Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Grootgeluk
Grootgeluk
Grootgeluk
Ebook443 pages6 hours

Grootgeluk

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Tijs Velaat is gebore op die plaas Grootgeluk in die distrik Oudtshoorn. Hy en sy mame woon naby die Schoemans se opstal, so naby dat Tijs snags die werfhonde kan hoor snork. Hy is getuie van als wat reg én verkeerd loop op die werf.
Miskien as Tijs nooit die skilpad op sy dop gekeer het nie, kon dinge anders verloop het. Hierdie historiese roman speel af vanaf die 1850’s tot 1914, en die landskap is die Klein-Karoo, hartskontrei van die skrywer.
  
LanguageAfrikaans
Release dateNov 7, 2021
ISBN9780798182423
Grootgeluk
Author

Jan van Tonder

Jan van Tonder se kortverhaalbundel, Aandenking vir ’n vry man, en eerste roman, Is Sagie, is baie goed ontvang. Daarna is Die kind in 1989 bekroon met die ATKV-prys en was ook op die kortlys vir die M-Netprys in dieselfde jaar. Sy roman Roepman is wyd geloof deur resensente, was op verskeie kortlyste vir pryse en is ook in Nederlands vertaal. Roepman is nou ’n rolprent. Die skrywer woon in Gordonsbaai.

Read more from Jan Van Tonder

Related to Grootgeluk

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Grootgeluk

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Grootgeluk - Jan van Tonder

    9780624089810_FC

    JAN VAN TONDER

    Grootgeluk

    Human & Rousseau

    Vir Braam

    Tijs moet kry wat hy verdien. Hy is nog nie gevonnis of selfs skuldig bevind nie, maar ek vertrou die waarheid sal seëvier. Agt en twintig jaar lank het ek met hom gepraat sonder om ooit ’n antwoord te verwag. God, aan die ander kant, is nie stom óf doof nie, dus het ek ná ’n leeftyd van onverhoorde gebede oortuig geraak daarvan dat Hy gewoon nooit na my geluister het nie. En Dries, het hý? Wat ek wel weet, is dat my man dalk soms geluister het, maar sonder om regtig te hoor wat ek sê. En tot sy dood toe het hy selde gepraat oor dinge wat saak maak – hoe kon ek weet wat in sy kop aangaan, wat hy voel, en, miskien bowenal, wat hy van my wou hê, buiten ’n seun.

    Voorlopig volstaan ek hiermee.

    Een keer nog moet ek, Tijs Velaat, in die koort wees, die Ommegaande Hof, wanneer hy hier op Oudtshoorn kom sit, want onse magistraat het besluit my saak is te ernstig vir sý rang. Ek wag om aangeluister te word. Nie om genade te vra nie, maar vir die regter en die advokate – God sinne inkluis – en die nege manne van die jurie én die klomp nuuskieriges wat die spektakel gaan kom bekyk, vir die hele spul, wil ek skreeu: Dit gaan nie oor die dag in die waenhuis op Grootgeluk nie. Op daardie klag is ek onskuldig!

    Alles het vroeger begin en oor baie jare geloop tot nou toe, 1914, en dis dááraan wat ek so skuldig is as die houtjie van die galg, waarvoor die regter my met reg kan straf – ek sien minder kans vir aanhou lewe as vir doodgaan.

    Vir dies wat met die kats bygekom word, wil ek sê om bly te wees die mense wat hulle slaan, is vreemdelinge, huurlinge wat gasie kry vir die ding wat hulle doen. Hulle geskree sal tussen die blokke van dik sandsteenmure wegraak en die slae sal agter die rug wees. Stukkende plekke word heel. Vry sal hulle uitloop, alle skuld afbetaal.

    Mý letsels, lank, lank terug toegedien, het my rug skurf en oneffe gelaat, soos skilpaddop.

    As ek my skouers vorentoe trek, soos wanneer ek my gesig oor ’n skottel was, voel ek die eelterigheid oor my blaaie span. Die seer het ek al vergeet. Maar met die onthou is dit anders: die skuld bly. ’n Juk wat ek tot die dood toe moet dra, en daar verby ook, seker.

    Ek sit my laaste dae om en kyk met oop oge na niks. Anders lê ek hande agter die kop aan die lewe en pluis. Of ek probeer slaap, soos nou. Ek wens om te droom van die tyd en tye voor byna alles om my verword geraak het, maar die klapperhaar onder my is plek-plek deurgelê en my heupe en skouers stamp teen die vloer as ek omdraai.

    Binnekort sal die sipier voor my seldeur kom staan om te sê die Ommegaande Hof is op die dorp en die dag van afrekening het aangebreek. Hoe gouer, hoe beter, want ek is sat daarvan om so mensalleen verlate te wees, al weet ek hý is ook hier, hy wat my beluister, suutjies opgekrul in sy hoek. Partykeers is dit of ek hom sien ook, die blinkigheid van ’n oog en sy vurktong wat voel-voel aan my ruik.

    Vroeger dae, in die helderte van Oudtshoorn se son, het ek hom gehoor praat, maar nooit gesien nie. Nou, in die halfdonker, is dit andersom. Hy weet teen dié tyd mos al ek gaan op die end met hom moet saam. Ek beskuldig hom van niks, want ek het iedere kronkel op my pad self gekies. Maar tree vir tree van my afdraand het hy onsigbaar langes my geseil, my aangemoedig en voorgesê, en wanneer die skuldlas swaar op my gekom lê het, het hy daarvan geweet en my getroos met woorde soet soos veldheuning.

    Hoor net hoe gebruik ek nou dominiestaal, al of ek my beter wil voorhou as die sondaar wat ek is. Veinsery is nie ’n ding wat ’n mens maklik afgeleer kry nie. Klein-klein smeer dit aan jou af, en al hoe meer en vinniger as jy eers geleer praat het, lyk dit my. Die tong is ’n listige ding.

    Ek hoort hier waar water en slegte kos deur tralies vir my aangegee word en die sipier elke paar dae my hek oopsluit om die vuilemmer te laat omruil, sonder ’n woord. Al gepraat wat ek partykeers hoor, is nagdeur se gebid en gesing van iemand wat dagbreek die houttrappies uitgelei gaan word. Húlle staan seker klaar met een voet in ’n ander wêreld. Om hulle te probeer stilmaak, is omsons, want waarmee maak jy een bang wat op pad galg toe is, een wat weet hy gaan netnou-netnou dood aan sy nek swaai?

    Hier loop een dag in die ander een in, partykeers sonder dat ek tussenin ’n oog toegemaak kry. Die skoonmaker is een troos. Wanneer hy in my sel inkom om my emmer uit te dra en ’n skoon ene in, haal hy uit sy flenterbaadjie se sak ’n breeksel brood en gee dit vir my aan. Partykeers ’n handvol droëvrugte of ’n gekookte eier. Dit laat my dink aan die Schoemans se kombuiskos en my en Mame se huisie op Grootgeluk, met haar nog in die lewe.

    DEEL I

    _________________

    1858 –1880

    HOOFSTUK 1

    _________________

    1858

    Dries is ’n vurige man. Wanneer hy volstruiskuikens gaan koop of op ’n jagtog uit is en dae of ’n week of twee wegbly, hunker ek na hom en sy drang na my.

    Saans laat ek Liesbet vir my iets eenvoudigs voorberei, al kook sy reeds byna elke dis waarvan Dries hou net so goed as ek. Party selfs beter. Wanneer die kombuis skoon is, sluit sy die deur agter haar en gaan na haar huisie toe. Die honde het haar vroeg-vroeg gewoond geraak, soveel so dat sy hulle self soggens aan die spandrade kan vasmaak, en saans los.

    Alleen in die groot huis, skink ek ná ete soms vir my ’n glasie ingevoerde port en verbeel my ek trek ’n gordyn weg en kyk van buite af in na my en Dries soos ons gereeld saans ná die maal rustig in die voorkamer by lamplig sit, hy met ’n boek oor boerdery en ek, as ek nie klavier speel nie, met my hekelwerk besig.

    Wanneer hy wel tuis is, voel ek soms sy oë op my en as ek opkyk, staan hy op en kom na my toe.

    Ten spyte hiervan het daar reeds meer as ’n jaar sedert ons troue verloop, sonder vrug. Dries noem dit nie, maar ek weet hy tob daaroor. Al dringender dring hy my binne, en agterna lê hy na my en kyk. Hy streel met sy groot hande oor my, ’n boer se hande, gewoond aan ploeg en plant en oes.

    Oor my buik streel hy. Sy hand kom tot rus, sy kop effe skeef gedraai, asof hy verwag dat daar ’n roering sal wees. Dan my borste: hy neem ’n tepel in sy mond, soos ’n suigling sou, ’n stonde lank, en lig hom weer op sy elmboog sodat hy ’n hand vry het om my knieë versigtig uitmekaar te stoot en na my skaamte te kyk, waar ek sy saad uit my voel kruip.

    Hy trek die laken oor my en staan op.

    Ons mag nie moedeloos raak nie, my vrou.

    Op my beurt smeek ek die Heer om my genadig te wees. Om Dries se onthalwe, genadige Vader. ’n Seun, asseblief.

    Ek bid sonder ophou, soos die Woord ons beveel; langs ons bed op my knieë, wandelend in die tuin, te perd in die veld. Selfs terwyl Andries in my is.

    Wanneer ons êrens kuier, of iemand by ons, kom die onderwerp van tyd tot tyd onvermydelik ter sprake. Ander jong vroue loop met bultende buike en pronk. Party met babas op die arm. Op ’n aand gaan een so ver om my saam te nooi kamer toe toe sy haar baba moet voed. Terwyl sy en haar kind in mekaar se oë kyk, sy mondjie aan haar bors, albei aan die saligheid oorgegee, voel ek my eie tepels saamtrek. My lyf verstaan iets daarvan. Ek gaan sê vir Dries dat ek onwel voel en ons vertrek.

    Jy kan netnou die diere kom uitspan, sê ek by ons aankoms en trek hom agter my aan die huis in, waar ek sommer in die voorhuis sy klere en myne uittrek en met hom op die Persiese mat neersak.

    Meer as ’n week lank het hy geen rus of duurte met my nie, en toe die tyd van my maandstonde kom, is daar geen teken van krampe of bloed nie.

    Ek sê vir Dries nie ’n woord daarvan voor ek doodseker is nie, en toe ek dit wel doen, ná ’n besoek aan dokter Langley, vir die wis en die onwis, is hy buite homself van vreugde. ’n Erfgenaam, ’n erfge-naahaaam, sê hy terwyl hy my in die rondte swaai; die naaste aan sing wat ek hom ooit gehoor het.

    Toe die baba later so hard in my baarmoeder skop dat ek dit vir Dries kan wys, verwonder hy hom daaraan. Dis ’n boerklong, sê hy met sy hand op my buik, opgewonde soos ’n seun oor sy eerste ryperd.

    Die kind sou amptelik sy vader se doopnaam kry, maar ons het hom Driesie begin noem. Dit het my benoud gemaak, en ter voorbereiding, sonder om my man se vreugde te demp, probeer ek wal gooi.

    Sê nou dis ’n dogter, Dries?

    Dit sal ’n seun wees, antwoord hy, en hy had reg, dit wás een, maar ons Driesie kom die wêreld leweloos binne. Dokter Langley maak seker dat alles wat moet uit, uit is en toe gaan hy na Dries om die nuus aan hom oor te dra. Liesbet kom die kamer in en tel my baba op waar die dokter hom gelaat het en veeg hom skoon en sit sy lyfie tussen my borste neer, sy gesiggie na aan myne.

    Saam met my huil sy.

    Perdepote klap oor die werf en verdof in die verte.

    Dokter Langley kom terug en sê: Rest as much as you can for the next week or so. And remember: God’s will be done. I’ll have the death certificate ready tomorrow morning, have someone fetch it so you can bury your child.

    Ja, liewe dokter, daar is beskik dat my kind al flouer moes skop, tot ek geen beweging meer kon waarneem nie. Tóé het jy gesê: Nothing abnormal about that, Mrs Schoeman. As your baby grows, there is less and less room for manoeuvring in the womb. And if he takes after his father, he will no doubt take up more space than most. No need for concern. Ek het jou woord aanvaar en saam met Dries uitgesien na die geboorte van ons eersteling. ’n Seun, soos ek van God afgesmeek het, en ’n fris klong soos die dokter voorspel en sy pa gehoop het. Maar ek het nagelaat om die Here te vra hy moet léwend die wêreld inkom.

    Saam is ek en Dries teleurgestel.

    Verpletter.

    Maar hý kan nou sy smart op sy ryperd uithaal, later op sy volk. Hy kan dit op die boerdery uitwoed.

    Ek, moeder van ’n kinderlyk, voel skuldloos skuldig, asof ek dit op die een of ander manier kon voorkom het.

    Dries kom eers in die nanag terug, en vir die eerste keer sien ek hom beskonke. Die hele oggend lê hy sy roes en afslaap, terwyl Tienie Stoffels weg is om die nodige dokument te gaan haal. Hy kom daarmee en met ’n wit babakissie terug, iets wat ek nagelaat het om hom voor te vra.

    Toe ek vir die begrawer sê my mies het nie geld saamgestuur nie, en hy hoor dis vir die Schoemans van Grootgeluk, het hy gesê julle kan later kom betaal, wanneer die rou verby is.

    Sal dit ooit verbygaan, Tienie? dink ek, en wonder vir die eerste keer of hý kinders het.

    Waar moet ek die graf grawe, mies?

    Daaraan het ek nog nie gedink nie. Naby sy oupa en ouma Schoeman, sê ek.

    Met sy hare deurmekaar en sy oë bloedbelope en sy gesig bleek kom Dries uit die kamer. Hy wil niks eet nie, drink net ’n koppie sterk koffie. Ek sien hom om die skuur loop en ná ’n rukkie teruggestrompel kom – ek neem aan hy het gaan opgooi.

    By die reëntenk se kraan buk hy om sy gesig te was.

    Ons moet ons kind gaan begrawe, sê ek vir hom.

    Ons moet.

    Maar nie só nie. Ek wys na sy klere.

    Uiteindelik kan ons gaan. Ek hou die dik Familiebybel teen my bors en Dries dra die klein kis in die waai van sy arms. Hy sit die kissie by sy voete neer en neem die Bybel by my. Uit Psalm 23 lees hy vir ons: De Heere is mijn Herder, mij zal niets ontbreken. Dáár verstil sy stem en hy gaan op sy knieë af. Hy kyk op na my. Sy oë, wat gewoonlik blou is soos Oudtshoorn se lug, is nou troebelrooi. Op hierdie oomblik, Hendrien, wens ek om eerder hierdie Boek te begrawe as ons kind, sê hy voor hy die Bybel neersit en ons Driesie in die diep graffie laat sak.

    Ek sing ’n paar reëls van ’n Psalm; die res wil nie by my keel uit nie.

    Dries gooi die kissie toe en trap die kluite vas. Nog ’n laag of drie, elke keer die kompaktering. Daar is vir my iets onterends daaraan. Hy sien seker die afkeer op my gesig, en sê: Ons wil nie hê ’n gedierte moet hier kom grawe nie.

    Toe loop hy terug huis toe.

    Ek kyk hom agterna, sien hoe sy skouers hang, en ek begin huil oor my man soos hy nou daar lyk, meer as oor my of ons kind.

    Om nie met my hart op die mou by hom aan te kom nie, dwaal ek deur die klein kerkhoffie. By ’n groot steen gaan ek staan. ’n Dubbelgraf. Aan die een kant in die marmer gegraveer: Andries Jakob Schoeman, geboren 6 Augustus 1805, gestorven 17 Oktober 1856, en aan die ander: Maria Schoeman (née Verdoorn), geboren 1811, gestorven 17 Oktober 1856.

    Ons was pas verloof toe sy ouers in die Montagupas verongeluk het – hulle trekdiere met vierperdewa en al oor ’n afgrond. Die eerste ander reisigers het die verwonde perde hoor runnik. Hulle het stilgehou en die diere en wrakstukke gesien en ondertoe geklim. Albei Dries se ouers was reeds dood.

    Voor die vreemdelinge die lyke pad toe gedra het, het hulle die perde, drie steeds in die tuig, geskiet.

    In hierdie grond rus Dries se twee susters ook, die oudste op veertien deur maagkoors geëis en die laatlam deur die Olifantsrivier in vloed. So kom ons en so gaan ons. Alle vlees is gras.

    Nou het my en Dries se eersteling hom by sy voormense aangesluit.

    Grys wolke kom oor die Swartberge aangedryf. Dalk val daar vannag ’n bui, ’n mens weet nooit. Ek moet na my man toe, hy sal vertroosting nodig hê, en ek weet selfs reën sal dit nie nou vir hom bring nie.

    Agter die huis kry ek hom waar hy dik takke op die bok stuksaag en die stompe daarna met keile kloof, nog net so in sy kerkklere, sy baadjie darem oor ’n heiningpaal gehang. Tot ná sonsondergang werk hy en laat ’n groot hoop brandhout, sekerlik genoeg vir weke se vuur in die stoof en die bakoond.

    Ek het Liesbet vroegdag al laat huis toe gaan. Die baas sal nie vanaand wil eet nie.

    Dries haak sy baadjie af en staan natgesweet huis se kant toe. Ek gaan wag vir hom in die kamer; hy sal hom was en sy slaapklere aantrek en bed toe kom.

    Die gordyne is toegetrek.

    Ek het ’n lamp aangesteek. Dié draai Dries af en blaas die klein vlammetjie dood en kom sonder ’n woord op sy rug langs my lê.

    Ek wil vasgehou wees, gekoester, vertroos.

    Kyk net na my, Dries, dat ek minder eensaam en verlore en nutteloos kan voel. Of sê iets.

    Dit is stikdonker toe hy die eerste keer praat: Dit was minstens ’n seun, sê hy.

    HOOFSTUK 2

    _________________

    1859

    Ons het heel lank min gepraat ná die klein begrafnissie. Dries het mettertyd toenadering begin soek, maar ek was steeds stil. Kil ook. My liggaam het hom verset teen oorgawe, selfs nadat ek aanvaar het dat dit nie so kan voortgaan nie. Dries het alles probeer; was sagter met my, geduldiger, toegeefliker, selfs meer liefderik. Hy het lekkernye aangedra, geskenke, jou waarlikwaar uiteindelik ’n klompie rankrosies van ’n bos wat sy moeder nog geplant het gaan sny en in ’n melkkannetjie met water gestop en gesê ek moet dit self rangskik.

    Ek het dit net so op die eetkamertafel gaan neersit.

    Dit lyk mooi hier, het ek gesê.

    Ek het hom jammer gekry as hy snags met my lepellê en ek hom teen my voel, honger na my. Uiteindelik het ek hom in die bed ingewag met net ’n nagjurk aan.

    Toe ons in mekaar se arms lê, alles in ’n oogwink oor soos ’n buitenstydse donderstorm, het Dries my weer en weer gesoen, op my mond en voorkop en wange en nek.

    Man en vrou, so was dit uiteindelik weer met ons. En weer het ek swanger geword.

    Dié enetjie is lewend gebore.

    Dries het ’n brief na dominee Van Maanen gestuur en dié het in die kerk aangekondig dat ’n kind vir Andries en Hendrien Schoeman van die plaas Grootgeluk gebore is. ’n Seun.

    Die baba had ons so te sê in die hemel. Dries het breëbors deur die huis geloop en kort-kort by my en die baba ingeloer. Hy het sy neus nie by die deur uitgesteek om iets buite te gaan doen nie, bang dat sy seun iets sal oorkom as hy nie teenwoordig is nie. En toe, kort nadat die aankondiging in die koerant verskyn het, het ons kind een oggend dood in sy wiegie gelê.

    Dié keer was dit Dries wat mý vermy het. Hy het in ’n vrykamer begin slaap, die verste een van ons s’n af.

    Dokter Langley het met hom kom praat.

    Dominee Van Maanen met ons albei.

    Dries het stug gebly, afgeslote.

    Ek? Teen daardie tyd was ek sonder belangstelling in wat om my aangaan. Net in die veld het ek rus gevind, met Luna as geselskap. Die merrieperd het my vriendin geword. Ek het my smart en eensaamheid met haar gedeel.

    Ek het Tienie my perd meer en meer laat opsaal, langer tye van die huis af weggebly. Op ’n dag het ’n slang Luna gepik. Ons was ver van die huis af en ek het haar teruggelei, maar sy het later gestruikel en bly lê. Ek het ure by haar gesit. Met haar gepraat.

    Dries het bekommerd geraak en my kom soek.

    My gekry.

    Ons het mekaar teruggekry.

    Lank moes ek sonder ’n eie perd klaarkom, want Dries het gesê daar is genoeg perde op Grootgeluk, ek kan hulle om die beurt ry sodat ek nie te geheg raak aan één nie. Toe hy sien dit troos my nie, het hy gesê ek kan vir my ’n nuwe perd by die Gulleys gaan uitsoek – hy sal reël dat ons ’n Saterdag soontoe gaan en die nag daar oorstaan.

    Op Calitzdorp, by die afdraai na Warm Water, stuur Dries die vier perde na links en ons ry al met die Nelsrivier langs, verby die punt waar hy en die Gamka by mekaar aansluit. Net meer as ’n halfuur later trek Dries die perde op die werf van Gulley’s Rest in. Edwin en Lily kom op die stoep uit en stap ons tegemoet. Gesiene mense, en vriendelik. Welbekend as perdetelers en ook vir hul klein beesstoetery – tot Max Rose kom koop glo soms diere by hulle.

    Lily laat haar huishouding aan ’n housekeeper oor, want sy boer saam met haar man; vir Dries ’n onaanvaarbare praktyk. Twee koetsiers op één bok deug nie, sê hy telkens vir my wanneer ons hier wegry, die Gulleys se sukses en aansien ten spyt.

    ’n Jong handlanger lig sy hoed vir ons en vat die hotkantste perd se halter vas.

    Thank you, Thomas, sê Lily vir die jongman, please assist our guests with their luggage.

    Vir ons beveel sy aan dat ons dadelik moet stalle toe om voor die hitte van die dag op ’n perd te besluit sodat ons in die huis se koelte kan ontspan.

    Edwin hou Dries in die agterhoede geselskap, terwyl Lily my die perde wys. Sy lei my vooruit, van stal tot stal. Only a woman knows what kind of horse might be suitable for a sister. Of course, to help you decide, I need to know whether you ride sidesaddle or not, sê sy.

    Never, antwoord ek.

    Geen kommentaar van Dries nie, al weet ek hy hoor elke woord wat ek en Lily vir mekaar sê, en hy neem my kwalik daaroor. Op pad huis toe sal hy my seker betig: Dit is nie nodig dat die hele wêreld weet jy ry soos ’n man nie.

    Maar Lily knik haar kop. Strong-willed you are – a woman after my own heart.

    Lily het altyd ’n manier om my beter te laat voel oor myself, geregverdig in wie ek is. Of dan, probeer wees. Ek reik na ’n perd se kop en streel oor sy neus; sag, sensitief, nerveus.

    The next question, obviously, Hendrien: mare or stallion?

    Stallion, sê ek en kyk om na Dries. Ek glimlag vir hom. That’s why I married this man.

    Well, well, sê Edwin en klop Dries op die skouer.

    You surprise me, Hendrien. Lily lag. Let us waste no time then, and find this wild lady a suitable animal.

    Haar woorde is nog nie koud nie, toe ek ’n skimmelperd sien. Ek is terstond halsoorkop verlief, my gevoelens blykbaar op my mou, want Edwin sê: We named him Grady. It means noble, aristocratic. ’Tis only his stable name, but he knows it well, and my advice is to stick with it.

    Middagete by die Gulleys is ’n hoogtepunt: presiese bediening deur Anne Davenport, Lily se wit housekeeper, en geregte goed genoeg vir ’n koningshuis. Dié keer het Anne, buiten haar gewone hulp in die kombuis, ’n mooi, opgeskote meisiekind wat tussen die maalgange opruim; ’n stil glimlag met die eerste binnekoms, ’n buiginkie, vaardige hande met die wegneem van die gebruikte borde en kosbakke.

    Anne has taught her well, sê ek.

    Hessie is a wonderful girl. Already quite a little cook – only simple dishes as yet, but she’s a fast learner. Daughter of Bettie, Anne’s right-hand maid.

    She also knows her place, I like that, sê Dries. En vir my: As Lily kans sien om haar af te staan, kan jy haar môreoggend saamvat Grootgeluk toe.

    Edwin het die moeite ontsien om Afrikaans aan te leer, maar Lily verstaan dit goed. You must be joking, sê sy.

    Toe ek en Dries alleen is, vra ek: Wat van Liesbet?

    Hy trek sy skouers op. Wát van haar?

    As hy by was, sou hy nie gevra het nie. Ek onthou hoe versigtig sy my eerste seuntjie opgetel het, asof hy lewe, en vir my gebring het. Hoe vertroostend haar hand op my arm was terwyl ons saam gehuil het.

    Moet nou nie staan en lyk soos jy lyk nie, Hendrien, die een wat deur Anne opgelei is, sal beter deug in Grootgeluk se kombuis; dink net hoe jy sal kan spog as ons gaste kry.

    Ek wil vra: Watter gaste, liefste Dries, dominee Van Maanen en dokter Langley op huisbesoek? Maar dit sou nie regverdig wees nie. Dries nooi nooit ons naaste bure nie, ryk Lipschitz-hulle, omdat hy nie veel ooghare vir Jode het nie, maar wel soms die Van Nimwegens en Lategans en enkele ander vooraanstaande boere, selfs nou en dan ’n raadslid of twee, en van tyd tot tyd landdros De Groot. Vriende in die ware sin van die woord is hulle nie, maar wel die regte mense om te beïndruk met ’n goed opgeleide housekeeper, al is sy nou nie wit of Engels, soos die Gulleys s’n nie.

    Dus gaan praat ek op Dries se aandrang met Hessie se moeder, Bettie. Ek belowe haar ek sal mooi na haar kind kyk, en dat sy in haar eie huisie langs ons s’n sal bly, g’n dertig tree weg nie, waar ek ’n oog oor haar kan hou. ’n Hele ent weg van die ander volk af.

    En ek sê dat sy saam na Gulley’s Rest kan kom elke keer wanneer ons hier kom kuier, sodat sy haar mense kan sien.

    Goed, mies Schoeman, ek sal haar vannag by my laat slaap dat ons kan praat, en as sy sê dis reg so, sal ek haar goedjies bymekaar kry. Nooi moet maar verskoon as Thomas, dis Hessie se ouboet, as hy môre ’n kabaal opskop; hy is van kleins af ’n opstandige klong.

    Thomas lei Grady aan sy halter nader en maak hom met ’n riem aan die kar vas. Ons koffer en my hoededoos is reeds in die kattebak.

    Hessie en ’n tengerige mannetjie kom van agter die huis aangeloop. Hy dra ’n bultende kussingsloop; seker met Hessie se besittings daarin. Hulle laat los mekaar se hande en sy loop agteruit van hom af weg, tot by ons. Tot siens, Kasper, hoor ek haar saggies sê. Sy draai om, haar lippe opmekaar geklem.

    Ons groet die Gulleys, Hessie en Bettie en Lily hartstogtelik aan die ween.

    Hoe kan Mame dit toelaat?

    Thomas se stem laat my skrik.

    Is my sussie dan ’n dier wat soos Grady sommerso met ’n riem aan ’n wa gehaak en van haar mense af weggevat kan word? Dis voor die Vader ’n sonde.

    Die ene kapokhaan, tot Edwin Gulley ’n hand op sy skouer sit en sê: That’s enough, Thomas. Say goodbye to your sister, then back to work.

    Die twee klou ’n hele ruk aan mekaar vas. Ek kan sien Thomas fluister in haar oor. Toe Dries naderstaan om hulle uitmekaar te maak, lig Lily haar hand en praat self met hulle.

    Thomas fluister weer iets voor hy wegstap.

    Hessie ry saam met ons op die vierperdewa van Gulley’s Rest af weg, ten spyte van Lily se But one can’t just … gister.

    Ek meen wel dat dit Anne Davenport was wat die knoop vir my en Andries deurgehak het, by Lily én Bettie: If she is willing, ma’am, het sy vir Lily gesê, let her go. I believe she has excellent prospects in a household such as that of Mr and Mrs Schoeman.

    Hessie hou nie op huil voor ons Calitzdorp inry nie.

    Agter ons draf Grady gemaklik saam.

    Is jy tevrede met jou perd? vra Andries.

    Baie, sê ek. Dankie, Dries.

    Maar my gedagtes is op die oomblik meer by die meisiekind wat ons huis toe neem, weg van hare af.

    Kort anderkant die dorp begin die gesnik weer. Dries se geduld is dun geskaaf. Stil nou, blaf hy oor sy skouer. Dit laat Hessie nie bedaar nie. Ek praat mooi met haar. Bý haar rooigehuilde oë sien ek moegheid. Seker nie ’n oog toegemaak vannag nie, dink ek, en laat haar dwars op die agterbankie lê. Ek gooi ’n kombersie oor haar.

    Lank is sy doodstil, tot sy in haar slaap begin praat. Wat sy sê, kan ek nie uitmaak nie. Mag Dries dit maar nie bo die geknars van die kar se wiele hoor nie, asseblief. Nog net ’n paar uur, dan kan ek Hessie in haar nuwe blyplek tuismaak. Ek sit my hand op Dries se been. Dankie vir my perd, sê ek. Én vir Hessie. Gee haar ’n rukkie kans om aan ons gewoond te raak, en om weg van haar ma te wees.

    Hy kyk na my, steek sy hand uit en knyp my wang.

    Kort-kort draai ek my kop agtertoe om seker te maak Hessie slaap nog, en om na die perd te kyk. Grady, mý perd, ’n lieflike grys dier.

    Ons word nog ’n halfuur rus gegun, toe prewel Hessie weer iets en sit skielik regop, haar oë verskrik. Nuwe lewe, sê sy, haar stem byna ’n fluistering.

    Dries trek die perde in.

    Vat die teuels, Hendrien, sê hy en klim af. Hy loop agtertoe, haal die toom wat Edwin saamgegee het uit die kattebak en ruil dit met die halter om. Grady trippel ongemaklik rond, maar Dries praat sag met hom, troetelwoorde, soos vroeër dae met my. Die perd proes nog een keer en staan dan stil. Dries vat sy maanhare vas en wip op sy rug.

    Ek sal Liesbet vra om die buitehuisie skoon te maak, sê hy en ry op ’n galop weg.

    Bloots.

    Blote opsetlikheid.

    My man maak soos hy wil.

    Ek en Hessie ry aan. Al huil sy nie meer nie, kan ek sien haar hart is gebreek. Hoe anders dan, so jonk en so skielik van haar ma af weggeneem. ’n Lieflike klein ding in ’n mooi Sondagrokkie, maar in plaas van ’n hoed, ’n kopdoek.

    Sy is op pad na ’n plek wat sy nie ken nie. Onvoorspelbare omstandighede.

    Vir die eerste keer in haar lewe sal sy alleen in ’n huisie moet slaap, met kwaai honde wat buite blaf en aan haar deur snuif.

    Meer as een keer oorweeg ek dit om om te draai en Hessie aan haar moeder terug te gee. Elke keer bedink ek my en klap die sweep bo die perde se rûe.

    Watse droom het jou so bang wakker gemaak, Hessie?

    Sy haal haar skouers op.

    Kan jy iets daarvan onthou?

    Nee, mies.

    Ek laat dit daar.

    By die huis aangekom, sien ek geen teken van Dries nie. Tienie staan nader en dra my bagasie tot by die voordeur. Hy kyk na Hessie. Sy na hom.

    Haar naam is Hessie, sê ek. Het Liesbet haar plek skoongemaak?

    Die huis is skoon en aan die kant, mies.

    Ek verbeel my daar is ’n fyn verwyt in sy stem, iets soos: Mies weet mos hoe Liesbet lewe. Maar ek sien niks in sy oë wat my vermoede bevestig nie, en ek sê: Nou ja, vat die meisiekind se goedjies en gaan wys vir haar haar nuwe huis.

    Hy tel die sloop op en sê: Liesbet het my gevra om vir die nooi te sê sy sal by die stalle wag.

    Ek gaan die huis in met die koffer en my hoededoos. Ná ek uitgepak het, trek ek gemakliker klere aan. Ek hoor Tienie die perde weglei om hulle te gaan uitspan en versorg, en wag tot hy daarmee klaar is.

    By die stalle vind ek Liesbet.

    Dag, nooi, sê sy.

    Ek kan die uitdrukking op haar gesig nie uitpluis nie.

    Middag, Liesbet.

    Dis of sy verwag het ek sal meer sê as om net te groet, en dit duur ’n stonde voor sy verder praat: Die baas het gesê nooi sal my nie meer benodig nie, ek moet my huis vir iemand anders se bly regkry.

    Hoekom huil jy nie snot en trane nie, Liesbet? Dit sal my laat beter voel; nou staan jy daar soos ’n beskuldiging voor my.

    Ek kyk na haar en sy na my, en voor ék dalk begin huil, sê ek: Dit is so, Liesbet, maar daar sal altyd vir jou plek wees op Grootgeluk. Hol woorde wat in my kop eggo, woorde sonder troos: nóg vir Liesbet, nóg vir my.

    HOOFSTUK 3

    _________________

    1863

    Ek stap met Maria op my heup deur die huis. Sy het ’n slag goed gedrink. Haar koppie sak teen my nek en kom tot rus op my skouer. Ek voel haar nabyheid deur my hele lyf, dankbaar dat ek gereeld daaraan herinner word dat ek uiteindelik moeder geword het. Ek hoop om nooit daaraan gewoond te raak nie.

    Haar eerste tand het gisteroggend begin stoot. Die hele dag en aand was sy knieserig; kwylend aan haar oor gewoel en haar kneukels in haar mond gedruk. Vannag was sy kort-kort wakker. Wanneer ek haar troetel en soog, drink sy ’n rukkie en draai dan van my bors af weg en begin opnuut kla. Omdat sy lastig was, het ek na ’n vrykamer toe gegaan sodat sy Dries nie steur nie, en toe ek vanoggend terugkom, sê hy: Jy bederf die meisiekind, wat, so meen ek, beteken dat hy afgeskeep voel.

    Knorrig is hy ná ontbyt hier uit, asof dit hý is wat tande sny.

    In die halfdonker kombuis trek ek die gordyne oop. Daar waai ’n vars luggie by die oop vensters in. Hier en daar skuif ek iets reg met my vry hand. ’n Beweging buite trek my aandag: Hessie kom met haar Tijs-klong op die arm by haar huisie uit. Hy het net ’n doek aan. Die agterwerf is kale grond. Sy sit hom neer en hy staan op en begin loop, maar gaan sit weer en veeg onder sy voetjies; die dorbank maak hom seer. Sy tel hom op, maar daaroor kla hy ook. Netnou, Tijs Velaat, op die gras, hoor ek haar sê toe sy verder loop.

    Hoekom noem jy hom so, Hessie? het ek haar op ’n dag gevra. Sy het my in die oë gekyk en geantwoord: Oor dit sy naam is, nooi Hendrien. Ek het my voorgeneem om nooit weer daarna te verwys nie, maar self noem ek die kind Tijs – sy moeder blyk nie twis daarmee te hê nie.

    Ek wonder of sy ooit dink aan haar droom, die dag toe ons die eerste keer met haar op pad was Grootgeluk toe? ’n Onrustige gepraat in haar slaap, en toe: Nuwe lewe. Sou dit te doen gehad het met wat vir haar voorlê, of was dit dalk ’n gesig, ’n visioen, oor hierdie lewetjie wat hier op my heup is, uiteindelik en wonderbaarlik?

    Sy loop om die huis se hoek en ek moet na ’n ander vertrek se venster gaan om die twee te sien. Op die groen grasperk laat sak sy hom. Sy wys hom ’n hoenderhen met kuikens en hy waggel ’n entjie agter dié aan, tot die hen na hom omdraai en ’n paar tree klapvlerk op hom afstorm. Hessie verjaag die hen en dié haas haar weg met haar kuikens op ’n streep agterna.

    ’n Kwikstertjie kom kordaat oor die grasperk gestap, voor ’n poumannetjie verby. Die pou vou sy stert oop en laat sy stertvere tril. Hy pronk in die rigting van die klein voëltjie. Dit fassineer die kind, maar Hessie verwilder die pou. Sy draai om

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1