Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Tou
Tou
Tou
Ebook407 pages8 hours

Tou

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

’n Moordmasjien wat met die grootste presisie en kundigheid te werk gaan, bes moontlik met die hulp van die Polisie self. Dié selfaangestelde laksmanne moet dringend gestop word, ja, maar ewe dringend is die opspoor van die lekplek in eie geledere, en dit word aan Pine Pienaar alleen toevertrou.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 1, 2011
ISBN9780624051176
Tou

Read more from Piet Steyn

Related to Tou

Related ebooks

Related articles

Reviews for Tou

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Tou - Piet Steyn

    Tou

    Piet Steyn

    Tafelberg

    Aan al my dogters,

    groot en klein

    VIGILANTES BURN RULE OF LAW

    SOUTH AFRICA is a democratic country where the rule of law ought to be respected and upheld.

    None of its citizens have the right to take the law into their own hands by meting out instant justice against people suspected of criminal acts – and nogal using the deplorable necklace method.

    The killing of three criminal suspects by enraged mobs in separate incidents at Diepsloot near Johannesburg and Mmakau in North West at the weekend was appalling.

    The victims were two suspected robbers in Diepsloot and a feared man in Mmakau.

    These horrific deaths must be condemned in the strongest terms.

    There are laws in this country that deal with suspected criminals. They are arrested, tried in a court of law and jailed if convicted.

    The angry mobs had no legal right to carry out the grisly deeds without even affording the victims a day in court to defend the allegations. They should hang their heads in shame. What they did was barbaric.

    The police must intensify their search and haul the culprits before court where they will get the justice they denied the three helpless victims.

    Sowetan, February 27, 2007

    1

    Net ’n gedrup kan gehoor word. Die geritsel en sporadiese klapklanke van reënwater wat van die bome se blare val as die ligte yswindjie hul toppe roer. En dan ook iets anders, iets wat meer gedemp val en ook nie wegsypel nie, maar ’n donker vlek laat.

    Verder niks.

    Die voëls het lankal die nag ingevlieg – toe die gille begin het.

    Nou is daar net die dwalende mis en die donker figure wat stadig aan krakende wit toue in die wind ronddraai. Net die beweging onderskei hulle van die bome se stil swart stamme.

    Een van die figure se kop is agteroor gekantel, sy ken teen die tou wat snaarstyf na bo span. Hy behoort te hoor hoe die ander toue oor die takke skuur. Weldra sal die winterson diep genoeg deur die blare en die mis gedring het sodat hy die ander figure ook kan sien. Maar hy sal hulle kwalik nog kan herken. Hulle oë is wyd oopgesper en hul tonge hang grotesk by vertrekte monde uit. Dit is asof hulle maskers uit die hel opgesit het om hom skrik te maak, weg te jaag uit hierdie nat swart bos wat so probeer klou aan sy grys miskombers, asof dit die afgryse van die nag daarmee wil bedek.

    Bes moontlik voel hy nie eens meer die koue nie. Is dit ’n gebed wat sy lippe roer of die laaste onwillekeurige spiertrillings? Hy sal dit in elk geval nie lank meer kan uithou nie. Voordat die laaste mis voor die gryswit son wyk, sal die krampe in sy bene hom oorlaat aan die genade van die tou wat al hoe stywer om sy nek span en in sy nekvleis begin insny.

    2

    Dis soos in ’n fliek, die dwarrelende grys mis en die donker landskap wat by die motor se venster verbyflits. Dit het ’n hipnotiese uitwerking op hom, laat sy gedagtes lui assosiasies maak, ook omdat hy te lank laas geslaap het. Daarby is die getrommel van die motor se bande op die grondpad en die sagte gesuis van die radio agtergrondmusiek wat hom wegvoer na ’n wêreld sonder misdaad, sonder pyn en bloed.

    Die motor hik oor ’n laagwaterbrug en die skielike val laat sy maag hol saamtrek. Laer af in die spruit is ’n treurwilger, sien hy, en toe die boomskadu lankal uit sig is, bly die swart hangende takke steeds by hom. Netjies uitgekam grond toe, dink hy, soos klein Nina se hare voordat dit gevleg word. En dan draal ’n liedjie sy gedagtes binne. I taught the weeping willow how to cry, cry, cry … Johnny Cash. Hy volg die melodie ’n ruk. Telefoonpale, lae struike en losstaande bome flits verby. Sy kop knik, kantel skuins na agter met sy voorkop teen die ruit. Hy is nou in laatmiddagson tussen pluim- en tamariskbosse aan die voet van ’n hoë wal … ’n wolk gonsende brommers … ’n swart kors bloed … die tone van wat eens ’n fraai meisievoet was, is wyd gesper. Hy ruk sy kop op, dwing sy oë oop, probeer sy gedagtes op iets anders fokus.

    Hy sit ’n ruk weer by die venster en uitstaar. Soek na iets in die donkerte wat sy gedagtes kan vasvang. Maar dan dring die verminkte lyk van die meisie onder die slikdam se wal weer sy gedagtes binne. Ook ander gesigte, foto’s in ’n dossier, ’n blonde poniestert, ’n wye glimlag, kleurbaadjie met erekleurebalkies … Is daar ’n verband tussen hierdie lyk en al die verdwynings? Daar is nou al twee wat dié maand net weg is … die vyfde een die jaar. Almal jong dogters … mooi dogters … Fok!

    ’n Murasie langs ’n afgetakelde boord vrugtebome skuif by die half-toegemiste venster verby, die oorblyfsels van ’n gesin se aspirasies. Die familiebegraafplaas met sy klipmuur is teen die pad. Waar de hel het hulle die klippe in hierdie sandwêreld gekry? Vergete grafstene steek kop uit bokant die rooigras en kakiebos wat die verwaarloosde akker ingeneem het, ’n koplose wit engel met net een vlerk klou verbete aan ’n voetstuk. Selfs daardie grafsteen lyk nou meer lewend as die kind tussen die struike.

    Wat is dit? ’n Moordenaar met ’n siek beheptheid vir jong skooldogters? En waarom is haar lyk dáár gelos? Dit is nie die eerste keer dat hy daar met lyke gekonfronteer is nie. Sal hy ooit die Merriespruitramp van 1994 vergeet, toe daardie selfde slikdam se wal een nag gebreek het en die woonbuurt omskep is in ’n rivier van verswelgende giftige modder? Sewentien lyke is die volgende dae uit daardie stinkende grys gemors getrek. En nou is die kind daar weggegooi, so asof dit sedertdien die stortingsterrein vir lyke geword het.

    Sy moeë verstand stoei nog ’n ruk lank met die gedagte dat dit dalk juis die modderramp was wat die moordenaar geïnspireer het, maar gee dan die stryd teen die vaak gewonne. Sy ken sak op sy bors, beelde en gedagtes word uitgedoof.

    ’n Steekpyn in sy linkerknie laat hom weer regop sit. Hy maak sy been reguit. Niks. As die verdomde ding net ’n slag wil klap!

    Dis nou asof die horison al gryserig word. Terwyl hy sy knie vryf, sien hy ’n groot ingangshek met wit pilare by die venster verbyskiet, rooi en geel weerkaatsers teen die wit pilare wat ’n oomblik lank in die Toyota se ligte verhelder. Hy probeer die naam op die hek ontsyfer, maar te laat, en weer word hy gelaat met ’n herinnering: rooi en geel ligte, die groot vensters van die Dagbreek Supermark. Plakkate met specials soos Omo en Colgate en Diet Coke op die glas geplak … Sy ken sak vas op sy bors … Die swartbord langs die deur adverteer Plate R15, Pap en Vlys R16, Samoesas R5 each, Fresh Pies eweryday R8, Fish ’n Tjips R20 … Tony-die-bleddie-Griek kon nog nooit spel nie. Maar hel, Tony het ’n Xhosa wat die pap maak, poetoepap, lekker krummelrig met ’n dik sjieba van uie en tamaties. Bliksem, wat sal hy nie nou dáárvoor gee nie! Hoekom is die take away-toonbank leeg? Hy sien dit onmiddellik toe hy by die groot glasdeure instorm met die Z88 ’n verlenging van sy uitgestrekte arms. Maar benewens die verlate toonbank is die supermark ook leeg. Hy is ’n oomblik gedisoriënteer. Hy ruik die varsgebakte brood van die bakkery agter in die winkel en die olie van die vis-en-tjips in die hoek. Waar de hel is die bliksems?

    Dan sien hy hulle: Die drie staan by die kasregisters, rooi balaklawas oor hulle gesigte getrek. Dit maak dit net makliker as hulle so in ’n bondel staan.

    Elkeen het ’n wapen in die hand wat hulle gerig hou op die kassiere en ’n paar klante wat op die grond lê.

    Police! Hands up! Throw down your weapons! Polisie, los dit nou! skree hy en klem die Z88 stywer vas. Sy bene is gebuig, die pistool vas in albei hande.

    Rooi spookgesigte met wit oë ruk op, ’n rewolwer se loop ook.

    Nee, los dit! Polisie! skree hy weer, maar dan draai die wapen se drom en die loop spoeg vuur. Die koeël slaan vas in die deur van die Coca-Cola-yskas langs hom, glasstukke spat en koeldrank spuit. Hy trek die sneller twee keer en sien die rooi blertse op die man se bors waar die 9 mm-koeëls vasslaan, sien hoe hy terugsteier oor ’n rak met Simba-skyfies. Hy swaai sy pistool na die ander twee rooi spoke, maar hulle wapens lê reeds op die grond en hulle staan met hulle hande in die lug, kyk by hom verby na iets agter hom.

    Wat de fok is die probleem? Waarna kyk hulle?

    Iewers lui ’n selfoon. ’n Selfoon! Daar was nie …

    Iets is nie reg nie. Dis te maklik. Hoekom kyk hulle nie na hóm nie? Demmit! Hy is die een met die fokken pistool!

    Die drie skote links van hom klink byna soos een. Hy voel weer glas in sy gesig spat en dan word sy linkerbeen onder hom uitgeruk en hy val met sy nek skeef teen die roomyskas. Hy gryp sy been vas; die pistool kletter op die vloer en skuif onder ’n rak met blikkieskos in. Is daar dan ’n vierde bliksem? Daar is veronderstel om net drie te wees!

    Hy rol om, probeer hom agter die roomyskas inwikkel, sukkel om die lewelose been agter hom aan te sleep. Daar’s nie pyn nie. Nog nie. Net ’n bloederige streep op die grys Marley-teëls tussen blikkies spaghetti-in-tamatiesous en rooiboontjies wat agter hom aanrol. Waar de hel is sy backup?

    Dan knal nog skote … dit moet nou hulle wees.

    Super! Jan Doep!

    Superintendent Jan du Plessis maak sy oë oop. Hy kyk ’n oomblik verward rond. Hy is dan in ’n motor en buite is dit nag. Hû? Sy linkerhand is soos ’n klou krampagtig om sy knie geklem.

    Wat’s fout? Slaap jy?

    Hy kyk verleë na Mac wat met ’n geamuseerde glimlag oor die rugleuning van die voorste passasiersitplek na hom loer. Hy hét geslaap, maar verdomp of hy dit gaan erken aan hierdie maergat wat hom so smalend aankyk. Nee, Mac, ek slaap snags, brom hy. Dis hierdie verdomde koue en die nattigheid wat my knie weer hel gee.

    Jy sal moet gaan dat hulle ’n nuwe, blinke insit, jy kan nie so aanneuk nie, sê speurder-inspekteur Mac Stevens, sy blou oë steeds ondersoekend op die kort, stewige man met die bruin borselkop en die stekelrige borselsnor wat in die hoek van die motor vir die koue probeer wegkruip. Sy hande nou diep in sy windbaadjie se sakke, sy nek soos ’n skilpad in die opgeslane kraag weggetrek.

    Ja, ja, sê Jan en sug. Jy klink soos my vrou. Ek het op M-Net gesien hoe doen hulle dit. Dis erger as beesslag.

    Die jong man agter die stuurwiel lig sy pet met sy een hand, krap sy kortgesnyde swart hare en loer met ’n ondeunde glimlag in die truspieël na Jan. Sup, hulle sê jy moet net sorg dat hulle nie die ghriesnippel vergeet nie. Hulle sê partykeer squeak die ding soos ’n geroeste skarnier, dan gee hulle jou net ’n oil-check en ’n ghries en dan is jy weer oukei.

    Boeries, het jy ’n ghriesnippel in jou bek? sê Jan en sien hoe die jong oë in die truspieël vinnig weer die pad opsoek.

    Nee, Sup. Hoekom?

    Dis omtrent al van jou wat permanent beweeg, of ghries jy dit sommer so met al die stront wat jy praat?

    Die voorste twee glimlag vir mekaar, en dan is dit, benewens die grondpadgeruis en die sporadiese klop van ’n klip wat teen die onderstel opspat, ’n ruk lank stil in die motor.

    Die lyk, gisternag by Merriespruit? vra Mac sonder om weer om te kyk na sy kollega op die agtersitplek, en toe Jan net ’n steungeluid laat hoor, sê hy: Moenie worry nie, ons sal die bliksem kry.

    Wat maak jou so seker?

    Mac lig sy regterhand met ’n selfoon daarin. Sakkie het gebel, sê hy. Sy’s gistermiddag saam met ’n ghrieskop by die Swallows weg. In ’n blou Jetta.

    Jan knik. Ek hoop so!

    Stilte.

    Daai is een baie siek blikskottel, brom Mac.

    Hoe ver nog? verander Jan die onderwerp, sy oë stilstarend op die mistroostige winterlandskap. Hy het vir eers genoeg gehad van gisteraand se dinge. Dalk is die probleem waarheen hulle nou onderweg is ’n mooi skoon moord met lekker baie leidrade wat môre al opgelos kan word.

    Mac gooi ’n stuk kougom in die asbak, suig lug deur sy kiestande. Die eerste crime scene is nog so tien k’s verder op hierdie pad.

    Jan kyk na die skraal agterkop met die slierte blonde hare wat onder ’n pet uitsteek. En die tweede een? vra hy toe Mac nie gou genoeg na sy sin voortgaan nie.

    So twee kilo’s verder op ’n tweespoor-plaaspad wat afdraai van dié een.

    Jan sit weer terug teen die kussing en kyk hoe die motorligte aanskuif oor witgerypte velde en gestroopte mielielande. ’n Stroper staan verlate aan die kant van ’n lap grys mielies, sy kake grynsend gerig op bleek mieliekoppe wat koponderstebo aan dooie plante hang. Die mielievretende rooi monster is toegegooi met ’n glinsterende wit rypkombers. Die flou winterson begin nou kol-kol deur die mistigheid breek. Donker groepe bloekoms word soms sigbaar om dan net weer te verdwyn, soms ook die swart gedaantes van vee wat kop omlaag met hulle agterente na die wind staan en herkou.

    Dis koud, vrek koud! Die ryp lê soos kapok en glinster in die kolle waar die son deur die mis breek. Jan wikkel dieper in die sitplek in. Is die heater aan, Boeries. Ek vrek hier agter.

    Die jong man stel aan die truspieël. Ja, Sup, full blast.

    Dit help ook fokkol, brom Jan en trek sy windbreker stywer om hom vas. Hy vryf met hernude ywer oor die litteken wat hy deur sy langbroek aan die binnekant van sy knie kan voel, probeer die been reguit maak. As die knie net ’n slag wil klap, demmit!

    Verdomde koue, brom hy weer en vee ongeduldig met die agterkant van sy hand die nat koue uit sy snor en dan die wasem van die kantruit af.

    Ontspan, Jan, ons is nou daar. Mac haal ’n pakkie Gunston uit sy hemp se sak. Wil jy rook?

    Jan leun vorentoe en vat ’n sigaret uit die pakkie wat Mac oor sy skouer uithou, bly dan vooroorgeleun wag totdat die aansteker se vlam uit die speurder se vuis spring.

    Ta, sê hy en blaas die rook na die kajuit se dak. Hy begin hoes, so erg dat hy begin hyg. Hel! Daar was laas nag te veel sulke siegrets uit te veel verskillende pakkies.

    Sup, my oupa het net so gehoes voordat ons hom ingespit het, soek Boeries weer van voor af skoor. Hy ken superintendent Jan du Plessis al baie jare; het feitlik voor hom grootgeword. Jan en sy pa was in ’n stadium visvangpelle, toe Jan en sy broer At nog saam konstabels in Virginia se kantoor was.

    Kak grappie, Boeries Freislich. Ek weet ek moet die verdomde goed los. Dis net dat hierdie koue …

    Waarheen gaan hierdie grondpad nou eintlik? vra Mac aan Boeries.

    Wesselsbron se rigting, maar die crime scene is nie naby die dorp nie. Lyk my dáár voor is nou iets. Boeries beduie met sy kop na waar blou ligte vaagweg deur die mis gesien kan word.

    Jan leun vorentoe. Stadig kom die toneel in sig. Twee polisievoertuie met flitsende ligte en ’n groot ou swart 280 SE Mercedes met oop deure staan langs die pad. Hou so naby moontlik stil. My knie is te vol stront om ver te loop, brom hy.

    Hy sukkel uit die motor toe Boeries die handrem vastrek en hink oor die los klippe en gruis-sinkplaat na die gebied wat toegespan is met ’n geel lint. Lede van die misdaadondersoekeenheid is by die Mercedes besig.

    Koos! roep Jan van ver af, wink toe die polisiemanne na hom omkyk.

    Kaptein Koos Grundlingh kom nader gestap met ’n weermagjas styf om sy lyf gevou, ’n glimlag op sy breë gesig trek sy oë op skrefies onder sy pet se rand. Jan Doep, my ou maat! En vir wat is my gunsteling-poot vanoggend weer op so ’n stywe been? Ek het jou lankal gesê jy moet daardie knie ’n nuwe skarnier laat insit.

    Ja, ek weet, antwoord Jan binnensmond. Jy sê so, my vrou sê so, én Mac, én Boeries … hy skud die bevelvoerder van die ondersoekgroep se hand, … én om die waarheid te sê elke dom donner wat al van die operasie gehoor het sê so. Wat het hier gebeur?

    Plaasaanval, sê Grundlingh en draai weer om na die Mercedes, of liewer, ’n mislukte plaasaanval. Dit was veronderstel om die getaway te wees dié. Die drywer was die gelukkige een.

    Die gelukkige een? Nou wat maak hom so gelukkig?

    Hy leef nog, maar ook maar net.

    Ek lei af dat daar ongelukkiges ook is?

    Ja, antwoord Koos oor sy skouer terwyl hy ’n ent wegstap, sukkelend met sy gulp en die dik swaar jas se pante.

    Fok, Koos! sê Jan vies, hink stywe been agter hom aan. Ek weet dit is moeilik vir jou om met ons gewone platpote te kommunikeer, maar sê vir my net so min of meer wat gebeur het. Ek belowe jou, die res sal ek self probeer uitvind.

    Daar was vier, beduie Koos met die een hand in die lug terwyl ’n geel straal stoom laat opslaan uit die gerypte gras langs die grondpad. Die drywer en nog drie. Die afdraai na die teikenplaas is so honderd meter verder. Tussen die afdraai en die opstal is die ander drie in ’n bloekombos voorgelê. Die drywer moes hier gewag het. Volgens die spore het iemand hom hier kom haal en ook bos toe gevat.

    Bos toe gevat? Wat het in die bos gebeur?

    Koos grynslag terwyl hy stywebeen aangestap kom en sy gulp toetrek. Gaan kyk maar self, as jy dit kan vat. Die bos is so ’n kilo verder, nie ver van die opstal af nie, maar ek waarsku jou dis nie mooi nie.

    Ag hel, Koos, ek het al alles gesien. Wat het daar gebeur?

    Koos sit sy hand op die speurder se skouer, buk vlugtig vooroor asof hy wil seker maak dat iemand nie agter Jan wegkruip nie, en kyk sy kollega dan vierkant en gemaak besorg in die oë. Kom ek stel dit so, Jan, ou seun, ek hoop nie jy het ’n duur Wimpy-ontbyt gehad nie, want jy gaan dit aflaai daar in die bos. Hy gryns vermakerig. As jy vir my ’n lift het, ry ek saam en gaan wys jou.

    3

    Wanneer sny jy hulle af? Jan draai weg van die toneel wat met ’n geel lint afgekamp is, sy gesig in afgryse op ’n knop getrek. Hy wag nie op Grundlingh se antwoord nie, hink tussen die ylerige bome aan die rand van die bos deur, rem sy windjekker met sy hande in die sakke af oor sy skouers.

    Die plaasdam langs die bloekombos se oppervlak is ’n grys spieël waaraan rafels mis bly kleef. ’n Klomp wit bosluisvoëls vlieg in V-formasie oor die glinsterende vlak in die rigting van die son, rakelings oor die volmaakte spieëlbeeld van hul vlug. ’n Makou raas van bo-op die damwal, klap sy groot vlerke.

    Jan draai terug. In die bos is daar nog net hier en daar kolle waar die mis rondhang tussen skurwe swart stamme en laag-hangende takke. Die grond is nat van die water wat van die blare afdrup. Die honde-eenheid is besig om in die bos rond te snuffel en twee van Koos se kollegas neem grondmonsters onder die drie lyke wat steeds aan wit goiingtoue van takke hang. Hy sien Mac ook daar hurk; van Boeries is daar g’n teken nie.

    Jan skop-skop in die koue, klam grond. ’n Wyle is dit nie die grusaamheid voor hom in die bos wat in sy borskas woel nie, maar die beeld van ’n ander jong man aan ’n stuk blou nylontou. Hy onthou die ruwe knoop aan ’n balk van ’n buitekamer, die dienspistool op ’n netjies opgevoude blou uniform, die brief aan sy vrou en een aan sy bevelvoerder, asof die dikgat bliksem Afrikaans sou verstaan …

    Bliksem! Jan pluk sy kop op na waar die son nou ’n bleek-silwerige bal in die grysheid is.

    … wil eers die grondondersoek afhandel, kom Grundlingh se stem van tussen die bome na hom aangedryf, en dan kom hy self uit die skadu’s te voorskyn, jaskraag teen die wind opgeslaan, aktetas in die hand. Is jy orraait? vra hy. Ek het jou gewaarsku dis nie mooi nie.

    Jan wil vir hom sê dis nie die drie aan die bome nie. Hy wil hom vra of hy al probeer het om met ’n stomp knipmes deur ’n blou nylontou te saag, terwyl jy met die een hand klou aan jou broer se skoppende voete en bid dat jy betyds sal wees … sy lewe dalk kan red … Hy spoeg windaf en vee oor sy gesig, voel die sweet ondanks die koue.

    Tou afsaag sal vir hierdie drie ook nie meer help nie, lankal nie meer nie. Hulle hang amper roerloos, beweeg net effens in die ysige windjie wat oor die vlaktes tussen die bome indruk. Hulle hande is agter die rug vasgebind, en die wit goiingtoue wat met ’n glyknoop om elkeen se nek vas is, loop oor dik bloekomtakke na waar die ander punt iewers aan ’n boomstam vasgemaak is.

    Jan kug. Hoekom lyk hulle so sleg? vra hy, sy stem kraak en hy kyk vinnig af, skop-skop weer in die grond.

    Hulle is nie opgehang soos in ’n skielike nekbreek nie, soos in die valdeur wat oopruk of in die L’Amour-boeke met ’n hou op die perd se gat nie. Hulle is stadig opgetrek. Hulle moes kon voel hoe die lewe …

    Of soos om van ’n buitekamer se tafel af te spring …

    ’n Bloukorhaan vlieg skielik op uit die gras. Kraaak! Kraaak! versplinter hy die helder oggendlug. Die speurders se koppe ruk op, hy hang ’n oomblik lank stil hoog in die lug voordat hy wegswenk om in ’n swartgebrande stuk veld te gaan neerplons.

    Koos, los jou stront! Jan spoeg weer windaf. Is dit nou verdomp nodig om so dramaties te raak? Maar hy kan sien wat sy kollega bedoel. Die lyke se flenters gebyte tonge hang lank by hulle grynsende monde uit. Hulle oë peul uit, witstarend in die halflig – na niks. Die broekspype is nog deurweek van die onbeheerste urine. Wat is die verskil? vra hy, hoewel hy reeds weet wat die antwoord is. Maar dit is asof hy by Grundlingh na ’n sekerheid soek, iets wat sal sin bring na hierdie waansinnige toneel van die mens se onbegrypbare wreedheid.

    As ’n man gewoonweg gehang word, word sy nek vinnig gebreek. Die longe ontvang nie meer neuronboodskappe van die brein af nie en hou op werk. Dit lei na versmoring, ensovoorts, ensovoorts. Hierdie ding was baie stadiger en pynliker. Meer soos ’n verwurging.

    Iemand wóú hulle dus stadig doodmaak, mompel Jan en vou die baadjie stywer om sy lyf. Wraak? Vergelding?

    Wel, dis jou afdeling daai. Al wat ek weet, is dat dit ’n rukkie gevat het en die slagoffers was lank by hulle positiewe. Miskien wou die aanvallers inligting gehad het, ek weet nie.

    Jan kyk die speurder met die groot jas ingedagte aan, en asof iets hom skielik byval, sê hy ongeduldig: Koos, julle moet klaarkry dat hulle kan afkom daar.

    Ons is amper klaar. Sal maar moet kyk wat die lab verder oplewer. Ek dink jy moet hierna ook kyk. Grundlingh lig sy regterknie om sy aktetas daarop oop te maak. Hy haal ’n plastiekkoevert met ’n stuk papier daarin uit.

    Wat is dit?

    Elkeen het so ’n ‘visitekaartjie’ op sy bors vasgespeld gehad. Hierdie een moes losgekom het. Dit het op die grond gelê, onder nommer twee. Grundlingh beduie met sy kop na die middelste lyk.

    Jan hou die koevert in die sonlig. Aan die een kant van die kaartjie is ’n skets van wat lyk soos ’n brandende kers in ’n bak vloeistof. Bokant die skets, in sierskrif, staan: Hof onder die Kruis, en daaronder: Levitikus 24:17.

    Kyk agterop, sê Koos.

    Jan draai die koevert om. Op die ander kant van die kaartjie is ’n lys waarvan elke inskrywing een of meer name, ’n plaasnaam en ’n datum bevat. Van die name herken Jan en hy maak vinnig die afleiding dat dit plaasaanvalle en moorde is waaraan die man aan die tou deur hierdie sogenaamde Hof onder die Kruis skuldig bevind is. Wat se stront is dit die? vra Jan verbaas. Enige idees?

    Nee, hel, ou Jan. Al wat ek weet is dat Levitikus ’n boek in die Bybel is.

    Jan draai die koevert met die kaartjie in die rondte. Het die ander dieselfde skets en teksvers?

    Dit lyk so, net die klagstaat verskil.

    En die skets? Enige idees?

    Nie in hierdie stadium nie.

    Jan merk op dat Mac en Boeries intussen by hulle aangesluit het en nou oor sy skouer loer. Vir ’n wonder is Boeries stil. Jan kan hoor hoe hy sluk; hy kyk op en sien hoe bleek die jong man is. ’n Mens kan nou sien dat hy nog nie lank deel van die eenheid teen georganiseerde misdaad is nie.

    Jan gee die plastiekkoevert aan hulle. Koos, sê hy met sy arms wyd in ’n vraende gebaar, in hierdie stadium verstaan ek bokkerol van hierdie spul. Wat sou jy sê het hier gebeur?

    Dit was ’n plaasaanval wat gefnuik is, dit weet ons. Iemand moes snuf in die neus gekry het. ’n Groep van vier het die aanvallers hier voorgelê, ’n boendoehof gehou en hulle gehang.

    Is dit wat die spoorsnyers sê?

    Ja. Die plaasaanvallers het van die Mercedes af te voet tot hier gekom, op pad na die plaas toe. Koos beduie in die tweespoorpad af.

    En die vier wat hulle hier voorgelê het?

    Die honde het hulle spoor gevolg tot waar hulle ’n ent verder in die een of ander voertuig met groot tyres geklim het, moontlik ’n viertrek. Koos vat hom aan die arm. Kom, hier is nog iets wat jy moet sien. Hy stuur hom na ’n klomp wapens wat teen ’n boomstam gestapel lê. Dit moet die plaasaanvallers se wapens wees. As die boendoehof-ouens dít kon agterlaat, moet hulle self genoeg van hulle eie hê!

    Jan druk op sy knie en hurk steunend by die hoop. Pistole, messe, breekysters. Hulle was sekerlik nie op pad om iewers te gaan bier suip nie. Hy ruik aan ’n plastieksak met stukke rou vleis. "Gif. Two-step, vir die plaas se honde. Jan vat die hand wat Koos na hom uithou en beur regop. En die mense by die opstal?"

    Twee liewe, goeie ou mense, sê Koos. Hulle het van die spul niks geweet totdat ons hulle vanoggend wakker gemaak en daarvan vertel het nie. Daar is ’n man van die uniformtak nóú by hulle.

    Wat het van die Mercedes se bestuurder geword?

    Hy is agter in die poliesvan. Wil jy met hom praat?

    Ja, aan jou bakkies kan ek sien dáár is ook ’n storie, sê Jan moeg. Sê maar …

    Kyk, daardie vent het spook gevang! Jy kan try, maar ek weet nie of jy iets uit hom gaan kry nie. Behalwe as jy miskien slobbertaal verstaan.

    Hoe’t hy losgekom? Tou gebreek?

    Koos glimlag, sy rokerstande laat dit lyk of sy mond vol vroeg-oggendson is. Ons het hom vanmôre hier kom kry. Vasgebind met die tou om die nek, net styf genoeg sodat hy op sy tone kon staan. Ek het nog nie ’n boef gesien wat so bly was om ’n poot te sien nie.

    Nou vir wat sou die spul dit doen? Jan trek aan die borsel-punte van sy snor wat soos ’n nat gordyn oor sy bolip hang. Either jy hang ’n bliksem, óf jy hang hom nie. Jy los hom nie om vanself biltong te word nie.

    Koos haal sy skouers op, trek sy oranje pet laer oor sy oë en steek sy hande in die grys jas se sakke. Hy moes seker kyk, ek weet nie. Dalk moes hy die boodskap uitdra. Miskien wou die moordenaars hom net vasmaak, seker maak dat hy nie weghol nie.

    Ek gaan in elk geval probeer om met hom te praat. Kom julle twee, sê hy vir Mac en Boeries oor sy skouer.

    Mac stamp aan sy jong kollega. Die baas roep, hou nou op om die honde kos te gee. Jy beneuk hulle reuksin.

    Boeries sluk weer aan ’n lastige klewerigheid in sy keel. Jis, Mac, hierdie is erger as op die TV!

    By die vangwa knik Jan vir die uniformman wat by die deur staan. Die konstabel maak die deur oop en die speurder se eerste indruk is dat die wa leeg is. Dan sien

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1