Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Gerugte van 'n ontvoering
Gerugte van 'n ontvoering
Gerugte van 'n ontvoering
Ebook453 pages9 hours

Gerugte van 'n ontvoering

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Wanneer Harry asemskep tussen sy omswerwinge deur Afrika, kom kuier hy by sy geliefde ma in Johannesburg. Gusta is veral na aan sy hart ná sy pa haar vir ’n jonger pop gelos het. Gelukkig weet Harry sy is veilig daar bo in haar luukse penthouse in Ponte Towers.

Teen die tyd dat Harry in Oos-Afrika opgespoor word, is sy ma al dae lank dood. Harry kry die reuk van ’n groot gekonkel. Nie eens daai parmantige Ella Neser gaan hom keer nie. 

Nog ’n hoogtepunt in Chris Karsten se Ella Neser-oeuvre. 
LanguageAfrikaans
Release dateSep 6, 2021
ISBN9780798182409
Gerugte van 'n ontvoering
Author

Chris Karsten

Karsten is ’n bekroonde skrywer en voormalige joernalis wat in Kanada woon. ​Koms van die motman​ is die derde in die nuwe Ella Neser-reeks. Die voriges sluit in Die dood van ’n goeie vrou en Die verdwyning van Billy Katz. Albei romans is benoem vir die ATKV-prys vir die beste spanningsroman, en Billy Katz ook vir die ATKV-prys vir die beste roman.

Read more from Chris Karsten

Related to Gerugte van 'n ontvoering

Related ebooks

Related articles

Reviews for Gerugte van 'n ontvoering

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Gerugte van 'n ontvoering - Chris Karsten

    9780624089810_FC

    Human & Rousseau

    Vir Eric

    De wereld gaat en gaat, als lang na dezen

    mijn roem verging, mijn kennis hooggeprezen.

    Wij werden vóór ons komen niet gemist,

    na ons vertrek zal het niet anders wezen.

    – Jan Hendrik Leopold, uit Oostersch I

    Believe me, it is not necessary to a man’s respectability that he

    should commit a murder. Many a man has passed through life

    most respectably, without attempting any species of homicide –

    good, bad, or indifferent.

    – Thomas De Quincey: On Murder Considered as One of the Fine Arts

    Vallende vrou

    Die gebeure op Donderdagaand 7 Oktober 2021 in Ponte, Berea, Johannesburg

    In die brutale toringstruktuur op die oerrif dreig ’n treurspel.

    ’n Bejaarde vrou hang halflyf by ’n donker venster uit, twee en vyftig verdiepings hoog in Ponte se hol kern.

    Glimmeringe uit honderde vensters alom gee in die skag vorm aan ’n sinistere spel van lig-en-donker.

    In hierdie skaduryk kom die dogters van die nag nou lyfloos aan, en bly sweef, net ’n reikwydte ver van die vrou in die venster.

    Maar hulle is meer as blote waarnemers en ooggetuies van dié aand se tragiese gebeure. Hulle is die Parcae, die beskikkers oor fata die vrou se lot is in hulle hande.

    Kyk! roep een, Nona, die spinster van die draad van lewe.

    Al twee die ou vrou se arms hang nou saam met haar bolyf en kop by die venster uit. Al wat haar nog terughou, en veilig, is ’n prekêre balanseertoertjie op die vensterbank.

    Blote baba was sý toe Nona haar lewensdraad met tol en spil begin spin en die verloop van haar fatum beskik, onvermydelik en onafwendbaar.

    Nou is die einde hier, Nona se werk is klaar.

    Decima is die meter van die draad van lewe.

    Met haar meetroede in die hand wag nog ’n takie op haar voor sy ook kan wegstaan.

    Sy wonder oor die vrou wat so oor die vensterbank lê en afkyk. Kan sy die stank ruik en die taai damp aan haar vel voel van die opstygende lug uit hierdie bedompige put, so git daaronder waar die spel van lig-en-donker nie bykom nie, so bodemloos?

    Moet sy haar por om eerder op te kyk?

    Want deur die oculus sal sy die ligskynsels van die hemelse sterre sien, en verder as die Melkweg, véél verder, verby verre galaksies, sal sy begin terugkyk na die heelbegin.

    Sy sal eons van ontploffende sterre sien, kry dalk selfs ’n momentele blik, vir ’n mikrosekonde of minder, op ’n uitbarsting van ongekende geweld, met die vurige geboorte van die heelal.

    Decima meet met haar roede: net sewe sekondes. Dis al wat van dié vrou se lang lewe oor is.

    Morta is die knipper van die draad van lewe.

    Sy knip met haar skêr. Die ou vrou glip by die venster uit. Die magtige krag van die aarde gryp haar, pluk haar af.

    Sy val. Eers stadig, asof sy soos ’n ou jas op die put se lug sweef en dryf en dobber, algaande al laer.

    Maar Morta weet: die trae val is net ’n illusie.

    Want sy val al teen meer as honderd kilometer per uur, en binne net ’n sekonde of twee gaan sy die grens van geen terugkeer bereik. Daar waar die aantrekkingskrag so sterk is dat ontsnapping onmoontlik is, en herbesinning te laat.

    Meteens is hulle onder by die rotse. Hulle wil niks mis nie, mág niks mis van dié voltrekking van ’n fatum nie.

    Hulle kyk op. Teen die ligter skynsel van die hemelse oog is die silhoeët van die vallende liggaam ’n fladderende stuk swart lap.

    Hulle beweeg instinktief opsy, om vir haar plek te maak hier onder op die ruwe rotse.

    Die sagte windruising van haar val. Die arms en bene, torso, kop, wapperende hare.

    Kwalik ’n geluid. Net iets soos ’n diep sug uit ’n klam bors.

    En in ’n oogknip verdwyn die vrou se gees deur die ewige einder. Breek sy deur die allerlaaste horison van haar lewe, na ’n onbekende leegte in ’n kosmos waarin geen natuurwette bestaan nie, waarin selfs mitologiese dogters van die nag geen materie en geen glimp van lig meer opmerk nie. Waar daar niks is nie, net die digte singulariteit van die einde van tyd en ruimte, en lewe. ’n Allesoorheersende niebestaan.

    En wat op die nagtelike rotse oorbly, is ’n leë dop, ’n liggaam, skaars mens, in al sy oerelemente gesplit, geklief, gekerf, verskeur, verbrysel en verpulp.

    Arme vrou, dink hulle, en vlieg bo by die oog van die skag uit, weg.

    En los dit vir die lewendes wie se lotsbestel nog op koers is, om môre te begin wonder oor hoekom ’n gesponne lewensdraad juis nóú afgemeet en afgeknip moet word, en op só ’n manier.

    Lank vooraf

    Gaudicine en Petrus

    Die gebeure van 1444 tot 1476 in Brugge, België

    Petrus … my hart, my siel,

    my kloppende hart,

    my lewende siel …

    Maar wag, laat ek voor begin, eer ek te liries raak.

    Vir Petrus Christus ontmoet ek op ’n somersdag in 1444. Ek en Pa gaan wag hom op ’n snikhete Sondagmiddag by die Katelijnepoort in, te midde van ’n heerskaar van kom en gaan. Pa se skildervriend. Maar toe nog onbehang van die latere roem wat hom nooit aangestaan het nie. So onbesonge was hy dat sy naam eers twee weke tevore, met die boodskap van sy nabysynde Brugse reis, tot my en Ma se ore gekom het.

    Oplaas beduie Pa: "Doer sien jy, Gaudicine? Ek dink dis hy, die een met al die esels op die donkie se rug."

    Dit is ’n prentjie wat ek saam graf toe vat: die maer, vaal man met die lang, vaal neus, sloffend, oog omlaag, so effe voor die pakdonkie met die hangkop. O, wat ’n melancholiese spektakel.

    Met hulle naderloop kyk hy ’n slag op. Hy moet Pa ook herken het, want ’n glimlag plooi opeens sy gesig. Hy pluk sy hoed af, slaan die stof teen sy been uit, wuif daarmee.

    Ja, sê Pa. Dis net hy, dis Petrus. So ’n Brabantse neus, hoe vergeet jy dít?

    Ek is afgehaal. Is dit hoe ’n skilder lyk, ’n meester?

    Nou gesien, al die baie jare later: Wat verwag ’n twaalfjarige versieleser en rympiemaker presies van ’n skilder se veronderstelde voorkoms? Moet hy staatlik wees, soos hertog Filips die Goeie? Hovaardig, soos burgomaster Moreel? Deftig, soos bankier Portinari? Dalk heilig in wit gewaad, soos kloostervoog Jan Vos van Genadedal?

    Petrus loseer omtrent ’n week in een van ons herbergkamers voor hy sy eie blyplek kry. Dis genietlik om hom hier te hê. Saans, wanneer hulle vanslewe se onthougoed ophaal om jare van skeiding in te vul, kry ek kans om hom van digterby te beloer. Die sagte hande met die lang, puntige vingers. Die lewendige, weetgierige oë, beskroomde mond. Pa, heelwat ouer, is die groot geselser, Petrus meestendeels luisteraar. Maar wanneer hy praat, is sy stem sag en vol passie oor die beelde wat hy skilder, oor dié wat hy nog wil skilder.

    Maar om hom te leer ken ek bedoel, om hom goed te leer ken. O, wat ’n stryd was dit nie! Meermaal saans het ek tussen my vier mure saam met die digterlike Beatrijs gelamenteer:

    Petrus, o Petrus,

    sal dit ooit, ooit by jou opkom,

    die vriendskap van my oë,

    die reikhalsing van my lippe?

    Ses jaar, dink ek. Dis hoe lank – voor ek ’n sweem van iets, die glimming van ’n binnenste liggie, in sy oë bemerk het wanneer hulle vlietend in my koers loer.

    Petrus se vingers pas by sy neus, by sy beroep. Skilder was al wat hy ooit wou doen, vertel hy later in oomblikke van ontdooiing. Van kindsbeen, daar in Baarle in Brabant waar hy en Pa saam kinders was, het hy al geweet om prentjies te teken, dis sy heilige roeping. Asof skilder ’n werk met ’n sekere gewydheid is. Dalk is dit, bekyk jy agterna sy nalatenskap, later toe sy naam in dieselfde asem genoem is as dié van die groot Jan van Eyck. Ecce Homo. Salvator Mundi. Die Laaste Oordeel. Die Geseling. Kruisiging. Lamentasie. Opstanding. Annunsiasie. Maagd van Smarte. Die Heilige Maria en die Engel. Madonna van die Droë Boom. Madonna saam met die Heilige Hieronimus. Die Dood van die Maagd

    Die drie broers van Limburg, vertel Petrus, het óók eens so ’n roeping aangevoel. Herman, Paul en Johan. Maar hulle had ’n voorsprong: ’n kunstenaar-oom, Jan Maelwael, het hulle in Parys laat oplei, as miniaturiste om gebedeboeke te illumineer. Hulle deurbraak was so ’n persoonlike getyde-boek vir die hertog van Berry. Hulle werk vyf jaar aan die meesterlike Belles Heures de Jean de France, Duc de Berry. Daarna werk hulle aan nóg ’n meesterstuk: Très Riches Heures du Duc de Berry, en hy gee hulle opdragte vir verdere verlugte manuskripte. Hulle pad na roem was oop.

    Maar soms, sê Petrus ietwat mistroostig, wanneer die son op jou skyn en jy dit die minste verwag, kom slaan die teëspoed jou met dubbele slae. Dit was in die tyd van die plaag, en in 1416 eis die pes nie net die hertog van Berry se lewe nie, ook al drie broers s’n, die oudste skaars dertig.

    My liewe Petrus had nóg ’n skilder-oom, nóg ’n adellike wegbereider. En hy sluit die storie af, half inkennig, sy oë loerend na my: "Maar ek hoop om bietjie langer te leef as die Limburg-broers want vir jou, Gaudicine, wil ek eers skilder, en beter leer ken."

    Sy woorde laat gloei my wange, laat krul my tone. En terugkykend was dit ’n profetiese versugting, mag ek nou betaamlik bely, want die skildery het toe tog wel die pad gebaan tot dieper, persoonlike kennis tot intiemer persoonlike kennis, tussen my en hierdie maer skilder.

    Die nuwe lente bring ’n nuwe lied,

    in my hart en in ons huis,

    ’n nuwe lied net vir ons …

    Hy sê sy pa het darem sy talent raakgesien, al was daar nie geld vir Franse opleiding nie. Pleks van Parys vat hy hom Gent toe. Op veertien, na die Van Eycks se werkswinkel, die broers Huybrecht, Lambert, Jan, en suster, Margaretha. Maar Huybrecht sterf kort ná Petrus se aankoms en meester Jan word in Den Haag aangestel as valet de chambre van hertog Jan die Onbarmhartige.

    Maar weet jý dalk, liewe Gaudicine, van ’n vorstelike hof sonder intrige?

    En so was alles ook nie wel in die hertog se Binnenhofpaleis in Den Haag nie.

    Hy word ontsiel Deur ’n wrokkige lyfkneg wat die bladsye van die hertog se gebedeboek vergiftig, kan jy glo?

    Tog, sê Petrus, vir ’n meesterskilder is daar áltyd werk; hertog Filips die Goeie van Boergondië stel Jan van Eyck hier in Brugge aan as hofskilder in sy Prinsenhof.

    Maar nou loop ons die storie weer vooruit.

    Petrus was leergierig daar by die Van Eycks in Gent. Maar ná ses, sewe jaar begin hy iewerig raak. Die beginsels van die skilderkuns het ek toe al goed bemeester. Ek wou núwe tegnieke aanleer, núwe uitdagings aanpak. En dit het ek nie in Gent gekry nie. By meester Jan sou ek baie kon leer, selfs by Huybrecht, helaas nie by Lambert en Margaretha nie.

    Toe kom praatjies hom ten ore van ’n ander Vlaamse meester, in Doornik, en hy besluit om sy vakleerlingskap by Robert Campin te gaan voortsit. ’n Goeie besluit. Hier leer hy meer van Broederlam en die Limburg-broers se miniatuurtegnieke, iets wat hom nog altyd geboei het en waarmee hy al dikwels geëksperimenteer het, in die lig van sy eie voorliefde vir fyn detail in sy skilderye.

    Maar praat van intriges. En dié slag nie ’n hertogelike een nie.

    ’n Kommosie, in die vorm van Doornik se stoetse magistraat, tref die Campin-werkswinkel, kom ontwrig die saai lewens van die saai skilders. Magistraat Varsenare kom arresteer nie minder nie as meester Campin sélf. En nie oor dit of dat nie – oor immorele gedrag!

    Meester Campin neig glo al lank na groener weide, met dié dat sy vrou gus is en oud, en hy vind dikwels toevlug tot Leurence Pol se vaardige skoot. Tot mijnheer Pol die skilder in so ’n intieme kongres met mevrouw Pol betrap. Nie die eerste nie, maar die laaste keer! Want Petrus sê Campin het sy vergeeflike sonde gebieg, sy boete gedoen, sy absolusie ontvang, en voortgegaan met sy werkswinkel.

    Hier ontmoet Petrus twee ander skilders vir wie hy agting ontwikkel, Rogier van der Weyden en Jacques Daret, wat toe pas albei deur Doornik se Gilde van Sint Lukas as meesterskilders aangestel is. Hoekom Sint Lukas? Lukas die Evangelis, sê Petrus, word algemeen aanvaar as die ikonskilder wat die Maagd se eerste, oorspronklike beeltenis vasgelê het. Bygevolg sy benoeming as beskermheilige van die gilde van skilders, manuskrip-illumineerders en ander beeldemakers.

    Dit is Van der Weyden wat Petrus laat besluit het om ook lewende modelle vir hom te laat sit. Dis goed en wel om gewyde skilderye uit jou gelowige verbeelding te maak, maar vir ’n lewensgetroue portret moet jy tog ’n lewende sitter hê.

    Van intriges kom mens nie weg nie. My Petrus was nie voorheen getroud nie. En toe hy my later vertel dat hy in Doornik ’n verbygaande minnedrif ervaar het vir ene Clara Matyne, was ek, op die minste, nogal verbaas. Verstaan my reg: met sy lang neus, lang vingers, lang arms en ander lang aanhangsels was Petrus ’n aantreklike man vir vroue. Dit kan ek persoonlik getuig. Maar dis sy konfessie waarvoor ek ongereed was: dat hy, so sedig, so minlik met Clara Matyne se private dele omgegaan het dat dit op ’n baba uitgeloop het. Bastyaen.

    En op hierdie punt – ter sprake Petrus Christus en Robert Campin se roerige roedes – is ’n vermaning dalk gepas, persoonlik gepen deur Anthonis de Roovere, Brugge se eminente kroniekskrywer (soos aangeteken in my eie verlugte verseboek):

    Aan die clerus hier in Vlaandere

    is helemaal geen tekort nie.

    Wees dus bedag op wat uit jou mond kom.

    Hulle begeer geen bevallige meisies en modelle.

    Hulle huishouers is weduwees en vermaerde wywe,

    arme ou vroue met barre teeldele.

    Hulle doen geen liggaamlike oefening nie,

    hulle maak geen kinders nie.

    Hulle leef net in kuisheid.

    Meester Jan van Eyck sterf in 1441 in Brugge. En toe meester Campin in April 1444 in Doornik ter siele gaan, was Petrus reeds as meesterskilder lid van Doornik se Sint Lukas-gilde, en het opnuut gejeuk vir nuwe uitdagings. Toe hoor hy van die goeie vooruitsigte in Brugge, veral om Jan se werkswinkel te gaan oorneem.

    Ook is ons stad met sy skeepskanale Noordsee toe die spil van wêreldhandel – welvarend, kosmopolities, woelig. Daar word verhandel en verkwansel en verswendel met enige produk wat jou beval: met lemoene uit Kastilië, wyn uit Griekeland, speserye uit die Levant, wol uit Engeland en Spanje, tekstiel uit Holland en Henegoue. En die ryk kopers kom uit Valencia, Toskane, Venesië, Lissabon, Breslau, Maagdenburg, Stolp Die Hanse kom koop Franse wyn, Mediterreense sy en brokaat, verkoop weer pels, was, heuning, hout, Rynse wyn, gesoute en droë harder. Brugse handelaars voer Poitou-wyn in, sout uit die Baai van Bourgneuf, kledingstof en koring uit Normandië, Baltiese eik uit Pole. Portugese skepe bring olyfolie, gedroogde vye en rosyne, kurk, leer, katoen. Skepe verlaat Brugge na internasionale bestemmings, gelaai met Vlaamse kledingstowwe, linne, tapisserieë, beeldhouwerke, skilderye, meubels, kant en sy, boeke, kopergoed.

    En Petrus wil deel wees hiervan, want ryk handelaars en hulle gemale is ydel, die Brugse skilders kan nie voorbly met al die opdragwerk nie. Hy stuur ’n boodskap vir Pa, pak sy esels en kwaste en sketse en ’n paar skilderpanele op ’n donkie se rug en vat die pad Brugge toe – ’n reis van amper drie dae se stap, eerste oornag in Kortrijk, tweede in Zwevezele, arriveer laat Sondagmiddag 5 Julie 1444 by die Katelijnepoort.

    Die Maandag, by die Poortersloge in Zilverstraat, gaan betaal hy die fooi van drie Vlaamse pond en met ’n inskrywing in die Brugse Poorterboek word hy formeel ’n burger van Brugge:

    Poorters geword sedert die tweede dag van September anno mcccc xliij [1443] […] Pieter Xpistus, filius Pieters, gebore te Baarle, koop op die sesde dag van Julie [1444] sy burgerskap met die hulp van Joos vander Donc ten einde ’n skilder te wees […]

    Sy volgende bestemming is die Gilde van Sint Lukas in Zouterstraat waar hy hom as meesterskilder in Brugge registreer sodat hy Van Eyck se werkswinkel in Wollestraat kan oorneem. Sy eerste take is om meester Jan se onvoltooide panele af te rond; geen vakleerling sien kans om aan die meester se werk te raak nie. Maar vir my liewe Petrus was dit presies die soort uitdagings waarna hy gehunker het. Die eerste onklaar werk wat hy aanpak en afrond, is later genoem: Maagd en Kind saam met die Heilige Barbara en die Heilige Elizabeth en Jan Vos.

    Petrus sê in Van Eyck se Brugse werkswinkel het meester Jan tempera as skildermedium heeltemal gelos en net met olieverf gewerk. As bindmiddel vir sy kleurpigmente gebruik hy olie van lynsaad en okkerneut, en soms, wanneer dit beskikbaar was, van papawer en wilde saffraan. Hy ontwikkel ook ’n geheime olieverftegniek wat sekere detail in sy olieskilderye soos juwele laat glinster. Aspekte van die skildery vang lig so vas dat dit lyk of die kleure van binne af gloei. Petrus kom weldra agter hoe Jan daarin geslaag het om sy skilderye so ’n pragtige glans en diepte te gee, ook hoe om elke stukkie detail met lewensgetroue tekstuur weer te gee.

    Die geheim was dat Jan die olieverf in delikate, amper deurskynende lagies aangewend het. Dan wag hy weke, soms maande, tot elke laag absoluut droog is voor hy ’n volgende lagie aanverf. Vir die uiteindelike finale glans het hy boonop ’n paar druppels Venesiese terpentyn ingemeng.

    Petrus begin ook weer sy eie tonele skilder. Oor sy eerste werk in Brugge is hy baie opgewonde, en noem dit Heilige Johannes die Doper in ’n landskap. Hy sê op die klein houtpaneel het hy doelbewus sy tegnieke as miniaturis en as paneelskilder gekombineer. Hy probeer ook die eerste keer ’n sekere afstandperspektief skep: op die voorgrond die forse figuur van die Heilige Johannes in sy rooi gewaad waarin ’n lam toegevou is; agter hom op die middelgrond ’n ontmoeting tussen ’n man en vrou in ’n beboste area; op die agtergrond ’n kronkelende pad, ’n rivier, en ’n bedrywige stad agter ’n stadspoort – alles in dieselfde fynste detail soos wat hy in ’n verlugte manuskrip sou doen.

    In sy eerste gewyde portret, Kop van Christus (Ecce Homo), boots hy meester Jan se Portret van Christus na. Petrus s’n, dubbel geraam, het ’n nimbus om die Christuskop en hy sê dit was ’n besondere uitdaging om die sirkel van kop en nimbus met die vierkant van die rame te laat harmonieer. Ook om die uitdrukking op die gesig tot die kyker te laat spreek. Hy het probeer – en ek dink hy het dit meesterlik reggekry – om deur die kroon van dorings en diep frons ’n gevoel te ontlok van tegelyk smart en vernedering.

    Maar Petrus soek lewende modelle. En nie sommer iemand van die straat af nie. Hy raak aan’t gesels met ’n kartuisiese lekebroer by ’n groentestal op die Markplein. Broer Adam Mullinc, met sy terughoudende tog innemende aard, geval Petrus. Boonop is hy van die Genadedal-klooster net buite die stadsmuur en dus beskikbaar vir soveel sittings as wat Petrus benodig.

    Maande later kom wys hy die voltooide skildery vir Pa. Ek, nou sestien, staan ook rond, soos altyd wanneer Petrus in die omte is. Hy laat rus die paneel op ’n tafeltjie teen ’n muur en tree terug, beskou die kartuiser, vryf teen sy lang neus, en sê: Ek dink dis verreweg my beste werk. Hy loer na my: Wat dink jy, Gaudicine?

    Ek voel hoe my ore gloei. Wat weet ek van skilderye af? "Ek dink ook dis mooi " En ek bedoel die skildery, nie die kartuiser nie.

    Die portret van die kartuiser word hoog aangeslaan en vestig Petrus se naam en meesterlike reputasie in Brugge. Kenners – nie ek nie – sê in die portret kry die beskeie lekebroer ’n sterk teenwoordigheid. Dit is te danke aan die perfekte balans van die komposisie en aan Petrus se noukeurige, byna peuterige, aandag aan die kleinste detail van selfs die fynste hare van Adam se ylerige baardjie.

    Hy verf sy naam op die raam, in ’n illusie dat dit uitgekerf is:

    PETRVS XPI ME FECIT 1446 [Petrus Christus het my gemaak in 1446]

    In daardie selfde jaar sit Petrus weer een aand by ons en ek skink vir hom en Pa van die Beaune-wyn waarvoor hy so lief is, ’n pinot vermilion wat al die hertoë van Boergondië glo ook drink. Hy vertel van Edward Grymeston, koning Hendrik VI van Engeland se ambassadeur aan die hertog se Brugse hof. Hy sê Grymeston het hom gevra om hom in ’n portret te verewig. Pa sê wanneer internasionale gesante jou vra om hulle te skilder, dan het jy jou merk gemaak. Ek vang Petrus se skalkse oog op my.

    In 1449 kry hy ’n opdrag van die Gilde vir Goud- en Silwersmede vir ’n groot paneel. Hy kom vertel opgewonde hiervan, en sê hy het besluit op ’n modieuse jong paartjie wat ’n trouring by ’n goudsmid gaan uitsoek. En hy het ’n besieling gekry om die goudsmid voor te stel as die Heilige Eligius self, beskermheer van die gilde.

    As basis vir sy volgende werk, Lamentasie, gebruik hy die enigste Bybelvers waarin beide Josef van Arimatea en Nikodemus genoem word in die beweningstoneel op Golgota, waarin Jesus van die kruis afgehaal en sy liggaam in doeke toegedraai word vir sy graf. Petrus skilder Nikodemus aan Jesus se voete en Josef aan sy bolyf terwyl hulle hom op die lykdoek neerlê. Agter hulle is nog drie figure: Maria Magdalena wat van links uitreik na die Maagd Maria wat deur die Heilige Johannes ondersteun word terwyl sy van diepe smart ineensak.

    Hierna skilder hy ’n klein gewyde toneel wat hy noem Christus as Man van Smarte, waarin hy Jesus se sywond prominent uitbeeld, met agter hom twee engele, een met die lelies van genade, die ander een met die swaard van oordeel.

    Met sy groot Annunsiasie-paneel besluit Petrus op nóg ’n vernuwende perspektief, asof uit die oë van ’n voël op die gebeure neergekyk word.

    Saam met Petrus se groeiende reputasie groei ek uit my kindlyf uit, en begin ek wonder wanneer hy dit gaan begin opmerk, dat ek voller is, dat ek ’n vrou word. Maar ek ken my plek en hy is baie besig – dit sien ek mos self wanneer ek meermaal by sy Atelier Petrus Xpistus in Hallestraat verbydrentel. Want hy kry al hoe meer opdragte vir sekulêre portrette van ryk handelaars en hulle sedige, gedoste vroue, veral uit Brugge se groot Italiaanse gemeenskap. En dit lei daartoe dat sy naam ook in Italiaanse kunskringe suid van die Alpe begin bekend raak, spesifiek in Genua, Lucca, Milaan, Venesië.

    Teen 1450, ses jaar ná sy aankoms, is Petrus Brugge se uitstaande meesterskilder en ’n vername burger, en bely hy een aand in die herberg aan Pa dat hy skaars tyd het vir ’n persoonlike lewe. Ek is agt en dertig en al wat ek doen, is werk, werk, werk.

    Maar jy wys darem die vrugte daarvan, my vriend, sê Pa. "’n Huis met ’n fasade van bakstene uit Ramskapelle, ’n mansarddak "

    En niemand wat dit met my deel nie, kla Petrus. Wat help aansien en geld, maar ek is alleen?

    Wat my saam met Hadewijch van Brabant wil laat uitroep:

    Petrus, my liewe man, kom;

    Laat ons minnen, spelen, zoenen …

    Hy teug net aan sy pinot vermilion, ’n frons tussen sy afgewende oë. Kyk ineens op na my: Maar ek’s nie hier om te kom kla nie. Wat sê jy, Gaudicine, sal jy vir my kom sit vir ’n portret? Ek is so sat vir al die vername manne en hulle vername wywe. Ek soek ’n nuwe gesig, vars en mooi. Sal jy?

    Sal ek sal ek? Natuurlik sal ek! En kan jy my hart sien bons, Petrus? Wil jy kom voel, wil jy jou warm palm hier aan my boesem kom lê om die klopping van ekstase te voel dat jy my oplaas begin raaksien?

    Dat is goed, sê ek plegtig.

    Ma glimlag, Pa lyk in sy skik. ’n Meester wil hulle dogter skilder; sy gaan om met gesante, handelaars, heiliges.

    Petrus sê vir Ma: Vir Gaudicine wil ek in spoggerige, kleurvolle drag skilder. Ryk en geil met kwistige voue. As kontras vir haar pragtige porseleinvel.

    En daar gaat die snare van my hart opnuut aan’t trille.

    Die hout vir die paneel soek hy met groot sorg uit. ’n Baltiese tienvoeteik uit die vallei van die Vistularivier naby Gdansk, in die noorde van Pole. Dit lê toe reeds agt jaar by die paneelmakers om uit te droog, die bas en splinthout lankal verwyder. Die keurmeester van die gilde kom bekyk en bevoel dit, gee sy konsent, en die paneelmakers saag planke uit, skaaf dit, maak die tapvoeë, lym die planke aan mekaar vas. Met ’n dubbele raam, volgens Petrus se spesifieke, presiese voorskrifte. Nie groot nie, so veertien duim wyd by tien duim hoog, min of meer die grootte van al sy portrette.

    Hierna neem sy leerjongens oor om die paneel sorgsaam voor te berei met ’n mengsel van kryt en die gom wat hulle kry van afgeskraapte diervelle by die leerlooiers op Huidenvettersplein, daar tussen die Vismark en die Rozenhoekkaai. Die amperwit kryt-en-gom-mengsel word laag op laag oor die houtpaneel aangeverf. Wanneer ’n laag droog is, word dit afgewerk en afgeskuur voor die volgende laag aangebring word. Totdat ’n perfekte, gladde skilderoppervlak verkry is.

    Met ons aankoms vir die afspraak by Atelier Xpistus, in die skadu van die Kloktoring, merk ek die totale verbasing op Petrus se gesig, asof die man sukkel om sy eie oë te glo. Hy het hom nog altyd teen ’n opgeskote meisiekind vasgekyk, hier staan ’n ryp jong vrou.

    "Ek is skoon sprakeloos " kry hy dit ten laaste uit.

    Ek sien dit, Petrus, sê ek binnentoe. En dit verheug my!

    Is dit regtig jy? vra hy. Is jý Gaudicine vander Donc? Of sien ek ’n mirasie?

    So ongewoon van hom, sulke teatrale adulasie. Maar dankie, ek neem dit ter harte.

    Dis ek, ja. Geval dit jou wat jy sien?

    "Asemrowend Die vrou is beeldskoon, die uitrusting perfek, beter as wat ek kon droom."

    Ek en Ma het op ’n houppelande besluit. ’n Vol, goue fluweeltabberd met ’n hoë kraag en wye moue. In die spieël lyk ek amper aristokraties. Onder het ek ook ’n wit kantchemise aan wat voor by die lae V-nek uitsteek. Ma het my donker hare glad agtertoe weggekam en dit onder die kappie met haarnet vasgesteek; dis nie fatsoenlik vir ’n vrou om met oop hare in Brugge se strate rond te loop nie, veral nie as jy by ’n befaamde meester vir ’n portret gaan sit nie.

    Petrus sê hy is bly Ma het saamgekom, omdat ek meer op my gemak sal wees met haar in die oog. Ek en sy beskou ook die seuntjie en dogter wat by die ateljee gereed staan, elkeen met fluit in die hand, en Ma sê: Ek ken hulle, dis mos Antheunis Pavillon se twee kinders, is dit nie?

    Ja, dis hulle, sê Petrus. Ek het hulle vir die dag gehuur. Hulle moet Gaudicine help ontspan.

    Ek ís ontspanne, sê ek. Ons is mos lankal nie meer vreemdelinge vir mekaar nie.

    Ek weet, maar die oomblik wanneer iemand op daardie stoel gaan sit om te poseer, is dit asof die sitter skielik op ’n knop trek, styf en formeel. Asof skilderwerk ’n aktiwiteit is wat met groot plegtigheid bejeën moet word. Ek wil die sweem van ’n glimlag aan jou lippe sien.

    Hy wys my waar om te sit, gee die boek in my hand. Dis my persoonlike getydeboek en ek het dit self geïllustreer. Jy gaan daarin lees en dan na my opkyk, sê hy, en begin my posisioneer tot hy uiteindelik tevrede is met die komposisie.

    Eers dan, met stif in die hand vir die eerste lyne van die onderskets, beduie hy vir die twee kinders. Hulle lig hulle fluite op en begin met: Gefft den armen gefangen umb Got …

    Toe ons eendag lank daarna weer oor daardie dag gesels, bieg Petrus dat hy ook die hertog se akrobatiese hofdwerg gaan probeer huur het, maar dié was siek van jig. Ek wou jou absoluut kalm en gemaklik hê. En stemmig, sonder om óf te jolig, óf te preuts te lyk.

    Preuts, Petrus? het ek gevra.

    Skoonheid, het Petrus bloot geantwoord, "is wanneer alle dele ten volle met mekaar harmonieer. En op daardie sitting was jy ’n sprekende bewys daarvan jy was in harmonie met jouself en met die wêreld om jou. Ten minste het dit so gelyk. Was jy?"

    Ek was. Want ek dink dis op daardie oomblik dat ek geweet het my vroeëre aanvoeling was reg. Toe jy jou silwerstif optel, was dit bevestiging dat ek saam met jou onder hierdie mansarddak van ons gaan oud word.

    Het jy aangevoel dis hoe ek ook voel?

    Ja. Hoe anders sou jy my so lewensgetrou kon skilder, so gevoelvol? As jy nie vir my lief was nie. En ek vir jou.

    Antheunis Pavillon se twee fluitspelende spruite volg op met: Die may so lieflic wol ghebloyt …

    Vir my portret, sê hy, het hy ’n onderlaag van loodwit oor die kryt-onderlaag aangeverf. Omdat loodwit die warmste is van alle onverdunde wit verwe, met ’n subtiele rooigeel ondertoon.

    Wanneer die dun, deurskynende bolae van sy sagte kwashale kurkdroog is, is dit of die lig deurdring tot op hierdie onderlaag, en reflekteer dit daardie amper vleeskleurigheid van die loodwit terug, in ’n illusie van diepte, volume, skerpte, glans. Die kyker se oog sien ’n tussenspel van lig wat afbons van die kleure van die bolaag, en dié wat terugbons uit die diepte van die skildery. En dit verander die kontoere van gelaatstrekke, skep subtiliteite elke keer wanneer die kyker uit ’n ander hoek na die portret kyk. Dit is asof die skildery lewe kry, asof my portretgesig ’n veelheid van emosies toon, afhangend van uit watter hoek jy na my kyk.

    Vir my kleurryke fluweeltabberd het hy mildelik kleurpigmente in sy olie gemeng. Maar vir my porseleinagtige vel, sê hy, was net ’n paar dun, deurskynende bolae nodig, met byna geen pigmente nie, sodat die natuurlike tinte en ondertoon van die loodwit gereflekteer kan word.

    Jou mond was die grootste uitdaging, sê hy agterna. "Dit het baie tyd en konsentrasie geverg. Vir daardie misterieuse sweem van ’n glimlag. Rooimenie in die lynsaadolie vir jou lippe, donkerder vir skadu’s, omberkontoere vir jou wange. Maar ek dink ek het dit reggekry jou glimlag wou ek nooit blatant hê nie, dit moet altyd net ’n illusie bly, uit watter hoek mense ook al na jou gaan kyk."

    En op die voltooide skildery wys hy my wat hy bedoel. Moenie direk vir jou mond kyk nie. Fokus elders, kyk na die oë, na die kappie, na die boek in jou hand. Sien jy nou, uit die hoek van jou oog, die effense glimlag? Sien jy hoe al jou innerlike emosies in daardie glimlag lê? Asof dit van agter ’n delikate sluier skielik sigbaar word.

    O sanctissime presul Christi Donatiane, is die laaste fluitlied.

    Het jy al ’n titel vir my portret? vra ek toe.

    O ja, sê Petrus. "Jong vrou met boek."

    Hy was nog besig met die afronding van my portret toe hy op ’n lang reis Italië toe is om ’n nuwe perspektieftegniek te gaan bemeester waarmee hy al lank eksperimenteer. Maar baie belangriker vir mý was sy terugkeer. Want op sy knieë vra hy my om my hand. En hy vra vir Pa, vra vir Ma, doen alles op sy beskeie, fatsoenlike en korrekte manier. Niks teatraals dié slag nie.

    In ’n lang somernag

    langs ’n ou watergrag,

    word ons liefde volbrag …

    Weer Beatrijs, as ek dit nie mis het nie bietjie aangepas.

    Die troue self is ’n taamlik sosiale affêre, want Petrus beweeg nou in vername kringe. Hertog Filips die Goeie is uitstedig, maar stuur ’n spesiale boodskap uit Brussel. Burgomaster Moreel is teenwoordig en baie van die stad se ouderlinge en handelaars en bankiers en gildedekens.

    ’n Jaar later, in April 1454, kry Petrus opdrag van die graaf van Étampes om drie olieverfkopieë te gaan maak van die mirakuleuse Onse Liewe Vrou van Genade, Lukas die Evangelis se temperaskildery waarvoor Maria en Kind glo self diedertyd geposeer het. Die skildery is tien jaar tevore uit Rome gebring vir die Kapel van die Heilige Drie-eenheid in Komerijk se Onse Liewe Vrou-katedraal.

    Petrus kry ook belangrike opdragwerke van Brugge se magistraat en burgomaster en van die stad se ouderlinge. En ek en my liewe man word lede van die vername Gilde van Onse Liewe Vrou van die Droë Boom, wat Christelike liefdadigheidswerk onder behoeftiges doen. Die vrou van die droë boom verwys na die onvrugbaarheid van die Heilige Anna, die Maagd se moeder. Al die Boergondiese hertoë was en is erelede van hierdie gilde, ook ander aristokrate, howelinge en diverse Brugse en buitelandse elite.

    Praat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1