Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Afstande
Afstande
Afstande
Ebook736 pages11 hours

Afstande

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Afstande is ’n aksiebelaaide reisavontuur vol ontdekkings, uiterste ervarings en hand-tot-hand-gevegte, dit is ’n verhaal van verraad en broedermoord, bevolk deur waarsêers en hekse, fanatiese profete en hul kranksinnige profesieë, voetsoldate wat leef van varkbloed en asyn, mense wat elke dag begin met die slag van ’n offerdier.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780624051107
Afstande
Author

Dan Sleigh

Dan Sleigh is in 1938 op die plaas Geelbeksfontein aan die Weskus gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg en sluit by die Vloot aan. Hy behaal in 1987 sy doktorsgraad in geskiedenis aan die US. In 2001 wen hy die Sanlam/Insig/Tafelberg-romanwedstryd vir Eilande, wat ook etlike ander pryse ontvang. 1795 is volgens hom sy laaste roman.

Read more from Dan Sleigh

Related to Afstande

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Afstande

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

3 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Afstande - Dan Sleigh

    Afstande

    Dan Sleigh

    Vir Jean sleigh

    Skopos

    Nagri se verhaal lê in die stilte tussen die Ou en Nuwe Testamente, anderkant geheue, anderkant kennis. As bakens vir sy verhaal noem ek hier enkele fatale gebeure, maar daar was vele soortgelyk, of erger, ook in lande waar nie geskryf is nie, of op plekke waar niemand oorleef het nie.

    Koning Nebukadnesar van Assur verwoes Jerusalem in 586 v.C. en sleep die Jode as slawe na Babilon, wat hy tevore van die Chaldeërs verower het. Twee Ou-Testamentiese profete later word die stad van sy seun, Belshahar, afgeneem deur sjah Kuros se Perse, soos ’n engel vir hom, die voorkennis teen ’n muur geskryf het. Twintig jaar later regeer sjah Kuros oor vier-vyfdes van die bekende wêreld. Sy ryk (imperium, rijk, empire, Reich) strek oor Mesopotamië, Arabië, Assurië, Lidië en Egipte, van die Indus tot die Nyl. Egipte is hernoem tot satrapi Mudraja; elke naamsverandering moet opnuut sout in die wonde vryf. Ongeveer daar eindig die Ou Testament, met die Jode in ballingskap, ongeveer dáár pas die wraakgebed van Psalm 137 in, wat Nagri as Die Wasvrou se Lied geken het. Die Griekse woord psalmos beteken ’n pluk aan ’n harpsnaar óf ’n boogsnaar, uit heimwee of vir vryheid. Presies so het Nagri dit gesing.

    Nou kyk Persië noordwes, oor sy woestyne en oor daardie smal see heen na die land van die Hellene. Sy nuwe naam sal satrapi Eleni wees. Sjah Darius se aanval op die Hellene in 490 v.C. word by Marathon afgeweer, maar tien jaar later probeer sy seun Xerxes (Sjah-’ar-Sjah, sy titel is sy naam) dit weer, met ’n invalsmag van een en ’n half miljoen. Nege Weë sal vir altyd onthou word, en Termopulai, waar die rooiblom die geilste groei, in bloed en spier en brein en murg en been gewortel. Xerxes brand Athene af, maar word op see by Salamis en Mikale verslaan; dít was die muur van hout wat die orakel beloof het: Skepe, nie skilde nie.

    Die goue tydperk van Athene onder Perikles, eerste burger, dramaturg en soldaat, begin omtrent 460 v.C. met ’n besef van identiteit en ’n opbloei van die kunste en wetenskap. Omdat omstandighede ideaal daarvoor is, eksperimenteer hy ook met die demokrasie. Dan dink hy aan veiligheid sodat dié kosbare kind, die kiem van vrye denke en die saad van die latere Westerse beskawing, nie in die wieg vermoor word nie. Hy fortifiseer Athene en verbind stad en see deur middel van die Lang Mure. In die suidweste voel Sparta se bitter politici hoe die mag uit hulle hande gly.

    Die oorlog tussen die Spartaanse Bond en die Bond van Delos, gelei deur Athene, begin in 431 v.C. Onder die halfmiljoen plattelandse vlugtelinge wat tussen die Lang Mure skuil, breek pes (waarskynlik pokke) uit. Perikles sterf daaraan, en daardie selfde jaar word Xenophon in Athene gebore. Ná ’n dekade van oorlog sonder uitkoms onderneem Sparta, in ruil vir goud om ’n vloot te bou, om al Persië se aansprake op die Egeïese eilande en Asië (vandag Turkye) te erken. Nog één dekade van oorlog, en Sparta verower die landbougebied noord van Athene. Voedselproduksie verval. Van 404 v.C. beleër hulle Athene. Honger noodsaak totale oorgawe. ’n Skrikbewind van drie jaar volg.

    Siklusse begin, sommige eindig, ander gaan voort, alles amper onmerkbaar in tyd se groter wentelinge. Met tienduisend Helleense huursoldate lei prins Kuros in 401 v.C. ’n staatsgreep teen sy broer sjah ArtaXerxes van Persië. Die gewese Lughawe Saddam Hussein buite Bagdad is ongeveer waar die slag van Kunaxa geveg is. Xenophon van Athene, soldaat teen wil en dank, beskryf hulle opmars daarheen en aftog daarná. Nagri die Jood probeer die hele ekspedisie in ’n tydsiklus pas. Saam teken hulle die toekomskaart vir Aleksandros, die sogenaamde Grote.

    Athene verban Xenophon demokraties omdat hy teen Sparta se bondgenoot geveg het, en veroordeel Sokrates, wat teen die demokrasie gewaarsku het, demokraties tot die dood. Die wêreld kreun om verlossing.

    Die Tyd van die Ram was op hande. In 338 v.C. verenig Philipos II van Makedon (soos dit hóm pas: met staal, bloed en vuur) al die Helleense stadstate in een ryk. Twee jaar later volg sy twintigjarige seun hom op as Aleksandros III, wie se naam Helper van Mense beteken. Sy roeping is die uitwissing van die Persiese Ryk. In 333 v.C. kruisig hy tweeduisend verdedigers van Tirus rondom hulle stad, die jaar daarna word hy in die Tempel van die Ram in Egipte tot god verhef, die volgende jaar verslaan hy sjah Darius III en brand Babilon af. Só eindig die Persiese Ryk. Nagri se sending is voltooi, maar ook nie: Die profeet moet leef tot hy die Verlosser gesien het, moontlik dus vir ewig. Sy evangelie eindig met die woorde: Moenie wens om vir ewig te lewe nie, dié wens kom uit vrees. Leef vreesloos. Xenophon het sy gode oorleef, kan dit nie met julle ook gebeur nie?

    DAN SLEIGH

    Pinelands

    Die boodskapper

    Nagri huur ’n kamer in ’n herberg vir vreemdelinge in Bisantion. Die vrou van die plek, warm en swetend, vee met ’n grys, klam vadoek oor haar gesig, slaan dit oor haar skouer en stoot die bodeur vir hom oop om in te kyk. Die salpeterreuk van perdestal hang daar, vaag, skaars ’n herinnering, maar hy ruik oumens, bloed, gebrande teer, en asyn wat mildelik op die vloer gesprinkel is. Kort gelede is hier ’n amputasie uitgevoer, was hier ’n lyk. Watter siekte, vra hy? Nee, geen siekte nie, sê sy. ’n Ou soldaat met wit hare; ’n pylpunt in sy heupbeen het sy lewe lank bly sweer, ’n klont swart gif die grootte van haar vuis. ’n Kooi vir hom? Nee. Nooit weer ’n kooi nie.

    Die lae mure is rof gepleister en effens gewit, die ongelyke klipvloer waarskynlik nie sonder luise nie. Naby die deur is ’n gemesselde krip, en in die muur houtpenne vir tuie. Daaraan hang hy sy sak en bruin rok. Onder die krom daklatte, silwer van spinnerak, by die luggat in die sonkantse muur, sit ’n gebreekte swaelnes van geel klei, jy sien die wit misspatsels op die vloer. Sy sal iemand stuur om hier te vee. Hoeveel, per dag? En per maand?

    Nagri betaal vooruit, word skoon strooi op die vloer beloof, en begrawe dié aand sy weldoener se geskenk elmboogdiep onder sy slaapplek. Hier in die xenon is almal reisigers, uitlanders, enkelinge of twee en drie bymekaar, almal bondeldraers onderweg, een kyk nie om na ’n ander nie, jy is nie deel van hierdie of daardie lewe nie, almal lyk vreemd, maar niemand vra vrae nie en niemand soek geselskap nie. ’n Behoefte aan geld is al wat hulle gemeen het, daarom steek hy syne weg.

    By die lig van ’n kort kers krap hy van sy strooi opsy, grawe die rou klei om ’n plaveisteen uit met die punt van sy krom Koerdoesji-dolk, lig die plat klip uit sy plek en hol ’n ronde gat daaronder uit, so diep as hy met die dolk kan reik. Daarin plaas hy ’n velsakkie met goue Persiese munte, ’n maand gelede by Pergamos gebuit. Hy mag dit nie in die stad wys nie, niemand moet hom met daardie ekspedisie en met daardie soldate verbind nie. Hy bedek alles soos voorheen, dig en sorgvuldig. Van môre af moet hy werk vir sy daaglikse brood.

    Bedags hou hy die deur oop. Sy kamer kyk uit op ’n stowwerige binnehof met ’n droë put, ’n leë trog en twaalf kamers daarom, waaruit hy tale van die Kaspiese See, die Moorse kus en Swart Arabië hoor. Hy was hom met koue water wat ruik na wier. Dit hys hy met ’n leeremmer aan ’n riem uit ’n put in die skemer vertrek met die oop herd, waar die lang tafel en die banke, die kleivloer en mure ruik na rook en wyn en varkvet. Hy eet nie wat hulle daar onder wolke van stoom en houtrook opdis nie, maar koop spaarsaam op die mark: brood, wit kaas, olywe, en eet alleen. Die krummels gee hy aan mossies op die grond.

    Omdat sy kamer nie ’n venster het nie, gaan hy ligdag en sononder in die binneplaas waar ’n rooi haan en drie swart henne skrop, draai sy gesig suid, in Jerusalem se rigting, en bid stil met sy hand op sy jeukende agterkop.

    Voormiddae skryf en lees hy briewe vir ’n inkomste. Hy huur by die markmeester ’n slagtersblok en twee dennestompe, een vir hom, een vir sy kliënt, wat hy onder ’n digte groen boom met trosse pers blomme soos druiwetrosse neersit. Langs hom vreet vier esels aan ’n gerf hooi, op die voorste een se flank staan Te Koop met pik geverf.

    Op sy blok is ’n kissie met velle papirus, ink en grys poeier wat hy van droë seeskulpe gemaal het. ’n Bejaarde moeder leun bedroef vorentoe, haar tandelose gesig geploeg deur weemoed. Sy noem haar naam en die van haar oorlede man. Nagri moet asseblief skryf aan ’n varkboer anderkant die grens, die vriend van haar man se oorlede niggie se man, of enigeen daar wat van die meneer weet, om te verneem na haar seun. Hy is weer weg, nou ’n tyd al. Verneem net, en sê . . .

    Nagri vra uit tot hy omtrent al die moontlike weet, skryf haar brief en lees dit voor. Toe sy knik, onderteken hy dit: Deur Xenos op die mark in Bisantion, en klad dit met poeier. Hy vra haar ’n obolos, en sy betaal hom met elf groot ganseiers.

    Agter haar wag ’n ou man sonder ore, in die heupe geknak en met die dik, wit riwwe van kettingswere om sy nek en enkels. Sy yl hare is geel van see en son, sy seningrige arms en dun wange is die persbruin van gerookte vis. Hy haal ’n strook sweetgevlekte papirus met ligbruin sproete soos antieke bloedspatsels uit sy mus en rol dit met stram vingers voor Nagri oop.

    Die skrif is Egipties. Satrap Esedras se seël links onder lyk maklik om te vervals, maar die straf vir so ’n oortreding maak dit onwaarskynlik, amper onmoontlik. Die man druk op die papier met ’n krom, knopperige bruin wysvinger met teer onder die nael: Wat is dit, wat sê dit hier, Meneer?

    Dit is ’n ontslagbrief uit die galeie. En hulle wil hom nie glo nie, by die heilige Aphrodite. Hy probeer hier ’n lewe maak met ’n huurskuit, maar kaptein Etenikos van die stadswag, hy stuur elke oggend iemand: Hy moet geld gee anders vat hulle hom weer suid. Met sy polse teen mekaar beduie hy boeie en kettings.

    Nagri kyk rond. Twee soldate in die swart-en-geel van die stadswag loop hande agter die rug van kraam tot kraam, weg van hom af, hulle luister na pryse en kyk na die ware en die mense agter die tafels, hulle patrolleer hier vir orde en eerlikheid, maar loer vir ’n groet, ’n geskenk, of ’n knik met betekenis. Hulle beurt het pas begin, later sal hulle op die hoek gaan staan en die vrouens straataf dophou.

    Sal jy in gewone taal skryf wat dit hier sê, Meneer? Ja. Wees versigtig, Meneer, verwag moeilikheid hieroor.

    Nagri doop sy pen en skryf: Saolos van Skios, gevonnis tot vyf en veertig jaar op die koning se galeie oor verkragting, ontsnapping en diefstal, is na voltooiing van vonnis vrygestel. Met die seël van satrap Toth-Ammun-Esedras, in die vierde jaar van koning ArtaXerxes. Deur Xenos vertaal op die mark in Bisantion. Hy strooi poeier oor die ink en blaas dit van die papirus af, die stowwerige lug tussen hulle flikker ’n oomblik van perlemoen.

    Nagri wil goed doen aan die armes en verdruktes, en wil nie die soldate se aandag trek deur sy vreemde aksent nie. Hy fluister: Wys dit aan goewerneur Aristarkos se klerk.

    Die roeier luister met sy kop laag en ’n maer hand agter die harige gat van sy oor, sy tandelose mond hang oop. Hy fluister terug: Nie aan die stadswag nie?

    Pasop. Miskien is hy as spioen gestuur. Antwoord hom nie.

    Ek was nie vanmôre see toe nie, Meneer. Hulle het my spane toegesluit daar in die vesting. Kan ek môre kom betaal met ’n bossie vis?

    Ja, vis is goed.

    Nagri hoor die Joodse taal daar, in kramers se gesprekke agter die tafels, maar met ’n ander uitspraak as dié van die Joodse slawe in Babilon. Oor sy outydse uitspraak en die geheim van sy sending praat hy met hulle Grieks, en stel hom as Xenos, vreemdeling, voor. Hy vra of hulle Jerusalem toe gaan. Nee, volgende jaar, volgende jaar.

    Op die hitte van die dag vou hy sy bruin velkombers dubbeld op die dik strooi by die kamerdeur, stut sy rug teen die muur en werk met ’n plank op sy skoot aan die verhaal van hulle aftog. Hy sny die skag van die grys pluim wat hy by Trapezum aan die Swart Kus uit die hemel ontvang het tot ’n punt, doop dit in dik bruin ink en skryf die vertikale en horisontale wiggies van die Persiese taal: Sonder Xenophon was daar geen leër nie, sonder die leër geen Xenophon nie. Hy oordink elke sin tydsaam en besluit oor inhoud en woordorde voordat hy dit neerskryf. Hier in die roerlose warm lug droog die ink gou, in die berge was dit soms dae lank in die horing gevries.

    Saans skryf hy by die tafel in die groot kamer met die oop herd waarvan die boonste vetterige swart stene nog effens hitte het, tussen ’n rokende olielamp en ’n krom kers wat na bokvet ruik. Vir dié voorreg betaal hy uit sy inkomste. Hy stoot die herberg se swart kat vloer toe en rol die generaal se teks, met potlood dof op ongebleikte katoen geskryf, langs hom oop. Hy som dié teks op, hy laat dele weg, hy herskryf dit na eie behoefte, na die wens van die Vaders en vir die Verlosser se doel alleen.

    Nie alles wat met hulle op daardie verskriklike reis gebeur het, staan in die generaal se relaas nie. Hy sê byvoorbeeld nie hoe verkenners die jong prinses Eleuda-Marta se stoet in die woestyn teëgekom het, haar lyk met ’n onthoofde jaar oud kind in elke arm, in heuning gebalsem op ’n wa waaruit donker stroop drup, en omgewe deur wolke vlieë, elke malende naaf ’n deeg van sand en brommers, hul geluid soos dié van honger soldate wat die kospotte ruik. Daar was goud, perde en haar lyfwag se wapens om te buit toe hulle self nog nie eens boë gehad het nie, haar arms en hande was swaar van sierade, maar niemand wou gaan nie. Dit was vreemd. Maar dit maak nie meer saak nie, die aftog is verby. Xenophon se taak is klaar. Syne begin.

    Hy ken die generaal se kodes. 3.36. NNV. 2 beteken hulle het drie dae marsjeer, 36 myl gevorder en twee dae by Nineve oorgelê. Dié spookagtige stad, waar die profeet Jona ernstig met God verskil het, onthou hy as ’n groot verlate begraafplaas langs ’n droë rivierbedding, met woestynsand manhoog teen uitgewaaide mure. Hy was daar op die aftog, nie met die opmars nie – die stede van hulle opmars ken hy nie.

    Sy styl is soos smeewerk: woorde tot frases, frases tot sinne met spraakritmes; as jy dit stadig lees, moet jy ’n tempelpriester se inkantasie kan hoor: Ek is Nagri die Jood. Ek is die swaard, die pyl wat vlieg. Ek is die engel gestuur om julle kinders se skedels teen mure te verbrysel. Ek is die doodskadu. Waarheen vlug julle? Daar is geen skuiling nie.

    Hy luister. Sy sinne ontbreek aan nederigheid. Hy moet daarteen waak. Dit is die swart vrug van jare lange haat. Dit is gepas dat profete oortuig en vurig oor hulle taak voel, maar altyd met ’n onderdanige hart. Vir homself, totaal niks, sy beloning is om vir die Verlosser ’n fakkel te dra en in sy skadu te loop. En die Verlosser gaan ’n Griek wees, een vir eenvoud, matigheid, kalmte en orde. Maar die teenwoordigheid van haat in sy gemoed erken hy, net soos die aanwesigheid daar van die bose.

    Nagri maak met sy regterhand ’n afdak oor sy oë, hy wys met die pluim verby sy kers se flikkerende blou pit na die sluipende skaduwees wat lyk of hulle saamsweer in die verste hoek van die kamer. Hy fluister om die klanke van sy eie taal te hoor: Wagte, watter strydkar is dit? Wie kom daar aan? Dit sal kaptein Jehu wees, my heer. Hy jaag altyd soos ’n besetene. Boek van die Konings, tweede deel, negende hoofstuk, vers agttien tot twintig. Dit is die taal. Maak ’n Joodse geskiedenis, ’n nuwe boek. Vir ’n koning in ’n koets en ’n dame in haar reiswa sal sy manuskrip ’n stamperige rit wees op ’n ongebaande pad, langs afgronde, langs die rokende puin van verbrande stede waar die verlate strate met ontlasting en bloed geplavei is en die nagwind ruik na dood en perdesweet. Hulle sal verneem hoe soldate perde bergop sleep, van soldate en hoere in die hete bed, van matrose geketting aan spane en banke, van gekruisigde kinders.

    Hy begin weer: Ek is Nagri die boodskapper, getuie van wonderwerke. Hy haal die Farao se Boekrol van die Dooies uit sy geheue en vervang by elke geleentheid Amon-Ra se naam met sy eie: Ek was die eerste bries wat oor die donker oseaan van ewigheid waai, ek was die eerste lig, die eerste sonop, ek was in die begin van dinge. Enige Jood sal dit herken, die profeet Moses het dit as openingstrofes van sy Genesis gebruik.

    So bly Nagri van die môre tot die aand besig. Langs die paragrawe waarin gevegte beskryf word, het die generaal ’n swart ster geteken om name te merk van dooies én van oorlewendes wat hul op die aftog onderskei het. Nagri doop sy pen in swart ink en maak elke puntige ster rond, doop ’n ander in rooi en teken vier kelkblare om die donker hart, ’n papawer op ’n skraal stengel, elke blom so groot soos sy duimnael. Soos ’n rooi-en-swart ketting strek dit teen die kant van sy boekrol af. Mensbloed. Dit was ’n moeilike reis, elke myl daarvan betwis, en hulle het ’n wye, rooi spoor gelaat vir gelukkige kraaie om oor te dans en tevrede vlieë om oor hande te vryf.

    Soms gaan hy laatnag buitetoe om in agterstrate te wag met munte in sy hand. Hy wag op hoeke, hy wag onder die lanterns buite taphuise en bordele dat vrouens met die maskers van koorlede na buite kom, dan bied hy hulle van die geld aan wat sy weldoener hom geskenk het. Hulle runnik van skrik vir die groot baardlose man met woeste hare; hulle vloek, spot hom, klap die geld uit sy hand, gil vir ander om te kom kyk. Elke keer laat hy die geld op die plaveisel, hulle mag weer daarna kom soek.

    Soms gaan hy uit om na die sterre te kyk, hoe hulle in hulle wit en blou en geel miljoene oor die donker Bosporus wemel. Hy haal skaars asem, hy dink hulle behoort aan die hemel en is die geeste van gestorwe mense. En tussen hulle swem die planetai, die swerwers, na die oomblik waarvoor hy, tot sy ewige dankbaarheid, uitgekies, gebore en opgevoed is. Hy ondersoek hulle bewegings, of dit al neig na die skitterende fakkel wat die geboorte van die Verlosser sal aankondig, maar merk nog niks ongewoons nie.

    Soms word ’n ster gelos en val dit brandend, rooi vir ’n oomblik, weg in die donker.

    Die ekspedisie

    Nagri doen besondere moeite met die verwerking van Xenophon se teks. Hy werk stadig en onderbreek sy beskrywing met oop spasies soos stiltes. Dit is uitspannings, russtasies vir ’n voorleser om asem te skep, sy keel nat te maak en weer sy plek te vind, vir ’n hoorder om sy wynbeker te laat vul of met die aandskemer kerse te laat kom, vir ’n koning om vrae te stel en dit noukeurig met sy generaals en hoogste raadslede te bespreek en sy bevele te laat neerskryf. Miskien plaas die Verlosser, vir wie se oë dit eerstens bedoel is, hierdie evangelie na dié van die laaste profete: Habakuk, Sefanja, Sagaria, Maleagi, Nagri.

    Xenophon se styl herinner hom aan kameelpaaie oor klipperige rante, afgewissel met dorre sand, die omgewing droog soos woestynlug, en met net die kaal geraamtes van besonderhede, meestal oor desperate situasies waarin die skrywer na homself in die derde persoon verwys. Xenophon het gedink die voetpad oor die berg is veiliger as die gebaande pad voor hulle. Dit klink na hoorsê: Was hy daar, of nie? En was daar nie blomme en wolke nie, het voëls nooit in geurige dennebosse gesing, het strate met marmer geplavei en so glad geslyt soos glas, nooit die maan wit weerkaats nie? Die generaal noem dit nooit. Dit is woestyn, daar moet ruimte en stilte wees.

    Beletsels is daagliks oor hulle pad gelê. Shaitan, die teenstander, het hulle aangeval met eindelose regimente met staal gewapen, met bitter koue en honger; hy het hulle onophoudelik beveg met onderlinge tweedrag, selfsug en armoede; hy het hulle probeer verlei met gierigheid en illusies van eer en het hulle met afstande van verlore tyd bedrieg. Baie gevegte, wonde en lyke was nodig om die teenstander in al sy gedaantes te beveg, daarom loop die ketting van rooi blomme met swart harte tot die heel einde saam met die verhaal. Nou is dit verby. Die sterre gaan na hulle aangewese plekke. Die profeet is op pad, die pyl het die boog verlaat. Die wat nie daarvan weet nie, sal dit hoor. Net die afstande, die berge, die sneeu, gaan dieselfde bly.

    Nagri kyk oor die binnehof, waar ’n rooi haan drie swart henne die een na die ander dek. ’n Mag in die hemel trek mense na hulle plekke, die sterfling na sy graf, ’n jong man na sy bruid se ouerhuis, ’n kind na die moeder wat hom moet baar. Hierdie mag het hom en sy weldoener bymekaar gebring. Oorlog wis individue uit, enkelinge raak soos sout in water weg in die groot eenheid van ’n leër. Alleen, lang tye, myle ver, was hy self niemand nie, ’n draer soos ’n os of esel, maar na elke geveg druppend van sweet en dankbaar dat hy nogeens ’n paar treë nader aan Jerusalem was. Dankbaar teenoor God, teenoor Xenophon, die merkavah van sy mense, en die rooi-en-swart soldate wat hom, die boodskapper, moes besorg waar hy nodig was.

    Nagri skryf sonder haas: Kyk, daar kom n wolk aan, rooi en swart soos sprinkane, soos brandende olyfboorde. Maak pad, maak pad vir die heilige leër. Hy dink na oor sy woorde. Al sê sy weldoener dat sy beeldspraak oorryp is, glo hy dat dit nie onvanpas is nie. Ander profete het so geskryf. Sy gebreke sal hy erken, hy sal erken dat hy soms iets op ’n naïewe manier stel wat hom sal laat klink soos ’n kind tussen volwassenes. Hy kan dit nie help nie. Hy was nooit ’n man soos die tienduisend met wie hy saam gemarsjeer het nie. Klere bedek die geheime wonde aan sy lyf, maar die wonde aan sy gees moet hy in die openbaar dra, net soos gestrafdes die verlies van ore en hande of die growwe wit brandmerk op ’n wang in die openbaar moet dra. Dít skuld die Perse hom ook. Dáárvoor, as hy kan, sal hulle betaal.

    Hy weet ook dat onkunde oor menslike gevoel en sy gebrek aan ervaring daarvan, sy vermoë beperk om hom in woorde uit te druk. Hy sal waarskynlik nie Xenophon se vriendinne beskryf nie, hulle word miskien nooit meer nie as die obsene tekeninge wat soldate in hawestede koop. En swak verdomde plaasvervangers, Jood. Swak! Swak! raas kaptein Agasios in sy gedagtes. Agasios, die hondgetroue, die waaksame, voorste in die geveg én in die kring van spotters. Hy het saam met Agasios agttien onvrugbare maande deurgebring op ’n gewelddadige jagtog agter mag, geld en die geverfde hoer wat roem heet, saam tot aan die einde, getrou aan hulle plig, nooit afgewyk nie, niks nagelaat nie, tot die heel laaste dag toe. Sy enigste ander ervaring was van ’n slawehuis en ’n koning se paleis, en in nie een is die lewe normaal nie. Nou is hy volwasse, sover as wat dit vir ’n eunug moontlik is, en hy ken geen vroue nie en weet nie of hy hulle en hulle hom sal verstaan nie. Hoe kan hy weet?

    Hy kan nie weet nie. Hy bly ’n kind van tien jaar, nog nie twaalf nie. Miskien kan woorde nie beskryf wat mense in hand-tot-hand-gevegte of in die liefdesdaad beleef nie. Hy weet nie. Hy het jong soldate ná ’n geveg hoor joel en mekaar uitlag oor hees krete, vlak en hygende asems, rooi gesigte, selfs oor druppende swaarde. Hoe kan een soos hy iets daarvan weet? Hy is nie ’n man of ’n vrou nie. Sy impotensie ontmagtig hom. Van sy gedagtes moet in die inkhoring verdroog.

    Eenmaal het hy aan die generaal gevra: Dink jy ek sal oorlede Proxenos of Klearkos kan beskryf? Dit was ’n wit somerdag in ’n straat in Trapezum. Hy het riem in die hand voor ’n esel geloop wat twee mandjies hawer dra, Xenophon het sy plankdun merrie met ribbe soos ’n voëlkou, vuilgeel maanhaar en treurige oë gelei, Agasios het ’n klotsende wynsak op die skouer gehad vir sy onderoffisiere ná ’n goeie vertoning op parade. Die lug was koel, oop en vaalblou soos die see. Dit was destyds toe hul gedink het die ergste is verby, hulle is veilig.

    Jy het hulle nooit geken nie, het Xenophon gesê en sy maer ryperd oor die nek gestreel.

    Is dit nodig? Homeros het nie vir Akilles geken nie.

    Daardie ou. Jy dink te veel van ou Homeros, met sy koorsagtige taal en ’n voetsoldaat se goedkoop nostalgie.

    Die generaal skerm met hom. Is hulle gewapen, speel hulle met dolke? Voetsoldaat? vra Nagri gretig. "Dan bedoel jy sy Ilias, maar ’n vrou kan tog die Odusseia geniet."

    Ek het dit nog nie met ’n vrou bespreek nie. Het jy?

    Geen kans gehad nie. Ek wil seker wees dat ’n vrou verstaan wat ek skryf. Ek weet hulle hou nie van oorlog nie, maar soldate is broers, mans, vaders, neefs, swaers, of hulle eie kinders. Oorlog is deel van ’n vrou se lewe, soos boerdery, en die huishouding.

    Kaptein Agasios het sy wynsak van skouer na skouer verskuif en hulpvaardig gesê: Die lewe is nie dieselfde vir al twee nie. Kan jy dit nie sien nie? Jy kan nie ’n boek blameer as ’n vrou nie daarvan hou nie. Dit is nie die skrywer se skuld nie.

    Is dit so? vra Nagri aan Xenophon. Hy weet Agasios kan nie lees nie.

    Absoluut. Hulle hoor graag van maanskyn en rose of van die sater en die nimf. Miskien moet jy digter word, Jood, en jou roeping verkondig in kleurryke begrippe, blomme rooi en wit, fonteine van geurige vrugtesap en bloed, Homeros met Sappho gepaar.

    Nagri het nie geweet wat om van dié antwoord te maak nie. Die generaal spot waarskynlik met hom. Oral, selfs in Babilon, is roostuine en ’n volmaan mooi, en waarskynlik vir mense ’n plesier. Ons volk het ’n gesegde, het hy op ’n ingewing gesê, ’n man se liefde vir ’n vrou kwyn en groei soos die maan, maar sy liefde vir ’n broer skyn soos die son vir ewig. Is dit waar? Want selfs die liefde tussen broers ken en verstaan hy nie. Daar was Abel en Kain, Jakob en Esau, Josef en sy elf broers, Kuros en ArtaXerxes, Xenophon en sy Tienduisend. Bloedbroers.

    Baie waar, Jood. Dit bewys jy kry nie één boek vir mans en vrouens nie. Nee, laat hulle self stories opmaak. Maar ’n tweede Sappho kry jy selde.

    Weer begryp hy nie die antwoord of antwoorde nie. Verstaan die generaal wat hy bedoel, of het hy net geen simpatie met sy onkunde en twyfel nie? Hy vermoed dat hulle hom oor sy erns spot.

    Nagri vou sy bene onder hom in soos ’n kleremaker, stut sy rug teen die deurpaal van sy kamer, en hervat sy skryfwerk: Ek vertel nie van ’n prins se ambisie, ’n mislukte staatsgreep en ’n vlug voor ’n oormag, of van ’n arm soldaat se reis op soek na die hart van boosheid nie. Ek verkondig die koms van die Verlosser.

    Dit was nie ’n vlug nie, dit was ’n beheerde strategiese onttrekking, ’n aftog, ’n uiters knap stuk krygsvernuf. Net, hy het nooit aan hulle lang en gevaarlike reis as ’n aftog gedink nie, vir hom was dit andersom, vir hom was dit die opmars. Die groot slagvelde, sy slagvelde, het nog altyd vóór hom gelê.

    Hy hoor beweging in sy kamer, ’n fluistering bokant hom, onder die krom bruin daklatte. Wie besoek hom? Dit is die swaels wat na hulle nes teruggekom het. Hy hou die luggat dop, hoe hulle binnekom, aan die oorblyfsel van hulle nes hang en weer langs die sonstraal uitglip. Die nes het ’n pyp en ’n sak, die sak is oopgebreek, die eiers het uitgeval, en hulle werk daaraan om dit reg te maak. Hulle dra nat geelklei aan, korrel vir korrel, en maak dit heel.

    Hierdie trekswaels kom uit die ver suide, jy sien hulle in hulle swerms aankom, jy kry vreemde insekte wat nie hierlangs voorkom nie in die krop. Honderde dagreise ver kom hulle, elk op soek na ’n huis wat hy agtergelaat het, soos die Tienduisend in die Verlosser se naam nou huis toe gaan. Hulle is ’n goeie teken. As hulle teen sy dak wil kom plak en nes bou, is hulle welkom. Sy kamer is stil, koel en gesond.

    Nagri doop sy pen, maar die ink word droog terwyl hy herlees wat hy geskryf het. Hart van boosheid, hart van die bose? Wat het die generaal hom daar voorgestel, ’n kadawer uitgelê op ’n tafel? Die bose is oral, chaoties, vormloos, tydloos. Toe Xenophon diep teleurgestel was deur die leër het hy hulle verwyt: Julle is ’n bose mag. Dit was by Kotiora aan die Swart Kus toe sy broers hom wou stenig. Maar wat wou die jong man Xenophon in afgeleë Babilon gaan soek? Nagri het ’n vermoede: dieselfde waaroor Jode in ballingskap, waarskynlik alle bannelinge, altyd met weemoed praat.

    In die berge, toegedraai in ’n growwe bruin vrouerok, het hy Xenophon een oggend uitgevra terwyl die leër skuil teen die sekel van ’n bytende noordewind wat sneeu hoër en hoër teen hul klappende, rukkende tente gesmyt het. Hulle was saam; die generaal wat hom moes bring tot waar God hom wou gebruik, was gebondel in sy dun, swart mantel. Hy vermoed die generaal wou dié oggend sy gees laat rus van kommer oor die groot moeilikhede waarin hulle daardie ysige, honger, moedelose dae verkeer het en die tientalle wat elke dag siek word en sterf van die koue. Kuros was oortuig dat julle in warm Babilonië gaan oorwinter, het hy aan Xenophon gesê. In ons heilige boek staan ’n duidelike waarskuwing: Moenie op prinse staatmaak nie.

    Dit was ’n seldsame kans om met hom te praat: Xenophon van Athene, leier van die Tienduisend, die soldaat wie se lot in die sterre met sy eie oorkruis gelê het. ’n Haas onpeilbare man, wat met vrae verlei moes word om iets van sy herkoms, lewe en gedagtes te laat sien. Waarom verkies Atheners deesdae die buiteland? het hy aangepor.

    Die generaal het nie gou gepraat nie, net sy verslete swart mantel styf om sy skouers getrek asof hy diep ingedagte ’n volgende skuif in die geweldige spel teen konings en gode oorweeg.

    Wat was julle gevoel, in dié tye? het hy weer probeer. Die verlies van land en vryheid. Julle wêreld uitgewis.

    In sy familie, het die generaal stil en nog nadenkend, geantwoord, was daar verliese, soos in ander waar weduwees en swanger vroue oor meer as een man rou. Hoopverskrompelende honger, naas meer beskadigde wapens as bruikbares en vliegbemorste beeldjies van Hermes die Geneser, was algemeen in hulle huise. Buite, op strate wat nie meer herstel is nie, was brandsiek honde en verminktes wat met daglig uitgedra word om te bedel. Hy is op sestien opgeroep, en het dankbaar wapens uit die dakbalke gehaal, roes afgeskuur, geslyp, vet gesmeer, rieme en gespes verstel, skedes gelap; hy was die vierde geslag wat dit sou gebruik. Ten minste sou daar vir hom rantsoenkos wees.

    Wat het hulle gesê, waarom was dit só? Die woord waarom is vir Nagri belangrik. In vraag op vraag strek dit terug tot die oomblik voor die skepping; die laaste sinvolle vraag vóór daar lig was, die heel eerste daarna.

    Die generaal se oë het in diep skaduwee gelê, sy lippe het van koue gebewe, op sy baard was vlokkies sneeu (of was hy reeds grys?). Sy stem was nie meer die van ’n Atheense redenaar, geskool in die retoriek nie, maar traag, asof hy by ’n graf praat. Negentig jaar gelede het Darius uit Persië gekom en ons kolonies in Asië aangeval, daarna ons eilande, toe ons vaderland self. Duisende moes sterf voor ons hom by Marathon kon stuit. Tien jaar later het sy seun Xerxes weer in die ooste verrys. Ons moes uitgewis word, al ons Atheners.

    Xenophon het sy helm op sy knie getel, aan die kenband gestel en ondertoe, in die gesig van die helm, gepraat asof hy daar ’n vergete voorvader sien aan wie hy verantwoording doen, of by wie hy bieg en vergifnis vra. By die Hellespont laat hy ’n tweeling kruisig – ’n offer aan die see, ’n waarskuwing aan al wat leef, ’n basuin wat sy waansin aan die wêreld verkondig – en dryf ’n miljoen soldate oor ’n brug van bote om wéér ons vaderland aan te val. Daar was Termopulai om te beween voor hulle ons stede en dorpe bestorm . . . mense, diere en bome om die lewe bring . . . huise plunder, plase verwoes, tempels verbrand. Net op see kon ons Hellene ons handhaaf. Nagri het belangstellend gewag. Dit was die hele gruwel in omtrent honderd woorde, soos skoolseuns in die retoriek opgelei word: wees bondig, kronologies, met die rolspelers – aggressor en slagoffer – duidelik uitgewys. Maar die generaal was weer stil, hy moes hom aanmoedig. Wat soek Atheners dan deesdae oorsee? Is julle land onaangenaam?

    Xenophon het opgekyk, met sy vingerpunte geraak aan die tentvel wat gons soos ’n tamboer (van waar dié vibrasie? A, die wind in die toue) en effens geglimlag. Ons vlug vir ons noodlot. Soos die spreekwoord sê, soos jy sal weet uit die tragedies: Geen Griek soek sy noodlot nie, die noodlot soek hóm. Ons wat onafhanklik was, die regeerders en leiers op elke gebied in hierdie streek, sit nou met ’n waardelose burgerskap in ’n derderangse staatjie. Ons vlug oorsee om weer iemand te wees. Met drie vingerpunte teen sy bors, teen homself gedraai, het hy benadruk: Dit is nie meer óns land nie. Met die hele Persiese Ryk in die ooste en Sparta in die weste was ons soos graan tussen twee meulstene. Saam sou hulle ons fyn maal. Sparta sou Persië se aanspraak op ons eilande en kolonies erken, as hulle goud gee vir ’n vloot én leër om Athene te dwing om oor te gee en ons stadsmure self af te breek, en ons vir alle tye te onderwerp. Die beskuldigende vingers het teen sy borsbeen, op sy hart, gebly. Ons, Atheners. Ons aan barbare onderwerp. Dit verklaar, sien jy, waarom Persië ons nog nie weer aangeval het nie. Hulle betaal Sparta om dit te doen. Sparta woon langs ons en baklei graag. Sparta het dadelik teen ons stad kom oorlog maak.

    Die generaal het sy kop geskud, duidelik bekommerd, dalk oor sy land se toekoms, dalk oor hierdie leër se situasie. Die klam tent het onder die noordewind geruk en gebuk en gevou, gebuk en geruk en gevou. Dertig jaar van oorlog teen Sparta het die Atheense gees geblus. Ons bou nie meer nie. Aanbid nie, sing nie, dans nie meer nie. Ons is verbluf. Iets het met ons geskiedenis verkeerd geloop. Ons leef verward, sonder vaderland. Deur nederlaag verneder het ons bedroef en bitter geword. Wat het met ons gebeur? Ons ken nie die kunstelose uitlanders met hul vreemde uitspraak wat op hulle manier oor ons probeer regeer nie. Ons sien neer op hulle, bespot hulle, ons gesprekke gaan gedurig oor hulle agterlikheid en gebrek aan sosiale grasie.

    Toe het hy weer ernstig aan die afwesige voorvaderlike gesig in die helm verduidelik: Al wat gebeur het, is dat ons vinnig tot hulle vlak gedaal het. Hulle sing nie, ons sing nie meer nie. Hulle skryf nie, ons skryf nie meer nie. Hulle bou nie, ons bou nie meer nie. Geen welmenende god kan wil hê dat sulkes oor ons moet heers nie. Oor óns, Atheners. Maar dit gebeur. Wat sien ons as ons opkyk na die berg? Die godin is weg. Ons sien die goue tye in ruïnes, in die verbrande rooi dakpanne en woud van marmersuile wat swart ingestort lê op die Akropolis. As dit deur ’n aardbewing was, kon ons alles makliker verstaan. Nou vrees ons die Pers en sy huurling die Spartaan, en blameer dié een, dáárdie een en mekáár. Wat word van ons verwag? Ons voel onseker, ons waag niks meer nie.

    Nagri het die generaal sien rusteloos word. Is alle regering nie boos nie? het hy gevra om die gesprek nog te verleng. Oorlog en die begeerte om te heers ontstaan uit dieselfde bron. Hy het drie verkluimde vingers gewys. Magsug. Gierigheid. Eiebelang.

    Ja, selfs die gode is daarmee besmet. Xenophon het die helm opgesit en vasgegespe, sy hande onder sy arms vasgeknyp, verlangend na hitte homself omhels. Hy het sy naels vir die pers vlekke van kouevuur ondersoek, dampende asem oor sy vingers geblaas, en toe die tentflap gelig en na buite gekyk. Die wind gaan lê. Pak ons goed. Ek gaan die generaals sê.

    Só was die man. Hy kies die storm bo ondervraging, en spring soos ’n swak skaakspeler uit ’n onsekere posisie na ’n onbekende. Dit gee hom ’n gelyke kans, sê hy.

    Xenophon en die spel van konings

    Dít was die generaal wat, soos die walvis vir Jona, vir Nagri moes besorg waar God hom wou hê. En net deur te vra, oor ’n lang tyd, ongemerk en klein bietjies op ’n keer, kon jy iets oor die man te wete kom. Oor die res moes Nagri berekende afleidings maak. Xenophon het hom byvoorbeeld self vertel dat hy die orakel by Delphi gaan vra het aan watter gode hy moes offer. Die proses sluit vanselfsprekend ’n reis te voet in met ’n slaaf en ’n os. Só.

    In Bisantion het die son nou agter die herberg se dak ondergegaan en die binnehof lê in skaduwee. Die twee swaels sit styf teen mekaar op ’n lat onder die dakteëls. Nagri vee die ink van sy penne af aan ’n bruin lap geskeur uit die soom van die rok wat hy met die aftog gedra het, rol sy boeke toe en pak dit weg. Dit is tyd vir sy aandgebed. Hy was sy hande en gesig, druk dit droog aan die doek wat agter sy deur hang, en gaan in die binnehof staan met sy voorkop teen die suidelike muur geleun en sy regterhand op sy agterkop, waar die hare nou afbreek tot kort, skerp stoppels. God van ons vaders Abraham en Jakob, fluister hy, "ek dank U vir die krag en wil, en die moed wat in my brand. Dankie dat U my uit die slawehuis laat wegkom het. Dankie vir u knegte Xenophon van Athene en die tienduisend broers wat my tot hier gebring het. Dankie vir die geleentheid om die Verlosser se koms te verkondig en ’n einde aan die Perse se verskrikking te help maak. Wys my die pad en die plek en die tyd. Laat my stem sterk en my boodskap duidelik wees. Amin."

    Na sy aandmaal van kaas, olywe en brood loop hy in die steeg voor die herberg af tot hy die see kan sien. Daar is nog nie sterre nie, maar in die skemerlug flikker vlermuise verby, klein en swart, geluidloos maar blitsig soos slingerklippe. Hy loop heen en weer voor die herberg en dink oor sy manuskrip tot hy meen dat die laaste reisigers die eetkamer verlaat het. Dan neem hy sy skryfgoed daarheen, stoot die swart kat van die tafel af – nêrens in die Wette, Kronieke van die Konings, die Liedere of Profete sien jy ’n enkele verwysing na katte nie – en rol sy boeke by die lamplig oop, die generaal s’n met die swart sterre en sy eie met rooi blomme.

    ’n Moeilike man om te ken, ja. Maar te midde van die Tienduisend was Nagri en Xenophon, twee vreemdelinge byeengebring deur gedagtes oor ’n moord op ’n koning en die oortuiging dat ’n god hulle daarin lei. Om die generaal was ’n gordyn van waardigheid waardeur dit onbehoorlik sou wees om te probeer kyk. Veral op parade kon jy sien hoe afgesonderd hy is, altyd alleen. Dit is hoe die tienduisend soldate hom geken het. En om die Athener Xenophon was die muur van privaatheid en formaliteit. Selfs op skrif het hy na homself in die derde persoon verwys. Jy kon brokkies uit sy verlede hoor, by hom of by ander soos Agasios wat sy vertroue volledig geniet het, maar nie veel nie. Jy moes hom altyd uitlok sonder dat hy dit agterkom.

    Dit is te betwyfel of Xenophon as jong man noue vriendskappe gehad het. Hy het nie omgegee of enigeen van hom hou nie, maar was sensitief oor sy reputasie. En sonder familie. By Kotiora, die verskriklike plek, daardie hel van openbaring en wanhoop, het hy eenmaal van enkele familielede gepraat, sy pa, ’n tante en ’n jong suster wat deur vreemde soldate weggesleep is. Feitelikhede omtrent die generaal, dit skryf Nagri, en soms spring daar onverwags gedagtes op in sy verbeelding soos wilde honde uit gras: daar is stemme, klanke, slae, kleure, reuke en gebare. Dan soek hy beelde uit en kies en keur af, vóór enigiets in die profeet Nagri se boek neergeskryf word.

    Xenophon is formeel, met ’n netjies geskrewe uitnodiging op skaars en duur perkament, by die spel van konings betrek. ’n Matroos met die naam Hermesion het dit van Piraeus gebring, en hy het die man met ’n skilpad en ’n kop kool betaal, verleë oor sy armoede.

    Hy het ’n karige bestaan gemaak deur tekste van die meesters Tukidides, Aeskulos, Aristofanes, Euripides, Sofokles en ander uit sy boekekis te kopieer vir die stad se enkele gegoede bibliofiele. Die glorie van Griekeland, die glorie wat Griekeland was, sou deur sy toedoen voortbestaan, in afskrifte, veelvoudige afskrifte, van goeie tekste. Hy was oortuig dat as Sappho die Geliefde vergete raak, omdat in hierdie eeu van oorlog en armoede geen kopieë gemaak is nie, die wêreld sekerlik donkerder en die lewe nog armer en minder werd sou word. Deur die gode se genade was daar nog mense wat gewillig was om vir dié bewaring te betaal, en daarom kopieer Xenophon getrou terwyl hy stry teen die verlange om op die meestertekste te probeer verbeter. Dit is ’n sorgvuldige, tydrowende en swakbetaalde taak. Deels oor deeglikheid, deels uit spaarsaamheid en deels omdat hy alleen wil wees, gebruik hy nie ’n voorleser nie.

    Gelukkig is daar die groentegeld; langs sy huisie het sy slaaf groente geplant en oor die tuinmuur verkoop. As hy geselskap soek, dra die ou luiaard soms ’n mandjie vol mark toe. Sy teenwoordigheid in die huis is ’n irritasie, maar iemand moet groente kweek. Xenophon praat so min as moontlik met die man.

    Daar is ’n koue trek deur die huis. ’n Buitedeur staan oop.

    Skryf jy nooit iets van jou eie nie, Meester? vra sy slaaf.

    Ek hoor die Muse net in my slaap. Dit bly drome.

    Tog sal jy kan. Jy het so baie gelees.

    Eendag. ’n Arm man moet eers sy bestaan maak.

    ’n Vrou sal help.

    Soek vir jou een.

    Nie vir my nie. Vir die huis. Hierdie huis het ’n vrou nodig.

    Xenophon kyk nie van die manuskrip op nie, maar sit sy vinger by die plek waar hy laas gelees het, laat sy hand met die pluim op die tafel rus en maak sy oë toe. Soek jy iemand anders om ’n eier te kook en ’n paar stukkies wasgoed te bleik? Ek sal dit self doen. Ek is besig, maar ek sal dit doen.

    Toe haal die slaaf sy hande agter sy rug uit. ’n Brief, Meester. Die man wag buite.

    Gee.

    Ek is sewe-en-twintig jaar by jou, het die slaaf gekla. Jy ken my naam.

    Die brief was van sy neef Proxenos wat met ’n regiment huurtroepe by Sardis lê, en het begin met die gewone groet gevolg deur brokkies oor sy neef se gesondheid en die afsterwe van veraf familielede. Dan: Onthou jy hoe die Perse ons laat raai het? Wie is dié mense wat duisende myle ver oor woestyne, berge en seë kom om Hellene te vermoor, ons huise plat te gooi, ons boorde af te kap? Waarom? Haat hulle ons regering? Láát hulle, ons haat hulle ook. Is ons grond meer vrugbaar, ons meisies mooier, ons slawe geduldiger?Is daar ’n goudmyn in Hellas ontdek waarvan ons nog nie gehoor het nie?

    Jy het my Spartaans geantwoord, Neef: Miskien is daar nie genoeg grafte in hulle land nie, en ’n skrywer aangehaal wie se naam ek vergeet. Ek het jou só verstaan: Wie oorsee sterf, lê in grond wat sy gode nooit besoek nie. Ja, so glo ons, maar wat in Apollo se heilige naam het ek of jy met Persië te doen, en hulle met ons? Dit het ek nie verstaan nie. Onthou jy hoe ons snags die liewe maan uit die lug geraai het hoe dit lyk daar waar hulle woon en mekaar vertel het wat ons hoor oor stede met geverfde mure, bruin wyn wat na rosyne ruik, klere van gestreepte katoen en geblomde sy, al die goud waarvan die wêreld praat, al die silwer en ivoor en die edelste van gekleurde stene? Ons kon net raai, en wens. Ek wou gaan kyk.

    Nou, my neef, is hier ’n kans vir jou om daardie bose land self te sien. En in die beste geselskap, want ek nooi jou persoonlik. Ek het die vriend geword van ’n sekere prins wat wil koning wees (hou dit stil, agter die tande-heining soos my oupa sou sê) en hy het my gevra om ’n regiment ervare Hellene vir hom te monster. Ek gaan ’n groot naam en ’n sak vol geld hieruit maak. Hy sê sy ekspedisie is net teen rebelle in die provinsie waaroor hy satrap is, maar ek laat my kop afkap as ons nie veel verder oos trek en as helde gaan terugkom nie. Die ander rede is, ek verlang na jou wysheid. Ek sal jou aan die prins voorstel en wapens en twee perde gee.

    Proxenos sluit af met die gewone soldateklagtes: Hy wens die prins wil onderweg kom, Sardis is vervelig, die prostitute is middelmatig maar duur, die bier dun, die perde stadig, die verdomde kamp staan te ver van die see af. Die gesellige hartlikheid is eie aan Proxenos, maar die brief is nie sy eie werk of selfs in sy handskrif nie. Dit is deur ’n geskoolde hand geskryf. Onderaan staan: Deur Kalakalos, openbare skriba op die mark in Sardis.

    ’n Uitnodiging om deel te neem aan die spel van konings, dít is wat Proxenos se brief beteken het. Sy neef verwys na die geleentheid om die bron van al hulle onheil te sien, maar wat hy wil hê, wat hy nodig het, is ’n regimentele skrywer en geselskap. Dit is goed, dink Xenophon, want werk hier het skaars geword. Hy ondersoek sy kaal werktafel met die leë inkhoring op sy staander, swart inkvlekke in die hout en die lampie van onversierde klei asof sy eie verlede en toekoms daar geskryf staan, en besluit om te gaan. Hy is ’n arm man, sy jeug amper verby, en nou toets hy sy geluk teen ’n koning. Wat ’n dwaas.

    Xenophon besoek sy gewese leermeester Sokrates agter die digte granaatheining waar die ou man in ’n takskerm woon ná sy vrou hom weggejaag het, net vel en been met ’n vuil kleed en olierige strooihoed. Op skeenhoogte bo die grond is ’n lang riem tussen twee stokke gespan. Sokrates loop na links en na regs, praat met die riem, dui verskillende plekke met sy vinger aan. Verslete sandale klap onder sy voete. Hy kyk op toe Xenophon groet. Onder een oog is ’n persbruin geswelde kneusing. Die mandjie met groente en brood aanvaar hy dankbaar. Hy kyk nuuskierig binne-in.

    Jy kom iets vra, sê hy. Die ander weet reeds alles.

    Wat het die Perse teen ons Hellene? vra Xenophon.

    Sokrates kyk in die mandjie, haal die brood en kaas bo-op weg en vroetel tussen die groente. Is dit miskien oor wat ons was en weer kan word? Hulle is maats met die gewelddadige Sparta, maar bang vir óns. Wat, wat? Dink jy dit is moontlik?

    Bang vir ’n staatjie van argitekte en digters, Meester?

    Reg. Onthou óns het Epidaurus se perfekte amfiteater gebou. Dit is in óns taal dat Homeros, Sappho en tien ander geseëndes skryf. Wat, ou Homeros? ’n Onbegraafde lyk. Onthou net hierdie stad toe Perikles ons eerste burger was. Was dit nie die hoogtepunt van menslike bestaan in hierdie streke en ’n monument vir wat óns was nie? Al verdwyn ons volk eendag, al word ons vir ewig as slawe weggevoer, of bestaan nog net as die eienaars van vis- en groentewinkeltjies in vreemde lande, sal besoekers aan Epidaurus altyd vra: Wie op aarde was hierdie mense?

    Dit was die egte Sokrates, die mandjie vergete aan sy arm gehaak, sy twee hande bak gehou met die vingers effens oop asof hy iets gewigtigs daarin wil ontvang, en die uitdagende, tergende vrae.

    Sokrates hou nie maklik op wanneer hy aan die gang is nie. Xenophon gee hom kans om jong uie tussen die groente uit te grawe, met sy duimnael af te dop en te eet met ’n brood wat hy in vier gebreek het. Dan, amper uitbundig agter die groen heining vol jong granate: Ons kry goddelike talente, goddelike inspirasie, goddelike leiding. Daardie amfiteater, daardie Sappho is goddelike stukke. Ons het kennis gesoek van die rekenkunde, geografie, navigasie, argitektuur, medisyne. Ons het genoeg brood en wyn gehad en was vry om elke dag nuwe gedigte te skryf. Die Pers, my seun, kan nie ’n vry volk van dromers en digters bekostig nie. Die skeppende denker is sy vyand. Hy moet ons monumente verwoes. Wat, wat? Kan dit die oorsaak wees? Die bose is bang.

    Ek weet nie, sê Xenophon versigtig. Onkunde en vooroordeel is miskien die enigste sondes waaraan die gode nie self skuldig is nie; daarsonder sou almal goddelik wees. As Sokrates reg is, behoort hy Proxenos se donker prins te volg om ’n goedgesinde vors op die Persiese troon te probeer kry, die vaderland se onafhanklikheid te herwin, die oorloë te beëindig en vrees uit die stad te weer.

    Dan vertel hy Sokrates van sy neef se voorstel, en dat hy oorweeg om dit te aanvaar. Vir die demokrasie, sê hy.

    Sokrates antwoord dadelik: Wat, wat, wat? soos wanneer ’n pot oorkook en druppels op die warm as plof. Vir demokrasie, sê jy? Wie het jou dié woord geleer, Xenophon? Het jy dit nie hier op die mark gehoor nie? Dit is waar dit hoort.

    Hy kyk toe hoe die ou man ergerlik met sy knopperige, krom vingers die kurkprop uit ’n wynfles draai en ’n paar keer diep sluk. Wat het hy verkeerd gesê? By jou self, Sokrates, sê Xenophon. Nog verlede week. Die stad praat oor jou. Dit is die trots van Athene.

    Weer sluk Sokrates, rustig nou, dat hy nie stik nie, die adamsappel dans tussen bruin gordyne sonverbrande keelvel. Sluk, sluk, sluk, dan kom hy boontoe vir asem. Toe ek die woord sê, het ek gelag, sê hy met ’n snak. Wyn drup by sy mondhoek uit. Julle het gesien ek lag, maar nie gehoor ek huil nie, want julle het hard hande geklap, jy en hierdie hele arme stad. Demokrasie was maar ’n eksperiment van Perikles omdat sy tyd gunstig was, die kort rukkie destyds toe soveel van ons Atheners amper beskaafd was. Maar die wêreld het sleg geword en nou klou arme Athene liefdevol aan demokrasie se koue lyk, te dom om dit te los. In enige stad, in enige huis, is die wat nie hul verstand ontwikkel het nie in die meerderheid. En die meerderheid is gewoonlik verkeerd. Die demokrasie sal altyd die vyand wees van regering deur wysheid en uitnemendheid. Al wat die demokrasie lewend hou, is die meerderheid se eis dat geen kop hoër as hulle s’n mag wees nie.

    Nou beduie Sokrates met ’n kwart van ’n potbrood in een hand en die wynfles in die ander. Die meerderheid is ’n tiran, en dit pas politici. Hulle gee volle erkenning aan die dierlike liggaam, maar nie aan die goddelike gees nie. Hulle laat uitnemendheid verdwyn in die massa se modderpoel van algemeenheid. Dan gee hulle aan elke man, of hy wys is of dwaas, een stem, noem dit demokrasie en sorg dat almal hoor hoe daar niks was vóór die wonderlike demokrasie nie. Uitnemendheid en talent word geïgnoreer asof dit deur ’n skelmstuk verkry word. Jy sal glo as jy hoor dat atlete kreupel geslaan is in die naam van demokrasie. Uitgestem, mag nie deelneem nie! Atlete, uitgestem, hoor jy? Oral vind jy dat die beste téén die demokrasie is. Wat, wat? Moet die miere regeer omdat hulle die meeste is? Een wet vir die skaap én die leeu? Dit is meer as onderdrukking. Dit is slawerny.

    Xenophon het met ontsag geluister. Toe vra hy aan sy meester watter van die gode dalk die verwoesting van hulle vaderland veroorsaak. Dit is wat hy wil weet.

    Gaan vra jy die orakel wie of wat die Persiese vloek veroorsaak. Oor die gode se kinderagtige getwis moes Odusseus dekades lank swerf, die slagoffer van hulle sinlose wispelturigheid, wat ons hier onder naïef die noodlot noem. Wat dink jy, wat gaan al weer aan, daarbó? Gaan, gaan vra jy dit in Delphi.

    Toe hulle groet, wys hy met die leë mandjie waarin die leë fles nou lê. Die riem, Meester?

    "Tyd, my seun! Die groot

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1