Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vlam
Vlam
Vlam
Ebook359 pages6 hours

Vlam

Rating: 4.5 out of 5 stars

4.5/5

()

Read preview

About this ebook

Sollie Mthembu se huwelik lê aan skerwe. Nyandi het die kinders gevat en is sak en pak terug Lesotho toe. Terwyl hy in ’n Bloemfonteinse gastehuis lê en tob oor waarom Nyandi hom sou wantrou, brand ’n kunsgalery op Parys tot op die grond af. Die wêreldberoemde kunstenaar Aretha Hattingh se oeuvre – en tuiste – nou ’n hoop as. En in die middel van die ruïne: die oorskot van ’n vrou, vermoedelik dié van Aretha.
Is dit moord? Selfdood? Of bloot ’n fratsongeluk?
 
LanguageAfrikaans
Release dateJan 18, 2022
ISBN9780798182195
Vlam
Author

Sidney Gilroy

Sidney Gilroy het in die Oos-Vrystaat groot geword. Sy debuutroman, Klikbek, het in 2019 by H&R verskyn. In 2020 verskyn die opvolg, Middernag, wat in 2021 met die kykNET-Rapport-filmprys bekroon word. Sidney is ’n projekbestuurder in die ingenieursbedryf en woon tans op Hartenbos.

Read more from Sidney Gilroy

Related to Vlam

Related ebooks

Related articles

Reviews for Vlam

Rating: 4.5 out of 5 stars
4.5/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Vlam - Sidney Gilroy

    9780624089810_FC

    Human & Rousseau

    Vir Jacqueline

    Jy moet my help. Teen die tyd wat jy hierdie brief lees, is dit dalk reeds te laat.

    Hoofstuk 1

    Die voorlaaste week van Januarie begin met reën wat in vlae uitsak oor die plase rondom Parys in die noordweste van die Vrystaat. Teen Woensdag het daar reeds meer as 120 millimeter in die streek geval. As die boere oor modderige plaaspaaie verby mekaar sukkel, word daar met bekommerde gesigte oor en weer geknik. Méér reën en daar sal groot skade aan die mielies wees – ’n mistroostige voorspelling vir 2022 se oes.

    Genadiglik verdwyn die wolke teen Vrydagaand agter die wilgerbome op die horison. Die boere en hul werkers kan terugkeer na die landerye.

    Teen die middag bak die son met mening in Parys se wye strate en digbeboomde woonbuurte. Die meeste van die vogtigheid verdamp in wasemrige strome of syfer met betonvore langs na die rivier wat die dorp omsoom. Oral is dit bedrywig. Die verspilde werktyd weens die reën moet ingehaal word. Eers teen vroegskemer word die strate stil. Hier en daar aas ’n hawelose deur ’n asblik of steier krom figure met komberse na hul lêplekke vir die nag.

    ’n Ander segment van die ekonomie is besig om te ontwaak. Môre is dit naweek en sal Parys ’n skare besoekers verwelkom.

    Uit nabygeleë Johannesburg of Potchefstroom kom hulle na die kunstenaarsdorpie op die oewer van die Vaalrivier om vir ’n wyle van hul gejaagde bestaan te ontsnap. Die toeriste spandeer hul geld in die vele restaurante, winkels vol tuisgemaakte snuisterye of galerye gevul met peperduur skil­derye. Teen Sondagmiddag begin die Gautengers die dorp drupsgewys verlaat, totdat die rustigheid van koerende tortelduiwe in die akkerbome al is wat oorbly.

    Nou is die plek verlate, behalwe vir ’n donker motor wat in die hoofstraat af spoed, swenkend vir die slaggate in die teer. Die wiele knars oor verskrompelde blare en geknakte takkies, mis rakelings ’n betonvoor toe die bestuurder regs draai om by die brug aan te sluit wat oor die Vaalrivier en uit die dorp lei.

    In die verbygaan kyk hy oor die brug se reling. Die rivier is in vloed. Dik, bruin strome sidder onderdeur die brug. Afgebreekte takke en verdorde boomstamme beur na bo en verdwyn dan weer onder die kolkende watermassa.

    Hy draai links om by die Kopjeskraalpad aan te sluit, volg die pad tot duskant die bultjie, draai weer links in die rigting van die rivier. Op die grondpad word die motor se kopligte afgeskakel.

    Dis ’n eensame figuur wat hom by die hek van die Xanadu-landgoed aan die onderpunt inwag. ’n Paar woorde word gewissel. Die hek word toegemaak en die motor ry tot aan die rand van die grasperk. Die bestuurder se deur swaai oop. Hy klim uit en staan tussen die lang, ongetemde gras terwyl ’n tweede figuur soos ’n strepie verby hom beweeg om in die huis te verdwyn.

    Hy wag.

    Hy voel onrustig, gespanne. Oorkant die grasperk en verby die olienhoutbome vloei die rivier fluweelagtig. Hy drentel om die motor tot hy tussen die huis en die oewer staan. Daar tuur hy vir ’n wyle na die buitelyne van die bome aan die ander kant van die rivier. Dan keer hy terug na die huis. Hy weet wat daar binne aangaan.

    Hy haal diep asem, bring sy voorarm tot voor sy gesig, tiep die horlosie na hom. ’n Kwartier is verstreke. Hy klap na ’n muskiet op sy boarm en bestyg die stoeptrappe.

    Minute later weergalm ’n gil deur die aandlug. Die klank word deur die rivier se geruis versmoor.

    ’n Rukkie later bevind hy hom weer op die stoep. Doelgerig mik hy na die motor.

    Hy werk vinnig en sorgvuldig. Gou is hy uitasem. Is dit ’n stem wat hy bo die dawerende water hoor? Paniek pluk aan hom. Wat as iemand sien waarmee hy besig is?

    Sy greep om die plastiekdrom se handvatsels verslap. Hy luister na die nag. Maar dis net die gezoem van muggies tussen die riete, die paddas en die rivier wat hy hoor. Hy buk af om die volgende drom uit die kattebak te lig.

    Die week se reën het gesorg dat die grasveld en bome rondom Xanadu klam is. Dit dwarsboom sy plan, maar hy beraam gou ’n ander. Hy sal dood­eenvoudig die petrol in ’n dik stroom van agter die buitekamers na die voor­huis gooi. ’n Elektriese kortsluiting dáár is ’n geloofbare oorsprong vir die vuur.

    Sy arms is lam teen die tyd wat hy die laaste leë drom in die kar laai. Uitasem trek hy ’n vuurhoutjie en gooi dit neer. Dan sorg hy dat hy naby die rivier kom.

    Hy het die gras en bome in die agtertuin onderskat. Die petrol ontvlam en vul gou die lug met die reuk van smeltende boomgom en bloekomblare wat smeul.

    Hy gaan staan langs die huis om van die swaar petrolstank te ontsnap. Van hier af kan hy hoor hoe die mat verdorde blare aan die rand van die erf begin knetter. Die vlamme kruip al hoe nader.

    Hy trek sy oë skrefies. Hy probeer deur die rook sien.

    Agter die huis, verder teen die koppie op, is die hel los. Die brand het in die teenoorgestelde rigting versprei. Goed so, nou sal die polisie dink dit was moontlik ’n veldbrand.

    Sy oë volg die kronkelende vuur. Waar die huilbos en soetgras in die skadu’s versink, wapper die ouhoutbome se blare in die flouerige wind. Die vlamme lek aan die takke en trek deur Xanadu se oorgroeide tuin. Binnekort sal dit die huis se grasdak bereik, wat lankal weer uitgedroog het ná die reën.

    Hy kyk terug na die koppie. Die polisie sal aanneem die vuur het aan die agterkant ontstaan, oor die kruin beweeg, verby die verlate modderhutte, tussen die rommel deur en oor die kaf in die lank vergete beddings van die groentetuin. Al die pad tot hier waar dit Xanadu se huis verslind.

    Die vlamme word al hoër. Dit laat die hare op sy voorarms rys. Hy druk sy neus toe teen die versmorende petrolreuk. Jakkalslaagte se beeswagters, weet hy, sal teen dié tyd al die skynsel teen die lug gewaar.

    Oor ’n halfuur of so, wanneer die gloed die hele nagruim verlig, sal Toyota-­bakkies en vuurwaens van oral af aangejaag kom. Dan sal die brand reeds onstuitbaar wees. Meters hoë vlamtonge sal die grasdakhuis en uiteindelik Xanadu se galery en alles waarvoor dit staan, verteer.

    Hy haal sy selfoon uit. Dit sal ’n skouspel wees. Hy kan hom reeds die voorbladfoto’s verbeel: die wêreldbekende kunstenaar se oeuvre in ligte laaie, weerkaats teen die Vaalrivier se vloedwater en van bo belig deur die wye Vry­staatse sterreruim.

    Hy hou van die beeld voor sy geestesoog, en die wete van sy aandeel daarin. Op ’n manier help hy haar om tot ’n gepaste, poëtiese einde te kom. Met elke ruk van die wind kruip die einde van ’n era nader; hierna sal die prys van Aretha Hattingh se skilderye die hoogte in skiet.

    Die befaamde kunstenaar se lewe is vanaand verby. En Xanadu, die plek waarheen sy gevlug het toe die swartgalligheid in haar binneste op sy ergste geknaag het, sal teen môreoggend net roet en as wees.

    Dis asof sy Xanadu saam met haar neem, tref die gedagte hom.

    Hy haal diep asem, vroetel die Marlboro’s uit sy hempsak. Hy trek ’n sigaret vasgeknyp tussen sy lippe uit die pakkie, vee die petrolreste van sy vingers aan sy broek af voordat hy dit waag om ’n vuurhoutjie te trek.

    Die nikotien lawe sy voos verstand. Waarom is hy so angstig? Alles is haarfyn beplan. Tog stap hy versigtig terug na die stoep, loer in die rigting van die hek, luister fyn.

    Geen brullende gedreun van plaasbakkies wat aangejaag kom nie. Geen soekligte wat wild deur die nagruim klief nie. Net die sinkdakke van L’Etswaleo Lodge wat oorkant die rivier in die vlamme se lig blink.

    Hoe eindig hy hier?

    Maak dit saak?

    Nee. Nie juis nie. Nie meer nie.

    Hy sukkel om die beskuldigende kyk vanuit haar hol oogkasse te vergeet.

    Hy het gedink dit sou makliker wees.

    Teen die einde was haar smeekklanke rou. Beangs.

    Hy teug weer diep aan die sigaret. Hy sal vanaand vir altyd onthou.

    Haar oë was wasig en leeg. Sy het verbouereerd gelyk toe sy die spuit in sy hand gewaar, die leë ampule, die tou.

    Baie versigtig het hy haar van die bed af opgetel. Soos ’n porseleinpop het hy haar in die stoel neergelê. En toe het hy haar vasgebind.

    Sy moes besef het wat hy beplan, want sy het sleeptong gegil. Hy het sy onderlip vasgebyt en gewonder hoe lank die konkoksie sou neem om haar brein te bereik. Pyn het sy definitief nie meer gevoel nie. Lankal nie meer nie.

    Sy kon niks doen nie. Net vasgebind op die stoel sit en met afgryse toekyk hoe hy die skilderye in die kamer met ’n lem tot flardes seildoek reduseer.

    Daar mag nie ’n enkele Aretha Hattingh-skildery agterbly nie.

    Toe hy klaar was, het sy gesnik. ’n Geneul wat aan neurie grens, ’n jammerlike geweeklaag.

    ’n Hond wat in die verte blaf, laat hom opkyk. Die sigaret tussen sy vingers gloei rooi toe hy vinnig twee, drie keer daaraan suig.

    Was dit aanvaarding in haar oë? Berusting? Verlossing? Iets anders? Hoekom voel dit nou soos iets anders?

    Hy het onseker geraak en haar met nog ’n ampule ingespuit. Die naald het in haar boarm ingegly asof die dun lagie vel gaas was.

    Toe knak haar nek en haar kop hang vooroor.

    Stilte.

    Dit was volbring.

    Hy sug diep, waai geïrriteerd voor sy gesig om van die skroeiende grasstukkies en rookwalms ontslae te raak. Die warm wind ruk in onverwagte lugknikke oor die grasveld. Van die gloeiende kooltjies waai tot by die oop houtdeure en wapperende gordyne van die voorportaal. Hy moet bly totdat hy seker is die huis brand.

    Die takkies wat die leiklipvloer tref, spat in vonke uitmekaar. Genoeg om die kruitvat te laat ontvlam.

    Die tyd is nou.

    Toe hy van die stoep af terugstaan, sien hy sy eie skaduwee lewensgroot op die mure van Xanadu geprojekteer. Die vlamme storm teen die grasdak op. Hy tree nader aan die voorhuisvensters, verbeel hom ’n koorgesang. Engelstemme vanuit die oranje tonge vuur. Hy buig sy plathand oor sy oë om die hitte weg te keer.

    Deur die ruite sien hy die skilderye en koperpotte, die dramatiese sitkamerstel, die tafel in die foyer, die keramiekbakke wat sy self gemaak het, die familiefoto’s, stapels tydskrifte en rakke vol boeke, die ingang na die galery. Dit lyk alles so rustig. Asof sy enige oomblik in die stoel voor die dubbelbed in die hoofslaapkamer gaan ontwaak, opstaan en met die trappe afkom.

    Maar sy sal nie.

    Terloops skiet hy die sigaretstompie deur ’n oop venster binnetoe voordat hy omdraai en wegstap. Die kooltjie land presies waar die petrol ’n groot nat kol op die Persiese mat gemaak het.

    Hoofstuk 2

    In Batho sou die mense nie só na hom gestaar het nie, prewel sersant Sollie Mthembu by homself. Dáár is dit ’n ongeskrewe reël dat jy jou met jou eie sake besig hou. Glad nie soos hier in Phahameng op hierdie laat Saterdag­oggend nie. Hy hoor vandag skaars die buurt se gewone rumoer. Dis asof almal op hom infokus.

    Hy vee oor sy voorkop voordat hy verder met die tou sukkel. Gluur vir die twee vroue aan die oorkant van die straat wat hom skaamteloos aanstaar. Hy weet waarna hulle kyk: sy hemp wat oopgaap om sy boepie te ontbloot waar hy gehurk by die gehuurde sleepwa sit.

    Hy is lus en skree op hulle terwyl hulle omkyk-omkyk aanstap. Kan ek help! wil hy bulder. Wat kyk julle, hè? Dink julle ek wíl hier wees?

    Sollie is op sy af dag besig met ’n taak wat sy vingers, verstand en gemoed in een groot koekspul vervleg: die bymekaarmaak van die aardse besittings wat Nyandi vir hom agtergelos het. Maar die enkelbed, vertoonkas, wasgoedmandjie en afgeleefde yskas weier om stewig op die sleepwa geanker te bly.

    Hy kom orent. Rus vir ’n oomblik met sy hande op sy bobene. Vee dan nog sweet van sy voorkop af. Trek sy hemp se pant tot verby sy naeltjie. Geïrriteerd druk hy die vuil klere wat Nyandi in die wasgoedmandjie gelos het dieper in. Hy hoor stemme, gevolg deur ’n skaterlag. Nóg ’n paar verveelde Phahameng-­huisvroue wat verbygly om blerriewil te skinder.

    Sy oë soek op die grond na dit waarna hulle spottend wys. Hy buk vervaard af en raap die kledingstukke tussen die klippe en dooie graspolle op. Prop die hemde en onderbroeke wat bly uitfoeter terug in die wasgoedmandjie.

    Hy pluk opnuut aan die sleepwa. Met mondhoeke wat onvergenoeg trek, kyk hy hoe die yskas en bed heen en weer wieg. Dit sal nie eers die eerste draai maak nie.

    Hy is lus en swets. As hy ’n vuurhoutjie gehad het, het hy nou waaragtig die hele spul aan die brand gesteek. Weggery met net dit wat in die Corolla pas.

    Hy sluit sy oë, haal diep asem. Tree terug totdat hy die teerpad onder sy plakkies voel. Tel tot tien. Dan tot vyftig, soos kaptein Maartin Brummels hom geleer het.

    Dalk as hy die vrag herrangskik, sal alles regop bly tot by die stoorplek. Sy goeie voornemens hou net tot by die volgende touknoop – wat sommer vanself loskom.

    Nee. Hy het nóg die geduld nóg die krag hiervoor. Die Corolla ry oor minder as vyf minute uit hierdie verdomde plek uit, kom wat wil!

    Hy vleg die tou oor die hoekpale van die sleepwa. Dan bind hy die yskas aan die staankas en die staankas aan die yskas en toe die hele lot drie maal aan die bed. Vier keer ryg hy die tou deur die traliewerk. Die meubels is nou so styf vasgebind asof die goed hom geld skuld.

    Met ’n glimlag staan hy terug. Hoe gaan julle nóú loskom? praat hy ingenome met homself.

    ’n Kuggie agter hom laat hom omvlieg.

    Agnass staan aan die ander kant van die heining. Haar houding kamtig verveeld, maar toe hulle oë vlugtig ontmoet, kan hy die minagting en lekkerkry daarin lees.

    Sy buurvrou is duidelik in haar noppies. Sy moes die hele oggend gesit en wag het dat hy opdaag om sy skamele besittings te kom haal. Natuurlik hou sy Nyandi daagliks ingelig oor haar vervreemde en vernederde man se gesukkel om die flarde bymekaar te hou. Vandag se whatsapps klink seker soos hoogdrama. Sy verdiende loon, hoor hy haar al in die stemnotas spoeg.

    Uiteindelik kan hy ry. En van Agnass en haar kwetsende blik ontsnap. Terwyl hy die laaste swartsakke vol losgoed uit die huis dra, tref dit hom: dis dalk die laaste keer wat hy haar sien. En vir Phahameng.

    Watse laaste keer? betig hy homself. Jy sal vir seker weer in hierdie plek kom rondploeter, sersant. Op soek na ’n dief of verkragter of moordenaar. Daar’s nie ’n woonbuurt in Mangaung wat jy nie weer sal sien solank jy vir Parkweg werk nie.

    Hy knik amper verskonend in Agnass se rigting toe hy agter die stuurwiel inklim. Sy kyk deur hom asof hy van wind gemaak is. As die vroumens net kon besef watter aandeel sy in die verbrokkeling van sy huwelik gehad het. Hy en Palesa was nie die enigste skuldiges nie.

    Die Corolla se deur klap toe. Sollie dwing homself om nie weer in Agnass se rigting te kyk nie. Toe hy wegtrek, moet hy sy oë wegskeur van die voorerf waarin die gras skielik in groen kolle begin groei het ná die goeie reën. Die beeld in die truspieëltjie laat sy hart ruk: twee leë vensters en ’n geslote vaal voordeur staar hom beskuldigend agterna.

    Toe hy oor die stopstraat ry en Phahameng agterlaat, begin sy oë te brand.

    Hy sluk die hartseer weg.

    Maar toe hy uiteindelik die deur van die gastehuiskamer (wat hy inderhaas teen ’n buitensporige prys moes bekom) agter hom toetrek, begin hy onbedaarlik snik.

    Die res van Sollie se naweek is ’n nuttelose geploeg deur DStv-kanale vir iets om te kyk, en R300 se wegneembokse-KFC. Teen 02:00 Maandagoggend kon hy nog skaars ’n oog toekry tussen sy malende gedagtes en die vreemde stilte wat voel asof dit hom vasdruk.

    Alles is ’n deurmekaarspul toe hy wakker word. Té laat, want hy het gisteraand vergeet om sy selfoon op die laaier te sit. Iets wat Nyandi altyd vir hom sou doen.

    Vir ’n paar minute sit hy verdwaas tussen die sneeuwit kussings en gekreukelde duvet wat hy nie ken nie. Hy het ’n vieslike droom gehad. Nyandi wat by sy werk opdaag, haar stem kliphard in Parkweg se gange. Verbaasde konstabels en sersante, baie van hulle sy juniors, wat haastig voor haar beskuldigende wysvinger vlug. Sy kantoordeur swaai oop. Sy skreeu. Sy vloek. Op hom én Palesa. ’n Trouring word voor hom neergesmyt. Toe net harde voetstappe soos sy wegstorm en die geskokte kyke van sy kollegas.

    As dit maar net ’n droom was, dink hy weemoedig.

    Die stilte dring skielik tot hom deur. Waar is hy?

    Dan kom hy tot verhaal. Hy is in die gastehuis. En dis Maandag!

    Hy kom lyfmoeg orent en strek hom uit. Wat help dit om hom oor die verlede te verknies? Hy beter aanstaltes maak.

    Onder die stort probeer hy uitwerk hoeveel van die sleepwa se deposito hy sal terugkry wanneer die ekstra dag afgetrek is. Nyandi se onredelikheid kos hom nou net onnodige geld. Dis alles haar skuld!

    Maar terwyl hy sy tande borsel, vermy hy sy eie oë in die spieël.

    Eers toe hy sy skoene vasmaak, tref dit hom. Die gevoel van leegheid is nie die fisieke afwesigheid van sy vrou en dogters nie. Of sy beursie wat beduidend platter is nie. Of die verlate huis en die vernedering by Parkweg nie. Nyandi sal weer terugkom. Met Entle en Naledi. Dinge sal uitwerk. Hy weet dit soos hy glo in die son wat elke oggend weer sal opkom.

    Dis hulle stemme wat hy die meeste mis. Nyandi wat soggens met Entle raas om haar pap te eet. Naledi wat in babataal saam met die karakters in haar geliefkoosde TV-program praat. Sonder hulle is die huis en selfs sy kantoor by Parkweg net leë, siellose ruimtes.

    Hy skakel sy foon aan. Wag vir ’n volle twee minute dat WhatsApp ’n boodskap van sy vrou moet aflewer.

    Nie ’n piep nie.

    Nyandi is werklik briesend. En hy is radeloos. Wat meer kan hy doen as sy nie sý kant van die storie wil insien nie?

    Daardie simpel paar boodskappe van ’n blote kollega het uiteindelik op weke se baklei uitgeloop. En toe die episode by Parkweg. Dit het geëindig met een van Nyandi se ooms wat haar en die kinders kom haal het. Met ’n stokou Toyota Cressida al die pad van Lesotho af, sleepwaentjie en al, om haar terug te neem na die kraal waar sy grootgeword het.

    En Sollie het nog steeds nie die vaagste benul presies hoe alles só vinnig só sleg uitgedraai het nie. Hy het oor en oor aan Nyandi probeer verduidelik dat hy hoegenaamd geen aanleiding vir Palesa gegee het nie.

    Niks nie. Nooit.

    Vriendelik, ja. Bolangs, dalk. Maar streng professioneel! Ten alle tye.

    Hoe moes hy weet die patoloog sou meer in sy hoflikheid lees as wat daar werklik was? Wat hom betref, was haar whatsapps heeltemal onskuldig. Hoe de wetter het Nyandi meer daarin raakgesien as hy nie eers vaagweg van enigiets bewus was nie? Sy en Agnass het tussen doodgewone sinne ’n flirtasie gelees wat volgens hom nooit eers bestaan het nie.

    Hoe moes hy dit keer? Elke keer wat Palesa persoonlik geraak het met komplimente of suggestie het hy dit oorgesien deur nie daarop te antwoord nie. (Hy weet hoe om hom te gedra.)

    Maar twee vroue saam praat ’n ander taal as wat enige man ooit sal kan hoor, watwou verstaan. (Sy moes tog weet dit was onskuldig!)

    Hy sou nooit kon dink dat die patoloog met die stywe vlegsels en uurglaslyfie in meer as net sersant Sollie Mthembu se kriminele sake sou belangstel nie. Hoe moes hy? Hy is dan gelukkig getroud, met twee kinders!

    Maar Nyandi het. En toe konkel sy op eie stoom voort en die bakleiery raak al erger. Agnass moes dit doodeenvoudig kon hoor. Die ander bure ook.

    Die laagtepunt was die oggend toe Nyandi hom met die whatsapps gekonfronteer het as sogenaamde bewys van sy affair.

    Wat is dit dan dié, Sollie? het sy geskree en haar selfoon voor hom rondgeswaai.

    Hoe kry jý my boodskappe en nie ek nie?

    Hy het verdwaas vir sy selfoon op die kombuiskas gekyk wat om een of ander onverklaarbare rede twee dae tevore ophou werk het. Maak nie saak hoeveel keer hy Vodacom se hulpsentrum geskakel het nie, die SIM-kaart wou dood­eenvoudig nie met die netwerk koppel nie.

    Antwoord my vraag! eis Nyandi en druk haar selfoon onder sy neus.

    Hy herken die gesprek op die skerm. Dis nie Nyandi se whatsapp wat voor hom oop is nie, al is dit haar foon – dis syne. Dit neem ’n mikrosekonde vir hom om te snap wat aangaan.

    Jy het my SIM-kaart gekloon! Dis onwettig! Het Agnass jou hiermee gehelp? Hóékom?

    Dan vra jy nog, Sollie? Lees die blerrie boodskappe tussen jou en daai slet! Ek was reg oor julle twee!

    Hy lig sy skouers; hy weet wat in die boodskappe staan. Dis nie die punt nie, Nyandi. Die punt is dat ek soos ’n krimineel beskuldig word. In my eie huis!

    Gmpf, snork sy smalend. Moenie vir jou kom staan en onskuldig hou nie. Een van hierdie dae vang ek julle twee ordentlik uit. Moenie dink ek skrik vir haar nie.

    Met arms gevou en die selfoon teen haar bors geklem sak Nyandi op die rusbank neer. Sy kyk hom aan asof sy verwag dat hy moet verduidelik. Asof hy homself moet verdedig.

    Hy probeer naarstiglik die vorige week se boodskappe onthou. Hy en Palesa wat gedurende kantoorure oor ’n paar misdaadtonele praat. Ditjies en datjies tussen werkgoed deur. Oor werk, magtag! Of sommer net oor hoe dit vandag gaan. Of wat Palesa doen. Of wat hy doen.

    Nyandi moet tog verstaan dit was meestal oor werk?

    En dis nie asof hy ander vriende het nie. Daarvoor het hy bloot nie tyd nie.

    Jy kan nie eers onthou nie. Sy skud haar kop, ’n sarkastiese trek om haar mond. Hoe dom is jy om nie raak te sien wat sy probeer doen nie, Sollie? Of is dit omdat jy dit eintlik wil hê? Jy wil háár hê. Is dit wat dit is?

    Haar oë brand ’n gat deur hom waar hy briesend vir sy skoene staan en kyk. Sy tong weier doodeenvoudig om enige woorde te vorm. Nog nooit het sy gehakkel hom heeltemal stom gelaat nie. Vandag is ’n eerste.

    Nyandi spring van die bank af op. Wel, ek het nuus vir jou. Jy kan Palesa maar kry. Want as dit aanhou, soek nie ek, Entle of Naledi jóú meer nie.

    Dít moes sy nie gesê het nie. Soos ’n gekweste buffel gryp hy sy karsleutel en storm by die voordeur uit.

    Dat sy hom skaars ’n uur later voor die hele Parkweg sou kom verneder, het hy nie verwag nie. Ook nie om daardie middag ’n leë huis aan te tref nie.

    Hoofstuk 3

    Soos dit die afgelope week sy gewoonte is, klap Sollie die Corolla se deur harder toe as wat nodig is voor hy na Parkweg Polisiestasie ry. Sy werk is nou die enigste ligpunt in sy bestaan.

    Hy kyk na die pakkie op die passasiersitplek. Hy is nie eers lus vir die brood­rolletjies en biltong wat hy by die Quick Shop vir ontbyt gekoop het nie.

    Die stroom voertuie kronkel hortend deur Bloemfontein se strate. Ingedagte neem hy kennis van Oggendpos se plakkate op die lamppale. ’n Politikus gaan tronk toe. Of dalk nie. Die Covid-19-herstelkoers is naby 95%. Die ekonomie sukkel om weer aan die gang te kom.

    Hy vryf ingedagte oor sy selfoonskerm terwyl hy by die soveelste rooi lig wag. Wanneer gaan sy vrou ooit weer vir hom ’n boodskap stuur? Met een oor luister hy na die nuus op OFM. Die laaste van die hooftrekke handel oor ’n bekende kunstenaar se afsterwe en haar galery in Parys wat laas nag tot op die grond afgebrand het. Dit bring hom terug na die werklikheid.

    Teen die tyd wat hy ’n parkeerplek langs Parkweg se bruinbaksteengebou uitgesoek het, is die growwe grein van sy daaglikse realiteit opnuut bevestig: hy moet skelms vang. Dit is sy werk.

    Toe hy uitklim, gor sy maag. Hy strek werktuiglik vir die plastieksak met kos, want wanneer eet hy weer? Niemand wag vanaand vir hom in Phahameng met ’n bord kos nie.

    Hy vervies hom vir homself. Fokus, Mthembu! Huissake moet wag waar speursake begin, en kos is nou werklik nie ’n rede om jouself te bejammer nie.

    As dit maar so maklik was … Vandag is daar ’n snaar in

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1