Wenkbrou
()
About this ebook
Deborah Steinmair
Deborah Steinmair het ’n BA-graad in Engels en Drama behaal. Tans is sy vryskut kopieskrywer, redakteur, proefleser en skrywer. Haar debuutroman, Marike se laaste dans, is in 2011 bekroon met die Jan Rabie Rapport-prys. Haar nuutste raaiselroman, Moestas, het in 2015 verskyn.
Read more from Deborah Steinmair
Marike se laaste dans Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSkrik op die lyf Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsDie Neus: 'n Raaiselroman Rating: 0 out of 5 stars0 ratings
Related to Wenkbrou
Related ebooks
Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSanta Gamka Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsPiekniek by Hangklip Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsNiggie Rating: 3 out of 5 stars3/5Blou Erfporsie: Van Isilimela tot Stilbaai: 'n Lewensreis Rating: 4 out of 5 stars4/5Die ou vrou en die priester en ander verhale Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsAlles begin met Anna: 'n Familiesage van voor die Anglo-Boereoorlog Rating: 5 out of 5 stars5/5Kyk ‘n Vaal Perd (Afrikaanse uitgawe) (Afrikaans Edition) Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsVerstevlei Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsBidsprinkaan Rating: 4 out of 5 stars4/5Katvoet Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSpore in die Arep Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsGees van die Labrador Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsReise van Isobelle Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsDie ontwaking: Oorspronklik uitgegee as Abel se ontwaking Rating: 4 out of 5 stars4/5Amraal Rating: 3 out of 5 stars3/5Beminde Verraaier Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsNa die geliefde land Rating: 2 out of 5 stars2/5Drieklawerblaar Rating: 5 out of 5 stars5/5Meer as een grens Rating: 3 out of 5 stars3/5Brouhaha Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsVlakwater Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsVerlorenkop Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsGetuie Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsEtosha Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsByna liefde Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsLewensblik: Sketse oor die lewe Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsKlassiek reeks: Kroniek van Perdepoort Rating: 2 out of 5 stars2/5'n Klein lewe Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsVolmink Rating: 0 out of 5 stars0 ratings
Reviews for Wenkbrou
0 ratings0 reviews
Book preview
Wenkbrou - Deborah Steinmair
— Die oë van alles wat leef —
My naam is Aga Gruber. Agathe, moenie vra nie. Gewapen met my groot neus en formidabele reuksintuig het ek die geheime van my kindertyd ontrafel, dekades na alles gebeur het. My vriendin Jesse, en Claude, my vorige buurman, het ook ’n groot rol gespeel. En intuïsie. Nadat ek en Jesse die reuknavorsingsinstituut begin het, het ek meer begin oplees en meer bewus geraak van die sintuie en die vermoëns wat die mens al byna verloor het, maar wat by diere nog belangrik is.
Sekere soogdiere het wenkbroue – ’n strook digte, sensitiewe hare bokant die oog, aan die ondergrens van die voorkoprif. Hierdie harige halfmane hou sweet, reën, klein insekte en sonlig uit die oë. Wenkbroue vorm oogkolle, wat diere en insekte in die wildernis teen aanvalle beskerm. So werk dit: baie soogdiere slaap in die nag, toeoog en weerloos. Wanneer die oog toe is, vorm die opwaartse boog van die wenkbrou en die afwaartse boog van die wimpers duidelik gedefinieerde ovaal oogkolle in die slapende gesig. Dit skep die illusie dat die oë steeds oop is en op loer vir sluipende roofdiere, wat gewoonlik ophou bekruip wanneer hulle merk dat hul prooi hulle dophou. Al die groot katte het oogkolle aan die agterkant van hul ore.
Wenkbroue is barometers van gemoedswisseling, die ware verklappers van emosie. Kundiges reken nou hulle is belangriker in die herkenning van leuens as oë. Miskien is die Mona Lisa so misterieus en haar gesig so onleesbaar omdat sy nie wenkbroue het nie. Die ekspressiewe Mr Bean het twee uiters beweeglike harige wurms op sy voorkop.
Wenkbroue is kommunikasiehulpmiddels.
My vriendin Jesse Maartens het al twee haar oë verloor in ’n bomontploffing, jare gelede. Haar ooglede is permanent toe, haar lang wimpers rus op haar wange. Ek het volledige gesprekke met Jesse se wenkbroue.
Ek wil jou vertel van ’n nuwe wending in ons lewens.
— Die son hyg —
Agathe Gruber word langs Jesse wakker. Sy het miskien ’n uur geslaap. Sy is klam van die sweet – die eerste simptome van ’n aanval. Haar ruggraat is ’n trapleer vir koue angs, haar hart fladder in ’n kou. Engtevrees tas-tas teen die wande; ’n paniekerige mimiekkunstenaar.
Hulle is in ’n vreemde ruimte. Dis nog nie mooi lig nie. Die môre ruik na kraalmis en varkhok, die lug vibreer met plaasgeluide: ’n helse kabaal by voerkrip, waterbak, hoenderhokvloer, speen. Bedrieglik gewoon, amper gerusstellend. Maar in haar linkerslaap klop ’n aardige voorgevoel. Onheil.
Hulle is êrens in die sogenaamde Herder se opstal. Gisternag het hulle hom die sleutel met finaliteit in die deur hoor draai, aan die buitekant.
Jesse, jy wakker?
Ja.
Jess, ons moet uit. Dit begin flikker agter my ooglede. Ek kan nie opgesluit wees nie. Ek sukkel om asem te haal.
Aga en Jesse staan al twee ongeveer ses voet in hul sokkies. Of liewer, hulle lê op hierdie oomblik in hul sokkies, in al hulle klere op ’n bulterige driekwartbed.
Ons gaan ’n manier kry,
sê Jess in ’n kalmerende toon en kom regop op haar arm.
Aga, vertel my die kamer.
Dit was stikdonker laas nag en nou’s dit nog steeds sterk skemer. Een bed, ’n tafel, ’n kers, geen vuurhoutjies in sig nie. Dis al, minimalisties. Wasbak, emmer. Daar is nie vensters nie, net klein luike hoog teen die plafon. Ek sien nie ’n lig nie. Dis rond, ’n rondawel? Ruik die gras en teer, Jess.
En klam grond en sement en klip. Jou beste reuke. Haal diep asem, Aga. Daar sal nie ’n lig wees nie, want elektrisiteit is boos, so glo die Volgelinge.
Die Herder is die profeet van die Volgelinge, ’n klein en eksklusiewe sekte wat net in hierdie deel van die wêreld voorkom; die Oos-Vrystaat. Amper almal in die sekte is verlangs familie van Jesse. Daaroor het sy lank stilgebly: haar vreemde wortels in die Vrystaat. Jesse ken nie die Herder of sy plaas nie, want haar pa was van Buite en hulle is nooit in die klein kring van die gemeente opgeneem nie.
Aga haal diep asem. Ja, die klam grond en die klip. En Jesse se nek wat na naeltjies en anys ruik. Nardus en saffraan, kalmoes en kaneel.
Ek vermoed ons is onder die grond, Jess. Ons is mos by ’n lang stel trappe af laas nag. Kan dit wees?
Nie onmoontlik nie. ’n Ondergrondse rondawel. Hectic. Dit wil ’n klokkie lui. Ek dink my ma en pa het eenkeer gepraat oor die Kerk se sensuur: eensame aanhouding, niemand weet waar nie.
Jess. En jou ma was die pastoor se dogter?
Ja, die eerste een. Herder noem hulle hom. Hy is dood sonder dat sy visioen ooit vervul is van ’n wederkoms in die Vrystaat. Hulle het hom twee weke in die melkkamer laat lê in die hoop op ’n opstanding.
En die huidige Herder, die man wat ons laas nag hier opgesluit het, hy is jou oom?
Ja, my ma se enigste sib. Maar ek ken hom nie. Hy het alle kontak verbied met sy afvallige suster en haar gesin, selfs deur my ouma. Vir haar sal ek graag weer wil sien, Aga.
So ons is in eensame aanhouding. Hoekom op aarde?
Aga, ek vermoed die aanklag teen ons is nuuskierigheid. Dat ons kom rondkrap het en vrae vra oor die moord.
’n Kabaal breek uit in die beeskraal.
— Die net van die voëlvanger —
Hoe word twee vroue in hul laat veertigs teen hul wil in ’n ondergrondse rondawel aangehou? Dit voel onwerklik. Aga wil verontwaardiging uitgil, maar sy is slegs ’n toeskouer in ’n verstikkende nagmerrie.
Voordat Aga en Jesse ’n florerende reuknavorsingsinstituut gevestig het, was Aga ’n agterplaas- private eye. Met lastige persoonlikheidsafwykings, vol verlammende fobies. Sommige daarvan het sy tot ’n mate oorkom, met die hulp van Jesse, en Claude, haar voormalige buurman en steeds goeie vriend. Sy is lank en benerig met groot hande en voete, haar neus enorm en krom soos ’n sekel. Sy het ’n wilde haredos, sout-en-peper kurktrekkerkrulle tot onder haar skouers. Haar pa was Boas Birkenbaum, ’n Joodse olfaktoriese genie, ook bekend as Die Neus. Kort nadat sy Jesse ontmoet het, het hulle die geheim van haar vreemde verlede ontrafel.
Jesse se verlede was ’n geslote boek. Al wat sy ooit verklap het, was dat haar idilliese vroeë kinderdae op ’n plaas haar kwalik voorberei het vir die uitdagings van die regte lewe, selfs al het sy later in Standerton grootgeword. Sy het al gepraat van ’n ouma wat naby Senekal woon, met wie sy min kontak het. Sy hét al die wens uitgespreek om terug te gaan op haar spoor, om na haar ma, wat reeds oorlede is, se mense te gaan soek.
En toe, eergister, vang ’n klein beriggie op bladsy vyf in Beeld Aga se oog en lees sy dit vir Jesse voor. ’n Jong seun, Kotsi Mokoena, van die plaas Katdoornvlei in die Senekal-omgewing, het verdwyn en is na wat vermoed word, vermoor. Mokoena se ma, wat nie kommentaar wou lewer nie, is ’n lid van ’n geheimsinnige sekte wat net in daardie omgewing voorkom. Besonderhede is nog nie beskikbaar nie.
Die beriggie het Jesse laat regop sit. Die plaas Katdoornvlei naby Senekal in die Oos-Vrystaat behoort aan my ma se enigste broer!
sê sy. En toe vertel sy. Dis die erfplaas waarop haar ma grootgeword het in die skadu van daardie geheimsinnige sekte. Jesse was as klein kind soms daar, maar hulle het vervreemd geraak van haar ma se familie omdat haar ma met ’n buitestander, iemand van Die Wêreld, getrou het. Fumane Mokoena, die ma van die vermoorde seun wat nie kommentaar wou lewer nie, is die aangenome dogter van Motle Mokoena, moederowerste van die sogenaamde Sêsi, ’n Basotho nonne-orde in die Lekkerkerk, het Jesse kortasem vertel. Lekkerkerkers is wat buitestanders hulle noem. Hulle noem hulself die Volgelinge. Motle het saam met Jesse se ouma grootgeword.
Dié keer is dit Jesse se raaiselagtige verlede wat uit die bloute opgeduik het, dink Aga. En hier is hulle nou. Aga en Jess. Holmes en Watson, Starsky en Hutch. Cagney en Lacey. Op die spoor. En uit die staanspoor loop alles verkeerd.
Hulle het laterig in die nag op die plaas Katdoornvlei aangekom. Natuurlik is hulle nie opstal toe nie. Aga het buite die grensdraad stilgehou en hulle het by die werkershuisies mense gaan opklop om navraag te doen na Mme Fumane Mokoena, Mmakotsi (ma van Kotsi). Daar was maar ’n handvol huisies, skoon en ivoorbleek in die maanlig. Die Volgelinge het min plaasarbeiders, want die hele gemeente spring glo in om te help met die boerdery, soos die Amish. Die wat daar is, is geslagte al in die familie en aan die buitewyke van die gemeente, semi-Volgelinge. Hul huise het ook nie elektrisiteit of moderne geriewe nie, want die teenswoordige wêreld moet ten alle koste op ’n afstand gehou word. Die Sêsi is wel volwaardige lidmate van die Volgelinge, met heelwat gesag, het Jesse vertel. Suster Motle, as sy nog leef, sal glo in ’n kliphuis op die heuwel woon, die Sêsi se imposante klooster, met streng sekuriteit.
Die Volgelinge glo nie in Telkom, Vodacom of MTN nie, maar die bostelegraaf is verstommend effektief. Binne ’n halfuur na hul aankoms, voordat hulle nog vir Fumane Mokoena onder oë kon kry, het Jesse se oom, die Herder, in ’n stofwolk stilgehou en hulle vriendelik versoek om in sy Hummer te klim. Moderne voertuie het skynbaar tog deur die net geglip. By sy donker opstal is hulle onseremonieel met trappe af hierdie ruimte in begelei. En toegesluit.
— Die tone van die lied verdof —
Aga se maag grom soos ’n MGM-leeu. Dit word al skemer, Jesse. ’n Hele dag is verby. Nie jou oom of enige ander siel het kos gebring of die emmer kom leegmaak nie. Dit voel onmenslik. Wat presies behels eensame aanhouding hier?
Haar stem is dun.
Sy stap op en af, op en af in die kleinerige rondawel. ’n Tier in ’n kou. Ses treë, omdraai op die hak van haar Eskimostewel, weer ses treë, omdraai, herhaal. Kompulsief, om onheil en verlammende angs op ’n armlengte te hou. Gelukkig is daar water in die wasbakkraan. Hulle het die klein stafie Milkybar in Jesse se rugsak net halfpad verorber, met ysere selfbeheer. Hulle is groot vroue.
Ek hoor hoe die hoenders slaapplek skrop. Het my selfoon nog nie ontvangs nie, Aga?
Dood soos ’n mossie. Nie eers een strepie nie. En so te sê pap.
Paniek styg soos kwik in Aga se keel.
Dit word donker en dit word nag, die tweede nag in die ondergrondse tronk. Dis bedompig. Aga gaan lê plat op die sementvloer en haal vlak asem soos ’n akkedis. Sy rol in ’n bondeltjie; ’n embrio, ’n boontjiesaad in watte. Daar kom nie ’n geluid uit die huis bokant hulle nie. Die stilte van bo druk swaar, onheilspellend op hulle neer. ’n Lugleegte.
Sy moes vir ’n rukkie ingesluimer het. Sy skrik wakker van ’n engelekoor. Dis donkerder as donker. Sy lê nog op die vloer, styf en yskoud. Jesse roer op die krakerige bed. Sy prewel: Die Sêsi. Ek het hulle laas gehoor toe ek vier was. Cutt Glas kan gaan slaap.
Jesse, self geseën met ’n formidabele engelestem, begin saggies saamsing:
Modimo wa rona
Modimo wa borare
O a utlwa: …
Thaka tsa me
Ha le nkutlwe na?
Ke le Ruta thuto tsa molao
Molao ke o neheloe
Ek het nie geweet ek ken dit nog nie. My ma’t dit vir my gesing toe ek klein was. As die Sêsis sing, in ’n woonhuis sing, beteken dit een van twee dinge: geboorte of dood, Aga.
As ons húlle kan hoor, moet hulle óns kan hoor, Jesse.
Goeie punt, maar as ek reg onthou, is daar twaalf van hulle en hulle het longe soos blaasbalke, boesems soos boeë, ribbekaste soos katedrale.
Tonge van nagtegale,
voeg Aga by.
Aga klim op die bed. Hulle lê en luister. Paniek klop nog dringend in haar linkerslaap.
Die stilte na die lied is tasbaar, ’n karos. Na ’n paar oomblikke hoor hulle gedempte kapgeluide. Stilte. Nog kapgeluide. Aga kyk rond vir iets waarmee sy teen die plafon kan hamer. Die plafon is lagerig. Al wat daar is, is die emmer. Gelukkig van blik. Sy maak dit gou leeg in die wasbak; ook maar goed nie een van hulle het ’n dermbeweging in eensame aanhouding gehad nie. Sy klim met bewerige knieë op die tafel en slaan die emmer desperaat teen die plafon. Tat-tat-tat. Taffeteffie-tat. Tatterat-tat-tat. Doodse stilte. Die gekap het opgehou. Sy hamer weer. Tatterat-tat. Hulle wag. Steeds stilte. Sy neem haar emmer op en hamer herhaaldelik, nou buite beheer. Stilte. ’n Knarsgeluid op die houttrap. Stilte. ’n Klop aan die deur.
— Die lamp van die goddelose —
Jesse stap reguit en sekuur deur toe. Haar gidshond, Die Neus, het nie saamgekom nie. Hy het mettertyd ’n lewe van sy eie begin lei, onafhanklik van hulle. Hy is so uitsonderlik briljant dat hy deesdae help om ander gidshonde op te lei. Hy verskyn gereeld op TV en kom net soms vir ’n naweek by Jesse en Aga kuier. Maar Aga is Jesse se oë. En Jess is Aga se kalmeermiddel. Dit werk