Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die dood van 'n goeie vrou
Die dood van 'n goeie vrou
Die dood van 'n goeie vrou
Ebook510 pages9 hours

Die dood van 'n goeie vrou

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Ella Neser, befaamde speurder uit die Abel-trilogie en ​meer onlangs, Die verdwyning van Billy Katz, is weer op die spoor van ’n raaiselagtige moord. In ’n voorstad van Johannesburg word Clara Heyns, voorbeeldige moeder van twee en weldoener van die gemeenskap, dood gevind met engelvlerke aan. Haar man is die hoofverdagte maar dan forseer die polisiehoof haar om elders oplossings te vind. Hoekom? Te midde van kantoorpolitiek vind Ella boonop uit daar is ’n rooikop wat by haar geliefde Lou uithang. Haar ou vrese borrel na bo: wie kan sy vertrou en wie nie? En hoekom op aarde word Fred Lange skielik as ’n beter speurder as sy beskou? ​Die dood van ’n goeie vrou het ’n storielyn wat die slimste leser sal fnuik. Chris Karsten op sy beste.
LanguageAfrikaans
Release dateOct 10, 2016
ISBN9780798174190
Die dood van 'n goeie vrou
Author

Chris Karsten

Karsten is ’n bekroonde skrywer en voormalige joernalis wat in Kanada woon. ​Koms van die motman​ is die derde in die nuwe Ella Neser-reeks. Die voriges sluit in Die dood van ’n goeie vrou en Die verdwyning van Billy Katz. Albei romans is benoem vir die ATKV-prys vir die beste spanningsroman, en Billy Katz ook vir die ATKV-prys vir die beste roman.

Read more from Chris Karsten

Related to Die dood van 'n goeie vrou

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die dood van 'n goeie vrou

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten

    Chris Karsten

    Human & Rousseau

    Hierdie een is opgedra aan jou, die leser

    Loyalty is the holiest good in the human heart … Loyalty cries: Burn me, slay me, kill me! I shall not betray my trust.

    – Seneca: Letters from a Stoic

    Thou wast not born for death, immortal Bird!

    – John Keats: Ode to a Nightingale

    I

    Die ontdekking van die liggaam

    Who killed Cock Robin?

    I, said the Sparrow,

    With my bow and arrow,

    I killed Cock Robin.

    – Roud #494, c. 1770

    1

    By die swembad skud die seun nat blare uit die skepnet en kantel sy kop na die gekwetter en gekweel van tuinvoëls in die bome en struike om hom. Hy sluit sy oë ’n oomblik en probeer elke voël aan sy lied eien. Die diederikie. Die piet-my-vrou. Geelvink. Rooikoplewerik. Hoëveldklappertjie. Hy staan lank so stil met die steel van die skepnet in sy hande, luisterend.

    Dan lig hy sy gesig en tuur met skreefoë na die stil huis, sy voorkop blink gepêrel, met ’n effense frons. Hy lê die skepstok neer, druk sy pet na agter en vee die sweet met die soom van sy T-hemp af. Gebukkend by die tuinkraan spoel hy koue water oor sy hare, gesig, nek, en sluk diep en gulsig uit ’n bak hand. Hy kom orent, vee oor sy mond en sit die pet terug, sy blik op die stoep.

    Hy begin oor die grasperk aanslenter. Verby die bome en struike waarin die voëls fladder en sing. Verby die visdam waarin vet vislywe onder lelieblare in- en uitdryf, waar ’n spuitfonteintjie ’n sambreel van druppels glinsterend soos kristalle in die fel son laat hang. Verby verlate swembadspeelgoed op lêstoele langs toegevoude sonsambrele.

    Hy bestyg die twee trappies na die skaduwee van die stoepdak. Bly by die patiotafel staan, op die mat van ’n wilde dier se vel. Vee weer oor sy voorkop en bolip, laat rus die hand op die rug van ’n stoel, sy oë swewend oor die bekendheid van die stoep. Die verbleikte bokskedel met krulhorings teen ’n muur, hol oë wat hom vanoggend suspisieus betrag. Hy kyk weg na die ingeboude braaiplek. Af na die twee groot boepenspotte, in elk ’n welige plant, eksoties onbekend.

    Hy betrag die dooie voël langs een van die potte – vere donker en glansend soos liquorice, geel oogvlek, bek en pootjies geel en slap. A. tristis. Nes die herkenning van voëlsang is die naam vir hom so onwillekeurig as die knipper van sy oë.

    Hy los die Indiese spreeu, asof dié nou onbelangrik is noudat hy dit geëien het, aarsel ’n oomblik en slof na ’n skuifdeur. Binne is die gordyne toegetrek, maar die deur is effe oop.

    Hy lig sy oë vlugtig na ’n rooi sensorogie, druk sy plat hand by die skreef in en skuif die deur groter oop, geruisloos op sy spoor. Eintlik een van drie groot skuifdeure. Op somersdae word almal oopgeskuif, die muur van gordyne oopgetrek, word die woonvertrek deel van die stoep, en word hy op ’n Saterdagoggend genooi patiotafel toe vir koeldrank met blokkies ys.

    Hy wag. Geen alarm nie. Hy glip verby die swaar gordyn in, steek dan binne in die looparea van die deur vas. In die skemering ná die skerp son knip-knip hy sy oë. En snuif. In die bedompige lug hang ’n vae mengsel van reukwater en lyfroom. Maar ook iets anders, ’n ondertoon wat vir hom vreemd is. Hy snuif weer, probeer dit plaas. Die reuk van iets stoffeloos byna. Hy kreukel sy neus.

    Ja, dís wat hier binne in die skemering draal, saam met die lyfgeure. Die reuk van vrees en dood.

    Hy leun links en trek die gordyn groter oop, skuins voor hom die rug van die groot rusbank, oorkant die rak teen die muur met die TV en boeke en tydskrifte en vrolike gesinsfoto’s, regs die eetkamer en kombuis.

    Hy staar na die wit gedaante, so half verskuil daar voor die bank, asof die figuur op die bank gesit en TV kyk het en toe in die nag vooroor geval en net daar bly lê het, so half oor die poef waarop die voete gerus het.

    Hier binne is dit tjoepstil, geen voëlgeluide nie. Asof hy self ook ophou asemhaal het. Asof die hele vertrek op iets wag.

    Hy tree traag nader, steek agter die bank weer vas. ’n Sytafeltjie met sy staanlig het omgeval. Die gloeilampie lê steeds op die mat en gloei, dof en geel, klouend aan’t lewe.

    Die gedaante bly sy oë lok, so knielend, bedek met ’n kleed, dalk ’n wit laken. Hy skuifel om die bank en merk nou die kuite en voete wat onder die laken uitsteek. Die enkels is vasgebind. Van die enkels en kuite volg hy die obskure kontoere onder die kleed tot voor waar die arms weer sigbaar uitstrek. Ook die polse is aan mekaar vas.

    Die gesig en hare en lyf kan hy nie sien nie, maar hy weet dis sy; hy kan haar ruik, hy herken haar geur.

    Hy gaan hurk voor haar en steek sku sy vingers uit. Hy aarsel ’n oomblik, raak dan sag aan haar arm. Haar vel is koud en grys uitgebloei, maar die kleed en mat is sonder enige teken van bloed. Dis of sy net daar lê en slaap, in dié vreemde posisie onder die laken, en in die nag al haar bloed verloor het, uitgesuig deur iets of iemand.

    Hy kom orent, vryf weifelend oor sy mond, draai dan om en stap uit. Hy trek nie die gordyn of skuifdeur weer toe nie. By die patiotafel teug hy diep, haal sy selfoon uit sy broeksak. Sy skraal lyf ruk van die skielike geskel van ’n hadida wat oorvlieg. Dis of sy linkerhand sukkel om die sel vas te hou terwyl die ander hand se vingers 10111 inpons.

    Hy meld sy vonds aan en beantwoord die vrae kortaf.

    Terug by die swembad is hy ineens opnuut bewus van die bakkende son en die singende voëls en die geruis van stadsverkeer, van toeters en sirenes en die gekerm van ’n jaende motorfiets.

    Hy lig die steel van die skepnet op en trek die pet se tuit laag oor sy oë af teen die terugkaatsing van die skel ligskerwe op die water.

    2

    Vanmôre klokslag sesuur was sy in die gim, al was die opstaan bra traag. Die Pink Flower se partytjies is legendaries – kry nie einde nie. Maar dis haar af naweek en hulle het Stallie se verjaardag in dié klub gaan vier. Kon nie nee sê nie. Selfs Lou het haar aangepor, gesê vanaand maak hulle op vir wat hulle laas nag gemis het.

    Ná gim het sy kom stort, jogurt en muesli geëet, twee koppies koffie gedrink. En hier’s sy nou, haar ou self. Reg vir vanaand. Maar eers – in jeans en T-hemp, haar spiere tintelend, haar vel gloeiend – die heroïese soektog na die heilige graal: wilde sampioene by die organiese mark in Linden. Of as sy daar onsuksesvol is, by die groot mark in Bryanston. Die derde en laaste opsie is die Fungi Guru in Houghton Estate, sewe dae te perd.

    Lou, connoisseur van swamme, sampioene, paddastoele, enige dêm makrofungus, het haar aangeraai om in Linden by Ramona Feiersinger se stalletjie te begin. Dis waar hy Saterdagoggende sy swamme gaan kry, vars van die Feiersingers se sampioenkwekery en plantasies by eMkhondo. Dreig juis om haar nog op ’n uitstappie soontoe te trakteer, haar te gaan leer hoe om in die gramadoelas na swamme te soek, die eetbares van die giftiges te onderskei, miskien selfs ’n swarttruffel of twee in ’n eikebos te gaan uitgrou.

    Vanoggend is sy op haar eie, want nege-uur, wanneer die organiese mark oopmaak, slaan hy in ’n vierbal by die Kyalami Country Club af.

    Sy idee van ontspanning: soek swamme en speel gholf. Vreemde man. Wel, nie meer heeltemal so vreemd nie, net ongewone eetgewoontes. Maar ai, kan hy met jou goël. Met jou lyf, jou hart, jou alles. Lou Pepler. Sy kan in stil oomblikke steeds nie haar geluk glo nie. Sy, die ongeluksvoël van die liefde, wat in sulke arms inloop. Heel laaste ding wat sy voorsien het ná hulle eerste paar ontmoetings destyds – dié was, ligweg gestel, rampspoedig. En baie ouer as sy. Boonop geskei! Sy was gewoond aan haar portuur, aan Bam, haar rugbyspeler, haar grootste liefde, was destyds al reg om saam met hom huis op te sit – tot sy hom met die blonde hokkiespeler betrap. En dít is wat haar eie diep letsel gelaat het, die een aan haar siel, die een wat steeds sukkel om te heel. Haar lyflike wonde, nalatenskap van haar skermutselings met lieplappers, skorriemorries en diverse barbare, almal ’n onafskeidelike deel van haar beroep – dié het herstel, min of meer. Hierdie ander een nie.

    Halfnege klim sy in haar ou VW Golfie, vol skrape en duike en met SAVE THE RHINO teen die agterruit. Met ’n mandjie, want op haar lys vir markinkopies, hetsy in Linden, Bryanston of Houghton, is ook broodrolletjies, kruie, groente, eiers, rou gemmer, appels, pynappels en beet, baie beet. Want die vreemde, goëlende man drink nie soggens koffie, smiddae tee en saans wyn soos normale mense nie; nee, hy drink beetsap, van hy soggens sy oë oopmaak tot hy hulle saans toemaak.

    Die steaks sal sy laaste gaan haal, daar by die slaghuis in Langstraat waar ou Putzi Heinkel gisteraand al Lou se filette in ’n geheime ou Pommerse marinade ingelê het.

    ’n Kok is sy nie, selfs nie eens koksmaat nie, maar sy het ’n ou Kook en Geniet, en wat Kook en Geniet nie weet nie, weet Mara, of die internet; hulle weet van álles.

    Sy draai die sleutel. Die Golfie hoes, proes, vrek. Dêm.

    ’n Beretta kan sy toe-oë uitmekaarhaal, aanmekaarsit en die bull’s eye tien uit tien keer tref. Vir ander dinge is haar kop te klein. Soos vir beetsap en sampioene op ’n nugter maag, vir Afrika-tyd, vir Number One se gelieg en gegiggel wanneer almal om hom aan’t huil is. Veral vir die werking van ’n binnebrandenjin. Kan haar netsowel vra om E = mc² te verklaar.

    Sy draai weer die sleutel, gee hom gas en hou asem op. Die aansitter hoes-hoes, proes-proes, skop dan in, en die enjin kry stotterend sy loop. Sy blaas haar asem uit.

    Met beproefde swamme kan selfs sý nie verkeerd gaan nie – die romerige wit buttons, die crimini, die groter portobello’s, die porcini en morelle. Maar sy het ’n resep opgespoor vir ’n eksotiese gereg van gesoteerde wilde sampioene, met selfs ’n fênsie Franse naam: Sauté de Champignons Sauvages. Vra vars wilde sampioene van een kilo. Een kilo is ’n groot spul swamme. Die resep noem oesters vir hulle pepersmaak, vrugtige chanterelles, rokerige shiitakes, Kaapse russula, aangevul met boletusse, morelle, porcini, crimini; die grotes in kwarte gesny, die middelslag-outjies net gehalveer.

    Sampioene en steaks, dis mos nou hemel – in Lou Pepler se boekie. En wilde swamme is nie goedkoop nie, kos ’n fortuin uit haar verhongerde spaarvarkie. Intussen is die Golfie op ’n drup, met óf aansitter óf battery kapot. Moet ook nog vir Lou ’n geskenk gaan soek. Oor drie weke is dit Kersfees, kan nie uitstel tot op die laaste oomblik wanneer die Krismiskopers jou vertrap nie. Hy skimp oor ’n gholfhemp – asof hy nie genoeg het nie, elkeen teen die prys van ’n opgeknapte Golfie-enjin.

    Uit Beyers Naudé draai sy regs in Mendelssohn, kortpad na sy huis, om daar iewers te gaan parkeer. Van sy straat is dit ’n kort stap om die hoek na die mark in 4de Laan, en dáár is op ’n Saterdagoggend skaars parkeerplek vir ’n fiets.

    Met die indraai in 9de Straat sien sy al die karre weerskante op die sypaadjies onder die jakarandas ingeryg, almal met dieselfde plan as sy. Sy kruie aan en kry ’n gaping so twintig tree van sy huis af. Dié is sommer ook hersoneer as kantore vir PEPLER & ROOS, INVESTIGATORS & SECURITY CONSULTANTS, aldus Lou en Willem se geelkoperbord teen die hoë wit muur.

    Sy loer in die truspieëltjie of haar lippe nog kleur benodig, dep met ’n Kleenex aan die blink sweterigheid op haar neus en bolip, druk die snesie vlugtig onder die T-hemp en onder elke oksel in. ’n Bra vir haar skugtere boesem is veral op ’n warm af dag gelukkig heeltemal onnodig.

    Sy druk die sonbril met ’n voorvinger terug op haar neus, kam die kuif van haar voorkop weg en reik na haar skouersak en mandjie om uit te klim. En verstyf.

    Oor die bagasiebak van die kar langsaan merk sy beweging by Lou se voorhek – die stewige gedoente van ou jarra-dwarslêers gaan oop en laat ’n vrou uit, lenig in beige broek en wit bloes. Maar dis die hare wat haar oog vang. Glansend en golwend en vlammend, in hierdie skerp oggendson die kleur van rooibostee wat sterk getrek het.

    Wie’s sy? Het sy vir Willem, die Roos-gedeelte van Pepler & Roos, kom besoek? Kan nie wees nie, want Willem is lid van vanoggend se vierbal en hulle maak al skouers los.

    Op die lenige hakke verskyn nou ’n man. Ella loer oor haar sonbril se raam om seker te maak. Ja, hóm herken sy. Nóg ’n lid van die vierbal, en nié nou op Kyalami nie.

    Die weledele heer Lourens J. Pepler vergesel die rooikop na haar kar, ’n hupse tweedeur-BMW. Ella gly op haar stuitjie af en loer oor die stuurwiel. ’n Peeping-dêm-Tom, dís hoe sy voel. Maar wag, sy moenie dat haar gedagtes met haar weghol nie, die vrou is net ’n kliënt, dis al. ’n Kliënt met dringende besigheid. Vir wie Lou bereid is om sy Saterdag-gholf op te offer.

    En o so ’n jintelman, kyk net hoe maak hy nou haar deur vir haar oop.

    Maar wat’s daar in sy hand, ’n sportsak? Hoekom nie ’n aktetas met dokumente vir dringende besigheid nie? Hoekom ’n kleresak, soos vir gim? Of vir oornag?

    Hy sit die sak in die BMW, maar die vrou klim self nog nie in nie, hulle staan nog eers aan’t kekkel en lag. Oukei, daar lyk dit nou of sy aanstaltes begin maak.

    Wat de hel? Aanstaltes met haar arms om sy nek, sy hand laag op haar rug, daar op haar tramp stamp!

    Ella se oë is so stip, haar aandag so gefokus, dat sy amper vergeet om asem te haal. Snak dan en begin hik van verligting: geen gesoen nie, net die momentele vasdruk en die veeg van wange teen mekaar, soos die een of ander soort seksuele voorspel, miskien van die Inuïete. Nou klim die rooikop uiteindelik in en hy druk die deur toe. Maar daar buk hy waaragtig weer by haar oop venster vir nóg ’n laaste woord.

    Ella voel die sweet opnuut teen haar ribbes afbiggel, weerskante, soos die koue pootjies van ’n duisend opstandige miere. Die BMW vertrek en hy draai om, terug by sy hek in.

    Sy grou na ’n nuwe snesie.

    Wat nou? Moet sy sy klok gaan druk, hom vra wie die omhelsende kliënt is?

    Moenie laf wees nie. Vat jou mandjie en gaan mark toe, gaan soek die swamme, een of ander tyd sal daar wel goeie opklaring wees.

    Sy aarsel, diep haar sel uit die sak op, gee sy naam ’n heftige tik met ’n duim. Maar stop dan die oproep nog voor dit begin lui. Sit met die sel op haar skoot, haar kop ’n tuimeldroër. En dis nie soos sy is nie, haar gedagtes is gewoonlik ordelik gestysel en gepars.

    Sy pluk haar skouers terug. Boggher dit! Gryp die mandjie, klim uit. En koes weer weg toe sy motorhek oopgly en die groot wit SUV uitgery kom. So, nóú is meneer skielik op pad gholf toe, afslaantyd uitgestel vir sy belangrike kliënt. Met die rooi hare en laaistoklyf asof sy rondloop met ’n boek op die kop, een getiteld Hoe om ’n man af te vry in 3 maklike stappe.

    Ella slinger die sak oor ’n skouer, haak die mandjie oor haar arm, stamp die Golfie se deur toe. En die dag het só goed begin – waar’s daai dêm lied in die hart nou?

    Haar sel lui. Kan net hy wees, om alles op te klaar. Nee, dis nie Lou nie, dis Silas.

    Môre, kolonel. Mara jou uit die bed geskop?

    Waar’s jy? Ry. Camdenstraat, Aucklandpark.

    Kolonel, ek’s besig met inkopies, dis my áf –

    ’n Liggaam. Ek bel nou vir Crime Scene en Forensics, en vir dokter Koster. Kry jou netnou daar, maak net iets hier klaar, Mara is –

    Kolonel?

    Stilte. Abrup en finaal. Het hy homself afgesny?

    Sy maak weer die deur oop, smyt die mandjie en skouersak terug en klim in. Die enjin vat met die eerste draai van die sleutel. Maar sy laat haar nie só maklik bekonkel nie; dis tyd dat Doep die mechanic sy ghriesvingers diep in hierdie enjin inkry.

    3

    Nog geen agies in die straat nie, sien Ella toe sy by Camden indraai. Wie steur hom in elk geval aan ’n enkele patrolliebakkie voor ’n huis – in ’n land met gemiddeld elke dag 750 inbrake en rooftogte by woonhuise, 150 vroue en kinders wat elke dag verkrag of seksueel gemolesteer word, 50 mense wat elke dag vermoor word?

    Met sulke statistiek, nogal die SAPS s’n, is dit moeilik vir enige speurder om soggens werk toe te gaan sonder om te voel hy pie wind-op. Maar sy pie nie staande nie en is nie enige speurder nie; min dinge kry haar van stryk … wel, tot omtrent ’n halfuur terug in Linden.

    Die nuuskieriges sal begin saamdrom wanneer die geel polisiebaniere gespan word – CRIME SCENE … KEEP OUT … En wanneer die manne in die wit Tyvek-oorpakke begin arriveer. Veral wanneer die chaperons van die dood aankom in hulle onheilspellend toegeboude bakkie met die suigwaaier op die dak en PATOLOGIESE DIENSTE teen die kante.

    Die voorhekkie word bewaak deur konstabel Masilo, aldus die naam op sy bors. Jonk en skraal. Sy wys haar SVC-ID, sê sy is ’n speurder van Serious & Violent Crime, net om die gewig van haar status te bevestig.

    ’n Vriendelike glimlag. Thank you, ma’am.

    In die muur langs die posgleuf lees sy ’n naamplaat soos dié teen Lou se muur: CLARA HEYNS, MED (PSYCH), CLINICAL PSYCHOLOGIST/KLINIESE SIELKUNDIGE.

    Langsaan is die groot dubbele motorhek van soliede swart plaatmetaal, sodat van die huis agter die hoë muur net rooierige dakteëls tussen takke en boomkrone sigbaar is.

    Sy stap by die voetgangerhek in en steek by ’n bromponie vas. Sy het ’n Vespa op universiteit gehad, in haar tweede jaar toe sy vir ’n jong dosent se buitemuurse attensies en vatterige hande – en erger – geval het. Hierdie een is ’n scooter-op-steroïed, ’n 125 cc-Gomoto Nippi, valhelm op die voetspasie.

    Oor haar skouer vra sy: How did you get in, was the gate open?

    The witness opened it, it’s his scooter.

    Witness of what?

    The body, ma’am … the victim’s body. They are waiting at the back, on the stoep. Constable Sello and the witness. The victim is inside.

    Sy buk en voel-voel. Die uitlaatpyp is koud.

    You should move the scooter out of the way, there’s going to be a heavy traffic jam here soon, sê sy en mik na die voordeur.

    Door’s locked, ma’am. You have to go there, round the side. Konstabel Masilo beduie motorhuis toe, geselsradio voor sy mond om haar aankoms vir sy stoepkollega aan te kondig.

    Uit die steeg tussen die motorhuis en grensheining betree sy die groot, boomryke agtertuin met swembad, visdam, netjiese grasperk tussen bome en struike en blombeddings. Op sonstoele tussen twee gevoude staansambrele lê paddavoete en duikbrille en groen en blou plastieksnorkels en ’n kleurryke lugmatras, slap afgeblaas.

    Op die onderdakstoep lê konstabel Sello plomp uitgespan op ’n patiostoel, sy polisieradio op die glasblad van die groen potystertafel. Vir dié SVC-speurdertjie, net ’n adjudantoffisier en boonop ’n vrou, verwerdig hy hom klaarblyklik nie om met ’n opspring respekte te wys nie.

    Sy kyk na die oopgetrekte skuifdeur in die glasmuur tussen stoep en huis, na die bokskedel teen die muur, die twee vet potte, in een ’n jukka, in die ander ’n welige fuchsia in volle blom. Staan dan vir ’n oomblik verras na die dooie voël en staar. Het hy hom misgis, teen die groot ruit vasgevlieg en sy nek gebreek? Dis nie hoe sy sluwe en astrante mynahs ken nie.

    Sy verskuif haar blik terug na konstabel Sello en betrag sy vet klein ore en sy vingers soos vet klein koeksisters op sy boep ineengestrengel.

    Have you been inside?

    Hy reageer nie en sy wonder of hy oopoog aan die slaap geraak het, of dalk stil-stil ter siele is.

    Konstabel!

    Roer steeds nie, behalwe vir lippe wat kripties mompel: We looked inside. To make sure.

    To make sure of what?

    About the body that was reported.

    Did you see a body?

    Uh-huh.

    Did you open the sliding door and curtains?

    Found it like that.

    Did you touch anything?

    Huh-uh.

    You didn’t put the light on?

    We didn’t touch anything! ’n Ergerlikheid kruip by die stemtoon in.

    Sy leun met haar bolyf by die deur in. In die skemering binne is dit of haar oë parte met haar speel, asof hulle sukkel om op iets gefokus te kry. Sy tuur na die wit gedaante tussen die rusbank en TV-rak. Gedaante. Dis al hoe sy dit van hier af kan beskryf. Gedaante in wit, wat lyk of dit vooroor leun. Sy kan nie die liggaamsvorm uitmaak onder die bedekking nie, dalk ’n wit laken of ’n soort kleed, en wil nie ingaan en die toneel kontamineer voor Forensies dit ondersoek het nie.

    Sy draai terug na die patiotafel. Where’s the witness?

    Konstabel Sello lyk te moeg om verder te praat, knik net skaars merkbaar, en sy sien die skraal figuur doer van die hoek van die tuin af aankom; agter hom, half verberg deur twee piesangbome, ’n houthut, vermoedelik bergplek vir swembadtoerusting.

    Sy hou die aankomende figuur dop – slenterend, kop omlaag, rugsak oor ’n skouer, diep betrokke by die selfoon in sy hand. Hy kom die trappies op en kom staan voor haar op die bokvelmat. Sy is nie kort nie, maar moet opkyk na sy oë diep in die skadu’s van die pet se rand. En haar eerste gedagte noudat sy hom so van naby beskou: Iets is fout, hy’s siek. Of is dit van skok?

    Sy vel is onnatuurlik bleek, asof hy aan ’n armoede van bloed of velpigmente ly, maar sonder albinisme se rosige tint en sproete en huidvlekke en sonsere. Sý vel is melkwit en glad en vlekkeloos soos dié van ’n baba; vir só ’n vel sal baie vroue ’n onbetroubare minnaar opoffer. Sy gesig is selfs sonder teken van tienerpuisies. Hy lyk so sewentien, agtien, lyk nie of hy al ernstig skeer nie, en aan die donse van die bolip en bakkebaard klou fyn druppels sweet.

    Hy staan met sy linkerhand in die sak van ’n driekwartbroek, blou tekkies sonder sokkies, sy donker oë amper uitdagend op haar. Sy T-hemp sê: TREKVOËL.

    Ek’s adjudantoffisier Neser, sê sy en steek haar hand uit. Van die eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad. Eintlik sommer moord-en-roof, maar generaal Pitso is tog so gesteld op politieke korrektheid, die ou gatlekker. Wie’s jy?

    Hy sit sy sel en rugsak op die tafel en vat haar hand, sy ander hand steeds in die broeksak.

    Poolboy, sê hy met ’n sagte greep van lang, skraal vingers soos dié van ’n pianis, of sakkeroller. Dis ek wat gebel het. Hy gee ’n kopknik skuifdeur toe. Oor haar. Kan ek waai?

    Netnou. Sit eers.

    Sy trek vir haar ’n stoel uit en haal haar notaboek uit haar sak.

    Hy gaan sit oorkant haar. Konstabel Sello moet die wenk gekry het, want dié stoot sy gemeste lyf met ’n steun uit die stoel op en sleep sy voete oor bokvel en leiklip om nou daar teen die braaiplek te gaan hang soos ’n oorvrete afvlerkkraai.

    Sy los die konstabel en kyk terug na die seun. Wat’s jou naam?

    Adam, sê hy. Adam Jonker.

    "Die haar, praat jy van mevrou Heyns? Hoe weet jy dis sy? Die liggaam is bedek, het jy gaan kyk, haar gesig gesien?"

    Ek weet net.

    Het jy ingegaan?

    Hy knik. Hoe anders sou ek geweet het om 10111 te bel?

    Hoe laat was jy hier?

    Halfnege.

    En jy bel eers halftien?

    Besig by die swembad, het eers later die deur gesien. Op ’n skrefie oop.

    Hoekom was ’n oop deur vir jou snaaks, veral op ’n Saterdag, veral op so ’n heerlike somersoggend?

    Oor dit so stil was. Sy’t nie uitgekom nie. Sy kom gewoonlik uit. Kom sê hallo, bring koeldrank. Hy aarsel, sê dan: En sy’s alleen, sal mos nie die deur oop los as sy alleen is nie.

    Het die aanvaller laas nag by die oop deur ingekom en uitgegaan? Was die alarm ook af? ’n Vrou alleen in ’n huis maak tog seker dat al die deure gesluit en die alarm geaktiveer is. Sy maak dubbel seker. Dis wat sý doen, so alleen daar in haar eie huisie.

    Ella kyk na die swembadspeelgoed. Waar’s haar man en kinders?

    Hy’s Sun City toe, die seuns is op die plaas. Hy haal sy pet af en vee met die T-hemp se mou oor sy gesig. Nou kan sy die groen van sy oë sien. Ek maak die swembad skoon, dis al. Vir sakgeld.

    Asof hy sy teenwoordigheid hier by die moordhuis probeer regverdig.

    Lyk of die Kreepy werk, sê sy.

    Hy werk. Maar om dit mooi skoon te kry moet jy die rande met die hand borsel, en dit suig en backwash, alkaliniteit en pH toets. Anders word dit groen. Hy bekyk haar. Jy’t nie ’n swembad nie, nè? Oukei, dis al wat ek weet. My plig gedoen en gebel.

    Dankie daarvoor, as meer mense hulle plig doen –

    Sello se polisieradio knetter en sy hoor Masilo by die hek se stem: They just arrived. Forensics and CSM.

    Jimmy-hulle en Crime Scene Management. Vir dok Koster verwag sy eers heelwat later. Hy vat sy tyd, gee Forensies en Misdaadtoneelbestuur kans, sê hy soek hulle nie onder sy voete as hy begin nie. En dit klink of Mara kolonel Sauls eers by die huis in die werk gesteek het.

    Kan ek nóú waai? sê Adam. Gaan kyk self.

    Net nog ’n paar vrae. Sy wys na die potte. Het jy daardie dooie voël gesien, was dit daar toe jy hier gekom het?

    Indiese spreeu. Het dit gesien toe ek na die deur kom kyk.

    Hoe weet jy meneer Heyns is by Sun City?

    Dis wat sy gesê het, toe sy bel om te hoor of ek vandag kom vir die swembad.

    Wanneer het sy gebel? Die presiese datum en tyd, dis baie belangrik.

    Gistermiddag net ná vyf.

    Sy skryf in haar notaboek en toe sy opkyk, betrap sy sy oë op haar. Hy kyk vinnig af, terug na die sel op sy skoot, maar sy kan sweer daardie groen oë was op haar T-hemp, op haar bralose T-hemp.

    Hoe’t jy by die erf ingekom, Adam?

    Hy antwoord sonder om op te kyk. Ek het ’n sleutel vir die klein hekkie. Ek het die klokkie gelui. En ingekom toe sy nie antwoord nie. Dis hoekom dit snaaks was. Die skuifdeur is oop, maar sy hoor nie die klokkie nie?

    Sy kon hier in die tuin gewees het. Julle ken mekaar goed, as sy vir jou ’n sleutel gee?

    Ek ken haar lank, ja. Sy’t my behandel.

    Behandel vir wat?

    Ek’s onsosiaal, ek meng nie.

    Hou hy haar vir die gek? Maar sy gesig verklap niks, dis sonder emosie. Jimmy sal sy vingerafdrukke ook moet neem, ingeval hy binne aan iets gevat het. En hulle sal afdrukke van sy tekkies se sole wil maak.

    Waar bly jy? Ek’t jou adres en foonnommers nodig.

    Maxwellstraat, paar blokke hiervandaan. Naby die UJ-kampus.

    Hoe oud is jy?

    Negentien.

    O, jy’s klaar met skool?

    By Wits se School of Arts.

    Ek soek ook jou pa se naam en nommers, sel én werk. En ons het jou tekkies nodig vir ’n paar dae. Om jou sole van ander merke te onderskei.

    Hy kyk na haar en begin dan sy tekkies losmaak.

    Ek sal weer met jou wil gesels, sê sy. Ek sal bel vir ’n afspraak. Hier’s solank my kaartjie, laat weet as iets jou byval.

    Hy sit sy tekkies langs mekaar op die tafel, staan op en lig sy rugsak van die tafel af oor ’n benerige skouer. Weer daardie skramse glimp na haar bors. Of verbeel sy haar?

    Kan jy kaalvoet ry? Moet konstabel Sello jou gou huis toe vat vir ander skoene?

    Dis oukei, ek sal self ry. Hy lees haar naam hardop van die kaartjie af: Ella. En kyk na haar. Kan ek jou Ella noem?

    4

    Die gordyne is nou heeltemal weggetrek, die glasmuur van skuifdeure heeltemal oop, die grense tussen binne en buite het verdwyn. In die sakkerige Tyvek-pak, mus en lateks-handskoene wag sy by die braaiplek op Jimmy se teken. Die son bak nou byna loodreg van bo en selfs hier in die skaduwee van die stoep is die oorpak warm en bedompig.

    Haar oë sweef oor die wit figure van die forensiese ondersoekers, byna roerloos in hulle swyende, diepe konsentrasie, ’n byna dioramiese tablo: dié een staande by die muurrak, daardie een gebukkend oor die bank, nog een wat hurk, ’n ander een wat kniel.

    Sy herken opeens die stem van die bejaarde forensiese patoloog en draai om na dok Koster wat groetend oor die grasperk aankom. Dok wat sê hy het omtrent veertig jaar terug al finaal besef dat simpatie met ’n dooie ’n ondankbare sentiment is, sonder enige betekenis. Wat sê sy werk is nie om vir slagoffers jammer te voel nie, maar om hulle op sy outopsietafel te oorreed om die geheime van hulle dood aan hom te verklap. Wat sê sý plig is om antwoorde te soek op die hoe, nie die wie en hoekom nie, want daai vrae en hulle ontwykende antwoorde is die speurder se baba – háre.

    ’n Stofsuier begin binne brom toe Dok die stoeptrappies steunend met ’n hand op ’n knie bestyg. Sy verlig hom van die verslete ou leertas met sy instrumente van die dood; sy toortas, noem hy dit, vol duiwelsdrek en dassiepis.

    A, warrant Neser, opgedollie vir ons Saterdagpaartie. Maar ek wou eintlik vandag ’n paar balle gaan rol het. Wuif met sy hand. Jy kon dit gerus eerder vir ’n weeksdag gereël het.

    En ék was op pad groentemark toe, sê sy en vat ook sy driepootklapstoel van seil. So byna asof hy reg is vir ’n lang kuier om ’n bosveldvuur; hy sê sy ou knieë kan dit nie meer hou, so hurkend en knielend om die dooies nie.

    Hy haal sy bril af, poets die lense met ’n wit sakdoek en vee dan daarmee oor sy voorkop en bles en oor die ongehoorsame skaapwolletjies om sy ore. Hy begin sy oorpak aantrek, al geselsend.

    Sonder goedertierenheid, dié helse son, nè? Selfs my miere gooi vanoggend lang skaduwees. Hy kyk rond. Jou vreeslose leier nog nie hier nie?

    Op pad, Dok.

    Kom, roep Jimmy, ons is reg, dis julle beurt. En ons is besig met haar kantoor, gedog dis waar jy sal wil begin.

    Dankie, Jimmy, sê sy en tel Dok se tas en stoel op en volg hom by die woonvertrek in op die spesiale trapblokke wat die integriteit van die mat moet beskerm terwyl dit gestofsuig word vir spoorelemente en ander latente bewysmateriaal.

    Binne steek sy vas en sit die tas en stoeltjie neer. Dis deel van haar persoonlike werkwyse, haar maniertjies, spot kollegas; sy sê sy beskou die vista. Sy hou daarvan om eers ’n oorhoofse indruk te kry van die toneel van ’n misdaad, vóór sy op die detail begin inzoem. Met die gordyne oop en in die lig van Forensies se skerp halogeenlampe is hierdie vista nou helder – ten minste helder verlig, die gewelddadige gebeure wat hulle hier afgespeel het steeds duister.

    Die bedekte gedaante wek ’n beeld in haar kop van ’n vroom gelowige wat knielend met uitgestrekte arms op ’n bidmatjie salaam.

    Met die skuifdeure oop is die stoep saam met die woonkamer en eetkamer en kombuis ’n groot oopplanarea. In die woongedeelte is die sentrale fokuspunt ’n groot rusbank met los kussings, gerig op die huisaltaar: die TV-skerm in die muurrak. Dis hier, kan sy haar voorstel, waar ’n eens gelukkige gesin saans saam gekuier het.

    Weerskante van die bank vorm twee passende leunstoele ’n U. Die figuur lê in die middel van die U, met haar maag miskien op ’n lae koffietafel, arms uitgestrek na die TV-rak, voete na die rusbank, wit laken oor haar gedrapeer.

    Op die rak is naas die TV verskeie ander elektroniese toestelle, ornamente, boeke, tydskrifte, ’n uitstalling van gesinsfoto’s, blou en pienk krismisrose aan’t verlep in ’n vaas.

    Een van die sytafels langs die rusbank is met staanlig en al omgestamp, die lampie se draadjie gloei steeds. Langs die tafeltjie en staanlamp lê ook ’n soliede dekoratiewe glasbak in skakerings van vloeiende, vlammende rooi. Sy hurk by die bak en beskou ’n plastiekboksie en duimdrukkers, eintlik lang duimspykers, wat uitgestrooi lê. Dit kon uit die glasbak geval het toe die tafeltjie omgestamp is. Seshoekige koppe van geel plastiek met

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1