Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Hartstories van ons land se boere
Hartstories van ons land se boere
Hartstories van ons land se boere
Ebook205 pages5 hours

Hartstories van ons land se boere

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Terwyl die gronddebat woed, stel dié boek ons voor aan die landbouers wat die kos verbou waarvan Suid-Afrika leef. Ivor Price en Kobus Louwrens gee ons 'n intieme blik in die daaglikse plaaslewe en uiteenlopende boere se belewenisse en stories. Of dit nou reuse agribesighede is, of klein maar geliefde plasies wat met passie bewerk word, elke boerdery is uniek en elke boer het 'n storie. 'n Inspirerende ode aan ons landbouers. 
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 16, 2021
ISBN9780624092254
Hartstories van ons land se boere
Author

Ivor Price

Ivor Price is veral bekend vir sy rol by RSG se gewilde nuusprogram Monitor en as aanbieder vir SAUK nuus. Sy ander loopbaanhoogtepunte sluit in tyd in Londen as ’n buitelandse korrespondent vir Media24 en sy werk as joernalistiek-opleier vir die Wêreldkoerantvereniging. Hy is aanbieder van die VIA-program "Vir die liefde van die land".

Related to Hartstories van ons land se boere

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Hartstories van ons land se boere

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Hartstories van ons land se boere - Ivor Price

    9780624089810_FC

    Saamgestel deur

    Ivor Price & Kobus Louwrens

    Tafelberg

    To knock on doors of our ancestors

    We died in militant silence

    We are true battalions

    And we … have been one with this land

    — ‘We Have Been Here Before’, Napo Masheane

    VOORWOORD

    i. ’n Nuwe verhaal vir die landbou

    Koos Janse van Rensburg, besturende direkteur VKB-Groep

    Landbou is die een bedryf waarin ons almal ’n belang het. Ons is almal deel van die landbouwaardeketting. Vir Suid-Afrika se mense voorsien dit in sommige van ons mees basiese behoeftes. Ons kan nie oorleef of floreer sonder die voedsel en vesels wat die produkte van ons landbou is nie.

    VKB het onlangs sy eeufees gevier. Ons is besonder trots daarop dat die maatskappy nie net oorleef het nie, maar ook vooruitgegaan het danksy die steun van boere en die harde werk van sy werknemers. Om boere te dien, is die rede vir ons bestaan. In sy meer as 100 bestaansjare het VKB ongetwyfeld die mees gediversifiseerde landbou-onderneming in Suid-Afrika geword. Ons is die trotsste op die verskil wat ons elke dag in die gebiede maak waar ons bedrywighede het. Daar ploeg ons bronne terug in die landelike gemeenskappe wat op ons staatmaak en in die plaaslike ekonomie.

    Die landbousektor is erg gepolitiseer en daar is genoeg redes voor. Die ongelyke verdeling van hulpbronne is seker een van die grootstes. Ek glo die bedryf sal ’n oplossing vir die probleem kry en intussen sal ons daarop fokus om in die behoeftes van die landbouwaardeketting te voorsien.

    Ek glo ook dat ons almal ’n rol moet speel in die soeke na maniere om groter gelykheid in die bedryf te bewerkstellig. Dít terwyl ons internasionaal mededingend bly ter wille van ons land se voedselsekerheid.

    Dit is waarom Food for Mzansi en sy verwante projekte, wat hierdie boek insluit, so ’n mooi inisiatief is. Dit sê: Kom ons haal die politiek uit en kyk wat elke dag op grondvlak gebeur. Kom ons skep ’n gemeenskaplike ruimte en nooi almal in sodat hulle kan praat en gehoor kan word sonder veroordeling. Kom ons wys mekaar hoe.

    Die stories in hierdie boek is so ’n geleentheid om stemme te hoor waarmee ons dalk nie andersins te doen sou hê nie. Om te leer uit ander mense se ervarings en om ons eie verstaan van ons land en ons medemens te verbeter.

    VKB kyk vorentoe na ons volgende 100 jaar. Ons ondersteun hierdie poging, nie net vir almal wat die landbou liefhet nie, maar om te bepaal hoe ons ’n beter Suid-Afrika kan bou. Saam. Vir die liefde van die land.

    ii. ‘Die enigste goeie boer is ’n dooie boer’

    Ivor Price, Mankazanavallei

    As ek nou terugkyk, is dit die teekoppies se aanhoudende geklingel wat my byna tot breekpunt gedryf het. Ek het my ingehou toe die boervrou, ’n ses voet lange wese, na die vroue verwys het as haar dames so terwyl hulle skink en varsgebakte skons aandra.

    Ons het pas aangekom op die plaas teen die voetheuwels van die Groot Winterberg in die Oos-Kaap. Dit was ’n lang en moeilike trek. Riviere en passe is oorgesteek om die afgeleë bestemming te bereik. Ons wou die geselsies, wat maar altyd so half ’n vereiste is, vinnig afhandel en kamers toe gaan. Die dames het blykbaar al elf dae tevore met die regkry van die kamers begin.

    Ons is nooit amptelik aan enige van die huis se personeel voorgestel nie. Ek het later uitgevind die kok is Khunjulwa; haar naam beteken die een wat jy sal onthou. Die boer se vrou noem haar sommer Meisie.

    Twee van die dames het ons met flou glimlagte bedien; teekoppie in die linkerhand vra hulle ons elkeen of ons die tee met melk, suiker of suurlemoen verkies. Die son is duidelik lief vir die kontoere van hul donker vel wat kan getuig van die baie gevegte wat hulle in hierdie ruwe berge gevoer en gewen het.

    Die boer, ’n lieflike kêrel wie se familie in die 1860’s die eerste keer in die Mankazanavallei aangekom het, wou ons gou die plaas wys. Soos ’n mens kan verstaan, was hy op sy senuwees oor sy eerste verskyning op televisie en wou hy seker wees dat ons die ware siel van sy koninkryk vasvang.

    Sy vrou – voorheen ’n stadsmeisie – moes sorg dat daar mooi na ons omgesien word. Haar hande was sag, het ek met die groetslag opgemerk. Ons het wyd gereis en teen dié tyd al baie hande gevoel wat die grond met mening bewerk het. Iets aan die teerheid van haar hande dui vir my daarop dat sy nog nooit aan grond, vars omgedolwe, gevat het nie. Tot nou toe het al die hande barste en eelte gehad, meestal omdat hulle ’n leeftyd al boer en so waak oor die grond.

    Die boer vertel ons dat sy voorouers oorspronklik wamakers was en transport gery het. Die meeste van sy werkers het in die bergagtige gebied naby die dorpie Adelaide grootgeword. Oorspronklik was hulle jagter-versamelaars, geleidelike veroweraars van die wildparadys wat hulle ekhaya, huis, noem.

    Ons tel vier dames terwyl ons tee drink, maar ek is redelik seker daar was minstens vyf fluisterstemme in verskillende dele van die huis. Een van die dames het deur die sitkamer geskarrel om die badkamer te gaan verfris toe die kinders terug van die skool af is. Die res het almal voorbereidings vir aandete getref. Met die dek van die tafel is silwerware minstens twee keer laat val.

    Beesstertbredie, dink ek, terwyl die boer fyn besonderhede deel oor ’n dam wat in die vroeë 1900’s gebou is om water vir die besproeiing van landerye te verseker. Die dames was beslis besig met ’n ryk, souserige beesstertbredie wat die huis met heerlike geure vul.

    *

    Om eerlik te wees, ek kan nie wag dat die toer tot ’n einde kom nie. Die lang dae van verfilming raak te veel vir my en ek dra al hoe swaarder aan ’n familiegeheim wat dreig om die sluier tussen my en die landbougemeenskap te lig.

    Ek rol rond, ril sommer, en stoei elke paar minute met ’n klomp vrae wat my gedagtes oorheers. Hoekom is ek hier? Waarom het ek ingestem om hierdie TV-projek te doen waarmee ek die suksesverhale van meestal wit boere vertel? Duidelik kan jy hulle nie vertrou nie.

    Hulle. Dit tref my dat ek vir die eerste keer in my lewe na ’n ras as ’n homogene groep verwys. Asof hulle ’n beesras is wat jy volgens sekere eienskappe kan definieer.

    Die meeste boere wat ons as deel van die projek besoek, is baie gasvry. Hulle is in die besonder verwelkomend teenoor my as buitestander, maar 26 jaar later stoei ek steeds met my oupa se stem in my kop.

    Vanaand het iets in haar stemtoon – dis nou die boer se vrou s’n – ’n waarskuwing uit my kinderdae laat opklink. Iets wat my oupa daardie tyd met ons gedeel het. Die vorige week, terwyl ons op ’n ander plek verfilm het, was dit ’n boer se wenkbrou – hoe hy dit veragtelik optrek wanneer hy met sy werkers praat – wat my dieselfde gevoel gegee het. Dalk het ek my net verbeel. Al is my oupa al jare dood, sien ek hom orals. Ek dink ook aan hom, al wens ek dit was moontlik om hom uit te doof.

    My oorlede oupa, ’n kerkman, het sy vinger baie soos die Groot Krokodil, P.W. Botha, geswaai. Botha was dalk die laaste regte president van die wit minderheid, maar my oupa het selfs nog minder van F.W. de Klerk gehou. Een aand het hy amper op die televisie begin vloek, met bakhande het hy gekeer dat die woorde by sy mond uitborrel.

    Dit was 17 Maart 1992. Ons het in die voorkamer saam met my ouers, broers, susters en grootouers gesit. Van kleins af het ons geweet: As Oupa kom kuier, mag niemand praat terwyl die Afrikaanse televisienuus aan die gang is nie. Dit was sy daaglikse evangelie in ’n tyd van politieke onstuimigheid. Ek was effens bang vir hom wanneer hy nuus kyk. Ouma ook.

    Ek kan nie onthou dat ek my oupa ooit gekruide taal hoor gebruik het nie, maar ek was baie bewus daarvan dat hy oor alle familie- en politieke sake die finale sê gehad het. Almal het hom gevrees. Vir sy woede was hulle bang, want hy het soos swaar donderweer gebrul en hy was bekend daarvoor dat hy ’n wrok lank kon koester.

    Ek was hopeloos te jonk om die omvang van die oomblik te besef, maar die man waarna my oupa met bitterheid as die Wit Messias verwys het, het die uitslag van ’n referendum bekend gemaak. Dit sou Suid-Afrika op die pad na demokrasie en vrede sit. Die referendum was net vir wittes – ’n poging om wit steun te bepaal vir ’n proses wat apartheid uiteindelik moes aftakel.

    Dit was ’n groot waagstuk vir De Klerk en die Nasionale Party, maar nadat ons die televisie afgeskakel het, het my oupa ons gewaarsku om nooit ’n wit man se beweegredes te vertrou nie. Hy het geglo dat elke liewe een van hulle rassiste was; dat hul bene vrot van die meerderwaardigheid was. Maar my oupa het nie van hulle as wit gepraat nie. Hy het hulle boere genoem. Boere. In daardie stadium het ek nie eens die verskil verstaan nie. Maar my oupa se vasbeslotenheid dat die enigste goeie boer ’n dooie boer is, het soos ’n skaduwee aan my gekleef toe hy uiteindelik saam met my ouma daar weg is.

    *

    Die volgende dag, ná ’n lang dag se opnames in die berg se koue winde, kom ons terug by ons kamers op die plaas. My kameraspan bly saam met ons gashere in die huis, maar ek is gelukkig genoeg om buite in ’n kothuis, onlangs geverf, te bly.

    Die dames moes die olieverwarmer en elektriese kombers al vroeër die dag aangeskakel het, want toe ek daar aankom, was my kamer en die bed heerlik warm. Ek het omtrent ’n halfuur om te ontspan en reg te maak vir aandete in die hoofhuis en koppel my foon gou aan die pieperige WiFi. Dit is toe dat ek die gedempte klanke van ’n hewige rusie in die kombuis langsaan hoor.

    Wel, ek kon nie regtig die antwoorde van die kombuispersoneel hoor nie, maar dit was duidelik dat die boer se vrou erg ontsteld was oor wat sy een groot gemors genoem het. O Here, ek hoop nie sy kry ’n oorval nie. Sy het nogal bleek gelyk toe ons en haar man hier aangekom het.

    Dinge bedaar nadat Khunjulwa belowe om dit wat die vrou ontstel het, gou reg te stel. Sy spreek haar as Mevrou aan. Blykbaar is dit hoe dit nog op baie plase gedoen word. ’n Teken van respek, die boer se vrou is Mevrou of Madam en haar man is dikwels Baas, Kleinbaas of Meneer. Baie van die jonger boere dring egter deesdae daarop aan dat die werkers hulle op die voornaam noem.

    Ná aandete verdwyn die dames en die res van ons gaan sit om die vuur en kyk hoe die flikkerende vlamme die stompe tot as lek. Die boer is pê, maar sy vrou is gretig om in fyn besonderhede te hoor oor die dag se filmmakery.

    Teen die tyd dat haar whiskey ingeskop het, vra sy ongemaklik of ons vroeër die bohaai in die kombuis gehoor het. Blykbaar het Khunjulwa, in die gejaag om alles perfek volgens Mevrou se instruksies betyds reg te hê, die risotto té al dente gemaak.

    Die boer se vrou sê sy verloor selde haar humeur, maar dit is nie altyd maklik om met ’n huis se personeel te werk nie. Daar is die verskriklike gedrink oor die naweek, wat gewoonlik ’n gesukkel op ’n Maandagoggend afgee. Sy kon ook nog nie die moed bymekaarskraap om vir enigiemand te sê hoe ’n tuinier, glo met die naam Jakob, onlangs sommige van die plante te veel water gegee het nie.

    Haar man het verleë gelyk toe hy ons glase vol maak en geskimp dat dit dalk slaaptyd is. Toe verklaar die boer se vrou opnuut haar liefde vir die dames sonder wie sy dit nooit in die boendoes sou kon oorleef nie.

    Ek is niks sonder my dames nie, sê sy en voel-voel na haar man.

    Eerder as om haar hand te vat, vee hy syne deur sy hare.

    *

    Dit is 15:20 en ons staan almal in gelid, desperaat dat dit moet ophou reën. Dit het vandag selfs erger gesous as die laaste paar dae. Ek en my TV-span loop nou, kop omlaag, deur ’n vreemde mengsel van modder, reën en beesmis. Ek dink nie ek kan enigsins slegter voel as nou nie. Almal is by moeg verby en ek kan aanvoel dat die boer met wie ons die onderhoud voer nou ook al gatvol is.

    Skielik, nes ons dit oorweeg om tou op te gooi, hou die reën op en die son steek kop uit. Toe ek in die beesmis gly, vat die boer my hand. Hy glimlag en terwyl hy my hand so vashou dat ek my balans herwin, fluister hy dat ek hom moet vertrou. Ek het nog nooit ’n wit man se hand vasgehou nie.

    Moenie bekommer nie, Boeta, sê hy.

    Hy noem my Boeta. Broer. Seun. Hy ignoreer die res van die span heeltemal waar hulle besig is om skote om ons op te stel. Ek herinner hom aan sy jongste seun, verduidelik hy. Die rebel wat al so lank na homself omsien dat hy nie meer daaraan gewoond is om voor gesorg te word nie. En om die reëls na te kom was beslis nie sy ding nie.

    Op ’n keer het hy vir sy seun ’n hoefyster as gelukbringer gegee. Ek moet hom herinner om vir my ook een te gee, sê die boer, maar ek moet belowe dat ek dit met die punte boontoe sal ophang. As die punte na die grond wys, kan my geluk dalk net uitval.

    Toe, in ’n weerlose oomblik, vertel ek hom van my oupa en die familiegeheim. Ek het hom op die naam genoem en sy titel vooraan gesit. Eerwaarde Arthur John Gordon. Hy was ses voet lank, met ’n tong so skerp soos ’n weerligstraal. ’n Man wat nooit êrens heen is sonder ’n kopie van die Vryheidsmanifes, die 1983-vertaling van die Bybel en ’n pakkie Rembrandt van Rijn-sigarette by hom nie.

    Sjt, sê die boer. Hy is jou oupa.

    1.

    Herinneringe aan my oorlede vader

    Pieter Prinsloo, Queenstown

    IVOR PRICE

    Jare lank het ek die gewig van my pa aan my gevoel. Ek het hom in my siel saamgedra. By tye wou ek hom aan die skouers vat en skud, hom beskuldig, maar meestal wou ek hom vashou en sy pyn met myne laat saamsmelt.

    Dit is sy skuld dat ek ’n tandarts is, in Kimberley, meer as 500 km van ons familieplaas op Queenstown. Hy het summier geweier dat ek by die boerdery betrokke raak. Die Prinsloo-nalatenskap, so het hy my laat verstaan, sou in gedrang wees met my op die plaas.

    As ek nou terugkyk, was dit die grootste guns wat iemand my kon bewys. Maar vir lank het dit gevoel of ek net nie goed genoeg vir hom was nie; dat ek my drome van ’n plaaslewe opsy moes skuif omdat hy my geweeg en te lig bevind het.

    Tog het ek my deel gedoen. As tiener het ek in die onstuimige 1980’s die eerste keer geboer – op Pelgrimsrus en Arends Krans, twee van ons plase aan die oewer van die Swartkeirivier. Dit was my taak om net ná sonsopkoms op ’n Saterdag die werkers met my bakkie te gaan oplaai. Hulle moes dan die beeste byeenjaag. As kind het my pa my

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1