Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Bloedwater
Bloedwater
Bloedwater
Ebook343 pages5 hours

Bloedwater

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Toe Woudstra haar in Nederland bel, is Adriana seker hy bel oor haar ma. Nou, nadat sy jare gelede kontak met hom en haar familie gestaak het na die verbreking van hulle verlowing, vra hy haar die onmoontlike: Sy moet terugkeer na Suid-Afrika toe om haar jonger suster te kom oppas, die suster met wie hy “moes” trou.
LanguageAfrikaans
Release dateMay 10, 2012
ISBN9780798155588
Bloedwater

Related to Bloedwater

Related ebooks

Related articles

Reviews for Bloedwater

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Bloedwater - Douwleen Bredenhann

    Bloedwater

    Douwleen Bredenhann

    Human & Rousseau

    Vir Steph, wie se bloed met myne gemeng het

    1

    Adriana Coetzer gryp na die selfoon wat op maat van Für Elise begin vibreer. Sy tas eers mis en skrik toe sy die gloeiende wysers van die wekker raaksien.

    Dis al ná middernag! Wie bel nou? Sy is op die punt om in Nederlands te antwoord, maar sien dan dat die oproep van Woudstra Bosman is. Woud? Uit Suid-Afrika? Haar laaste telefoongesprek met hom was ná haar pa se dood meer as tien jaar gelede. Dit kan net oor haar ma wees wat hy bel.

    En as jy nou dié tyd bel, Woudstra, het jy slegte nuus oor my ma?

    Goeienaand, Adriana, ek is jammer om nou te pla. Ek weet dis baie laat en die oproep is inderdaad nie oor iets onbenulligs nie. Hy bly stil asof sy moed hom wil begewe.

    Sy kan nie besluit of dit senuweeagtigheid of uitputting is wat sy woorde so versigtig afgeweeg laat klink nie. Of voel hy bloot ongemaklik om met haar te praat? Die hemel weet, hy het genoeg rede om so te voel. Hy ís seker moeg. In Kaapstad behoort dit omtrent halftwee in die oggend te wees. Was hy tot so laat by die hospitaal vir ’n pasiënt, by haar ma dalk?

    Dit moet ernstig wees as dit nie tot môreoggend toe kan wag nie. Wat het gebeur? Is sy oorlede? Sy vermoed dat dit wel die geval is omdat hy ’n ruk aarsel.

    Nee, sy is nie oorlede nie, maar dit gaan nie goed met haar nie. Ek was vroeër vanaand daar en sy het na jou gevra, Adriana. Die eerste keer in ’n lang tyd. Ek het gewonder of jy nie dalk binnekort ’n draai hier kan kom maak nie.

    As jy sê binnekort, bedoel jy Kersfees?

    Nie noodwendig nie, ek het eintlik vroeër in gedagte gehad.

    Kersfees is dan al op ons, Woudstra, ek dink daar is nog agt weke oor. Daar gebeur te veel dinge hierdie tyd van die jaar om voor Kersfees enige besoek te reël, wat nog te sê ’n oorsese een. My tyd is nie my eie nie, ek gee klas en is betrokke by die praktiese eksamen. Ek sal nie kan kom voor dit verby is nie.

    Dis jammer, ek het gehoop jy sal ’n plan kan maak.

    Hoe gaan dit regtig met haar; is sy kritiek? Ek weet dit klink seker gevoelloos en onbetrokke, maar ek kan ongelukkig nie vertedering – as dit die regte woord is – voorgee wat nooit eintlik bestaan het nie.

    Ek is versigtig om te sê sy’s kritiek, want sy is dit nog nie regtig nie. Maar sy eet feitlik niks en dis nie ’n goeie teken nie. Dis stadige verhongering wat begin intree, en dit kan nog ’n ruk aanhou of baie skielik tot ’n einde kom. Dit sal beter wees as jy haar so gou as moontlik kan sien, terwyl sy darem nog kan praat. Haar praatdae word min.

    Soos ek gesê het, dit gaan moeilik wees vir my om hier weg te kom voor Kersfees. En wees nou realisties. Ek sal nie van praktiese nut wees of veel te sê hê vir haar nie, so ek dink nie dit gaan soveel saak maak as sy nie meer praat teen die tyd dat ek daar kom nie. Daar is nie veel meer om te sê nie; haar verduideliking klink afgewater en die pratery met hom begin haar irriteer. Hierdie gesprek kon regtig maar gewag het tot môre toe. Oftewel later vandag. Ek dink nie dit was genoeg rede om my wakker te bel nie. Gee my kans om te kyk hoe lyk die vlugte in Desember. Ek sal jou binne twee weke laat weet.

    Moenie so vinnig besluit oor iets waaroor jy later dalk spyt gaan wees nie. Dis maklik om so ’n besluit te neem wanneer jy daar ver is.

    Sy vererg haar vir sy aanmatiging. O ja? En moet jy net nie vergeet dat ek hier ver beland het nadat my lewe op sy kop gekeer is deur julle nie. Ek het môre ’n lang dag voor en moet terug in die bed kom. Dis laat, en vir jou nog later …

    Adriana, asseblief, val hy haar in die rede. Daar is nog iets, nog ’n rede waarom ek vra dat jy hierheen moet kom.

    Nou hoekom vra jy dan nie? Het my ma nog iets nodig of is daar van haar sake wat uitgesorteer moet word?

    Nee, die ander rede het nie iets met haar te doene nie. Dis … Marlinda.

    Marlinda? Gods, dit voel asof sy stem in haar oor boor. Die selfoon val byna uit haar hand. Van haar wil ek niks weet nie, dit weet jy mos baie goed!

    Ek weet, ek weet. Maar sal jy nie net luister dat ek iets aan jou probeer verduidelik nie? Asseblief, dis dringend.

    Is sy dood?

    Nee, maar sy …

    Dan luister ek nie verder nie. Sy moet die gesprek so gou as moontlik beëindig, weet sy. Ek kan net nie … Ek weet nie eens of ek gekontak wil word as sy die dag doodgaan nie. Jy moet my nou regtig verskoon.

    Terwyl wrewel in haar opwel, druk sy soos ’n outomaat eers die foon dood en skakel dit dan heeltemal af. Die wekker sal moet instaan vir die selfoon se wakkermaakwysie. Dis vir haar ontstellend dat net die noem van Marlinda se naam haar nog so kan omkrap. Mens sal sweer sy het so pas ’n doodstyding ontvang. Sy is die ene bewerasie en hartkloppings. En woedend vir Woudstra en haarself omdat hy haar ná al die jare in ’n onbewaakte oomblik steeds so kan ontstig. As sy hoop om weer aan die slaap te raak, sal sy eers moet kalmeer, maar op die medisynerak vind sy niks wat sal help vir skok nie. Vir suikerwater sien sy nie kans nie. Haar beste opsie is dan seker die groentee met peperment wat nog onoopgemaak in die koskas staan.

    Sy probeer om slegs op die teemakery te konsentreer, maar haar gedagtes laat hulle nie voorsê nie. Dit dwing haar terug na 1985 toe sy drie en twintig jaar oud was en die toekoms so blink soos die verloofring aan haar vinger voor haar uitgestrek het.

    In die leefkamer voel die moderne leerbank wat sy en Stijn ses jaar gelede saam uitgesoek het, hard en koud. Sy mis hom skielik. Hy is die soort man wat mens by jou wil hê in ’n nagtelike krisis. Hy sou terselfdertyd geduldig en ferm gewees het en nie enige nonsens van Woudstra gevat het nie. Maar sy is vyf jaar gelede van Stijn geskei en maak lankal nie meer op hom staat om haar oor die hobbels van haar bestaan te help nie.

    Sy voel gekul, asof Woudstra haar figuurlik ook aan die slaap betrap het. Waaroor het hy eintlik gebel – oor haar ma of oor Marlinda? Was die pratery oor haar ma net die sagmaker, die voorkonsert vir nog ’n Marlinda-drama? Darem seker nie. Die oproep oor drastiese agteruitgang in haar ma se lyding aan Alzheimer’s, of haar dood, moet die een of ander tyd kom. Maar sy weet uit dure ondervinding ook niks is vergesog wat hom en Marlinda betref nie. Op die gebied van lieg en bedrieg is albei van hulle, maar veral Marlinda, deskundig. Om haar in mens se lewe toe te laat, is so goed as om vir ’n pofadder skuilplek onder jou kopkussing aan te bied.

    Vier en twintig jaar gelede was sy wat Adriana is verloof aan Woudstra en oortuig daarvan dat hy haar sielsgenoot is. Feitlik alles was gereël vir hul troue. Marlinda sou haar strooimeisie wees en die bruidsruiker vashou terwyl die bruid en bruidegom ringe aansteek en trou aan mekaar beloof. Maar daarvan het toe niks gekom nie, want kleinsus Marlinda het haar eie agenda gehad. Woudstra Bosman het toe daardie Desember deel geword van die Coetzer-familie, maar nie as Adriana se man nie.

    Hy het haar swaer geword en Marlinda sy bruid.

    Voor haar slaapkamervenster vind Adriana in die deurgesitte ou stoel beskutting vir haar styfgespanne lyf. Deur die venster is die uitsig op die straat op enige gegewe tydstip ’n wisselende poskaartprent; of dit nou mooi- of stormweer is, reën of sneeu. Vannag vorm dit ’n stillewe waarin die grag glim tussen die twee parallelle van die straat. Dis eintlik net die helder weerkaatsing van die straatligte al in die middel van die kanaal langs wat die watervlak verraai. Sy is dankbaar dat die wind ten minste nie waai soos gisteraand toe dit naderhand geklink het asof die boomtakke permanent kraak nie. Naïef soos dit seker is, hoop sy die vredige nagstilte hou ’n boodskap in vir haar verfomfaaide gemoed. ’n Gerusstelling wat sê toemaar, daar buite het niks verander nie, in die daglig sal jou wêreld nog dieselfde wees. Hierdie gedagte bring, saam met die slukke soet tee, ’n mate van bedaring.

    Die eerste uur van die voordag word aangekondig met ’n enkele slag wat deur die naglug galm. Is dit Oude Kerk met die skewe toring wat so getrou die tyd weergee? Sy is vir ’n oomblik nie seker watter een van die drie, vier kerke in die nabye omtrek daarvoor verantwoordelik is nie. Tot en met twaalfuur snags word elke nuwe uur met kerkklokmusiek uitgebasuin. Ná middernag verander dit na stigtelike tydslae wat so min inbreuk moontlik wil maak op die slaaptyd van permanente inwoners en besoekers aan die binnenstad van Delft.

    Die genade van slaap kom eers ná 04:00 vir haar. Haar brein gee voor om te rus, maar keer nie haar ledemate om onwillekeurig te reageer op die deurmekaar beelde wat in die slaapnewels opdoem nie. Gesiglose fetusse wat die ingange na kerkdienste bewaak terwyl hulle tandeloos grynslag en enigiemand wat wil binnegaan, met septers daar verwilder.

    Meer as dertien reisuur daarvandaan in Somerset-Wes, Suid-Afrika, sit Woudstra Bosman koponderstebo by die kombuistafel. Sy vingers strengel klossies hare orent. Wat het hy aangevang? As narkotiseur is hy gewoond aan druk, om te help heelmaak aan mense wat operasies moet ondergaan. Soms loop dinge verkeerd en word radikale besluite geneem om iemand se lewe te red. Dan moet mens die situasie aangryp en die een geleentheid wat jy daarvoor kry, ten beste benut.

    Al wat hy met sy telefoonoproep uitgerig het, was om afgeskud te word soos ’n lastige vlieg. Die stilte in sy oor het hom laag getref.

    Waarom het hy so oorhaastig geraak? Hy wou oorspronklik eers môreoggend bel, maar toe kry hy ’n bevlieging en besluit: Nou. Dit moet nou gebeur voordat sy moed hom in die steek laat. Want los kan hy dit nie. Daar is nie meer ander mense oor om by te gaan smeek nie. Adriana was sy laaste uitweg. As hy sy skoonma as voorwendsel moes gebruik, dan moes dit maar. Dit was nodig.

    Hoe het hy dit reggekry om die snippermandjie papier te laat vreet nog voor hy behoorlik begin praat het? Nadat hy hom meer as ’n uur lank voorberei het op wat om te sê – die invalshoek – om haar tog net op die lyn te hou. Want hy het geweet dit gaan nie maklik wees nie. Adriana was siedend vir hom en Marlinda, en met goeie rede. Dit klink nie of die verloop van tyd dit enigsins vir haar versag het nie. Sy gaan moontlik nooit daaroor kom nie.

    Sal daar ooit ’n einde kom aan hierdie gemors?

    2

    Ná die ongewone nag het die outydse geskril van die wekker Adriana vir ’n oomblik so deurmekaar dat sy wonder wat aan die gang is. Hoekom dit by haar kant van die bed afgaan terwyl Stijn die een is wat ’n luitoon uit sy kinderjare verkies. Eers toe sy die leë plek langs haar voel, onthou sy weer waarom hy nie daar is nie en sy die wekker gestel het. Sy vervies haar weer van voor af vir Woudstra se onbedagsaamheid en probeer dit demp deur te dink aan die skuimerige koffie verkeerd wat Stijn soggens vir haar in die bed gebring het. Vir die eerste keer in ’n lang tyd wonder sy of sy ’n fout gemaak het toe sy haar geborge bestaan saam met hom opgesê het.

    Stijn Verhoeven het ses maande ná Woud en Marlinda se troue in haar lewe verskyn. Nou nie so letterlik en dramaties die golwe in en uit soos ’n Wolraad Woltemade nie, maar hy het haar ook uit die diep waters gesleep waar sy beswaarlik kon water trap.

    Hy was een aand in die restaurant van die hotel in Kaapstad waar sy die hoofsjef se regterhand was. Ná ete het hy gevra om persoonlik dankie te sê aan die persoon wat sy gereg voorberei het. Dit was vir haar ’n aangename verrassing. Sy was nog net ’n paar maande daar in diens en dit was goed om te weet iemand het ’n gereg wat sy gemaak het so geniet en waardeer.

    Onseker oor presies wat om te verwag, het sy na die tafel gestap. Die man het halfpad tussen dertig en veertig gelyk, seker ’n goeie twaalf jaar ouer as sy. Hy het hoflik opgestaan en haar oë laat rek omdat hy so lank is – maklik die langste mens wat sy al ontmoet het. Met sy hand na haar toe uitgesteek, het hy hom voorgestel: Stijn Verhoeven van Delft, Nederland. In Suid-Afrika vir besigheid. Lank laas het hy so ’n keurig voorbereide maaltyd geniet. Hy was daar vir ’n paar dae en het uitgesien na nog van dié sjef se heerlike kos.

    Sy blou oë het sonder ’n sweem van familiariteit of bedreiging na haar gekyk. Hy was net ’n kliënt wat sy tevredenheid aan haar wou oordra.

    Die ingenome kliënt het ’n paar aande later weer na die young chef gevra. Hierdie keer om te hoor wanneer sy ’n aand van diens af sou wees want hy wou haar uitneem vir ete.

    Daar was nie ’n vry aand in sig nie, altans nie voordat hy sou terugkeer Nederland toe nie. Adriana was dankbaar sy poging tot ’n afspraak was nie suksesvol nie. Sy het gevlei gevoel deur die man se waardering vir haar werk, maar nie lus gehad vir niksseggende ek-vertel-jou-en-jy-vertel-my-praatjies met ’n ooglopend ouer man wat op pad terug na sy land is nie. In Nederland het daar tien teen een ’n mooi blonde vrou en oulike kindertjies met klompe aan gewag dat hy met geskenksakke vol kralepoppies en houtrenosters huis toe kom. Buitendien, sy sou nooit weer in haar lewe ’n man kon vertrou nie. Nie eens een met sulke goeie maniere nie. Sy het vir die man geglimlag en sonder skroom gelieg. Gesê dit spyt haar werklik, maar dit sal nie moontlik wees nie. Die diensrooster kon nie verander word net om haar onthalwe nie. Hy het hom nie so maklik laat afskrik nie. Dan sou hy eenvoudig sy reisplanne verander en aanpas. Wanneer is haar eerste vry aand dan?

    By die deftige restaurant waarheen hy haar geneem het, was dit duidelik dat die personeel hom redelik goed ken. Die hoofsjef het hom by die tafel kom groet en uitgevra na sy ouers. Daarna is die young chef en haar talente deur die hoogs tevrede kliënt aangeprys by haar ouer en meer ervare eweknie.

    Teen haar verwagting in het die aand aangenaam verloop. Stijn was toe sewe en dertig en, as die buitelandse verteenwoordiger van sy ouers se familieondernemings, gedurig op reis. Hy was ’n perfekte gasheer en het onderhoudend gesels. ’n Wewenaar, het hy vertel, nadat sy vrou twee jaar tevore oorlede is aan servikskanker. Hulle het nie kinders gehad nie omdat sy eers haar loopbaan as ’n modeontwerper behoorlik wou vestig.

    Twee maande later was hy weer vir besigheid in Kaapstad. Hy het haar gekontak vir ’n afspraak en geen geheim gemaak daarvan dat hy in haar geïnteresseerd is nie. Sy was nie gereed vir ’n verhouding van enige aard nie en in ’n poging om wal te gooi, het sy hom vertel hoe haar verlowing met Woud geëindig het. Van die detail moes sy verswyg omdat sy self nie geweet het wat dit behels nie. Want toe Woud met haar daaroor wou praat, het sy geweier om te luister. Al wat saak gemaak het, was dat hy die verlowing kort voor hul troue verbreek het om met Marlinda te trou. Omdat sy ’n kind van hom verwag het. Marlinda, wat skaars agttien en pas klaar met matriek was.

    Adriana het dit aan Stijn duidelik gemaak dat sy oor niemand weer sou kon voel soos oor Woudstra Bosman nie. Sy het geen hoop gesien vir ’n normale verhouding tussen haar en Stijn nie. Hy sou net seerkry en besoedel raak met haar bitterheid oor ’n ander man. Nee, dit sou nie werk nie.

    Tot haar verbasing was Stijn rustig daaroor en het hy haar besliste nee vertolk as ’n uitgestelde ja. Hy het aanvaar dat hy nie die ware liefde van haar lewe sou kon word nie, maar nou ja, sy was ook nie syne nie. Hulle het mekaar agt maande geken toe hy onverwags ’n verloofring te voorskyn bring en ’n huweliksaansoek gerig het: Alsjeblieft Adriana, trouw met me? Beide van ons zijn onvolledig met veel tekortkomingen. Mogelijk zullen we nooit genezen maar we kunnen het toch wel proberen? In Delft wacht een goed leven op je, dat kan ik je beloven. Ik wil je wegnemen van deze plaats van beproevingen, anders blijft het altijd bij je.

    Sy het daaroor gaan nadink en besluit om Stijn se aanvoeling te vertrou. Op haar eie oordeel kon sy nie toe staatmaak nie. Sou sy ooit weer weet hoe liefde voel, dit herken as dit by haar wou aandoen? As hy dan nie die beste keuse was vir haar nie, was hy darem seker ook nie ’n heeltemal ongeskikte een nie. En as dinge tussen hulle later nie uitwerk nie, sou hy dit net moes verstaan. Sy was nie verlief of gelukkig nie. Maar sy het ’n gerusstellende gevoel van veiligheid ervaar en daar was weer ’n beduidenis van ’n platform onder haar voete – hoop dat sy kon begin bou aan ’n redelik vervullende lewe.

    Vier dae later is hulle voor die landdros getroud. Stijn fors in sy donker pak, en sy in ’n knielengte blou rok met ’n ruikertjie geel rose in die hand. Dwarsdeur die kort seremonie het hy plegtig afgekyk na haar. Sy oë het haar geannekseer en op die plek vasgepen, asof hy bang was dat sy dit dalk net in haar kop kry om kort om te spring en te laat spaander.

    Die versoeking om dit te doen, het nie by haar opgekom nie, maar sy het gestoei met die gedagte dat hierdie realiteit glad nie by haar jongmeisiedrome oor trou inpas nie. Sy wou nog altyd ’n roosblaarbestrooide kerktroue voor God en genoeg getuies hê. In ’n lang wit rok.

    Dáárdie wit rok waaraan die ontelbare sag glimmende pêreltjies omtrent alles al vasgewerk was. Die rok wat verkoop moes word voordat die finale aanpassessie kon plaasvind en waaraan ’n ander niksvermoedende bruid se gaste hulle sou vergaap.

    Daar staan sy toe, aan die sy van ’n hemelbesem van ’n Hollander in wie se land ’n kerktroue nie eens wettig is nie. Maar miskien was dit ook al waarvoor sy toe in die boek van reg of verkeerd kon kwalifiseer, want teen daardie tyd het sy haar suster al hoeveel keer dood gewens en Woud nog verder die verdoemenis in. God sou Hom in elk geval seker nie laat voorskryf het en die huwelik van ’n vrou met sulke bloeddorstige gedagtes seën nie, al was die omstandighede wat daartoe gelei het hoe verpletterend.

    Later die dag het sy net haar ouers en twee vriendinne laat weet dat sy getroud is en binnekort Nederland toe verhuis. Haar pa en ma was geskok. Veral haar pa was erg ontsteld omdat die kind wat na hom vernoem is, sonder om enigiemand vooraf daarvan te sê soos ’n donnerse skelm voor ’n magistraat gaan trou het met ’n uitlander wat gans te oud is vir haar. Hy was seker teleurgesteld omdat hy nie vir een van sy twee dogters ’n behoorlike troue kon gee waarop hy die onbevange breëborsvader van die bruid kon wees nie. Here, Adriana, selfs Marlinda is met haar boepens en al in die kerk getroud, al was hulle eers onder kerksensuur! het hy oor die telefoon gesê.

    Soos te wagte, was ook Stijn se ouers uit die veld geslaan toe hulle van die troue hoor. Maar hy het Adriana verseker hy ken hulle goed genoeg om te weet dat hulle gereserveerd afwachtend is en nie ongevraagde en kwetsende beskuldigings na hulle sal slinger nie. Joris en Femke Verhoeven was nie onkundig oor Suid-Afrika nie en het besef daar is meer aan die land en sy mense as wat deur die lense van ’n apartheidsbril sigbaar was.

    Agttien maande ná die breekspul met Woudstra het mevrouw Adriana Verhoeven met een tas klere en ’n fotoalbum in Delft aangekom; die album waaruit sy alle foto’s waarop haar suster en swaer verskyn, verwyder het. Ongelukkig was die uitroeiproses wat sy in haar geheue moes uitvoer, nie so suksesvol nie. Want hoewel sy nou hernieude afkeer jeens hom ervaar, kan sy ná gisteraand se oproep tot in die fynste besonderhede onthou hoe Woud lyk.

    Met haar aankoms in die nuwe land was sy volks- en taalvreemd en nog glad nie seker dat sy mevrouw Verhoeven wou wees nie. Sou sy die nuwe skoonmense en hul gevoelens kon peil as hulle inderdaad gereserveerd afwachtend is? En wat het dit in elk geval beteken in verstaanbare Afrikaans?

    Sy was nie seker of sy ooit behoorlik sou verstaan wat met die term bedoel word of waarom Stijn in haar belanggestel het nie. Was sy ’n liefdadigheidsprojek vir hom, iemand wat uit haar omstandighede verlos moes word om daarna stap vir stap opgehef en gepoleer te word? Is dit waarom haar skoonouers so hoflik en bedagsaam teenoor haar is? Of was hulle bloot goed gemanierd terwyl hulle wonder of hulle seun of die familieskatte vir die jong meisie uit Afrika die grootste aantrekkingskrag inhou? Trouens, sy het self gewonder watse bydrae ’n ongekunstelde meisie soos sy in die gekultiveerde bestaanswêreld van die Verhoevens kon lewer, behalwe haar beperkte werkservaring. Sy het haar in hulle skoene probeer indink en tot die slotsom gekom dat sy nie eens kwalifiseer om beskou te word as slegs ’n sieraad aan Stijn se arm nie.

    3

    In die stort wonder Adriana waarom sy haarself toegelaat het om so heftig teenoor Woudstra te reageer. Hier leef sy in ’n ander tyd in ’n ander land, met die dinge van die verlede verseël en hoog weggebêre. Of dit was altans die doelwit wat sy dag sy lankal bereik het. Sy weet nie wat ontstel haar die meeste nie, sy arrogansie of die besef dat haar verweer moontlik nie so waterdig is as wat sy gedink het nie. Haar bestaan is relatief rustig omdat sy mense nie toelaat om in haar verlede rond te krap nie. Maar Woudstra is nie enige man nie, en hy het deur haar ma toegang tot haar wat ander nie het nie. En wat ’n pad het sy nie al geloop vanaf haar standerd 8-skooljaar toe sy hom ontmoet het nie. ’n Pad wat sy al so dikwels gewens het nooit met syne gekruis het nie.

    Om haar te verweer teen Marlinda en Woud se verraad, het lank geneem. Maar in die proses het sy ’n gepantserde vrou geword. Aanvanklik was die enigste uitweg om hulle doelbewus uit haar gedagtewêreld te verban. Later het dit tweede natuur geword om eenvoudig nooit aan hulle te dink nie. Dit het haar uitstekend gepas dat Woudstra hul ooreenkoms van geen kontak so nougeset nagekom het. Wat haar betref, het sy nie meer ’n suster nie en nog minder ’n swaer. Siekte of dood sal geen verskil maak aan haar gevoelens daaromtrent nie, maar sy was onder die indruk dat sy die ergste bitterheid agtergelaat het.

    Haar werksopset is gevarieer en sy sien normaalweg uit na die uitdagings wat dit bied. Maar vanoggend strek die dag lank voor haar uit en het sy min lus om klas te gaan gee vir die studente wat so geïnteresseerd is in die kookkuns van die land aan die suidpunt van Afrika.

    Sy voel grimmig en veel ouer as die sewe en veertig jaar wat sy in September geword het. Gewoonlik lyk sy goed vir haar ouderdom, maar vanoggend skrik sy toe sy in die spieël sien hoe die versteurings van die nag uitpof in donker kringe onder haar oë. Hopelik sal die oogjel ’n klein wonderwerk vermag.

    Dit was eers in Nederland dat sy geleer het om goed na haar uiterlike om te sien. As ’n lid van die Verhoeven-familie, wie se onberispelike smaak oor generasies heen aangekweek is, kon dit nie juis anders nie.

    Met haar laaste druppel Pond’s Beauty Wash uitgepers, was dit destyds nodig om ’n nuwe produk aan te skaf, maar sy was geïntimideer deur die verskeidenheid ware wat in Nederlandse winkels beskikbaar was. Genadiglik het Stijn

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1