Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Oase
Oase
Oase
Ebook378 pages6 hours

Oase

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In die Negev-woestyn in die suide van Israel word Sarah deur ’n Arabier aangeval sonder dat sy die vaagste benul het waaroor dit gaan. Toe sy haar bewussyn herwin, is daar weer ’n donker man aan haar sy, maar Ariel is ’n Israeli, ’n mediese dokter. In die weke wat hy oor haar gesondheid waak, ontstaan daar ’n intense verbintenis tussen hulle wat gou liefde word en hierdie liefde word gevoed deur hulle gemeenskaplike geloof in God. Rondom hulle is die wêreld egter allermins ’n oord van vrede en liefde. Soos die magstryd om beheer in die buiteland en in Suid-Afrika ontvou, word dit vir Ariel en Sarah duidelik dat daar ’n lewensgevaarlike stryd voorlê voor hulle bymekaar sal kan wees – ás dit moontlik is. In Kaïro smee die Drie Broeders bose planne; hulle plig as vryheidsvegters in diens van Islam. Vir die buitewêreld is hierdie fanatici egter terroriste. En in Suid-Afrika is Sarah en Ariel bloot in die pad van die Broeders se groter plan wat korrupsie en afskuwelike geweld insluit. Of hierdie twee mense ooit sal tuis kom in hulle oase van liefde, weet hulle nie. Maar dié wonderlike woorde uit Hooglied is vir altyd hulle s’n: Anee l’dode, v’dode li. Ek is my beminde s’n en hy is myne.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateMay 15, 2015
ISBN9780796318497
Oase
Author

Stefani Serfontein

Stefani Serfontein woon tans in die skilderagtige dorpie van Port-Alfred waar sy ’n Afrikaanse onderwyseres is. Sy het as ’n predikantskind grootgeword en haar ouers het haar altyd aangemoedig om te skryf en te skilder. Sy het twee nagraadse kwalifikasies in Spirituele- en Funksionele-terapie en voltooi ook haar teologiestudies deur Christian Life Training. Stefani se kinders, familie en vriende is haar kosbaarste besittings en haar kleinkinders haar hart se punt. Sy is passievol oor haar Hemelse Vader en Sy Seun wat haar Messias en Verlosser is.

Related to Oase

Related ebooks

Related articles

Reviews for Oase

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Oase - Stefani Serfontein

    Oase

    Stefani Serfontein

    Lux Verbi

    In nederigheid wy ek hierdie storie

    aan my Skepper-Vader en my geliefde ouers.

    Prediker 2:11 Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het - en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.

    – Die Bybel, 1953-vertaling

    Openbaring 21:6 En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.

    – Die Bybel, 1953-vertaling

    Hoofstuk 1

    Negev-woestyn

    12 April 2010

    Die Arabier lig dreigend sy wapen. Hy gluur met sy swart oë onder sy swart-en-groen geruite keffiyeh na haar en wys met sy vuil wysvinger oor sy mond dat sy moet stilbly. Sarah knipper haar oë. Daar is oral stof en vir ’n oomblik wil sy skree van paniek. Sy kan nie haar bene roer nie. ’n Skerp pyn skiet deur haar liggaam en sy krimp inmekaar.

    Die Arabier druk die vuurwapen se koue loop deur die stukkende venster teen haar keel. Haar gehuurde motortjie is ’n verfrommelde wrak wat bo-op haar lê, daar is stof en petroldampe in haar keel. Sy onthou die harde slag, hoe die karretjie vir ’n paar oomblikke die lug ingesteier het en daarna die lug ingeslinger is. Dis klaar met kiewiet, het sy gedink en ’n flitsgebed opgestuur. Sy en die karretjie het die klipperige grond getref. Dis al wat sy nou onthou.

    En wat soek dié vent dan nou hier? Eina, kreun sy.

    Bly doodstil, sis hy deur sy tande in Engels.

    Sarah se hart klop in haar keel. Sy wonder of alles sal weggaan as sy haar oë net weer toeknyp. Die pyn, die masjiengeweer! Genade, pleit sy geluidloos.

    Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Amper prewel sy dit hardop, maar byt haar lip so hard vas dat sy dadelik die bloed daarop proe. Haar bene wat skeef onder die motorwrak vasgeval het, pyn ondraaglik en sy wens sy kan dit net ’n oomblik roer. Swart newels skuif momenteel oor haar en sy proe nog meer bloed. Sy kan nie haar asem intrek nie.

    Ná wat vir haar voel soos ure, draai die Arabiese soldaat sy kop weg en tuur in die rigting waarvandaan sy, nie baie minute tevore nie, aangery gekom het.

    Terwyl die man in die verte tuur, wonder Sarah hoe sy onder die wrak gaan uitkom en of hulle haar gaan doodskiet. Toe is daar ’n sarsie geweerskote hier naby haar. Nog skote klap en toe ’n genadige duisternis. Sy voel nie meer die vuurwapen se metaal teen haar keel nie. Die pyn sak weg en daar heers skielik ’n doodse stilte. Al waarvan sy bewus is, is die gevoel dat sy dryf. Sy veg teen die newels, maar dit oorval haar.

    Sarah raak weer bewus van pyn. Intense pyn. Is sy geskiet? Toe die newels om haar effe wegtrek, is die pyn skielik erger. Haar bene en ander ledemate kan ook nie beweeg nie. Sy haal rukkerig asem. Sy kan nie haar bolyf oplig nie. Haar vingerpunte roer. Sy voel iets klewerigs.

    Iewers ver hoor sy manstemme Engels praat. Die Arabier en nog ’n soldaat? Waar is hy? Sy kreun weer en probeer roep. Eienaardige roggelgeluide kom saam met bloedskuim uit haar mond. Sy kan dit nie afvee nie.

    Help my! kry sy uiteindelik uit. Toe dwaal sy weer weg in ’n wêreld van vergetelheid.

    Saoedi-Arabië

    2 Mei 2010

    Sarah raak stadigaan bewus van haar omgewing. Soms sink sy weer weg in die diepte van duisternis, dan weer sien sy om haar pragtige kleure en newels, newels soos misslierte. Dan is dit weer weg en is daar net donkerte rondom haar.

    Miss, Missie! Iemand tik haar liggies teen die wang.

    Vervlaks. Kan sy nie maar bykom nie. ’n Manstem in Engels met ’n aksent, maar dit is asof dit ver is, dof.

    ’n Gesprek tussen dieselfde stem en nog ’n man. Dowwe stemme, maar haar brein wil nie registreer wat hul sê nie.

    As sy nie so deurmekaar was nie, kon sy dalk uitmaak watse taal hul praat. Klink Arabies.

    Die Arabier! O genade, waar is sy? Haar huurkarretjie. Die ongeluk. Hy het sy vuurwapen op haar gerig gehad. Bloed, sy het bloed geproe.

    Die intense pyn is weg. Dankie tog!

    Is my voet nog onder die kar vasgeval? Eina! Vervlaks! My voet is bitter seer, en ek kan hom nie beweeg nie!

    Sy forseer haar oë oop. Stadig dring die kleure wat sy so tussen die newels deur gesien het tot haar deur. Dis pragtig.

    Ek is nie meer in die Negev onder die kar nie, dis vir seker, dink Sarah. Ek droom tog nie.

    Sy draai haar kop in die rigting van die stemme. Heftige stemme, of verbeel sy haar? Haar beweging trek die aandag van die twee mans wat ’n ent van haar af staan. Sy knipper haar oë.

    Die lig is effe dof om haar maar iewers, daar waar die twee mans staan en praat, is helder lig. ’n Driehoekige ingang of iets. Die twee mans is nou stil en die kort, dik een staar haar aan. Sy frons, probeer beter fokus en trek haar oë op skrefies, draai haar kop van kant tot kant. Dis regtig mooi hier. Toe is die skerp lig weg en dit is weer net die sagte lig om haar.

    Iewers bokant Sarah filtreer ’n paar straaltjies sonlig deur gaatjies in die dak bokant haar en die fyn stof in die lug maak van die lig helder strepies goud. Droom sy? Is sy iewers in ’n tent? Dit laat haar aan die Turkse restaurant in Pretoria dink. Waar is ek tog? wonder sy.

    Sarah sien nou net die een man. Hy laat sak ’n bont doek met blinkers wat in die doflig glim voor die ingang. Toe stap hy vinnig nader.

    Dankie tog! roep die lang, donker man in die liggrys uniform wat by haar bed tot stilstand kom met ’n gul glimlag. Hy het ’n ligblou keffiyeh om sy kop. ’n Silwer koord hou dit uit sy gesig. Vir ’n oomblik kyk sy vas in die donker oë.

    Hy lyk darem nie soos die een met die groenbont kopdoek nie, het darem ook nie ’n vuurwapen nie, dink Sarah verlig.

    Sy maak haar oë vinnig weer toe en wonder wat op aarde haar nou te doen staan.

    Hoekom is hy so bly dat sy bygekom het?

    Het hulle haar ontvoer? Sy ken geen staatsgeheime nie en is net ’n eenvoudige Suid-Afrikaanse vrou wat deur die Negev na Eilat toe op pad was. Wel teen die uitdruklike wense van haar Israeli-vriende by wie sy in die Negev gekuier het, onthou sy nou pynlik.

    Ek wou nog so graag in die Rooisee gaan snorkel het, dink sy teleurgesteld. Plaas sy na haar vriende geluister het. Dan was sy nie nou in hierdie gemors nie. Nou seker te laat, nè, Saartjie, dink sy by haarself. Ek sal seker nooit die einde daarvan hoor as ek lewend hieruit kom nie. Ás ek lewend hier uitkom. Liewe Vader in die hemel, help my, asseblief.

    Toe sy voel hoe haar pols vasgevat word, krimp sy onwillekeurig ineen. Sy loer met een oog deur haar wimpers om te kyk wat die Arabier beplan en probeer hewig wegruk. Met die wegruk flits ’n skerp pyn deur haar ribbekas, been en voet.

    Au! roep sy hard uit.

    Sy is definitief beter, ja, sê die man ewe geamuseerd.

    Sy kyk hom met oop oë aan, verontwaardig.

    Toe hy die konsternasie op haar gesig sien, gooi hy sy kop agteroor en lag heerlik uit sy maag. Hy het nog steeds haar pols in ’n stewige greep. Sy ruk haar hand los, pluk haar ander hand ook onder die ligte, veelkleurige doek waaronder sy lê uit en gryp haar gesig met al twee hande vas.

    Wat nou? Wat’s die grap, hè? Is daar fout met my gesig? vra sy sonder om te dink in haar moedertaal.

    Die man het nog lagspikkels in sy oë en sy een mondhoek trek skeef. Hy maak hewig verskoning, duidelik omdat hy agtergekom het sy is verleë. Jammer dat hy haar laat skrik het, verduidelik hy. Hy wil net graag haar pols neem. Hy is ’n dokter uit Jemen.

    Laat ek my ordentlik voorstel. My naam is dokter Ari’el ben-Yusuf.

    Hy steek sy hand uit om te groet, maar Sarah ignoreer dit. Sy loer rond en sien geen geweer of handgranaat nie. Dit lyk darem heel veilig hier in die kleurryke tent. ’n Dokter, uit Jemen, het hy gesê? Dit is vrek ver van Israel en die Negev.

    Sy lig haar kop effens en kyk weer rond. Net mediese masjiene en pype en ’n toringtrollie waaraan die drup in haar arm gekoppel is staan om haar rond. Aan die ander kant van die tent is ’n rooi rusbank en plat tafels met koperware. Afgaanse matte lê oral op die vloer.

    Kan jy Engels praat, Juffrou, e … Mevrou?

    Sy Engels klink soos die Britte dit soms praat.

    Ja, kry sy dit vir die eerste keer in Engels uit, maar sê nie haar naam nie. Dis ‘juffrou’. Kan ek asseblief ’n bietjie water kry?

    Die dokter draai na ’n tafeltjie, help haar met sy een hand agter haar rug regop om ’n paar slukkies water te neem. Sy kreun vir die skerp pyn in haar ribbes.

    Stadig, vermaan hy sag.

    Sy sak terug op die dik kussings agter haar en sug diep. Waar is ek? Die kar, my voet … Daar was geweerskote? Sy vlieg orent. Eina!

    Sy besef sy klink onsamehangend, maar deur haar kop flits honderde beelde en gedagtes. Sy kreun en sukkel terug teen die kussings.

    Jou voet, ja, erg gebreek, jy moet jou stilhou. Ook ’n paar ribbes, en harsingskudding. Die ander vrae sal ek later beantwoord. Die beste nuus nou is dat jy bygekom het. Jy was erg deurmekaar en vir drie weke nie by jou bewussyn nie. Slaap nou en word sterker. Jy is veilig hier, en tussen vriende.

    Met dié draai hy om, neem ’n inspuitnaald van die tafeltjie en spuit sonder meer die spuitstof in die buis vir die binneaarse voeding. Sy wil nog iets prewel, maar sak weg in ’n heerlike, diep, sagte niksweesslaap.

    Hoofstuk 2

    Kaïro

    10 Junie 2011

    Die groot Arabier storm op die kort mannetjie af, pluk hom aan die bors en lig sy hele twee honderd kilogram met gemak op. Dié se voete swaai heen en weer bokant die grond.

    Ek wil nie jou opinie hoor nie.

    Solank jy net gedoen het wat ek gesê het jy moet.

    Dis reg, Groot Sadar. Ek het gedoen wat u gesê het. Die e-pos is van ons anonieme rekenaar gestuur. Ek wou maar net sê …

    Ek het gesê ek stel nie belang om te hoor wat jy wou sê nie, snou Sadar weer die man toe.

    Al waarin ek belangstel, is dat daardie arrogante Joodse doktertjie die boodskap kry dat ons sy duifie in Suid-Afrika gaan leed aandoen. Hopelik sal hy dan vinnig genoeg sy kontakte in Suid-Afrika, asook Jemen, aansê om die Ratels uit ons strate te verwyder. En laat haar boetie-die-ambassadeur-van-Egipte maar ’n bietjie sweet. Sadar het die kort, dik mannetjie weer ru op sy voete neergesit en stap heen en weer in die kantoor waarvandaan hy sy besigheid doen.

    Die kort mannetjie vryf nou sy hande met genoegdoening saam. Ja, Groot Sadar. Daardie dokter wat sy lyf Jemeniet hou, was baie danig met daardie Suid-Afrikaanse meisie terwyl hy haar versorg het daar in die woestyn. Hy was woedend die dag toe ek daar by die tent waar sy versorg is, gaan inloer het. Dit was daarna wat hy my uit die kamp gegooi en ek besluit het om wraak te neem.

    Hoe het jy haar opgespoor? Sadar kan steeds nie die ongeduld uit sy stem hou nie.

    My neef in die Kaap is mos met een van die Maleiers daar getroud, Groot Sadar. Ek het mos twee maande daar gaan kuier en soos u weet, is alles vandag moontlik as jy net die rekenaar kan gebruik. Facebook en Twitter is handige soekenjins. Die klomp Westerlinge sit hul hele lewe en ook sommer alles wat hulle doen, dink ek, op daardie blaaie. So dit is eenvoudig: Ons weet alles van wat almal doen, waar hulle is, waar hulle bly … Hy grinnik.

    Die klomp mense wat op daardie blaaie is, sal nóóit weer kan wegkruip nie. Ha-ha. Ek het tot haar adres en haar huis op Google Earth nagespeur.

    Sadar gaan staan in sy spore en kyk die dik vent met nuwe oë aan.

    Nou vat al daardie inligting wat jy oor haar het en stuur dit dadelik vir ons span in Kaapstad. Toe-toe, weg is jy.

    Sadar wuif in die deur se rigting om aan die dik man te toon dat hy klaar met hom gepraat het.

    Die mannetjie huiwer nog en toe hy sy mond oopmaak om nog iets te sê stoot Sadar hom onsag by die deur uit en klap dit hard agter hom toe. Toe hy later by die venster staan en die vent in die straat agternakyk, grinnik hy egter.

    Die Joodse dokter sal leer dat ’n mens in ons bedryf nie vyande moet maak nie, mompel hy by homself, draai om en gaan sit voor sy skootrekenaar. Hy maak die Facebook-blad se soekfunksie oop om self ook kontroleerwerk te doen.

    Kaapstad

    Vrydag 17 Junie 2011, 17:30

    Dis al sterk skemer en Sarah trap versigtig oor die plasse tot by haar voordeur. Sy waardeer elke dag wat sy haar ou pophuisie in dié ou buurt van Kaapstad kan oopsluit. Wanneer sy sommige aande moeg van die ure se rekenaarwerk as navorser by die huis kom, voel dit altyd of haar huis met sy gordyne en matte in warm kleure haar verwelkom. Dis ’n nat vroegwinter hierdie jaar in die Kaap en Sarah is dankbaar dat sy tuis is ná ’n uitputtende werksweek. Die stoepie groet haar met ’n mengelmoes kleure en welige potplante. Die bolplantblomme se geur hang swaar in die klam aandlug. H’m, heerlik.

    Sy skakel die alarm af en Ounooi, haar goue Labrador, storm vrolik van agter by haar verby, draai om en kom skuur stertswaaiend teen haar been. Sy laat sak die pakkies op die kombuistafel en vryf die goue kop met die vriendelike oë. Terwyl sy vinnig die kaggel met lekker groot houtstompe en dennebolle pak, neurie sy saggies. Sy sal moet gou spring om alles klaar te kry voor haar gaste opdaag.

    Toe sy later die twee kerse in die blou keramiekhouers op die gedekte tafel plaas, gaan haar gedagtes vanself terug na meer as ’n jaar gelede, na ’n ander Vrydagaand, ’n Erev Shabbat.

    Dit was in die Negev-woestyn waar sy saam met Friedel en Marlise hierdie selfde twee kershouers gebruik het. Daar was heerlike Mediterreense kos en hulle het haar die voorreg gegee om die kerse aan te steek. Speserygeure het die knus karavaanhuisie gevul met warmte en liefde. Dit was daardie mooi aand voordat sy na Eilat toe sou vertrek.

    Die volgende dag is sy op pad na Eilat aangeval deur Arabiese terroriste. ’n Opportunistiese aanval op ’n onskuldige toeris, het die koerante dit beskryf.

    Sy byt op haar lip. Dit voel so lank terug. Maande ná daardie ongelukkige voorval, veilig terug in Suid-Afrika, het sy ’n pakkie in die pos ontvang. Marlise het die blou keramiekkershouers wat sy so bewonder het daardie aand in fyn sneespapier toegedraai en aan haar gestuur. Aangeheg was ’n kaartjie: Ons is so dankbaar jy is veilig en weer op die been. Gebruik hierdie blou goed wanneer jy Shabbat hou en dink aan ons.

    Hoe kosbaar is hul vriendskap nie.

    Die klop aan die deur ruk haar gedagtes terug na die hede. Haar Joodse vriende is hier. Hulle is vir haar net so kosbaar.

    Hulle kuier en sing en eet van haar geurige Kaapse bredie. Die aand vlieg verby. Die Vrede van die Shabbat daal oor haar huisie neer terwyl die sagte lig van die Shabbat-kerse weerkaats in die groot, elegante rooiwynglase. Hulle bid God se seën oor mekaar af en toe gaan haal sy die nagereg. Die souskluitjies se kaneelgeur vul die huisie. Later sit almal knus op haar bont kussings om die kaggel en kuier. Sy is deesdae dankbaar vir elke mooi oomblik en sy drink dit in. Die lewe is so kosbaar en kan so kort wees. Sarah geniet elke minuut van hierdie aand.

    Net ná elf groet sy almal by die voordeur en gooi dan weer ’n paar houte op die vuur in die kaggel. Sy sak voor die vuur neer en toe Ounooi by haar voete kom opkrul, draal haar gedagtes weer na die gebeure van verlede jaar. Sy vryf met haar duim oor die ryk borduurwerk op een van die kussings langs haar. Ari’el het die oortreksel in haar rugsak gestop voor haar vertrek. Die wynrooi en oranje skakerings is met gouddraad geborduur.

    Sodat jy my nie kan vergeet nie, was sy woorde met ’n knipoog. Dierbare dokter Ari’el.

    Haar voet het darem genadiglik goed herstel. Sy droom oopoog en lomerig oor Ari’el. Waar sou hy vanaand wees? Met die onrus wat opnuut in Jemen opvlam, voel sy soms regtig begaan oor sy veiligheid. Verlede jaar nadat hy haar in Kaïro op die lughawe afgelaai het, het sy gehoop om gou weer van hom te hoor. Maar tot vandag toe het sy nog niks van hom verneem nie. Sy leun teen een van die groot kussings op die bont Afgaanse mat. Met ’n skewe glimlag kyk sy na haar snoesige sitkamertjie. Al die ryk kleure sal haar altyd aan die tent in die woestyn herinner. Die tent wat vir soveel maande haar tuiste was en waar sy haar hart verloor het. Waarom het hy dan uit haar lewe verdwyn? Of was die boodskap saam met die kussing net ’n skertsery? ’n Ligter flirtasie van verbygaande aard?

    In die middel van die nag word sy styf-koud voor die dooie kaggel wakker. Sy roer stram, strek haar uit en sien Ounooi loer met skrefiesoë na haar toe sy opstaan. Slaperig loop sy deur die huis na haar slaapkamer toe, waar sy vinnig haar slaapklere aantrek en onder die dik duvet inklim. Ounooi kom lê met ’n plof op haar kussing langs die bed.

    OR Tambo-lughawe

    Vrydag 17 Junie 2011, 22:55

    Geïrriteerd en ongeduldig trommel die lang donker man in die blou pak op sy rekenaarsak wat op sy skoot lê. Hulle vliegtuig het lankal geland en hy verstaan nie wat die oponthoud is nie. Die deure is nog nie oopgemaak nie en die lugwaardin het die passasiers gevra om geduld te gebruik, nog ’n paar minute te wag voordat hulle opstaan om die vliegtuig te verlaat. Hy weet hy sal moet wikkel as hy nog deur die doeane moet kom om die aansluitingsvlug na Kaapstad betyds te vang. Hy haal die kaartjie vir die aansluitingsvlug van Johannesburg na Kaapstad uit sy binnesak. Die vlug vertrek reeds om 23:45. Met ’n vlugtige kyk na sy polshorlosie dink hy daaraan dat dit ’n wonderwerk van Bo sal wees as hy die vlug vanaand haal.

    Hoewel dit laataand is, bly dit steeds naweek en Ari’el het geen idee hoe besig die lughawens hier in Suid-Afrika deesdae is nie. Buite sukkel die lughawe se spreiligte om deur Johannesburg se besoedelde lug te breek. Soos daardie dag toe hy haar op Kaïro se lughawe afgesien het. Daardie vuil stad se nuwe lughawe was toe nog nie voltooi nie, alles was so gejaagd en deurmekaar en die mistroostige weer het nie juis gehelp nie.

    Sy gedagtes gaan terug na hoe hy haar oë bruusk vermy het omdat hy die vrae daarin nie kon beantwoord nie. Hy sug hoorbaar en weet dit is hoekom hy nou al die pad Kaapstad toe onderweg is. Dis net haar veiligheid wat vir hom dringender is as die behoefte om al die dinge tussen hulle wat ongesê is op te klaar. Daarom is dit so belangrik om so gou moontlik in Kaapstad te kom. Die dreigbriewe wat hy van die terroriste ontvang het, neem hy glad nie ligtelik op nie.

    Uiteindelik kondig die vlugkaptein aan dat die vliegtuigdeure nou oopgemaak gaan word en hy maak ook verskoning vir die oponthoud, alles weens onvoorsiene omstandighede. Daar was blykbaar ’n krisis op die lughawe en hulle moes wag dat die lughawe toestemming gee dat die passasiers uitstap.

    Terwyl Ari’el so hoflik moontlik maar met haastige treë tussen die ander passasiers deur vorentoe beur op die loopwurm, sien hy uit die hoek van sy oog deur een van die vensters die flitsende blou ligte van polisievoertuie op die aanloopbaan. Sou dít die oponthoud wees?

    Uiteindelik kan Ari’el op die vliegtuig na Kaapstad klim.

    Dit is Saterdag, reeds 07:30.

    As gevolg van die oponthoud was hy nie betyds vir sy aansluitingsvlug na Kaapstad nie. Sy kaartjie kon nie na ’n volgende vlug oorgedra word nie omdat die vlugte vol was, en hy was boosaardig van woede.

    Sarah se veiligheid hang van hom af, net van hom, en hy móés net so gou as moontlik vlieg.

    Hy het die ure in die deurgangslokaal omgewens en daar was nie sprake van slaap nie. Telkens het hy gewens dat hy iemand in Kaapstad kan vertrou. Iemand om ’n ogie oor Sarah te kan hou tot hy daar is. Aan die ander kant wil hy niemand met hierdie sensitiewe saak vertrou nie. Sy mense in Jemen hanteer die onderhandelinge daar.

    Hy glimlag skeef toe hy dink aan gisteraand. Die lughawe hier in Johannesburg sal hom nie maklik vergeet nie.

    Eers nadat hy ’n klein herrie opgeskop het, het die grondpersoneel vir hom op die eerste volgende vlug ’n sitplek bewimpel. Hoe, weet hy nie en hy gee ook nie om nie. Maar dít was eers vanoggend se vlug. Die nagvlugte was vol.

    Ari’el plak hom in sy sitplek langs die venster neer nadat hy sy klein oornagtas en rekenaarsak in die oorhoofse kabinet geplaas het. Hy maan homself om kalm te bly terwyl hy die lugwaardin se vriendelike aanbod vir ontbyt van die hand wys. Hy bestel net ’n filterkoffie. Kos kan hy om die dood nie nou oor sy lippe kry nie. Hy verwyt homself nou dat hy nie maar vir Sarah gebel het voor hy aan boord gegaan het nie. Dan kon hy haar ten minste waarsku.

    Wel, dis nou te laat. Wat sal haar reaksie wees as sy hom uit die bloute oor ’n telefoon hoor? Hy sal liewer ’n SMS stuur sodat sy hom darem kan verwag. Maar hy gaan haar tog maar bel voor hy in Kaapstad aankom – reaksie of te nie – dan kan hy haar maan om versigtig te wees.

    Sy vlug sal 09:30 in Kaapstad land en daar sal dit ook seker weer hoe lank neem om uiteindelik sy bagasie te kry, dan ’n motor te huur en na haar toe te ry. Hy het op die GPS uitgewerk dat dit hom min of meer vyf en veertig minute tot ’n uur behoort te neem om in die Saterdagoggendverkeer tot by haar huis te ry. Gelukkig was hy al vir ’n paar mediese seminare en kursusse in Kaapstad en behoort hy darem nie veel te sukkel om daar oor die weg te kom nie. Hy sluk die laaste louwarm koffie vinnig af, maak sy sitplekgordel los en staan op om sy rekenaarsak uit die bagasieruim bokant sy sitplek te haal.

    Hoofstuk 3

    Saterdagoggend, 18 Junie 2011

    Vir die res van die vlug na Kaapstad sit Ari’el intens deur sy notas en werk. Hy sien afgetrokke dat die sitplekke voor en agter hom vol skoolkinders op ’n sporttoer is. Hulle gekwetter en opgewondenheid irriteer hom, want dit staan in direkte kontras met sy donker bui. Hy wil op die oomblik net fokus op sy missie in hierdie mooi land aan die suidpunt van Afrika.

    Ari’el staar afgetrokke na die letters op die skerm van sy skootrekenaar terwyl sy gedagtes weer na Kaapstad gaan. Hy kyk gesteurd op toe ’n skraal jong man die lugwaardin wat verby stap byna uit die aarde stamp.

    Die man se donkerbril, rye oorbelle en swart klere lyk totaal onvanpas en Ari’el wonder vir ’n kort oomblik waar hy die man al gesien het. Die kappie van die ou se grys jekker hang slap agter sy kop. Vir ’n oomblik gluur die vent hom openlik aan. Ari’el kan nie sy emosies lees agter die donkerbril nie, maar ’n rilling trek deur sy ruggraat. Sy oë wyk nie ’n aks voor die man se blik nie en hy probeer dié se blik vaspen. Die vent ruk egter sy kop heftig weg en slenter agtertoe, waar hy by die toiletdeur inglip.

    Ari’el frons, skud sy kop en forseer sy gedagtes weer op die dag se planne. Sy gedagtes maal egter heeltyd om Sarah. Hy was ’n gek om nie met haar kontak te hou nie. En nou sit hulle presies binne-in dit wat hy wou vermy.

    Ná ’n paar minute klap hy die rekenaarskerm toe en laat sy kop teen die stoel se rugleuning sak. Hy laat sy spiere doelbewus ontspan soos hy in die Israelse Verdedigingsmag geleer is.

    Ná ’n kort slapie om sy kragte te herwin, sy hande op sy skootrekenaar gevou, voel hy beter. Hy vryf sy oë en kyk rond. Die gryskappievent sit vier rye skuins agter hom oorkant die paadjie. Die vent gluur hom al weer aan.

    Gmf, dink hy, as hulle deesdae ’n jong snuiter stuur om my dop te hou, moet hulle baie desperaat wees.

    Die res van die vlugtyd bestee hy daaraan om die plan in sy kop te slyp. Hulle sal baie versigtig te werk moet gaan om nie agterdog te wek nie. Veral as daar reeds ’n stertjie gestuur is om hom dop te hou. Die terroriste is slinks en het baie ore op die grond.

    Hoekom hulle besluit het om Sarah te teiken is vir hom nog steeds duister. En ’n nagmerrie. Hy wonder hoeveel ure hy geslaap het sedert hulle ’n paar dae gelede die e-pos ontvang het. Al was dit ’n onbekende en blykbaar onopspoorbare e-posadres, neem hy en sy mense aan dit is van Die Drie Broeders, soos die terroristegroep van Jemen hulself noem. Dié drie leiers uit verskillende lande wat mekaar as broers beskou, is slinks en baie fanaties. As hy sy oë toemaak, kan hy die woorde van die dreigende e-pos nog voor hom sien: Dokter Ben-Yusuf, die rooikopvrou van Kaapstad sal betaal. Die Suid-Afrikaners sal almal betaal as dit moet, omdat hulle Ratels die strate van Jemen plattrap. Gebruik jou kontakte en maak ’n plan daarmee. Onthou, jy is ook in ons visier!

    Hy knip sy sak oop en vroetel daarin. Onder sy dokumente haal hy die pakkie koerantberigte uit. Terwyl hy daardeur blaai, sug hy onwillekeurig. Sy oog val op ’n gedeelte wat met kleur beklemtoon is.

    Die Suid-Afrikaanse Lugmagforum: 09 Junie 2011. Die nasionale komitee vir beheer oor konvensionele wapens (NCACC) behoort ’n volskaalse ondersoek te begin na die klaarblyklike gebruik van Suid-Afrikaanse Ratel-pantservoertuie in die geweldgeteisterde Jemen.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1