Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Reisiger
Reisiger
Reisiger
Ebook754 pages16 hours

Reisiger

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die tweede deel van Elsa Joubert se outobiografiese tweeluik is ’n lewensverhaal wat soos ’n roman lees. Dit begin waar sy as vyf-en-twintigjarige haar eerste alleenreis aanpak, ’n tog wat haar deur Afrika na Europa neem en die begin vorm van haar lotsgebondenheid met hierdie kontinent, dié “boeiende, donker, onbekende ding” wat haar haar lewe lank getrek het. Reisiger gee ’n eerlike kyk op die lewe van Elsa Joubert en werp lig op die onuitwisbare ervarings wat aanleiding daartoe gegee het dat sy is wat sy is en daarom geskryf soos sy geskryf het. Altyd het sy die leë kolle van haar lesers se begrip probeer invul deur hulle bewus te maak van ontkende mense se toestande en bestaansituasies, al sou dit vreemd, ontstellend, ongelooflik wees. Maar altyd met net een doel voor oë: om mos op klipharte te laat groei.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 1, 2011
ISBN9780624052432
Reisiger
Author

Elsa Joubert

Elsa Joubert is op 19 Oktober 1922 in die Paarl gebore. Sy wen die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys vir haar invloedryke roman Die swerfjare van Poppie Nongena (1978). Haar magistrale roman Die reise van Isobelle (1995) is met die Hertzog-prys bekroon.

Read more from Elsa Joubert

Related to Reisiger

Related ebooks

Related articles

Reviews for Reisiger

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Reisiger - Elsa Joubert

    Reisiger

    Elsa Joubert

    Tafelberg

    Vir my kinders

    Elsabé en Basil, Nico en Michelle, Henriette en Johan,

    met dank vir julle bystand met die skryf van die boek

    en my kleinkinders

    Chris en Elsa, Lisa en Stephanie, Isabeau en Nicolas,

    met my mooiste seënwense aan elkeen van julle op jul reis.

    1

    NYL

    Vertrek

    Ek het in die herfs van 1948 met die City of London van Kaapstad langs die ooskus van Afrika gevaar, en vreemde en wonderlike dinge het op die reis met my begin gebeur. In die herfs het ek uitgevaar, nie die winter binne nie, maar ’n onbekende somer.

    Ons het op ’n dag aan die Mosambiekse kus vasgemeer by ’n eiland sonder baai of hawe. Ons het met ’n motorboot aan land gegaan en op riksjas geklim, en die riksjawiele het sagte geluide gemaak op die smal stegies met fyn skulp en sand bestrooi; ons het tussen die ligpienk, skulpkleurige geboue uit die vroegste Portugese tyd deurgevleg. ’n Stil eiland sonder motors. Net die donker voet van die riksjatrekker op die fyn skulp en sand. ’n Blas Portugees in sy wit linnepak, ’n wit strooihoed op sy kop, donker oë wat flits na die riksjas voor die swaar ooglede weer toesak. Hy verdwyn agter die deur van die skulpkleurige gebou, wat hy agter hom toetrek.

    Ons eet in ’n binnehof agter ligpienk mure, onder die skaduwee van ’n casuarinaboom. Ons groepie van die boot is die enigste gaste. ’n Griek en ’n Hollander, inwoners op die eiland, kom gesels by ons tafel. ‘Ela edo skilaki,’ roep die Griek, Andreas, donker, klein van postuur, angstig totdat die wit wollerige hondjie by die poort binnedraf en op sy skoot spring. ‘Kom hier, klein hondjie.’ Die Hollander, Joop, trek met sy voorvinger sirkels om sy oor asof hy sê: bietjie mal, Andreas en die hondjie.

    Ek kom taalgewys met Joop beter reg as die ander passasiers, wat kloustrofobies Engels is.

    ‘Zeg tegen hen, ik heb een zeilboot gereed als ze willen meegaan. Nu niet allemaal hoor, sowat vier. Op een vaartje naar het vasteland.’

    Sy gesig is rooi gebrand en sy lyf en sy vingers dik. Hy en Andreas, sy vriend, werk by ’n maatskappy wat sisal uitvoer met die eiland as versamelpunt.

    Ek het van die skip gesien die ry Mosambiekers wat met sisalsakke op die kop deur die vlak water plons na die wagtende platboomskuite, sakke aflaai, weer terug strand toe, ’n sak op die kop en weer see toe. Onverpoosde swart beweging teen die wit, branderlose, sagroerende see en die wit hemel: swart maer mense, bolyf kaal, wit lap tussen die bene deurgetrek en om die konkaaf maag vasgeknoop. Hulle lyk koploos as die sak neergelaat word in die skuit, die kop net ’n stompie op die nek in die kort terugdraf strand toe waar die swaarte weer op die kop neergelê word. Hulle bly ingebrand op my retina; kyk ek die nou stegies af, is hulle daar asof deur ’n verkyker se glas nader gebring, oral, swart uitstootsels van die eiland in die kleurlose see.

    Ons vaar met Joop se seilboot, die een vergesig ná die ander ontvou voor ons. Ons trap op land, ons bene is nat, ons loop oor die sand. Ons sak in die nat modder tussen die mangrove-bosse in, ons trek ons lywe aan die arms tussen die mangrove-wortels deur. Die drie Engelse gee klein gilletjies, ‘Good Lord,’ sê die een. ‘Come on, it’s Africa,’ sê sy vrou, desperaat. Ons kom by ’n kristalskoon waterpoel en swem met die klere aan die lyf, die water is bloedwarm, en in die nat, klouende klere swem ons van die een kant na die ander toe. Die vrou sit ’n rooi blom agter haar oor in haar hare, sy’t ’n ruie klimop nader getrek en skeur nog ’n blom af. ‘Come on, it’s yours.’ Die water klou aan ons klere soos ons aan die mangrove-wortels klou. Ons hoor in die ver verte die skerp geroep van voëls, dan ’n harmoniese tril, op en neer, ’n vlek rooi flits tussen die mangrove-takke, ’n blaar wat beweeg, dan niks.

    ‘Ons sal julle op die eiland die mark gaan wys waar die voëls in koutjies verkoop word,’ sê Andreas. Maar daar is nie tyd daarvoor nie. Dis skemer toe ons terug is op die eiland, die motorboot met die piloot wag om ons na die boot terug te neem. Ons eet sterk kerriekos wat deur stil Pandjabse Indiërkelners met wit doeke om die kop en met swart kaalvoete bedien word.

    Andreas het ’n ontkiemende saad van die mangrove-boombas losgewikkel en aan my gegee. Die Engelse vrou wil ook so een hê, die mans begin die bome stroop. Ons plunder nou, dink ek. Die modder bevat min suurstof, vertel Joop, die moederbome haal asem deur die lugwortels, voordat hulle in die modder wegsak. My ma haal asem deur my. Deur wie haal ék asem? Deur Klaas wat in Kanada is en vir wie ek briewe skrywe? Ek hou die saad, wat aan die moederstam begin ontkiem het en hom met sy langer wordende lugwortel in die modder anker om vir die moederstam asem te haal, in my kajuit in ’n glas water. Dit hou my aandag. Maar dit kwyn en gaan dood.

    Stadig vaar ons die ooskus op – witwarm dae, soel donker nagte bestrooi met sterre wat stadig en onontwenbaar hulle ligtekens teen die bloupers hemel nag vir nag noordwaarts skuif. Die skuiwende, skitterende sterretekens – Orion met sy lang tree, sy juweelbelaaide gordel, die keffende hondjie agterna, die Suiderkruis waarvan ek elke nag ’n bietjie meer afskeid neem – fassineer my. Dit sê vir my: Ek is op reis.

    Ons vaar die groot baai van Dar es Salaam binne, plek van vrede, omsoom met wit strande en verwaaide palmbome, en laat anker sak. En nou is die skip dig teenaan die kaai, die skeepsluike op die voorstewe is oopgegooi, die ruimtes wat leeg is doem donker op, hulle moet gevul word; en oor die loopplank begin die draf van die swart figure, kaal, met die wit lap tussen die bene. Die sakke dié keer op die rug. Hulle loop skuins teen die plank wat van die kaai na die voorstewe prekêr staangemaak is. Ek hoor hoe die plank onder hulle voete skuif, asof dit ongelyk neergesit is, diékant toe, daardie kant toe. Ek sien nie hulle oë nie, hulle oë is op die voete. Die loopplank vir die passasiers is nie ver van die loopplank vir die laaiers nie. Ek loop digby die laaiers verby, sien hoe groot druppels sweet van die slape oor die swart vel loop. Die hare by die slape is grys. ’n Ou man. Daar kom beelde in my kop van die gekettingde slawe wat ek in my oupa se boeke gesien het, ek het van vroeg af gelees oor Livingstone se reise in Afrika.

    Ek loop op my eie pad, dit is digwarm, ek dwaal deur die hitte. In die Engelse buurt – Tanganjika is onder Britse beheer – hoor ek bekende, voos geoefende toonlere uit ’n kamer met oop deure na die balkon uitstroom, toe ’n stukkie wat ek ken as eksamenstuk vir die Londense Trinity-eksamen. Hier in Tanganjika. Musiekles die bastion van Britse beskawing? Ek loop verder na die inboorlingebuurt, kleurvol en krioelend, lawaaierig en besig, hutte van verdroogde palmtakblare, af en toe ’n fiets wat wankelend tussen die mense deurry. Ek probeer foto’s neem, maar kry weerstand. Die donker vroue in die geel en rooi en blou en groen klede om die armholtes vasgedraai, stoot my aan die arm, ruk my arms, skreeu en wil die kamera afneem. ’n Jong man op die fiets sê: ‘They think you steal their souls, you must leave.’ Hy praat met die mense en maak ’n pad vir my deur die dorpie. Naby die see hoor ek weer die klanke van die Trinity-eksamenstuk. Die klanke klink vir my opeens desperaat.

    Die swart werkers is nog steeds die een loopplank aan die opdraf, die ander een aan die afdraf.

    Sonder die sak – dis koffiebone, sê ’n offisier aan diens by die ingang – sonder die sak bly die rug steeds gekrom, krom staan hy, krom word ’n sak deur twee werkers op die kaai gelaai op sy rug, begin hy weer die kreunende drafstappie met die loopplank skeepsruim toe. Dit pla my: Kom hy ooit weer orent, is dit minder pynlik om gebukkend te bly?

    Ek staan op dek toe ons uitvaar, die skemer is drukkend warm. Passasiers staan met bier in die hand, hulle bring vir my ook. ’n Stuk van die strand is met nette afgekamp teen haaie, wit kindertjies in geel en blou baaiklere speel in die vlak water, hulle word deur oppassters weggeroep, verdwyn in die skemer.

    Ons meer vas by die hawedorpie Tanga. Die kurwe van die baai is eindeloos, die see roer skaars, die rimpeltjies oor die sand, tussen die klippertjies en krappies deur, is skaars merkbaar. Dis louwarm, ek loop die see in, dit voel my ek loop myle voordat ek tot my middel in die water is. Ek loop verder, probeer swem. Ver, aan weerskante van my loop ’n paar ander swemmers, die een skuif sy skouers heen en weer, asof hy teen branders loop. Geen gewuif of gelag nie; elkeen so ernstig, aan die probeer om aan die band met moeder aarde te ontkom.

    1.2 Oerbos

    By Mombasa ontmoet By en Chris, studentevriende, my. ‘Gaan trek jou goeie klere uit, trek aan jou oudste klere, ons ry met ’n tweetonlorrie na Mariakani,’ sê Chris. Hy werk vir die gesondheidsdienste, hulle is bosse aan die uitkap, as bestryding van die tsetsevlieg en malaria.

    Ons pak af by hulle staning op Mariakani. Nog dieselfde aand vertrek ons met die tweetonlorrie op safari, twee swart handlangers wat sal kampe opslaan, vuur maak, kos kook, agter in die bak. Owoth en Ojal. Met groot laggende monde en wit tande. ‘Ons gaan jou Afrika wys,’ sê By.

    In die nag is die lig van die lorrie se koplampe yl. Blaarlose takke van bome trek swart bewegende skerphoeke en driehoeke en stomphoeke. Ons sien die blink oë van ’n nagdier, dan is dit weg. Die wiele draai in die sand, Chris verander van rat. Tussen die smal grondspore groei droë gras, ’n oomblik sigbaar in die lig, dan verby. Bosse, kreupelhout doem op, sak terug. In die bewegende lig, soos ons stadig op die onbekende pad vorentoe ry, is die nuwe swart patrone immer veranderend. Spel dit iets uit wat ek nie ken nie? Ná die lang dae op die vaalblou water is hierdie kort, driftige nagreis vir my ontsenuend. Die lorrie kom rukkend tot stilstand. Chris klim uit, hy kom terug. Hy ruik water. Owoth en Ojal is ook uit. Ek ruik stof en bosveld, ek word opgewonde, die stof, die bosveld in die nag. Is dit nie waarvoor ek na Afrika gekom het nie? Soos dit ligter word, sien ons agter die bosse ’n steil afdraand, dan ’n ander soort donkerte wat glim soos donker olie. ‘Ons het amper daarin afgedonder,’ sê Chris. ‘My roep is, dis die kratermeer, die Tjalameer, jy kan maar sê, in die voetheuwels van Kilimandjaro. Niemand het nog sy diepte gepeil nie.’

    Die oggendskemer kom huiwerig. Die sneeupiek van Kilimandjaro glim goud in die opkomende son, dan vou die mistigheid toe, en vir die res van die dag is die pieke onsigbaar.

    Chris korswil met Owoth en Ojal soos met kinders: ‘Sal ek julle daar gaan ingooi? Sal ek?’

    Ons ry sonder ’n pad deur die bos. Tussen dongas en rotse en gate en slote dwing Chris die lorrie met draaie en rukke aan die wiel, ons koppe stamp teen die dak, ons ruik die warm grond, hy swaai verby hope olifantmis, ’n trofee vir hom, hy hou stil dat ons moet ruik. Hy mik na die Tsavorivier, ’n donker streep met hoër bome en donkerder loof, waar diere in die skemer kom suip.

    Die nag kom skielik. Ons hoor die geluide van die diere, ons verbeel ons die lywe van olifante en renosters en leeus en hiënas is om ons, maar ons sien niks, ons raak aan die slaap. Owoth en Ojal slaap onder die seil agter in die bak van die lorrie. Ons is verdwaal, Chris weet nie waar ons is nie, maar hy gaan mik na die son wat opkom, wat die skaduwees soos met ’n hand wegveeg. Maar die lorrie gaan staan, hulle geskop en gekap aan die enjin en wiele help niks. Chris vuur ’n skoot af in die lug, uit moedeloosheid. Ek sal moet stap om hulp te kry, sê hy. Môreoggend. Maar ons sien later, teen die middag, honde uit die bosse kom, en ’n jagter, ’n jong Indiër, kom aangeloop, hy dra ’n geweer langs sy sy. Hy breek takke met sy hande, hy versamel ons – vir my en Chris en By – in sy arms, sy donker arms is koel onder sy langmou-kakiehemp, sy hoed beskut sy oë, hy het ’n veldblom in sy hoedband gesteek; ons is warm, besweet, verdwaal, moeg en benoud, maar hy kalmeer ons. Hy neem ons na ’n koel, donker huis, hy neem ons na kamers. Rus eers, sê hy. Ons bad en trek sagter klere aan. Die skemer is vlugtig verby; hy steek kerse aan in houers wat op die vloer staan, ons sit in ’n kring van kerslig. Sy gesig en ons gesigte kry nuwe vlakke, die oë glans donkerder in die spieëls met goue randjies. Oral is klein spieëls met goue randjies. Ek ruik wierook wat smeul. Ek sien sy hoë wangbene in die spieël, sy swart hare, in ’n ander spieël sy oë, ek sien my eie oë, maar hulle lyk vir my na ’n vreemdeling se oë. Sy naam is Mahmoed en hy bly lang rukke in sy huis langs die Tsavo-rivier omrede sy gesondheid, want sy longe is sleg. Toe Chris en By gaan slaap, bly ek agter, ek is nie vaak nie. ’n Krag straal uit van hom na my. Hy vertel vir my stories tot laatnag, ek wil nie ophou luister nie. Hy vertel van die Mughal-keiser sjah Jahan se liefde vir sy vrou, Mumtaz Mahal. Haar nek was so slank en haar vel so fyn dat die druppels water wat sy sluk soos die sagte rimpeling van ’n vloeiende pêrel onder haar vel sigbaar was. Toe sy sterwe by die geboorte van haar veertiende kind, is sy verdriet so diep, hy bou vir haar die mooiste van alle mausolea, die Taj Mahal, uit wit marmer, met vier minarette vir gebed.

    Ek pluk vreemde blomme en vreemde kruie in sy tuin, ek rus my kop teen ’n vreemde bors, sê ek, baie later, vir Rut wat ek op die Nylboot leer ken. Jy wat uit Swede kom, sal nie weet hoe vreemd nie.

    Hy neem ons die bosse in, na ’n waterpoel. Soos hy vooruitloop, tussen die haak-en-steek-bosse waarvan hy die takke breek dat dit my nie gryp nie, sien ek hoe hy aan die hoes kom, dik geel slym uitspoeg en met sy skoenpunt met sand toestoot.

    Ons ry van Mahmoed met die herstelde lorrie terug na Chris se staning by Mariakani. Ons is belaai met geskenke van Mahmoed. Ek het kruie in my skoot.

    ’n Sny aan my voet is aan’t sweer. Chris sê dr. Habim se huis is nie ver nie. Toe dit skemer word en die vlamrooi stofbelaaide skuins strale van die son die nog rooier doringbos laat brand, klim ons in Chris se bakkie en ry oor na hom. Ek sien verstom, maar hoe kan dit anders, my kop was vol van hom, die lang gestalte van Mahmoed opstaan uit ’n rottangstoel op die diep veranda. Hy het ’n glas met wat lyk na skoon brandewyn in sy hand. My lyf begin bewe, ek steek my hand wat ook bewe na hom uit en neem die glas en gooi die brandewyn oor die muurtjie dat dit ’n donkerrooi klad op die grond maak. Ek begryp myself nie, ek voel daar kom ’n groot verdriet na my toe wat ek nie kan keer nie. Ek kon nie anders nie, ek moes hom help. Dr. Habim sê vir hom: ‘What came over you? You never drink brandy.’ Chris bly stil. Mahmoed sê: ‘Selfvernietiging en jou self vind is twee kante van dieselfde munt. Sy sal weet waarom ek dit gedoen het.’ Maar ek weet nie, ek is ontsteld, ek loop die nag, toe Chris en By slaap, op en af langs die draad wat hy gespan het om sy staning: sy huis en die hutte van die werkers wat vir hom bome uitkap. Slaap kan ek nie, ek is verskeurd, dit voel my twee magte het in botsing gekom, en verbryseling is net-net afgeweer. Ek ken myself nie, nie hierdie oombliklike, onvoorwaardelike binding wat verskriklik, maar ook so soet is nie. Die nag is donker, die sterre groot en helder. Moes ek so ver reis om vir die eerste keer te sien: Elke ster skiet twee strale teen ’n akute hoek, elkeen na ’n siel op aarde, elke ster verbind twee siele. Jy moet soek totdat jy die siel vind wat met joune verbind is, soms kom dit soos ’n weerligstraal na jou.

    Chris en By neem my na die kus, na kennisse op die dorpie Marinda. Ons snorkelduik in vlakblou see en sien ondersese lewe. Ek is ontuis met die eks-Indië-Engelse in Kenia. Hulle wys vir ons fotoalbums van die o, so wonderlike sosiale lewe in die ou Indië, veral somers in die koel berglande. Hulle is neerhalend oor die Indiërs; hulle was tot in die murg geskok toe hulle uit die land gesit word. Hulle het verkies om na Kenia te kom eerder as terug na Engeland. ‘We shall resume our lives in the colonies,’ sê hulle laggend. ’n Jong soldaat uit die Britse leër wat teruggeroep is na Kenia, wys my sy hande, vra hoe kan hy maak dat hulle nie vergrof nie. Hy is pianis, van waar sal hy ’n klavier kry om op te speel? ‘Ek speel snags, ek sit regop in my bed en speel.’ In die brand van sy oë hoor ek die akkoorde om hom klink, die fyn note soos druppels water. Hy is twee jaar in die bos sonder ’n klavier. Op ’n donker stoep vra hy: ‘Sal jy my hande vashou, net ’n paar oomblikke lank, dat hulle kan versag, en kan onthou.’ Ek hou sy hande vas, maar ek dink net aan Mahmoed.

    Ons is klaar gekuier by Marinda, en Chris en By gaan terug na Mariakani, maar ek bly agter. Ek loop uit die Mombasa-strate by Mahmoed se oom se stil winkel in, na die adres wat hy neergeskryf het. Hy staan op van waar hy agter sy oom se lessenaar sit, hy is koel en slank in sy grys hemp van egte sy, hy glimlag met my: Ek het geweet jy sal kom. Jy moes kom. Hy omhels my, hy soen my sag op elke hoek van my mond. Nou is ons aan mekaar verbind sê hy. Ek weet, sê ek. Maar ek bly senuagtig. Ek het vir Chris-hulle gesê ek wil na Zanzibar gaan. Ek sal jou help, ons sal saam na Zanzibar gaan, sê hy.

    Die hotel waar hy vir my losies soek, sê: ‘We don’t take mixed couples.’ ‘It’s not for a mixed couple, it is for the lady only,’ sê hy. ‘We still don’t have a room for her, try the hotels on the island, they’re easier on colour.’ Wat voel ek? Net diep blydskap om by hom te wees, aan die woorde steur ek my nie. Ons wag by die rivier vir die laatnag-pontboot na die eiland. Hy trek sy baadjie uit en gooi dit op die gras neer. Ons sit. Leun teen my, sê hy, jy sal moeg word. Hy is maer, onder die grys syhemp is sy skouerknoppe skerp. Ek hoor sy hartklop. Die nag is donker en vreemd, ’n magiese woud om te bewandel.

    ‘Vertel vir my stories,’ sê ek, ‘ek weet niks van jou nie, jou wêreld is vir my vreemd, ek wil jou wêreld betree.’ Hy vertel van die profeet Omar en die digter Omar ibn al-Farid, die kluisenaar-digter wat sy lewe lank in die woestynheuwels by Kaïro gebly het. In die pontboot, leeg van mense, wat stadig die breë swart nagrivier met ons oorvaar – die nag is donker, soel, wolke verberg die sterre, net af en toe ’n rivierbootlig wat in die verte oorsnel en verdwyn – sê hy in Arabies een van Omar ibn al-Farid se odes vir my op. Ek sluit my oë om die sagte sangerige toon, die nuwe klanke in my te laat resoneer. ‘Vertel nog.’ Hy skryf by die rukkende lig aan die kosyn van die pontboot in my boekie neer: Suel bin Abbas, nog ’n woestyndigter wat oor liefde skryf. Toe ek gaan slaap in ’n hotel wat my wel ingeneem het, dwaal die Midde-Ooste deur my kop, as ek jou sou trou, het hy gesê, sou ek jou vyf jaar laat leer om die heilige sitar te speel, eers dan sal jy die lewe en die liefde en die dood begryp. Ek dink: Jy weet nie hoe vals ek sal speel nie. Ek het viool gespeel, sê ek, maar ek is nie baie musikaal nie. Die klank van die heilige sitar is die klank van die liefde, sê hy. Dan sal ek dit kan speel, sê ek.

    Ons kry die volgende dag nie passaat op die boot na Zanzibar nie, selfs nie slaapplek op dek nie. Mahmoed is in ’n woordestryd met die kaartjieverkoper gewikkel, hy argumenteer in Swahili, hy swaai sy arms. Dan kom hy na waar ek staan langs die tou mense wat wag. Miskien beter so, sê hy, as die boot so vol is, word dit rof, ek kan jou nie op die dek laat lê nie.

    Hy neem my na Mombasa se ou hawe waar die dhow-vloot vertoef voor die reis terug. Ons vaar met ’n roeibootjie na die grootste dhow waar ons met toulere aan boord gaan. Ons sit op ’n Persiese mat en die seuntjie wat die kaptein met sy tulband en lang jurk geroep het, bedien vir ons dik Turkse koffie in klein koppies sonder ore. Die dhow wieg stadig met die waterberoeringe in die hawe. Die ligte windjie is blou. Onder op die dek druk ’n seuntjie die sap van ’n sak vol geel suurlemoene uit in ’n balie. Ek is vredig en gelukkig by Mahmoed. Dis beter as Zanzibar, sê ek.

    Ek vertoef nog ’n nag en toe neem Mahmoed my terug na Mariakani waar Chris verbaas is om ons te sien. Julle is net betyds, sê hy, want werkers het kom sê daar is olifant naby, groot vars hope mis; kom julle saam? Weer is olifantmis ’n trofee vir Chris.

    Ek is nie moeg nie, ek verkeer in ’n staat van opwinding, ek wil gaan, enige plek gaan, enige plek saam met hom. Ons stap met twee spoorsnyers en die klavierspelende Britse soldaatjie wat weggeloop het van sy barakke na ons toe, op die spoor van die olifant. Ek het weggegaan om die bos te soek, dink ek, nou gaan ek, weer, die wonderlike, goue bos binne. Ons stap deur die lang, warm dag, ’n enkel ry op die voetpaadjie, ver uitmekaar. Dit is wat ek die graagste doen, dink ek, met ’n voetpaadjie loop, met die oranje strokie platgetrapte aarde wat so stil lê, maar my vooruit neem, na waar weet net die voetpaadjie self – tussen die haakbossies deur, onder die skadu van peulbome in, uit onder die skadu uit, in die volle rou son wat op ons neerbak, ’n oranje streep aarde wat slingerend oopvou tussen vaal gras, vaal bossies met haakdorings aan en rotse. Mahmoed loop voor, sy geweer dra hy parallel met die aarde, die geweer beweeg stil soos die balans vloei van loop na handvatsel. Hy loop met egalige treë, totdat die hoes kom, maar hy stap met die hoes, versuim net om die slym met sy skoenpunt toe te krap met grond. Die spoorsnyers wat apart en los geloop het, kom praat met hom. Hulle wag vir Chris; hulle draai weg van die paadjie, die hoë gras in. Ek loop agter Mahmoed aan, in sy spore. Die geel grasstingels wat hy plattrap, staan weer op voor my, om my voet te ontvang. En dan as ek verder loop, kom dié wat ek platgetrap het, weer orent. Ondeurdringbaar, vervlietend die oomblik. Dit is wat ek gesoek het, dink ek, dat die lang gras toemaak agter my spoor, soos by die bushalte voor die ou vroutjie in Woodstock se huis, dat my volgende tree ’n paadjie maak, en dit weer agter my toemaak, en, soos ek verder gaan, geen spoor nalaat nie. Weseloos word, ontvang en vergeet word. Mahmoed het stil gaan staan, en omgedraai, hy wys met sy arm: Kom, hier vóór is skadu. Ek hoor water loop, ek drink water uit sy ambergekleurde hande, die klippe is nat amber, die nat ambergekleurde vingers druk teen my voorkop, salaam aleikoem, vrede vir jou. Het ek dit gehoor, of lees ek dit in die son, in die oranje aarde, in die stilte van elke gekerfde asbosblaartjie? Hy vryf blare tussen sy palms, hou uit dat ek ruik, vryf dit in my hande in. Hy soen my met kruidbedekte hande. Alles gaan oop om my, ek voel dat my voete en my voorkop heilig is.

    As mens so iets belewe, sê ek vir Rut, wat my vriendin geword het, op die lorrie wat ons vervoer na Juba – die Nylrivier het te vlak en onbegaanbaar geraak – as jy so iets belewe, verander jou persepsies, maar dit bring ook droefheid.

    Van Jinja aan die Victoriameer, weet ek, is daar al om die twee weke aansluitings per trein, per rivierboot, per pad met of langs die Nyl tot in Kaïro. Ek het my bespreking verpas, ek het by Mahmoed in sy huis op Tsavo gaan bly. Hy het met my saamgekom van Tsavo na Nairobi, ek bly in ’n hotel wat aan sy neef behoort. Ons eet elke dag by sy neef aan huis. Mahmoed is nie gesond nie, sê sy neef aan my. Ons is bekommerd oor hom. Ek weet, sê ek.

    Ek skuif my besprekings nog twee weke vorentoe.

    Soggens vroeg gaan ons na uitkykplekke buite Nairobi om die sonsopkoms te sien; die begin van die daeraad is vir ons van groot betekenis. Laat smiddags as die son sak, as hy moeg is van die gehoes, sit ek met my rug teen ’n akasiaboom, dan lê hy op sy rug met sy kop op my skoot, dan karteer my vingers sy wangbene, sy neus, sy voorkop, trek my vingers deur sy swart hare. In Nairobi klim ek op die trein na Jinja in Uganda. Toe ek moet afskeid neem van hom voel dit vir my asof ’n deel van my liggaam afskeur.

    Hy het my nie gevra om by hom agter te bly nie. Hy sê hy sal kom na my. Ek moet hom op hoogte hou van my adres. Maar ek het nie ’n adres nie. Ek het net my vae reisplan, met name van plekke wat ek nog nooit van gehoor het nie. Butiaba, Nimule, Juba, Malakal, Kosti, Sennar, Kartoem, dan Wadi Halfa, Luxor en Kaïro. Ek skryf die name vir hom neer, in die volgorde wat ek dink ek hulle sal aandoen, en die woorde Poste Restante wat my tuiste sal word. Dit is maar ’n niksbeduidende, voortvlietende soort tuiste, Post Restante, vir hom onbegryplik, maar ek weet nie van ’n ander nie.

    By Jinja kom daar soos ’n voël met groot vlerke op my sit: die voorneme om ’n boek te skryf oor my tog op die Nyl – die groot rivier wat in ’n klein watervalletjie nie ver van my hotel nie uit die Victoriameer stort, om al hoe meer en meer water saam te sleep totdat dit in die verre Kaïro in die see uitspoel. Ek sit die nag regop en tik en tik totdat dit lig word. Die hotelbestuurder vra my om dit nie weer te doen nie, die gaste kla.

    In sy eerste brief wat deur die rivierbootagent by Nimule aan my gegee word, skrywe Mahmoed: ‘Ek wou in Jinja by jou aansluit, ek het aan my motor gewerk om iets wat skort aan die enjin te verstel, toe word ek siek met ’n hoë koors, toe kon ek nie kom nie.’ As ek geweet het hy sou kom, het ek agtergebly toe die trein vertrek het van Jinja, dan sou alles daarna anders verloop het. Word ons lewens bepaal deur die toeval? vra ek my af.

    Ek sit met ’n plank op my skoot op die wit bodek van die skepratboot wat sy pad stadig voor hom oopstoot oor die vlak Kyogameer, die Victoriameer is lank reeds agtergelaat. Die kiel beur tussen die slymerige, groen waterleliestingels deur, sleep weerskante twee groot plat sleepbote saam, vol mense en diere. Dit bring die verwoesting van die blou waterlelieplante mee, blou wasagtige blomblare word uitgeruk, maar die uitmekaarverskeurde stingels en blare kom weer by, hergroepeer soos ’n leër, die lang dun rubberagtige stingels kan nie geknak word nie, hulle vloei met die water saam wat deur die groot wiel opgeskep en gelos word. Ek word ook nie geknak nie; ek sit met die spyskaartplank op my knie en skryf aan Klaas, lugposvelletjie ná lugposvelletjie. Ek verlang na ’n oor, syne is al oor wat ek wil hê. Ek skryf Mahmoed se naam met ’n kloppende hart neer. Vir die eerste keer. ‘Ek weet nie wat dit is wat ek voel nie, maar dit oorweldig my. Dit is soos ’n vlam in my.’

    Klaas is my vriend. Hy sal verstaan. Hoe lank het ons nie in die Kaap saamgesels oor die onbekende wat ons albei wil binnegaan nie? Klaas het voor my op sy eie reis vertrek, hy werk in Kanada.

    Moenie dink dat die Engelse in Kenia nie sterk voel oor die colour bar nie, skryf ek vir hom. By Nairobi het hulle my uitgejou toe ek ’n bioskoop met Mahmoed binnekom. Hulle wou my nie in ’n hotel toelaat nie omdat hy by my was. Ek het sy broer, ’n prokureur, ontmoet, hy versamel Africanaboeke en ek het my ma geskryf om een van my rak te haal en aan hom te pos.

    Mahmoed het my geneem na die Naivasha-meer om die pienk flaminke te sien, ons kon nie losies kry nie, hy het my na vriende geneem en ek het in die kamer by die dogter geslaap, hy het op die grond buitekant my venster geslaap, ek het gevoel dit omsluit my wêreld.

    Mahmoed het my in Nairobi op die trein na Jinja afgelaai. Daar was ’n Engelse vrou en haar kind in die kompartement. Ek vermoed sy het gemeen hy is my kruier toe hy my koffers binnedra, want sy was eers heel vriendelik. Maar toe ons meer intiem by die venster afskeid neem, ek sal nie stry die trane het by my wange afgeloop nie, toe vat sy haar kind aan die hand en loop die kompartement uit, en die trein het skaars die buitewyke van Nairobi gehaal of die kondukteur bring ’n kruier, en haar goed word uitgedra na ’n kompartement in die volgende wa. Ek was koud van woede.

    Ons is vyf wit mense hier op die bodek van die boot op die Kyogameer: wit Engelse luukse in die hart van Afrika: waaiers teen die plafon in die kajuit, flesse koue water waarin die ysblokke nie smelt nie, muskietnet om die leë bedde. Ek droom elke nag van die bos. Ek wil nie dat die stilte van my dae met Mahmoed wegglip nie. Maar as ek wakker word, is my kopkussing nat. Dan wonder ek hoekom ek nie in Kenia gebly het nie. Hy het my nie gevra om te bly nie. Hy het ook nie saamgekom nie. Het hy nie saamgekom nie omdat hy geweet het van die wit bodekke?

    Oral soos ek met die Nyl vaar of trein of bus ry waar dit onbevaarbaar is, sien ek tussen my pos die twee blou briewe, van Klaas, van Mahmoed. By die modderdorpies langs die oewer met geen poskantoor of Poste Restante nie sal die agent van die bus of boot of lorrie of skip die twee briewe tussen sy papiere uitsorteer en aan my gee, of die lorriebestuurder in sy wit jurk, of laaimeester in sy rooi onderbaadjie oor die jurk, die briewe uit die binnesak haal en met sy sweterige hand vir my gee. Tussen al die ander altoos twee blou briewe, van Kanada en Kenia, van Klaas en van Mahmoed. My reddingsboei, belangriker as my ouers of my Kaapse vriende se briewe.

    Ek het dié vriend in Kenia, sê ek vir Rut wat op dek by my sit. Die Albertmeer het vernou en ons het oorgeklim op ’n kleiner boot, met sifdraad om die dek gespan nadat die kind van ’n sendeling deur die relings geval het. Ons sien krokodille van die oewer die water ingly. Sy naam is Mahmoed, hy is siek. Hy’s baie siek, sy vriende het my vertel dat chemikalieë in ’n voorlesingkamer voor hom ontplof en sy longe beskadig het, maar ek weet nie of dit waar is nie.

    Rut was verpleegster in Stockholm. Ons longdokters is die beste in die wêreld, jou vriend moet na Swede kom, sê sy.

    Ek skryf huiwerend in my blou briefkaart aan Mahmoed: ‘Miskien kan jy gesond gemaak word in Swede.’

    Die sny in my voet wil nie genees nie, Lars gee vir my sulfapille teen die ontsteking. Rut en Lars het twee jaar lank as verpleegster en dokter in Abessinië gewerk, onder kontrak met hulle regering. Nou is hulle, ná ’n vakansie in Kenia, op pad huis toe.

    Rut en ek wil weer voet op Afrikagrond sit. Ons loop op die plank wat neergelê is oor die nat swart modderigheid wat langs die vasmeerplek opgekarring is. Die sleepbote is losgehaak en lê laer af teen die wal, om weer aangehaak te word as die boot begin vaar. Hele gesinne reis saam – hulle het rietskerms en seildoekafdakke opgerig, vure brand, ysterpotte wat oor die vure hang, gis – ’n reisende dorpie op die water. Waarheen sou al hierdie mense op pad wees, is hulle kontrakwerkers wat met hulle gesinne saam vervoer word? Is die mense van Afrika aan die verskuiwe asof ’n groot hand grense uitwis?

    Ons stap agter ’n paar vrouens aan. Ons is in ’n land waar daar nie klere is nie, die mans wat die hout laai, het ’n lappie (deur die boot se mense aan hulle uitgedeel) om die lendene gedraai, maar die vrouens, groot van bou, stewige skouers, boude, borste en fris bene, dra ’n riempie om die middel en ’n bossie blare agter vasgemaak om die gleuf tussen die boude te bedek, en van voor hang ’n groter tros blare. Soos hulle loop, wip die bossies blare op en af, die donker borste met die lang swart tepels hang en swaai na eie wil. Die paadjie loop in die bos in, digte bos, die son skyn nie hier nie, maar die reuk is droog. Die kleur is bruin, die reuk is stof en droë blare, die kleur is bruin van boomstam, van ontblaarde tak, van diggestrengelde tak; dis ’n stil, snikwarm oordagbruinte wat ons binnestap. Met hier en daar die uitbars van groen van ’n parasietklimplant wat die boom vernietig het. En geen geluide van voël of hond of geskuifel in die bos nie. Ons voete maak nie geluide nie.

    Ons het gewerk by ’n buitepos in Abessinië, vertel Rut. Die suide van die land is wreed. In ’n stamgeveg is ’n man so erg gesteek en het hy soveel bloed verloor, dat hy sou sterf. Lars wou die weerstand by die mense teen bloedoortapping breek, hy het vir hulle gesê die man gaan sterf sonder bloed. Ek het op die grond gaan lê langs die man, ek wou hom help. Lars het die bloed uit my aar direk deur ’n buis in sy aar gelei, lank, totdat hy genoeg bloed gekry het.

    Rut is ’n blonde skoonheid wat langs my loop, ligte huid, ligte haar, ligte wenkbroue, ligte wimpers.

    Maar hy het nie herstel nie, sê Rut, hy is in die nag in die siekehut waar Lars hom laat slaap het, deur sy eie stammense doodgemaak. Hulle wou nie wit bloed in hulle stam hê nie. Ver, ver weg in die droë woud is daar mense, meer mense as hier op die droë pad. Ek dink: Hier stap ek nou op ’n bospaadjie die bos binne, soos ek wou doen destyds, as student, die dag in die reservaat saam met Martin. Die bos is niks sonder Mahmoed.

    1.3 Malan

    Ek is moeg en warm toe ek uit die motorbus klim wat ons van Nimule in Uganda na Juba in die Suid-Soedan bring. Ons het ’n draai oorland gery om die stroomversnellings te vermy, toe terug na die Nyl waar dit weer vaarbaar is, waar ons van Juta af elf dae en elf nagte oor die soed of dig saamgepakte moeras sal vaar. Ek loop oor die sparre van die skeepsbruggie; die suigbewegings van modder onder die growwe houtsparre soos ek trap, die ruk aan die boot van die sleepbote soos hulle vaskoppel, die onrustige klam gewieg van die onderdek waarop ek inloop, ken ek al. Maar hierdie boot is anders, ’n groot, spierwit platboom-skepratboot met drie dekke met kajuite. Ek klim met die trap na die bodekke. Wat is anders? vra ek my af, waarom hierdie skielike opligting, ’n gevoel van vryheid wat ek vir die heel eerste keer in my lewe ervaar? Die boot is vol bespreek, mense met hulle bagasie staan die gange vol, ek hoor alle tale en sien alle soorte mense, so iets het ek nog nooit beleef nie. ’n Samedromming van mense soos ek nog nêrens in Afrika, in die vaalrooi blokke van die Engelse kolonies ervaar het nie, nie in Tanganjika, Kenia of Uganda nie. Selfs op die skepratbote met die draaiende wiel op die AlbertNyl, met die Engelse passasiers, die Oxford-paartjie, die ouerige sendelingpaar, het ons onder die dwingelandy van die colour bar beweeg.

    Die vryheid van Juba is beswymelend. My eerste belewenis van vry mens tot vry mens.

    Ek deel ’n kajuit met Yetta Mufarrig, ’n donker Egiptiese meisie met swart oë met dik grimering, en lang swart hare. ‘Het jy ’n kêrel, ’n bon ami?’ vra Yetta. ‘Eintlik twee kêrels,’ – ek voel skielik praatlustig. ‘Twee?’ vra Yetta. ‘Een van wie my ma en pa sal hou, en een van wie hulle nie sal hou nie.’ Yetta steek ’n dun sigaretjie aan en suig daaraan. Daar’s ’n goue bandjie om die sigaret, haar lang geverfde nael krap teen die bandjie. Sy blaas die blou rokerigheid oor uitgesteekte lip langs haar neusvleuels op. ‘As my ma die rook aan my ruik, sal ek sê dis jy wat rook.’ ‘Jy kan maar sê dis ek.’ ‘Maar jy praat snaaks,’ sê Yetta. ‘My ma kan ’n kêrel vir my hê wat ek nie van hou nie, maar nie andersom nie. Waar gaan ek ’n kêrel kry wat sy nie van sou hou, as sy hom self vir my bring nie?’ ‘Dis anders by ons, baie anders.’ Yetta hou aan: ‘Hoekom sal jou ma van die een kêrel nie hou nie?’ My opgewektheid verdamp. Ek kan nie sê Indiër nie, dis ’n te groot, te misterieuse woord om te sê, dit is ’n te groot stap oor die ravyn, ek sê: ‘Hy’s ’n Griek.’ ‘O, ’n Griek. Jy kan hulle in elk geval nie vertrou nie,’ sê Yetta.

    Die spanning in my bors is terug. Het ek hom verloën? Ek kon Mahmoed nie so, so oop swaai voor Yetta nie, was ek skaam om dit te sê? Ek vertel haar later, elf dae later, die laaste nag aan boord. Ek fluister dit, ek fluister dit aan Yetta. Waar ons op die smal bedjies agter die muskietsifdraad op die boonste dek lê – onder in die kajuit sal ons sterf van die hitte – ek fluister dit asof ek vrees die woorde sal iets breek. ‘Hy’s nie ’n Griek nie, hy’s ’n Indiër.’ Maar Yetta slaap.

    Die groot drywende skepratboot het tot stilstand gekom, die menigte vroue en dogtertjies in hierdie reuse-sifdraadhok slaap. Die ontspanne liggame skaars strepies onder die lakens. Die skepratwiele het gaan staan. ’n Doodse stilte hang oor die soed. Ek staan teen die sifdraad, ek druk met die handpalms teen die sifdraad soos ek in die bos met Martin teen die kreupelhout en lang gras en klouende liane met my handpalms gedruk het. Toe kon ek deur, maar nou kan ek nie deur nie.

    Die groot skepratboot met sy sleepsel platboomskuite weerskante, kon die draai op die smal, silwer stroombed nie hanteer nie en het op volle vaart in die digbegroeide oewer vasgestoot. Die boot sal wag tot die stroom hom oorswaai en dan agterstevoor vaar totdat hy weer vasstamp in ’n skerp kronkel en weer voorkant eerste, verder vaar; so maak die boot al tien dae lank ’n eie deurgang deur die papirusplant- en soedopdrifsels van die Suid-Soedan. So stamp jy jou kop, en die water neem jou agterstevoor verder, tot jy weer jou agterstewe stamp, dan miskien draai dit jou om dat jy vooruit kan beweeg. Is ek nou omgestamp, agterstevoorom, wag ek vir die stroom om my reg te swaai, wil ek reggeswaai word? Selfs die bevaarbare stroom deur die soed is gedurig aan die verander, ons vaar soek-soek en stamp-stamp.

    Ek staan vasgelym aan die sifdraad, ek sien hoe die dik wolke oopskeur en die tanende maan na vore seil en sy wit lig stort op die soed wat glim soos ’n see. ’n Onaardse spooksee uitgestort op die donker aarde. Ons is die spookskip wat oor die kim sal verdwyn, die stil motore, die gedoofde ligte, die roerlose skroewe, en al die slapende mense, gekromde, onwetende skouers onder die komberse op die plat bedjies op die bodek, vrouens op die voordek en die mans na agter. Dit is ’n uur buite die uretal, ’n verlore uur wat die mense geruisloos, bewegingloos, onwetend, omslaap. Gestrand op die moerasse van die Soedan, die soed waarop geen mens of dier kan leef nie, wat bestaan het van voor God die water en die aarde geskei het.

    Die eerste klas beslaan drie dekke op die groot, logge boot. Mense van alle ras en kleur en geloof reis saam, eet saam, leef saam: Jood, Katoliek, Mohammedaan, Moor, Heiden, Arabier. Die Roomse priester met sy vier nonnetjies van ’n sendingstasie in Suid-Soedan is op pad na Rome. Op die hoek van die tweede dek is ’n opvoubare tafeltjie uit sy kajuit uitgestoot, en sy altaartjie is daarop uitgelê, pers kleedjie, koperkruis, kers wat met rooi gloed sy glastuit vul, en swaaiende wierookhouers as hy soggens en saans die mis bedien. Yetta en haar mense, eintlik Libanees, is ligbruin en die Egiptenare is van elke skakering, en die fyngeboude Noord-Soedannese is donker neutbruin, en dan die nog donkerder Suid-Soedannese, nog donkerder Kongolese, handelaars met systof, op pad na Egipte, diep swart Ethiopiërs op pad terug van die Kongo. Yetta se fyn Franse stemmetjie klink op as sy vir haar ma iets privaats wil sê, die Katolieke groepie praat Frans, die Soedannese handelaars, die kaptein, die offisiere praat Arabies, Egipties, Soedannees, wie kan sê – maar met my en die Swede Engels, niemand se moedertaal. Ek hoor met ’n skielike messteek in die hart die sagte dreunsing van die Allahoe Akbar … Allahoe Akbar … en op die verste punt van die middeldek, nee, hier ook, hier om my, dis nog net ons wat om die tafel sit, gooi die mense hulle matjies op die vloer, sak die liggame vooroor totdat die hoof die dek raak. Allahoe Akbar. Ek voel geborge en veilig met hierdie skare mense, ontspanne, ek voel tuis.

    Die Sparks bring op halwe velletjies papier radioberigte met nuus van die dag. Dis ná die aandete, ons sit nog aan by die tafels, hy stuur die velletjies in die rondte: ‘Jy sal my met iets moet help, hierdie woord Êl-en, ek kan dit nie begryp nie.’ Die kaptein kom by, ’n glas rooiwyn in die hand: ‘Bring nog ’n bottel, ons moet hierop drink. Ons ou vyand is uitgeskop in Suid-Afrika, Smuts is verslaan. En hierdie naam Êl-en,’ hy druk die papier voor my in, ‘Wie is dit?’ Dis einde Mei, ek probeer terugdink, was daar nie ’n verkiesing in Suid-Afrika nie. Ek is verstom. Ek sê aan die kaptein: ‘Die woord is Malan. Dis hy wat Smuts verslaan het.’ Hy skink my glas vol, die Swede se glase. ‘Hoekom is julle bly?’ vra ek vir hierdie donkerkleurige man in die uniform van ’n kaptein. Hy klap sy lippe, tevrede oor die nuus, oor die wyn. ‘Smuts is anti-Arabier, hy kies kant vir die Jode,’ sê hy. ‘Is jy bly?’ vra Rut. ‘Het dit vandag gebeur?’ vra ek die kaptein. ‘Vandag 26 Mei 1948,’ sê hy. Al die sitplekke om die tafel is gevul, nog stoele word aangedra, nog wyn word geskink, van Islam word vergeet. ‘Hou my plek,’ sê Rut en verdwyn stilletjies. Ek is verbouereerd, hulle wil my hand skud, wil hê dat ek lag en drink. ‘Dis onmoontlik,’ sê ek vir die Sparks wat van sy stoel voor die radio vergeet het. ‘Die boodskap sê dat Smuts sy eie setel, by … ’ – hy sukkel met die woord – ‘Stan… ton verloor het.’ ‘Dan is dit waar,’ sê ek. Hoe anders sou hy aan die woord Standerton kon kom? Dan is dit tog waar. Ek is verslae. Rut kom terug na die tafel met ’n klein Moesliem-petjie wat sy in Zanzibar gekoop het, op die rand het sy in rooi geborduur 26 Mei 1948. ‘Dis vir jou. Om vandag mee te onthou.’ Natuurlik moet ek bly wees, mens veeg nie ’n lewe lank se ingesteldheid sommerso uit jou kop uit nie. Vir die eerste keer ná ’n lang tyd dink ek aan my pa en ma. Hoe vier die mense nie vandag se uitslag nie … die gepakte Pêrelse strate, die magistraatskantoor, die geel blomme, die motors wat toet … maar hulle is veraf begrippe wat hier geen werklikheid het nie. My ma se suster, Madeleine, se woorde kom skerper na my: Malan en sy kleurbenepenheid. Hou Suid-Afrika blank. En Mahmoed? En hierdie donkervellige mense wat so verheug is? Hierdie spontane bevrydende samesyn met almal op die boot? Soos ek nog nooit ervaar het nie? Wat my wêreld verdubbel het?

    Ek vat my glas en drink dit leeg. Ek laat toe dat die kaptein dit weer vul. En weer. Emosie trek my diékant toe en daardie kant toe. Ek moet uit hierdie verwarring ’n pad uit oopdink.

    ’n Paar aande later, ná die aandete, sit ek op die groot stoep van die hotel in Kartoem. Ek kyk af op die donker, stadig vloeiende water van die Nyl. Dis sanderig bedompig, daar kom nie ’n luggie van die water af nie.

    Een van my Soedannese medereisigers bring ’n paar vriende na my tafel – ek het ’n vreemde soort bekendheid gekry as volgeling van dr. Malan, wat ek nie is nie, maar ek oortuig hulle nie. Hulle slaan ’n Soedannese koerant oop, slaan dit plat en hou dit vir my om te sien: ‘Hier, lees van jou land, en geluk met dr. Malan se oorwinning.’ Die Arabiese skrif kruip soos swart voelertjies en draadhakies oor die papier. ‘Ons het voor die verkiesing reeds baie belanggestel,’ sê die gesette man met die rooi fez op die kop: ‘Ek vertaal vir jou’ – en sy beringde vingers klop teen die koerant. ‘Met hierdie mening stem ons saam, ons, die volgelinge van Sajed Ali el Murgannie Pasj en die Broers’ – hoe klink die woord Broers so bekend? – ‘mense wat strewe na die vereniging van die Soedan en Egipte onder die Egiptiese kroon.’ Hy lees: ‘Die val van Smuts beteken die begin van ’n nuwe vryheid. Ons onthou Smuts as een van die grootste teenstanders van die ontruiming van Egipte deur Britse troepe. Ons onthou ook dat hy ’n voorstander was van die voortbestaan van die Condominium – die Anglo-Egiptiese soewereiniteit oor die Soedan. Nog altyd was hy teen die regering van die Soedan deur die Soedannese.’

    Dis ’n totale misverstand, dis ’n skeefkyk, dis sien wat jy wil sien. Malan het ek nog nooit ’n enkele woord hoor sê of ’n mening hoor uitspreek oor die Engelse teenwoordigheid in die Soedan nie. Alles om my trek skeef.

    Dit klink logies, gee ek toe, Engeland uit Suid-Afrika, Engeland uit die Soedan. Sal hierdie trae land van die slangrivier op sy pad deur die papirus, van die riviergebondenheid en die onmeetbare woestyn ons nuwe bondgenote word vir ’n Republiek van ons eie? Binne-in my lag dit bitter. Met woorde kan jy speel, met beleid, met emosies, soos op my emosies van jongs af gespeel is. Maar die bitter feite bly staan. Sou hierdie donker mense met die vreemde oë, die donker hare of die lang tulbande om die kop om heuplang donker hare te verberg, wit klede soos bindsels om hulle gedraai of los rokke tot aan die voete, en kort omboorde onderbaadjies, met hulle rooi nat lippe, hulle vreemde taal soos spykers teen die oor, of hipnoties teen die hart, sou hulle weet waarvan hulle praat as hulle juig omdat Malan vir Smuts verslaan het? Sou hulle die minste aanduiding hê wat Malan beoog?

    Ek staan op. ‘Ek gaan stap langs die rivier,’ maar ek kom nie weg nie. Hulle agtervolg my, hulle boender die klein bedelaarseuntjies van my weg, hulle gun my geen ruimte nie, hulle klim in hulle wit lang rokke die donker rivieroewertrap af agter my aan, hulle klap met die hand teen die koerant, hulle lees sinne voor, hulle stemme dreun in my ore: ‘What would Malan do, what would Malan say? A new horizon at the southernmost point of our continent.’

    Die nag is donker, die sterre skerp, die water sug glibberig swart teen die rivierkaai, blink soos olie. Die Nyl, toe ek buk om daaraan te vat, stoot louwarm teen my hand.

    Ek kom terug by die hotel, kry ’n pen en papier en skryf lank en in besonderheid aan Klaas om hom te vertel wat ek voel, om tot rustigheid te kan kom in my gemoed. Ek skryf vir Mahmoed ook, maar hoe kan ek vir hom van my landsgebeure vertel? Hy het, dink ek, nie die minste idee van wat dit vir my behels om hom lief te hê nie, watter verwoesting dit om my sal saai nie. Of saai ek verwoesting om hom ook? By sy broer, die advokaat, wat ek in Nairobi leer ken het, by sy pa, die dokter wat ek nie ontmoet het nie. Of dra hy kennis van my land, weet hy? Daar is tog koerante in Kenia, weer oorstroom die bitterheid my. En die sondebok, hierdie nag in die eeue oue, soel, strategies so belangrike woestynstad, waar ek loop langs die donker trae rivier wat regdeur die stad sny, die rivier wat die groot gesogte is, die sondebok, dit weet ek, soos dit my vyand ook in die suide is, is Engeland. Die middag het ek gestap langs die modderstrate, tussen kleihuise uit die woestynsand gebou, anderkant die rivier, die ‘boorlingstad’ Omdoerman, waar Kitchener, die ou bekende, die vermaledyde, hy wat die klein nasies onderwerp, ook die Soedannese onder hulle Moesliemleier, die Mahdi toetentaal en wreed vernietig het. Die prente in die Mahdi-museum, ook maar uit klei gebou en armoedig, het my aangegryp, het die beeld van vernietigde plaashuise na my teruggebring. Ek het opnuut geweet: Hier ook, soos oor die ganse ooste- en suidekant van die Afrika-kontinent, het Engeland sy spoor gelaat. Ek sien en hoor die eks-Indiëkontingent langs die ooskus, sundowners en dun sigarette in lang met goud oorgeblaasde houers in die hand: ‘We much prefer life in our colonies to the humdrum life at home, actually we have our little England wherever we go,’ sê een, en blaas die wolkie gegeurde rook – kan dit ‘gedokter’ wees? – vlak langs die gesig uit, sodat sy weer ’n keer, deur die neus, die walms kan inasem. Oor die reuse- pienk klatte, Cape to Cairo deur Afrika, het Engeland, saam met die spierskoon eersteklas-bodekvervoer oor die mere, sy skadu gewerp en rassewroeging onder die ‘stiefkinders’, ‘God’s stepchildren’, gelaat. En Kartoem, die groot pseudo-Westerse dorp met die teerstrate, is – die grootste ironie van alles – uitgelê in die patroon van die strepe van die Union Jack. Die een of ander jingo-bevelvoerder het dit beplan, het die Arabiere my vertel. ’n Sluwe plan sodat die spore van die Britse besetting nooit, prakties nooit, wegggevee kan word nie, hoe hard die stormwinde ook al waai, hoe woes die sand van die woestyne ook al snags verskuiwe, nooit.

    Ek skryf laatnag vir Klaas:

    Alles is bouleversée, Yetta se geliefkoosde woord, op sy kop gedraai. Ek is uitmekaargeskeur. Toe ek ’n kind van vyf was, het my pa, bo in Oranjestraat in die Pêrel, my opgetel om oor die heining te kyk na ’n stuk verroeste yster in ’n tuin. Hy’t my vertel dit was die drukpers waarop die werk van die eerste Afrikaanse skrywers gedruk is en ook die Patriot. Ek het hom gevra wat is ’n Patriot. Hy’t gesê dis iemand wat sy land en sy volk liefhet en eer. Toe sê ek vir hom ek wil ook ’n Afrikaanse skrywer en ’n Patriot wees. Maar ek is lankal nie meer ’n Patriot nie. Ek het in ’n Malan-huis grootgeword, maar ek kan my hoegenaamd nie vereenselwig met sy beleid nie. Net die teenoorgestelde. Ek verfoei dit. Teen my eie kindsbeen-lojaliteite in. Ek begin emosie heeltemal wantrou. Behalwe liefde vir mense. Liefde vir ’n saak of idee is dryfsand. Omdat niks is soos dit lyk nie. Daar geheime agendas oral verberg word. Veral lojaliteit wantrou ek. My lewe is in die war gestuur; slegs my briewe aan jou en jou antwoorde uit Kanada gee sin aan my dae.

    By die ambassade in Kaïro wag ’n stapel briewe. Die ambassadeur sê: ‘Ons was bekommerd jy het weggeraak op die Nyl, soos Moses in sy biesiemandjie. Die mense soek jou, kind.’ En toe hy die aand my terugbesôre in my pension – die goedkoopste wat op die stasie aangebied is – sê hy: ‘Ek het ’n verstandhouding met my vrou. As ek ná tien minute nie terug by die motor is nie, ry sy huis toe, ek kom wanneer ek wil met ’n taxi.’ Hy het met my gegrynslag. Selfs die gedagte aan wat hy voorstel, was onverduurbaar, dit het my gekap, ek wou by die toonbank begin huil, maar hy het geskrik en padgegee. ‘Ontstel jou nie, môreaand bring ons jou in die groep huis toe.’

    Ek het deur die immer dawerende strate van Kaïro gestap, bedwelm deur die voertuie, die kleure en geure. Ek koop by ’n straatwinkeltjie poskaarte van ’n farao en sy vrou, broer en suster, sy wit, hy donker. Ek wil die kaarte soos ’n banier voor my dra. Ek koop baie kaarte, ek adresseer die kaarte aan almal in die Kaap wat ek

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1