Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Rewolusie van die hart
Rewolusie van die hart
Rewolusie van die hart
Ebook467 pages6 hours

Rewolusie van die hart

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die Egiptiese vrou Saleh Samir se fanatiese Moslem-familie hou haar man, Ashraf, gevange ná hul bekering tot die Christendom. Sy is swanger met hul eerstelingseun en die familie dreig om die baba by haar af te neem, maar sy ontsnap. Saleh is nog jonk in die geloof en dit word ’n reis van vertroue in haar nuwe Verlosser. In dieselfde tyd is die Suid-Afrikaners Salomé Pretorius in ’n innerlike stryd gewikkel om vrede te maak met haar man, Petrus, se roeping om die vervolgde kerk in die Midde-Ooste en veral dan ook Egipte, te dien. Sy beroep veroorsaak dat Salomé dikwels op haar eie haar huishouding en beroep as musiekonderwyseres moet balanseer, terwyl sy haar man se roeping voortdurend moet verdedig. Gelukkig help haar vriend Dirk haar soms uit . . . Deur ’n goddelike sameloop van omstandighede kruis Saleh se pad met dié van Petrus Pretorius. Teen die spannende agtergrond van die rewolusie in Egipte van 2011 raak hul wêrelde met mekaar verweef. Dit is die verhaal van dramatiese hartsveranderinge terwyl die wêreld rondom die hoofkarakters op sy kop gekeer word.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJun 20, 2014
ISBN9780796318824
Rewolusie van die hart
Author

Adriana Faling

Adriana Faling is ’n gewilde aktrise wat al in vele sepies te siene was, onder meer Egoli (Tessa), Onder draai die duiwel rond (Dot), Song vir Katryn (Ans), 7de Laan (Yvette), Hart van Staal (Claudette), Binnelanders (Nanette), Geraamtes in die kas (Zelda). Adriana was al die voorbladgesig op verskeie tydskrifte waaronder Sarie, Rooi Rose, Vrouekeur en Lig. Vanaf 2000 tot 2008 het sy by Radio Kansel as film- en vermaakresensent gewerk. In 2002 behaal sy die eerste en derde plek in die NALN se nasionale kortverhaal skryfkompetisie met twee van haar kortverhale. Sy en haar man is sedert 1998 betrokke by die ondersteuning van sendelinge in groot dele van die wêreld asook die vervolgde kerk. Hulle is betrokke by die mobilisering van die kerk in Suid-Afrika deur instansies soos Incontext bedieninge.

Related to Rewolusie van die hart

Related ebooks

Related articles

Reviews for Rewolusie van die hart

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Rewolusie van die hart - Adriana Faling

    Deel I

    The early church was married to poverty, prisons and persecutions. Today the church is married to prosperity, personality and popularity.

    – Leonard Ravenhill

    I Thessalonians 2:14: You, brothers and sisters, were like the churches of God in Judea that are united with Christ Yeshua. You suffered the same persecutions from the people of your own country as those churches did from the Jews who killed the Lord Yeshua and the prophets and who have persecuted us severely. They are displeasing to God. They are enemies of the whole human race because they try to keep us from telling people who are not Jewish how they can be saved. (God’s Word translation)

    Hoofstuk 1

    LUXOR. AUGUSTUS 2010

    Saleh Samir maak haarself nog kleiner in die hoek teen die muur waar sy hurk. Haar bene kramp van die inspanning, maar sy durf nie laer sak en haar gemaklik maak nie. Langs haar is die badkamer se walglike dreinuitloop en teen die ander muur staan ’n donkie vasgemaak. As sy nou ’n verkeerde beweging maak, sal die dier begin bulk en dit sal dadelik haar wegkruipplek verklap. Sy bewe onbedaarlik en koue sweet slaan oor haar hele liggaam uit. Wat gaan sy doen? Waarheen kan sy gaan? Sy is vasgekeer in hierdie plek. Het sy tog maar die swart abaya aanhou dra sodat sy doodluiters in die straat kon afstap en met die mensemassa in die strate kon saamsmelt. Met dié eenvormige swart gewaad is ’n vrou immers bykans anoniem. Nou sal haar klere haar van ver af laat uitstaan en sal hulle haar onmiddellik raaksien. Sy moet dink. Waarheen? Dit is net sekondes voor hulle haar hier vind.

    O Vader, U is nog so ’n nuwe God vir my, maar ek wil U nie nou al verloor nie. Help my. Isa! Sy was in haar hele lewe nog nooit so bang nie. Die vrees wurg haar.

    Die kat wat teen haar bene skuur, kan sekerlik haar hart hoor klop. Sy probeer hom wegstamp. Hy loop luiweg ’n paar treë verder, gaan staan op ’n mangat en kyk rustig oor sy skouer na haar.

    Die drein. Dankie, Vader God. Sy huil amper van verligting.

    Versigtig kyk sy om haar rond en gaan lê skuins op die grond tot sy die swaar staaldeksel kan bykom. Dis loodswaar; sy skuur haar vingers teen die growwe sement om dit te probeer oopkry. En dit beweeg sowaar! Stadig sukkel sy om dit weg te skuif en uiteindelik is die gat oop voor haar. Die stank styg in haar neus op. Dit voel of die wêreld ’n oomblik tydloos en doodstil word terwyl sy haar liggaam skuinswaarts vorentoe sleep en sleep. Na die opening. Na vryheid.

    Maak my onsigbaar, asseblief, Vader, smeek sy, te bang om te kyk of iemand haar nou sien.

    Haar armspiere ruk soos sy haar stut om in die donker stink gat af te sak. Sy hang met een arm aan die trapreling aan die binnekant terwyl sy die swaar staalplaat met haar ander hand toeskuif. Stadig. Die staalplaat wat skuur teen die sement weergalm om haar en die vrees dat sy gehoor sal word, is oorweldigend. Sy skuif dit heeltemal toe. Dis gitswart en bedompig van die walglike reuk. Sy klou aan die leer vas terwyl sy die naarheid terugsluk en haar oë aan die donker gewoond raak.

    Dis stil.

    Sy hoor die geroep van woedende stemme, toe voetstappe. ’n Voet trap hard op die mangat se deksel reg bokant haar kop en sy ruk soos sy skrik. Die voetstappe loop woedend verder. Toe is dit stil. Stink en stil. Sy staan lank bewend aan die leer en klou tot sy seker is sy is veilig. Verligting spoel oor haar voor sy geluidloos begin ruk van die huil. Toe bring sy op.

    Saleh probeer haar sintuie afskakel, forseer haarself moeisaam vorentoe in die donker. Dit is onbeskryflik warm. Sy is so dors. Die stank is ondraaglik en sy het reeds alles wat in haar maag was, uitgebraak soos aan die begin van haar swangerskap. Haar hande vou weer beskermend om haar ronde buik – die rede vir soveel waansin.

    Sy beur vorentoe in die donker, dankbaar dat sy liewer nie kan sien wat rondom haar is nie. Elke nou en dan is daar ’n dun ligstraal wat deur ’n lasplek in die dik dreinpyp beur en sy volg net ligstraal vir ligstraal vorentoe, net vorentoe. Moenie dink nie. Net vorentoe. Sweet. Dors.

    Sy hoor die minarette in die verte die adhan roep.

    Ag, God, bewaar Ashraf. Bewaar hom teen die woede van sy familie, bid sy haar eie gebede.

    Vorentoe en vorentoe.

    Ure aaneen. Geen plan nie. Beur net aan.

    Haar rug is seer van die vraggie wat sy saamdra.

    Later dreunsing die minarette die salat: "Laa-ilaaha illa Ilaah, Muhammed resolu’lla!" Daar is geen god soos Allah nie en Mohammed is sy profeet. Dit word vyf keer per dag geproklameer oor hierdie stad, soos in alle Moslem gedomineerde gebiede wêreldwyd.

    Langsaam het die lig wat deur die dreinpype sypel minder geword en nou is daar ’n negentiggradehoek waarteen sy haar vasloop. Reg bokant haar is ’n dreinopening. Die behoefte na vars lug en na lig oorwin haar momentele stryd teen vrees. Sy moet spring om die leertjie by te kom wat na die mangatopening lei en met die ekstra gewig van haar baba is dit moeilik, skielik onmoontlik. Sy is gedaan. Sweet. Dors.

    Vader, gee my krag. Gee my uitkoms, bid sy moeg.

    Saleh kyk lank op na die leertjie, stoot haar arms boontoe en probeer spring met alles wat sy het. Gryp raak. Hang. Haar arms is te swak om haar op te hys en sy sal nie weer kan opkom as sy nou laat los nie.

    Vader! roep sy uit, haar stem hees van die dors.

    Sy begin haar bene heen en weer swaai. Met dié momentum kry sy dit op die leertjie se onderste sport tot by haar hande en begin stadig soos ’n apie opklouter. Die verligting om uit die drek te wees is onbeskryflik. Sy staan eers op die leer en klou net vas. Toe stadig boontoe, boontoe, tot haar kop by die dreinopening is.

    Die lig wat deurkom, is min.

    Sy stut haar kop eers moeg op die boonste sport.

    Vader God, ek weet nie wat hier bo vir ons wag nie. Ek weet nie waar ons is nie. Maar ek weet ek moet verskriklik lyk en ruik. Help my, Here. Steek ons weg.

    Haar arm bewe van inspanning toe sy aan die mangat se deksel druk. Dit beweeg nie. Sy druk harder en voel dit effens meegee, maar dis seker styf toe ná dit jare in onbruik verval het. Met haar rug krom skuif sy hoër op teen die leer om met haar skouer meer krag in te sit. Een, twee, drie stampe. Niks. Die noute wurg haar.

    Help my, Isa, roep sy paniekerig na Jesus. Nog een harde, desperate stamp en die deksel lig uiteindelik. Vars, warm lug vul haar neus in ’n oomblik. Verlig skuif sy die deksel oop en kyk versigtig uit.

    Dis ’n afgeleë oopte, sien sy in die sterk skemer en klouter uit. Sy bly gehurk langs die gat sit en haal ’n paar keer diep asem voor sy na haar klere afkyk. Wat sy sien, laat haar maag onmiddellik weer murmureer, maar daar is nog net slym oor wat sy kan opbring. Sy skuif die deksel oor die mangat se opening en staan behoedsaam op. Hier is niemand nie. Dankbaarheid oorspoel haar. Wat nou? Turend in die donker, luister sy. Water! Sy stap stadig na die geluid, beur deur die riete. Die Nylrivier.

    Isa, dankie.

    Sy sit haar kosbare rugsak op die wal neer en loop met klere en al die water in. Dis gelukkig nou donker genoeg dat niemand haar hier naby die wal sal kan sien nie. Die verligting om haar stink klere af te spoel is onbeskryflik.

    Sy bly naby die wal teen die riete. Hoe wens sy hier was seep. Sy spoel haar hare af, trek haar klere uit en spoel en spoel en spoel. Maar die reuk van drek hang steeds verbete aan haar.

    Sy trek die een stel skoon klere aan wat Ashraf in haar rugsak gebondel het en lê die ander klere op die oewer neer om droog te word. Sy verlang magteloos na hom en sien hom weer in die oomblikke voor sy deur die venster gevlug het. Hy wat sterk en vasberade ’n paar goed in haar rugsak druk en ’n paar kriptiese reëlings deurgee. Sy wat onbedaarlik huil en passief toekyk hoe hy haar klere, beursie en selfoon in die rugsakkie druk.

    Hoe onbeskryflik dors sy ook al is, sy durf nie die water uit die vuil Nylrivier drink nie. Sy sluip tussen die riete uit en probeer desperaat in die donker na iets soek wat haar dors sal les. ’n Paar meter in een rigting, dan weer in ’n ander rigting, dan om ’n vullishoop om te sien of daar nie iets lê wat sy kan drink nie. Koorsagtig begin sy krap en skud aan elke plastiekhouer waarin daar vloeistof is. Die dors maak haar amper waansinnig. Uiteindelik kry sy ’n botteltjie met nog ’n paar slukke flou, warm koeldrank in, sluk dorstig, stik en soek verder, maar alles wat sy in die hande kry, is leeg.

    Sy gaan terug na haar skuilplek. Wat nou? Gedaan gaan lê sy net eenvoudig op die harde grond. Haar bene is tam van die dag se inspanning. Die versoeking om haar selfoon aan te skakel en Ashraf te bel is baie groot, maar hy het haar ten strengste verbied om dit te doen. Só sal hulle albei maklik opgespoor kan word. Eers ’n ander SIM-kaart koop.

    Ag, my Vader, bewaar Ashraf vannag. Ek weet nie waar hy is en of hy veilig is nie. Bewaar U hom, asseblief. En bewaar my en my baba hier vanaand, bid sy en vryf saggies oor haar maag voor sy totaal uitgeput in ’n diep slaap wegsink.

    Saleh word skielik helder wakker. Dit is nog donker, maar die maan het opgekom en skitter oor die Nyl. Haar lyf is seer gelê op die harde grond, maar die ongelooflike uitputting van ’n paar uur gelede is weg. Sy voel-voel oor die nat klere wat sy uitgespoel het; dis nog klam. Dit ruik steeds na die goorheid waarin sy die verskriklike lang ure onder die grond deurgebring het. Sy wonder of sy dit ooit sal uitkry, daardie reuk. Hoe laat is dit? Dringendheid oorval haar. Sy moet hier wegkom, sy moet so gou moontlik uit Luxor padgee en dit is baie makliker om ongesiens in die donker te beweeg. As sy net nie so dors was nie!

    Sy pak die klam klere in die rugsak en druk haar beursie en selfoon in haar broeksakke. Met ’n skoon hijab om haar kop gebind, kies sy koers tussen die riete deur.

    Sy het nie ’n benul waarheen sy moet gaan nie. Die eerste busse vertrek laatoggend uit Luxor, maar dit sal net te opsigtelik wees as sy daarmee ry. Hulle sal dit verwag en haar daar inwag. Nee, beslis nie. Die treinstasie het dieselfde risiko. Ryloop? As vrou sal dit hoegenaamd nie ’n veilige opsie wees nie. Stap? Stap tot in Kaïro? Dit sal haar weke neem en hoe gaan sy op pad oorleef? Sy weet nie. Dus stap sy bloot die donker in. Nyl-op is die maklikste manier om rigting te hou en ook weg te kruip tussen die riete. Sy is versigtig vir loonwerkers wat op die plase langs die Nyl werk en snags tussen die riete slaap. Sag stap. Stap en stap weg van soveel herinneringe. Stap.

    Saleh het geen benul van tyd of hoe lank sy al stap nie, maar die dringendheid om weg te kom, dryf haar.

    Isa, wys my die pad. Ek weet glad nie wat ek nou moet doen nie en ek is regtig bang hulle sal my vind.

    ’n Ent verder in die maanlig is daar toeristebote en sy wil eers in ’n ander rigting koers kies, maar toe onthou sy: Farouk. Farouk werk op een van hierdie bote. ’n Idee begin posvat. Miskien kan sy hom vra om haar te help? Wat is tog die naam van die boot waarop hy werk? Sy kan glad nie onthou nie.

    Behoedsaam maar doelgerig stap sy in die rigting van die bote wat twee-twee in die kaai vasgemeer lê. Sy hou in die skaduwees, stap saggies verby ’n paar. Moondance, Nile Cruiser, Prince of the Nile, Royal Lilly, maar nie een naam klink bekend nie. Ag, wat is die kans dat Farouk nou hier sal wees? Moedeloosheid dreig om haar te oorweldig, wil haar laat omdraai.

    Ek gee uitkoms in die nag van gevaar.

    Dit was nie ’n stem nie, maar ’n wete binne-in haar gees.

    Vader? Ek ken U nog so sleg. Is dit U wat met my praat?

    Ek gee uitkoms in die nag van gevaar. Ek steek jou weg onder my vleuels.

    Kalmte kom oor haar. Sy weet nie presies hoekom nie, maar sy stap verder langs die bote verby. Toe sien sy die naam van die heel voorste boot: Jewel of the Nile. Ja! Dis die een. Dis die naam van die boot waarop Farouk werk.

    Sy skuil steeds in die skaduwees en wonder hoe op aarde sy hom in die hande gaan kry. Die boot lê slaapstil vasgemeer in die donker. Daar is ’n voetbrug van die kaai na die boot en ’n flou lig brand in die portaal. Durf sy oorstap en kyk of die deur oop is? Waar gaan sy begin soek na Farouk op die boot?

    Terwyl sy nog haar opsies oorweeg, hoor sy stemme agter haar. Sy wriemel haar dieper tussen die bougainvilleas in wat welig langs die kaai groei en moet op haar tande byt om nie uit te roep toe die dorings haar steek nie. Die mense lag uitbundig en loop effe onvas op hulle voete.

    Kom, ons moet gou maak! roep iemand in Engels. Hulle het gesê hulle sluit tweeuur die deur.

    Hoe laat is dit nou?

    Daar is nog net drie minute oor.

    Maak gou!

    Toe begin hulle senuweeagtig lag en hardloop in die rigting van die boot.

    Moenie so lawaai nie.

    Nog gelag klink op.

    Sy is weer eens dankbaar vir die Engels wat sy op skool geleer het. Dit was een van die beste dinge wat haar pa haar ooit gedwing het om te doen. Drie minute. Drie minute om ’n plan te maak. Miskien moet sy agter hulle by die deur inglip. Maar ’n mens kan van ’n myl af sien sy is ’n plaaslike inwoner, nie ’n toeris nie. Haar kopdoek afhaal? Sy pluk dit af en kom saggies uit die skaduwee. Die mense beweeg luidrugtig oor die voetbrug. Sy draf saggies in die skaduwee agterna. Skielik gaan die deur oop en die lig val in ’n baan buitentoe. Farouk! Kan dit wees? Dis beslis sy kenmerkende neus en hoë voorkop. Hy staan in die deur en heet die gaste welkom.

    Ons het nog net vir julle gewag, sê hy, steeds vriendelik ten spyte daarvan dat dit so laat is.

    Sy staan in die skaduwee aan die ander kant van die brug. Durf sy na hom roep? Netnou hoor hulle haar. Die gaste loop in en Farouk tree ’n oomblik na buite om seker te maak dat almal binne is.

    Farouk!

    Hy bly staan en tuur die donker in.

    Farouk, roep sy weer sag.

    Wie is daar? vra hy in Arabies.

    Saleh, antwoord sy, maar bly in die donker staan.

    Hy maak die deur na die boot eers versigtig toe en steek toe die brug tot by haar oor.

    Farouk. Dank God, dis jy.

    Saleh? Wat maak jy hier? Dis die middel van die nag, sê hy verbaas.

    "Ashraf se familie … Hulle’t fatwa oor ons uitgespreek."

    Daar is skok op sy gesig. Voëlvry verklaar. Hoe het hulle van julle uitgevind?

    Dis ’n lang storie waarvan ek jou alles sal vertel, maar eers het ek jou hulp dringend nodig. Asseblief, Farouk, ek vlug.

    Hoe kan ek jou help?

    Versteek my op die boot, asseblief, Farouk. Ek kan nie ’n trein of bus neem sonder dat iemand my sal herken nie. Dit is al manier waaraan ek kan dink om ongesiens hier te kan wegkom.

    Nee, Saleh. Ek kan my werk verloor. Ek kan dit glad nie doen nie, sê hy uit die veld geslaan.

    Ek weet, Farouk, antwoord sy sag. Dit skree ten hemele om iets so gevaarliks van jou te vra, maar ek weet nie wat anders om te doen nie.

    Ek het ’n vrou en kinders, Saleh. Sy stem is beslis. Werk is skaars. Ek kan nie bekostig om my werk te verloor nie. Ek is jammer.

    Ek verstaan, maar ek is so bang. Ek weet nie hoe anders om hier weg te kom nie.

    Ek is jammer vir jou, maar ek kan jou nie help nie. Nie ten koste van my gesin nie. Ek moet nou die deur sluit; dis die reëls.

    Die wind is uit haar seile. Ek verstaan. Jammer dat ek jou gepla het, Farouk.

    Hy draai om en stap oor die brug. Die deur gaan agter hom toe, maar sy bly geplant in die donker staan. Die slot word gegrendel en die lig gaan af. Sy bly net staan. Die vrees omhels haar van agter af, en sy het geen verweer nie. Wat doen sy nou?

    Isa?

    Die slot kras weer en die deur gaan onverwags oop.

    Saleh!

    Sy gee ’n tree uit die donker.

    Kom, wys Farouk met sy kop.

    Sy hardloop oor die brug en laat die vreesjas op die kaai agter. Die trane kom spontaan toe sy die veiligheid van die boot se portaal bereik. Dankie, Farouk.

    Dis malligheid, maar ek sal nooit met my gewete kan saamleef as ek jou hier los nie, fluister hy en kam gefrustreerd met sy vingers deur sy hare.

    Ek sal onder jou bed wegkruip, pleit sy.

    Nee, ek deel ’n kajuit. Hy sluit die deur agter hom. Kom, maar loop op jou sagste. Ek neem jou na ’n kajuit op die gang waar ek werk. Daar is baie oop plekke, maar niemand mag weet jy is daar nie, gehoor?

    Sy knik en volg hom op haar tone.

    Dis doodstil. Saleh hoor haar eie asemhaling in haar ore. Sy probeer haar asem ophou, doodbenoud dat iemand hulle nou sal betrap. Dis egter maklik om sag te loop op die dik matte. Oral is sagte beligting. Dis luuks en pragtig binne, presies soos Saleh al in die brosjures gesien het. Elegante binneversiering, swaar donker meubels, spieëls. Een stel trappe op, nog ’n stel op, en toe regs.

    Soos skimme beweeg hulle. In die gang af, tot by die heel laaste deur. Hy haal ’n kaart uit sy sak, laat gly dit deur die gleuf en maak die deur oop. Só skakel die ligte aan en skielik is daar ’n lieflike kajuit voor haar met ’n luukse bed en ’n en suite-badkamertjie. ’n Kamer geskik vir ’n koningin. Dankbaarheid en verligting spoel oor haar, maar sy sien die spanning op Farouk se gesig en sy verstaan die offer wat dit van hom vra.

    Dankie, Farouk, fluister sy weer diep dankbaar en die trane rol spontaan.

    Hy knik net. Jy kan nie waag om hier uit te gaan nie, Saleh, fluister hy. Ek sal later vanoggend vir jou iets te ete probeer bring. Moenie nou stort nie; ek is bang iemand sal die water hoor. Wag tot jy hoor die ander gaste stort. Maar jy sal moet stort, want jy ruik vreeslik, glimlag hy skeefweg.

    Dis ’n lang storie. Sy kyk verleë weg. Baie, baie dankie, Farouk.

    Ek moet nou gaan slaap, want ek moet weer vroeg op. Ek moet die kamers op hierdie gang kom diens wanneer die gaste ontbyt gaan eet, so tussen agt- en negeuur. Sodra ek klaar is en dit veilig is, kom loer ek in. Moenie die gordyne oopmaak nie.

    Reg so. Dankie, Farouk, herhaal sy vir die soveelste keer.

    Die boot vertrek soggens om vyfuur. Dan eers is jy veilig. Ons sal later die res van die reëlings uitsorteer. Heng, Saleh, dis ’n gemors. Wat gaan jy doen? Sy donker kuif met die grys strepies val skeef oor sy gesig en dit laat hom skielik baie moeg lyk.

    Ashraf het gesê ek moet Kaïro toe gaan. Dis nog baie deurmekaar en ek probeer nie te ver vooruit dink nie, want ek weet nie presies nie. Ek is so bekommerd oor hom, Farouk.

    Ek sal vir julle bid. Slaap nou eers. Ons praat weer wanneer die son skyn.

    Ek is verskriklik dors, Farouk.

    Daar staan ’n bottel water op die spieëlkas; gebruik dit solank. Moenie kraanwater drink nie. Hy tree saggies uit.

    Saleh sak op die sagte mat neer. Dankie, Vader. U het woord gehou.

    Toe staan sy op en reik na die bottel op die ingeboude spieëlkas.

    Sy drink en drink en drink van die skoon water. Verligting spoel soos die water deur haar. ’n Bietjie van die water los sy vir môreoggend. Sy trek die skoon lakens van die bed af, skop haar skoene uit en nestel haar in die sagte rusplek in. Hoe ironies dat sy in doodsgevaar omring word deur meer luuksheid as wat sy nog ooit gehad het. Sy voel veilig in die afsondering, die duvet vertroostend om haar gevou. Dankie, Here. Wees asseblief met Ashraf in hierdie nag. Sy raak vinnig aan die slaap met haar arm beskermend om haar buik gevou.

    Hoofstuk 2

    PRETORIA. AUGUSTUS 2010

    Salomé Pretorius kry bitter koud. Sy haak haar gekousde voete oor die olieverwarmer se basis, maar dit brand haar. Toe sit sy maar net weer so na moontlik aan die hitte en trek die ou Barney-kombersie – een van die kinders s’n – nog stywer om haar skouers.

    Vermoeienis rem aan haar nekspiere, maar sy moet die boeke klaar merk voor sy kan gaan slaap. Die graadviers is ’n oulike groep, maar hulle het almal gesukkel met hierdie Engelse opdrag. Vorige jare was dit tog nie so erg vir die outjies nie? Miskien is dit omdat hulle ’n verlengde skoolvakansie gehad het met die Wêreldbeker-sokkertoernooi waarvan Suid-Afrika die gasheer was. Tydens die kwartaal moes hulle omtrent deur die werk jaag om alles ingepas te kry. Kyk nou net hoe lyk die punte.

    Sy is bang haar tamheid begin haar werk beïnvloed. Eintlik kan sy nie glo dat hulle so ’n lang skoolvakansie gehad het en sy al weer moeg is nie. Dit voel of sy in ’n afwaartse spiraal van moegheid en lusteloosheid verval het. Die revue- en kunswedstrydoefeninge waarvoor sy die sangdeelnemers moes voorberei, het ook nie gehelp nie. Hulle het in die vakansie ekstra oefentyd daarvoor ingeruim. As Petrus tog net tuis was.

    Hierdie laat, ontydige koue front is genoeg om haar dun nerwe nog verder te skaaf. Die winter was erg koud met die nagte alleen – dit bly maar net goor. Sy hoop elke winter sy kan ten minste ’n elektriese kombers koop, maar daar was weer nie geld nie. Gelukkig het sy ’n warmwatersak en ’n bed en ’n werk. Dit is steeds meer as wat baie mense het wat vannag buite in die koue moet slaap. Tel jou seëninge, Salomé Pretorius.

    Sy gaan haal die warmwatersak uit die bed sodat sy dit op haar seer skouers kan sit. Die kinders slaap almal rustig, sien sy toe sy by hulle kamers kom. Dankie tog. Veral Alexander was vandag weer ’n handvol. Hy het sy pa se ferm hand nodig, besef sy maar weer elke keer wanneer Petrus weg is. Dit voel of hy bo-oor haar loop, vier jaar oud of te nie. Sy trek die duvet stywer om hom, gee hom ’n soen op sy voorkop en kyk na sy onskuldige slaapgesiggie.

    Tel jou seëninge, Salomé Pretorius, sê sy weer saggies vir haarself en stap terug om met nuwe ywer te merk.

    Laatnag sit sy uiteindelik haar pen neer en gaan maak toe eers weer seker dat al die deure gesluit is, want in hierdie land weet ’n mens nooit nie.

    Sy verpes hierdie histeriese oggende wanneer Petrus nie hier is nie. As hy hier is, help hy ten minste om Alexander aan te trek en pap te maak. Sy is moeg en het sleg geslaap, want Alexander het weer by haar kom inkruip in die nanag. Toe moes sy net koes vir elmboë en knieë. Boonop het sy haar wekker twee keer te veel laat snooze vanoggend.

    Kom nou, asseblief, Alexander. Mamma gaan laat wees as jy nie nou gou maak nie. Talitha! Markus! Is julle klaar?

    Maar ek wil nie die pienk pap hê nie, kerm Alexander.

    Toe ek jou wakker gemaak het, het ek jou gevra watse pap jy wil hê en toe het jy gevra vir pienk pap. Sy probeer kalm bly, maar voel hoe haar seer nekspiere stywer trek.

    Maar dis nie lekker nie. Ek wil dit nie hê nie. In ’n kermstem wat op haar senuwees werk.

    Goed, dan gaan jy die kleuterskool se pap eet vanoggend, want ons moet nou ry. Talitha, Markus, kom!

    Nee, ek hou nie van die kleuterskool se pap nie.

    Ek gee nie om nie. Ek het vir jou pap gemaak en as jy dit nie wil eet nie, gaan jy die kleuterskool se pap eet. Borsel nou jou tande en klim in die kar. Talitha, is jou kosblik in?

    Ja, Mamma.

    Nee, ek gaan nie, ek hou nie van die kleuterskool se pap nie.

    Nou eet dan jou pienk pap. Markus, gaan kry jou skoolbaadjie, dis yskoud.

    Nee, kom dit van Alexander.

    Dan bly jy honger.

    Hy hou eintlik van die pap, maar is nou net in ’n magstryd met haar gewikkel.

    Ek kry nie my baadjie nie, Ma! roep Markus vanuit sy kamer.

    Mamma wil ook net altyd hê ek moet honger bly, huil Alexander tussendeur.

    Maar jy het dit dan gister aangehad, vat sy vlam teenoor Markus.

    Ek weet, maar ek dink ek het dit by die skool vergeet.

    Ek wil tierpap hê, huil Alexander.

    Ons moet ry, Mamma; dit is al tien oor sewe, sê Talitha.

    Dink jy ek weet dit nie, Talitha? Sy weet sy moenie begin skree nie, maar sy kry dit nie gekeer nie. Ek is net een mens en ek moet vir vyf mense dink. Hoekom het jy jou baadjie by die skool gelos, Markus? Weet jy wat kos skoolbaadjies? En hou nou jou smoel, Alexander, voor ek dit toeklap.

    Nou huil Alexander volstoom. Markus sê niks en Talitha het daardie seergemaakte uitdrukking wat sê dit was ’n onregverdige uittrap. Dis eintlik alles my skuld, weet Salomé. Sy moes met die eerste wekker al opgestaan het.

    Loop klim in die kar, die lot van julle. Julle maak my so die hoenders in! skree sy skuldig. Markus moet nou maar vries en Alexander honger ly, want ons moet nou ry.

    Alexander skree vir die eerste prys en sit waar hy sit. Daar is nie meer tyd vir tande borsel nie; hy moet nou net so in die motor. Hy kan sy pienk pap by skool gaan eet. Sy gryp haar handsak, die boks gemerkte boeke en die papbakkie met die een arm, Alexander met die ander. Hy skree en skop en probeer haar byt deur haar dik jas, maar sy behou haar greep.

    Toe klap hy met opset die papbakkie uit haar hand en die volgende oomblik – asof in vertraagde beweging – is daar pap oor die boeke, haar jas, selfs haar hare. Die papbakkie rol oor die grond. Alexander is meteens doodstil en kyk uitdagend na haar. Twee ander pare oë staar geskok.

    Here, help my of ek gaan hierdie kind nou doodslaan, bid sy in haar hart terwyl sy alles op die grond neersit en ’n oomblik net so bly sit.

    Kom ek help Mamma, sê Talitha versigtig, kry ’n lap en begin die boeke afvee.

    Salomé staan stadig op en sê niks, trek haar vuil jas uit en gee die motorsleutel vir Markus. Sluit solank die kar oop, Markus, en help vir Alexander in, sê sy gevaarlik kalm. Sy stap badkamer toe om die pap van haar hare te gaan afvee. Pienk pap. Sy bekyk die prentjie in die spieël, begin eers lag en toe moeg huil. Ag, Petrus. Ek het jou nodig by die huis, sê sy vir haar spieëlbeeld.

    My genade is vir jou genoeg, kom die bekende woorde in haar gees op.

    Dit voel nie so nie, Here, antwoord sy hardop terug en begin verwoed skoonmaak.

    Talitha kom stil in met die stapel boeke.

    Salomé vee haar trane af en probeer om nie die bietjie grimering wat daar was heeltemal af te vee nie. Dankie, my liewe kind. Sy druk haar ’n oomblik vas. Ek is jammer ek het geskree, sê sy in haar dogtertjie se hare.

    Toemaar, Mamma. Is Mamma okay?

    Hang af of ek nog pienk pap in my hare het? vra sy gelate. Kyk gou agter, asseblief.

    Ja, wag, buk af, Mamma, dat ek dit kan uithaal.

    Dankie, poppie. Sy kyk ’n laaste keer na haar haarstyl wat nou lyk asof ’n koei haar gelek het. Ag tog. Kom. Ons is nou baie laat. Sy gryp ’n ander baadjie uit die kas en hulle hardloop gangaf.

    Alexander is stil in die motor. Weer een-nul in sy guns, dink Salomé wrang. Hy is al tien-nul voor.

    My baadjie was in die kar, Mamma, verbreek Markus die stilte.

    Wel, jy kan jou seëninge tel, want as dit weg was, was dit weg. Ek koop nie weer een nie.

    Ja, Ma. Onderdanig opstandig.

    Stilte. Kom, ons moet nog bid vir die dag. Dis dalk hoekom alles so skeefgeloop het. Ons bid sommer terwyl ons ry. Liewe Vader, baie dankie vir ’n nuwe dag. Dankie vir kos en klere en ’n warm bed; dis alles genade uit u hand. Ons bid vir die mense wat koud kry en honger is. Help ons om vir hulle ook te kan gee. Ons bid veral vir die mense van die kerke in die geslote lande; versterk en bemoedig hulle, Here. Wees asseblief met Pappa daar ver. Beskerm hom en gee hom die geleentheid om u liefde vir die wêreld te wys en die evangelie met iemand te deel. Beskerm ons asseblief elkeen vandag by ons verskillende skole en bring ons weer vanmiddag veilig bymekaar. Dit bid ons is Jesus se Naam.

    Amen, koor almal saam toe hulle by Alexander se skooltjie stop.

    Salomé gaan sit altyd in die musiekklas wanneer sy ’n af periode het. Sy het weer boeke om te merk, maar vanoggend se drama met Alexander krap steeds aan haar. Sy staar by die venster uit met die stapel boeke oop voor haar. Wat doen sy verkeerd? Waarom is dit altyd ’n kop-aan-kop-botsing met die kind? Sy het tog ’n goeie verhouding met die ander twee en kan wraggies nie onthou dat hulle so moeilik was nie. Ja, sy weet hy het ’n sterk wil, maar sy wil so graag ’n goeie verhouding met hom ook hê.

    Die moegheid en moedeloosheid maak dat sy sommer tranerig is toe daar ’n klop aan die deur kom. Sy knip haar oë vinnig. Kom in.

    Dirk. Sy het hom vanoggend in die verbygaan gevra of hy asseblief na die wasmasjien kan kom kyk.

    Hei!

    Haai, Dirk.

    En as jy so sit?

    Sug. Dis daardie klein mannetjie van my; hy trek die bloed onder my naels uit. Hy’t my vanoggend met sy pap gegooi. Oor my hare, klere en selfs die graadviers se boeke. Kan jy dit glo? Net vier jaar oud.

    En ek dag jy’t net ’n nuwe haarjel probeer, terg hy.

    Ha-ha, baie snaaks. In elk geval, ek wonder maar net hoe bou ’n mens ’n verhouding met so ’n moeilike knapie. Hy’s my kínd. Ek kan tog nie sy grootste vyand wees nie?

    Ek hoor jou. Hy kom sit op die punt van haar lessenaar.

    Hoe doen jy dit? Was een van jou kinders so moeilik?

    Dewald was ook maar ’n handvol ná Celia se dood, dink hy terug. Ek het maar net baie tyd saam met hom deurgebring. Bal gegooi, boekies gelees, sulke goed. Toe het dit vanself oorgegaan. Maar ek dink dit was vir my makliker omdat hy ’n seun is. Riana was weer vir my moeiliker, maar sy het haar hart uitgehuil en met haar skooljuffrou ’n verhouding opgebou, daarna het dit ook met haar beter gegaan.

    "Ja, ek bring seker net nie genoeg tyd saam

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1