Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Koms van die motman
Koms van die motman
Koms van die motman
Ebook543 pages9 hours

Koms van die motman

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Elf jaar gelede is Ella Neser se pa amper noodlottig gewond. En nou, jare later, word die skuldige, Arthur Wilky, weens goeie gedrag op parool vrygelaat. Binne weke is daar egter nuwe moorde – en van die slagoffers is voormalige tronkmaats van Wilky. Ella kan nie begryp hoekom haar speurderkollegas nie die verbintenisse tussen die verskillende moorde raaksien nie. Wat van die motlyke wat telkens by die moordtonele figureer? Selfs kaptein Silas wil nie ag slaan op haar vermoedens nie . . . In dié slotroman in die jongste Ella Neser-trilogie speel Karsten weer eens kat en muis met die leser. Wie ís die moordenaar, en waarom huiwer die Nommers-bendemitologie deurgaans soos ’n skaduwee op die rand van die verhaal? Chris Karsten, meesterverteller aan die woord, soos altyd.
LanguageAfrikaans
Release dateOct 6, 2017
ISBN9780798176231
Koms van die motman
Author

Chris Karsten

Karsten is ’n bekroonde skrywer en voormalige joernalis wat in Kanada woon. ​Koms van die motman​ is die derde in die nuwe Ella Neser-reeks. Die voriges sluit in Die dood van ’n goeie vrou en Die verdwyning van Billy Katz. Albei romans is benoem vir die ATKV-prys vir die beste spanningsroman, en Billy Katz ook vir die ATKV-prys vir die beste roman.

Read more from Chris Karsten

Related to Koms van die motman

Related ebooks

Related articles

Reviews for Koms van die motman

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Koms van die motman - Chris Karsten

    Koms van die motman

    Chris Karsten

    Human & Rousseau

    The scene of the crime is still the human heart.

    – Ross Macdonald

    The soul breathes through the body, and suffering, whether it starts in the skin or in a mental image, happens in the flesh.

    – Antonio Damasio: Descartes’ Error

    ARTHUR

    Januarie 2017

    Kan die motte ook hierdie musiek hoor, dit miskien selfs aanvoel? Hierdie hemelse note wat daar bo vrygelaat word en afgefladder kom en hier onder saam met die motte om hom en sy plante kom dans en sweef en dartel en hulle teen hom nestel om sy gemoed te vertroos.

    Dis wat Bach aan my doen, fluister hy vertroulik aan sy versamelde gehoor van plante en motte. Hy paai my en versag my pyn, hy bedwelm my en sus my en sleur my mee na ’n rustiger en veiliger plek.

    Vooroor op die lae bankie hervat hy sy werk, met die geel rubber-opwashandskoene en spuitbottels en borsels (Pearwood Soft Boar Bristles, soos hy ook vir sy eie yl hare gebruik). Tien jaar se onversorging het die sysagte haartjies in grysvuil rastalokke laat mat. Hy bespuit die wit oumenshare eers met ’n swak seepoplossing, spoel dit dan met skoon water af en begin die klam koeke met langsame, delikate hale uitborsel tot dit weer lank en los en donsig oor die ribbe en areolas hang, en silwerig soos die kristalle van vars sneeu die son deur die groot vensters vang.

    Hy sit terug en betrag sy handewerk, luisterend na die preludes en fugas. Ja, dit lyk mos beter, sommer báie beter. Hoe voel dit om weer so gekoester te word … lekker, nè?

    En verskuif sy bankie en sy houer met bottels en borsels effe sodat hy die volgende harige ronde stam kan bykom sonder te veel stremming op sy rug. In hierdie bedding is daar twaalf van hulle, van twintig sentimeter hoog tot byna ’n meter; stadige groeiers en veral stadige blommers. Cephalocereus senilis. Die oumankaktus. Gepas, asof dit spesiaal vir hom bedoel is, want hy voel oud en bekwaald, soms selfs bietjie seniel ook, beslis ouer as sy twee-en-sestig lewensjare. Dís wat 3 606 dae in die tronk aan jou doen, nie aan te bevole nie.

    Arthur … met wie praat jy?

    Hy kyk gesteurd om, maar dan versag sy blik.

    Haman sit ’n skinkbord op die potystertafeltjie in die middel van die konservatorium neer. Jy’s so besig, kom rus eers bietjie, ek het vir ons tee gebring.

    Sy gedagtes moet by sy mond uitgelek het. Haman moet dink hy’t rêrig kens geword oor hy so met die plante en die motte praat.

    Arthur sit sy spuitbottel en borsel neer, trek die handskoene uit, plaas dit ook in die plastiekhouer en stoot homself met ’n hand op ’n knie orent. Sy litte kraak en hy gee ’n steun. Ja, hy ís ’n ou man. Ander sestigjariges is nog fiks, baie steeds in ’n beroep. Nie hy nie. Die tronk het tien jaar van sy lewe gesteel, hom oud en sieklik uitgespoeg.

    Hy sleepvoet na die teetafel. Is dit nie mooi nie? sê hy met die sit op die bankie.

    Ja, dit is, maar jy moes my gesê het, ek sou hulle uitgeborsel het.

    Die musiek. Dis eintlik wat Arthur bedoel, sy oë op ’n mot by die skarlaken blom van die hangende diso. Jy’t hulle goed versorg, meer kon ek nie vra nie.

    Cactaceae. In sy konservatorium is net kaktusse, omtrent honderd-en-vyftig spesies van twee subfamilies: Opuntioideae en Cactoideae. Sy nagblomme – meestal van die genus Cereus – is moontlik die grootste private versameling in die land, indien nie die grootste buite Sentraal-Amerika nie, oor dekades met spesiale permitte ingevoer uit eksotiese wêrelddele waarheen hy self gereis het om hulle te gaan uitsoek. Die meeste vat tien jaar voor hulle begin blom, en dan net gedurende ’n enkele somernag per jaar.

    Daar’s een! roep Haman uit. ’n Sfinksmot, is dit nie?

    Arthur hoor die triomf in sy broer se stem en sê: Jy’s reg, jy’t die motte mooi leer ken, nè? Die sfinksmotte is veral lief vir die cereuse. Maar hulle is eintlik nagvlieërs en hy wil weer snags hier kom sit, met JSB se kantates, om in die sagte skynsel af te loer hoe hulle met die nagblomme omgaan, hulle slurpies diep in die kelke in om die nektar te soek.

    Wat dink jy moet ek vir haar gee? vra Arthur. Sy sal van ’n blommende soort hou. Dalk ’n diso? Of wat van ’n echinopsis? Nee. Moet ’n nagblom wees, daai ervaring mag sy nie mis nie.

    Haman onderbreek sy teeskinkery. Jy wil een van jou precious nagblomme weggee? En vir wie nogal, wie’s sy, wie’s so spesiaal?

    Juffrou Neser, Haman, dis vir háár. Een van die cereuse – ’n hylocereus of ’n selenicereus.

    Hy strek vir die teekoppie en kreun weer van ’n pyn. Dis moeilik om te bepaal wat die oorsaak van elke pyn is. Met soveel potensiële bronne. Van die destydse polisiekoeël in die skouer tot die meer onlangse wonde wat hy in sy lang, martelende inkerkering op die lyf geloop het.

    Hy sit terug en vroetel na ’n pil. Vir al sy kwale drink hy ’n vrag pille op ’n dag, en hulle is steeds nie met hom klaar nie. Vir die komende week het dokter Pentz ’n spul spesialiste aangetree om hom deeglik te ondersoek. Van sy voete tot tande tot oë. Ook elke orgaan, van prostaat tot hart, elke weefsel en sel. En monsters van sy bloed is reeds in ’n spul vacutainers na patologie-, mikrobiologie- en biochemie-laboratoriums op pad. Tussenin het Elizabeth nóg afsprake vir hom gemaak, dié genadiglik darem hier by die huis. Dieetkundige, fisioterapeut, kosmetikus vir sy hare, hande en naels, masseuse vir sy seer spiere en voete.

    Wat’s fout? wil Haman besorg weet toe hy die pil afhelp met ’n sluk tee.

    Niks, sommer net ’n skeet.

    Die steek in sy sy kan hy ten minste lokaliseer – dis waar die tronkmes onder sy arm in is toe hy ’n slag geshank is.

    Maar die groot skade was meer onlangs, skaars vier maande terug, toe hy vodde geskop en geslaan is, twee ribbes gekraak, veertig steke, milt verwyder … laaste ding wat hy nodig gehad het, ’n getorring aan enigiets wat sy immuunstelsel raak. Nerfskeel moer toe.

    Nes die polisiekoeël wat destyds in sy skouer die aarwand van die bragiale arterie geskeur en hom byna soos ’n keelaf skaap laat uitbloei het. En daai konkelende, skietlustige polisieman, verbeel jou, dié maak agterna daarop aanspraak, sonder die knip van ’n skaamtelose oog, dat hy met sy teenwoordige gees en flinke toerniket eintlik Arthur Wilky se lewe gered het.

    En dis nie eens helfte van sy wondkronieke nie – hý, die pasifis besiel met ’n gees van vrede, maar altoos, ironies, die slagoffer van geweld.

    Hy blaas, slurp, sit dan met die koppie en piering op sy knie en beduie met sy ander hand: "Wat van daai greggii?"

    Vir ’n vrou?

    Wanneer hy eendag blom, is dit ’n skouspel en ruik so lekker.

    Haman kom sit langs hom. Gaan omtrent nog vyf jaar vat om te blom.

    Dis oukei, vir iets moois en waardevols is daar niks soos intense afwagting nie.

    Hoekom vir haar – ná al jou swaarkry?

    Dis mos nie haar skuld nie, sy was net ’n kind. Die sonde van die vaders … lees jy nie meer jou Bybel nie?

    Jy steek goed vir ons weg, Arthur.

    Hy lig sy koppie.

    Dis Sondag, die derde dag sedert hy uit is, maar alles is steeds vreemd en onseker. George Pagel het hom Vrydagoggend by die tronk gaan haal. Sy ou klere, wat hy tien jaar vantevore uitgetrek en geruil het vir daai oranje tronkdrag, het sakkerig aan sy maer liggaam gehang, in sy hand ’n plastiek-inkopiesak met ’n paar patetiese besittings – twee notaboeke, pen, oorfone, mp3, tien Bach-CD’s; die ghetto blaster het hy vir Malatjie gelos. Só het hy in George se groot SUV ingeklim, reguit hospitaal toe waar sy bed en die dokters gewag het. Gister, nadat hy ontslaan is, het Haman hom huis toe gebring en hy het ’n slaappil gedrink en sestien uur geslaap. En van vanoggend vroeg is hy hier in sy konservatorium, waar JSB en die kaktusse en die motte hom onbedreig laat voel, op sy gemak, tuis.

    Daar’s dinge wat Elizabeth nie mag weet nie, Haman, dinge wat met my gebeur het daar in Klipfontein Max.

    Sy weet van jou beserings.

    Nie van alles nie.

    Ék wil weet, Arthur. Jy’s my broer, jy’s veronderstel om my te vertrou, nie dinge vir my weg te steek nie.

    Dis verby, Haman. Dis vir my pynlik om sulke goed te herleef.

    Jy sal beter voel, opkrop is nie goed nie. Dis mos wat jy altyd vir my gesê het, onthou jy … ná jy my uit die spruit gekry het? Ten minste kan ek nou jóú pyn help dra.

    Arthur sluk die laaste van sy tee. "Ja, ek dink ek sal ’n Peniocereus greggii vir haar gee. Hy hou sy leë koppie en piering vir Haman. En later vanmiddag wil ek graag bietjie gaan rondry, sommer die strate in. Sal jy my vat? Net om te sien hoe die wêreld dit reggekry het om vir tien jaar sonder my klaar te kom."

    Jy kan nog grappies maak.

    Hoe anders, ek’s nie Job nie. Dalk is Haman reg, dalk moet hy dit uitpraat buitentoe, nie net aan sy plante en motte nie. En wie se oor is geduldiger as dié van ’n broer? Met die rondryery kan hulle by ’n plek stop waar hy ’n kaartjie kan koop. Mens gee nie ’n blom sonder ’n kaartjie nie. "Sal jy die greggii môre vir haar vat? Gee jy om?"

    Ek sal, maar waarheen?

    Die polisiekantoor daar in Brixton. Dis waar haar pa ook gewerk het. Hy het op die internet oor haar gaan nalees, sy was dikwels in die nuus.

    Vergeet van haar, Arthur. Hoekom bly jy jouself so straf?

    Dis daai oë, hoe kan hy hulle vergeet? Hulle kom besoek hom snags in sy nagmerries, of sy hom met haar oë probeer deurboor.

    ***

    Sondagaand help hy vir Elizabeth om al sy ou klere in bokse te pak. Hy maak sy kaste leeg, hy wil niks hou nie, dis uit ’n ander tyd.

    En Maandag – toe Haman die bokse saamvat vir die welsynwinkel in Brixton op pad om die greggii en kaartjie te gaan aflewer – ry hy en Elizabeth Hyde Park toe vir nuwe klere. Hemde van sy, broeke so lig dat hy dit skaars voel, mokassins glo gemaak van die pensvel van Marokkaanse boklammers en sag soos ’n sug aan sy mishandelde voete. Hulle koop ook slaapklere en ’n japon en pantoffels en sokkies en onderbroeke, en by The Bed Shop koop hulle donsige handdoeke en sylakens vir sy bed, en by Mad Hatters ’n panamahoed, room met ’n vlootblou band om die kroon, glo in die Ecuadoriaanse dorp Montecristi met die hand in herringbone geweef van superfyn toquilla-palmstrooi. Incredible Connection is die laaste stop.

    Hoe slaap jy, Arthur? vra sy op pad terug Rivonia toe, die bak en agtersitplek vol inkopiesakke.

    Die pille help. Hy bevoel die hoed op sy kop, ook lig soos ’n veer, en trek die rand laer af oor een wenkbrou. So ja.

    Kry jy nog nagmerries?

    Nie meer so dikwels nie. Die nagmerries het hom bloots gery, élke nag. Maar nou help die slaappille, dit slaan hom uit.

    Tweeuur is dit tandarts toe en halfvier is jou afspraak by die oogarts.

    Jy’t dit ingeryg.

    Jou gesondheid het ’n diep knou weg, ons moet jou regkry.

    Wat van die kwekery?

    Ek het ’n goeie bestuurder, en op Haman kan jy staatmaak, jy weet mos. Al is hy so bedrywig met die rondryery om by alles uit te kom.

    By al hulle besighede. Hy is trots op sy stil broer; bot vir dié wat hom nie ken nie, asof hy stadig dink. Maar Haman het in sy afwesigheid in ’n goeie sakeman ontpop. Of dalk het hy vroeër net nooit raakgesien hoe ’n goeie sin vir sake Haman regtig het nie. Daar’s nie probleme nie?

    Nee, Arthur, jy vra dit elke keer, elke besoektyd wou jy weet. Maar alles gaan goed met ál ons besighede. Daai ding met Top Notch … dit was ’n uitsondering. ’n Blaps. Nee wag, jammer om dit wéér te sê, Arthur, maar Muzi Manzini se aanstelling as bestuurder van Top Notch was ’n kolossale en noodlottige mistasting. Ons ander bestuurders is bo verdenking, dit weet jy tog. En Haman hou hulle fyn dop.

    Die aand oor ete vra Arthur: Het jy haar gesien?

    Haman bly eet, kop onderstebo. Ja, jy’t mos gesê ek moet sorg dat sy die plant persoonlik kry.

    Het sy iets gesê?

    Sy’t net daarvoor geteken, seker gedink ek’s maar net nog een van al die ander afleweraars.

    Ander?

    Wat blomme gebring het – haar hele kantoorhok staan vol blomme, tot op die vloer. Miskien verjaar sy of iets.

    Nee, sy verjaar in November.

    Hy merk hoe Elizabeth na hom opkyk. Jy ken haar verjaardag?

    Hy sê vir Haman: Elizabeth het vir my ’n selfoon gekoop. En ’n iPad. Ná ete, sal jy my kom leer hoe die goed werk? Of is jy op pad uit?

    Nee, ek is maar hier.

    Waar anders? Hy en Haman is vrygeselle. Nie een van hulle is juis geseën met groot sjarme of ’n warm aard wat vroue aantrek nie. Maar dit pla hom nie, hy hou van homself en verkies om nie sy kosbare persoonlike ruimte te deel nie. Elizabeth is vyf jaar ouer as Haman, en sy was anders. Sy was mooi … wel, sy’s steeds aantreklik, maar toe sy jonk was het sy die manne laat swymel. In haar twintigs getroud en geskei, ditto in haar dertigs. Gelukkig geen spruite uit enige van daai vurige amourettes nie, ook lankal nie meer katoolse minnaars wat die reuk van haar feromone op die wind besnuif en kom agtervolg nie.

    Luister, Haman, ek het nog ’n paar aflewerinkies vir jou. Maar dis nie te dringend nie. Daar in die tronk het ek twee ouens bietjie probeer help met hulle … uh, finansiële sake. ’n Bewaarder en ’n prisonier. Ek het George Pagel gevra om vir elkeen ’n beleggingsrekening by Fiduciary Trust and Wealth te open.

    Daar by Du Plessis in Sandton? sê Elizabeth. Hemeltjie, Arthur, mense smyt jou in die tronk en jou hart word sag.

    Nee, dis nie wat gebeur het nie, hy’t nie vir Bok Benadé en Solomon Ruiters uit die goedheid van ’n sagte hart gehelp nie. Ek het gesê as ek uit is, sal ek die rekenings laat sluit en die opbrengs in kontant vir hulle gee.

    Kontant? Du Plessis kan dit mos sommer elektronies na hulle gewone bankrekenings oorbetaal. Jy weet wat sê jou paroolvoorwaardes oor ’n gemengery met ander …

    Tronkvoëls? Is dit wat sy daar op haar tong se punt los? Hulle het nie gewone bankrekenings nie. Die prisonier is ’n dwelmsmokkelaar en ou tronkvoël, en die bewaarder se rekening is gevries nadat hy geskei en bankrot verklaar is. Ten minste, dis wat hy sê. Die punt is, hulle soek hulle geld in kontant. Maar dis vir later. Wat ek nóú mis, is konserte, Elizabeth, wanneer kan ons weer begin gaan?

    Ek het gewonder of jy al reg voel vir so iets, daar’s juis een in die Linder. Dilectus Meus, ’n uitvoering van vroeë Italiaanse sonates en motette.

    Sal jy bespreek?

    Ná ete wys Haman hom eers die werking van die iPhone en toe die iPad en vra terloops: Die bewaarder, is dit daai Bok Benadé, die een vir wie ek die kiste Klipdrift moes aanry tronk toe?

    Ja, Boss Bok, dis hy.

    En die dwelmsmous?

    Solomon Ruiters. Van hom sal ek jou later vertel. Wanneer ek reg is. Ek sal jou oor hulle albei vertel. Maar nie nou al nie, dis nog te rou. Wanneer jy sý geld gaan aflewer, moet jy baie versigtig wees, Haman. Hy’s ’n vuilgoed.

    Hoekom hou ons dit nie net terug nie?

    Nee! Hy weet van Elizabeth, hy weet sy’t my in die tronk kom besoek, hy sal haar adres hê … ons adres. Dis oor háár dat ek bekommerd is.

    Ek sal die geld gaan aflewer, maar hy sal jou nie los nie, Arthur, jy weet dit, nè?

    Hy’t beloof as hy die geld het, pla hy my nie.

    Beloof! Jy glo die woord van ’n stuk gemors soos hy?

    Ons sal meer wagte aanstel. Is ons klaar met die iPad?

    Nadat Haman weg is, maak hy reg vir bed. So ’n veilige kokon, hierdie weelderige badkamer met die wit marmer en blink chroom en spieëls, hierdie groot stort sonder bedreiging … so anders as daai primitiewe, onheilsame, onterende kommunale badkamer van Klipfontein Max se Seksie 3, Eenheid C.

    Vir sy teer vel het Elizabeth vir hom organiese seep gekry, tuisgemaak, en uit die bruisende skuim ontsnap aromas van klapperolie en van seder en laventel. Hy staan lank onder die stomende water, droog hom tydsaam af met ’n sagte handdoek wat sy ontwyde lyf salwe en streel.

    Voor die lang spieël betrag hy sy kaal liggaam, die rimpels en plooie van die los ou vel, die oumensboep en oumensvlekke, sy letsels en wondmerke.

    Ander word vet van tronkkos met al daai leë kalorieë, al die brood, pap, samp, onvoedsame suiker en sout en versadigde vette. Hy is lank en maer. Hy het afgeleer om te eet. Al tien jaar op ’n dieet. Hy het nie vet geword nie, maar betaal die prys – hare wat uitval, verrottende tande, bloeiende tandvleise, knaende hoesie, afgetakelde immuunstelsel, konstipasie, hoë cholesterol, hoë bloeddruk, slaaploosheid, kopsere, pynlike gewrigte. En dis nie eens die ergste van sy kwale nie.

    Hy vee sy dun grys hare met palms agteroor en vryf dan sy hele lyf in met die nagroom waarop Elizabeth aangedring het.

    Maar hy is nog nie reg vir bed nie, nog nie reg vir die pil om hom droomloos weg te vat nie. In slaapklere en nuwe kamerjas stap hy by sy kamer uit, sy pantoffels sag oor die weelderige Persiese loper, handgeweef in Afganistan.

    Die huis is stil. Elizabeth is seker ook al kamer toe, Haman terug in sy woonstel daar op die kwekery se winkel.

    Arthur druk die deur van die musiekkamer agter hom toe en sak met ’n diep sug in die leunstoel neer.

    Hy loer na die donker silhoeët van die groot swart vleuelklavier soos ’n hibernerende dier met blinkgepoetste huid. In die dowwe skynsel van die naglig druk hy die afstandbeheerder en in ’n vloer-tot-plafon-muurrak vol CD’s gaan blou en rooi liggies aan.

    Hy sluit sy oë en laat toe dat die eerste Bach-kantate deur hom spoel, deur sy kop en liggaam en wese – Komm, du süße Todesstunde … kom, o soet uur van die dood.

    Hilde Rössel-Majdan se openingsaria is ’n smeking vir die verlossende oomblik wanneer die dood uiteindelik arriveer, en haar altstem roep agter sy geslote ooglede beelde op van die pastorale sereniteit van die Elisiese Velde. Die tenoor Waldemar Kmentt volg met dieselfde tema van verlange om te sterf, en die koor berei die liggaam voor vir die graf en die siel se reis hemel toe. Die sluitingskoraal is ’n ontstellende aanmaning dat die fisieke proses van dood en die aftakeling van die liggaam nie te aangenaam is nie, hoewel dit darem troos met die wete dat die gees hemelse saligheid betree en altyd onaangeraak sal wees deur verdere aardse sondes.

    Hy geniet en waardeer ál JSB se kantates, maar is spesifiek aangetrokke tot BWV 161, asof dit spesiaal vir hom bedoel en geskryf en gekomponeer is, asof dit die metafoor is vir ook sý verlange en teistering en uiteindelike soete sielsverhuising.

    Hy wens hy kon sy tronkkoor geleer het om van Bach se kantates te sing, maar die repertorium van die Singing Roosters – hulle entoesiasme kon nie vergoed vir gebrekkige sang- en musiektalente nie – was helaas beperk tot ’n paar Kersliedere en tradisionele Afrikaliedjies met ’n gestamp van voete en ander liggaamlike perkussies.

    ***

    Sy nuwe roetine begin stadigaan beslag kry. Hy voel veilig in roetine. In die tronk is hy verkinder, gedwing om terug te keer tot ’n infantiele stadium van willose, daaglikse sleur. In sy nuwe, vry lewe begin hy leer om weer sy eie besluite te neem en weer sy eie lewensritme te volg.

    Hy lê en wag en hoor uiteindelik die klop aan sy kamerdeur en roep: Kom in!

    Die deur gaan oop en Thoko bring die skinkbord in met sy koffie en glas lemoensap. Môre, Arthur! Steeds daai vrolike groet van tien jaar terug, asof niks verander het nie, asof hy net weg was op ’n lang vakansie.

    Môre, Thoko. Op die bedkas maak sy plek vir die koffie en sap en gaan trek die gordyne oop sodat hy op die welige grasperk en boomryke agtertuin kan uitkyk. Maak ’n venster oop sodat ek die oggend kan ruik en die voëls kan hoor.

    Sy kom pof die groot kussings agter sy rug uit en hy skuif op. Wat soek jy vir brekfis – pap? Die pap-grappie maak sy elke oggend, en hy laat haar begaan.

    Ek soek pannekoek, opgerol met warm piesang en heuning en jogurt.

    Toe sy uit is, sit hy teen die kussings met sy nuwe leesbril en sluk aan die lemoensap en bestudeer op sy iPad gister se sluitingsyfers op die JSE en die finansiële aanwysers vir internasionale geldmarkte en die beurse in New York, Londen, Frankfurt, Parys, Tokio en Shanghai.

    Sy aansienlike erfporsie lê in kommersiële geboue aan die Rand en in Pretoria en in ’n diverse portefeulje van plaaslike en buitelandse beleggings, en ’n handvol besighede onder beheer van ’n houerkorporasie, W & K Enterprises – vandat sy gewetenlose en sedertdien vervreemde bloedsuster hom dertig jaar gelede slinks uitgewerk het uit die familiebesigheid en hy uiteindelik op aanneemlike voorwaardes (deur ’n hofbevel bekragtig) en veral uiters mildelike vergoeding besluit het om afstand te doen van medeseggenskap in Wilky Holdings.

    Nadat hy sy lemoensap gedrink en die finansiële en ekonomiese data bestudeer het, staan hy op en gaan doen sy ablusies – sorgvuldig, rustig, tydsaam, en veral ongesteurd. In die ruim instapkas soek hy tussen die nuwe klere sy drag vir die dag uit.

    Hy gaan eet sy ontbyt alleen; Elizabeth is soggens teen dagbreek al by die kwekery. In sy kantoor maak hy die twee glasdeure na die onderdakstoep en agtertuin oop, en begin sy adviseurs en makelaars en batebestuurders bel.

    Dis belangrik dat almal mooi verstaan dat hy terug is en opnuut die leiding neem van sy eie bestemming, spesifiek van die roete wat hy wil loop om daar uit te kom. Dis ook belangrik dat daar geen ruimte vir misverstande is oor sy opdragte en behoeftes vir die dag nie. Hy wil nie weer met ’n krisis sit nie.

    Sy laaste oproep is aan sy getroue ou vriend en gesinsprokureur, George Pagel, oor R200 000 wat George op Arthur se aandrang sonder groei by Fiduciary Trust & Wealth geparkeer het. Hy vra George om met Du Plessis te reël om daai Ruiters-rekening te sluit en die geld oor te plaas na George se trustrekening. George weet presies wie Ruiters is, en dis ook sy advies dat daar geen elektroniese geldspoor of verband of enige kontak tussen Arthur en Ruiters mag wees nie, nie net weens hulle verskil in klas en stand nie, maar omdat albei se paroolvoorwaardes pertinent enige kontak met enige ander bandiet of eksbandiet verbied.

    George adviseer dat hy self, wanneer Arthur meen die tyd is reg, die geld in kontant aan Haman sal oorhandig, sonder Arthur se verdere tussentrede.

    Die res van die dag bring hy in die konservatorium deur tussen sy geliefde kaktusse. En worstel met Haman se toenemende aandrang dat hy bieg oor wat régtig alles met hom in die tronk gebeur het.

    Die aand voor bed, soos nou sy gewoonte begin word, lê hy in die flou lig agteroor in sy musiekkamer se stoel, asof in ’n toestand van skyndood, sy asemhaling kwalik merkbaar, sy oë gesluit, die klaviernote in die skemerlig bo hom, om hom, in hom, geabsorbeer deur elke sel van sy liggaam; hy hoor nie net die musiek nie, maar voel dit en sien ook die pianis se vingers oor die klawers, niks gejaagd of moeitevol nie, die toon van elke prelude perfek besin, die ontvouing van elke fuga ongedwonge. Dis soos dit moet wees met JSB: die helderheid van essensie, die suiwerheid van kontrapunt. Dis hierdie preludes en fugas van The Well-Tempered Clavier wat hom sy gesondheid van gees laat behou het in daai lang, onrustige tronknagte, eers op die klawers van sy verbeelding, toe op ’n werklike klavier.

    As kind al het hy sy ma saans op die ou Steinway begelei en wanneer hy sy oë sluit en sy gedagtes laat terugdwaal, hoor hy haar steeds in volle glorie sing: Die heem’le vertel en Inkosi Jesu en Klein Piedeplooi en My koekiesveerhen en Satang se kinders en Gelowige hart, wees vrolik.

    Maar vandat hy uit is, het hy nog nie die moed gehad om die deksel van sy nuwe Bösendorfer oop te maak en sy vingers op daai klawers te sit nie. Sy handgemaakte Bösendorfer Mignon, 155 sentimeter lank, 125 sentimeter breed, 300 kilogram swaar. Op sy versoek ingestem volgens Young se tweede temperament – sommer Young’s No. 2, die ideale stemming vir die Well-Tempered Clavier, daaglikse brood vir enige ernstige pianis, lewenspyse vir die gees, inleiding tot alle musiekgeheime. Arthur is dit volmondig eens met Von Bülow: as Beethoven se 32 sonates ons Nuwe Testament is, is Johann Sebastian Bach se Well-Tempered Clavier ons Ou Testament.

    Maar die Bösendorfer moet nog eers wag.

    Hy sit diep versonke en luister, gevul met gedagtes oor klaviere en musiek en plante en vryheid. Wel, hy is vry van die tronk, maar nog nie bévry nie.

    Net ná middernag maak Arthur sy oë oop en skakel die musieksentrum af.

    Hy oorweeg ’n slaappil, besluit daarteen, staan op en stap deur die groot, stil vertrekke kombuis toe. Hy skakel die ketel aan, haal een van sy ma se porseleinteepotte uit en meet die Earl Grey daarin, spesifiek die teemengsel met net ’n sweem van sitroen. Op die silwerskinkbord sit hy ’n fyn wit porseleinkoppie-en-piering en ’n teesiffie en dan skink hy die kookwater in die pot. Hy roer dit, sit die deksel op en dra die skinkbord by sy studeerkamer se glasdeure uit en sit dit op die blad van die tafel op die agterstoep.

    Die stoeplig baai ’n kol van die grasperk en naaste blombeddings in ’n warm glans.

    Hy staan met sy hande agter sy rug terwyl die tee trek en tuur oor die ligkol sy donker tuin in, tot doer agter die struike en bome in die koers van die wandelpad al saam met die loop van die spruit, en teug diep aan die somernag se herinneringe. Ook aan ’n reuk van reën, of verbeel hy hom? Wat nié sy verbeelding is nie, is die geure van die nagblomme wat op die stil lug sy neus bereik, iets speseryagtigs, iets soets, die sterkerige vanielje van die maanblomme, wit en pienk en groot soos trompette – ál die nagblomme, nie net die cereuse in sy konservatorium nie, maar ook die ander wat hy vir Elizabeth gevra het om hier in sy agtertuin te laat plant: die pragtige geel van die evening primrose, die romerige aandpypies, die Casablanca-lelies, Nottingham flycatcher, four-o’clocks, dragon fruit, Dutchman’s-pipe.

    Hy draai om, roer weer die tee en skink deur die siffie. Hy sit agteroor, kruis sy enkels ver voor hom uitgestrek en beskou, een vir een, die galery gesigte in sy kop. Altyd dieselfde gesigte, soos die uitstalling van ’n ry geraamde foto’s van eens vername mense, elkeen eens gewerdig om afgeneem en geraam en teen ’n muur gehang te word, hulle presiese betekenisse intussen vervaag, selfs vergete.

    Nie sý galery nie – elke gesig hier ’n etterende sweer wat uit sy gees uitgesny moet word voor dit té laat is, voor die besmetting verder versprei en onomkeerbaar is.

    Dit was sy groot vrees, ná daai nag in die tronk se stort – sy en George se vrees, want vir George kon hy dit nie wegsteek nie; daar moes toetse gedoen word, elke paar maande, op behandeling besluit word, op hit hard, hit early (George se krygskreet om die virus te beveg). En hulle was suksesvol, dis nie meer ’n akute lewensgevaar nie, nou net ’n chroniese kondisie wat in beheer gehou word met die daaglikse kombinasiepil HAART, vir hoogs aktiewe antiretrovirale terapie.

    Al die gesigte in sy galery …

    Haman is reg, die las is te swaar om alleen te dra. En om dit uit sy gestel te purgeer, moet hy dit lug gee en uitpraat en deel. Nooit met Elizabeth nie, maar met Haman.

    In die tronk was daar nie ’n keuse nie, dit was deel van sy straf. Hy kon Elizabeth en Haman nie verder belas nie, die skok was klaar te groot – van sy arrestasie, die hofsaak, skuldigbevinding, sy tronkstraf. Hy moes hulle teen verdere skokke beskerm, en wat daar binne gebeur het, in daai primordiale wêreld, moes hy alleen dra.

    Hy hoef nie meer nie.

    ***

    Vannag is hy nie op sy stoep of in sy musiekkamer nie, maar in die konservatorium. Ook hier is net ’n paar nagliggies aan.

    Hy sit op die bankie in die middel, omring deur sy kaktusse, en in die powere skynsel fladder en sweef die nagmotte soos herfsblare tussen die spokerige stingels en ranke.

    Uit die luidsprekers aan die oop balke is dit András Schiff se vingers op die klawers met JSB se Goldberg-variasies, die note byna voelbaar aan sy vel.

    Die donker skemering omvou hom, beskerm hom, hou hom veilig. Soos ’n kat of ’n uil of ’n mot is die nag sy tuiste en hier in sy konservatorium kan hy homself oorgee aan ’n ander, ouer dimensie.

    Op vier het hy sy eerste mot geëet. Eintlik net ’n ruspe. Van Gonimbrasia belina, pouoogmot van die Saturniidae-familie. ’n Lekkerny vir baie, dié gedroogde mopaniewurm. Nie vir hom nie. Maar hy glo daar het in sy maag ’n wonderlike metamorfose van larwe tot papie tot mot plaasgevind.

    Soms, selfs soveel dekades later, verbeel hy hom steeds – veral daar in die baie eensame tronknagte – dat hy die fladdering van vlerkies in sy ingewande kan voel.

    Maar dis ’n groot saligheid, so omgeef van al sy spesiale plante en die spesiale motte wat hulle besuig en bestuif.

    En terwyl hy so diep sit en luister, hoor hy die geknaag van ’n duisend wurms aan die blare, en die gewoel en gedowwel van ’n duisend imago’s wat uit hulle papieskille uitvroetel, en ’n duisend donsvlerkies wat sag ontvou en ruis en opstyg, en aan die bries aan sy vel kan hy ’n versteuring aan die wêreld se lug voel.

    En hy neem die besluit: môre!

    Môre sal hy álles vir Haman vertel. Hy sal sy hart oopmaak en bieg, bieg, bieg. Hy sal dit uitstort, alles wat daar in die tronk met hom gebeur het. Ook die werklike rede vir die antiretrovirale pil.

    Miskien sal hy dan, uiteindelik, die vrymoedigheid hê om voor sy Bösendorfer te gaan sit en die eerste note van die eerste gebroke akkoord van die eerste prelude van JSB se eerste Clavier-boek te speel – in C-majeur, beginnend met middel-C.

    Maar waar sal sy bieg begin – by die skietery, by sy verhoor, by die tronk?

    Nee, hy sal by die oë begin.

    By die Neser-kind se oë.

    DIE UITSPRAAK

    Vrydag 27 Oktober 2006

    Toe sy uitkom, staan Silas klaar daar op die skool se stoep vir haar en wag, en die lug is grys betrokke en die son wasig asof agter geslypte glas.

    Hoe was dit? vra hy op pad kar toe.

    Ella haal ’n skouer op. Dit was oukei. Het hulle al begin?

    Jy sal niks mis nie. So ’n uitspraak is ’n langdradige besigheid, dit kan baie vervelig wees.

    Eintlik moes haar pa self ook daar gewees het. Dis net reg dat hy by is, op hierdie dag wanneer oor sy skieter se lot beslis word. Maar hy kan nie, hy lê al tien maande in sy eie donker heelal, en sy kanse lyk al hoe slegter. Haar ma glo hy sal regkom, sy sê dis moontlik, want mens hoor elke dag van iemand wat bykom. Maar die dokters klink nie so seker nie.

    Wat’s jou planne? vra Silas in die ry.

    Hy’s die praterige soort, stiltes pla hom. Nie vir haar nie, veral nie vanoggend nie, vanoggend het sy baie om oor te dink; haar kop is vol fisika en skieters. Die dag ná my laaste vraestel begin ek al werk … waiter. Dis klaar op haar kalender afgemerk: 29 November, op haar verjaardag!

    Waiter? Jy bedoel seker kelner.

    Ag, tog. Ja, by die Dros. Kampusplein. Hy’s tog so vol fiemies as jy jou taal mix.

    Ek wag nog vir jou aansoek, ek het mos gesê ek sal ’n aanbeveling saamstuur Pretoria toe.

    Ek gaan eers swot. Dis wat ek besluit het.

    En jy dink kelnerwerk sal vir universiteit betaal? Saans in die Dros en soggens in die klas … Wil jy nie meer polisie toe kom nie?

    Sy hoor die verwyt in sy stem, asof sy haar pa verraai, noudat hy so hulpeloos en stemloos daar in sy diep slaap lê. Ek wíl. Dis al wat ek wil doen, maar eers as ek klaar studeer het.

    Dis wat haar ma ook gesê het. Die dag met jou geboorte het jou pa die eerste paar rand in jou neseier gesit, en dit elke maand aangevul. Daar’s genoeg, gaan leer eers, gaan geniet dit om student te wees, vir grootmensgoed is daar baie tyd, dis al wat jy gaan doen vir die res van jou lewe, om groot te word.

    Jy moet vasbyt, Ella, sê hy, en sy vra nie waarvoor sy moet vasbyt nie – dalk oor die matriekeksamen, maar sy dink hy bedoel oor haar pa se toestand.

    Haar ma gryp na halms. Sy weet nie waar haar ma van sulke pasiënte hoor wat uit lang komas bykom nie. Miskien ná ’n paar weke, beslis nie ná só lank nie. Sy liggaam is klaar vermaer, sy spiere uitgeteer, sy wange ingevalle. Maar die groot fout lê daar in sy brein waar jy nie kan inkyk nie. Van sy brein sien jy net golwe op die EEG se skerm, en daarvan verstaan sy niks, net dat hy breinskade het. En wat elke dag haar oë bly lok, is die merk bokant sy oog. Dis wat die skade veroorsaak het. Daardie koeël wat daar bly sit. Die dokter sê hy weet nie of dit geluk by die ongeluk is nie. As dit ’n groter kaliber was, was hy dood. Nou leef hy darem nog, al is dit in ’n bestaan waartoe niemand anders toegang het nie. Hulle het oorweeg om dit uit te haal, toe daarteen besluit. Die risiko was glo té groot.

    Die risiko vir wat? Dat sy toestand verder kan versleg? Hoe kan hy verder versleg as die verslegting waarin hy reeds is? Hoeveel stappe van verslegting is daar met sy laagste moontlike telling van drie op die Glasgow Coma Scale: GCS 3 = E1 vir eye response + V1 vir verbal response + M1 vir motor response.

    Diagnosis: persistent vegetative state.

    Prognosis: poor.

    Deur die verkeer merk sy hoe die wasige son nou heeltemal agter die wolke verdwyn het. Is my ma al daar?

    Sy hou vir jou plek.

    Asof sy laat is vir ’n konsert. Sy is laat omdat sy van nege tot elf in die eksamenlokaal was. Die hofsaak kan nie op ’n slegter tyd wees nie: in die middel van die eksamen. Vanoggend moes sy die fisikavraestel skryf met die stres van afwagting en onsekerheid. Maandag met die chemie sal dit darem bietjie beter wees – sy sal by die lokaal instap met berusting, wat ook al vandag in die hof gebeur.

    Hoe voel jy? vra hy.

    Ek’s oukei. Sy voel nie oukei nie, sy is styf soos ’n snaar oor die fisika en oor wat in die hof wag. Wie’s by my pa?

    Maggie.

    Natuurlik. Goeie tant Maggie. Goeie ou babasitter wanneer sy en haar ma albei uit die huis moet wees. Wat min gebeur, maar tog. Soos vandag.

    Is jy dors? Daar’s ’n kafee, ek kan gou stilhou.

    Nee, ek het nog water.

    Hy sal nie loskom nie.

    Ek weet. Dis wat almal sê: hy sal nie loskom nie. Asof dit ’n troos is.

    Hy. Niemand noem sy naam nie. Hy. Die skieter.

    Sy het hom nog nooit gesien nie. Sy wou hom nie sien nie. Haar ma wou, maar op die ou end het sy net die eerste dag van die verhoor bygewoon, net om te sien hoe lyk die man wat haar pa geskiet het, en dit was genoeg, het sy gesê.

    ’n Bordjie langs die straat: Reserved: Police Vehicles Only. Hy glip by die gaping in. Agter die tralieheining langs die sypaadjie rys die massiewe klipstruktuur van die Johannesburgse landdroshofgebou. Hulle stap na die ingang met die klipbeeld van ’n vrou, maklik drie meter hoog: Justitia, Lady Justice, vrou van geregtigheid. Bo pak die wolke digter en donkerder saam en kom lê laag en dreigend oor die stad.

    Die groot binnehof is maklik honderd meter en langer, met marmerpilare en terrazzovloer en stil wagtendes op

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1