en die tabak wat hy in sy pyp stop, maar sy ruik ook die veld rondom; dis ’n droë reuk, anders as in haar eie land waar dit groen is en na die bosse by die see ruik. En die drieklawer­blaar. Dis wat Mary op die skip oor en oor vir haar vertel het – dit is hoe sint Patrick verduidelik het van God, en van die Gees, en van dié Een wat hulle Christus noem. Die drie almal één, maar elkeen ook apart.

    In die maanlig, toe Mijnheer uiteindelik die perde inhou, is daar twee jong seuns, ’n bietjie ouer as sy, wat ook donker lyk soos die mense wat sy op die kaai gesien het. Hulle maak die hek oop, die een begin die twee perde uitspan nadat hulle afgeklim en Mijnheer haar trommeltjie gevat het. Die ander een beduie vir die man iets na die kraal se kant toe. Die woorde wat hulle praat, klink hard en vinnig, anders as die klanke

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1