Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Sondag op 'n voëlplaas
Sondag op 'n voëlplaas
Sondag op 'n voëlplaas
Ebook312 pages7 hours

Sondag op 'n voëlplaas

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hy wou wegkom. Kleintyd al.

Weg van daardie volstruisplaas waarop hy grootgeword het. Weg van al die boersheid en kleindorpse benepenheid. Weg van ’n pa wat dreig om hom vas te spyker aan ’n stuk dorre aarde sodat hy dit nooit kan verlaat nie. Weg van daai voëls!

En hy hét ook weggekom. Vir goed.

Maar . . .

Wat?

Hy kan nie presies sê nie, maar dis asof ’n reuse-golf hom op ’n dag tref – absoluut uit die bloute – en toe hy daarna om asem lê en spartel, is dit asof hy vanuit die yskoue dieptes opkom na die helder wete dat hy moet terug. Hy moet terug na daardie plasie en daardie tyd waarvan hy so naarstig wou wegkom. En hy moet terug na ’n plaasmeisie wat hom lank, lank gelede aan die hand geneem en ’n donker spelonk binnegelei het, hom nader en nader gebring het aan die onnoembare duisternis van háár geheim.

Sondag op ’n voëlplaas is ’n heerlike en holderstebolder indompeling in die raaisels van die lewe, maar dit is ook ’n diepsnydende ondersoek na manlike identiteit en die wyse waarop dit deur ’n plaasverlede gevoed word.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 30, 2013
ISBN9780624064848
Sondag op 'n voëlplaas
Author

Johann Nell

Johann Nell is in die Boland gebore en word groot op Oudtshoorn. Hy studeer op Stellenbosch en behaal later ’n onderwyskwalifikasie en M.A. In Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Johann en sy gesin woon al vyf-en-twintig jaar in Bloemfontein waar hy tans in die farmaseutiese bedryf werk. Musiek (hy is 'n kerk-orrelis), kosmaak, seevakansies en ritte in die Kruger-wildtuin is van sy gunstelingtydverdrywe. Hy en sy gesin reis graag na Europa waar hulle nuwe plekke sien en ander kulture ontdek. Sondag op 'n voëlplaas is Johann se debuutroman, en vertel ’n verhaal wat afspeel op ’n volstruisplaas in die Kangovallei, naby die Kangogrotte in sy geliefde Oudtshoorn.

Related to Sondag op 'n voëlplaas

Related ebooks

Related articles

Reviews for Sondag op 'n voëlplaas

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell

    Vir Alida en Wijbren en Mieke

    Niemand sal slaap nie!

    Niemand sal slaap nie!

    Selfs jy, o, Prinses,

    in jou koue kamer,

    kyk na die sterre,

    wat sidder van liefde en hoop.

    Maar my geheim is in my weggesteek,

    die naam waarvan niemand sal weet nie.

    Nee! Nee!

    – Kalaf se aria uit Puccini se Turandot

    EEN

    Alles begin op ’n plaas

    1

    Aalwynskop. Dit was ons plaas se naam. Aan die suidpunt van Afrika: Aalwynskop.

    Aalwynskop.

    Bitterkop.

    Galbitterkop.

    Ek is op 10 April 1963 op dié plaas gebore. Op ’n Sondagmid­dag, net voor die son sy laaste strale oor die herfsvallei weggetrek het.

    Aalwynskop was nie die tipiese Afrikaplaas met stoetbeeste, peperduur eksotiese wild, toonvenster-leeus en Arabierperde nie. Glad nie. Dit was ’n stukkie grond in die Klein-Karoo, waar die voete van die Swartberge hul staanplek in die Schoemanspoort kom kry het. Hier het ons geboer met volstruise en gesaaides, ’n bietjie tabak, bietjie lusern en ’n skaap of twee. Daarby was daar die diere wat jy maar op enige plaaswerf kry: hoenders, honde, varke. Daar was natuurlik ook die plaaswerkers. Wat toe die volk genoem is. Altyd, soos op al die ander plase rondom ons, was hulle aan die rand van die plaaswerf ingedruk in hulle reghoekige, witgekalkte huisies met die ruwe pleisterwerk en vaal rietdakkies. Dis hier waar ek grootgeword het aan die suidpunt van die magtige kontinent Afrika.

    Donker Afrika.

    Op Aalwynskop was ons plaashuis ’n doodgewone reghoekige huis. Roomkleurig geverf en onder ’n rooi sinkdak. Drie slaap­kamers, sitkamer, eetkamer, kombuis, opwasplek vir die vroue, ’n enkele badkamer en ’n stoep, blinkrooi gepoets met Cobra polish. Dood­gewoon. Soms gewoon dood. Want dit was net ek en Ma en Pa. Die drie van ons.

    Dit was meestal stil in ons huis. Partykeer donker. Donker en stil. Ma het my wysgemaak die donkerte hou die Karoohitte buite. Die boeties en sussies wat ek gehad het, het net in my kop geleef. En wanneer ek soms met hulle gespeel het, het Pa sy kop afkeurend geskud en vir Ma met ’n slap hand beduie: vreemde kind.

    Soms, veral oor naweke, het dit daar in die agterste witgekalkte huisies baie geselliger gelyk as in ons huis. Seker maar omdat daar altyd ’n rumoerigheid was – stemme, ’n gelag, ’n gepraat, musiek op ou vals kitare en laataand, met die leë Liebersteinkanne eenkant toe geskop, selfs ’n dans.

    Lig. Geluide. Lewe.

    Ons plaas was in die Oudtshoorn-distrik. Ons huis reg aan die voet van ’n koppie, langs ’n familie-kerkhoffie wat oorgroei was deur aal­wyne. In die winter staan hulle vaal en verlep; in die hittige somers fier en regop soos brandende fakkels wat al die onheilighede in die donker uitwys.

    Aalwynskop.

    Om presies te wees, dit was so twintig kilometer van die dorp in die rigting van die Kangogrotte. Ons lappie grond met sy op­stal was nie fantasties nie, nie naastenby soos die ander majestueuse volstruispaleise en pluimkastele wat soos pionne op ’n skaakbord op die blokke en blokke landery gestaan het nie.

    Ons plasietjie was ’n stuk grond wat Pa by sy ma geërf het, ouma Anna Jacoba Niemand. Ouma Anna was ’n nooi Schoeman uit die Volmoeddistrik. Ná my oupa Johannes Hendrik Niemand se dood het sy die boerdery oorgeneem, en na háár dood het my pa alles geërf. Maar alles beteken nie baie nie.

    My pa het net een suster gehad, Hendrika Katerina. Hulle het haar Hettie genoem. Sy was ’n goeie tien jaar jonger as Pa en ’n be­gaafde meisie. Sê hulle. Sy het volpunte vir wiskunde en weten­skap gekry en wou dokter word. Toe het my oupa Johannes haar ná skool Stellenbosch toe gestuur om daar verder te gaan leer. Op ’n manier was dit seker die Afrikanerdroom wat die Niemands pro­beer uitleef het. Pa kry die boerdery; Hettie word ’n dokter, en hopelik trou sy boonop nog in ’n welvarende familie in.

    Dit was dus bestem dat Aalwynskop ná Oupa se dood na Pa toe gaan, en dan eendag na my, die enigste seun. Die Niemand-erfgenaam.

    Ek kan min van al hierdie dinge onthou, want ek was maar so drie of vier jaar oud. Hulle sê as jy hard probeer, sal jy alles kan onthou. Maar ek wou nie probeer nie. Wat ek wel kan onthou is dat ’n deel van die droom aan skerwe gespat het toe tannie Hettie ná haar eerste jaar op universiteit op ’n Sondagmiddag op die plaas aan­ge­kom het, met ’n aanhangsel, ene Lou Brink. Soos twee stout kinders het Hettie en haar nikswerd aanhangsel daar op Aalwyns­kop voor die agterdeur kom staan. Saggies aan die sifdeur kom klop-klop soos die volk as hulle verleë was. Oupa het gesê die vark­nek was vrot van die dagga.

    En tannie Hettie, sy enigste dogter, verwagtend. Hoogswanger en met niks. So staan hulle toe daar.

    My oupa Johannes het nie geweet hoe om hierdie vernedering te hanteer nie en in stede daarvan dat hy sy swanger dogter en dié se slapgat kêrel ’n veilige hawe gee, al was dit net om hulle ’n ruk lank weg te steek totdat die baba gebore is, het hy hulle, tot groot ont­steltenis en histeriese trane van ouma Anna, summier van die plaas af weggevloek. Die skande wat dit oor die familie sou bring! Oupa het daar en dan besluit sy enigste dogter sal niks erf nie, die hele plaas sal net so na Pa toe kom. My oupa het hulle daar­die Sondag­middag met swaaiende arms uitgeskel vir leeglêers en skande­like, goddelose luiaards. Al swetsend het hy my tannie en haar aan­naai­sel daaraan herinner dat hy en my ouma Anna, opregte god­vresende boeremense wat hulle was, nie hulle kinders só grootgemaak het nie. Lieplappers! Vuilgoed!

    Ouma Anna het by my oupa gesoebat dat hulle dogter moes aan­bly en dat sy haar en die baba sou versorg. Die ongehude vader kon mos maar op die plaas kom help het met al die los werkies. Maar my oupa het net sy kop geskud en gesê hy hou hom nie op met die gemors van bronstige basterbulle uit die Kaap nie. Neuk terug Stellenbosch toe! Of kom jy daar uit die agterstrate van die Cape Flats?

    Die ongehude paar is daar weg. Niemand het geweet waarnatoe of wat van hulle geword het nie. Gerugte het later die ronde gedoen dat hulle as bywoners op ’n appelplaas êrens in die Langkloof ’n bestaan gaan maak het. Gerugte wat toe uiteindelik waar blyk te gewees het.

    2

    Êrens aan die voet van die Swartberge, ook so twintig kilometer van Oudtshoorn, nog voor jy by die Kangogrotte kom, lê ’n an­der plaas. Nes jy die pad na links vat om met die Swartbergpas by Prins Albert uit te kom, lê ’n massiewe stuk vrugbare grond ’n kilo­meter of twee van die grootpad af. Dié plaas word presies middel­deur gesny deur ’n rivier wat daardeur beur. Sterling Gold lê in ’n vallei met potblou lusern en uitgestrekte groen tabaklanderye weers­kante van die rivieroewer. Hoër op in die vallei is vierkantige draadkampe afgespan vir die volstruise. Hier en daar staan skure van wisselende groottes waarin allerhande implemente gebêre word. Aan die agterkant van die vallei, soos ’n persblou toegetrekte gor­dyn voor ’n venster, steek die enorme spitse en koppe van die Swart­berge teen die ysblou lug van die Karoo af.

    Die hoofopstal, die kroon van die plaas, staan hoog teen ’n alleen­staande heuwel. Die kurwes van die gewels is inderdaad ’n ryklik versierde kroon bokant die breë, koel stoep van waar die be­woners kan afkyk op die rivier regs daarvan. ’n Lang plaaspad volg die kronkels van die rivier tot by die opstal waar ryk gaste voor die groot grasperk onder reuse koel eike- en dennebome kan parkeer.

    In die smeulende somermaande droog die rivier soms op, maar dit reën net ’n druppel of twee in die boberge dan lóóp die rivier. Verder af, anderkant die plaashek, loop die stroom af deur die Schoemanspoort en word dit uiteindelik die Grobbelaarsrivier wat deur Oudtshoorn se middedorp vloei. Aan die een kant van die rivier is die ouer deel van die dorp en aan die ander kant die nuwer Wesbank.

    Op somersdae styg die kwik tot by die veertig grade, maar die land­skap word laatmiddag afgekoel deur ’n lafeniswindjie wat hoog uit die klowe van die Swartberge afrol. Winters is straf. Alles, plant, mens en dier, word dan groenvaal asof ’n laag grys oor alles kom lê het. Die klipharde ryp en die kort sonskyndae pers die lewe uit elke stuk­kie groen totdat net droë stoppels oorbly, die landskap ’n ver­bleik­te kleurfoto.

    Dit was op een van hierdie verbleikte dae dat die geweerskoot hoog bo in ’n kloof van die Kangovallei geklap het en soos donder­weer in die vallei af weergalm het.

    Nog nooit het ’n skoot so hard in daardie kontrei weergalm nie. Nie eens as daar in die winter jag gemaak is op die rondloperluiperds op die hoë klippe nie, of as daar geskiet is op die bosduiwe in die wilgerbome nie.

    Twee dae later eers is die lyk opgespoor, waar dit half regop vas­gepen was voor ’n plat klip wat soos ’n natuurlike kateder tussen twee groot rotse gestaan het. ’n Dooie predikant op ’n klipkansel wat nikssiende oor sy gemeente uitkyk. Stokstyf en yskoud.

    Ek kon my dit voorstel: Die lyk, met die gapende wond agter die regteroor, wat uitstaar oor die groot plase weerskante van die rivier en al die bedrywighede daar onder tussen die landerye, in die volstruiskampe, die pakstore, in die voorhuise en slaapkamers, tot in die kombuise en studeerkamers van die opstalle in die vallei, met glasige oë dophou.

    3

    Die Bruwers het op Sterling Gold gewoon. John en Maggie. Diep in die sestig was hulle destyds. Welvarend. John het die plaas uit niks opgebou, en die boerdery sou oorgeneem word deur hul enigste seun, John Junior. Die Bruwers het dus min gehad om hulle oor te bekommer. As welgesteldes kon hulle kom en gaan soos hulle wou en hulle het soms weke aaneen die paaie van Suid-Afrika deur­kruis en selfs later Europa op luukse bustoere verken. John Junior was toe in sy vroeë twintigs en met diensplig besig nadat hy sy land­bou­diploma op Elsenburg behaal het.

    Langs die Bruwers het die De Jagers geboer, Dawid en Emily de Jager op die plaas Prachtig. Vir my het die De Jagers se geskiedenis op Sondag 1 Junie 1967 begin, die dag toe hul jongste kind gebore is. Ma het my vertel dat Andries Francois de Jager in die agter­ste kamer van die mooi plaasopstal op Prachtig gebore is. Enkele minute voor middernag. ’n Ongoddelike pikswart uur toe al die werkers op die erf in die donker en koue moes begin skarrel om Dawid de Jager se vrou in haar barensnood by te staan. Emily de Jager was agt maande swanger toe sy deur die kraampyne oorval is. Van dorp toe jaag was daar nie sprake nie, en om dokter Myburgh te ontbied sou minstens ’n uur of wat neem en is daarom nie eens oorweeg nie. Alles het te vinnig gebeur.

    Ousan, die enigste vroedvrou in die omgewing, is laat kom. Die bywoners in die eenvertrek-huisie agter die tabakskuur is wakker gemaak sodat een van die groter seuns Ousan kon gaan roep. Sy het so ’n halfuur se ry van Prachtig op die plaas van die Le Rouxs gewoon.

    Emily se vorige vier geboortes was makliker en vinniger. Vier dogters. Die oudste Amelia. Daarna Hendrina. Presies ’n jaar later is Karolina gebore. En toe die vierde baba weer ’n dogter was, het Dawid moedeloos hande in die lug begin steek, maar nie ’n woord gesê nie. Hulle het haar Susan genoem. ’n Niksseggende naam – sy is na niks of niemand genoem nie, want Dawid wou ’n seun hê wat sy erfgenaam kon wees.

    Ma het vertel dat die vroedvrou met die inkomslag ’n duif op die dak gehoor het en nogal daaroor gevra het. Vir wat sal ’n duif dié tyd van die nag op die dak sit en fladder? het sy gevra. Maar niemand het notisie geneem nie, want die baba was al gebore, en al hulle aandag was by die blougesigkind. Ousan was net betyds om die styfgedraaide naelstring van die nek af te knip. Emily de Jager was swak en uitgeput, maar het nog genoeg krag in haar ge­had om die pasgebore baba ’n rukkie vas te hou voordat Ousan haar weggevat het om in ’n flenniekombers toe te draai. Die ouer dogters het ongestoord en onbewus van alles in hulle beddens aan die ander kant van die huis geslaap. Onbewus daarvan dat nog ’n dogter gebore is.

    Die nag toe die vyfde dogter gebore is, het van die plaaswerkers Dawid de Jager langs die rivier gehoor waar hy hardop die Almagtige Vader gesit en uitskel het. Hulle het gedink ’n dronk lekkerlyf maak amok daar by die oorhang-wilgerboom langs die water. Toe hulle rivierlangs agter die lawaai aan gaan soek, het hulle verskrik tussen die grasse bly staan toe hulle hom daar in die middel van die nag hande-viervoet soos ’n brullende leeu sien worstel en vloek.

    Die werkers het by die huis kom vertel dat hulle die baas daar onder die sterre sien geraas maak het. Toe hulle mooi luister, kon hulle hoor die baas bid tot die liewe Here in die hoë hemelse heiligheid. Nee, die baas was nie kwaad nie, het hulle gelieg, seker maar net dronk van dankbaarheid gewees oor sy vrou se vrugbare lende.

    Dawid de Jager was egter verpletter. Hy het in sy bitterheidbe­sluit dat die vyfde baba teen wil en dank Andries Francois sal heet; en Emily was slim genoeg om nie die naam te bevraagteken of teen te staan nie. Sy het dit so aanvaar, soos so baie ander dinge wat maar deur die jare hul loop geneem het daar aan die voete van die Swartberge. So het die lewe op Prachtig aangegaan. Dawid de Jager se boer­dery het floreer. Emily was ’n boervrou by uitstek. Haar hande kon enige ding raak vat en in goud verander. Van klere maak en bak kon nie­mand haar iets leer nie. Haar en Dawid se vyf dogters het groot­geword en elkeen het sy eie plekkie op die plaas ge­vind. Tus­sen skool en plaaswerk het hulle die lewe geniet. En dit het gou dui­delik geword dat Andries Francois die enigste dogter was wat in die boerdery geïnteresseerd was.

    Die ander meisies was huishenne wat eerder sou kyk hoe ma Emily die groot skottels brooddeeg knie, laat uitrys in die halwe paraf­fienblikke en in die buiteoond bak. Later kon enigeen van hulle toe-oë die smaaklikste wildspasteie en geurigste melkterte op­tower. Niemand kon volstruisbiltong soos hulle hang nie. Op basaars het die vier meisies hulle eie koektafel gehad, selfs die bynaam Die Koekie­susters gekry. Dan het hulle koekstruif, fluweelpoeding en regte mosbeskuite uitgestal en verkoop.

    Man, dis trifle, het Ma altyd geïrriteerd uitgeroep as sy hoor hulle praat van koekstruif. Dis pure ghrêndgatgeite om so te praat. Ons almal hier in die Kangovallei eet trifle! Nie eens die queen van Engeland eet koekstruif nie. Sondagmiddae eet sy plein boere-triflevir poeding!

    Terwyl Emily en haar vier kuikens op die groot eetkamertafel nuwe stukke lap uitgemeet, opgesny en aanmekaargewerk het vir ’n nuwe seisoen se kerkrokke, het Andries Francois saam met haar pa volstruiseiers in die boonste broeikampe getel.

    Van nou af noem ons jou Andri, het Dawid de Jager een oggend uit die bloute aangekondig. So asof hy vrede gemaak het daarmee dat sy jongste kind met die mannetjiesnaam ’n meisiekind is, en dalk later toe half spyt was oor die naam. Nooit sal daar ’n manlike erfgenaam vir Prachtig wees nie, maar dalk was die laaste kind ’n troos – en dalk meer as net in naam.

    En destyds kon ek nie ophou dink oor die meisiekind met die seunsnaam nie. Hoe het dit gebeur dat ’n meisiekind ’n seunsnaam kon hê? ’n Seunsnaam verander mos nie ’n plaasmeisie in ’n boer­seun nie? Pa kon my nie antwoord oor die meisiekind met die seunsnaam nie. Ma ook nie. En in my hart wou dit nie bedaar oor hierdie hele affêre nie.

    4

    Tussen die grensdrade en heinings van die plase het min dinge ge­heim gebly. Soms het die stories sommerso vanself aangevlieg ge­kom. Soms het ons dit met ons eie oë gesien. Met ons eie ore ge­hoor. Ander kere weer is dit deur die werkers en kombuisvroue van plaas tot plaas oorvertel.

    Al was ek in daardie stadium – ek was so tien jaar oud – nog nooit by die De Jagers op Prachtig nie, het dit tog gevoel of hulle ou bekendes was.

    Partykeer het hulle kombuisvrou, Mieta, by ons kom vertel wat daar in Prachtig se binnekamers aan die gang was. En ons almal, Ma en Pa inkluis, was maar te gretig om ons ore uit te leen oor wat die De Jagers, en veral hulle vyfde meisiekind, nou weer aangevang het. Soos die dag toe sy vertel het van ’n Sondag toe die Bruwers van Sterling Gold daar op Prachtig aangekom het – volgens haar het hulle tydig en ontydig hul opwagting gemaak.

    Ek onthou die dag omdat dit so ongoddelik warm in die Kango­vallei was. Buitengewoon. Die sonbesies se onophoudelike geskril, elke stuk metaal, of dit nou ’n sinkstoor, watertenk of stuk gereed­skap was wat in die ongenadige son gekraak en getik-tik-tik en bewen­de hittegolwe soos warm branders oor ’n vlammesee uitgestuur het. Ek kon my Mieta se vertelling so duidelik inprent: Die Bruwers wat oor die werf aankom in hulle spierwit Mercedes Benz 280SE. In die huis was die De Jager-meisiekinders besig om reg te maak vir koshuis: klere inpak, gestrykte skoolklere aan draadhangers ophang, koekblikke volmaak met hulle eie wenbeskuit, nat en uit­gedroog, en rosyntjiebrode, soetkoekies, en nog ’n stuk of twee vol­struis­biltong. Die koffers het gereed gestaan. Die blikke vol­gelaai om in die wagtende kar voor die kombuisdeur gelaai te word. Skool­skoene blinkswart gepoets deur een van die jongetjies wat agter in die strooise bly. Dit gebeur alles in die huis terwyl die twee ou Bruwers buite in die gloeiende kar sit en kyk het of daar lewe in die plaashuis was.

    Die Bruwers het ook nog nie eers behoorlik aanstaltes gemaak om uit te klim en die sementtrappies na die voordeur te bestyg nie, toe twee van die meisiekinders, Karolina en Hendrina, gillend om die hoek van die huis gestorm kom. Op hulle hakke was Jester, Mieta se kleintjie. ’n Mens kon dink dat hy die twee meisiekinders jaag of iets, maar dit was nie so nie. Jester was die een wat die nuus ge­bring het.

    Ant Maggie Bruwer het skoon ’n gil van skrik gegee en die dik string pêrels om haar hals instinktief met die palm van haar hand toegedruk, asof iemand dit van haar nek wou afruk. Toe storm tannie Emily en Mieta feitlik saam by die voordeur uit om te kom kyk waaroor die twee meisies so histeries gil. Mieta wou nog skree dat Jester die twee uitlos, maar dis toe hy wat die nuus breek: Mies! Dis Andri! Dis wee Andri! hyg hy dit kortasem uit, sy oë net so groot. En Karolina stotter: Sy’s weer die berge in, Ma!

    Blykbaar wou tannie Maggie flou word, seker nie van die hitte nie, maar sy en oom John is so vinnig daar weg dat hulle nie eers die huismense behoorlik gegroet het nie. Oom John het net op pad terug kar toe geskree: Kom, Mamma! En toe hulle omdraai, terug op die pad waarvandaan hulle so pas gekom het, het oom John by die oop ruit vir tannie Emily geskree: Ek roep die volk! Jans en Stoffel sal met die twee perde kom help soek!

    En die volk het deurnag gesoek. Ek onthou dit goed, want Pa het ook gaan help. Oom Dawid de Jager het lanterns laat opsteek om lig te maak in die donker tussen die kranse aan die bokant van die plaas. Tannie Emily het al teruggekom van die dorp af nadat sy noodgedwonge moes ry om die vier ouer sussies by die koshuis te kry, maar van Andri was daar, soos so dikwels in die verlede, geen spoor of teken nie.

    Ek het Ma gevra waarom die meisiekind so baie wegloop, maar daar was nie ’n duidelike antwoord nie. Ma het net haar skouers opgehaal en haar oë so ligweg gerol. Mal in haar kop, het dit be­teken.

    Mieta het toe ook nog vertel dat die De Jagers nie lank hierna nie, eintlik daardie selfde warm nag nog, nadat die meisiekind uit­eindelik iewers in daai onheilspellende berge gekry is, besluit het dat Andri nie sal teruggaan koshuis toe nie.

    Pa se kommentaar was: Ek sou haar gatjie aan die brand ge­slaan het. En skielik het ek jammer vir die meisiekind gevoel. En ek het gehoop Ma sou, soos ek, ook simpatiek wees, maar sy het geantwoord: Hulle moet haar gatvelle aftrek.

    Maar gelukkig het hulle haar net oorgeskuif na die plaasskool. Die skool waar ek ook was. En dit was hier dat ons mekaar die eerste keer van aangesig tot aangesig gesien het. En daar was ’n vreemde band tussen ons. Wat dit was, kon ek nie beskryf nie. Ek sou nie sê dat ek haar beter leer ken het nie, maar ek kon nie ophou kyk vir die meisiekind met die seunsnaam nie.

    5

    Uit die bloute vra Andri my eendag by die skool of ek weet dat sy ’n geheim het en of ek wil weet wat dit is. Ek is ietwat uit die veld geslaan, want wat is die nut van ’n geheim as jy dit vir iemand anders oorvertel? Maar toe kom ek agter Andri se geheim is iets anders as wat ek in my gedagtes gehad het. Vir haar was avontuur

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1