Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die verdwyning van Billy Katz
Die verdwyning van Billy Katz
Die verdwyning van Billy Katz
Ebook462 pages9 hours

Die verdwyning van Billy Katz

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Moordspeurder Ella Neser is terug. Erg hees en met ’n bewing in haar hande wat sy nie vir kolonel Silas Sauls kan wegsteek nie. Maar sy is verbete om haar ou self te herwin. Wanneer sy aangesê word om die spoor te vat van vier geamputeerde voete, ontmoet sy die onkonvensionele oud-speurder Lou Pepler, wat twee dekades gelede die verdwyning van Billy Katz moes probeer oplos. Wat het ’n begrafnisondernemer gemeen met Billy se verdwyning soveel jaar gelede? En is stink Attie regtig verantwoordelik vir die vier linkervoete wat in ’n Checkers-sak in die Botaniese Tuin gevind is? Lou is bereid om Ella met haar voetesaak te help. Maar, soos sy alte goed weet, is niks in die lewe verniet nie . . . En aantreklike Lou Pepler, met ’n voorliefde vir beetsap en sampioene (nie net die gewone eetbare soort nie), is ook ’n man vol geheime.
LanguageAfrikaans
Release dateOct 1, 2015
ISBN9780798171083
Die verdwyning van Billy Katz
Author

Chris Karsten

Karsten is ’n bekroonde skrywer en voormalige joernalis wat in Kanada woon. ​Koms van die motman​ is die derde in die nuwe Ella Neser-reeks. Die voriges sluit in Die dood van ’n goeie vrou en Die verdwyning van Billy Katz. Albei romans is benoem vir die ATKV-prys vir die beste spanningsroman, en Billy Katz ook vir die ATKV-prys vir die beste roman.

Read more from Chris Karsten

Related to Die verdwyning van Billy Katz

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die verdwyning van Billy Katz

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten

    Die verdwyning van Billy Katz

    Chris Karsten

    Human & Rousseau

    Vir Simone

    The man had killed the thing he loved,

    And so he had to die.

    – Oscar Wilde

    1

    Dit lyk soos ’n operasietoneel waarin twee dokters geboë oor ’n pasiënt staan: ’n middeljarige man, kort en stewig, met ’n skalpel, en sy assistent, ’n jonger vrou met ’n blonde vlegsel.

    Die kamera zoem in.

    Onder die skerp lig het die pasiënt se vel ’n tint van loodgrys; sy oë is toe, sy bors oop. Maar daar is geen bloeding nie, geen narkose­masker, geen rekenaarskerms waarop lewensfunksies gemoniteer word nie.

    Die vier TV-kykers is stil, hulle oë stip op die skerm. Ook die verteller swyg eers. Dis of die vertrek sélf sy asem ophou, terwyl die snare en houtblasers van die agtergrondmusiek die skemer ruimtes vul en plegtig daar bly vibreer, ingehoue wag dat die onsigbare dirigent ook die ander instrumente loslaat.

    Van die operasietafel trek die lens terug vir ’n wyer skoot en wys hoe die man die hart uit die bors oplig. Hy betrag dit ’n oomblik, asof verbaas dat dit nie klop soos ’n hart moet klop nie. Die vrou, haar hand vlugtig en goedkeurend op sy skouer, ontvang dit dan in ’n blink metaalkom, al die are afgesnoei, geen polsende, lewegewende orgaan meer nie, net ’n pers stuk vleis.

    Die musiek vervaag en die verteller hervat, haar stem on­betrokke en toonloos terwyl die kamera die vrou met die vlegsel na ’n staaltafel volg. Sy haal die hart uit die kom en plaas dit op ’n disseksie­bord van wit plastiek. Sy gaan sit en kies ’n skalpel uit chirurgiese instrumente netjies uitgestal op ’n metaalskinkbord.

    Die kamera beweeg terug na die bleek liggaam en die fors snyer, sý vel ’n tint van melkerige tee. Hy hou nou ’n ystersaag vas. Met sy ander hand het hy die pasiënt se regterhand in ’n stewige greep. In die zoemskoot rus die saaglem net agter die pols se knop, swart armhare in skerp kontras met die spektrale vel.

    Die tempo van die simfonie neem toe, die snare en houtblasers aangevul deur glockenspiel.

    Asof dit óók op die dirigent se baton gewag het, begin die lem beweeg. En die skerp, fyn tandjies vreet in kort, egalige hale deur die vel, en deur die een, dan die ander been van die voorarm. Steeds geen bloeding nie.

    Ineens is die hand vry van die liggaam waarvan dit so lank deel was.

    Die snyer plaas die saag skuins oor die oop borskas, en die kamera volg die wiegende tred van sy kort bakbene na die tafel waar die vrou met die hart werk. Hy laat sak die hand in ’n glasfles met vloei­stof.

    ’n Crescendo van tromme en simbale, trompette, tjello’s en klawers.

    Die musiek en beeld doof uit en die vertellerstem sê: Einde van Episode Een.

    Voor die TV is daar ’n oomblik stilte, die gesigte van die vier gesins­lede steeds op die nou donker skerm gerig. Dan klap Mona haar hande en sê: Mooi, baie mooi!

    Die ander sluit in sagte applous by haar aan.

    Haar twee dogters, regs van haar, aantreklik in hulle veertigs, leun na mekaar vir ’n kort fluistergesprek. Vera, die verteller, is die ouer een met donker hare wat weerskante van haar gesig afhang, Heidi die een met die blonde vlegsel.

    Die fors snyer sit op die stoel links van Mona – haar aangenome seun, Rakker, sonder teken van emosie op sý gesig. Hy vat net die waslap op sy skoot en dep die speeksel aan die hoeke van sy mond.

    Dis vir Mona belangrik om haar gesin so intiem bymekaar te hou. Nie net vir hulle selfbehoud nie, maar vir die heling van hulle wonde, en veral vir die vergelding van al die onregte wat teen hulle gepleeg is, aan hulle liggame sowel as aan hulle gees. Want nie een van die vier is ongeskonde nie.

    Sy leer haar kinders steeds, elke dag, dat die wêreld ’n bose plek is waar woestelinge op onskuldiges jag maak, veral op vroue. En dril haar leuse by hulle in:

    Jy red jouself, of jy bly ongered.

    2

    Oor sy lessenaar bekyk Ella kolonel Sauls se kouende kake. Een­kant waar sy sigaretboksie altyd gelê het, lê nou die Nicorette-boksie. Mara se werk, maar Ella kan klaar ’n newe-effek opmerk: die mollige wange en die boep wat die hempsknope beproef. Pleks van rook kou hy nou, en dis nie altyd ’n Nicorette daar in sy kieste nie.

    Wat probeer jy sê – dat jy nog nie uitgerus is nie? Hy loer oor sy brilraam na haar. Jy’t drie maande by die huis gesit. Kon jy en die berader nie jou kop in drie maande uitgesorteer kry nie?

    Dis die ánder newe-effek van ophou rook: sy moerigheid. Hy was altyd ’n ou buffel, nou is daar skaars met hom huis te hou. Ten minste hier op kantoor. Net Mara kan, godswonder hoe; by haar is hy ’n lam, en haar kop vat skaars aan sy oksel.

    Hy druk die halfraambril teen sy neus op, tik met ’n dik voor­vinger op die dokument. En hier staan dit geskryf: jy’s afgeteken, die kopkwak sê jy’s gesond, reg vir diens. Wat’s nou skielik jou probleem?

    Ek het nie skiélik ’n probleem nie, kolonel. Sy kom agter haar palms is nat en soek na ’n snesie in mou en bra.

    ’n Woeste wenkbrou lig. Nou wat dan? Is die kwak verkeerd, is jy nog nie reg nie?

    Nee, kolonel … Ek bedoel, ja, ek’s reg, ek kan werk. Dis net … dis …

    Dêm, g’n snesie nie, nie gedink sy gaan een in Silas se kantoor nodig hê nie. En nou is dit nie meer net nat palms nie, die neus begin loop, die oë begin lek. Wat’s fout met haar?

    Sy soek ’n diep teug lug, vee die kuif van haar voorkop weg. Net gewonder, kolonel, as dit … as dit oukei is. Of ek nie eers saam met een van die ander kan uitgaan nie, kan dalk vir Fred gaan help met daardie OTM wat opgeblaas is.

    Hy smyt sy bril op die berader se verslag, leun skuins en haal ’n sakdoek uit sy broeksak, netjies gestryk en opgevou, hou dit oor die lessenaar na haar uit.

    Dankie. Hees stemmetjie, dunner en heser as gewoonlik. Sy dep haar oë, vee oor haar neus. Kry die waterlekke gestop, nie die heserigheid nie, leef al ’n paar maande met die padda in haar keel.

    Die kolonel leun weer skuins, spoeg die koutjie in sy snipper­mandjie, bestreel sy netjiese moestassie, kug. Hmm, vir Fred gaan help, sê jy?

    Ja, kolonel. Net gedink ek moet dit eers kalm vat.

    Die laringitis sou ná twee, drie weke opgeklaar wees. Week vier stuur die dokter haar vir X-strale van die keel. Die plate wys geen fout nie. Die dokter krap kop. In ’n CT-skandering kry hulle die fyn breuke in die kraakbeen van haar larinks.

    Is dit wat die kwak sê? Dat jy dit kalm moet vat?

    Nee, kolonel, dis net hoe ék voel. Om eers soort van stadigies weer in dinge in te kom.

    Die dokter sê: Vergeet van sangdrome, die breuke versteur die vibrasies van jou stembande, jou heserigheid is ’n permanente kon­disie. Die berader sê: Jy’s nog geestelik broos, en jou soort werk is nie juis bevorderlik vir ’n broos gemoed nie. Probeer om eers gevaarsituasies te vermy, ons wil nie dat sluimerende stres dalk op­vlam nie.

    Dís wat sy deur Silas se dik skedel probeer kry.

    Aan die ander kant: kantoorwerk? Sy met die rooimiere. Buiten­dien, wat presies is eintlik so gevaarlik aan vier voete in ’n botaniese tuin?

    Stadigies? sê hy.

    Ja, kolonel. Beloer daardie wenkbrou wat so op sy eie wriemel, nes ’n rustelose wurm.

    Hy leun terug. Jy sien nie kans vir nog ’n reeksmoordenaar ná daai Abel Lotz-besigheid nie. Is dít wat jy sê?

    Nee, kolonel, dis nie wat ek sê nie. Ek sien kans vir enigiets, vir enigiemand, ek wil net … ek voel net …

    En van wanneer af is jy en Fred Lange skielik sulke dik pelle? Ek was onder die indruk daar’s nie juis groot liefde nie.

    Ek noem Fred net as voorbeeld, kolonel. Ek kan vir Papi gaan help met die taxi-skietery.

    Hy reik na ’n vars Nicorette. Dis moord-en-roof hierdie, g’n die Heilsleër nie. Ons doen niks stadigies nie.

    Serious & Violent Crime, wil sy sê – die ou naam mag nie meer gebruik word nie, veral nie voor politiek korrekte senior offisiere nie. Behalwe Silas Sauls. Hy’s politiek inkorrek en aweregs en weier om te konformeer. In SVC-gange word gefluister hy kon al generaal gewees het as sy kop nie so hard en sy nek so dik was nie.

    Ek weet, kolonel.

    Hy beduie met die kougomblokkie tussen duim en wysvinger. Is dit oor wat hy met jou gedoen het? Of oor wat jy met hóm ge­doen het? Dis nie so duidelik in hierdie verslag nie.

    Hy het eers ’n stuk van haar maagvel probeer uitsny. Haar toe later met ’n nat handdoek gewurg tot bloed by haar neus en oë uitkom en dit voel of haar hart en longe wil oopbars. Abel Lotz het haar nie net ’n tydelike wond aan die gemoed toegedien nie, ook permanente letsels aan haar maagvel en keel. Maar die kolonel is reg: om iemand se lewe te neem, selfs ’n bose lewe, is nie iets wat jy afskud soos ’n stowwerigheid van jou mou nie.

    Ek’s orraait, kolonel, ek en die berader het alles uitgepraat.

    Julle het álles bepraat? Ook die geval van die perd?

    Die perd, kolonel?

    Die een wat jy dadelik weer moet opklim as hy jou afsmyt.

    Hy druk die nikotienkougom in sy mond. Die voete is in die Shakespeare-tuin gekry. Was jy al daar, het jy al ’n romantiese uurtjie of wat daar gaan deurbring? Gediggies in iemand se ore ge­fluister?

    Ja, kolonel. Maar nie gediggies gefluister nie.

    Kaptein Julies en sy manne is reeds op die toneel. Nou toe, wat wag jy, vir beter dae?

    By haar lessenaar pluk sy ’n snesie uit die no-name-boks en snuit haar neus. Kry ’n nuwe een, dep haar voorkop, neus, bolip. Demmit, dís wat hy opgemerk het: die bewerasie in haar hande.

    Sy druk die kolonel se verfrommelde klam sakdoek in haar skouersak en grou vir die Ativan. Haat enige soort pil, maar die berader sê dis vir ’n noodgeval. Vier geamputeerde voete is ’n noodgeval, veral die implikasies daarvan. Sy sluk die pil en begin google.

    Vier linkervoete is gelyk aan vier geskende liggame, lewend of dood. Dis afleiding een.

    Afleiding twee: Die liggame is waarskynlik dood, want ’n lig­gaams­deel wat in ’n operasieteater geamputeer word, lê nie in ’n open­bare tuin rond nie.

    Afleiding drie: Daarom is die voete waarskynlik die resultaat van gemene spel, deur óf massamoord (al vier voet-eienaars is in ’n enkele voorval van bloedige geweld uit die weg geruim), óf reeks­moord (die vier is met verloop van tyd van kant gemaak).

    A, dis ’n mooie: Here’s flowers for you: Hot lavender, mints, savory, marjoram; The marigold, that goes to bed wi’ the sun, and with him rises weeping; these are flowers of middle summer, and I think they are given to men of middle age.

    Die kruie en blomme verstaan sy, nie die verwysing na middel­jarige mans nie. Sy ken net een Shakespeare-aanhaling – oor rose, uit Romeo and Juliet wat op skool voorgeskryf was. Nou ken sy twee.

    Sy staan van die rekenaar op en gooi haar sak (met ’n voorraad snesies) oor haar skouer. Die kolonel bied nie eens aan dat iemand saam met haar gaan nie, sy moet die wilde perd alleen beklim en ry.

    Wel, sy sal hom wys.

    Sy draai uit Olifantsweg na die hoofingang van die Botaniese Tuin langs die Emmarentia-dam. Sy was al ’n paar keer hier. Sy hou veral van die roostuin, dis so romanties. Sy het die roostuin lanklaas besoek.

    Die Shakespeare-tuin is minder flambojant, meer afgesonder. En ook dáár het sy nog nooit vir enigiemand gediggies gefluister nie; Bam was nie juis die blom-en-gedig-tipe nie, hulle het nie versies in mekaar se ore gefluister wanneer hulle met min klere en baie wyn gekuier het nie. Toe tuimel die hele kasteel dak en al op haar kop af, die aand toe sy hom saam met daardie beswete blonde hokkiespeler betrap – háár bed, háár huis, háár rugbyspeler.

    Wie was daar ná Bam? ’n Paar eendagsvlieë, maar van hulle het sy ontslae geraak voor hulle ’n oorlas kon word. Sou nie omgegee het vir Milo Boonstra se skoene op haar bedmatjie nie. Oë soos water met net ’n effense tint van ysblou. Hare die kleur van ryk botter. Ou wit letsel oor die wang – nie een wat jou afsit nie, een wat jou aantrek, wat jy gesond wil soen terwyl jy ril van lekkerte oor hoe gevaarlik hy kan wees. Ja, misterieuse Milo het haar eierstokke geroer. Maar dit het anders uitgewerk, baie anders.

    En dis die som: Bam en Milo, net twee minnaars in sewe maer jare.

    Sy draai in en sien links tussen die bome deur die sonspatsels op die damwater. Net ’n paar besoekerskarre in die parkeer­terrein. Twee, as jy nie die vier polisiekarre tel nie: Jimmy Julies s’n is die CSM-ene (Crime Scene Management), die K9-bakkie, ge­wone patrolliebakkie en ’n ongemerkte wit Corolla met ’n SAPS-nommer­plaat.

    ’n Vermorsing van skaars mannekrag wat haar betref, want dis nie eens die moordtoneel nie, net die dêm dump-plek vir vier ou voete in ’n Checkers-sak.

    Verby die inligtingskiosk en restaurant steek sy by ’n pad­predikant vas met name en pyle in alle windrigtings: Herb Garden en Hedge Garden soontoe. Succulent Garden en Chapel Garden in daai koers. Arboretum soontoe. Aha, Rose Garden en Shakespeare Garden op die plaveipaadjie tussen naaldbome deur.

    Twintig tree verder ’n boommerker: Podocarpus Forest. Klink na ’n soort vis, maar ruik na vars denne, jy wil ’n kombers oopgooi, ’n piekniekmandjie uitpak, sonnette vir iemand voorlees. Vir wie? Wat het van al die ordentlike mans geword, dié wat nie net agter een ding aan kwyl nie? Net één man uit al die miljoene, dis al wat sy soek: die Ideale Man, goed genoeg om haar nie weer teleur te stel nie.

    Voor haar duik die imposante struikomheining op, in ’n groot sirkel en maklik twee meter hoog, netjies glad en haaks gesnoei soos dit ’n goeie privet betaam, en ondeurdringbaar, behalwe vir twee nouerige ingange regoor mekaar. Albei is afgesper met geel polisiebaniere.

    By die naaste ingang buk sy onder die banier deur en beskou die vista voor haar. Die Shakespeare-tuin is in konsentriese sirkels uitgelê. Onder in die middel, teen ’n helling af, lê die ronde amfi­teatertjie soos die swart kolskoot wat sy gewoonlik sekuur op haar skyfskietteiken tref. Die volgende sirkel bestaan uit die grasperk­helling, dan die sirkelpaadjie van rooi bakstene met bankies waarop besoekers kan rus. Die laaste sirkel, tussen die paadjie en die hoë heining, is die Bard-beddings waaraan die hele tuinopset sy naam ontleen.

    Jimmy en die konstabels is gebukkend op soek na leidrade, ook die K9-ou met sy mooi snuffelhond. Skoenlappers fladder en dans oor die kruiebeddings; nuwe geure bereik haar neus. Sy herken roosmaryn en salie, laventel en kruisement, die sitrus van verbena. Op ’n beddingmerker lees sy: There’s rosemary, that’s for remembrance … And there is pansies, that’s for thoughts. There’s fennel for you, and columbines. There’s rue for you, and here’s some for me …

    Daar wink Jimmy haar nader.

    Waar’s die voete? vra sy.

    Jy bedoel waar’s jou slagoffers? Jimmy grinnik en lei haar na ’n bank onder die enigste groot boom, daar langs die bedding met tiemie en kanfer en wildekanferfoelie, en beduie na die Checkers-sak langs die bank.

    Sy wikkel haar vingers in latekshandskoene, hurk, maak die sak oop, loer in. ’n Bedompige walm tref haar en sy draai haar gesig weg. Kom orent, stroop een handskoen af en strompel by die kanfer verby na die kruisement, kneus ’n blaar tussen haar vingers en asem die geur diep in.

    Sy trek weer die handskoen aan en gaan staan langs Jimmy. Beslis nie vars voete nie, nè? En is hulle gemummifiseer? Is dit hoe­kom hulle so swart is?

    Ja, vier mummie-voete, sê hy met ’n omkyk na die ander polisie­manne. Ons gaan oppak, hier kry ons niks. Die tuinier daar oorkant is Oupa Zondi. Oupa sê toe hy gister tjailatyd hier weg is, was die sak nie hier nie. Hy’s seker daarvan, sê hy sou nie ’n plastiek­sak in sy tuin los nie. ’n Man het 10111 gebel. Jimmy raadpleeg sy notaboek. F.C. Hattingh. Noem homself ’n amateur-ornito­loog. Sê hy’t seweuur vanoggend voëls kom afneem en die verlate sak gesien en was nuuskierig. Sê hy sal nooit ooit weer sommer in iemand anders se Checkers-sak inloer nie.

    Sy vee haar kuif met ’n pols van haar voorkop weg. Daar was ’n foto in ’n tydskrif van ’n aktrise met korterige hare en ’n kuif half oor een oog. Sy’t dit uitgeknip, sonder die naam, wil nie soos ’n groupie lyk nie. In Mara se salon het sy gevra: Kan jy myne so sny?

    Mara het gesê: Ek kan enigiets doen, girlie. Wil jy nou ook ’n blonde vamp word, altemit blou kontaklense?

    Net korter, Mara! En ek hou van my hare se kleur, dankie. Ook van my oë s’n.

    Bam het gepraat van haar kaller-oë, saans in die bed. Maar dit hoef Mara nie te weet nie. Kaller-oë? Ja, het hy gesê, ons boerseuns praat van kallers, nie kalwers nie.

    Toe Mara klaar was: Dit pas jou, jy lyk nes ’n aktrise, die manne gaan hulle bene stompies hol agter jou aan. En gee haar ’n knypie aan ’n boud en boob. Maergatjie … Eet net meer, kom eet weer ’n slag by ons. Die manne soek vashouplek.

    Vashouplek. Gmf!

    So, sê sy vir Jimmy, en druk die sonbril oor haar hare op. Hoekom sou iemand die goed hiér kom los? En hoekom vier linkervoete? Wat beteken dit?

    Jimmy knik. Ja, en hoekom dit saamkarwei? Hoekom dit nie in die naaste vullisdrom gooi vir die tiep se lorrie nie? Hy stroop sy handskoene af. Ons het oral gesoek, hier’s blou ôl. Ook geen sigbare leidrade binne-in die sak nie, behalwe natuurlik die voete self. Miskien kry die lab latente vingerafdrukke, dalk ’n haar of twee, ander spoorelemente. Ek wonder of hulle geleef het toe hulle voete geamputeer is.

    Dokter Koster sal kan sê.

    Die lab sal waarskynlik DNS kan onttrek, ten minste mitochon­driese DNS. Dit kan jou help met identiteite.

    Miskien oor ’n jaar, ás ek gelukkig is. Dok sal ook kan sê hoe en waarmee die voete afgesny is. Ek wed dis nie onder narkose in ’n operasieteater geamputeer nie.

    Sal jy dit vir hom vat? Julle is mos sulke dik gabbas.

    Ja, my suikeroompie. Gee ’n heserige laggie.

    Hy sit die Checkers-sak in ’n groter bewyssak van bruin papier, verseël en merk dit, teken dit op ’n kniplêer aan en hou die sak na haar uit.

    Sy weeg dit met haar arm. Vier uitgedroogde voete is besonder lig.

    En teken hier, sê Jimmy. Onthou om dokter Koster te vra om die leë sak lab toe te stuur.

    Toe sy die lêer en pen teruggee, kyk hy skerp na haar. Wat’s fout? Vir wat bewe jou hande so? Is jy seker jy’s oukei, hier terug die diep kant in?

    Sy skuif haar sonbril oor haar oë. See you later, alligator. En stap terug kar toe.

    In haar werkshok begin sy met die voorlopige papierwerk om die nuwe, voorgeskrewe ondersoekdossier te open. Pyn in die nek vir elke speurder, maar doen jy nie gereeld jou admin nie, sluk ’n papiermoeras jou netnou in. Papierwerk is eintlik net ’n metafoor, want sy werk met min papier. Gebruik steeds ’n notaboek, maar in haar skouersak is ook haar tablet (gekoop met haar eie geld). Dis die kolonel se opdrag dat sy net met e-dossiere werk, pleks van die ou bruin lêers. Kom glo van generaal Pitso self af, wat dit weer van hoër op gekry het, glo selfs so hoog as van die SAPD se Beleidsadviesraad. Die kolonel sê die infasering van e-dossiere is om korrupsie teen te werk; die verdwyning van die ou bruin lêerdossiere in ruil vir geld onder die tafel.

    Dis ’n kloppie op die skouer dat hulle háár kies om dit hier by hulle tak in te voer. Sien, dís wat sy kon gedoen het, kon eers in die vlak kant speel, op kantoor sit en die ander speurders met hulle e-dossiere die digitale wêreld inhelp. Hoeveel van hulle kan ’n tablet inspan as hulpmiddel in misdaadondersoeke, of FBI-apps? Treurige toestand, as jy kyk na ’n ander Beleidsraad-verslag wat die kolonel ’n slag vir haar gewys het: Die grootste probleem vir ’n doeltreffende nasionale speurdiens is dat 24% van die ondersoekers nie die basiese opleiding gekry het om as speurders te kwalifiseer nie.

    Weet nie eens wie Locard is nie, en nou moet hulle in e-dossiere opgelei word.

    Die kolonel skryf die onbevoegdheid, lae moraal, polisiegeweld, en ’n swak beeld summier toe aan politici wat die SAPD probeer lei, pleks van bekwame polisielede. Vat die voorbeeld van Susan Shabangu, gewese adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, sê hy. Hy was sélf daar, het dit met sy eie ore gehoor, amper van sy stoel afgemoer, hoe sy ’n polisie-imbizo opsweep: You must kill the bastards if they threaten you or the community. You must not worry about the regulations. I want no warning shots. You have one shot and it must be a kill shot. I want to assure policemen and women that they have permission to kill these criminals. I will not tolerate any pathetic excuses for you not being able to deal with crime. You have been given guns, now use them!

    Sy verdeel haar e-dossier in die voorgeskrewe drie seksies. Onder A kom bewysmateriaal: verklarings, lasbriewe, borgtoginligting, verslae van forensiese ontleders, foto’s van die slagoffer en moord­toneel, mediese verslae, vingerafdrukke en al die vorms (SAPS 297 vir eerste aanmelding, SAPS 329 vir uitkenning, SAPS 13 vir bewysmateriaal, ensovoorts). Onder B is korrespondensie en administratiewe dokumente: inligting oor gesteelde eiendom, ge­soekte persone, antwoorde op navrae van ander polisiekantore af, mediaknipsels oor die saak. Onder C kom die ondersoekbeampte se daaglikse aantekeninge: detail van die misdaadtoneel, leidrade en soektog, detail oor die slagoffer en moontlike verdagtes. Daarna registreer sy die dossier op die polisie se Misdaad-Administrasie-Stelsel en kry ’n MAS-nommer.

    Vir die 100 tot 150 dossiere wat jaarliks aan elke speurder toe­gewys word, uit ’n landwye totaal van so twee tot drie miljoen nuwe dossiere wat elke jaar geopen word, is dit ’n helse klomp admin.

    Die eerste koerantberig oor die voete verskyn Donderdagoggend. Sy skandeer die knipsel vir seksie B van haar dossier:

    Beeld, Donderdag 9 April 2015

    Rondloper-voete slaan polisie dronk

    Deur Johan Piries, misdaadverslaggewer

    Johannesburg – Die hulp van ’n forensiese antro­po­loog is ingeroep om die raaisel te help oplos van die vier gemummifiseerde voete wat in die stad se Botaniese Tuin gekry is.

    Die polisie probeer vasstel of die voete aan moord­slagoffers behoort het of aan pasiënte, omdat dit ook uit ’n hospitaal se biologiese afval afkomstig kon wees.

    Die bekende adjudant-offisier Ella Neser lei die ondersoek. Dis haar eerste saak sedert sy terug is van verpligte mediese verlof nadat sy byna self ’n slag­offer was in die opspraakwekkende ondersoek na die reeks­moordenaar Abel Lotz.

    Sy weier om oor haar jongste saak te praat en ver­wys alle navrae na die polisie se media-afdeling. Vol­gens ’n mediawoordvoerder word leidrade nog opge­volg. Ons wil nie in hierdie stadium bespiegel nie. Toetse word gedoen om te probeer bepaal hoe oud die voete is, hoe oud die eienaars van die voete met amputasie was, en om hulle geslag, ras en identiteit vas te stel.

    3 : OKTOBER 1993

    Pepler, die brigadier soek jou in sy kantoor – nóú. Roer jou gat!

    Lou merk sy plek in die lêer, klap dit toe en stap uit die speur­kantoor sonder om in dikgat Steyn se rigting te kyk. In die gang af na die hoekkantoor met die naamplaat BRIG. F.L. OTTO, BEVEL­VOERDER, MOORD-EN-ROOF. Hy klop.

    Kom in!

    Binne bly hy staan, soos dit ’n goeie onderdaan betaam. As hy in uniform was, sou hy gesalueer het, nou verstyf hy bloot sy arms vir ’n oomblik langs sy sye. Hy sien die afkeurende blik asof hy hondestront intrap in hierdie allerheilige sanktum.

    Die brigadier skryf met sy Montblanc iets op ’n vel papier en hou dit oor die lessenaar na Lou uit. Hy tree nader en vat dit, lees: Mevrou Katz, die naam dik onderstreep, en haar telefoonnommer. Dis al op die hele blerrie vel.

    Die Montblanc is die brigadier se handelsmerk, almal wonder wat dit kos, almal dink dis bietjie windgat dat ’n polisieman, selfs ’n offisier, met so ’n duur vulpen skryf terwyl die res Openbare Werke se geel Bics gebruik.

    Lou wag, vou solank die A4 in al hoe kleiner vierkante tot hy dit in sy hemp se bosak kan inprop.

    Bel haar, sê Otto uiteindelik.

    Hoekom anders sou die brigadier vir hom ’n naam en nommer gee? Hy knik en wag weer. Jy loop nie uit ’n offisier se kantoor voor hy jou dismiss nie – dít het hy op die harde manier geleer.

    Otto haal sy bril af, vryf oor sy groot rooi neus, dan oor sy groot rooi snor. Wil jy nie weet hoekom jy haar moet bel nie?

    Sy sal my sê as ek bel, brigadier.

    Ek kan jou ook sê sodat jy jouself kan voorberei. Stel jy belang?

    Nes brigadier wil, brigadier.

    Otto se ogies vernou, lyk of hy eers dink, sê dan net: Haar seun het verdwyn.

    ’n Vermiste persoon? Wat moet ek voorberei, brigadier?

    Weet jy wie de fok sy is?

    Nee, brigadier. As brigadier my sal verskoon sodat ek mevrou Katz …

    Lester Katz se vrou, dis wie sy is! Huisvriende met generaals en ministers. Generaal Roux het haar persóónlik na ons ver­wys.

    Ja, brigadier. Wie de moer is Lester Katz? En wie’s generaal Roux?

    Alle oë is op ons, Pepler. Kry die seun en kry hom gou. En kry hom veral ongeskonde, gehoor?

    Hoekom moord-en-roof, brigadier? Dink hulle aan …

    Hulle dink nie aan motiewe nie, Pepler, dis óns werk. Al waar­aan hulle dink, is dat hulle jongste seun weg is. Bel mevrou Katz, sy wag vir jou. En hou kaptein Steyn op hoogte. Dismissed.

    By ’n imposante ingang van dik wit pilare en ’n swart ysterhek meld Lou hom oor die interkom aan: Sersant Pepler, vir my afspraak met mevrou Katz. Geen antwoord. Het die hekwagter hom gehoor? Hy leun by die venster uit, sy mond nader aan die interkom: Hallo! Die hek begin geluidloos oopgly.

    Die keisteen-inrypad vat hom op ’n besigtigingstoer onder bome met skaduryke krone, tussen kleurryke struike in blom, langs bed­dings vol lelies, fonteine met kaal betonfigure wat strale water spoeg of pis, gras­perke met haaks rande, nie ’n halm uit gelid nie, asof deur ’n barbier versorg.

    Hy sien haar toe hy om die laaste draai uit die laning kom. Sy wag hom onder die groot dubbelverdieping se voordeurafdak in (hy het al die woord portiek gehoor). Asblonde hare, lenig in wit langbroek, amperwit bloes, groot sonbril.

    Jy’s sersant Pepler? Nog so jonk.

    Hy’s nie seker hoekom sy so vieserig klink nie, oor sy ouderdom of oor sy moes wag? Of dalk is sy net gatvol omdat ’n sersant hier aankom en nie die generaal sélf nie.

    Hy takseer haar vlugtig. Sy is sag op die oog, moes eens ’n skoon­heid gewees het. En die wit klere ongetwyfeld bedoel om haar sonbruin vel ten beste te vertoon. Bloedrooi lippe, bloedrooi naels, ook die toonnaels wat so astrant by die wit sandale met goue bandjies uitloer.

    Hy staan ’n trappie laer as sy en hulle oë is waterpas, maar dit voel of sy van ’n groot hoogte af op hom neerkyk. Haar hand is vir omtrent ’n enkele sekonde sag en droog in syne, asof haar stand nie sweet nie.

    Kom in, sê sy met ’n effense gefladder van dieselfde droë hand, maar nou asof sy iets probeer afskud.

    Sy lei hom uit die portaal na ’n soort voorkamer. Beslis nie die huis se formele sitkamer nie, eerder ’n ontvangsvertrek vir mindere besoekers, die vloeroppervlak nietemin omtrent so groot as sy hele blyplek daar onder teen die Melville-koppies.

    Sit. Sy wuif na ’n roomkleurige sofa met goue omboorsel en delikate kloupootjies wat lyk asof dit niks swaarder as ’n sierkussing kan dra nie.

    Boudoir. Dié woord het hy ook al gehoor. Hy dink hy sal portiek en boudoir gebruik in sy verslag aan Steyn oor sy besoek aan die Katz-ma.

    Sy gaan sit oorkant hom op ’n ewe broos sofa, hare van wyn­rooi fluweel. Sy kruis een lenige been oor die ander om slanke bruin enkels vir hom uit te stal. Sit penorent, borste uitgestoot, skouers teruggetrek. Dis soos hulle is, dié soort mense – so uitdagend en bewus van hulleself, tot selfs in die dal van doodskaduwee. Hy kyk op na haar gesig toe sy begin praat, die toon nou minder vies.

    Ons is bekommerd oor Billy. Sy streel sag met ’n voorvinger oor haar keel, asof sy wil seker maak daar is nie nuwe plooitjies nie. Dis al Donderdag en ons hoor niks van hom nie. Dis nie hoe hy ís nie.

    Wens hý was so. So statig en kalm, so selfversekerd in haar veilige kokon van bevoorregting wat haar teen die ongewastes van daar buite moet beskerm.

    Maar hoe is haar Billy dan nou eintlik? Wanneer het julle laas van hom gehoor?

    Hy’t my laas Vrydag gebel. Lionel sê hy was toe by die werk. Lionel is my oudste seun.

    Hoe oud is Billy? Getroud, ongetroud?

    Ses-en-twintig en ongetroud. Hy en Lionel werk albei by hulle pa se besigheid. Jy’t seker al van hom gehoor, Katz Transport? Billy kom maak gewoonlik op ’n Sondagmiddag ’n draai, dis ’n ritueel. Hy was nie Sondag hier nie, en bel my nie. Ek bel sy woonstel en kry net die antwoordmasjien, het al hoeveel boodskappe gelos. Ons het elke hospitaal in Johannesburg gebel … hy’s so lief vir spoed, gee my grys hare.

    So, sy kar is ook weg?

    Sy knik.

    ’n Huishulp in stywe wit uniform bring ’n skinkbord in.

    Ystee met heuning en kruisement, hoop jy drink dit, sê mevrou Katz.

    Gee hom nie eintlik ’n keuse nie, vra nie of hy dalk eerder iets vulgêrs soos Coke wil hê nie. Hy drink nie Coke nie, maar dit gaan oor die beginsel. En hy hou van tee en heuning, maar nie koud en met kruisement nie; hy drink graag tee en heuning met sy eie preparaat bygevoeg.

    Het jy ’n onlangse foto van hom, mevrou? Hy beduie na die uitstalling foto’s in silwerrame op ’n tafeltjie van wit lakvernis. Hy herken haar op ’n hele paar: saam met vermoënde meneer Katz; die egpaar saam met hulle kinders; die kinders alleen, twee seuns en ’n dogter; die jonger seun saam met sy ma.

    Sy staan op, trek die tafeltjie se laai oop, vroetel, en hou ’n foto na hom uit. Jy kan hierdie een leen, dis onlangs geneem. Laat maak ’n afdruk en gee dit ongeskonde vir my terug.

    Ongeskonde, ongeskonde! Almal is tog so besorg dat hy Billy of sy foto ongeskonde aan hulle teruggee. Hy deponeer Billy Katz in die staatsdienslêer op sy skoot. Het iemand al by sy woonstel gaan kyk?

    Ek het Lionel Dinsdagaand al gestuur. En weer gisteraand. Daar’s niemand nie. Lionel het ’n slotmaker laat kom om vir hom oop te maak. Sien geen teken van ’n inbraak of worsteling nie. Sy tuit haar lippe en vat ’n delikate slukkie tee. Toe sy die koppie laat sak, bly ’n rooi halfmaan aan die fyn gekartelde porseleinrand agter. Sy sit vir ’n oomblik swyend, kyk dan op na hom. Sê nou Billy is gekaap, ter wille van sy kar?

    Watse kar?

    "Porsche. Meneer Katz dink Billy het iewers gaan jol,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1