Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Seisoen van sonde
Seisoen van sonde
Seisoen van sonde
Ebook419 pages7 hours

Seisoen van sonde

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Die polisie soek na ’n reeksmoordenaar. Die eerste lyk, dié van ’n vrou, word na ’n storm op die rotse gevind – vasgebind aan ’n paal met ’n papie in haar toegewerkte mond. Die lyke wat volg is elk op nog meer bisarre wyse agtergelaat. Jack, ’n psigopaat, is sistematies besig om mense te elimineer vir sy enigmatiese meester, Minos. Die laaste slagoffers op Jack se lys is Wim, ’n skoenlapperboer naby Wildernis, en sy assistent, Portis. Beide het kontak gehad met die regeringsprojek Anthenor in die Apartheidsjare – Wim as navorser en Portis as jong struggleleier.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780798153652
Seisoen van sonde
Author

Chris Karsten

Karsten is ’n bekroonde skrywer en voormalige joernalis wat in Kanada woon. ​Koms van die motman​ is die derde in die nuwe Ella Neser-reeks. Die voriges sluit in Die dood van ’n goeie vrou en Die verdwyning van Billy Katz. Albei romans is benoem vir die ATKV-prys vir die beste spanningsroman, en Billy Katz ook vir die ATKV-prys vir die beste roman.

Read more from Chris Karsten

Related to Seisoen van sonde

Related ebooks

Related articles

Reviews for Seisoen van sonde

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Seisoen van sonde - Chris Karsten

    Seisoen van Sonde

    Chris Karsten

    Human & Rousseau

    SEISOEN VAN SONDE KAART.tif

    Vir Udo en Eric

    AGT DAE VOOR PASE

    Sy prooi is op twee foto’s, ’n man, vet en nie meer jonk nie, miskien al sewentig. Op die gesigskoot oë spletig tussen digte wenkbroue en vlesige wange, rossig van die lekker lewe. Op die vollyffoto hang ’n swaar buik.

    Die gesig en naam van sy prooi is vir die jagter vaag bekend, maar nie belangrik nie. Wel van belang is adres en gewoontes. Die prooi woon saam met sy vrou in ’n kompleks van tuinhuise, almal boere-Toskaans. Wat die jagter meer beïndruk as dié voorkeurstyl van die nouveau riche, is die omheining – geëlektrifiseerde draad op ’n hoë betonmuur, by die enigste toegang ’n waghuis met elektroniese hek, 24 uur beman.

    Een van die prooi se gewoontes is om soggens sesuur op te staan. Waarvan die jagter onbewus is, is die ritueel van die opstaan, affektasies van die prooi wat sy vrou al langer as ’n dekade sedert sy aftrede irriteer. Maar soos dit ’n goeie vrou betaam, verduur sy dit wanneer hy soggens na die bedlig reik en die nag se slym uit sy bors kug. Haar kop is weggedraai wanneer sy luister hoe hy steunend sy logheid uit die bed uitspook, hoe hy kreunend sy bene in die pype insukkel van die sweetpak waarvan sy die buikmaat met ’n nuwe rek moes vergroot, die gehyg om die veters van die duur Nikes te knoop. En immer op sy kop die pet, sy gunsteling, die een met die inskripsie USMC saam met drie sterre outentiek in goue draad gebosseleer.

    Wanneer hy uitslof, wag sy op die geklop van die wandelstaf van geelhout teen die kapstok in die portaal, ’n teken vir die drie Corgi’s om te begin blaf. Agter die deur van die motorhuis waarin hulle snags slaap, is hulle hees en amegtig, want hulle is, soos hulle baas, oud en plomp van bederf. Sy staptog soggens is op aandrang van sy kardioloog, die drie Corgi’s s’n op aanbeveling van hulle veearts.

    Die jagter dink en skryf en oorweeg sy opdrag. Diep in die nag begin ’n strategie vorm aanneem. Hy maak ’n inkopielys. Vroegoggend vertrek hy met sy swart Ducati-motorfiets na die park in Nieu-Muckleneuk, na die roetes van drawwers en stappers onder die kameeldorings en kiepersolle en jakarandas deur.

    Hy merk die vet man met drie Corgi’s. ’n Leiband is onnodig; hulle is nie baldadig nie en dwaal nie af nie. As hulle onder boomstamme snuffel, is dit net vlugtig voor hulle weer hulle baas se spoor vat.

    Die jagter maak aantekeninge en bespied die oefenroetes. Die drawwers, jonk en fiks, verkies die uitdaging van die slingerende voetpad hoër op tussen die bosse van die helling. Die stappers, ouer, die plaveiroete onder deur die bome, al langs die fleurige randakkers van die groen grasperke. Wat die jagter opval, so vroeg in die oggend, is die min stappers. Miskien, dink hy, verkies hulle om laatmiddag te gaan wandel, wanneer ou bene kans had vir ontdooi.

    Hy hou sy prooi dop, sien hoe die honde die stamme beruik, bene lig.

    Die jagter kry die plek vir sy hinderlaag, buite sig van drawwers.

    Terug by sy woonplek soek hy op die internet, en met ’n goedkoop selfoon huur hy ’n skeepsvraghouer van twaalf kubieke meter by Mr Box Self-Storage naby Wildernis aan die Suid-Kaapse kus. Die huurgeld vir ses maande, op ’n vals naam en adres, gaan deponeer hy in kontant. Hy vernietig die SIM-kaart en gooi die selfoon langs die pad in ’n stormwatersloot, tussen plastieksakke, bierblikke, bottelskerwe.

    Vir sy inkopies los hy die motorfiets in sy enkelmotorhuis en vertrek met ’n wit VW Caddy-paneelwa. Op sy lys by die hardewarewinkel is ’n industriële slot van tungstenkarbied vir die vraghouer se deur, ’n rol sterk kleefband, ’n plastiekseil, ’n graaf, ’n stel wellingtons, nylonbergklimtou, en ’n Oxytorch met propaangaskannetjie, van die soort wat loodgieters gebruik. By ’n supermark koop hy ’n kilogram wors, volgraanbrood, kaas en ses eiers. By ’n apteek ’n boks met latekshandskoene.

    Vir die laaste item op sy lys ry hy na die MultiFlora-blommemark in City Deep. Hy koop dertig bondels vars snyblomme – blou alstroemeria, pers anemone, rooi angeliere, wit dendranthema, geel madeliefies, pienk ranonkels en koningsproteas.

    Vroeg die volgende oggend, lank voor ses, doen hy soos gewoonlik sy isometriese oefeninge. Hy oefen tot die lang hare nat in sy nek hang, sweetdruppels in sy swart baard glinster. Onder die stort begin hy ontslae raak van sy hare en baard. Hy knip dit eers met ’n sker, skeer daarna die stoppels van sy kop en gesig af, ook die res van sy liggaamshare. Glad en haarloos tintel die vel oor sy soepel spiere.

    Van die ou kisyskas teen die agterste muur van sy motorhuis verwyder hy ’n staander, bedek met ’n ou laken, sodat hy die deksel kan oplig om by sy noodhulphouer uit te kom. Hy meng ’n paar mikrogram carfentanil in vyf stukke wors en trek ’n verdunde oplossing daarvan uit ’n ampul in ’n spuitnaald op.

    Kort ná sesuur wag hy naby sy hinderlaag in die park. Hy sit in die Caddy, onbewus van die subtiele geure van die blomme in die paneelwa. Sy prooi kom tussen die jakarandastamme deur, waggelend soos ’n vet eend, agter hom die drie Corgi’s, pense laag oor die gras, rooi tonge smagtend na asem. By die stukke wors langs ’n stam steek die skommelende honde ineens vas, sluk dit gulsig op, snuif vir nog. ’n Ent verder draai die prooi sy lyf moeisaam om na die honde onder die bome. Tussen die stamme steier die honde dronk op hulle kort bene, plons neer, probeer orent kom. Die prooi draai terug na sy honde. Die jagter merk die frons op sy prooi se gesig oor die onverwagse traagheid van sy honde, die klaarblyklike loomheid wat hulle langs ’n stam oorval het. Hy steun luid toe hy by die honde hurk, besorg oor die skuimerigheid om die bekke, oë wat wit omdop.

    Die jagter kom van die Caddy af nader gestap, asof vir ’n terloopse ontmoeting tussen twee vroegoggendse stappers. Die eienaar van die honde is dankbaar vir die medestapper se aanbod om hulle by ’n veearts te kry. Hulle dra die honde na die Caddy. Eers toe al drie op die gras agter die paneelwa lê, maak die jagter die deur oop en roep sy prooi nader om die blomme te help verskuif vir plek vir die honde. Die man se uitroep agter die handpalm om sy mond is gesmoord toe die spuitnaald sy dik nekrol prik, ’n dosis van net ’n paar mikrogram carfentanil. Met sy bolyf agter in die vragruim van die paneelwa probeer hy hom teensit teen sterk arms wat hom vaspen. Net sekondes, dan verslap die groot liggaam; tien milligram van die opioïed is genoeg om ’n olifant te immobiliseer. Die bakdeur klap toe. Die jagter kyk vir laas rond, sien geen nuuskierige oë van drawwers nie, sien geen stappers nie, en die Caddy vertrek. Die drie bedwelmde Corgi’s bly op die gras onder die boom agter.

    Die halflewe van die carfentanildosis is negentig minute en in sy motorhuis bind die jagter sy vet prooi se hande en voete agter in die paneelwa met die kleefband vas, plak ’n strook oor sy mond en bedek hom met die plastiekseil, die bosse blomme oor die seil gerangskik.

    Hy vervang die nommerplate en gaan bak die wors wat oorgebly het, saam met die ses eiers, maak ses snye roosterbrood met gesmelte kaas op en geniet sy ontbyt. Nadat hy sy eetgerei gewas en weggepak het, gaan lê hy op sy bed. Sy vingers soek deur die bladsye van die boek op sy bedkassie. Dit is die enigste boek wat hy besit, en die hoeke van die bladsye krul om van die baie vat. Hy kry die HOOFSTUK wat hy soek. Hy begin dit aandagtig lees terwyl hy met ’n potlood kantaantekeninge maak. Hy lees en skryf byna ’n uur lank voordat hy die boek toevou en sy oë sluit. Hy het die rus nodig; ’n lang pad deur die nag lê voor.

    Teen sterk skemer vertrek die jagter na die primordiale vleiegebied by Wildernis. Teen sonsopkoms wys ’n faktotum by die Mr Box-depot, stuurs van die vaakte, sy gehuurde vraghouer aan hom uit, die laaste een in ’n ry, eenkant onder die lae takke van ’n Kaapse es. In die houer laai hy sy vrag uit. In die skemerte van die staalhouer rol die vet man se oë, nou groot en rond, agter elke beweging aan. Die jagter is ongesteurd deur die kreune en hygings agter die kleefband terwyl hy die bosse blomme in ’n hoek opstapel en sy ander inkopies sorgvuldig op die vloer uitpak. Die graaf en waterstewels los hy agter in die Caddy.

    Hy sluit die deur met die nuwe tungstenslot, loer na die grafstilte van die faktotum se Wendyhut, en vertrek om die vleie te gaan verken, soos dit ’n toeris betaam. Hy ry ure rond. Op plekke wat sy aandag trek, parkeer hy die Caddy, klim uit, slenter rond en besigtig die omgewing.

    Laatmiddag keer hy na die nou verlate vraghouerdepot tussen die ruigtes terug, tevrede met sy toer. Uit die boks haal hy twee handskoene vir die delikate werk wat wag. Die lateks span soos vel oor sy groot hande terwyl hy die klein kannetjie met propaangas aan ’n ligte Oxytorch vasskroef. Die Oxytorch het ’n sproeiklep waaraan die drukking en vlamkonsentrasie verstel kan word wanneer hy die vlam aansteek. Hy wil nie sweis of soldeer of metaal met ’n blaasvlam sny nie. Hy het nie ’n blouwit kern in die vlam nodig nie; ’n rooi vlam is geskik vir sy doel, minder as 120 grade Celsius, vir net enkele sekondes.

    Sweet aan die prooi se gesig, kreune gesmoord uit die gesnoerde mond, oë wit op die pragtige stilet wat soos ’n kleinood uit sagte marokynleer oopgevou word. Die lem is uit wootzstaal gesmee tot ’n vlymskerp punt. In die harde, rooi Libanonseder van die greep is die uitbeelding van ’n vreemde soort voël gekerf. Die hef en lem perfek gebalanseer.

    Die stilet se lem is dun en sonder snykante, maar lank genoeg vir die skerp punt om agter in die nekrolle in te glip, tussen twee nekwerwels deur, om die rugstring af te steek. Met die onderbreking van die konneksie tussen die brein en spiere is die prooi se liggaam onmiddellik verlam. Die bloedvate vergroot en sy bloeddruk val. Hy verloor binne sekondes sy bewussyn en sterf ’n paar minute later. Weens die lae bloeddruk en hart wat ophou om bloed deur die are te pomp, is daar net geringe bloeding aan die klein ronde wond toe hy die stilet ná ’n paar minute uit die dik nek uittrek. Die jagter het nie ’n weersin aan bloed nie, wel aan mors; dit bemoeilik opruiming en skep risiko’s.

    Hy druk die kussings van sy voor- en middelvinger teen die slagare van die keel. Die vel warm onder sy vingers, maar sonder polsslag. Op die yl, grys hare plaas hy die pet terug, met die goue USMC en drie sterre (persoonlik deur generaal Alfred M. Gray in Arlington, Virginia, aan sy prooi geskenk, maar dit weet die jagter nie).

    Nou lê hy met sy agterkop teen die wand van die staalhouer, die ken sag genestel in die rolle van sy dik keel. Dit lyk of hy net dut, met die pet skuins oor die voorkop, asof hy dalk droom dat hy werklik ’n generaal in die US Marine Corps kon gewees het.

    Die jagter trek sy prooi se Nikes en sokkies uit, en ontsteek die Oxytorch se vlam met die druk van ’n rooi knoppie. Hy verstel die lekkende vlammetjie effe groter. In die stil, donker vraghouer sis die gasvlam sag. Die jagter hou van vuur.

    HOOFSTUK 1

    Die bergreeks het sy huidige voue en rûens al in die geologiese Kryttydperk 140 miljoen jaar gelede gekry. In die Tersiêre Tydperk, 60 miljoen jaar gelede, was die kuslyn van die Indiese Oseaan nog tot aan die voet van die Outeniquas, met Spioenkop bokant Swartvlei net ’n eiland. Oor millennia het die oseaan teruggetrek en ’n wye kusterras tussen berg en see agtergelaat. En het riviere uit die berge diep ravyne gevreet uit die sagte, krytagtige moddersteen en sandsteen tussen die harde Tafelbergkwartsiet. Saam met dié erosie in die terraslandskap het die suidwestewinde van die Pleistoseense Epog die fossielduine aan die kus gevorm, en die water het opgedam in die groot vleie van Wildernis – Eilandvlei, Langvlei, Rondevlei, Swartvlei, Ruigtevlei en Groenvlei.

    Dit is in hierdie waterwildernis van net twee miljoen jaar oud dat die warm bergwind al twee dae waai, die voorspel tot ’n koue front uit die Kaap.

    In die Goeroegabvallei hoog in die Outeniquaberge, beskut teen die ergste stormwinde, is Wim voor sy rekenaar. Vroeër was hy bewus van die geloei buite en die gekreun van die ou huis se dakbalke binne onder aanslag van die godganse wind. Nou is sy aandag by Luigi Scaravelli se e-pos uit Reggio nell’ Emilia in Italië; selfs Handel vervaag saam met die wind by die lees van Luigi se wonderlike nuus oor die ontwykende Polyommatus crostolas.

    In ’n ondersoek aan die voetheuwels van die Apennyne het twee Italiaanse entomoloë teen ’n hang vol bergheide en ’n lap wilde blou lupiene op die skoenlappers afgekom, net ’n paar, in die kommune van Ciano d’Enza. Die suiwerste, blouste blou. In die oggendson sweef hulle soos glimmende spatsels lasuursteen op die wind, laat weet Luigi entoesiasties.

    Wim hoor nie die sagte pof van lug as die deur oopgaan nie, voel in die beslote ruimte van die voorhuis eerder net die verandering aan lugdruk soos ’n skielike asem aan die vel van sy arms. Portis hink in op sy prostetiese voete, die stewels sonder funksie, bloot vertoon.

    Ky’kie, sê hy, die eerste morpho’s gaan môre begin uitkom.

    Wim kyk op. So gou?

    Die papies is al tien dae oud. Portis trek ’n stoel nader, kry sy sit neffens Wim, stoot sy stewels voor hom uit, sug. Die kunsvoete kan sy gewig nie lank dra nie.

    Wonderlik, sê Wim. Wie kom eerste uit?

    "Die cacica," sê hy.

    A, sê Wim. Die cacica is wonderskoon in sy fynheid, met vlerkies van metaalblou, soos ’n neonliggie wat dans. Met die wit vlekkies op sy voorvlerke kan jy hom maklik verwar met die electra, maar húlle blou is minder intens, die golflengtes van die lig wat van húlle vlerke reflekteer, korter as dié van die cacica.

    Daar’s honderde wat gaan uitkom, die volgende paar dae, sê Portis. "Die lympharis, sulkowskyi, didius …"

    Die hemele gaan neerdaal, sug Wim, al die blou.

    In die atriums is daar áltyd blou, maar dit is ’n baie spesiale tyd wanneer die morphochrysalisse uit hulle velpapies kruip en hulle vlerkies die eerste keer oopmaak en toets, en ineens blou in die lug fladder.

    Portis leun nuuskierig oor na die boodskap wat die rekenaar uit die donker kuberlabirint gaan uitdelf het. Dis van Luigi, bevestig Portis.

    Die twee koppe nou dig teen mekaar voor die skerm, soos twee samesweerders, om hulle die overture van Alexander se fees.

    Hy’t hulle gekry, sê Wim.

    Hy’t hulle gekry? vra Portis met ontsag.

    "Die Polyommatus crostolas het tóg nie uitgesterf nie."

    Die hele wêreld gaan op hulle toesak.

    Portis is geneig tot oordrywing, selfs fatalisme. Daarvoor verkwalik Wim hom nie, maar troos tog: "Dis nog vertroulik. Juis om die crostolas te beskerm, is die verslag nog nie openbaar gemaak nie."

    Luigi Scaravelli is senior klerk in die streekkantoor van die Ministero delle Politiche Agricole e Forestali in Bologna, die staatsdepartement wat die ondersoek na die voorkoms van skoenlappers in die plattelandse gebiede van Emilia-Romagna subsidieer.

    Ons móét hulle kry, sê Portis geesdriftig. Die crostolas is die heilige graal van blou skoenlappers.

    Ek sal ’n vlug bespreek, sê Wim.

    Voor die wêreld op hulle toesak, voeg Portis by.

    In die woordstilte vlinder Luigi se elektroniese farfallina oor die skerm, van hoek tot hoek tot hoek, op die bas, andante allegro, van Revenge, Revenge. Wim staar na die skoenlapper wat die rekenaarskerm beskerm. Ek lees in die koerant die gewese minister het toe besluit om Bonteheuwel toe te gaan.

    Portis swyg. In die stilte sing net die sopraan nou: Give the vengeance due.

    Dog jy sou belangstel, sê Wim.

    Portis kom orent, stoot die stoel agteruit, sy kunsvoete sleep terug deur toe. Ek gaan kyk of die papies se temperature reg is. Moet ek vir jou ’n paar nuwe hemde gaan koop, vir Italië? Jy kan g’n jou flentergoed daar gaan dra nie.

    Wim knik net en Portis trek die deur agter hom toe, los hom alleen, opeens sonder behae. Hy sluit sy oë, leun agteroor en laat die soet musiek deur sy kop spoel. And may this evening ever prove sacred to harmony and love. Eers dan, ná die koor, staan hy op en gaan soek vir Portis.

    Die temperature is Portis se verskoning. ’n Rekenaar reguleer hitte, humiditeit en lugvloei in die skoenlapper-atriums. Selfs die mikrobesproeiing van die nektarplante, die misreën vir die morpho’s uit die Suid-Amerikaanse reënwoude, en die suigwaaiers vir droër lug vir die Euphilotes en Agrodiaetus word elektronies beheer.

    Portis was ’n ywerige leerder van die geheime van skoenlappers. Skoenlappers en motte, het Wim hom geleer, behoort aan die orde Lepidoptera van die insekteklas Hexapoda. En Portis kan nou vertel die orde Lepidotera bestaan uit dertig superfamilies, waarin skoenlappers in net twee superfamilies gegroepeer is: Papilionoidea en Hesperioidea. Die res is vir motte. Die superfamilies weer word verdeel in families en subfamilies met genera en spesies.

    Wim en Portis se vier atriums van byna ’n hektaar en drie meter hoog, bedek met polikarbonaat en plek-plek skadunet, het elkeen ’n besondere habitat en eiesoortige voedingsplante. Hier het hulle reeds 198 spesies versamel, veral die eksotiese bloues van Morphinae en Polyommatinae, en al die Suid-Afrikaanse bloues, van hoofsaaklik die subfamilies Lycaeninae en Pierinae, en die enkele bloues van die Nymphalinae en Charaxinae.

    Aan die atriums, uit die agterdeur van die ou plaashuis, is die steriele broeikamer aangebou. Hierin versorg Wim en Portis die honderde delikate klein ova op hulle pad van transformasie tot larwes tot papies tot verruklike vlinders, die metamorfose van ’n nuwe, vrye gees uit die keurslyf van ou skille.

    Hy kry Portis by die morphopapies, hangende aan hulle takkies, onderstebo, die bruin huide dun en deursigtig, sodat Wim die skeletjies kan uitmaak, die vlerkies, die torakse en selfs die koppies.

    Portis sê niks, hark met sy lang vingers droë plantmateriaal op die vloer van die papiekaste bymekaar. Hulle’s mooi, sê hy dan, om iets te sê.

    ’n Papie is nie mooi nie; dit hang soos ’n uitgedroogde miniatuurmummie aan die kremaster van sy. Hy is mooi wanneer hy uit daardie velynvel kom. Vir Wim is niks móóier as wanneer ’n papie dáár uitkom nie, om ooggetuie van nuwe lewe te wees, om te sien hoe vloeistof die fyn aartjies in die vlerkies vul, hoe swaartekrag die vlerkies oopbeur, hoe die lamella verdroog, en hoe die skoenlapper fladderend finaal uit sy papie bevry word.

    Portis, sê Wim, miskien is dit nie ’n goeie tyd om nou weg te gaan nie. Luigi kan wag.

    ’n Voorvinger vlietend en teer aan ’n hangende papie. Dis die laaste broeisels voor die winter in Italië. Ons moet daardie papies kry, dis al kans.

    Wim bedoel nie die crostolas nie. Ek dink …

    Hy draai na Wim, die stompies van sy bene verskuif sy stewels in gelid. Klim oppie dêm vliegtuig. En hou op kerm. Moet ek sokkies ook kry, joue is vol gate?

    Ja, kry sokkies ook. Toe Wim se hand op sy skouer kom rus, sak Portis se ken. Ek sal jou voete vryf vanaand, sê Wim.

    Dankie, sê Portis, kyk dan weer op, ’n droë glimp in sy knippende bruin oë, soos ’n oogirritasie, of soos iemand wat ly aan ’n gebrek aan trane.

    Portis tuur vir laas oor die honderde kosbare papies aan hulle takkies en die twee skuifel saam uit vir die aand se rus, bang vir die geeste van dié nag, deur die verpeste wind losgelaat uit verhuiste siele.

    Ons moet ry voor die Paasnaweek, sê Portis later aan tafel, smaakvol gedek, in ’n glaspotjie in die middel spriete met kleurryke fynbos, die oranjerooi trosdisa, geel duine-aandblomme, bloukappies, die lila van die boegoe en wit raasheide.

    Ja, dis ’n seën dat die morpho’s oor die Pase uitkom, merk Wim op, om geen spesifieke rede nie, miskien omdat hy nie wil weg wees wanneer hulle uitkom nie.

    Portis skink die wyn in die kelkies. Hulle sit oorkant mekaar aan die groot tafel van stinkhout, veertien sitplekke wat nooit gevul word nie. Net twee plekke gedek, met die wit tafeldoek styf gestysel; Wim se oorlede ma het self die soom van kant geborduur, die tafel (en die huis se ander houtmeubels) sy pa se handewerk. Op dié lappie wit, skugter op die groot blad glimmende donker hout, eet Wim en Portis die bredie wat Busi met sorg berei het.

    Portis kyk ineens op, sy kop effe skuins gedraai. Die wind het bedaar.

    Nou’s die reën op pad, sê Wim, in die skielike stilte net die gekraak nog van die dakbalke wat ná die drukking en spanning sukkel om hulle in hul ou posisies te hervestig. Skuins agter Portis teen die muur, langs twee gewyde sepiagesigte in ’n ovaalraam, tik die geelkoperarm van die ou staanhorlosie nou suiwer die ritme van hulle eetgerei in die borde, en op die lug uit die voorhuis die Ode vir Sint Ceciliadag.

    Ek moet ’n visum kry, sê Wim.

    En ek moet by die voetman uitkom, sê Portis. Hy bedoel die laboratorium vir prostetika en ortotika wat die prosteses vir sy vermiste voete maak.

    Skaaf dit? vra Wim besorg.

    Ja, en die stewels kort nuwe hakke. Ek loop swaar.

    Portis se translibiale amputasie was lank terug, maar dit is steeds soos gister.

    Dit voel soos gister dat die gewese minister se naam ter sprake kom, die minister wat nou in Bonteheuwel gaan boete doen. Al is dit byna twintig jaar sedert die chirurg met sy skalpel en ossileersaag albei Portis se bene onder die knieë afgesny het. Dit is byna twintig jaar, en Wim onthou dit soos gister, toe hy Portis se verskriklike gille gehoor het, die waansin van die pyn in sy oë. Hy het hom uit die hospitaal gaan wegvat en sy stompies ontsmet en gewas en gesalf, hom getroos en gelawe. En toe die pyn wyk, ná die krimpings en heling van die operasiewonde, het hulle sy eerste prosteses gaan kry. Hulle het met die skoenlappers begin toe Portis besluit het om hier in die berge te bly.

    Hulle is seer vanaand, sê hy sonder opkyk. Hy bedoel nie die stompies nie, hy bedoel die seer in sy vermiste voete; spookseer, noem dokters dié sensasie wat Portis sporadies nog vóél in sy ledemate wat lank reeds geamputeer is.

    Jou voete het lanklaas gepla, sê Wim. Ek sal hulle masseer wanneer jy bed toe gaan. Dit sal help, soos altyd.

    Die seer in sy voete kan Portis nie beskryf nie, want hy hét geen voete nie. Die gevoel, sê hy, is soos van spelde wat steek wanneer ’n arm doodgelê is. Dít, die prik van die spelde, kan hy duidelik voel in sy voete wat weg is. Op sy bed trek hy sy stewels uit, gaan lê agteroor en bied sy prostetiese voete vir Wim se hande, asof regte voete vol pyn. Wim masseer hulle tydsaam, eers die een, dan die ander een, hierdie gladde plastiekvoete sonder tone.

    Portis lê met sy oë geslote terwyl Wim sy voete vryf.

    Eers dan, wanneer die seer vervaag en Wim se hande kramp van die vryf aan die harde voete sonder vel of vlees, open Portis dankbaar sy oë. Hy maak die huls se gespes bokant ’n knie los, trek die silikoonstut van sy knie los en plaas die onderbeen met voet langs die bed. Toe albei voete af is, draai hy die rekverbande los wat die stompies in die stut beskerm. Die vel is rooi geskaaf en Wim sê: As jy reg is vir die bed, sal ek die salf kom invryf.

    Portis knik net, wip sy liggaam met kragtige arms van die lae bed af, en oor die vloer badkamer toe vir sy bad. Wim het lankal nie meer nodig om hom in sy arms op te tel en in die water te plaas, sy verminkte torso af te spons en af te droog en terug te dra bed toe nie.

    HOOFSTUK 2

    Die vyf mense is onseker, selfs verward, oor die besoek van die voetewasser. Hulle wag in die voorkamer van ’n beskeie huisie in Bonteheuwel. Hulle het vroeg al gekom vir die plegtigheid. Nou wag hulle en hulle wonder in fluisterstemme wat die besoek gaan inhou.

    Die drie ouer vroue in die groep van vyf is stroef, die swaarkry diep in die vel van hulle gesigte, in die vel van hulle hande, verrimpel en gevlek, in die waterige oë. Die rokke is van fleurige katoen en poliëster, gekoop teen afslagpryse.

    Die oudste, waardig en regop in haar stoel, haar hande op haar skoot gevou, wonder of sy koffie moet aanbied, of eers moet wag op die besoeker. Dit is háár huis waarin hulle wag, en deur die kant voor die venster merk Antie Dolfie Booyse die voertuie in die modderige straat ná die groot storm, die joernaliste wat rondstaan met hul kameras en notaboeke, twee polisiebakkies met blou ligte wat op die dakke flits, bure wat op ’n afstand nuuskierig die ongewone versteuring van hul daaglikse gesleur dophou.

    Die jonger vrou in die groep is van twee geslagte later, kon een se kleindogter gewees het. Sjiek in geborduurde moeselientoppie en denimbroek, silwerring deur ’n neusvleuel, rooi lippe wat glimlag wanneer sy na die jong man langs haar fluister. Ook hý lyk byderwets uit pas in hierdie huis, ’n rooi kêps skeef oor sy voorkop, sý denim laag om die heupe, nuwe tekkies aan sy voete, ’n ring aan ’n oorlel, op ’n bisep krul ’n slang om ’n mes.

    Maar al lyk die twee jongeres ontuis, kom almal hier uit die Vlakte: Manenburg, Lentegeur, Philippi, Beacon Valley. En almal het iets gemeen. In elkeen van die vyf huise wat hier verteenwoordig word, word ’n gesinslid vermis, jare al sonder spoor of tyding. En dieselfde onsekerheid, selfs soms nog hoop, al is dit reeds byna twee dekades.

    Antie Dolfie Booyse se seun, Lionel, was net twintig toe hy een oggend in daardie verskriklike jaar uit hierdie huis in Bonteheuwel gestap en nooit teruggekom het nie. Hy was in sy tweede studiejaar in die regte.

    Bettie Janeker se dogter Sella was negentien en dramastudent in haar eerste jaar. Sy het dieselfde dag as Lionel verdwyn.

    Selina Fransman se seun Alexandro was agtien en in matriek. Twee dae ná Lionel en Sella se verdwyning, het Selina vergeefs op haar Alexandro gewag, met sy ete op die tafel gereed, dat hy die middag van die skool af huis toe kom. Sy verlate boekesak het hulle by Bonteheuwel se stasie gekry.

    Die jonger vrou, Vanessa Sonto, was net agt toe haar ouer suster, Rosemary, weg is, ’n dag ná Alexandro. Rosemary was sewentien toe sy die aand versuim het om haar aan te meld by die restaurant in Seepunt waar sy tafelgaste as kelnerin bedien het, haar eerste werk nadat sy vroeg uit die skool is. Rosemary se verdwyning, so glo Vanessa, het die dood van albei hulle bejaarde ouers verhaas.

    Sammy Miggels, met sy rooi kêps en krullende slang aan die boarm, was ook net agt toe sy ouer broer, Melville, weggeraak het, drie dae ná Rosemary. Ook húlle ma’Ivy is sedertdien oorlede, pa lánkal net weg. Die toegeboude bakkie waarmee Melville vleis vir ’n slagter in Mitchell’s Plain afgelewer het, is kort ná sy verdwyning tussen Wolfgat se bosse gekry, naby die begraafplaas, toe kinders ’n stank van vrot vleis gaan ondersoek het. Melville was die oudste van die vyf vermiste jongmense, twee en twintig jaar oud.

    Dié vyf was, verreweg, nie ál jonges wat in daardie onstuimige jare verdwyn het nie. Van die polisie was daar oënskynlik baie simpatie, maar geen hulp nie. Dit is nie vreemd dat jeugdiges op die Kaapse Vlakte wegloop om van hulle ellendes te probeer ontsnap nie. En geen leidrade van misdadigheid is gevind wat ’n polisie-ondersoek geregverdig het nie. Daar was ernstiger misdaad, dwelms en moord, en die president het ’n noodtoestand afgekondig; in die strate van die townships was groot onrus. Die polisie se mannekrag was te beperk om vyf weglopers te probeer opspoor.

    Maar Antie Dolfie, toe al ’n weduwee, het in die dae en weke en maande ná haar Lionel se verdwyning nooit ophou soek nie. Lionel was nie van die wegloopsoort nie. ’n Skrander seun, en sy pa sou trots op hom gewees het, op hulle enigste seun wat studeer het om ’n regsgeleerde te word. Geld was daar nie. Maar Lionel het ’n beurs gehad vir sy studie en in ’n spaarrekening was die geldjies wat sy pa afgeknyp het vir sy seun se toekoms. Hy was die skipper van ’n snoekskuit

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1