Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Bidsprinkaan
Bidsprinkaan
Bidsprinkaan
Ebook338 pages4 hours

Bidsprinkaan

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Ongetwyfeld ’n hoogtepunt in Brink se oeuvre. Afrika se eeue oue magiesheid en hartstog vorm die agtergrond van die intiem verweefde komedie en tragedie in hierdie roman. Dit is gebaseer op die historiese figuur Kupido Kakkerlak (c. 1760 – c. 1825) se lewe. Maar die raaisel van ’n mens se lewe word ten beste met die verbeelding benader. Kupido is nie gebore nie, ’n arend het hom gebring. In daardie tyd het ook ’n bidsprinkaan verskyn: ’n teken van die gode. Wonderwerke het soos optelgoed op die aarde rondgelê. Nadat Heitsi-Eibib in die veld aan Kupido verskyn het, raak hy as baasjagter bekend tot ver buite die grense van die boereplaas waar hy grootword. Hy is ook dié drinker, leuenaar, minnaar en bakleier van die kontrei. Onder die sendeling dr. Van der Kemp se invloed word hy egter die eerste Khoi wat as sendeling aan die Kaap die Goeie Hoop georden is. (Bidsprinkaan plaas ook Van der Kemp, Read en Moffat in ’n nuwe perspektief.) As Christen word Kupido dié bestryder van Heitsi-Eibib se klipstapels en alles waarvoor dit staan. Diepgaande filosofie – en Brink se kenmerkende humor.
LanguageAfrikaans
Release dateNov 15, 2005
ISBN9780798158596
Bidsprinkaan
Author

André P. Brink

André P. Brink was een van die veelsydigste figure in die Suid-Afrikaanse literêre bedryf: romanskrywer, dramaturg, reisverhaalskrywer, vertaler, letterkundige, kritikus en akademikus. Sy romans is in meer as 30 tale vertaal en hy is met o.m. die Hertzog- en die WA Hofmeyr-prys bekroon. Brink is op 6 Februarie 2015 oorlede.

Read more from André P. Brink

Related to Bidsprinkaan

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Bidsprinkaan

Rating: 3.928571380952381 out of 5 stars
4/5

21 ratings2 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 5 out of 5 stars
    5/5
    Now this is a book that a really REALLY liked. Under the stars of southern france, I've read it frantically, this biography - a mixture of myth, fact and fiction - of Cupido Cockroach: hottentot, slave, free spirit, mythological hunter, womanizer, preacher who walks with god (be it a praying mantis or the christian equivalent). The book offers a wonderful journey in the stories of the first peoples of southern africa (bushmen and hottentots), and also lets you feel love and pain as if you are feeling it for your self. Brink is a true master of language, who evokes both people and landscape with his words.
  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    Brilliantly written in vivid Afrikaans. It is a coming of age story with a historical background. The book is divided into 3 parts. The middle one is a bit dragged out, but the 1st and last ones more than make up for this.

Book preview

Bidsprinkaan - André P. Brink

Bidsprinkaan

André P. Brink

Human & Rousseau

The name of Hottentot will be forgotten or remembered only as that of a deceased person of little note.

(John Barrow – Travels into the Interior of Southern Africa. 1806.)

The non-believers need the believers. They are desperate to have someone to believe […]. It is our task in the world to believe things no-one else takes seriously. To abandon such beliefs completely, the human race would die. This is why we are here. A tiny minority. To embody old beliefs. The devil, the angels, heaven, hell. If we did not pretend to believe these things, the world would collapse.

(Don DeLillo – White Noise. 1984.)

Erasmus prompts the question: Can a man choose to be mad? But there is another, equally important, question: Can a man choose not to be mad?

(Philip Edge – A Fool in his Wisdom. 1992.)

Bidsprinkaan word opgedra aan my lesers, sonder wie ek nie ’n skrywer sou kon gewees het nie.

EEN

1760 (?) – 1801

Koup tot Kamdeboo

Image1088.TIF

1

Iets soos ’n geboorte

Kupido Kakkerlak is nie op die gewone manier uit sy ma se liggaam gebore nie, hy het uitgebroei uit die stories wat sy vertel het. Dié stories het baie gedaantes aangeneem. Volgens een was sy ma ’n maagd, so smal en dun soos ’n voor­slag­riempie, en niemand het eens vermoed dat sy swanger was voor die petieterige dingetjie ge­bore is nie. In ’n ander weergawe was sy inderdaad swanger, yslik groot en vir ’n baie lang ruk, iets soos drie of vier jaar, voordat die berg ’n muis gebaar het. Na gelang van haar luim of die stand van die maan, sou sy vertel dat dit glad nie eens haar kind was nie, maar dat hy een nag, pasgebore, en met die nael­string nog ongeknip, in haar hut gelaatstaan is deur ’n vreemdeling wat toevallig daar verbygekom het en wie se gesig sy nooit eens ge­sien het nie. (Al wat sy met sekerheid kon sê, was dat die vreem­deling – anders as sy wat ’n ingeboekte arbeider was – ’n vry man was wat kon kom en gaan soos hy wou, soos die wind.) Van hierdie weergawe was dit maar ’n hanetreetjie na die oortuiging dat die besoeker glad nie menslik was nie, maar ’n nagloper, een van die sobo khoin of skadu­weemense wat by die lewendes spook, ’n op­geefsel uit ’n droom. Party van haar toehoorders het verkies om haar te glo as sy vertel dat Kupido een van ’n tweeling was. Synde die swakste van die twee, is hy vol­gens ou Khoikhoigewoonte op die veld uitgelê waar die wilde diere van hom ontslae kon raak. Op die een of ander tydstip, so loop die storie, het ’n arend, ’n pragtige berg­arend uit die verste verte, die bloedjie in sy kloue opgeraap en met hom weggevlieg asof hy ’n skilpad was en hom baie ver daar­vandaan laat val, bokant die godverlate haaivlak van die Koup in die dorte van die Karoo, waar afstand nie meer sin maak nie en daar nog net pure ruimte oor is. Die baba het op die skoot van ’n vrou beland wat daar op die vlak gesit-slaap het, en toe sy wakker word, toe was die kind maar daar, en hare. Al wat sy geweet het – hoe, sou niemand kon sê nie – was dat die arend weer eendag, eendag, sou terugkom om die skepseltjie saam met hom terug te neem na waar hy ook al vandaan gekom het.

Wat sy naam betref, was Kupido natuurlik algemeen gangbaar onder slawe en bruin arbeiders. Die Kakkerlak is meer proble­maties. Daar bestaan vandag nog ’n Kakkerlaksvlei in die Oos-Kaap naby Port Elizabeth, waar Kupido sy middelste jare deurgebring het, maar dis nie te sê nie. Dit is trouens waar­skynliker dat die plek na hom vernoem is as andersom.

Daar is ’n meer voor die hand liggende verduideliking, naamlik dat sy ma op die dag van Kupido se geboorte (of dan, op die dag van sy bonatuurlike verskyning, afhangende van hoe mens dit wil beskou), wat so min of meer teen die jaar 1760 moet plaasgevind het, nie vir haar werk op die lande opgedaag het nie. Sy was ’n dood­gewone Hottentotvrou, en ongetwyfeld in haar Baas se oë so vuil en lui as al die ander, maar iemand sonder bedrog of ag­ter­baksheid. Jare tevore het haar Baas saam met ’n buurtkommando uitgetrek op ’n jagtog tot bo in Namakwaland op soek na wild en werkvolk. Die tog was ’n reusesukses. Onder­weg het die kommando die volgende platgetrek:

elf leeus

twee en veertig olifante

sewe seekoeie

agt en negentig springbokke

drie en twintig hartebeeste

sewentien sebras

een en dertig wildebeeste

twee renosters

een camelopardalis (’n rare dier, byna so onwaarskynlik as ’n eenhoring)

en agt Boesmans.

’n Aantal Boesmankinders is ook buitgemaak en riem om die nek agter die Baas Boer se perd aan huis toe gesleep om daar makgemaak te word as touleiers en veewagters. Op die terugpad, vlakby Sal­danha, het die kommando sommer ’n troppie swerwende Hotten­totte ook saam Koup toe aangekeer, waar hulle as arbeiders ingeboek kon word.

Dié vrou het ongelukkig iets van ’n sondesoeker geword met haar nuk om weg te loop, wat meegebring het dat daar kort-kort waardevolle tyd verspil moes word om haar te gaan haal, na behore volgens die Woord te straf, en terug te bring. Die boer het baie moeite gedoen en heelwat slae toegedien om haar van haar heidense weë te bekeer sodat sy ’n beter begrip kon kry van wat van haar as ingeboekte werker verwag word. Maar op langelaas het sy toewyding vrugte afgewerp, want mettertyd het sy haar slegte gewoontes soos ’n ou vel afgedop en haar by haar lot berus. Dit het gelyk asof sy begin aanvaar dat sy vir die res van haar lewe op daardie plaas vasgekeer sou bly. En daar was tog oorgenoeg ruimte, selfs vir iemand uit ’n stam wat gewoond was om vryelik deur die wye land te trek, deur die wisselende seisoene, agter wild en weiding en reën aan, oor­gelewer aan die kom en gaan van die sterre en die wind.

Dit was ’n tamaaie plaas wat gestrek het van die nederige klip­opstal in die middel tot by die horison aan alle kante, en wat op ’n baie lang midsomerdag in die voortyd persoonlik deur die boer op sy perd tussen sonop en sononder afgemeet is. Daar was dus regtig geen rede waarom enigiemand ingehok kon voel nie. En met verloop van tyd het die vrou dan ook meer gelate geraak. Miskien het sy net nie meer die moed gehad om haar te verset nie. Des te meer rede waarom die boer bekommerd sou geraak het toe sy dié dag van die werk af wegbly.

Met sy splinternuut gevlegte horssweep van seekoeivel het hy by haar skermpie opgedaag om na haar welstand te verneem en haar op die beproefde manier aan te spoor om te kom werk. Maar toe hy haar daar kry, met die mieserige ou dingetjie wriemelend op haar skoot, omring van die kos en kruie en doepa en goed wat die ander werkers vir haar aangedra het, het hy omgedraai om on­verrigtersake terug te gaan huis toe, want hy was ’n regvaardige man. Al wat hy deur sy baard gebrom het, was:

Die goed teel ook aan nes kakkerlakke. Kom al agter die ruik van kos aan.

Klap-klap met die nuwe sweep teen sy molvelbroek se pype, is hy daar weg, onbewus van die feit dat die powere kleintjie agter hom begin kerm het, en toe begin stuiptrek het, en stil-stil dood is.

2

In plaas van begrafnis

Die begrafnis kon eers ná donker plaasvind, aangesien al die werkers – twee slawe, sewe Hottentotmans, vyf vroue, en ’n paar mak Boes­mans (nie al die gestroopte kinders van destyds het dit oorleef nie) – moes wag tot die plaaswerk ná sononder klaar was om die graf te grawe, en die grond was klipsteenhard. Die maan was al uit, skaars ’n blinkerige skerfie in die donker, die Melkweg bestrooi met sterstof soos die bose god Gaunab vanslewe die aftog geblaas het ná die laaste in sy lang reeks gevegte teen die goeie god Tsui-Goab, toe hy gevlug het om eenkant moerig dood te gaan. Die dooie baba is toegerol in ’n vertoiingde manel wat afgestroop is van ’n voël­verskrikker in die boontjieland, en neergesit op die rand van die vlak graffie om daar te lê terwyl die manne hulle eers effens ververs het.

Die verversings het vermoedelik heelwat karie ingesluit – heu­ningbier so sterk dat dit ’n volstruiseierdop kan verteer – asook dagga, en ’n hamel wat uit die Baas se kraal gelig is (waarvoor die werkers waarskynlik gesamentlik nog dae lank sou boet, maar in hulle roes van hartseer en uitbundigheid het die mense hulle nog nie te veel oor môre bekommer nie). Dis moeilik om te sê of dit iets te doene gehad het met wat daarna by die teraardebestelling gebeur het. Teen dié tyd het die lug al klaar begin bloederig raak van die dag wat kom. Hoe dit sy, toe die mense terugkom by die vlak gat waar die bondeltjie nog altyd gelate op hulle gelê en wag het, het iets heeltemal on­voorsiens ’n kinkel aan die gebeure verleen. Net toe die skaretjie sing-sing en dans-dans by die graffie terugkom en die ma buk om die kind op te tel, steier sy skielik in vrees en bewing agteruit. Want daar, bo-op die swart pluiens van die voëlver­skrikker se manel, sit ’n grasgroen bidsprinkaan en bid.

Nou almal weet die bidsprinkaan word in die wêreld van die Khoikhoi as ’n goddelike teken en ’n gelukbringer vereer. Skoon sober geskrik, het die mense padgegee en op ’n veilige afstand gaan sit om raad te hou. Die son was net-net aan die opkom bokant die ry koppies op die oosterkim toe iemand skielik skril uitroep en beduie. Almal het gekyk. Almal het gesien. Die bidsprinkaan was weg. Miskien was dit nooit daar gewees nie. Behalwe dat iedereen dit met eie oë gesien het. Dit wás daar gewees.

Wat meer is, toe die ma weer buk om die bondeltjie op te tel, toe roer dit. En asof die dingetjie wil seker maak dat niemand hom vergis nie, uiter hy ’n kermgeluidjie. En toe die swart doodskleed van die apiegesiggie weggevou word, lê hy daar met die sweem van ’n glimlaggie na hulle en kyk, behoorlik asof hy geamuseerd is. Die ma het ’n bors uit haar vodde gevou en die kleintjie het dadelik dorstig begin slurp aan die tepel wat pure skilpadkop teen sy bekkie gedruk is. Teen dié tyd sit die son toe al twee span bokant die koppies, en die dag se werk moes lankal begin het.

In ’n dwaal begin die mense terugbondel na die kliphuisie waar die baas van die plaas hulle ongetwyfeld nou al met die nuwe hors­sweep inwag. Maar nee, toe hulle op die werf aankom, kom hy net by die agterdeur uit, vryf-vryf oor sy oë asof hy nou net wakker ge­word het. Nog nooit tevore het hy hom verslaap nie, en wat meer is, dit lyk asof hy glad nie daarvan bewus is dat hulle almal laat is nie. Net so sou hy nooit daarna laat blyk dat hy agtergekom het van die skaap wat makeer nie. Wonderwerke het soos optelgoed op die aarde rondgelê.

En dit alles net oor daardie bidsprinkaan, het die ma gesê. Nie soseer gelate nie as met die insig van ware wysheid, moontlik onder invloed van die afsaksels in die karie. Sy het afgekyk na die dingetjie teen haar bors en bygevoeg: Dié enetjie, hy gaan nog ver loop in die lewe. As julle my vra: by daardie ente van die plaas verby, by die koppe verby, by alles verby. Want hy is uitgesoek om ’n besonderse man te word. Nie soos een van ons wat hier vasgehok sit nie. ’n Vrye man.

3

Stemme in die donker

Ná die kind se geboorte – as dit dan ’n geboorte was – met al die mense weer vroegdag aan die werk op die lande, het die vrou die kind in ’n dradoek op haar rug vasgemaak en hom die veld in geabba, ver weg, tot in ’n noute tussen die rante waar daar ’n klipstapel van haar mense was, ’n heitsi-eibib, een wat ver in die tyd teruggegaan het, tot in die dae van die voormense toe die aarde nog nuut en nat van geboorte was. Want dit was in die vroegtyd toe die jagter-god Heitsi-Eibib, die maan-god Heitsi-Eibib, die boodskapper-god Heitsi-Eibib, nog los onder die mense geloop het, en orals doodgegaan het en orals weer opgestaan het. En soos jy by so ’n stapel verbykom, tot vandag toe, sit jy nog ’n klip op die stapel, sodat jy saam met al die mense wat al was en wat nou nog is en wat later sal wees, deel kan hê aan die dood en die lewe van Heitsi-Eibib. Dit maak dat dit met jou goed sal gaan. Dis hoe dit hoort. Een klip vir haar het die vrou op die stapel neergesit, en enetjie, ’n kleintjie, vir die kind.

Daardie nag, toe al die mense al gaan slaap het, het sy in haar donker hut bly sit. Sy het baie gehad om oor te dink, oor wat verby was en nog sou kom. Sy het die gawe van sien gehad, en sy het die hele pad gesien wat haar mense geloop het tot waar sy dié nag was, by al die klipstapels van Heitsi-Eibib verby, kruis en dwars oor die groot land, met op haar skoot die dingetjie wat sy nie wou gehad het nie maar wat nou hare was. Voor haar oë was baie dinge. Nie net wat was nie, maar ook wat later sou kom. Byvoorbeeld: hoe hy een nag, miskien oor ses jaar, miskien agt, langer as al die ander kinders buitekant onder die maan sal bly speel en dan binnetoe kom met ’n blink ding in sy hand.

En dié wat so blink? sal sy vra.

Hy sal dit eers probeer wegsteek, maar naderhand sal hy sê: Nee, Ma, dis ’n ster.

Wat jy waar kry?

Wat ek gepluk het.

Hoe’t jy bygekom?

Hier in die somertyd hang die goed so laag, jy moet koes om verby te kom.

Gaan sit dit terug.

Ster wat gepluk is, kry mens nie teruggesit nie.

Ster behoort jy glad nooit te pluk nie. Veral nie as hy nog groen is nie. Jy wag tot hy ryp word en vanself afval.

Maar wat maak ek nou met hom? Af is hy af.

Dan gaan sit jy hom buitekant neer dat hy sy eie loop kry. Twee dinge bring mens nie onder ’n dak in nie: ’n bidsprinkaan en ’n ster. Albei van hulle is vir jou goed. Maar as hulle in die huis inkom, beteken dit moeilikheid. Daarbuite is hulle Tsui-Goab se maaksel. Maar binnekant doen hulle Gaunab se dinge.

Ja, Ma.

Maar wat hy dan met die ster loop doen, kan die vrou nie sien nie.

Wat ook voor haar oë verbykom, is iets wat nog baie ver in die toekoms moet lê, want sy sien haar kind as ’n ou, grys mannetjie oor ’n baie dor stuk veld loop. Sy uitgestrekte arms beweeg op en neer, op en neer. En terwyl sy nog kyk, gewaar sy hoe sy lang, dun arms voor haar oë vere begin kry, lang penvere, bruines en witgestreeptes, soos ’n bergarend s’n, en die arms word vlerke, en sy sien hoe hy in die lug opstyg, hoër en hoër, tot by die wind verby. Sy sien wat hy sien. Vreemde riviere en berge wat onder verbytrek, ver lande en plekke, bewoon deur diere en dinge wat sy nie ken of verwag nie. Sy sien olifante met vlerke, en gompoue met renosterhorings, en mense wie se koppe uit hul borskaste groei, en lang vrouens met tamaaie blink oë op hul groottone. Sy sien wat sy nooit gedink het sy sou sien nie: ’n leeumannetjie en ’n lam wat vreedsaam langs me­kaar lê, ’n hartebeeslam wat aan ’n gans drink, ’n luiperd wat ’n broeisel kuikens oppas, ’n eland en ’n hotnotsgot wat paar.

Eers ontstel dit haar. Maar toe besluit sy om haar maar net oor te gee aan die sien sonder om vrae te vra. Al wat sy weet, is dat hierdie kind van haar nie ’n gewone baba is nie. Vir hom moet daar dinge voorlê waarvan sy en haar mense nog nooit eens gedroom het nie.

Oor al die dinge wat sy sien, skud die vrou haar kop; dink, wil sy nie meer dink nie. Wat moet gebeur, sal gebeur. Dit help tog nie om te wonder nie. Sy kan maar net sug. En dan weer haar tepel in die kleintjie se mond druk. Terwyl hy lê en suig, bly sy sit en praat.

Mense wat buite verbykom, het gaan stilstaan om te luister na die stemme. Want met dié vrou kon jy nooit weet of daar mense by haar op kuier is en of dit sy is wat in verskillende stemme praat nie; en as jy vra, kon jy ook nie reken op ’n antwoord nie. Dit was Heitsi-Eibib gewees, sou sy sê. Hy het kom kyk na sy kind. Dié nag was daar juis mense wat kon sweer hulle het ’n diep manstem in haar hut gehoor. Maar dit kon ook ’n vreemdeling gewees het, die vrye man wat nege maande vantevore ook hier verby is en die saadjie van die kind in haar skoot geplant het. Of selfs die bergarend wat hom gebring het. Want waar dit op sulke dinge aankom, was die wêreld vir baie mense nog soos wat dit in die voortyd was, toe almal kon praat: mens en leeu en bobbejaan en muis en bidsprinkaan en bergarend en slang en klip, almal soos Heitsi-Eibib hulle in opdrag van Tsui-Goab gemaak het.

En wat sê Heitsi-Eibib so danig? sal iemand dalk waag om te vra.

Hy’t gesê dis ’n kind wat baie besonderlik versorg moet word. Want hy gaan ’n grote man word.

Soos hoe groot?

Groot. Dis al wat ek kan sê. Groot en anders.

As jy hom só kyk, sal jy dit nie sê nie. Hy’s skaars so groot soos ’n kakkerlakkie.

Dan vou sy die vodde mooi om die verpotte dingetjie toe en sê: Dis nie te sê nie. Dis net iets wat ek weet. Weer ’n sug. Maar Heitsi-Eibib was ook só gewees, onthou. Dis nie vir ons om uit te vra of te spot nie. Dan druk sy gelate en vasberade weer die dingetjie teen haar bors en sê: Nou dis tyd dat julle gaan. Ek kry kuiermense.

Hulle kyk veelbetekenend na mekaar en kry hulle loop. Miskien bly ’n paar van hulle nog buite staan om te luister. En ook nie lank nie, dan begin die stemme daarbinne weer praat.

4

Penvere vir ’n arend

Dit is die stemme waarmee Kupido Kakkerlak groot- ­word. Want sy ma probeer hom altyd naby haar hou, bang hy sal iets oorkom – hy is so ’n tingerige skepseltjie met sy stokkiesdun arms en sy graa­tjiebene, netnou gee iemand hom in die verbygaan sommer ’n oor­veeg of ’n trap en wat word dan van hom?

Meestal neem sy ma hom saam na die Baas se opstal toe, waar sy deesdae die binnemeid is nadat sy jare lank saam met die ander volk op die lande was. Hier kan hy van kleins af help vee en opvryf en was, pispotte uitgooi, water op die vloere sprinkel om die stof te laat sak, vlieë waai met ’n blaartak, hoenders en makoue verwilder of houtjies aandra vir vuur in die kombuis se groot herd.

Party keer as die werk te veel is om voor sononder klaar te maak, slaap hy en sy ma in die kombuis, in die hoek by die herd waar die dag se hitte nog soos ’n sleg hond lê en dut. Op sulke aande moet hulle bysit as daar ná die ete – meestal melk en brood, ’n skep pampoen of patats, af en toe iets vleiserigs, waarvan hulle die oor­skiet kry – boekegevat word. Daarvan maak Kupido nie kop of stert uit nie, hy kom net agter dat daar ’n godderigheid op die spel is. Dan moet sy ma probeer verduidelik, hoewel sy ook maar min verstaan.

Dat dié Jesus waaroor die Baas sy mond so vol het, iemand soos Heitsi-Eibib moet wees, kom hy wel agter; want die man het ook afgedood en weer opgestaan. Maar vir Kupido klink dit ’n bietjie lasterlik. As Heitsi-Eibib daardie vreemdeling alleen in die veld kry, slaat hy hom sekerlik met één hou met ’n lang klip dood.

Waarvan hy wel hou, is die sing wat saamgaan met die Baas se pratery. Sing is vir Kupido soos reënwater op ’n droë dag. Sy ma probeer hom in toom hou, maar wanneer die Baas en die Nooi en hulle sewe kinders begin sing, dan sing Kupido saam. Sy eie wysie, wat niks te maak het met hulle s’n nie. Sy eie woorde ook, wat hy by sy ma gehoor het:

O, Heitsi-Eibib,

jy, ons oupa,

bring vir my geluk,

bring vir my wild,

gee dat ek wortels grawe en heuning kry,

dat ek jou weer kan aanroep,

jy, wat mos ons oupa-oupagrootjie is,

jy, Heitsi-Eibib!

Los bo al die ander mense uit sing hy, so helder soos ’n rietfluit, sy stem veels te groot vir daardie biesieslyfie van hom. En naderhand moet die Baas hom stilmaak, dit raak onstigtelik. Maar dan bêre Kupido net sy sing vir later, wanneer hy en sy ma weer alleen is, of wanneer hy op sy eentjie in die veld dwaal, ver anderkant klippe en rante en leegtes waar die wêreld nog heel leeg is en lê en wag om volgepraat te word.

Daar is nog iets waarvan hy hou as daar boeke gevat word. Dit is veral dié ding: dat die man wat vir Baas Jesus se pa ingestaan het, ’n skrynwerker was. Want dit is ’n werk wat vir Kupido beetgekry het soos vuurkole waarin jy kyk en waarvan jy jou oë nie weer kan af­haal nie. As daar êrens op die werf iets getimmer moet word, is hy by. Die ruik van saagsels werk met sy kop soos die karie wat hy party keer stilletjies proe wanneer die grootmense met volmaan of nuwe­maan nagdeur op die werf dans. Net om ’n stuk hout met sy hande te vat en daaroor te vrywe, die gladheid en die splinterigheid te voel, te droom oor wat hy daarmee sou kon maak – dié effense krom stuk is publiek vir ’n stoel se poot gemaak, daardie twee breë, plat planke moet in ’n tafel ingaan, daardie hardehoutstomp op die werf sal ’n wawiel se naaf kan wees wat enige stamppad kan uitstaan. Veel kans om self iets te doen, gee die Baas-hulle hom nie. Maar hy kyk by hulle af en prent hom dit in sy kop in.

Eendag, sê hy vir sy ma, eendag maak ek vir my ’n wa en dan ry ons hier weg en dan sien hulle ons nooit weer nie.

Sy kyk benoud om of iemand nie dalk kan hoor nie. Jy moet jou bek hou, Kupido, sê sy. As die Baas dit moet hoor, slaat hy vir jou vrek.

Ek kan nie verstaan dat Ma maar net hier bly sit nie. Tsui-Goab het mos nie vir ons net boude gegee om te sit nie. Ons het voete gekry om te loop ook. Ons moet loop, Ma.

Toe hy te veel aanhou, het sy hom eendag vertel van haar vroeër jare, hoe sy aanhou wegloop het, oor en oor, verder en verder, wegter en wegter, maar hoe die Baas haar elke keer weer loop terughaal het en haar elke keer nader aan dood geslaat het, tot sy nie meer kans gesien het vir probeer nie.

Ma moes nie opgehou het nie.

Jy het nog nie daardie man se horssweep op jou lyf gevoel nie, Kupido. Hou jou voete van daardie pad af, sê ek jou. Dis dood daardie. Dis dood.

Hoe ver het Ma die verste geloop?

Ver.

Verby die plaas?

Ver verby.

Verby daardie ry rantjies?

Ver verby, Kupido.

Hoe lyk dit daar, Ma?

Dit lyk maar soos hier. Net anders.

Hoe anders?

Die wêreld is kaal.

Hoe kaal?

Ek kan nie vir jou sê hoe kaal nie. Daar het nog nie woord op hom kom lê dat jy kan sê só kaal of só kaal nie. Hy’s net kaal.

Ek wil self gaan kyk, Ma.

Jy bly daar weg. Jy soek jou dood.

Ek soek lewe, Ma.

Wat weet jy van lewe?

"Al wat ek weet, is dat dit nie lewe kan wees wat

Enjoying the preview?
Page 1 of 1