Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Voorouer. Pelgrim. Berg.
Voorouer. Pelgrim. Berg.
Voorouer. Pelgrim. Berg.
Ebook372 pages9 hours

Voorouer. Pelgrim. Berg.

Rating: 4.5 out of 5 stars

4.5/5

()

Read preview

About this ebook

’n Vrou, Katerina Steenkamp, haar oog ferm op die berg, gaan op ’n aanlyn dating site en ontmoet mense met onverwagse gevolge. ’n Man, sy kop vol apokaliptiese frases, patrolleer die strate sonder enige sigbare voorneme of doel. ’n Ander man hou die naghemel dop en wag op die koms van ’n elliptiese tuig. Nog ’n vrou, aan die einde van haar lewe, besin oor haar huwelik, en die lewens van haar drie susters.

’n Uitdagende roman, wat bowenal dui op vernuwing in Winterbach se werk. 
LanguageAfrikaans
Release dateMay 6, 2021
ISBN9780798181952
Voorouer. Pelgrim. Berg.
Author

Ingrid Winterbach

Ingrid Winterbach is ’n veelbekroonde skrywer. Sy het al meermale die Hertzogprys, die M-Net-prys en die UJ-prys ontvang. Winterbach se romans het al in Nederland, Frankryk en Amerika verskyn. Sy woon op Stellenbosch en is ook ’n beeldende kunstenaar.

Read more from Ingrid Winterbach

Related to Voorouer. Pelgrim. Berg.

Related ebooks

Related articles

Reviews for Voorouer. Pelgrim. Berg.

Rating: 4.5 out of 5 stars
4.5/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Voorouer. Pelgrim. Berg. - Ingrid Winterbach

    9780624089810_FC

    Ingrid

    Winterbach

    VOOROUER. PELGRIM. BERG.

    Human & Rousseau

    Vir Andries

    Pilgrims were people wondering, wondering. Whom shall I meet now?

    Anne Carson

    There are mountains suspended in form;

    there are mountains suspended in emptiness.

    Dōgen

    Een

    Ek staan voor my kombuisvenster. Aan die bopunt van die straat wat haaks op ons huis loop, sien ek ’n man staan. Hy staan doodstil. Ek herken hom, hy is die man wat heeldag in die strate in die omgewing op en af loop. Somer en winter dra hy ’n keps met oorflappe, soos ’n Tweede Wêreldoorlog-vlieënier. Nou staan hy doodstil, asof hy luister. Hy staan daar soos ’n brandwag. ’n Rukkie later draai hy om en begin met die pad afstap. Hy draai links in die straat wat voor ons huis verbyloop. Hierdie man is ’n flaneur, dink ek vanoggend, hy is soos Baudelaire, soos Walter Benjamin in Afrika (hoewel geen dandy nie, allermins, dit ís op stuk van sake Afrika hierdie). Daarbenewens vermoed ek dat hy moontlik nie heeltemal reg wys is nie, want vroemôrens hoor mens hom half singend met homself praat wanneer hy in die pad afstap. Onontsyferbare frases. Ek het geen idee waaroor hierdie prewelings gaan nie. Dit is moontlik dat die lewensdruk vir hom te groot was, dat hy iewers geknak het onder onsegbare trauma. Iemand wat nooit die liefde van ’n moeder of die sorg van ’n vader ervaar het nie. Dit is ook moontlik dat sy oënskynlike eenvoud van gees ’n voorwendsel is (’n veinsery en ’n versinsel), in diens van donker elemente (Riduaan Aarbei, byvoorbeeld); dat hy ’n agent is, ’n spioen. ’n Gedaanteverwisselaar wanneer dit hom pas.

    Toe ek wegdraai van die kombuisvenster, moes ek iets op die radio gehoor het, of die sneller was dalk ’n droom van die vorige nag, want ineens is Jakobus Jonker bý my, hélder voor my geestesoog. Verontrustend. Ek besef skielik dat Jakobus al ’n geruime tyd daar was, nét buite my onmiddellike bewussynsveld, as ’n soort polsende aanmaning, en dat die droom presies die sneller was om hom na my bewussyn te laat deurbreek. Ek onthou nie die detail van die droom nie, maar dit was nie aangenaam nie – een of ander konfrontasie, en dit het onopgelos gebly.

    *

    Op die radio sê die kenner, dis nie óf ’n asteroïed die aarde sal tref nie, dis wannéér. En hulle is nie meer so groot nie, gelukkig, die asteroïede, sê hy, soos byvoorbeeld die een wat die Vredefort-koepel veroorsaak het toe dit die aarde ongeveer twee miljard jaar gelede, tydens die Paleoproterosoïkum, getref het. Hierdie koepel, sê die man, is die grootste geverifieerde impakkrater op aarde. Die een wat nou op pad is, 361955 Amygdala, sal op ’n veilige afstand verby die aarde beweeg.

    Altyd iéts om voor dankbaar te wees, dink ek, in hierdie eindtye.

    Twee

    Dis Junie. Dis koud. Ek is op besoek by my dogter in ’n ander dorp. Maria-hulle se huis is koud. Ek lees in Anne Carson se bundel Plainwater dat die klein hotelletjie in Buergete van water gemaak is. Buite stroom die reën heelnag. In die geute dryf paddas en slakke. Carson sê hoe sy in die nag wakker lê en luister hoe die ure in reusedruppels afgemeet word. Die trappe is ’n akwaduk van uitroepe. Van onder hoor sy ’n man droom, sy hoor die gebrul van minnaars. Sy en haar metgesel vertrek die oggend sonder ontbyt, die hotel is nog donker, geen teken van lewe nie, geen reuk van koffie nie.

    Ek lees met verwondering van die reën, van die reusedruppels, slakke en paddas in die geute, want hier by ons het dit maande, jare laas behoorlik gereën. Ons word deur ’n langdurige droogte geteister, wat reeds kritieke afmetings begin aanneem. Ons word gewaarsku dat Dag Zero nou ’n werklikheid kan word. Dit is die dag waarop daar geen water meer in die krane sal wees nie.

    Anne Carson vertel dat Sokrates, nadat hy gebad het, sonder haas na sy sel teruggegaan en die gifbeker gedrink het. Die ander het gehuil. Swane het om hom geswem, sê Carson. Hy begin praat oor die naderende reis na ’n onbekende plek, ver weg van hulle trane, wat hy nie begryp nie. Soos Sokrates, sê sy, begryp haar metgesel nie waarom ’n reis vir ander mense ’n uitdaging vir die spiere van die hart is nie.

    Ek verbeel my ek gaan hier in ’n losieshuis tuis, maar dis nie ’n losieshuis nie, dis my dogter-hulle se huis. Ons kyk onder meer na singende gibbonape (langarmape) op televisie. Hulle lyk soos avant-garde performers.

    Ek vertel vir my dogter, Maria, toe ons die volgende middag in ’n kamer sit waarvan die blindings toegetrek is, dat ek en my ma een middag aan haar ronde tafel in die eetkamer in haar woonstel gesit het toe sy my vertel het dat sy vanaf die ouderdom van veertien deur hulle huisdokter gemolesteer is. Oor die tafel was die tafeldoek wat nou oor die tafel op ons stoep is, sê ek. Die televisie was daardie middag op die agtergrond aan in die sitkamer.

    Ek weet dat ons tee gedrink het, dat my ma skuins oorkant my gesit het, dat die klank van die televisie geleidelik vervaag het en dat dit doodstil geword het in die vertrek. So stil dat ek van my hartklop bewus geraak het. Ek weet dat dit vir my bitter ontstellend was om haar verhaal aan te hoor, maar ook dat dit vir my ma moeilik moes gewees het om dit vir my te vertel. Hoe skokkend ek dit ook al gevind het, was dit vir my vreemd dat dit my tog nie heeltemal verras het nie, maar dat dit ’n vermoede bevestig het wat ek lank reeds moes gehad het, naamlik dat iets van dié aard met haar gebeur het.

    My dogter wil meer weet, maar ek hou nie daarvan om hieroor te praat nie. Hoewel kinders moet weet waar hulle vandaan kom. Hulle moet weet van die droefnis en trauma van hulle voorgeslagte.

    Later die week drink ek een middag tee by Alfred (vroeër ’n kollega van my eksman), wat ook nou op die dorp woon. Hy en Maria is goed bevriend, sy ken hom trouens al van haar kindertyd af. Ons praat hieroor en daaroor, maar eintlik wil ek hom uitvra oor Jakobus Jonker, wat ’n gemeenskaplike vriend was.

    Drie

    Die volgende kêrels is online op WAYOO en wil graag chat. (WAYOO is ’n online chat en dating site.) Jimmy (soetskeel, maniese masturbeerder), profielfoto met bome op die agtergrond, bemoei hom met die beskerming van inheemse bosse en kweek orgideë. Fred, met die see agter hom (CEO van ’n groot in- en uitvoermaatskappy), het ’n drankprobleem. Manie, wat drie dae dood lyk (giminstrukteur), het attachment-probleme. Florencio, witgedaaide coiffe, het moeder-issues. Floris, met ’n onidentifiseerbare glashok agter hom (klere-aankoper vir Foschini), staan nie oop vir nuwe idees nie. Donald dra ’n breërandhoed met kartelrandjie (van vilt?), hoë bloeddruk, agterdogtig. Stoffel (sakeman; listig soos die houtjie van die galg) staan met sy arm geleun op die enjinkap van ’n motor, hy dra ’n geruite hemp. Rashaad (godsdiensmanie, vrouehater) het Tafelberg agter hom. Van Sarel is daar ’n binnenshuise foto: agter hom ’n gordyn met elaboraat gedrapeerde gordynkap (’n vertrek wat my aan een van Kerry James Marshall se interieurs herinner), tot die dood toe pligsgetrou, kleurblind. Alex, in geruite hemp, nie onaansienlik nie, glimlag breed (makelaar), neurotiese ontvanklikheid vir negatiewe gedagtes. Bevin, met hoodie en donkerbril, se foto vul die hele sirkeltjie, geen agtergrondinligting nie (Mafia-konneksies). Ollie is ’n boer (vaderhater), daar is falliese graansuiers op die agtergrond in sy profielfoto, en hy staan met sy hand op ’n bul se flank. En dan is daar natuurlik Jasper met die oranje glimlaggie (te vroeg gespeen, soos my pa sou gesê het), besit sy eie groothandelkleresaak. Ek het lanklaas iets van Amos gehoor, met sy blink sintetiese pienk hemp. Hy was so oud, hy’s dalk intussen dood. Almal mans wat van die waters sterf omdat hulle net na wormwood (alsemkruid, absint) hunker? Soos Anne Carson van sommige mans beweer, en sy weet alles van alles, alles van pelgrims, en brood, en verstrengeling, en water. En boetedoening, natuurlik, wat die pelgrim so na aan die hart lê.

    Elkeen het ’n ander storie, maar dit kom op dieselfde neer: hulle wil kontak maak, hulle is emosioneel behoeftig, hulle wil iemand hê om hulle bed en afwykende fantasieë mee te deel.

    *

    Hulle is almal altyd fun-loving, saggeaard, romanties. Lief vir die natuur en wil graag die vrou in hulle lewe bederf. Wat alles onsin is, want hulle is deur die bank vroueslaners, natuurverwoesters, rokers, drinkers, ontugtiges, met geen romantiese haar op die hoof nie.

    Daar is natuurlik uitsonderings. Soos Jasper met die oranje glimlaggie. ’n Sagte, empatiese siel, as ek ooit een teëgekom het. Maar ongelukkig nie ’n flonkerende chat-genoot nie. Duidelik so ’n diepgesnaarde man. Maar ongelukkig het hy net nie die vermoë om hierdie diepgesnaardheid uit te druk nie. En Ollie met sy hand op die bul se flank lyk ook na ’n integere siel, hoewel geteister. Hulle is almal geteister, dis dié dat hulle hulle op die chat site begewe, tastend en soekend, sonder dat hulle weet waarna hulle versugtinge is.

    Vier

    Toe hy die oggend wakker word, sê Boedie, moenie kyk nie. Hy druk sy oë weer styf toe. Ná ’n rukkie loer hy. In die een hoek sit GOG, in die ander hoek sit MAGOG. Sing, sê Boedie, hulle hou nie daarvan nie, hulle druk hulle ore toe. Sing die halleluja en die heerlikheid. Staan op, sê Boedie, maak of jy hulle nie sien nie. Trek jou broek aan, trek jou hemp aan, trek jou skoene aan, trek jou baadjie aan, sit jou keps op. Stamp met jou voete. CRASH, BANG. Sê dankie Antie vir die tee. Sê dankie Antie vir die brood. Dankie Antie. Sê dankie heerjesus amen. AMEN. Loop, sê Boedie. Die pad is lank. Om die hoek, verby uncle SeptemberOktober, verby die vrou se huis. Agter sy kop hoor hy die gezoem. Boedie sê moenie luister nie. Dis die SLEUTEL van die AFGROND. Dis die ou SLANG en sy buddies. Die dier met sewe koppe blaas in sy nek. Kyk voor jou, sê Boedie, niemand sal jou met vuur skroei nie. Sing die halleluja en die heerlikheid. Daar is voëls in die lug. Hulle skree hard. Later stap hy terug. Weer met die lang pad langs. Verby die groen huis waar hulle bly. ’n Man staan op die hoek, Boedie sê, moenie kyk nie. Hy’t onder sy hoed, hy’t in sy sy, hy wys met sy vinger, kóm, sê hy, vóél, sê hy, hiér, sê hy. Sing die halleluja en die heerlikheid, sê Boedie. Daar is wolke in die lug. Daar is wolke BO waar Mammy bly. Sy’t opgegaan, sê Boedie. Sy’s gekap en toe het sy opgegaan. Sy bly nou daar. Sy bly BO en sy bly onder, in die GAT. Robyn het so geskree hy moes sy ore toedruk. Toe het almal uit hulle gate gespring en hy het baie gehuil.

    Vyf

    Later, nog baie later, hy ken nie die dae nie. In die oggend staan hy op. Hy maak altyd sy oë oop in die oggend en dan staan hy op. Boedie sê, trek aan jou klere. Eet jou brood wat Antie vir jou neergesit het. Drink jou tee. Sê dankie Antie. Dankie Antie, sê hy. Was jou gesig. Nou moet jy uitgaan, sê Boedie, mens sit nie heeldag in jou kamer nie. Jy loop en jy sing. Jy sing die halleluja en die heerlikheid. Boedie sê jy loop net, jy moenie regs kyk nie, jy moenie links kyk nie. Jy moet voor jou kyk. Jy moenie kyk as die ou SLANG en sy buddies met jou praat nie. Druk jou ore toe. Hulle fluit en sis en wink en sê, kom, kom, kom saam met ons. Moenie, sê Boedie, moenie kyk nie. Hulle wil hê jy moet saam met hulle na die GATE gaan. Die gate is waar die miere woon. Die gate is die huis van die vaders. Die gate is waar Derra woon. Die gate is waar Mammy woon. Hulle woon saam met die miere. Moenie dink aan die gate nie, sê Boedie. Sing hárd as jy wil dink aan die gate. Sing Gee vreugde op die FEES. Sing van U wonderDADE. Sing Lam van God. Sing Op Golgota gekruisig. Gekruisig is sleg, sleg, sleg. Dis die slegste wat daar is. Die ou SLANG en sy buddies het dit gedoen. Dis hulle wat oral langs die pad sit. Sing Ons verlossingsDADE. Sing GENADE. Hulle wink en spoeg en lag saggies. So saggies hy moet sy hande oor sy ore druk. Sing LAM, LAM, LAM van God. Moenie bang wees nie, sê Boedie. Moenie huil nie, sê Boedie. Vee af jou trane. Sing ’n Vaste rots GEVIND.

    Ses

    Hulle sis en spoeg en fluister. Sing, sê Boedie, moenie luister nie. Druk toe jou ore, sê Boedie. Sing Wat in die donker WANKEL. Sing Swakke dank en SMEEKgebede, u skepperHAND. Sing Sing alwatleef met BLYEklank. Sing Met elkegunsBETONING. O hemelvader. Sing Ons DORRE land deurdrenk. Druk jou ore toe, kyk voor jou in die pad, moenie luister nie, moenie kyk nie, dis die OWERSTE van die owerstes en sy buddies, dis hulle. Wat staan en lag en SIS. Hulle sê, kom kom. Kom KOM ons spring in die GATE.

    Sewe

    Toe droom hy. Iets wat uit die hemel in ’n groot warrelwind neerdaal. Dit was amper soos Esegiël in die Bybel se vurige wa, maar dit was glad, en blink, en ellipsvormig. Daar was stilte én daar was ruisende stemme, soos ’n koor, byna soos ’n jubelkoor maar ook nie heeltemal nie, en uit die koor het die stem weer vir hom gesê hy moet homself begin gereedmaak. Hy moet begrawe en verbrand. Hy moet alles wat órig en oorbódig is van hom wegwerp. Toe hy wakker word, was sy wange nat van die trane van blydskap. Hy was diep verheug, want hy het lank hiervoor gewag. Toe het hy gemaak soos die stem in die droom hom aangesê het om te maak. Hy het sy pille gaan begrawe. Hy weet dat hy dit nooit meer sal nodig hê nie. Hy het Mammie se portret, en Pappie se portret, en sy liewe Elise se portret (hy’s nog lief vir haar, al het sy soos ’n sleg hond weggedros), en al sy papiere, alles, op ’n hoop gegooi en aan die brand gesteek en daar gesit totdat alles as geword het. Want die ander uitverkorenes sal nou sy nuwe familie wees, en hy weet nou vir seker hy is naamlik uitverkore. Selfs sy Bybel, het die stem gesê, moet hy begrawe. Dit was moeilik, maar dit was die opdrag. Dis nie dat hulle die Bybel minag nie, weet hy, dis net dat alles nou volbring is.

    Agt

    Toe het hy ’n tweede droom. Daar was ’n tuig. Dit was groot en ellipties, soos in die eerste droom, maar veel groter, en blinker, so blink, dit het so geblink in die son dat dit sy oë seergemaak het. Dit het reg bo hom in die lug gehang. Hierdie keer was daar nie stemme nie, net stilte. En miskien ’n sagte, byna onhoorbare geruis, soos van bloekomblare in die wind. Dit het ’n rukkie in die lug bly hang voor dit weg is. Toe hy wakker word, dit was vroeg in die oggend, het hy in die veld uitgegaan. Dit was dieselfde veld as in die droom, want daar was die ry bloekombome aan die einde daarvan. Dit is waar hy sy pille en die Bybel gaan begrawe het, soos die stem in die vorige droom hom aangesê het om te doen. Toe was hy vir die eerste keer in maande rustig, want hy het nou vir seker geweet, meer as óóit, dat hy gekies is, dat hy een van die uitverkorenes is. En ook omdat hy geweet het dit gaan gebeur, dit gaan oplaas gebeur. Nou moet hy net geduldig wees. Toe kon hy Pappie se teleskoop die aand instel en dit rig op die noordelike horison. Spica, Arcturus, Antares, Vega en Altair was almal prominent.

    *

    Die Melkweg was byna op die meridiaan. Hy het die teleskoop gerig en gerig totdat hy dit gesien het, die asteroïed waarvan hulle op die radio gepraat het. Dit was ’n duidelike teken dat hulle op pad was, en dat dit nou nie meer te lank sou duur nie. Die asteroïed was ’n voorloper, byna soos Johannes die Doper, hy het dit so begryp, want daarop was kameras versteek wat inligting aan die tuig, wat agterna kom, moes verskaf.

    Nege

    Ek het Anne Carson se boek Plainwater tydens ’n besoek by Maria begin lees. Dit is veral die vyfde afdeling wat my interesseer: The Anthropology of Water. Die onderafdeling Kinds of Water is ’n opstel oor die pad na Compostela. Maar benewens die watermotief daarin, so pertinent in hierdie waterskaarsige tyd, is dit die pelgrimmotief wat my my ore laat spits. Ek is vasgegryp, bekoor deur die frase: ‘So I set off, into the late spring wind blasting with its green states.’ Dit lyk my so gepas vir die manier waarop ’n mens, waarop ek, op ’n dag in die wêreld uitgaan, as ’t ware ’n reis begin, nadat jy jou hele kindertyd in die beskerming van jou ouerhuis deurgebring het. Voorts kan ek identifiseer daarmee dat sy haarself beskryf as ’n jong, suinige persoon van geen bepaalde geslag nie – alles voordelige eienskappe vir ’n pelgrim, sê sy. So is sy dan vort in die laatlentewind, loeiend met sy groen omstandigheid.

    Carson onderneem die staptog met ’n metgesel, na wie sy as My Cid verwys. Hulle begin in die dorp Saint-Jean-Pied-de-Port, waar daar in die nag ’n donderstorm is, en ’n waterval onder haar hotelvenster, aan die voet waarvan sy dink sy ’n verdrinkte hond sien. Op donker oggende in Navarre, skryf sy, byt die wit wolke soos tande in die veraf heuwels. Die pad self is in die oudheid deur pelgrims gebou terwyl hulle gestap het. Elke pelgrim het ’n klip gedra en dit versigtig neergesit. Soms het hulle hulle verbeel die klippe is brode. Die honger van ’n pelgrim, skryf Carson, is iets vreemds. (In Mpumalanga is daar ’n dorp met die naam Pelgrimsrus – waarvan twee derdes van die sakeondernemings hulle deure gesluit het, het ek onlangs gelees. Op skool het ons soggens in die skoolsaal gesing ‘Waarheen pelgrims, waarheen gaan u, hoog om hoog en hand aan hand’.)

    Op pad na Nájera vra sy (nadat hulle die oggend bloedlemoene gekoop en vinnig geëet het) of daar twee maniere is om die wêreld te ken, soos wat daar twee maniere is om die wêreld te beskryf – ’n ootmoedige (submissive) en ’n verorberende (devouring) manier. Albei bring jou min of meer op dieselfde plek uit, sê sy. (Simon behoort gewis tot laasgenoemde kategorie. Jy kan maar sê hy is ’n verorberaar. Hy beweeg gretig en optimisties vorentoe en spoeg die kaf, die doppe, die vrughulsels uit. Behou net die voedsame kern. Hy is ’n waardevolle bondgenoot om aan jou sy te hê.)

    In hierdie tyd van waterskaarste en -gebrek is ek ekstra ontvanklik vir Carson se waterbeelde. Jy kan maar sê dat dit ’n vorm van waterdors by my les. Die konings van Navarre, sê sy, begrawe in die harde heuwels van die meseta, is lank van ledemaat, en lê koel soos waterplante in hulle grafte. Die dromerige glimlag van haar metgesel, sê sy, dryf op na sy gesig soos water wat ’n akwarium vul wanneer hy oor God praat. Wanneer hy groot hoeveelhede wyn met hulle maaltye drink, sê sy, raak hy swaarder en swaarder, soos ’n stuk brood wat week, of ’n vis.

    En dan vra sy, wie is hierdie man? Hoe meer sy hom dophou, hoe minder weet sy.

    Wie is die man, wonder ek, wat mý bed deel – oordag so lig, maar slapend snags so swaar soos ’n klip. (’n Klip, nie ’n vis nie – daar heers ’n droogte by ons.) En dan word hy soggens wakker, met geen herinnering aan hoe loodreg hy pas die diepte gepeil het nie. (Sy kop nog aan sy lyf geheg, anders as dié van Nat Turner se meester.) Ek kyk oordag in sy oë en ek het nie die geringste idee nie. Ek kyk na sy kaal ledemate voor hy in die bed klim en ek het nie ’n idee nie.

    Ek hou van die idee van oker, amber en rooi. Ek hou meer daarvan as van groen, of blou. Daar is terracottapotte op my balkon in verskillende skakerings van rou siënna, oker siënna. ’n Hele paar van die vetplante in hierdie potte is rooi, of rooipers, of persgroen, of ’n terre verte-groen (blougryserig). Net twee van die plantjies is suurgroen. Wanneer jy skryf, dink ek, selfs wanneer jy jou soos ek besig hou met die skryf van prullige romans, moet jy diép boor om by iets verrassends uit te kom, om iets verrassends raak te boor. Die oppervlak is bar en klipperig, daar gaan niks aan nie. Moenie te gou ophou nie, het die vader van die verteller in die trilogie Your Face Tomorrow vir hom gesê as kind. Die vader het die kind altyd gedruk om verder te gaan: Ja, en wat nog meer? het hy gevra.

    Wanneer ek aan God dink, wil ek Hom dinge vra, soos: Help my om diep onderwater te duik soos die vroue in die Ooste wat vir pêrels duik.

    *

    Uit die klein hotelletjie in Buergete waar die water heelnag gestroom het, praat Anne Carson vanoggend direk met my. Ek slaan my oë op na my berg, onsigbaar in die mis. Yl, ysige lentereëns sif kortstondig neer maar bring geen verligting vir die droogte nie. Die Theewaterskloofdam lyk soos ’n landskap van verwoesting: ’n droë pan met die geraamtes van dooie bome.

    *

    Op die meseta is die grond nie meer rooi nie, sê Carson, maar wit, of grys, die kleur van puimsteen. Ek en Jasmien het met ’n bus van Madrid na Barcelona en terug gereis. Op die terugweg het ek my kop na regs gedraai gehou en gemerk dat die grond pienkwit is. Dit was ’n uitsonderlike reis wat ons onderneem het, gekenmerk deur sowel opwinding as ongerief en onbehae. Jasmien het daarvan gehou om saans in ’n kroeg bier te drink en te rook; sy het tyd op haar eie nodig gehad om te dink. Sy het veel te sê gehad oor minnaars; Jasmien is, kan jy maar sê, ’n fynproewer op die gebied van minnaars. Sy sou met Anne Carson in gesprek kon tree oor die aard van die gesprekke van minnaars – of hierdie gesprekke, byvoorbeeld, soos brood teenoor klippe is, vergeleke met gewone gesprekke, volgens Carson. (Jasmien is ook iemand wat nie sal skroom om plofstof in haar agterkamer te vervaardig nie, sou dit daarop aankom.) Maria, my dogter, vir wie ek van haar grootmoeder se leed (emosionele trauma) vertel het, omdat kinders moet weet van die lewens van hulle voorgeslagte (voorouers), het ons in Barcelona ontmoet. Teen die tyd dat ek en Jasmien uit Madrid by die hotelletjie aangekom het, laatmiddag, of vroegaand, was Maria se kussing reeds natgehuil. Sy het haar rugsak op die bus vergeet; daarbenewens het sy eksistensiële angs gehad.

    *

    Sy is sonder twyfel ’n uitgehongerde mens, sê Carson. In Burgos is die grond die kleur van puimsteen en die bome soos gebalde vuiste in ’n skildery van Goya, sê sy. (Hoe verbysterend was Goya se skildery van die hond in die Prado – ’n hoogtepunt in my en Jasmien se reis.) Van daar stap hulle na Castrogeriz, dan na Frómista en van daar na Carrión de los Condes. Ek soek al hierdie plekke op in my atlas, sodat ek haar in die verbeelding kan volg, my oë dromerig op skrefies – sy en die metgesel, twee piepklein (woedende) figuurtjies op daardie windverwaaide plato.

    My berg is vanoggend diep van kleur, op die oog af klam (oogverblindery), met lae wolke bo-op. Groene in die middelgrond.

    *

    Anne Carson sê sy was ’n geslote persoon. Sy het die muur getref. Iets moes breek. Sy het gebid en gevas. Sy het die mistici gelees. Sy het die martelare bestudeer. Sy het begin dink sy is iemand wat na God dors.

    Ek was ook ’n jong, suinige persoon toe ’n regisseur by my ouerhuis opgedaag het. My ma het vir hom die deur oopgemaak. Sy was ’n oomblik lank onkant gevang deur sy voorkoms. Jy lyk nés jou foto’s, het sy verbouereerd gesê. Ons het later hieroor gelag. Ek en die man is weg in sy klein sportmotortjie. Eers het ons gaan eet. Rooivleis (bloederig) en swaar rooiwyn. Toe het ons na sy huis gegaan. Ek weet nie waar sy vrou was nie. Iewers op reis, in ’n ander provinsie. Daar was probleme. Hy het verduidelik. Dit kon my nie skeel nie. Ons het na Beethoven geluister, die strykkwartette, maar veral na die Tripelkonzert. Hy’t vertel van die drama waarvan hy die regie moes doen. Daar was probleme. Ons het Kleine Kleines gedrink – ’n mengsel van bier en brandewyn. Hy het nog meer gepraat oor hierdie drama. Hy’t elkeen van die tonele aan my uitgelê. Sy stem het gebewe. Hy’t vertel van die probleme met streeksrade en sensuur en die noodlot. Hy’t oor sy vrou gepraat. Hy het simpatie met haar gehad, maar sy het dit vir hom moeilik gemaak. Ons het steeds na Beethoven geluister. Ons het nog rooiwyn gedrink. Ons het tussen die koue lakens van hulle huweliksbed ingeklim. Dit moes winter gewees het. Die kamer was skemerig en koud. Daar was geen versagtende bedlampie nie. Die enigste lig in die kamer het van buite deur die gordyn gefilter. Niks kon my skeel nie, ek het my alles laat welgeval. My blik was op iets anders, iets onbepaalds, gerig. Ek was sowel teenwoordig as afwesig. Hy het my later huis toe geneem.

    Soos Anne Carson was ek ’n jong, suinige persoon, ook van geen bepaalde geslag nie, maar anders as sy, met ’n aptyt vir rooivleis en swaar wyn. En, soos sy, ook ’n uitgehongerde mens, met ’n onbepaalde honger. Ek het my dagboeke uit dié tyd reeds lank gelede verbrand.

    *

    Pelgrims, sê Anne Carson, was mense wat bly was om hulle brandende klere aan te trek. (Heelparty van die onderafdelings eindig met so ’n definisie van wat ’n pelgrim is.) Deur die heuwels van Sahagún, Burgos en Mansilla de las Mulas beweeg hulle, waar alles goud en die horison ’n pyniging vir die oog is. Hoe sag, daarenteen, die mistige buitelyn van my berg vanoggend. Ons het ‘Waarheen pelgrims’ gesing in die skoolsaaltjie. Op die vraag waarheen hulle hand aan hand op pad is, weet ek nie wat die pelgrims geantwoord het nie, want ek kan nie die woorde van die res van die lied onthou nie. Iets van oor berge en oor dale. Die skoolsaal se dubbeldeure na buite was van geriffelde glas. Uit hierdie saal het ’n deur gelei na die klaskamers, en ’n gang na die hoof en die sekretaresse se kantore. Ons het in daardie saaltjie soggens hallelujaliedjies gesing, en soms na natuurfilmpies gekyk. Daar was nie stoele nie, ons het gestaan en sing, en op die vloer gesit wanneer ons na die filmpies gekyk het. Verwarring, onsekerheid, vrees, selfs ellende, dít, en meer, is ons daagliks toebedeel. Dit het tot in die vesel, harige draad en spierweefsel gedring van die veselperskes en vis wat ons pouses gekry het. (Dit was

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1