Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Snak
Snak
Snak
Ebook299 pages3 hours

Snak

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Nadat Orpheus haar red by die sfinks, word Kara wakker in 'n Andromeda-wentelstasie, met geheueverlies. Kaleb en Mohlomi word herenig, maar Mohlomi dink Kara is dood. Hulle oortuig Ya-ya om hulle terug te neem Kango-grotte toe, maar sy laai hulle af by 'n skrikwekkende Chinafrika-werkersplaas. Intussen het Amber, soos die ouers, aan die slaap geraak. Mohlomi het nog die stervorm-voorwerp wat hulle by die sfinks gekry het. Wat moet hulle daarmee doen? Is dit die sleutel om die slapende ouers wakker te kry? Kara ontdek dat sommige van die ouers hulle op die Andromeda-stasie bevind, maar haar ma is nie daar nie. Sy moet terugkeer Aarde toe om haar vriende te vind en die raaisels op te los.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 8, 2018
ISBN9780624085355
Snak
Author

Rouxnette Meiring

Rouxnette Meiring het in die Klein Karoo grootgeword, drama aan die US studeer en later in Parys en Johannesburg gewoon voordat sy haar in Kaapstad gevestig het. Sy het 'n meestersgraad in Film & Mediastudies aan die UK verwerf en werk aan 'n doktorale tesis in Omgewingsopvoeding (ook aan die UK). Sy woon in Fresnaye, Kaapstad.

Related to Snak

Related ebooks

Related articles

Reviews for Snak

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Snak - Rouxnette Meiring

    Snak

    ||Hui !Gaeb Boek 2

    ROUXNETTE MEIRING

    Tafelberg

    1

    Kara

    Dit kom stadig na my aangedobber. Donkerbruin en uit gloeiende hout gesny. K-A-R-A. Stadig, maar lewend en polsend, vloei dit tot by my. Ek moet reageer, dis ek, hierdie lyf, hierdie een wat dink.

    Kara.

    My oë moet oopgaan, maar teen my wil, die letters is so mooi …My ooglede beur hulleself stukkie vir stukkie oop.

    Alles om my is wit, daar is ’n skerp lig wat in my gesig skyn. Ek kan skaduwees van figure uitmaak. Menslike vorms.

    Ondertoe voel dit asof daar niks is nie …asof ek net ’n kop is. Ek probeer my lyf voel, maar ek kan nie. Net my brein en my oë werk.

    Die skaduwees om my het agtergekom ek is wakker, want hulle beweeg vinniger en meer doelgerig. Ek voel ’n ander energie aan, tog praat hulle steeds nie met mekaar nie.

    Het ek my verbeel dat iemand my naam genoem het? Of het ek myself wakker geroep? Ek probeer onthou waar ek is, hoekom ek hier is, wat met my gebeur het, maar ek kan nie. My geheue is wit soos die vertrek. Tog het ek my eie naam onthou …

    Wat is jou naam? vra die skaduwee.

    Ek wil antwoord, maar my mond en stembande wil nie saamwerk nie.

    Die skaduwee draai terug na die ander, wat lyk of hulle om ’n soort skyngram saamdrom. Niemand praat nie.

    Ek konsentreer hard om die woorde te vorm.

    Sit seblief die skerp lig in my gesig af. Dis ’n verligting om myself te hoor.

    Die lig gaan dadelik af.

    Die kamer is nog steeds wit. Een van die figure kom nader. Waar het ek al voorheen so iemand gesien?

    Wat is jou naam? vra die perfekte mensfiguur.

    Vir ’n oomblik sien ek die buitelyne van my skelet in haar oë weerkaats, maar dalk het ek my verbeel.

    Ek weet ek is Kara, maar dis absoluut al wat ek weet. Ek wil praat, maar iets keer my. As ek alles gesê het wat ek weet, wat bly oor?

    Ek …weet nie, sê ek.

    Die vrou lyk nie verbaas nie, dis asof ek net iets bevestig.

    Sy draai weg van my, daar is niks oor om te vra nie.

    Waar is ek? Wie is jy? En wie is ek? Of wát is ek? Maar ek sê dit nie.

    Moenie bekommerd wees nie, antwoord sy. Jy was in ’n ongeluk, maar jy is nou veilig. Jy het net rus nodig. Jy sal binnekort weer alles onthou en teruggaan na jou …familie.

    Ek weet sy jok. Sy klink of sy ’n versie opsê.

    Watse ongeluk? Waar het julle my gekry? Wie was by my?

    Ek kan aanvoel die vrou is onseker.

    Dan praat sy sonder dat haar lippe beweeg. Sommerso in die lug, met iemand wat nie daar is nie, haar lyf met ’n ander soort aandag.

    Orpheus …

    Hoor ek die woord, of is dit net in my verbeelding?

    2

    Shivani

    Haar neusvleuels bewe. Die oë sper wild, asems kom klam en hortend, daar’s angs in die lug. Dis ’n oomblik of ’n ewigheid. Ek is sy en sy is ek, ons asem saam …

    Te laat. Die oomblik is verby.

    ’n Paar goed gebeur gelyk. Sy skop vas, asof sy genoeg gehad het en nie die onreg verdien nie. Klippe spat eenkant toe en sy is weg. My pyl trek links by haar verby en tref ’n soetdoringboom. My boog val slap op die grond.

    Die jagters klik en klak vererg vir my en beduie wild met die Chinafrika-skieters na waar die steenbokkie verdwyn het.

    Kai-am !nâb, sê een. Grootpraat.

    Hulle dink seker ek kan nie skiet nie. Ten minste is die bokkie nou weg.

    Kxûm staan voor my en sy is kwaad. Sy het mos gesê ek is nog nie reg om saam te gaan nie, ||Hui !Gaeb lewer nie jagters op nie, hulle eet net blare en blomme.

    Ek weet alles wat sy dink sonder dat sy dit klik-klak hoef uit te spoeg.

    Ek het haar gesig stowwerig gemaak, sê sy, want almal dink sý het gesê ek kan saamkom, en hoe gaan sy nou weer haar gesig skoon kry voor die ander jagters? Sy beduie woes met haar hande en die bossie stink balderjablare om haar polse wip op en af.

    Al die oordadige emosie irriteer my.

    Wel, Kxûm, jy weet waar’s die waterput! snou ek haar in Afrikaans toe.

    Terwyl ek terugwoed grotte toe, skree sy nog agter my aan – ek kaikaisen, my boog is slap, en nog iets oor dorings en blare wat ek nie kan uitmaak nie.

    Ek voel lus om iets te skop. Ek het genoeg gehad van almal se klein wêreldjie hier en van grotswamme en platbrode en bolplante. Van ’n polser wat ophou werk het en net goed is vir lig maak. Van onbetroubare inligting wat soos bokspore doodloop. Van wag vir Kara-hulle om terug te kom. Van kwaad wees vir die leegte wat Vega in my gelos het.

    En Amber …daar sit sy en die storieverteller-sonder-naam met sy !gora en die kinders weer buite die grot. Sit daar onder die invloed van stories en simbole en raad wat hulle dalk op ’n dag gaan nodig kry. Plaas dat die kinders bietjie oefening kry.

    Die storieverteller hou aan speel op sy eenstringboog, maar Amber staan op asof sy my lankal sien kom het.

    Wat het nou gebeur, Shivani?

    Niks. Absoluut niks het gebeur nie, soos vandat ons al hier bly.

    Ons is gaste hier, begin sy. Ons moet die plek inneem wat hulle vir ons gee. En dis nie ons plek om te gaan jag nie.

    Word wakker, Amber! Ek weet my woorde is te kras, maar dis te laat. Was jy nie by toe ||Hui !Gaeb in vlamme uitgebars het nie? Ons is nie meer in ’n koepel toegedraai nie, dit het gekraak, onthou? Dis tyd om te verander!

    Selfs sý irriteer my nou.

    Niemand ken die begin of einde van verandering nie, Shivani. Moenie so ongeduldig wees nie …U-tixo het gesê ons moet vandag buite die grot bly.

    Ag, mdisi! U-tixo het seker weer ’n spelonksampioen geëet wat af was. Sy aanvoelings oor wanneer ons waar moet wees, het nog nooit sin gemaak nie.

    Ek bly nie hier by hulle nie. Die skerp lig buite die koepel gee my nog steeds soms hoofpyn.

    Ha! skree die storieverteller agter my aan. En dan nog iets van Ga-gorib en ari en !nau.

    Grotmonster, ontplof en anders-maak. Seker nog een van sy transformasiestories. Ha jouself, ou man …Ek het meestal respek vir stories, maar vandag het ek genoeg gehad. Stories neem te lank.

    Ek hou net aan stap, verby die slaapsaal en die swamgroeigrot, die badsaal en insekteelspelonk. Ek voel lus om grotkristalle af te breek en die kinders se muurtekeninge te bekrap. Maar net vir ’n oomblik.

    Selfbejammering – so ’n regte Kara-emosie.

    Dalk hét Kara-hulle vergeet van ons. Dalk gee Vega nie regtig om vir my nie. Maar wat daarvan? Dit sê niks van wie ek is nie. Dis hulle probleem.

    Amper dog ek my foslig is nie in my rugsak nie. Dan sou ek moes omdraai en weer in die ander vaskyk as ek nie in stikdonker wil rondvoel nie.

    Tweede grotingang wat met soetdoringtakke toegemaak is …Wat steek hulle tog alles hier weg? Hier ook deur, ek is moeg vir goed wat toegesmeer word deur die ouer geslagte. Al wat hulle vir ons gee, is hulle stories, en jy kan dit nie altyd gebruik nie.

    Net nie weer ’n doring in my hand kry nie, die goed brand soos /ae-b. Dit ruik baie anders hier. Ek moet dalk stadiger loop – minder lug, muwwer lug. Ons kan hierdie tonnels gebruik om nuwe soorte swamme in te teel. Dis donkerder en dieper, ek is seker dit sal goed werk. Sal met Kamisoa daaroor praat …

    Iets is …anders. Wat is dit? Hoekom kriewel my nek skielik? Dit gebeur net as ek …

    Daai geluid …’n grottrollie? Hier is tog niemand nie, die ingang is toe. Dit klink soos die gedonder van ’n ou moltrein …O mdisi, wat bewe die grond so? Is dit die skaliegasskudding waarvan die storieverteller gepraat het? Dit gebeur mos al vir honderde jare nie meer nie?

    Wat dit ook al is, ek moet dadelik hier uit kom.

    Die donderslag klap diep onder my. En in die oomblik wat dit deur my lyf ruk en my ingewande skud, weet ek dis nie ’n storie uit my verbeelding nie. Hierdie gebeur nou en dit gebeur met my …

    Die grotvloer kraak voor my oop en ek snak van skok. Die reuk slaan my asem weg, ’n soutreuk, en iets wat skerp-anders is as die muwwe grotlug.

    Spring. Selfs in ’n droom moet ek nou spring – of val saam met hierdie stuk grotvloer! Arms, vingerpunte, klou net, klou, jy is sterk.

    Trek jouself op. Hardloop.

    Ek kan nie, hierdie grotgang loop afdraand!

    3

    Shaka

    Dias, die polser is sat. Ek weet dit, maar ek hou aan karring. Vergeet meestal ek het nie meer een nie, maar in tye soos nou as ’n ou ’n soort valkie wil opsoek …

    Plaas dat hulle dit nog soos in Gogo se tyd in ’n ou se pols ingeplant het. Dan kan dit mos niks oorkom nie, behalwe as jou hart ophou klop. Toe neuk hulle met die terug-aarde-toe-filosofie en mag jy niks meer inplant nie. En kyk waar sit ek nou. Met net my geheue.

    As die polser ingeplant was, kon hulle my sonar-helix as my hart ophou klop, of te vinnig klop …Maar wie is hulle in elk geval? Daar’s niemand meer oor nie.

    So ek moet probeer onthou. Fotografiese brein. Gogo het gesê dis wat ek het, maar ek wil dit nie gebruik nie. Waar het ek al voorheen die valkie gesien wat my daai keer met die vis teen die kop kom pot het …Waar?

    Hierdie gelê op my rug maak my altyd vaak, veral as my maag vol is. Vol vis. Rou vis soos wat hulle nog geëet het voor mikroplastiekkanker. Mense het kanker gekry van allerhande goed, tot hulle mos …wat was dit nou weer? …daai vreemde krewe se gepolariseerde lig-oë gebruik het om die siekte op te spoor. Wat as ek nou kanker kry van al die vis wat ek so …

    Eina, mdisi! Jy weet jy moenie vinnig regop sit onder die skuiling nie – die tak bliksem nou al lank hier deur die seil. As ek kanker kry van die vis is ek op my eie. Geen pro-liggame hier op die eiland nie. Lê liewer weer. O ja, die valkie. Waar het ek hom gesien op my polser? Skyngramme, kwantumfoto’s …

    Swerfvalk! Dis ’n swerfvalk. Geel bene en pote, geel rondom die oë. Wit bors, grys rug, bruin oë. Maar hulle eet kleiner voëls en insekte, nie vis nie! Hoe de mdisi het die valkie geweet ek moet vis kry? Nog nooit weer so baie geëet soos daai dag nie. Ek voel die laaste week nogal dunnerig …en swak en slaperig.

    Ek moet iets vir die valkie ook kan doen. Moet onthou om te vra wat as ek hom weer sien …Manna. Ons moet mekaar help, ons is ewe belangrik. Moenie net eenrigting praat nie – dis wat Gogo gesê het oor telepatie. Nog ’n fout van die mens.

    Maar wat as die valkie nooit weer kom nie? Dit moet ’n hy wees, hier’s niks hoog genoeg om in nes te maak nie. Wat as hy terug is na sy wyfie en sy nes ver van hier? As ek en die valkie net kon gesels …Nog nie weer vir Manna gesien ná die vis teen die kop nie. Ek is vaak …so vaak …

    Mdisi, daar’s Manna weer, hy is terug! Daai ogies wat vir my loer …het ek geslaap?

    Nee, jou kloon, dis mos nie ’n valk se oë daai nie! Hoe ver is die oë van my skuiling af …so vyftien, twintig chi? Oë wat gloei in die donker …iets wat ’n ou kan bespring …

    4

    Shivani

    Asem – laat daar net heeltyd genoeg asem wees. My hande rem vergeefs teen die glibberige rotswande. Skerp stalagmiete wat ’n glyende lyf kan oopkerf.

    Uiteindelik …die nou gang spoeg my pynlik uit. Ek moet aanhou hardloop.

    Blindelings. Vlak grotwater, koes vir stalagtiete. Jou lyf hardloop sonder dat jy dink, Shivani, jy moet stop.

    Oorleef. Kalm. Dink. Soos Appa jou geleer het.

    Hoekom is dit so donker? Waar is my …My foslig het toegeklap, die donker is deel van die angs.

    Sit ’n rukkie op my hurke, ek moet probeer sin maak van wat gebeur het.

    Ek is in ’n kleinerige grotkamer, hoog genoeg dat ek regop kan staan. Dit ruik anders hier – muwwe lug gemeng met slierte van die soutreuk soos toe die kraak deur die grot geruk het. Maar genoeg lug vir nou.

    Ek sal vinnig by die ander moet terugkom. Water drup oral, maar grotsampioene groei nie vanself nie, en dit lyk nie of hierdie grot ooit gekultiveer is nie.

    Goed. Asem rustiger.

    Nou kan ek nog drie openinge in die dowwe lig uitmaak. Die gang waaruit ek gekom het, is te glad en te steil om in terug te klim. En wat sou dit help? In die grot waar ek was, was ’n gat besig om te gebeur. Een van die ander drie uitgange dus – iets wat hopelik boontoe lei.

    My hande en knieë voel of hulle aan die brand is ná my val, die dorings se steekpyn nou heel weggebrand. Ek hoor weer Kxûm se stem wat vir my skree: Kaikaisen! – ek speel grootmens.

    My lag klink grotterig, weergalm terug na my. Ja, Appa, ek kan nog vir myself lag, al klink dit soos nou. Dit herinner my ek het ’n stem, al gebruik ek dit nie graag nie.

    Nou is dalk die tyd daarvoor.

    Ek skyn my koplig in die eerste uitgang af. Dis afdraand. Nie so steil nie, maar af. Ek gaan probeer. Ek kan nie net vir myself lag nie, ek kan darem skree ook.

    Am-ber! …Help! …Kxûm! …Hui te!

    Die eggo’s sterf weg …dit raak grotstil. Net die water drup.

    Die volgende uitgang is niks meer as ’n vlak opening wat na ’n skeur lei nie. My dun bene mag dalk daar deurgaan, maar my kop sal vashaak. As ek hier buk en skree …

    Am-ber! …Help! …Kxûm! …Hui te!

    Ek hou my oor langs die skeur, maar die eggo’s sterf weg. Dit raak weer tonnelstil. Net my hart klop, my asem hyg …

    Wat is dit?

    Die klank van vlerke …agter my. Dis links, nee, voor, of op!

    My foslig flits rukkerig deur die grot …niks …Daar!

    Weer ’n swiepgeluid. Daar’s iets grys soos die vlerke van ’n vlerhaas in die laaste uitgang!

    Vinnig soontoe. My hart klop al weer te wild. ’n Geswiep dieper in die gang, anderkant die draai, daar waar dit donkerder is.

    Vega! skree ek sonder dat ek weet hoekom. Vega!

    Hardloop agter die vlerke aan.

    My regtervoet haak aan iets vas, pluk my lyf onder my uit. Ek val weer op my hande.

    Kā! glip dit uit soos ek Kxûm soms hoor sê.

    Ek probeer regop kom, maar iets sit aan my enkel vas. Die foslig het weer afgegaan. My hande gly oor die klam grotvloer …maar nou agteruit.

    Iets sleep my aan my enkel! Ek probeer my naels in die grotvloer inslaan, maar dis te glad.

    ≠a! skree ek terwyl ek op my maag agteruit gesleep word, magteloos en woedend.

    Tot die grotsaal om my oopgaan. Wie of wat aan my enkel trek, het daarmee opgehou.

    Wat nou? Woede, vrees. Ek lê stil, hiperbewus van enige geluid. Ek moet omdraai en kyk. Skuif my kopstuk reg en knip die foslig oop dat ’n straal lig voor my uitkring.

    A! Ek weet wie dit is!

    Kxûm. Ek kon gedink het as iemand my sou kry of kom soek, sou dit sy wees. Sy’t my voorheen al sonder geluid agtervolg en dan skrikgemaak – baie irriterende gewoonte wat sy het. Ek ontspan heeltemal, voel hoe my lippe begin lag toe ek omrol.

    Haar lyf is afgeëts onder ’n wit katoenlaken wat sy om haar gedraai het. Haar humorsin is bekik, maar ek gee nie om nie!

    My oë fokus in die dowwe lig. Dis nie Kxûm nie!

    Dis so lank soos sy, hoewel skraler en manliker …die kleur van die grotwande, maar half deurskynend …lang ligte hare …skrefiesoë …

    Ek weet ek gil aanhoudend, maar ek hoor niks.

    Tot my asem opraak.

    Hy het ’n string hare in sy hand, geweef in ’n sterk tou wat nou slap om my enkel lê.

    Toe dit weer stil in die grotsaal is, praat hy.

    Sy stem is skor en hy wag dat elke woord klaar weerklink voor hy die volgende een uitspreek. My Chinees is nie goed nie, maar ek verstaan wat hy sê.

    Kom na Yaodong. Die Shifu wag.

    5

    Kaleb skud sy kop verward. Kan ek jou vertrou?

    Hy kyk weer na waar die goue dynserigheid begin, die sagte oorgang, die drumpellig van ’n stad waar niks jou ooit pla nie …behalwe dat niks jou ooit pla nie. Tot hy sy teleskoop weer ontdek het.

    Hoekom dink jy moet jy enigsins daardie vraag vra? sê Ya-ya.

    Sy lyk vir hom totaal anders. Sy is bleek soos die Lug-Eurasiëvrou wat in die lugskip oor die Tsavo gevlieg het. Haar oë is vaalblou en effens vergroot en sy lyk moeg. Waar is die sprankelende Ya-ya met die blink hare en blas vel?

    Hy kan nie glo sy lyk so vaal net omdat sy die blomkranse afgehaal het nie. Sy het dan nou ’n wit storie met ’n kappie aan …Waar is die romp? En haar bolyf lyk skoon plat onder die wit ding.

    Wat is dit met die teleskoop? wonder hy. Wat hom eers hierheen gelok het en toe weer gewys het iets hier is verkeerd. Maar Ya-ya moet dink die teleskoop is onskadelik.

    Ek verstaan nie wat aangaan nie, begin hy huiwerig. Ek het net gewonder oor Kara en Mohlomi en toe sien ek die lig lyk anders daar teen die einder, en toe …

    Sj …Dit was my skuld. Sy vat sy gesig tussen haar hande.

    Wie is jy, Ya-ya? vra hy bekommerd. "Ek besef

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1