Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Mediterreense herinneringe: Reisvertellings
Mediterreense herinneringe: Reisvertellings
Mediterreense herinneringe: Reisvertellings
Ebook644 pages14 hours

Mediterreense herinneringe: Reisvertellings

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die stories uit Fado, Brink se reisvertellings oor Portugal, is 'n bonusbydrae tot die e-uitgawe van hierdie boek. Hierdie bundel sluit aan by Brink se 2012 keur uit sy reissketse uit die sestigerjare, Herinneringe aan Parys, en bevat die beste stories uit die boeke oor sy reise deur die Mediterreense lande – Italië, Spanje, die suide van Frankryk en Portugal: Sempre diritto (1963), Olé (1965), Midi (1969) ) en Fado (1970). Hierdie keur sluit in baie leesbare verhale wat steeds iets weerspieël van daardie “eerste vroeë opgetoëndheid oor ’n wêreld wat nog gelê en wag het om in Afrikaans ontdek te word”, soos Brink dit gestel het. Sy vertellinge wissel tussen humor en erns, is speels en ook indringend.
LanguageAfrikaans
Release dateMar 1, 2013
ISBN9780798158589
Mediterreense herinneringe: Reisvertellings
Author

André P. Brink

André P. Brink was een van die veelsydigste figure in die Suid-Afrikaanse literêre bedryf: romanskrywer, dramaturg, reisverhaalskrywer, vertaler, letterkundige, kritikus en akademikus. Sy romans is in meer as 30 tale vertaal en hy is met o.m. die Hertzog- en die WA Hofmeyr-prys bekroon. Brink is op 6 Februarie 2015 oorlede.

Read more from André P. Brink

Related to Mediterreense herinneringe

Related ebooks

Related articles

Reviews for Mediterreense herinneringe

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Mediterreense herinneringe - André P. Brink

    Mediterreense herinneringe

    ’n keur

    André P. Brink

    Human & Rousseau

    Sempre diritto

    Vooraf

    Die skrywe van ’n reisboek, sê Somerset Maugham, kan vir die skrywer ’n belangrike oefening in styl beteken, omdat dit een van die min kanse is wat hy kry om die prosa ter wille van die prosa te beoefen. Dis ’n waardevolle uitspraak, maar dit het nie be­trekking op die veel subjektiewer en beperkter aard van ’n blote joernaal wat van dag tot dag tydens ’n reis opgeteken is nie. Dit moet in ’n werk van dié aard dus gaan om iets anders – miskien om ’n toets vir die skrywer se eerlikheid, nie net van weergee nie, maar van sien, van bewus-wees, ook van sy eie skeligheid plek-plek. Daar­mee bedoel ek: dit sal seker ongerade wees om sonder mins­tens ’n redelike kennis van ’n land en sy taal op reis te gaan, maar g’n biblioteek sal jou help om te sien nie. Jy sal hoogstens uitvind hoe hoog die Eiffeltoring is, wanneer die Colosseum gebou is, en wie almal in die Tower of London onthoof is. Maar hoe jý – jy wat jy is – daarop moet reageer, dít sal g’n boek of gids jou kan leer nie.

    Dit sal by voorbaat ook al beteken dat die man wat nie elke dag in sy eie straat, sy eie agterplaas, iets nuuts ontdek nie, dit be­swaar­lik in ’n vreemde land sal doen. Die blote feit dat mens die Taj Mahal of die Empire State-gebou gesien het, beteken maar min; maar die moontlikheid bestaan dat iemand wat gesien het hoe ’n ou vrou in ’n agterstraatjie viooltjies verkoop – en deurgrond wat hy sien – dalk ’n sluiertjie voor hom weggetrek het. Hy kon dálk ’n treetjie nader gekom het aan die vae, onverklaarbare ding wat ons graag die lewe noem. Want miskien is elke ware reis in dieper sin ’n soektog – na ’n pit, ’n essensie, ’n hart. En al kom jy op die duur maar net by ’n stukkie van jou eie hart uit, dan het jy – wie weet – die soort skat gevind waarvoor die man in die gelykenis sy grond gaan verkoop het.

    Daarom kan die mooiste soort reis skaars ’n plan of rooster hê. Dis maar reis soos die gees jou lei. Wat nie beteken dat dit doelloos is nie, maar bloot dat jy jou nie gaan blind staar op die aftik van ’n rits name in jou swart of rooi sakboekie nie. Jou tog is dus maar selde sempre diritto (reguit aan – die enigste ant­woord wat énige Italianer in énige stad jou sal gee as jy die pad vra, selde waar­heen). Die kortste afstand tussen twee punte, so leer die wiskunde, is ’n reguitlyn. Maar die mens ken nie reguit­lyne nie: sý paadjie kronkel en kinkel soos die kielierige Skotse paadjies wat so bibber teen ’n heuwel op. Dis heen-en-weerloop, dis rond-en-bontloop, dis draaie loop; en die vorentoe loop in af­stand kan dikwels ’n agteruit loop in tyd beteken: want waar werk mens se herinnering so goed as juis op reis? Een ervaring alleen kan immers maar ’n baie skraal ding wees; maar hy kry sy sin, betekenis, reliëf as hy saam met – en soms téén – ander er­varings opgestel word. Daarom het ek by die afrond van die joer­naal ook telkens uit ánder joernale geput, net om hier en daar iets duideliker of kantiger te laat verskyn.

    En dis miskien selde belangrike ervarings. ’n Tog deur die Rijks­museum, ’n bedevaart deur die Notre-Dame, ’n uitvoering in La Scala kan almal hoogtepunte in mens se reislewe wees; maar as mens­like ervaring is dit seker niks betekenisvoller as om som­mer op ’n dag teen die Rhône in die rooi papawers te gaan lê, of om ’n ompad deur ’n klein straatjie in Chartres te loop net om­dat daar ’n oorryp geel pampoen op ’n groentestalletjie lê, of om ’n seuntjie in Burgos te help om sy emmer water uit ’n klipput op te trek nie.

    Italië, 1961

    En tout: Grahamstad, 1962.

    Buon viaggio!

    Dis goed en wel om te sê: Lekker is net ’n vinger breed. Maar die omgekeerde is dalk nog nader aan die waarheid; dat dit net die vingerbreedte is wat kan lekker wees; dat die kosbaarheid van ’n ervaring in direkte verhouding staan tot die duur daar­van.

    Toe ek die oggend van 4 Januarie oudergewoonte die ses ver­diepings van ons woonstelgebou in Parys afswalk na die man­ko­lieke ou bruin posbussie onder, regoor die ry geduikte vullis­blikke, toe het ek finaal voor die onafwendbare gestaan, wit op swart daar in die brief in my hand: ons kon nog ses maande in Parys bly; dan moet ons terug Suid-Afrika toe. Dan moet ons weer die bande vasknoop wat ons byna twee jaar gelede losgeknoop het; dan moet ons weer die las van verantwoordelikheid op ons laai wat meegebring word deur die blote feit dat mense van jou volk en taal sekere eise aan jou stel (soms ten regte; alte dikwels ten onregte). Ek het altyd geweet dat dié dag sou kom. Meermale selfs uitgesien daarna. Maar nou dat dit finaal daar wás, nou dat die einde van dié stukkie pad skielik in sig gekom het, nou het alles ineens soveel kosbaarder as ooit tevore geword. Elke ding sou ek in die ses maande wat oorbly, met nuwe oë sien; die geringste ge­beurtenissie sou die betekenis van ’n simbool kry: die uitspan­sel van die Luxembourgtuin met kinders en stootwaentjies, en vryende en studerende paartjies, en ou mannetjies met swart ba­rette wat smiddae boules tussen die winterbome speel. Die grys Seine met die lang plat Normandiese bote. Die skewe geboue-lyne in die Rue de la Harpe. Polisie in swart vlermuisjasse voor die Hôtel de Ville. ’n Ou vroutjie met ’n lang brood onder die arm. Die torinkies van die Conciergerie teen die westergloor. Selfs die knoffelruik en die verslonste boemelaars in die métro.

    En nóg iets. Toe ons die aand voor ons kaggel sit met die yswind buite teen die ruite, is dit my vrou, Estelle, wat sê:

    As ons oor ses maande moet terug, moet ons darem nog ’n iets meer van Europa ook te siene kry.

    Ons hét natuurlik al ’n bietjie rondgeswerf, veral tydens die vorige jaar se vier maande lange somervakansie. Ons het op ’n grys winddag oor die relings van ’n brug oor die vuil Ryn geleun en die toringspitse van Keulen se katedraal deur die mis gesien. Ons het langs die gragte in Amsterdam gedrentel en enorme pannekoeke in die Vijf Vlieghen verorber. Ons het deur die stegies van Soho gesnuffel en deur die Skotse heidevelde gery. Ons het saam Olé! geskree by stiergevegte in Spanje en ons het verdwaal tussen ou Romeinse ruïnes in Suid-Frankryk. Maar wat is dit van Europa, die groot, oorvol, moeë, lewensdriftige vasteland rondom ons? Nee, gewis: ons sou die lendene moes omgord en ’n pelgrimstog êrens heen onderneem.

    Wáárheen sal ons gaan? het ek oplaas gevra, net om van al die gedagtes ontslae te raak.

    Dalk weer na Spanje? Die suide moet ons nog sien –

    Of anders sommer net weer in ’n vissersdorpie aan die Costa Brava gaan lê, soos laas jaar saam met Rona-hulle in Calafell, be­aam ek.

    Maar ons besef albei: hoewel ons geen begeerte het om Europa te doen nie, wil ons darem graag iets núúts ook sien. Buiten­dien, as ons teruggaan Spanje toe: wie weet hoe ons dit sal tref? ’n Ervaring herhaal hom nooit; en ’n poging daartoe kan net die uniekheid van so iets skaad. Ek sou byvoorbeeld graag een hele somer in die klein kusdorpie Padstow in Cornwall wil gaan woon om te skryf: maar dan verstoor ek dalk die pieuse herinnering aan die onvergeetlikste sonsondergang in my lewe.

    Skandinawië? stel Estelle voor. Dis mos mooi, sê almal.

    Pragtig, beaam ek.

    Of Duitsland of Oostenryk.

    Of Ierland.

    Of Griekeland –!

    Of Italië.

    Daar word geredekawel en geëlimineer. Maar eintlik is daar nie werklik ’n probleem nie: as ons moet kies, sal ons eerder suid­waarts gaan as noord. Dis moeilik om te verduidelik; dit het niks met die skoonheid van die land te make nie. Miskien hét ons net ’n groter voorliefde vir die Romaanse mense en hul warmte, hul onverstoorde menslikheid. Want die noorde is te reglynig, te doeltreffend, te ‘beskaaf’; te higiënies; te protestants. Die suide is onhigiënies, deurmekaar, krom en skeef, luidrugtig, melo­dramaties, onvoorspelbaar. Die suide lê nader aan die hart van die driftige mens sélf. In Duitsland sal g’n voetganger dit waag om teen ’n rooi lig oor te stap nie; in die suide is die wet vir die mens gemaak, nie die mens vir die wet nie. In die noorde gaan dit om die wins van ’n transaksie; in die suide kan die lewe nog meditatief gelewe word; môre is nog ’n dag. (Hulle sal jou in die suide nog gruweliker kan verneuk as in die noorde – maar die instelling is anders: ek glo nie dit gaan in die éérste plek om die winspersentasie nie, maar om die swendelaar se vernuf teen joune.)

    Uiteindelik moet ons dus kies tussen Griekeland en Italië. ’n Muntstuk moet maar beslis. Die een wat verloor, sal met ons vol­gende reis – ééndag – heel eerste aan die beurt kom.

    Marianne se kop op die muntstuk val bó. Dus: Italië.

    *

    Na die Gare de Lyon, op die aand van 7 April. Die métrorit van ons stasie af is nie alte ver nie, maar is by voorbaat uitputtend. Want die ondergrondse gange en treine is dié tyd van die aand suf en taai van die dag se hitte, en swaar van die reuk van sweet en knoffel. In die trein is daar ook ’n langhaarmeisietjie en ’n jong soldaat op pad stasie toe. Dis nog net die meganiese afskeid wat vir hulle voorlê; die uur van hartstog is al verby en al die bewegings wat nou oorbly, is willoos en moeg, die hande tastend besig met ’n moeë mimiek van die liefdespel, ’n trae wierbeweging daar tussen die bruin métrobanke in die hol druising van die tonnel. ’n Futiliteit klou aan al hul gebare en hul enkele woorde, maar tog sit hulle die toneelspel voort om die dinge ónder vir mekaar verskuil te hou.

    Dan die stasie self, kruispunt van die menigte; die ewigdurende in transit van die mensdom, die rustelose kriskras van die botte lewe-sonder-doel. Ons minnepaartjie kry koers na ’n soldatetrein aan die punt van ’n lang perron. Dis propvol; hulle sit gebondel in die kompartemente, drom in die gangetjies, tros by die vensters uit, elk verwese met sy sakkie bagasie. Op pad na die suide – Algerië dalk? Hoog teen die aandlug ’n enkele lig. Vérlangs die liggaamlose kraakstem van ’n luidspreker. En die wysters van die stasiehorlosie spring monotoon van strepie na strepie, soos ’n dogtertjie wat een-been hopscotch speel. Die trein ruk. ’n Paar laaste paartjies groet. ’n Vrou met geverfde hare lag té hard. Die meisietjie van flus snik asof haar hart wil breek. Maar die trein is al weg in die nag.

    Dis tyd dat ons óns kompartement gaan opsoek. Wonder bo wonder is ons vanaand vyf minute vroeg. Gewoonlik kom ons op die heel laaste nippertjie op stasies en lughawens aan, uitasem, smoorkwaad vir mekaar en niks meer lus vir die reis wat voorlê nie.

    Ons trein sal ons oornag na Milaan toe neem. Natuurlik moes ons slaapplek bespreek het, maar die vorige keer het ons ’n duur les geleer. Mens betaal nie net by die twee rand vir ’n bed nie, maar dan bestaan dié buitendien nog net uit ’n paar nie-te-skoon komberse en ’n onaansienlike kussinkie. G’n lakens nie. Boon­op beland jy met enige denkbare versameling mense in jou slaap­kompartement. Bedags gee ek nie om nie; dan vermy ek juis die alleen-ry om meer van die land se mense te kan sien. Maar in my slaap wil ek nie gepla word nie. En g’n drie maande gelede nie, op pad van Nice af, was ek en Estelle juis die nag saam met ’n krioelende Franse gesin in die bedompige hokkie. Daarom: van­nag gaan ons sit-sit slaap. Beproef alle dinge, leer die apostel.

    Maar die apostel het nog nie in ’n oorvol kompartement dwars­deur die nag in die sneltrein van Parys na Milaan gereis nie. Met ons intrap sit die kompartement al bankvas van Italianers. Ook nie Italianers met wie mens in jóú skamel Italiaans kan gesels nie. Nee, dis ’n duistere dialek wat die hemele hulle in die hier­na­maals maar moet vergewe. Ons kry darem ’n sit- en pak­plekkie oopgeskoffel; maar ons sit so pas, toe kom daar ’n gesette Italiaan­se tante ook in. Ons glimlag almal breed en skud ons koppe en beduie met vingers en hande dat hier g’n plek vir ’n vlooi meer is nie. Maar dis een van dié soort verouderde amasones – of sabyne – wat haar nie laat áánsê nie. Sy beduie net oor haar skouer na die kruier dat hy maar moet begin aangee. Een tas. Nog ’n tas. Nog een. ’n Sakkie vrugte. Twee kartondose. ’n Koekblik. ’n Trommel­tjie. En toe ons uiteindelik met groot oë na mekaar kyk, toe nog ’n koffer. Nie sommer hoentoe se koffer nie. Dis ’n ark in die kleine, en niks minder waardig as sy voorganger nie. Hierin kan ’n staats­man ter ruste gedra word.

    Toe, wat wag jy? snou sy die hygende kruier toe. Fooitjie? Watse gebedel is dit? Is jy nie beter gewoond nie? Voert!

    Sy draai haar weer terug na ons, plaas haar ta’ Ingeltjie-hande op haar heupe en vra: Toe? Help julle nie ’n arme weerlose vrou met haar pergasie nie? (Dis die naaste wat ek in Afrikaans aan haar dialek kan kom.)

    ’n Paar van ons gee lang slukke van verbystering en veront­waardiging. Twee of drie staan op en begin help. Ek verseg. Ek het ’n broertjie dood aan dié soort vermetelheid.

    Met geblaas en gehyg word die meeste goed êrens ingestoot. Nou vir die koffer. Sy kyk ’n keer rond en haar oog val op ons rooi tas op die rak bokant my bespreekte plek.

    Af met daardie ding! sê sy.

    Dit oordonder ons almal so dat ek selfs help om die rooi tas af te haal – menende dat sy haar koffer eers wil instoot sodat ons tas weer bó-op tereg kan kom. Maar wat wou. Toe ek terugmik met die rooi tas, sê sy:

    Ek wil nie ander mense se goed op myne hê nie. Dit sal my koffer beskadig.

    Daar stáát ek toe, soos Luther vanslewe. Ek kan nie eens genoeg van haar taal (wat nog dialek!) praat om haar te sê wat ek wíl nie. Hoogstens kan ek sê: ‘Aangename kennis’, of ‘Baie dankie’, of ‘Wys my die pad na die stasie’ of so iets. En dis nie presies wat ek op daardie stadium in gedagte gehad het nie.

    Ek rig ons rooi tas toe maar teen my knieë in. Daar heers nou ’n gespanne stilte. Een of twee van die kêrels wat haar gehelp het, haal sigarette uit.

    Luister, asseblief, almal! dreun haar stentorstem skielik. Ek wil hê ons moet mekaar goed verstaan: ek laat nie toe dat daar in hierdie kompartement gerook word nie.

    Een van die kêrels spring op. Hy’s briesend. Maar sy maats trek hom weer terug.

    Die trein ruk. Daar trek ons. ’n Heerlike koel windjie kom by die venster in en verdryf die ondraaglike bedompigheid.

    Toe met die venster! beveel die tante. Mens kan nie met ven­ster én deur oopsit nie. Jy sal koue op jou dinges kry. Tóé!

    Dié keer bars almal tegelyk los. Dit kakel en gerrebek en beduie en jou van alle kante. Heerlik selftevrede snoesel ek in my hoekie terug. Maar wat, op die duur daag die kondukteur op – en die regulasies verplig hom om die ou feeks gelyk te gee.

    Brom-brom leun almal terug en probeer maar slaap. Maar toe trek die oubaas oorkant my sy skoene uit en die dampe wat dáár uitwalm is genoeg om ’n groot pot stérk sop mee te kook.

    En so skommel ons die ganse nag voort. Stilhou, ruk, ry. Stil­hou, ruk, ry. Dan die Franse grens. Paspoorte wys. Bagasie ver­klaar. Honderd meter verder: die Switserse kant van die grens. Ditto. Een­keer moet van die bagasie oopgemaak word. ’n Paar uur daarna die oorkantste Switserse grens; toe die Italiaanse.

    ’n Brandende hoofpyn vlam agter my oë. Probeer maar slaap. Deur die vroeë môre ratel ons voort oor die vlaktes van Lom­bardye. Een keer ruk my oë oop en staar uit oor ’n ontsaglike mis­tige meer en ver heuwels. Dan val die lode lede weer toe.

    En halfnege, goddank, sê die stasiebord: Milano.

    Voetspore deur Milaan en Verona

    Daar is ’n paar reëls wat ons so algaande deur ons reise vir ons­self begin opstel het: reëls wat soms uit nood gebore was, maar soms bloot omdat hulle die maklikste en mees praktiese was om te volg. Ons vermy byvoorbeeld posh hotelle – om meer as een rede. Ten dele omdat ons gewoonlik óf platsak is óf verkies om ons geld beter te bestee as aan ’n verblyfplek waar ons tog net die nagte­like ure deurbring (gewoonlik só poot-uit dat ons in elk geval op énige plek aan die slaap sal kan raak). Die belangrikste rede is egter dat g’n luukse hotel ooit deel van ’n vreemde stad vorm nie. Dis op sy ergste net ’n klein Amerikaanse of Britse kolonie­tjie en op sy beste ’n poging van die stadsburgers om dit vir uit­landers makliker te maak. Albei verseker ’n sorgvrye, gemaklike bestaan; maar dit kan mens tuis geniet. Op ’n reis het ek die pes daaraan om soos ’n skilpad jou bekende dop alewig saam te dra.

    Ewewel, ons soek dus gewoonlik ’n hotel wat – as dit enigsins kan – pas by die land, die stad, die mense wat daar woon. Dit werk natuurlik nie altyd uit nie, want twee ander oorwegings kom by: dit moenie alte duur wees nie (in Suid-Frankryk het ons in groot, heerlike hotelkamers gebly teen 700 frank – een rand – per dag vir twéé persone); en dit moenie ver van die stasie af wees nie. Laasgenoemde reël spruit uit die feit dat ons gewoonlik per trein reis in Europa. (En hoe gerieflik is dit nie! In Italië kan jy byvoorbeeld vir 21,000 lire – sowat R25 – ’n tweedeklaskaartjie koop waarmee jy ’n hele maand lank kan reis, net waar en wan­neer jy wil. Klim net op, en as jy ’n oulike plekkie sien, klim af en staan daar oor tot die gees jou verder lei.) Daarby is dit Basta! aan enige kruier of huurmotor (behalwe in Spanje, waar jy myle der myle vir tien sent kan ry). Ons dra self ons bagasie, al gaan dit swaar. En gewoonlik gáán dit swaar: o, ons begin lig, met net een tas, Estelle se skouersakkie en ’n helderrooi seilsakkie vir kos en kameras. (Hy vervul ook nog die funksie dat hy op enige eenselwige toneel nét die nodige tikkie kleur vir ’n kleurfoto kan ver­skaf.) Teen die einde van die reis lyk dit egter na ’n trek uit Egipte­land. Maar dan maak dit nóg nie saak nie: solank die hotel nie te ver is nie.

    Ons soek ook altyd héél eerste so na ons tuisplek vir die vol­gende nag of nagte, pak daar af – en dan vaar ons uit. By die eerste kosstalletjie koop ons brood en vrugte en kaas: want op reis sorg ons altyd self vir ons ontbyt en vir een van die dag se ander twee etes. Dit kom nie net goedkoper uit nie, maar dit bespaar jou die ergernis van kilometers ver terug te loop na ’n restaurant as jy dalk op die middaguur ver buite ’n dorp of stad aan ’t dwale is.

    Maar dié dag in Milaan oortree ons toe willens en wetens ál ons beproefde reëls, uit pure haastigheid om in die stad self te kom, wat ’n allemagtige ent van die stasie af lê. En ons stap, met alles behalwe net die tas; rus halferwege op ’n bankie onder die groen koeltebome van – vermoedelik – die Piazza Repubblica. Ter­wyl Estelle naarstig aan ’n lemoen sit en suig, bestudeer ek die stads­kaart. (Dis één ding wat ons vooraf probeer in die hande kry.) Dan weer in die sonpad voort: reguit vorentoe. En ondanks die las van ons bagasie en die loodswaar herinnering aan die vo­rige nag se slaaploosheid, probeer ek my wysmaak dat daar tog iets op­windends in die tog is. Want dis immers uit eie vrye wil dat ons daar stap, nie omdat dit so hoort of omdat wié ook al dit van ons verwag nie. Dis een van die min kanse wat mens het om voluit jy te wees, so op reis. En selfs ’n bietjie metafisika is seker nie in die bloedige hitte onvanpas nie: dat so iets dus eintlik een van die lewe se min waarlik kreatiewe ondernemings is; ’n vol­waardige manier van eksisteer. (En om te eksisteer, leer die filosofie, is glo om te word.)

    Ons stap dus aan, reguit; hou koers soos enige opgeskote voor­trekker. Reg door zee. (Al moet mens dan, soos Columbus, by die Nuwe Wêreld uitkom in plaas van by Indië.) Dis tog nie die uitkom-êrens wat so saak maak nie, dis die gaan; die opneem van die kruis in ’n nuwe gedaante …

    Dis hoe ek my so stap-stap probeer troos. Maar die son brand weldra alle verhewenheid uit mens uit en laat jou kaiing-kaal oor­bly met net wat jy het: jou bagasie, jou seer voete, jou seer kop, jou seer rug.

    Dis sommer malligheid dié om die stasie so ver van die stad af te bou, begin ek brom.

    Ek het jou gesê ons moes ’n bus gehaal het, herinner Estelle taktvol, sonder om na my te kyk.

    Hoe moes ek weet die pad gaan so lank wees? (Asof dit háár skuld is!)

    Is jy seker ons is op die regte pad? vra sy.

    Natuurlik.

    Ek sou vra as ek jy is.

    Maar vra vra ek nie: nie so aan die begin van ’n reis as ek nog hardekoejawel voel nie. Dis gewoonlik hoe ons eerste rusie begin. Ons ploeter dus maar voort en staar verlangend na trems wat ver­by­rammel.

    Uiteindelik keer Estelle tóg iemand voor en vra die pad. (Ek maak boos of ek niks sien nie; maar intussen spits ek my ore.)

    "Sempre diritto," beduie die man.

    Ons loop aan; praat nie meer nie. Hene, mens sou ten spyte van die slaaplose nag tog nog ’n bietjie lewenslus kon voel as daar net iets karaktervols in die omgewing te siene was! Maar Milaan is nie ’n goeie stad om Italië mee te begin nie: nywerhede, voor­uitgang, steriele moderne woonstelblokke wat net so goed op Manhattan-eiland of in Johannesburg kon gestaan het; steiers, haas­tige mense; luukse motors – bitter vér van die legendariese dolce far niente van die warm suide.

    Selfs die Scalapleintjie en die befaamde operagebou is dus teleur­stel­lend toe ons eindelik natgesweet daar verbykom. Ge­lukkig is daar vriendeliker koelte in die groot arkade van Vittorio Emanuele, wat soos ’n ontsaglike skulp ruis van stem­me en voetstappe en die geroep van blommeverkopers en koerant­joggies.

    Aan die ander kant van die arkade staan die katedraal. Die uit­sig word enigsins versper deur ’n klomp bougereedskap op die plein en die oorverdowende gedreun van kruiptrekkers en hys­krane; maar dit lyk gewis imposant – soos dit heet – met sy duisende torinkies soos versteende takke of stalagmiete. Maar iets ontbreek: ’n hoogte, ’n dinamiek boontoe, ’n ophef van die arms na die hemele van waar die hulp moet kom.

    Binnekant is dit ruimer, koeler, salwender vir die moeë gees; en met twee pragtige herfsvensters aan die kant van die apsis, en hier en daar ’n dun bundel lig deur die donkerte waar daar ’n klein ruitjie ontbreek.

    Ná middagete op sy Italiaans (maar met minder spaghetti as wat mens graag in jou bord sou wóú sien), slenter ons deur die hete strate aan na die ou Sforza-vesting. Hier êrens moet Leonardo aan sy ruiterstandbeeld gewerk het, in opdrag van Lodovico il Moro: sommer tussen al sy ander bedrywighede deur – vestings bou, krygstuig ontwerp, vlerke prakseer, die Laaste Avondmaal skil­der; of rondloop op die mark en daar voëltjies in hul koutjies koop net om hulle weer vry te laat. Leonardo die sonnige, on­blus­bare Renaissance-man, die buite-egtelike seun van ’n edel­man en ’n boeremeisietjie uit die klein dorpie Vinci. (Hoe dik­wels gebeur dit nie so nie! Daar is onder meer die storie van Robert die Duiwel, koning van Normandië, wat die bekoorlike leer­looiersdogter, Arlette, haar mooi bene in ’n stroompie sien was het, haar net daar in die gras omgekeer en Willem die Ver­oweraar verwek het – en daarmee die wêreldgeskiedenis vir altyd verander het.)

    Oor Leonardo se ruiterstandbeeld is daar sélf ’n verhaal. Dis die enigste dergelike stuk werk wat hy ooit aangepak het. Sketse daarvan het behoue gebly: ’n beeld wat heerliker en grootser sou wees as Donatello se Gattamelata in Padua of Verrocchio se uit­dagende Colleoni in Venesië. Hy kon net in sy kort vry oom­blikke daaraan werk; maar oplaas was dit klaar, triomfantelik ge­reed om gegiet te word. En toe kom die invallende Franse leër, bars by die vesting in en kap die beeld aan fyn stukkies.

    Van die Sforza-vesting stap ons seervoets met eindelose om­paaie langs na die Via Magenta waar die rooibaksteenkerk van Santa Maria delle Grazie eindelik om ’n kinkel in die straat ver­skyn; verbasend onindrukwekkend vir die roem van sy groot bou­meester, Bramante. Maar binnekant, binne die vier nugter mure van die refectorium, is daar die Laaste Avondmaal sélf – op die enigste van die vier mure wat ’n bomaanval tydens die oor­log oorleef het. Ondanks die verwering – miskien dáárom – is daar ’n beheerstheid en ’n suiwerte aan dié groot werk wat al die hitte van mens wegneem en jou stiller en dankbaarder laat terug­gaan.

    Omdat ons ons reël verbreek het, moet ons teen die late middag tóg vervaard gaan raad vra by die toeristekantoor in die stad. En danksy (!) hulle ontferming en hulpvaardigheid beland ons in ’n karakterlose hotel, vér van die stasie af en onredelik duur. Maar ons het mos gesóék daarvoor en moet ons wrewel dus maar sluk.

    Van Milaan was dit voorlopig egter genoeg. Dié plek is ons woning nie, om dit Totiaans te sê. Die volgende môre wag daar darem één stukkie suiwer genot net voor ons wil vortgaan: on­der ons ven­ster kom ’n paar straatmusikante verby, gehawend en vuil en vervod: een met ’n hoed, een met ’n fluit, en die derde met doedelsak, drom en simbaal alles tesaam (die drom en simbaal is op sy rug vasgemaak en word met behendige voetbewegings be­speel: dis met ’n toutjie aan sy groottoon vas). Drie verslonste ou siele, er­barmlik so op die Sondagmôre, maar met ’n liedjie wat só sing en só uitbundig voortsprankel, dat mens lank ná hulle verbygaan nog by die venster staan: skaamteloos ontroer, en ver­baas, verruk voor die ontdekking – of herontdekking – van iets so onuitroeibaar blymoedigs in die mens: ’n wil-om-bly-te-wees, ’n vermoë om uit stof en as geluid te maak, sy nederige halle­lujas te sing, en in die proses te weet: ek lééf; ek is!

    Ons plan was om deur te steek na Venesië, maar halfpad lyk Verona se okergeel en rooi en bruin mure toe té aanloklik in die lenteson en ons stap daar van die trein af. Deur die Porta Nuova in die omhelsing van die stad se ou Middeleeuse muur stroom die Sondagskare, verby die bruin arena met sy suur opsigter al met smal stegies langs na die katedraal. Ons spoel op die Danteplein uit, dokter daar ons voete, verlustig ons aan die Romeo-en-Juliet-balkonnetjies wat vriendelik aan die fasade van elke gebou aan­gebring is, en stap oplaas met ’n wye bog rivierlangs tot by die kasteel: ’n kasteel soos dié van die sprokiesverhale uit mens se klein­tyd, met gehapte mure waarlangs jy van toring na toring kan loop; spits venstertjies waar jy kan uitkyk oor die oranjerooi brug en die blou rivier; trappe wat afkantel na tralievensters en koel kelders; swaar ou deure met massiewe grendels; ronde dik­glasruitjies voor gotiese vensters.

    Voldaan keer ons eindelik terug na ons lêplekkie vir die nag: dis dig­by die Porta Nuova, half aan die agterkant van ’n gebou, by ’n sardoniese kaalkop-Italianer wat ons deurgaans onder­langs be­skou en dan luidrugtige opmerkings oor ons maak teen­oor die gaste wat by die tafeltjies in sy restaurantjie sit. Hy weier ten ene­male om te glo dat ons getroud is; en selfs nadat hy Estelle se pas­poort grondig bestudeer en kommentaar oor haar foto gelewer het – selfs ná hy reeds ons kamer met sy breë letto matrimoniale (dubbelbed) aan ons afgestaan het – spreek hy haar nog kon­se­kwent as Signorina aan.

    Dis nie die eerste keer dat dit met ons gebeur nie. Gewoonlik help ’n paspoort op die duur. Maar in Avignon het ’n verontwaardigde hotelvrou ons daar uitgeja met ’n lang rits skeldwoorde eindigende met die opmerking dat haar eerbare hotel nie vir sulke dinge gebruik word nie.

    Hoe dit ook sy, die kamer self, bo in ’n smal geboutjie wat byna ’n soort toring bo maak, is vriendelik en gesellig met sy eie Juliet-balkonnetjie. Dit kyk egter nie uit oor ’n romantiese tuin nie. ("It is the east, and Juliet is the sun …!") Onder is daar net twee klein groentewinkeltjies, ’n ry vullisblikke en – ver – die verligte toring van die mooi ou kasteel.

    Lug en water: Venesië

    In Venesië is niks heeltemal reëel nie. Dis ’n wêreld in ’n seep­bel of in die kristal van ’n fortuinverteller. Dis ’n lugspieëling, ’n sprokie van lug en water waar elke skewe gebou, elke gestreepte vas­meer­paal, elke slank gondel, elke brug, elke verbyganger sy dubbel­ganger het, omgekeer en flikker-flakker in die water; sodat jy op die duur nie weet of dit die onderstebo rimpelwêreld of die reglynige regop een is wat die waarheid is – en of albei dalk maar flitsende skaduwees teen Plato se grotmuur is nie.

    Venesië is ’n stad soos ’n gedig, met baie bybetekenisse glim­mend aan die rande, soos Van Wyk Louw van Marsman gesê het. Elke gebeurtenis en gebaar neem ’n veelvuldige betekenis aan. In hierdie opsig is dit ’n voorbereiding op Rome, waar jy ook voort­durend bewus is van die beskawings en geslagte vóór jou. Maar in Venesië is dit nie net ’n historiese dubbelsinnigheid nie; of nie in die éérste plek ’n historiese dubbelsinnigheid nie. Venesië met sy baie weerkaatsings in die gragte wat sy honderd-en-agtien eilandjies van mekaar skei, is alreeds op die oppervlak vol bybetekenis; en verder is hy dit deurdat mens deur soveel oë tegelyk na hom kyk.

    Want hoe kan jy deur die stegies dwaal en na die vervalle reste van ou Renaissance-paleise staar sonder om Ruskin se The Stones of Venice in jou kop saam te dra? Hoe kan jy op ’n operige pleintjie aankom sonder om jou te verbeel dat jy stemme hoor wat sê:

    "Were I the Moor, I would not be Iago:

    In following him, I follow but myself …"?

    Of hoe kan jy deur die ou hertoëpaleis wandel en nie Othello self sy trotse en pragtige woorde hoor sê nie:

    "Rude am I in my speech,

    And little bless’d with the soft phrase of peace …"?

    Dis eintlik dán eers dat mens met ’n skok besef hoe subtiel die werk van ’n kunstenaar in die lewe is: want dis omdat hý die on­skone dinge helder maak dat mens dit beter leer ken. In so ’n mate dat jy heeltemal van die historiese figuur kan vergeet en tog nog by die essensiële waarheid bly, soos die kunstenaar dit oor­gelewer en verduursaam het.

    So kan mens deur die kronkelstraatjies van Venesië dwaal en in jou verbeelding onthou wat George Eliot in haar pragtige briewe daarvan geskrywe het of Henry James in sy briljante joernaal. Of langs die Canal Grande onderkant die San Marco-plein, en George Sand se kleurryke relaas in jou ore hoor: van hoe sy saam met die bleek, fyn Franse digter Alfred de Musset hier kom vakansie hou het, siek geword het en uiteindelik ’n hartstogtelike verhouding aangeknoop het met die dokter wat haar kom verpleeg het – sodat die arme Musset vol selfmoordgedagtes alleen moes terug­gaan! Dit kan ’n speletjie word. En soms kan dit jou ook skielik in ’n hoek vaskeer dat jy versteld wonder: Hemel, is daar dan op aarde géén unieke ervaring meer oor nie? Is die Prediker se woorde dan waaragtig wáár: dat daar onder die son niks nuuts is nie? Dat alles wat ek belewe, tot die allerindividueelste ervaring toe, reeds deur iemand anders beleef is? Vir ’n skrywer kan dit tot paniek of tot algehele verslaenheid dryf: die voortdurende ontdekking dat alles wat jy sê, die heel oorspronklikste van jou vondste, reeds deur ander vóór jou gesê is (en dalk beter gesê is!). Sodat jy op die duur maar saam met Baudelaire wil smeek:

    "Nous voulons, tant ce feu nous brûle le cerveau

    Plonger au fond du gouffre, Enfer ou Ciel, qu’importe?

    Au fond de l’Inconnu pour trouver du nouveau!"

    (So hewig brand die vuur in ons verstand dat ons die afgrond in wil spring – hemel of hel: wat maak dit saak?–tot in die hart van die Onbekende, net om iets núúts te vind!)

    Maar sodra jy dié versugting voel, dan besef jy dat selfs dít al voor jou deur ander uitgespreek is. En dan leer jy op die duur maar ’n soort ironiese berusting, ’n soort filosofiese ekwivalent van Einstein se relatiwiteitsteorie.

    En só kan jy jou verkenning van die stadsoppervlakte dan her­vat, a wiser and a sadder man.

    Dis ’n sonderlinge manier waarop mens met die trein hier aan­kom, met ’n kilometer lange spoorbrug wat oor die wye lagune loop. Die lug is mistig sodat daar geen horison is nie: net die ge­ratel van die trein deur ’n nimmereindigende heelal waar jy sonder­ling van jou eensaamheid bewus is.

    Daarom is die aankoms by die stasie des te verrassender. Een oomblik reis jy nog deur die mis. Dan dring die stad soos ’n lug­spieëling deur die kimlose ylte. En skielik is jy in ’n ontsag­like stasie­gebou wat weergalm van stemme en voetstappe, een ha­ren­tare spul kruiers en reisigers en verlorenes en pensventers. En ver­teen­woordigers van hotelle, elk met ’n kleurryke brosjure, ’n blou pet, gek hande wat soos skoenlappers bly dwarrel, en ’n knoffel­asem. Hulle staan twee lang rye by die uitgang en vorm ’n ere­wag vir ons, arme reisigers met ons rooi tas, wat so netjies in hul strik loop. Dit babbel en kwetter en gons en beduie. Alkante flad­der boekies. ’n Mengsel van Italiaans, Frans, Engels, Duits.

    Eers probeer ons vriendelik maar vasberade op Italiaans: "Grazie. Abbiamo un albergo – Dankie, ons het ’n hotel."

    Dit was nét die verkeerde benadering. Hoe durf ons self besluit waar ons wil heen gaan? Ons oortree die elementêre reëls van die toerisme daarmee. ’n Toeris mag mos nie dink nie – waar’t jy van so iets gehoor?

    Oplaas bly daar net een raad: Boere-Afrikaans: Voertsek, dem­mit!

    By een of twee werk dit soos ’n towerspreuk. Maar ander flap­per nog agterna, probeer die tas uit ons hande trek en kwinkeleer dat hoor en sien en humeur vergaan. Oplaas is ons egter by die laaste bushalte verby (tot die groot verontwaardiging van die kêrel deur wie ons uiteindelik met duiwelse lis ons tas laat dra het sonder die minste gedagte om na sý hotel te gaan). Ons swenk op in ’n bont straatjie vol stalletjies met snuisterye en lekkernye: die meeste daarvan verspotte blink toeristeware. Onderweg tik ons die paar hotelle op ons lysie een vir een af. Dié een lyk te luguber. Daardie een te bo-blink-onder-stink. In die derde staan ’n afwagtende agent soos ’n roofvoël. Om hom te ontwyk, swenk ons links op by ’n straatjie wat so smal is dat ons nie langs mekaar kan loop nie. ’n Pragtige stegie, ewe mooi genaamd: die Calle Misericordia. (En dis dié naam wat Estelle oorreed om te gaan staan en ’n paar geldstukkies uit te grawe vir die kreupel bedelaar teen ’n muur.)

    Voor Casa Camurri knipoog een beskeie uithangbord. Ons kyk na mekaar – en gaan binne. Dis ’n klein tuisplekkie met ’n dowerige, hartlike ou grys man en ’n wipperige klein dametjie wat soos ’n kwikstertjie al om mens dans, tog té gretig om plesier te verskaf. Binne is dit skoon en vriendelik en stil.

    Dis nog nie lank dat hulle mense herberg nie – dit vind ons in die loop van ’n gesprek met die kwikstertjie uit (sy praat nét Italiaans) – en hier kom maar min mense in dié klein straatjie verblyf soek. Daarom is ons dubbel welkom en ons word koninklik onthaal, op minder as een rand stuk per dag.

    Terstond besluit Estelle: Venesië gaan ’n lekker stad wees!

    Want hoeveel beteken mens se verblyfplek tog nie op die duur vir jou indruk van die hele stad nie! Dalk is dit een rede waarom Milaan vir ons so onpersoonlik gebly het. Die plekke in Europa wat heel eerste in ons herinnering sal terugspring, is almal dié wat ons op ’n besondere manier geherberg het.

    Venesië is ’n kaleidoskoop, ’n deurmekaar patroon van water en gondels en flakkerende weerkaatsings en kleurryke huise en stringe winkeltjies en duiwe en mense. Maar langs watter kronkel­gangetjies jy ook al beweeg, vroeër of later kom jy tóg op die Piazza San Marco uit: die hart van die stad. Dis waar die ganse stad kom asemhaal wanneer die ronddool in die verstikkende steë en alleë ’n mens te benoud maak. Dis genoeg om net daar te sit en die bonte, nimmereindigende skouspel van die lewe voor jou te sien verbystroom. Gewoonlik maak ons ons sommer op ’n klip­trappie tuis; maar een middag het ons dit gewaag om koffie te bestel by een van die bont tafeltjies wat daar op die plein voor die suile­gaanderye staan. Koffie met skuim en sjokoladeraapsels op; maar dit kos 400 lire stuk (amper veertig sent). En uit skone hals­starrigheid weier ons toe maar om ’n fooitjie te gee, net uit verset teen soveel uitbuitery waarin ons willens en wetens beland het.

    Dáár is immer iets om na te kyk. Die koepels en minarette van die San Marco-katedraal, blou, goud, mosaïek: dié vreemde mengsel van Bisantynse en Europese boustyle wat jou daaraan herinner dat Venesië al die eeue nog ’n plek was waar Oos en Wes mekaar ontmoet en vryelik meng. Links van die katedraal staan die twee groot bronsreuse op die kloktoring, gedweë vasgeknelter aan hul klok. Tot die oomblik voor hulle slaan, wéét hulle nie eens dat hulle gaan beweeg of hoeveel slae hulle sal laat uitgalm nie: twee Simsons, ewig vas aan die Tyd.

    Maar dis ook dié twee reuse wat Casanova gehelp het met een van sy ‘veroweringe’. Met ’n gesiene adellike dame het hy mos ’n wed­denskap aangegaan dat hy binne ’n week by haar sou slaap. Sy was gevlei deur die gedagte, maar daarby vasberade om die verwaande kêrel ’n les te leer. Daarom het sy haar paleis dag en nag laat bewaak: totdat die twee reuse twaalfuur middernag, ’n week ná die weddenskap, aangekondig het dat die tyd verstryk het. Opgewek het die wagte huis toe gegaan. Casanova het op­ge­daag, berouvol erken dat hy verloor het, ’n bietjie met die dame geflikflooi – en toe die gordyne van die hemelbed om hulle toe­getrek. Nadat hy sy belofte gestand gedoen het, het hy breed geglimlag en aangekondig dat hy die stadshorlosie ’n uur voren­toe gestel het: die tyd vir die weddenskap was nog nie verstreke nie …!

    Regs van die katedraal staan weer die Palazzo Ducale, die stra­lende ou hertoëpaleis wat reeds in die veertiende eeu opgerig is en wat met sy kant-en-versiersuiker-fasade geen denkbeeld gee van die lugubere tronkvesting aan sy agterkant nie.

    Rondom die ganse piazza strek daar die pragtige Renaissance-fasades, die gaanderye met kant- en glaswinkels en hotelle en restaurants.

    As mens nie na die geboue wil kyk nie, is daar oorgenoeg be­weging in die milde lenteson. Daar is duiwe, te lui om op te vlie na skouers of hande, pronkend of wiegend verby toeriste se san­dale; af en toe met gekrenkte waardigheid as iemand hulle am­per raak trap – half verwilderd, soos ’n ministersvrou vas­gekeer deur ’n reënbui. Daar is kleingoed wat rondwaggel met uit­gestrek­te armpies en oop bekkies en beentjies wat maar gaan soos die voetjies trap, sonder keer of beheer. Poskaartverkopers, duiwe­kosverkopers, fotograwe – almal op die eindelose vernederen­de ronde van toeris tot toeris, ’n ieder takserend op sy uiterlik. Rubens-agtige vroumense soos worse met te veel spek ingestop in hul potsierlike kort- en langbroeke. Oues met plat hakke en koeëlronde rooi snawels en sidderende koppe. Groot buileriges met swabbige kroppe; of skraal meisietjies wat húlle botseltjies verskans in puntige bra’s: of lang rietiges met reierlitte, met rokke te lank en skouers te krom … En oor iedereen lewer die tros gondeliers en poskaartverkopers daar onder aan die punt van die piazzetta hul kommentaar, opgeluister met kopswaaie en hand- en mondgebare.

    Blakende son en verruklike blou lug, met die Lido-eiland ver teen die dun kim, en die gondels tussen hulle vasmeerpale ewig aan die buitel en bokspring …

    Eindelik slenter ons langs die fondamenta af, oor kleiner kanaal­tjies, verby die Ponte dei Sospiri met sy swierige krultralies voor die vensters, al langs die water wat spartel en die gondels wat slinger. Hier swaai ons willekeurig by ’n calle in, koes deur sotto­portegos, verby glaswinkels en glaswinkels en glaswinkels volgestapel van ware met beblomde en vergulde en bedruipte uiter­like; verby trattorias met piekniekskares; verby té duur res­taurants, alewig viertalig en glad nie geïnteresseerd in jóú powere aanslae op die Italiaanse taal nie.

    Elke drie, vier tree die verteenwoordiger van ’n glasfabriek:

    Have you seen my glass factory?

    Have you seen my glass factory?

    Have you seen my glass factory?

    Nee, verdomp! Loop bars! Ek wil die dêm ding nie sien nie!

    Maar net drie tree verder: Have you seen … Avez-vous vu … Haben Sie …? Met die aandrang: Kom net in. Kom kyk net. Sonder enige verpligting om te koop. Kom net in, jirre tog! Tot jy oplaas paniekerig op vlug slaan, bruggies oor en gangetjies deur – en weer terugkom op die piazza, en diep asemhaal, en oor jou klam voorkop stryk. En dan in jou spore vassteek as ’n stroperige stem agter jou vra: Have you seen my glass factory?

    Wie ken Venesië voor hy ’n slag daar verdwaal het?

    Vanaand neem ons nie die kanaalboot na San Marco toe nie, het ek selfverseker aangekondig. "Vanaand stap ons."

    Maar hoe gaan ons ooit daar uitkom? vra Estelle.

    Ek beduie vooruit: "Sempre diritto."

    Vooraf het ons na die kaart geloer. Maklik, het ons besluit. Die Canal Grande maak presies ’n S-kinkel tussen die stasie en die plein. Ergo: as ons pylreguit stap, kom ons in ’n japtrap daar uit.

    Maar ons sou leer dat sempre diritto nog steeds dieselfde as elders beteken: reguit met ’n draai.

    Ons stryk oor die Ponte degli Scalzi voor die stasie. Tot by die eerste kerk, San Simeone Grande, gaan dit voor die wind. Dan begin daar telkens straatjies opdoem waar g’n lig brand nie. Voel-voel beweeg jy, met jou rug hol getrek teen ’n moontlike skielike mes van agter. Tot jy onverhoeds water hoor klots en besef dat daar ’n kanaal vlak voor jou voete gaap. Dan om, en probeer om ’n brug­gie te kry. Af en toe kom mens weer in helder verligte straatjies en voel opgewek en selfversekerd. Maar dis tog of die donker gangetjies al digter op mekaar volg, of die voetgangers skaar­ser word. Hier word jy nou eers behoorlik bewus van die stad se stilte, waar net die gondeliers veraf by die hoeke van die grag­te hul sonore uitroepe gee om mekaar te waarsku. Geen motor of bromponie of fiets nie.

    ’n Uur ná ons uit die Casa Camurri is, begin ons onrustig raak en stap nou ál vinniger. Dis of ons oor hónderde kerkpleintjies verbykom, elk met ’n waterkraan, sommige met kransies kin­ders wat hardloopspeletjies speel. Dan dool ons maar weer tus­sen die geboue in, links in straatjies, regs in gangetjies, hier oor klein bruggies, daar oor groter brûe; loop ons gereeld dood teen ’n kanaal of teen ’n muur vlak voor ons in die donkerte; word moeg, word honger, word haastig, word kwaad! Sien eindelik ’n wegwyser en snel daarheen. Alla ferrovia lui dit: Na die stasie, waar ons vandaan kom. Goed, dan maar alla ferrovia. Maar al wat ons kry, is weer tientalle, honderde kerkpleine, bruggies, stegies, verlate markte, klein trattorias met luidrugtige, drinkende mans by toonbanke, of met leë tafels van swaar, donker hout.

    En byna twee uur ná ons begin stap het, doem die Accademia-brug voor ons op en ons haal daar die boot. Nie piazza toe nie, maar terug: om te gaan eet in die restaurant waar ons in ieder geval gewoonlik eet. In die ligte aandkoelte staan ons op die boot se voorstewe die briesie en geniet. By ligte haltes staan die mense in bondeltjies en wag, met oopgesperde koerante en blakerende swart of rooi letters daarop. Die eerste mens die lugruim in! Van alle kante druis dit op jou oë aan. In die kleinste stalletjies, die mees sinistere laninkies pryk Gagarin se naam. En oral staan die koerante oop soos groot sensasionele motte; en mense praat en spekuleer en bespiegel en gesels en redekawel oor die nuus.

    En dan kom ’n viets meisietjie met ’n wiprokkie verby en die mans kyk weg van die enorme letters na haar skraler enkels en knipoog vir mekaar en brom "Che bella fica !" Want die kleiner, warmer dinge van elke dag se lewe staan tóg maar nader aan die mens as die hemelruim.

    ’n Bootreis na die verderliggende eilande in die groot lagune: Murano en Burano. Eers doen mens by die begraafplaaseiland van San Michele aan, waar mense met hul blomme afklim en waar­heen vroeër deur die grys môre ’n gondel met doodskis en kran­se, en met vier swart egalige gondeliers oor die rustige waters – ’n breë Styx – gevaar het; en verbygangers het stilweg kruis­tekens ge­maak as die swart boot stil verbyskiet.

    Murano self is oud en vervalle, moeër as Venesië; nie meer lus om die skyn vol te hou en die plooie toe te grimeer nie. Die tyd klots hier swaar in die slikgroen water, reik met barsvingers teen die geboue op, krummel aan die trappies, vreet aan houtwerk, laat die swaar ysterringe roes.

    Die glasblasers was fassinerend, soos oral, met die bedrewen­heid van hul pesige arms, die suiwerheid van hul berekenings, die wonderlikheid van vorm gee aan die vormlose. Tog was hulle te gesteld op vertonerigheid voor die toeriste. En meer as een stuk het hulle deur blote lompheid verbrou. Mens was alte bewus van die walmende, skroeiende hitte uit die brokkelrige oonde, die natgeswete gesigte en bolywe, die minagting vir die toeskouers met hul jakopeweroë en hul oe’s en aa’s. Iets van die liriek van die werk het in daardie hitte weggeskroei.

    Daarom het ons nie so lank daar getalm nie, maar die boot na Burano geneem, oor die mistige waters. Omdat ek soos gewoonlik koppig verseg het om te vra waar ons behoort af te klim, het ons gans te gou aan wal gegaan en nooit by die kantwerkskool uit­gekom nie.

    Maar sou dit ’n groot gemis wees? In Venesië self het ons reeds so ’n skool besoek, met ’n hupse modeldametjie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1