Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Skag
Skag
Skag
Ebook456 pages6 hours

Skag

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

'n Aksiebelaaide wedren teen tyd om 'n katastrofiese kerntoets te stop voor dit die brose onderhandelingsproses na Suid-Afrika se ontluikende demokrasie kan kelder. Dis 1987. Spesmagte se Jos Fourie vergesel 'n skeepsvrag missiele in weerwil van wapensanksies toe hy CIA-oë op hom gewaar en wapengehalte uraan aan boord ontdek – gebeure wat hom sou teister op 'n moordende tog uit die Noordsee na 'n geheimsinnige Weermag-skag in die Kalahari-duine.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJan 24, 2020
ISBN9780624089490
Skag
Author

Jaco Wolmarans

Jaco Wolmarans is 'n vryskut-videovervaardiger, -fotograaf en -kopieskrywer. Hy woon in Milnerton.

Read more from Jaco Wolmarans

Related to Skag

Related ebooks

Related articles

Reviews for Skag

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Skag - Jaco Wolmarans

    JACO WOLMARANS

    SKAG

    Tafelberg

    Vooraf

    Die nag word verlig deur ’n verblindende flits wat die brug skud voor ’n wit rookwolk dit omvou. ’n Presies berekende lading springstof, met aluminium aangevuur tot ’n versengende hittegolf, ruk deur die dik staal, verwring dit soos klei en laat die struktuur sissend in die donker water van die Pungwerivier neersyg.

    Ses sekondes later ontsteek die lading teen die romp van die Mosambiekse patrollieboot langsaan en blaas ’n mensgrootte gat reg op die waterlyn. Die wagte op die dek word oorboord gegooi deur die slag voordat die boot terugwieg en water deur ’n gapende wond begin inlaat.

    Oorkant die rivier pluk die skokgolf van die dubbele ontploffing droë blare uit die bome bokant Jos Fourie, laat dit neersif oor hom in sy observasiepos. Langs hom is Raubie Naudé se swartgesmeerde gesig vir ’n oomblik sigbaar, verlig toe die tweede lading suksesvol afgaan.

    Hulle kan dit later vier. Nou moet hulle eers verdwyn, voor alle hel by die Frelimo-basis oorkant die rivier losbars. Raubie, die spanleier, beduie met sy kop na die draai in die rivier regs van hulle, waar die ander twee lede van die groep die Klepper-kano’s oppas en hul agterhoede beskerm.

    Hulle kruip agteruit, gryp rugsakke op pad en begin geruisloos hul eksfiltrasie deur die donker Mosambiekse bos.

    By die opslagplek hou Raubie sy vuis omhoog, fluit laag en sag, en wag vir die antwoord. Dit kom en hulle tree versigtig vorentoe.

    Voor hulle word die bos mens – twee figure met donker klere wat uit vormloosheid verrys, wapens borshoogte gehou. Vir ’n paar gespanne sekondes staar hulle mekaar aan. Dan sak die wapens.

    Die bonkige Carlos Viyera wys met sy AK47: Kom! Hy wag nie, swaai om en beweeg stil teen die rivieroewer af. Jos en Raubie volg versigtig, hul nagsig nog nie heeltemal herstel na die helder flitse nie. Agter hulle hurk Tex Texeira in die paadjie, sy ore gespits vir enige agtervolging terwyl hulle oppak.

    Die Kleppers is binne minute gelaai, dryfgras bo-oor gestapel om die buitelyne te verberg. Hulle is gereed om die nag in te verdwyn, stroomaf tot by die kus, waar die duikboot wag.

    Oorkant die rivier is die nag nou kakofonies, hard genoeg dat Carlos vir die eerste keer na sewe dae se byna woordelose infiltrasie hardop kan praat: Vamos, meus amigos! Kom ons gaan huis toe.

    1

    Vastrap, Kalahari

    Die plaas Vastrap lê diep in die Kalahari-duineveld. Golwende rooi sand wat oor dekades neergesif het, weggevreet en herbou totdat die swart rondings deurvleg is met donker swaarmetaal-aksente.

    Dis die donker strepe wat jou voete brand, wat jou met hoogson van skaduwee na skaduwee laat hardloop om jou voetsole te spaar.

    Die witgatwortel het die digste skaduwee. Koel sand onder sy swartgroen blare en genoeg loof bo jou kop vir ’n bietjie lafenis as jy daar wil vertoef.

    Dis hier waar die veewagter nou hurk, ’n boog in die sand voor hom geplant. Sy geplooide gesig is opgeskroef teen die helder son, maar die hitte maak hom niks.

    Vyftig jaar se leef in die woestyn het N//arson Lys se vel kliphard gebraai.

    Die veewagter het dekades gelede uit die bloute oor die Moloporivier hier opgedaag. Bloot by die wit man aangekom en gesê die duusman moet gaan kyk, sy skape is deur die lyndraad. Loop nou in anderman se grond. Die draad is stukkend daar in die verste hoek, by die hoë duine. Daar’s beter weiding oorkant.

    Die wit man het gesê daai sand is te dik vir sy Ford. En gevra of N//arson werk soek. Hy’t gesê net blyplek, bietjie kos, duusman. Hy sal die skape oppas. Die wit man het sy skouers opgehaal. Meel en sout het die kontrak verseël.

    Die twee het min gepraat. Die wit man het nie !kung geken nie, en N//arson het min Afrikaans gehad. Maar N//arson het nie geselskap gesoek nie. Die wit man ook nie. Hy wou net sy skape opgepas hê.

    N//arson Lys het ’n heenkome gehad. ’n Takhutjie met suurgras bedek in ’n duinstraat, uit die oog en die bek van die wind.

    Toe is die wit man dood.

    N//arson het dit sien kom, in die droom. Dis hoekom hy uit die duine teruggekom het plaas toe. Net daar gewag, onder ’n ruggebreekte kameeldoring langs die werf, in die laaste koelte van ’n tak wat ophou baklei het. Soos die siek man daar onder in die huis. ’n Kwessie van tyd voor dit inval en een word met die rooi grond.

    Hy het hom daar begrawe, die wit man, daar onder die boom.

    Toe kom die nuwe wit man. Die een met die droogte in die oë. Alleen in die groot huis, sonder vrougoed. En die drome wys dis ook sy laaste rusplek dié.

    N//arson tuur in die verte, na die wit kalkvlakte tussen die rooiduin en die pad waar die soldate so hard gewerk het in die hitte. Na die sementput met die diep skag wat hulle jare terug hier kom grou en net so laat staan het.

    N//arson verstaan nie die wit mense nie. ’n Put sonder water maak tog nie sin nie.

    2

    Mosambiekse kus

    20 November 1987

    ’n Duikboot is ’n benoude ding. Jy bly in almal se pad.

    Jos Fourie en die ander spanlede sit saam met die intelligensie-offisier in ’n kajuit vasgekluister. Hy weet hulle stink vir die offisier. Hul Frelimo-uniforms is vol droë modder, styf en kriewelrig van salpeter na dae se oplê in die bos met sy muskietswerms.

    Raubie gee nou terugvoer oor die demolisie van die treinbrug. Oorkant hulle sit Tex en Carlos stil, rûe teen die wand. Die twee Portugeessprekende operateurs is van hul sustersregiment, 5 VR, en moes met die infiltrasie help en toevallige kontak met die plaaslike bevolking hanteer. Ook maar goed. Carlos, ’n Angolees, moes hulle twee keer uit onverwagse ontmoetings met veewagters praat.

    Met die debrief uit die pad, laat die intelligensie-offisier hulle alleen om te rus. Dis vir ’n paar tellings stil in die kajuit.

    Raubie staan hande in die sye, kyk die spanlede beurtelings aan.

    Netjies, boys.

    Vir nou is dit genoeg. Hulle knik moeg.

    Jos voel hoe die dae se spanning uit sy lyf sypel. Tog is hy uitgelate. Hulle is ongesiens in en uit, en hy het sy deel gedoen. Dit voel goed.

    * * *

    Jos Fourie het dit nog altyd maklik gehad.

    Sy ouers het groot verwagtinge vir hul seun gekoester. Geneties geseën, die skool se topswemmer, akademies onder die eerste tien in sy klas. Dis miskien waarom hulle hom Josua gedoop het, wat hy bitter gou verkort het.

    Alles is netjies beplan. ’n Loopbaan in die regte, ’n junior vennootskap by Fourie & Fourie. Ingelyf. Jou plek is gereserveer onder die Paarlse adel. Maar diep in sy binneste het hy geweet hy wou iets anders doen, nie voldoen aan die verwagtinge nie.

    Teen sy matriekjaar het sy rebellie daarteen fermer ingeskop. Hy het eers sag hulle koppe probeer swaai. Suggesties van ’n ander loopbaan. Wat anders wil jy doen? Hy kon nie sê nie. Hulle sou ontplof.

    Die wete, die besliste oortuiging, het gekom na ’n paar eenkant-gesprekke met sy oom. Kommandant Robert Fourie, sy pa se jonger broer – en sy held. Die bevelvoerder van 4 Verkenningsregiment, Langebaan.

    Robert het gewoonlik aan die einde van die jaar half teensinnig by die strandhuis op Hermanus ingeloer. Hy’t probeer om die Fouries se gewone stroom gaste op hul vakansie-onthale te vermy. Die stug aktuaris-hoofbestuurder van Sanlam. Die Franschhoekse eiendomsontwikkelaar en haar man, ’n waagkapitalis en finansier.

    Robert, kort, fris en breed van skouer, het ’n bier bo die gevierde wyn daar binne verkies. Ook Jos se geselskap, die lang stiltes om die braaivleisvuur, albei gemaklik met die minimale kommunikasie wat net sommige mense verstaan, gewoonlik mans.

    Dis hier waar die geskil tussen die Fouries en hul kind op die spits gedryf is daardie laaste Desembervakansie voor Jos se universiteitsloopbaan sou begin.

    Hy het gefassineer geluister hoe Robert vertel van die harde opleiding, die karakters wat hy leer ken het. Sy verwysings na geheime operasies het Jos se verbeelding aangegryp.

    Recces. Die elite. ’n Misterieuse wêreld van ’n baie spesiale talent en koverte operasies wat ’n naïewe, adolessente verbeelding oorweldig het. Dís wat hy wou doen. Nie regte nie.

    Die besluit het maklik, natuurlik gekom. Ironies genoeg aangevuur deur sy ouers se jare lange kondisionering, hul konstante herinnering aan sy historiese en genetiese meerderwaardigheid. Hy was beter as ander. Nie omdat hulle dit so direk gestel het nie. Die wete is tuisgebring deur die gemak waarmee alles gekom het. Sport, akademie, die girls.

    Robert Fourie het dit raakgesien. Jos se selfstandige denke en vertroue in homself. Alles wat die keurders soek, die vermoë om plan te maak, dan met beslistheid op te tree in situasies waar elke sekonde tel.

    Jou pa wil hê jy moet gaan regte swot?

    Ja, oom. Stellenbosch.

    En jy wil nie?

    Ek wil recces toe.

    Robert het dit lankal sien kom. Stil en geduldig gewag daarvoor, ingeval hy die skuld kry vir die kind se kopswaai. Dit moes Jos se besluit wees. En hier is dit nou. Hy het dit laat hang, Jos nie daaruit probeer praat of dit probeer aanwakker nie.

    Hoekom?

    Jos het nog ’n stomp rooikrans op die vlamme gegooi en gekyk hoe die vonke opvlieg.

    Seker omdat ons land sulke mense nodig het, oom. Vir jobs wat die gewone troepe nie kan doen nie.

    Dis baie edel van jou, maar jy gaan niemand daarmee oortuig nie. Allermins jou pa-hulle. En nog minder enige Spesmagte-keurder. Probeer weer.

    Oom Rob, ek weet nie regtig hoe om dit te sê nie. Die gedagte aan ’n job by my pa-hulle, in die praktyk … dit klink so vervelig.

    Die teenoorgestelde van ’n vervelige regspraktyk is nie ’n loopbaan in die recces nie, Jos. Daar is ’n menigte meer opwindende jobs daar buite. Minder gevaarlike goed.

    Is seker so, oom. Maar … van die stories en die mense waarvan oom al vertel het … elke keer as ek dit hoor, klink dit of oom van mý praat. Dis ék daai. Dis asof ek daar hoort. En ek weet ek sal dit kan dit doen, oom. Skiet en hardloop en uithou en so aan. Ek wéét dit net.

    Jy glorify die werk nou.

    Oom?

    Operator wees is nie cowboy speel nie, Jos. Jy bly uit die oog, jy bly buite skoot, jy verken en fok stil daar weg. Recce is verkenning, dis nie firefights nie. Jy los dit vir die infanterie. Jy sal verstaan wat ek sê die eerste keer as jy vuur trek en moet terugskiet. Of ’n lewe moet neem. Ouens pis hulleself nat of kots agterna. Oorlog is ’n ander storie, Jos. Moenie dit idealiseer nie.

    Die ferm trek op sy broerskind se gesig het gewys sy argumente maak geen verskil nie.

    Jy gaan dit self aan jou ouers moet verkoop, Jos. Ek kan jou nie help nie. Jou ma is klaar die donner in vir my.

    Die res het blitssnel gebeur. Jos se pa se opsigtelike teleurstelling, sy ma se yskoue afkeer, daarna die dae lange stilte in die huis. Tot hulle ’n skikking bereik het. ’n Kontrak om te kom regte swot as hy nie die recce-keuring en -kursus slaag nie. Slegs dan sou sy ouers vir sy studies betaal.

    Jos het diep asemgehaal en geteken, seergemaak deur die formele kontraktering van sy toekoms. Dit was ook die laaste vakansie wat hy saam met sy ouers deurgebring het.

    Met kommandant Robert Fourie se hulp is hy opgeroep Vloot toe vir sy diensplig, vinnig gevolg deur keuring en oorplasing na die duikeenheid.

    Na ’n jaar se duikopleiding het hy by die Staande Mag aangesluit en by die Spesmagte-proses ingeval: keuring en kwalifikasie, toe sy valskermkursus en die oorplasing na Donkergat by Langebaan vir gespesialiseerde seewaartse opleiding.

    Konstante uitputting, nimmereindigende watertrap en die angs van langafstandswem in die pikdonker nag. Daarna demolisie, ontplooiing uit aanvalsbote, infiltrasie en verkenning.

    Hy het alles opgeslurp, die kuns van vinnige, besliste optrede in selfs die moeilikste omstandighede gou bemeester. Uitgeblink in sowel die tegniese as fisieke aspekte van sy opleiding. Hy móés alles slaag. Miskien om sy besluit te regverdig. Miskien om aan homself te bewys dat sy onwrikbare geloof in sy eie vermoëns nie blote arrogansie was nie. Hy moes hulle eenvoudig wys.

    Kommandant Robert Fourie was in sy stilligheid trots en het die instrukteurs en keurders se terugvoer noukeurig op die jong operateur se legger aangeteken. Jos se vindingrykheid onder druk, sy hoë strestoleransie en vermoë om onafhanklik van ander te kon optree, is gou met bevordering beloon.

    Toegegee, hy’t gesien Jos was nie lief vir reëls nie. Maar dis iets wat hy tersluiks onder sy operateurs aangemoedig het. Jy moes kon plan maak wanneer dit nodig was.

    Soos eergister, toe sy groep in hul oplegposisie oorkant die bank van die Frelimo-basis finaal besef het hul plan gaan nie werk nie. Die patrollieboot wat langs die brug vasgemeer was, en die wagte daarop, was komplikasies wat nie voorsien is nie. Dit het nadering per kano hopeloos te gevaarlik gemaak. Selfs nou, met donkermaan.

    Dit was ’n boomstomp wat stroomaf gedryf het wat Jos die plan gegee het. Kom ons kry ’n stomp, laai die sakke springstof daarop en dryf in die donker af tot onder die brug, stel die ladings, en dryf stil weg en steek weer die rivier oor.

    Tex en Carlos het saamgestem. Hoe langer hulle hier wag, hoe groter is die kans dat hulle in ’n Frelimo-patrollie vasloop. Kom ons kry dit gedoen.

    Raubie is saam met hom stroomop tot hulle ’n geskikte stomp gekry het. Met die springstof in sakke bo-op onder gras gekamoefleer, kon hy ongesiens langsaan saamdryf, stil kant toe skop en inbeweeg om die ladings te plant.

    Jos het een lading PETN spesiaal vir die patrollieboot gehou. Hulle het nie geselskap gesoek vir die terugtog nie.

    Die half-aan-die-slaap wagte op die boot was die grootste probleem. As iets sou verkeerd loop, sou sy spanlede hom nie kon help nie. Hulle was oorkant die rivier met hopeloos te min vuurkrag. En buitendien was dit die reël: jou buddies vat die pad sodat niemand anders gevang word nie.

    Hy moes die magnetiese brugladings feitlik binne sig van die wagte plaas. Sy senuwees was snaarstyf gespan terwyl hy druppend van stut tot stut onder die brug beweeg het. Dit was die langste vier minute van sy lewe.

    Toe weer af na die waterlyn, stil terug in die warm water. En, met die laaste lading gereed in sy hand, met die stomp weer die stroom in tot teen die boot se romp. Die lading was reeds bewapen en binne sekondes sag geplaas terwyl die wagte bo hom staan en rook het. Jos het daarna klouend aan die stomp by die stroom af verdwyn, die gedagte aan krokodille en seekoeie met mening eenkant toe gestoot.

    Dit het soos eeue gevoel voor hy die oorkantste oewer bereik het. Toe die halfuur van gespanne wag voor die tydmeganisme afgaan, ruim tyd vir die brugpatrollie om die ladings te ontdek.

    Geen wonder hy voel so gedreineer nie, dink hy nou. Goddank hy kon kalm bly deur alles. Toe lê hy sy kop neer en slaap.

    3

    Unter den Linden, Oos-Berlyn,

    Ampt der Kommerzielle Koordinierung

    20 November 1987

    Alexander Golodkowski kou aan die agterkant van ’n plastiek-staatspen, verdiep in die notas wat hy pas op ’n vel papier gemaak het. Sy byna vierkantige gesig toon die onvermydelike spore van sowel swaartekrag as ’n bankrot republiek. Onder ’n kop blinkgesmeerde hare spreek die diep sakke onder sy oë en sy hangende wange van nagte se wakker lê.

    As hoof van die Kommerzielle Koordinierung in die Oos-Duitse Republiek is dit sy taak om buitelandse valuta te verdien. Op enige moontlike manier. Wapens, ammunisie, selfs deur die verkoop van Oos-Duitse politieke gevangenes en ’n gesmous met tegnologies gevorderde produkte.

    Die eertydse droom van ’n selfstandige Kommunistiese republiek is lankal aan skerwe. In die plek daarvan, ’n sukkelende staat gedryf deur korrupsie, desperate geldsug, onderhou deur vrees vir die geheime Stasi waarin hy soveel jare gedien het.

    In sy duister wêreld is jou vyand jou vriend solank hy sy beursie oopmaak. Maar hy’t al jare vrede daarmee, sy vroeëre ideale diep onder ’n hoop geheime transaksies begrawe. Dis immers onafwendbaar dat die hele spulletjie die een of ander tyd sal ineenstort.

    Daarom is hy geensins verbaas oor die oproep wat hy pas ontvang het nie. Bevestiging van nog so ’n transaksie. Missiele dié keer, vir sy goeie vriend Jean Bertrand in Parys.

    Die diskrete middelman.

    Soos gewoonlik is die uiteindelike koper se identiteit geheim. Nie dat dit nodig was nie, want missiele bestem vir Angola kan net een ding beteken. Dis wapens vir die vyand: Suid-Afrika, en uiteindelik seker Unita.

    Dit is een ding wat hy nie vir sy meesters kan wegsteek nie.

    Konstanz! roep Golodkowski sy sekretaris terug.

    Die kort, bleek amptenaar is onmiddellik in die deur, notaboek in die hand.

    Stuur ’n sein aan ons kollegas in Moskou. Merk dit geheim. Rig dit aan Ilyich Serov, KGB. Prioriteit. Dit lees soos volg …

    Hy sit agteroor en dikteer dit stadig, metodies, ’n opsomming van die aantreklike aanbod op sy lessenaar. Daarmee saam, ’n plan om meer as slegs op geldelike wyse munt te slaan uit ’n situasie wat pas in sy skoot beland het.

    4

    Fisher Island-gholfbaan,

    Miami, Florida

    21 November 1987

    Jean Bertrand is moeg na sy transatlantiese vlug. Hy wieg van die een voet na die ander om die pyn in sy lae rug te verlig, taamlik verontrus omdat hy met ’n kontinentale snyerspak op ’n gholfbaan staan. Hy weet hy is opsigtelik. In sy besigheid is anonimiteit koning.

    Daar was nie tyd om iets aan te trek wat meer geskik is nie. Sekere dinge, soos om wapentransaksies aan te gaan en sensitiewe inligting oor te dra, kan jy net in lewende lywe doen. Daarom moet hy maar reis. Buitendien is dit veiliger hier buite. Mure het ore.

    Die pyn in sy lae rug is die gevolg van ’n onderonsie in Marokko. ’n Transaksie wat ondanks sy noukeurige beplanning skeefgeloop het. Dit is soms onvermydelik, weet hy, en wonder wanneer die volgende aanslag sal kom. Waarskynlik van ’n stilgemaakte .22 in ’n stegie naby sy Paryse appartement.

    Hy wag geduldig dat sy vriend van die tweede bof moet afslaan. Net nege putjies, het David Duncan beloof, dan’s ons terug.

    Voor hom skuifel Duncan sy voete. Hy’s oorgewig, in ’n geruite blou gholfbroek en geel hemp ondanks die gholfbaan se stemmigheidsvoorskrifte.

    Die goeie lewe wys om sy heupe, wat komieklik wieg voor sy bofhou. Hy swaai met mening deur, maar tel sy kop te vroeg op, haak die bal en bunker dit.

    Mo-ther-fuck-er! Sy bos rooi hare wip met elke lettergreep. Hy kap die houtstok deur die lug, woedend. Hy swaai om na Bertrand. Jy’t dit gesien, nè? Ek doen alles reg. Vir wat betaal ek daai gholf-pro so baie? Ek speel soos ’n paloeka!

    David, kalmeer. Hou jou kop af. Ek sal die bal volg. Moenie jy dit doen nie. Probeer weer.

    Die volgende hou is aansienlik beter en die bal bly in die speelveld. Duncan gly sy stok grommend terug in die sak en die twee begin langsaam die tweehonderd meter na die volgende hou toe stap. Hulle is alleen op die baan, ’n lushof op die klein eiland aan die Miami-strandfront. Maar nou’s dit tyd vir besigheid.

    David, jy het nog kontak met die Firma?

    Duncan steek vas. Natuurlik. Hoekom? Het jy iets vir hulle?

    As vertroulike informant vir die FBI en later die CIA het Duncan deur die jare goed geld gemaak deur ewewigtig oor die Ierse, Italiaanse en Russiese mafia in New York se bedrywighede te klik. Maar dis ’n werkwyse met ’n beperkte raklewe. Sy stil aftrede hierso was minder van ’n leefstylbesluit as wat dit ’n kwessie van oorlewing is. En nou vang die verveling hom. Enige afleiding is welkom, veral as daar geld ter sprake mag wees.

    Ja, ek dink so.

    Duncan leun op sy stok, die spel vergete.

    Watsit?

    Kan jy vir my ’n ontmoeting reël, my vriend? Ek het ’n boodskap van die KGB.

    5

    Kantoor van die Minister van Verdediging,

    Uniegebou, Pretoria

    21 November 1987

    Waarmee het jy geskiet?

    My .375. Is maar die beste vir die grootwild, sê die brigadier, teekoppie in die hand. Lekker lang horings ook. Reken ses-en-twintig duim. Nekskoot op so tweehonderd tree.

    Kolonel Swartjan Beetge luister met ’n halwe oor na die groep offisiere se jagstories. Sy gedagtes dwaal altyd wanneer die lede van die Veiligheidsraad begin jag praat. Daar’s sekerlik dringender dinge om jou mee op te hou.

    As operasionele hoof van Teenintelligensie by Nasionale Intelligensie moes hy die weeklikse sieldodende vergadering met die minister van verdediging, generaal Mike Rautenbach, bywoon. Bloot as adviseur, ’n agterbanker wat slegs nou en dan oor ’n feit geraadpleeg is, ’n toedrag van sake wat sy sin vir humor geen guns bewys het nie.

    Dis die uithangplek vir lede van die militêre en intelligensiegemeenskappe, ’n geleentheid vir terugvoer oor projekte en operasies, bedreigings en taktiese response daarop. Die werkkamer van die Suid-Afrikaanse regering en sy weerstand teen die Rooi Gevaar en Totale Aanslag van die Kommunisme, soos die president hulle gereeld herinner.

    Dis terselfdertyd ’n addernes van politieke rugstekery en faksies binne die kabinet. Partypolitieke en persoonlike wedywering wat Beetge ontstig omdat dit die veel dringender kwessie van blanke oorlewing totaal oorheers. Broedertwis, ja. Alles ten koste van Afrikaner-solidariteit.

    Dit het hom verbitterd gelaat. Die regerende party se totale miskenning van die land se werklike strategiese en politieke prioriteite, die vae veralgemenings waarmee die kabinet ’n politieke toekoms vir die stemloses wil uitstippel, en bowenal hul gebrek aan ’n daadwerklike plan, walg hom.

    Ja, hy weet van die agterlangse gesprekke met die ANC-terroriste. Swartjan Beetge weet alles. En hy skud daagliks sy kop in ongeloof oor die naïwiteit waarmee die regering wit oorlewing in die land probeer verseker. Het hulle niks uit soveel vorige pogings geleer nie? Het Afrika nie genoeg voorbeelde voorsien van hoe jy dit nié doen nie? Dat jy nie uit ’n posisie van swakheid kan onderhandel nie?

    Nee. Die probleem lê by die gebrek aan doeltreffende leierskap. Die gebrek aan ’n duidelike, kragdadige pad. Maar hy, Swartjan Beetge, hy weet wat nodig is. Daarom sal hy sy bek hou en stil aangaan.

    Beetge se oë dwaal, vang dié van die minister, wat hom met die oë konferensiekamer toe beduie. Hy stap vooruit en Beetge volg. Daar gekom, stoot die minister die swaar houtdeur agter hulle toe.

    Beetge is in sy gebruiklike netjiese donker pak, die elmboë effe blink van lang ure by sy lessenaar. Hy is skraal en benerig, met ’n vol bos hare wat grys word om die slape. Onder dit, ’n donker gelaat en swaarraam-leesbril wat hom die alledaagse voorkoms van ’n beroepsburokraat gee. Tot sy ysblou oë jou vaspen en jy die intelligensiemens agter die anonieme voorkoms raaksien.

    Jan, ons moet gesels. Jy’t tyd?

    Beetge knik.

    Rautenbach lyk moeg, afgerem deur die druk van die Bosoorlog en die nimmereindigende frustrasie van politieke druk wat in die pad staan van sy praktiese, militêre gesindheid om dinge gedoen te kry. Hy hang sy grys baadjie oor ’n stoel se rugleuning, rol sy moue netjies op soos die regulasies van sy uniformdae bepaal het. Sy arms is steeds bruingebrand en hy is fiks en lenig vir sy agt-en-vyftig jaar, sy selfdissipline nog nie op civviestraat versag nie.

    Hy gaan sit op die rand van die konferensietafel, staar vir ’n oomblik voor hom.

    Jy het die sitrep gelees van die Mirage wat hierdie week afgeskiet is? Die vlieënier het dit net-net teruggemaak Rundu toe. Maar hy moes sonder brieke of parachute land. Overshoot toe die runway. Die uitskietstoel het geaktiveer en sy rug is in die ongeluk gebreek. Hy herstel nou in 1 Mil. Kaptein James Swart. Hy sal nooit weer loop nie. Tragies, ja.

    Dit was nie in die sitrep nie.

    Rautenbach vou sy arms, sy voorkop in ’n frons gekeep. "Ons Mirages is net nie meer opgewasse teen die MiGs nie. Veral nie met die ekstra brandstoftenks nie. Dit maak hulle net nog stadiger. En dit help ook nie dat ons radar by Rundu blind is onder vier-en-twintigduisend voet noorde toe nie. Ons manne vlieg onbeskermd in.

    Ons kan nie ons boys so blootstel nie, Jan. Die baas het gevra ons moet plan maak. En die hemel weet, ons gaan. Ek moet weer op jou nommer druk.

    Die minister het gereeld sy frustrasie oor die Weste se verraad teenoor Suid-Afrika erken, hoe die Verenigde Nasies se wapenboikot hulle seermaak. Die swartmark is deesdae hul enigste opsie, en Beetge se uitgebreide netwerk van kontakte wêreldwyd word gereeld ingespan vir die koverte vervoer van verbode materiaal en wapentuig.

    Beetge sien hoe die voormalige soldaat se opleiding oorneem. As jy in ’n hoek is, skiet jy jou pad uit. Rautenbach voel-voel agter hom op die tafel en trek ’n bruin legger nader. Uiters Geheim is in rooi boaan gestempel.

    "Dit lyk of ons darem iets het. Ons het pas intel gekry dat Unita ’n paar missiellanseerders by die Kubane afgevat het. SA-9 Gaskins. Alles in werkende toestand. Hulle het net ammo nodig daarvoor. Dit gee my toe ’n idee. As ons nie die Mirages kan vervang nie, moet ons ten minste probeer om die lugruim van die grond af te beheer. Deur Unita.

    "Ek het die versoek deurgesit na Krygkor, en hulle het jou wragtag ’n klomp ammo te koop opgespoor. Die stelsel word nie meer gemaak nie, so lyk my hier is nou ou voorraad beskikbaar. Maar heeltemal bruikbaar vir ons doel. Ons moet dit net hier kry.

    Hier’s al die besonderhede. Ons gaan dit met ’n ompad moet inbring, soos gewoonlik. Jou spesialiteit. Jou kontak is Tonie du Plessis by Krygkor. Jy ken hom?

    Beetge knik. Hy het al met Du Plessis en sy kollegas by die Paryse ambassade saamgewerk, voerkanaal vir die meeste van die koverte wapenaankope.

    Reël vir ons daai vrag, Jan. Laat dit in Walvisbaai aflewer. Maak seker dis veilig. As jy sien by wie ons dit koop, sal jy verstaan. Ek vertrou nie die vrede nie. Hy stoot die legger na hom toe. Beetge tel dit op en wil begin blaai, maar die minister is nog nie klaar nie.

    Jan, dis nie al nie.

    Beetge frons, wag. Hy het iets vermoed, maar wou niks sê nie.

    Daar’s nog iets. Groters. Rautenbach dink kennelik diep. Die staatspresident wil die militêre kernprogram staak, Jan.

    Beetge se oë rek. Die regering se grootste troefkaart? Is die mense stapelgek?

    Sedert die sewentigerjare het die land stil-stil by Valindaba sy kernbom-bouprogram bedryf. Andersins onverkrygbare tegnologie is stadig maar seker self ontwikkel, en ’n nuwe tegniek vir uraanverryking met tipiese Suid-Afrikaanse vindingrykheid vervolmaak. Die vordering was pynlik stadig en die uraan kon net in frustrerend klein hoeveelhede tot wapengraad verryk word.

    Die program het nogtans voortgegaan. Die doel was ’n werkende kernbom, ’n afskrikmiddel eerder as ’n taktiese wapen. Beetge het dit ten volle gesteun en die kernprogram nog altyd as een van die doeltreffendste oorlewingstrategieë beskou vir ’n land wat jare reeds teen onmenslike druk moet uithou.

    Die program het hulle die vermoë gegee om die vyand op ’n afstand te hou bloot deur fluisteringe dat hulle ’n kernvermoë het. En nou dít – die program staak?

    Hy vee oor sy voorkop. Dis kensgeit. Wie’s daaragter? Hy kan sy woede skaars verberg.

    Die SP dryf dit self. Hy en jou baas. Kyk hier. Rautenbach en die hoof van NI, Roelf Vermaak, is nie juis vriende nie. Hy hou ’n vel papier na Beetge uit. CIA-verslag. Roelf se mense het dit onderskep.

    Beetge se oë flits oor die kort verslag, ’n ontleding van die Suid-Afrikaanse kernprogram, kapasiteit en die strategiese moontlikhede. Hy kyk na die laaste, opsommende paragraaf:

    … weet die sekurokrate in die Suid-Afrikaanse leierskap dat ’n kerntoets onmiddellik herken sou word. ’n Lewendige kerntoets kon dus vertolk word as ’n doelbewuste poging om die wêreldmening teen te gaan, ondanks die risiko van verhoogde sanksies en sensuur op die land. Dit sou enige sensitiewe onderhandelinge waarby die land in hierdie stadium betrokke kon wees, ernstig benadeel. Ons vind hierdie gesindheid heeltemal konsekwent met die weerstandige Afrikaner-wêreldbeskouing …

    Dis niks nuuts nie. Die CIA se besorgdheid oor militêre invloed op die regering.

    So? Beetge gee die vel papier terug.

    Wel, die president het klaarblyklik reeds besluit. Die uraanaanlegte gaan omskep word vir vredesdoeleindes. Om laagverrykte uraan aan Koeberg te verskaf, niks meer uraan-235 vir die bomprogram nie. Hulle wil dit stelselmatig toemaak.

    Twee dekades se harde werk!

    Presies. Net om druk oor die kort termyn te verlig. Soos jy sê, kensgeit.

    Beetge is bewus van die chaos in die kabinet. Selfs die Broederbond het nou al met die ANC in ballingskap gaan gesels. Die mense is versteurd. Die pogings tot politieke transformasie is so gefragmenteer dat dit noodwendig onbedoelde gevolge sal hê, soos wat hy al telkemale aan sy baas uitgewys het.

    Roelf Vermaak, ’n voormalige direkteur-generaal uit die staatsdiens, het gereeld met Rautenbach kop gestamp. Die minister is ’n paar jaar gelede uit die frontlinie in Suidwes-Afrika gepluk om in die kabinet diens te doen. Die soort mens wat glo dade dra meer gewig as diplomasie.

    Waaroor die twee veral verskil het, was hoe om die politieke verwarring te beëindig. Vermaak, ’n fyn strateeg, het geglo enige verandering moet op ’n ordelike manier geskied. Rautenbach was weer oortuig ’n mens kan net met kragdadigheid onderhandel, en het alles in sy vermoë gedoen om die weermag en polisie te versterk. Orde eerstens. Binnelands en buitelands. Dan praat ons.

    Beetge was geneig om die minister se kant te kies, want dit is bloot die vermoede van ’n moontlike Suid-Afrikaanse kernretaliasie wat tot dusver die VSA en ander Westerse moondhede suksesvol verhinder het om die SAW uit Angola te verwilder. Omdat hulle bang was dat die sterk militêre invloedsgroep binne die Veiligheidsraad sy ongesproke dreigement sou uitvoer en Angola se suidweste platvee. Die Kubaanse probleem eens en vir altyd oplos.

    Die plan is ’n paar jaar gelede in die wiele gery toe ’n satelliet foto’s geneem het van twee toetsskagte op ’n plaas in die Kalahari. Die Amerikaanse Intelligensiediens het die regering daarmee gekonfronteer en die politieke druk verder met die dreigement van algehele sanksies verhoog. Die toetsterrein is oornag ontruim voor die Verenigde Nasies se kerninspekteurs opgedaag het, en die toetsskagte is bedek.

    Vyf kerntoestelle is voltooi, maar nooit getoets nie – die regering steeds tandeloos teen Westerse druk.

    Rautenbach kyk hom stip, ondersoekend aan.

    Jan, wat ek nou gaan sê, bly tussen ons. Reg so?

    Beetge knik.

    "Ek is nou meer as ooit oortuig ons moet ’n kerntoestel toets. Dis strategies noodsaaklik. Of die Veiligheidsraad dit nou wil hê of nie. Ons moet dit eenvoudig doen en klaarkry. Maak nie saak of ons die bom ooit gebruik nie, ons moet wys ons kán. Anders gaan die buitewêreld ons en ons vermoëns net nooit ernstig opneem nie.

    Ek sal eerder later om verskoning vra as om met leë hande te bly staan. En ek wil hê jy moet dit laat gebeur, Jan. In die geheim. Buite die bestaande kanale. Geen papierwerk, absolute sekuriteit. Nie eens jou baas moet weet nie.

    Beetge is stil terwyl die omvang daarvan by hom insink. Dis enorm en dit grens aan verraad. Hulle kyk na mekaar.

    Jan, jy verstaan die implikasies?

    Inderdaad. Hy het geen twyfel dat Mike

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1