Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Raaiselster
Raaiselster
Raaiselster
Ebook142 pages1 hour

Raaiselster

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Leopold se wêreld stort in duie wanneer sy familie hul rykdom verloor. Hy sluit by ’n togryer aan op pad na die diamantvelde om sy fortuin te soek. Sara, vermom as ’n touleier, reis saam op soek na die merk van haar voormense. Maar wanneer hulle by die geheimsinnige tolhuis in Ceres gestrand raak, kom hulle ’n donker wese in die berge tee en ontdek dat hulle nog altyd bestem is om die skrikbewind van die Verdwaalding stop te sit . . .
LanguageAfrikaans
Release dateJul 6, 2019
ISBN9780798178983
Raaiselster
Author

Troula Goosen

Troula Goosen droom sedert haar kinderjare daarvan om te skryf. Na vele besige jare as binneversierder op Riversdal het sy in 2008 ’n aanlyn-skryfkursus voltooi en skryf sedertdien kortverhale en novelles vir opvoedkundige uitgewers. In 2015 het Spooksoene, haar eerste vollengte jeugverhaal, by Protea Boekhuis verskyn. Sy is die wenner van 'n ATKV-Woordveertjie en ook die gewilde skrywer Maanlig-meermin (Tafelberg). Sy woon in Bettysbaai.

Read more from Troula Goosen

Related to Raaiselster

Related ebooks

Related articles

Reviews for Raaiselster

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Raaiselster - Troula Goosen

    RAAISELSTER

    Troula Goosen

    Human & Rousseau

    Vir my ma, Johanna (Joey) Venter, gebore van der Spuy. 

     Sy was die wind onder haar gesin se vlerke.

    T. G.

    1

    Dis rooi." Leopold kap met sy vuis teen sy voorkop en loop blindelings voor die verkeer in Adderleystraat in.

    ’n Perd runnik en ’n stofwolk warrel op soos ’n kapkar uitswaai. Onnosel! swets die drywer en skud sy vuis.

    Frans spring agterna en pluk Leopold terug. Waarvan praat jy? ’n Bekommerde plooi verskyn tussen sy oë. Wat’s rooi?

    Die dood. ’n Straaltjie sweet loop teen Leopold se nek af, al hang die oggendmis koel oor Kaapstad. Oudok het ge­sê die tyd is hier, Mieta moet my swart klere stryk. Maar hy’s verkeerd. Die dood is nie swart nie.

    Frans klik sy tong. Aag, jy ken vir Oudok. Jou ma sal ge­sond word, jy sal sien.

    Dink jy regtig so?

    Natuurlik! Frans begin ’n pad deur die ander voetgan­gers baan. Wat meer is, sy sal bly wees ek het jou omgepraat om na die Trojan te kom kyk. Jy weet mos hoe mal sy daaroor is as ’n Engelse skip in die baai vasmeer.

    Leopold maak sy mond oop om te antwoord, maar Frans gee hom nie kans nie.

    Kan jy glo! Die eerste stoomskip ooit met gloeilampe in die eetsaal. Ek sê jou, een van die dae is elektrisiteit orals. In die strate. In ons huise … Sy stem breek.

    Leopold trek sy asem diep in. Die lug ruik na see, êrens in die verte roep ’n vishoring en om hom wemel dit van voetgangers en rytuie. Dit lyk of al wat Kapenaar is op pad hawegebied toe is, en dis g’n wonder nie. Die Trojan, ’n posboot op sy nooiensvaart van Engeland om die Kaap, het anker ge­gooi. Hy brand om dit te sien, maar kan ook nie help om skul­dig te voel as hy aan sy siek ma dink nie.

    Komaan, Leopold, ons moet wikkel om ’n goeie staanplek te kry.

    Hy loop vinniger. Frans is reg. Netnou toe hy sy ma ge­groet het, het haar ooglede gefladder. Dit móét ’n teken wees dat sy besig is om gesond te word. Oudok is die naaste wat hy ooit aan ’n pa gehad het, maar hy kan nogal oordryf. Leo­pold wil so graag net vir ’n rukkie vergeet van die rooi vlekke op sy ma se sakdoek en van Mieta se dikgehuilde oë wanneer sy by die kamer uitkom.

    Het jy dit gesien?

    Leopold verloor amper sy balans toe Frans teen hom stamp. Nee, wat?

    Frans wys straataf na waar ’n spaaider tussen die ander ry­tuie verdwyn en Leopold voel hoe sy gesig warm word. Daardie spoggerige ryding behoort aan die Hugo’s, wat be­teken Millie het nou net verby hom gery. Haar beeldskone gesig flits vir ’n oomblik in sy gedagtes.

    Sjoe, jy moes gesien het hoe maak sy ogies vir jou. Frans lag. As haar ma nie langs haar gesit het nie, het sy sowaar vir jou ’n soentjie gewaai!

    Moenie simpel wees nie. Leopold voel hoe sy nek warm word.

    As jy my vra, kan die stinkryk Hugo’s nie wag dat die ge­wildste erfgenaam in die Kaap sy vryperd voor hulle stoep kom afsaal nie. Frans klink bekaf. En ek? Ek moet eers ’n bank beroof voor ’n oulike meisie na my sal kyk.

    Ag, moenie weer met daardie ou storie begin nie!

    Hoe moet ek dit uit my kop kry? Meer as honderd­dui­send pond se diamante weg. Poef, net so! En dit van onder die poskantoor se toonbank waar my pa dit gebêre het. Jy weet self almal kyk skeef na ons familie.

    Die geskinder sal wel ophou, troos Leopold.

    Frans snork. Rêrig? Eers kom die poskoets laat van Kimberley af en mis die posboot na Engeland. Toe is daar nie genoeg plek vir al die possakke in die poskantoor se kluise nie. So my pa bêre ’n sak onder die toonbank en toe hy Maandag oopsluit …

    Leopold klik sy tong. Dié opwindende rooftog het Kaapstad die laaste maand of twee aan die gons, maar wanneer sy ma weer begin notisie neem van wat om haar aangaan, sal sy hom verbied om Frans te sien. Die feit dat sy beste vriend se pa ’n verdagte in ’n diamantroof is, gaan beslis nie by haar status pas nie.

    Skielik roep die vrou skuins voor hom verskrik uit. ’n Wit hond skiet verby haar, pyl op Leopold af en spring spelerig teen hom op.

    Goeiste, waar kom jy vandaan? Leopold lag terwyl hy vergeefs probeer om die slobberige soene wat die lang tong op sy wange plak te keer.

    Die tefie val op haar rug neer en klap met haar stert in die stof. Leopold buk om haar pens te krap. Dis ’n snaakse hond. Lyk amper soos ’n jakkals met ’n spits gevreetjie en ’n pron­kerige pluimstert. Haar pels is sneeuwit en op haar linkeroor is ’n rooibruin kol met ’n ongewone vorm wat amper soos ’n handpalm en vyf vingers lyk.

    Los die brak, man, jaag Frans hom aan.

    Dit lyk of sy wil saamkom, gooi Leopold wal.

    Frans rol sy oë. Ek wil nie by wees as jy dié vlooisak by julle spoggerige nuwe huis aanbring nie. Hy begin aanstap.

    As my pa nog geleef het, het hy lankal vir my ’n hond ge­gee. Leopold klap sy vingers, maar toe klink daar ’n skerp fluit uit die stegie regs van hulle op. Die hond spits haar ore. Leopold volg haar blik en sy oë ontmoet dié van ’n man wat met sy rug teen die skaduwee van ’n afgeskilferde muur staan. Hy het ’n verslete grys mantel aan en sy gesig is vol plooie wat soos die lyne op ’n ou landkaart lyk. Instinktief lig Leopold sy hand om te groet, maar die man trek sy pet oor sy oë, spoeg sy pruimpie uit en draai om. Net voor hy tussen die geboue wegsmelt, sien Leopold dat hy ’n boggel het.

    Die hond tjank en sit hom agterna.

    Verraaier! brom Leopold en rek sy treë. Nogtans kan hy nie help om kort-kort om te kyk nie. Daar was iets aan daardie man, iets wat hom kriewelrig laat voel.

    2

    Leopold kry nie kans om lank oor die boggelrugman te won­der nie. Frans laat waai asof die duiwel in sy nek blaas en hy moet draf om by te bly. Toe hulle by die hawegebied kom, skroei sy asem in sy bors, maar Frans bly voor.

    Wag vir my! roep Leopold. Die vissersbote wat dou­voor­dag uitgevaar het, is besig om in te kom en sy stem verdrink in die gekras van die meeue wat bokant die handelaars se viskarre ronddraai. Frans seil soos ’n slap snoek deur die ge­woel en die laaste wat Leopold sien, is sy sandblonde kuif wat tussen die visvroue se bont kopdoeke wegraak.

    Leopold steek vas. Ander dae kan hy hom verkyk aan dié kleurvolle mense agter hulle blokke, maar vandag is anders. Van­dag lyk hulle figure spokerig in die mis, en die reuk van vis­derms laat hom naar voel.

    Wat dóén hy hier? Hy moet vergeet van die stoomskip en teruggaan na sy siek ma.

    Hy wil net omdraai toe hy Frans se blonde kop ’n entjie vorentoe bokant dié van die ander mense sien uitsteek. Frans kyk terug en klap met sy vingers. Hiernatoe, mater! beduie hy.

    Leopold huiwer. Dit sal net ’n rukkie vat om na die skip te kyk. Miskien sien hy van die passasiers op die dek en kan hy vir sy ma vertel hoe die nuutste Engelse modes lyk.

    Da-da-die-damm! Frans boots ’n tromslag na en swaai sy arm dramaties. Daar, in al sy glorie: die Trojan op sy nooi­ens­vaart!

    Leopold klim langs hom op die lae klipmuurtjie en rek sy nek. Die mis is besig om te lig, net genoeg om die buitelyne van die posboot uit te maak. Twee maste, ’n skoorsteen en die reddingsbote. Wat dit spesiaal maak, is dat dit die eerste vaartuig is wat met elektrisiteit verlig word, maar daarvoor moet hulle wag tot dit donker is. En selfs dan sal hulle alles nog beter kan sien as hulle op ’n manier aan boord kan kom.

    Deksels! As daar iemand is wat ’n plan sou maak om ons op die skip te kry, is dit tannie Isabella, eggo Frans sy ge­dag­tes. Jou ma kon mos nooit wag om die nuutste danspassies by die passasiers te leer nie.

    Ja, sy sê altyd die Kapenaars moenie agter raak met wat in Engeland aangaan … Leopold kyk met skrefiesoë na Frans. Jy dink nie regtig my ma gaan gesond word nie, nè?

    Frans word rooi en vee oor sy nek.

    Leopold spring van die muurtjie af en plant sy hande op sy heupe. Jou beste maat se ma is besig om dood te gaan en al waaraan jy kan dink, is elektriese gloeilampe.

    Dis nie nodig om my kop af te byt nie. Frans sit sy hand op Leopold se skouer. As jou ma nie beter word nie, hoef jy ten minste nie oor geld bekommerd te wees nie.

    Geld? Is dit al waaraan jy dink? Is dit waarom jy die diamantroof nie uit jou kop kan kry nie? Omdat jy eintlik wens jou pa hét die diamante gegaps?

    Deksels, Leopold, ons is vriende. Ek probeer om jou be­ter te laat voel!

    Vir jou inligting, dit werk nie! Leopold klap Frans se hand weg en struikel amper oor ’n net wat op die sand oop­ge­gooi lê. Hy systap ’n smous met ’n bamboesjuk oor sy skou­ers en storm blindelings weg. Frans roep agterna, maar hy hou hom doof.

    Uiteindelik is hy aan die onderpunt van Adderleystraat. Hy is nie lus om stroomop te beur teen die nuuskieriges op pad na die hawegebied nie en besluit om af te draai Groentemarkplein toe. ’n Slukkie van die helder bergwater wat ’n mens daar uit die fontein kan pomp, is net wat hy nodig het om sy kop skoon te kry.

    Die plein was nog altyd een van sy gunstelingplekke. Op warm someraande het hy en sy ma soms hier kom stap en dan het sy hom vertel van die slawe wat vroeër jare hier verkoop is. Het Mieta se voorouers ook hier in kettings gestaan? Hy het nog nooit die moed gehad om te vra nie.

    Teen dié tyd het die son deur die mis gebreek en speel die strale vrolik oor die groenteverkopers se kleurvolle seiltjies. Afgetrokke kyk Leopold na die vars produkte wat daaronder uit­gestal

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1