Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vuurvreter: Branderjaer #2
Vuurvreter: Branderjaer #2
Vuurvreter: Branderjaer #2
Ebook327 pages6 hours

Vuurvreter: Branderjaer #2

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die tweede titel in die gewilde Branderjaer-sage. Malherbe Albertyn, oftewel Vuur, beplan om sy somer in Kransbos te spandeer om die magiese Ylwoud te vind. Desperaat op soek na die waarheid, na iets buiten die bloedskuld wat hy en sy bendebroers steeds in die arena betaal. Desperaatheid dryf ook vir Mieke om te waag om haar drome na te jaag. Saam ontdek hulle baie meer as waarop hulle gebargain het. Is Ylwoud die antwoord op Malherbe se suster se verdwyning?  
LanguageAfrikaans
Release dateJun 6, 2022
ISBN9780798182836
Vuurvreter: Branderjaer #2
Author

Joha van Dyk

Joha van Dyk is ’n nagraadse student aan die US. Sy het grootgeword op ’n plaas in Kleinzee, Namakwaland. Sy het haar Meestersgraad in Engels in 2020 verwerf, cum laude. Tans werk sy aan haar Phd in Engels, terwyl sy deeltyds tutor. Van haar gedigte is opgeneem in Penseel en Versindaba. Branderjaer was haar debuutroman in 2020.     

Read more from Joha Van Dyk

Related to Vuurvreter

Related ebooks

Related articles

Reviews for Vuurvreter

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Vuurvreter - Joha van Dyk

    9780624089810_FC

    Vuurvreter

    DIE BRANDERJAER-SAGE 2

    Joha van Dyk

    Human & Rousseau

    Aan die meisie met die droom

    Malherbe

    VUURVRETERS. Dis wat ons is, Malherbe.

    Malherbe weet dit is nie die werklikheid nie, want hy kyk na sy oudste suster.

    Charlie Albertyn vou haar arms oor haar opgetrekte knieë. Die wind pluk aan haar rooi hare, die son vang die goue skynsel waarmee die Albertyns spog op ’n somersdag.

    Op Weduweekaai se kransspring-lysie lyk sy agtien – die ouderdom wat sy was toe hy haar laas gesien het. Haar sproete is dof. Bloukolle verkleur haar arms waar die drup ingeforseer is. Haar wangbene keep in. Maar sy’s steeds ’n Albertyn. Trots. Sy dra dit aan haar teruggegooide skouers, aan die kantel van haar kop en die lig van haar mondhoek – eers aan die linkerkant voor sy hom verras met ’n vol glimlag.

    Nie almal is so geëerd om Charlie se vol glimlag te aanskou nie. Maar hoewel Charlie agtien lyk, is Malherbe nie meer tien jaar oud nie. Daar is littekens oor sy vingers, snye oor sy bene, ’n tatoe teen sy skouer, die gekraakte horlosie om sy gewrig.

    Sien jy nou wat ek bedoel het, boetie?

    ’n Dun, hoë klank klink op in Malherbe se ore. Charlie kyk links af na Stormbaai wat langs hulle uitgestrek lê. Mense maal soos miere deur die strate. Langs Weduweekaai strek die kus voort na Meermin Cove, Suidstroom wat grens aan die promenade, Klippiekuil en dan uiteindelik Pêrelbaai waar die Albertyns se strandhuis lê.

    Maar Charlie draai haar rug daarop en kyk na die regterkant, na die buurdorp van Chancer Bay.

    Dis alles net Bloedskuld, weet jy? Die son speel oor haar bleek vel. Hulle vat en vat en vat. Tot daar niks oor is nie. Soos met julle ook. Sy kyk hom in die oë. Hulle is sagter as wat hy onthou. "Julle het nie bedoel dat hy seerkry nie, en toe … toe loop alles verkeerd. Toe sien hulle julle. Julle het vir hulle ’n geleentheid gegee om alles te vat, Malherbe."

    Malherbe deins terug asof sy hom geslaan het, en bly dan versteen sit. Toe hulle vier jaar gelede ’n boot uitgevat het op die see, het hulle nie gedink dit gaan eindig met Frederik Anker se dood nie. Maande later het hulle besef die Kring – die leiers van die Rotte, die dominante bende in Breekwater, en hul vennote – het hulle daardie dag gesien. Toe Ben se suster beskuldig is van moord tydens ’n Rotte-inisiasie het die Branderjaers die straf namens haar gedra. Hulle hande is bevlek met Bloedskuld wat hulle moet afbetaal. Maar Charlie was nie hier vir –

    Dis alles Bloedskuld, Malherbe. Dis die kruks, is dit nie? sug sy en tuur uit oor die water. Sy is kalmer as toe sy jonger was, voor die ongeluk. Jy gee hulle net soveel as wat jy wil.

    Hy’t altyd probeer stry teen hierdie mantra. Totdat hy besef het dat, ja, met die Albertyn-van het hy die reg om net soveel te gee soos hy wil. Niks meer nie. Hy’s nou amper agtien. Hy het sewe jaar gelede die geleentheid om met haar te stry verloor, voor sy verdwyn het. Tog maak hy sy mond oop. Daardie skerp geluid trek deur sy skedel.

    Dis skuld. Sy stem wankel soos ’n tienjarige s’n. Jy moet betaal tot jy klaar is en as jy … Jy kan nie terughou nie. Dis nie hoe dit werk nie.

    Wat as dit kon? vra Charlie, met daardie amper-glimlag. Sy druk op haar hande om op te staan. Klippies krummel van haar palms af. Sy kyk af na hom. Niks meer as wat jy wil nie. Onthou dit. As hulle dink hulle kan meer uit jou kry … is jy ’n goner. En jy is nie. Jy’s in beheer.

    Charlie? fluister Malherbe, maar die wind ruk dit weg. Die skerp klank raak hoër en steek teen sy slape.

    Dit gebeur in ’n oogwink. Een oomblik is Charlie daar, teruggetrekte skouers, hare in ’n stralekrans, soos ’n monarg wat uitkyk oor haar koninkryk.

    Die volgende oomblik is sy weg.

    Mieke

    MIEKE LE ROUX is nie bang vir die donker nie.

    Daar was ’n tyd toe sy wel bang was. Haar nagmerries het haar verdrink in donkerte en donderweer – asof sy onder water gedompel word. Totdat haar pa haar gered het van die verdrink, met sy palm oor haar voorkop en altyd dieselfde woorde.

    Word wakker. Jy droom.

    Dis hoe sy voel wanneer sy in Breekwater, die onderdorp van Stormbaai, rondbeweeg. Asof sy sewe is, vasgevang in ’n droom, in absolute donkerte, na aan verdrink. Mieke trek haar mus laer en voel aan haar nek om seker te maak geen hare steek uit nie. Haar blonde hare is te opvallend in die flitsende ligte. Sy is gekamoefleer in swaar grimering, tapered sweatpants en sneakers.

    Die arena is nie ’n plek waar jy opgemerk wil word nie.

    Die ondergrondse parkeerarea is deur die Rotte omskep in ’n arena met ’n bokskryt, met die ondersteuning van die Kring – ’n geheime groep grootkoppe met genoeg geld om ’n dwelmkartel en ondergrondse arena te bestuur. Mieke en Deidre het ’n paar maande gelede Breekwater se onwettige arena met sy bokskryt ontdek toe Deidre wou uitvind waarmee Louw Swanepoel, alias Bitter, een van die Branderjaers, besig was. Daarna het die Branderjaers vir die drie vriendinne genoeg vertel om te verseker hulle verstaan hoe ernstig hulle daaroor is dat hulle moet wegbly van die plek.

    Mieke het nog nie weer vir Deidre of Bella hier gesien nie.

    Spiraaltrappe rys op langs haar, waar ’n sekuriteitsman geposisioneer is. Hy lyk nes die ou voor die buitedeur. Hulle is deel van ’n nuwe sekuriteitsisteem wat ongewenstes moet uithou. In Breekwater. Die ironie daarvan het haar stomgeslaan. Mieke kyk op en vang die swaai van ’n swart syrok wat by ’n deur inglip.

    Move along, blaf die sekuriteitsman.

    Mieke mik vir die area wat sy al goed ken. Dis asof sy by iemand se koorsdroom ingeloop het. Alles beweeg vinniger. Sy word oombliklik teruggedruk toe daar ’n vuisgeveg reg voor haar uitbreek, maar sy glip teen die muur langs om dit te vermy. Tussen die lywe is daar skadufigure met donker kringe om hulle oë en groot baadjiesakke – pers pakkies in hul hande voor dit geruil word vir blou note.

    Almal is hier om te ontsnap. Van hulle moet net meer kreatief wees.

    Kannie! Kannie! eggo die skare. Selfs sonder die toeskouers se aanmoediging is Ben Kannie Palmer ’n tarter. Sy stem klink kort-kort op. Dit beteken sy opponent verloor óf is nie aggressief genoeg nie. Mieke was al genoeg kere hier om agter te kom dat iets suss is met die arena. Die Branderjaers sal nie sommer gaan lê as daar ’n bakleiery is nie, maar in die kryt … Iemand soos Ben sal nie so tart net om te val ná ’n paar houe nie. Tog het dit al gebeur. Maar niemand dink enigiets daarvan nie, want die meeste ken hulle nie eintlik nie. Vir die betters is hulle net ’n klomp seuns wat boetes afwerk. Hulle gee nie om wat hulle misdaad was nie.

    Solank daar bloed is.

    Mieke kyk op na die balkon waar ’n aantreklike vrou in swart haar bruin hare agter haar oor vee voor sy vir oom Albie, Deidre se pa, groet. Die lig vang die glim van die locket wat oor haar bors hang. Mieke begin stadig tussendeur die mense weef en steek vas ’n entjie weg van die kryt, arms gekruis sodat haar elmboë die rowwe stampe absorbeer.

    Ben se bruin vel glim in die kryt, sweet drup teen sy rug af waar ’n 3 in wit geverf is. Ellis Klippies van den Bergh beweeg buite die een hoek van die kryt na die ander, soos ’n dier wat jeuk om deur die doringdraadheining te spring. Nou en dan knak hy sy vingers teen sy palm. Mieke soek nie eens na Deidre se ou, Louw, nie. Bitter is deesdae maar min ingedeel vir skofte. Daar is nog net een persoon wat hier moet wees …

    Mieke vind hom skuins oorkant haar.

    Malherbe Vuur Albertyn is teen die kant van die arena, oë op die kryt. Hy’s nie hier vir ’n rondte nie, net vir back-up. Die kap van sy hoodie is oor sy kop getrek, ’n rooierige lok hare val oor sy voorkop. Hy skree iets en Ben beweeg soos ’n marionet. Vir al sy grootpratery is Kannie besig om lelik seer te kry. Altans … dis hoe dit voorkom. Hy’s sopnat gesweet, maar daar’s geen bloed nie. Sy opponent probeer op sy voete kom.

    Skielik val Malherbe se oë op Mieke. Sy neem ’n verskrikte tree terug. ’n Frons vorm tussen sy wenkbroue – niks nuuts wanneer hy vir Mieke teëkom nie, maar hy reageer nie en kyk haar net aan. So min dink hy van haar dat dit hom nie skeel dat sy daar in die arena is nie. Daardie bekende verwardheid grawe sy kloue in haar. Sy’t niks, letterlik niks, aan hom gedoen nie, maar hy kan haar nie verdra nie. Asof hy haar gedagtes lees, rol Malherbe sy oë en kyk weer voor hom.

    Mieke tree dieper die skare in en lig haar hand om die papier by haar sportsbra uit te trek. Haar vingers bewe nes die druggies s’n om haar. Sy’t meer koffie gedrink as wat sy geëet het vandag – sy hoop haar ma het dit nie opgemerk nie. Anders moet hulle weer ’n Gesprek voer. Haar een hand verstyf in ’n vuis totdat die goue ring om haar middelvinger in haar vel grawe, die ander een sak en sy begin afloer na die getalle toe ’n hand op haar elmboog beland.

    Haar vingers vou vinnig om die papier toe sy omgeswaai word. Haar hare word losgeruk uit die mussie en tuimel teen haar rug af –

    Jak?

    Skadu’s oordonder sy gesig, maar sy sal hom enige plek uitken. Selfs in die donker. Hy’s kaal bolyf, in sy PT-broek. Meeste mense sien hom bruingebrand op ’n branderplank. Min van hulle sien hom só – soos ’n light show Frankenstein’s monster. Maar die criss-cross littekens oor sy lyf is al bekend, selfs mooi – al word hulle kort-kort verkleur met blou en geel ligte. Jak se hand is tussen hulle, haar swart mussie in sy vingers vasgeklem.

    Jy’t gedink hierdie gaan werk? Regtig, Labbie?

    Jak, moenie –

    Hoe’t jy verby Sekuriteit gekom?

    Jy bedoel die dude wat van sy kop af hoog is? Die ou wat gedink het ’n chappie is een of ander nuwe psychedelic? Daai Sekuriteit? Mieke rol haar oë.

    Jy’t Sekuriteit gebribe met … Mieke. Wat doen jy hier? Sy stem is harder as die geskree om haar, maar sy kan steeds vir Malherbe hoor gil op Ben en Ben op die opponent en –

    Mieke?

    Ek het dit onder beheer, ek –

    Nee. Mieke. Wat de fók doen jy hier? ’n Pers lig skyn oor sy saamgetrekte wenkbroue, oor sy oë wat oor haar gesig flits, op soek na antwoorde.

    Ek – ek – ah –

    Hy trek haar aan haar elmboog weg, uit die druk van die betters en terug na die muur.

    Jy kan nie net – Die klank is skielik oopgedraai. Iewers weerklink ’n mikrofoon.

    Wat? skree Mieke en kyk om, dan terug na Jak. Sy besef dan presies wat hy hier doen. Maar … Hy’s nie op die rooster nie.

    Jak – Mieke gryp sy skouer en draai dit tot sy die 7 op sy rug kan sien. Haar hand raak aan die rowwe merk wat sy al so dikwels gesien het ná hy sy wetsuit afgezip het. Die sewe vlek haar duim blou. Jak ruk weg.

    Jy kan nie hier wees nie! Hy rek sy nek om oor die mense te kyk en beduie met sy linkerhand, sy regterhand nog op Mieke se arm asof hy verwag sy gaan hardloop.

    Nozi! Can you take her to Kalla’s?

    Die meisie smelt sorgeloos uit die skaduwees. Haar braids is teruggetrek in ’n rooi bandana – skynbaar ’n teken dat mense haar moet uitlos, as Mieke kyk na hoe die skare vir haar plek maak.

    Sure thing. Nozi skud haar kop toe sy by hulle kom. Watch out, I’m gonna start charging Uber fees. Sy rig haar donker oë stip op Jak. Just cover for me.

    Jak stop die bakkiesleutels in haar hande, draai op sy hak en verdwyn tussen die skare in. Mieke maak gereed dat Nozi ook skel, maar haar aandag is op ’n meisie ’n ent weg. Haar hare frizz tot onder haar skouers. Haar sleutelbeen beur teen die straps van haar top toe sy haar arms kruis, haar blik op ’n man wat almal probeer vermy. Nessus. Hy’t ’n honger kyk in sy oë. Waarmee hy ook al smokkel, hy maak genoeg om die Rotte te betaal en homself staande te hou.

    Elke, sug Nozi. She’s selling photos but … Nessus isn’t keeping his prices stable. Elke druk ’n vinger teen sy bors voor sy wegstorm. Nozi vestig haar aandag op Mieke.

    Hoekom is jy hier?

    Mieke is skielik bewus daarvan dat Jak haar mussie het, dat haar hare blink in die ligte, dat oë op hulle beland. Jak wou haar hier uitkry en hy’t presies geweet hoe om dit te doen. Sy pas nie hier nie en almal kan dit sien. Haar vingers verstyf om die papier in haar sak.

    Ek het nie ’n keuse nie.

    Malherbe

    DIS DIE 23STE NOVEMBER en Ben is besig om op sy donner te kry.

    Die Vrydagaand het nie so begin nie. Die Branderjaers het vroegoggend by Nozi ’n heads-up gekry dat die skedule verander het, dat Malherbe uit is en Jak moet instaan. Dit was vir hom vreemd dat Boss so gretig was om die rooster op kort kennisgewing te switch, maar hy’t nog nie een keer die tingerige aasvoël raakgesien om hom te probeer ontleed nie. Gewoonlik run Boss die show vir die Kringmakers – die Volstees en Rotte – wat die arena beheer, maar waar Malherbe langs die kryt staan is die man nêrens te sien nie. As Boss hier was sou hy dalk die nuwe kind in die kryt gewaarsku het dat hy dit te ver vat met Ben, maar –

    Ben skuur oor die vloer en sy rug kap teen die hoekpaal. Malherbe gryns vir die ruwe skeure oor sy rug. Sover is dit net vel, die doringdraad het nie diep genoeg getref nie. Ben deins heeltyd terug, duck en roll voor hy die draad gaan tref. Hy’s veronderstel om te verloor, maar Malherbe kan dit nie help nie. Hy leun nader aan sy bendebroer.

    Check sy linkerkant, iets is af. Try sy skouer. Bly van jou regtervoet af, vuur Malherbe die raad af. Ben sukkel halfhartig op sy voete. Malherbe trek sy hoodie se kap laer en soek deur die skare tot hy ’n bekende flits blonde hare vind.

    Hy kners op sy tande. Dammit. Jak moet in die locker room wees. Hy berei gewoonlik mentally voor terwyl die res van hulle rocks moet kou. Malherbe rol sy oë. Hy wil hom terugroep, maar Stoke kyk oor sy skouer, sien vir Malherbe, en verdwyn tussen die toeskouers in, skynbaar op iemand se spoor. Malherbe se vingers begin tik en hy vou sy hand oor sy horlosie om dit te keer. Dis sy pa se horlosie, lankal vrek, maar Malherbe dra dit vandat sy pa dit om sy gewrig vasgegespe het. Hel, as sy pa nou kon sien waar hy is … Hy kyk om hom, na die chaos van die arena, die skare, die ligte wat oor hulle flits, die drugs en betting slips, die geveg wat reg voor hom plaasvind.

    Wat sou die Ontdekkers dink as hulle kon sien wat van Stormbaai geword het? Sy familie is deel van die oorspronklike Ontdekkers wat eers Chancer Bay, die buurdorp, en toe Stormbaai gestig het. Die dorp se inwoners behandel hulle soos karakters in ’n sprokie, ’n mite, maar Malherbe ken die waarheid. Hy ken dit te goed.

    Onwillekeurig rig Malherbe sy aandag op die balkon waar Albie Anker se metgesel in ’n swart rok staan. Sy’t in September opgedaag, net ná Louw weg is. ’n Lang spleet in die rok ontbloot haar melkwit been, maar Malherbe kyk eerder na haar nek en die horlosie wat daarom hang. Sy hande verstyf om sy pols. Hy ken family heirlooms en legacy, maar hy’t ’n gevoel die horlosie wat tyd wegtik teen haar hart het niks te make met wat sy nou doen nie. As sy ooit ’n legacy gehad het is dit nou weg. Dis wat gebeur wanneer jy in Breekwater betrokke raak. Sy draai haar rug op Deidre se pa – ’n man wat konstant verdwyn vir weke en dan weer terugkeer met donkerder oë en deftige nuwe klere. Tipiese simptoom van die Volstee-metode – suig hom droog van binne af, maar trek hom netjies aan met sy blinknuwe geld.

    Hoofseun.

    Malherbe druk sy hande in sy sakke en staar voor hom uit. Nes die bedelaars op straat, ignoreer Malherbe vir Martin Daniels met die litteken wat oor sy ken strek, met die Breekwater-pedigree en Rot-tatoe wat hom merk as vyand. Nadat die Branderjaers Kalla Palmer se Bloedskuld aangeneem het, het die Rotte watchdogs Stormbaai ingestuur om die Jaers dop te hou. Die oomblik toe Daniels by Storm Hoër ingeskryf is het die Jaers geweet hulle word uitgecheck.

    Wa’s Louwtjie vanaand?

    Jy weet waar hy is, sê Malherbe sag, maar ten spyte van die geraas hoor Daniels hom, want hy begin lag, sy aandag ook op die balkon.

    Wie is sy? vra Malherbe, met ’n knik. Daniels se lag verdamp. Sy kyk is donker toe hy dit laat sak na die kryt waar Ben homself onderdeur die draad forseer, sy mond halfoop. Bloed vlek sy tande. Hy kry vir Ellis by die hoek en mik na die locker room. Die volgende fighters tree in en ’n bekende naarheid krul in Malherbe se maag toe hy Gerrit van Zijl sien.

    Volstee’t ’n moerse fout met dié een gemaak, sê Daniels skor. Hy’s problems.

    Malherbe noem nie dat Daniels se probleme veronderstel is om goed te wees vir Malherbe en sy broers nie. Malherbe kruis sy arms. Gerrit se tegniek ís sloppy. Hy’s groot, maar hy beweeg te vinnig. Hy sal homself uitput voor die tweede rondte, maar hy’s seker op –

    Rocks. Daniels klik sy tong. Hulle moet inga’ sonner ’it voor hulle staatmaak oppit. Daniels kyk van die kryt na die balkon. Die ligte flits oor sy gesig sodat daai litteken al is wat Malherbe kan sien, maar dan volg hy Daniels se blik en vind vir Pieter Volstee op die balkon langs sy pa, sy vaalblonde hare kort geskeer. In sy sweetpaktop lyk hy kinderlik tussen die grootmense, sy hande in sy sakke gegrawe. Malherbe het hom laas ná Afrikaans-vraestel 2 gesien. Meeste van die graadelfs het klaar uitgestorm ná wat oor was van die Vrydag. Malherbe wou niemand raakloop buite die skool nie. Die Jaers moes mekaar by Pêrelbaai kry om die einde van rekordeksamen en toetsreeks te vier. Hy’t buite sy registerklas gedraal, deur Instagram gescroll en probeer uitpluis watter arme siel verwar is met Louw Swanepoel – Spotted @FusionHermanus – ’n donkerkop ou wat sy gesig wegdraai van die kamera af. Al die posts oor Louw en Deidre is deesdae spekulasies. Bitteranker is amptelik van die map af – Louw wil nie die Rotte ammunisie gee om te dink Deidre het enigiets met die Branderjaers te doen nie. Dit werk. Deidre en Louw sien mekaar in die geheim, of so ver moontlik van Stormbaai af om oë te vermy. Deidre het selfs vir haar ouers gesê hulle’t uitgemaak, maar dit demp nie die belangstelling van die buitewêreld nie.

    Vuur.

    Malherbe het nie onmiddellik opgekyk nie. Eers toe Volstee voor hom kom staan het – skoene blinkswart teenoor Malherbe se stofbesmeerde paar – het Malherbe sy kop gelig. Hy’s die prentjie van die ideale hoofseun, het Malherbe gedink. Behalwe daardie gesig. Iets was nie lekker met Pieter Volstee nie.

    Dalk het ons meer in gemeen as wat almal dink.

    Is Deidre … Pieter het haar naam in die lug laat hang en Malherbe het dit laat dryf. Pieter het sy mond toegeklap en homself reggeruk, asof hy onthou het met wie hy praat. Is sy oukei?

    Malherbe het sy foon tydsaam gesluit en sy hande in sy broeksakke gestop. Vra haar self.

    Pieter se oë het vernou voor hy ingegee het met die vraag wat deur almal in Storm Hoër se koppe maal.

    Hoekom het jy onttrek?

    Malherbe het gefrons, maar toe het Pieter se boonste knoop geblink en hy’t ’n flits gekry van daai Volstee-lapel. Hoofseun. Natuurlik. Sy foon het vibreer met notifications. Die Jaers op WhatsApp. Instagram tags. DMs. Requests. Facebook –

    Geen poskaarte nie.

    Ek wou nie die posisie hê nie. Dit het geklink of die woorde eggo – in die gang af, deur sy kop, deur –

    So jy’s onder die indruk jy het dit gehad?

    Wow. Pieter Volstee is nie ’n druppel van wat die assholes in die koshuis was nie. Hy’t duidelik vergeet dat die Jaers al erger gesien het. Hulle kyk hul hele lewe lank vas in boelies.

    Hoekom tel jy nie die stemme nie, Piet?

    Pieter het gegryns. Ek het klaar gewen.

    Hoe kon jy wen as jy teen jouself gekompeteer het?

    Ek – ek het teen – Erich en –

    Hulle was nie jou kompetisie nie. Malherbe het bloed geproe waar hy die binnekant van sy wang raakgebyt het. Ek en jy was nek aan nek. So as jy regtig wil weet wie’t gewen … gaan tel die stemme. Ek’s seker Leila kan vir jou die sleutel vir die kantoor swing.

    Hy’t dit gehoor in sy eie stem – Charlie se bravado. Toe was dit weer dodelik stil.

    "Jy wil nie ’n vyand van my maak nie, Vuur."

    "Jy wil regtig nie vir my dreig nie, Volstee."

    Pieter se adamsappel het gelig soos hy gesluk het voor hy die hoofseun-kyk teruggekry het. Sy masker glip meer dikwels. Eendag sal dit afval en breek. Dan is dit te laat. Dan weet almal wie Pieter Volstee is.

    Ek kan jou lewe moeilik maak, het Pieter uiteindelik gesê.

    Malherbe se linkerhand het by sy sak uitgeglip en Charlie se ritme probeer onthou, maar hy moes sewe keer oor begin voor hy besluit het om om Pieter te stap.

    Staan in die ry, het Malherbe geroep en die spookstil skoolgebou verlaat.

    Problems. Nie dat hulle luiste’ nie, ruk Daniels se stem hom terug na die arena. I mean, wat wiet ons? vra hy sarkasties. Malherbe lag amper, maar keer homself. Sy vingers tik teen sy been. Môre kan hy weer Chancer toe gaan en die posbus gaan check, probeer hy homself troos. Die stilte kan nie vir ewig aangaan nie. Môre. Malherbe kyk op na die balkon.

    Nou, in hierdie kakofonie van die onderdorp, tussen dwelms en bendes en bloed, staan die hoofseun van Storm Hoër en kyk daaroor uit. Totdat hy vir Malherbe teen die kryt vind. Asof hy skrik, kyk Pieter weg. Asof hy nou eers besef dat dit werklik Malherbe is wat hier onder staan, in ’n bloedbesmeerde arena, terwyl Pieter soos die kroonprins van ’n korrupte sisteem sy koninkryk bestudeer.

    STOKE! ROEP NOG ’n naamlose druggie, betting slip vasgeklem in sy desperate hand.

    Jak moet verloor, dink Malherbe weer. En weer. En weer. Hy wil help, raad gil, teen die draad hang en hom uittap. Elkeen van hulle het ’n sisteem vir verloor – vir hoe die spel moet verloop. Maar die inisiate wat teen Jak staan met sy lomp vuiste weet nie van die sisteem nie. Of hy gee nie om nie. Hy het net ’n paar bloedstrepe oor sy bruingebrande vel, sy hare kort nes meeste van die fighters verkies. Teenoor die inisiate lyk Jak soos ’n amateur met sy langerige lokke, tans vasgeplak teen sy kopvel.

    Dis ’n goeie show. Dit klink of genoeg mense reg gebet het. Maar Jak lê al en die inisiate het nog nie opgehou nie. Ben storm na een van die Rotte se Seconds wat veronderstel is om dinge relatief veilig te hou. Ellis se mond hang oop, sy hande slap langs sy sye voor hy nader tree. Die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1