Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die waarde van stil bure
Die waarde van stil bure
Die waarde van stil bure
Ebook284 pages5 hours

Die waarde van stil bure

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Magdaleen Verster probeer die stukke van haar lewe optel na die dood van haar tweelingsuster, Misha. Wanneer sy ’n onwaarskynlike vriendskap met ’n eksentrieke wetenskaplike smee, bevind sy haar in die opwindende maar omstrede wêreld van stamselnavorsing. Sy kan haar suster nie terugbring nie, tog kan sy moontlik ’n verskil aan ander se lewens maak. Maar alles kom teen ’n prys. En soms is die prys van een mens se lewe ’n ander mens se dood.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateJul 26, 2021
ISBN9780795710315
Die waarde van stil bure
Author

Zelda Bezuidenhout

Zelda Bezuidenhout is ’n skrywer van jeugverhale, kortverhale, radiodramas, rubrieke, reklamekopie en volwasse fiksie. Haar eerste roman vir volwassenes, Die dekonstruksie van Retta Blom, het in 2019 verskyn. In 2020 behaal sy en Lunéll Kruger die eerste plek in Netwerk24 se luisterdramakompetisie met Koppelkat. Sy woon op Parys in die Vrystaat. 

Related to Die waarde van stil bure

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die waarde van stil bure

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die waarde van stil bure - Zelda Bezuidenhout

    9780624089810_FC

    DIE

    WAARDE

    VAN

    STIL

    BURE

    Zelda

    Bezuidenhout

    KWELA BOEKE

    What is done out of love

    always takes place beyond good and evil.

    – Friedrich Wilhelm Nietzsche

    Proloog

    Dit was vroeg op ’n deurnat Dinsdagoggend in November toe sy die wit Volkswagen Caddy voor haar buurman se ingang sien staan het. Nie Woensdag, wat sy nog altyd as klein-Saterdag beskou het nie. Of Donderdag, met die status van amper-Vrydag nie. Dalk sou sy daardie dag anders opgetree het as dit ’n Maandag was. Maandag is immers berug vir moeilikheid en belangrik genoeg om sy eie kleur te hê. Maar dit was ’n Dinsdag – ’n dag wat nog nooit in Magdaleen Verster se idiolek enige spesiale assosiasie kon verdien nie.

    Later sou sy dikwels hieroor nadink; oor hoe skynbaar doodgewone dae gekamoefleerde kantelpunte in ’n mens se lewe mag wees. Jy besef eers maande of selfs jare later hoe verreikend daardie dag se gebeure was. Hoe dit jou onherroeplik verander het. Want daardie oggend was die doodsengel so naby dat sy sweerlik die ritseling van sy vlerke sou kon hoor as sy net geluister het.

    Dit was nie haar gewoonte om so vroeg al uit die huis te wees nie. Om die waarheid te sê, sy het Melville se strate probeer vermy totdat elke oorywerige drawwer en fietsryer reeds gestort het en werk toe is. As sy perfekte lywe in Lycra wou sien, sou sy by ’n gym aangesluit het. Maar daar was nie melk in haar yskas nie en sy wou vinnig by die kafee om die hoek gaan koop sonder die gesukkel om haar kar uit die garage te trek vir so ’n kort rit. Boonop het die eerste somerreën deur die nag begin val en dit het twee dinge beteken. Nommer een: sy kon deur die hemelse lafenis stap en vir die eerste keer in maande die geur van nat grond inasem. Nommer twee: die buurt se fiksheidbewustes sou dalk op so ’n nat dag verkies het om eerder laat te slaap.

    Bonne Esperanza Mini Market was minder as ’n kilometer van haar woonplek af – ’n tipiese Portugese kafee wat deur die dekades sy oorspronklike 1950’s-fasade behou het. Die winkel se joviale eienaar het nooit veroordelend na haar gekyk as sy verslons inkom vir die een of ander noodsaaklikheid soos melk, sjokolade of kondome nie.

    Op pad terug het sy die wit paneelwa gesien toe sy om die draai kom waar Vierde Straat en Agtste Laan mekaar kruis. Vir ’n oomblik het sy gedink die voertuig is voor háár kant van die twee identiese skakelhuisies geparkeer. Sy het botstil gaan staan, meteens bewus van hoe stil dit in die buurt was. Daar was geen voëlgeluide nie; net die klank van sagte reën op die klein seilkoepel bo haar kop. Haar natuurlike instink was om te vlug, dalk terug kafee toe. Sy kon maak asof sy vergeet het om iets te koop; tyd mors deur met mister Santos te gesels totdat haar ongenooide gaste se geduld opraak en hulle wegry. Dis oukei om die deur vir vriende oop te maak as jy braloos is en nog nie jou hare of tande geborsel het nie. Dis minder oukei as dit vreemdes is. Maar net toe sy wou omdraai, het sy besef daar is geen insittendes nie. Boonop het die wit Caddy onteenseglik aan haar buurman se kant van die semi gestaan.

    In die drie maande sedert Magdaleen by Agtste Laan 38 ingetrek het, was daar nog nie ’n enkele keer ’n kar voor haar buurman se huis geparkeer nie. Daar het nooit stemme of musiek van Nommer 38A af gekom nie. Darius Achenbach se gehawende bakkie het altyd op presies dieselfde kol in die oprit gestaan – vermoedelik omdat sy garage ’n ander doel moes dien. Een keer kon sy deur ’n skreef in die heining sien hoe hy met ’n druplaaier sukkel om die ou Isuzu weer aan die gang te kry nadat die battery afgeloop het.

    Katvoet, asof sy op haar eie werf oortree, het Magdaleen haar sambreel toegevou, dit langs die bottel melk op haar smal stoep neergesit en haar voordeur so geluidloos moontlik oopgesluit. Sy het haar ore gespits vir stemme of ongewone geluide van langsaan, maar dit was so stil soos gewoonlik in 38A. Indien enigsins moontlik, dalk nog stiller. Daar is ’n verskil tussen stil en rustig en stil en ónrustig. As sy nou daaraan terugdink, was Agtste Laan 38A daardie oggend onrustig stil.

    In die kombuis het sy die gasstoof aangesit, haar ketel vol water getap en dit op die plaat links voor geposisioneer. Iewers het sy gelees dat die meeste mense ’n gunsteling-stoofplaat het. Een wat hulle sonder enige logiese rede amper uitsluitlik gebruik, al is daar drie ander plate – soms selfs meer. En al maak dit sin om die plate te roteer, sodat slytasie eweredig kan plaasvind. In Magdaleen se geval was dit nog al die jare die plaat links voor wat ingespan is vir alles van koffiewater kook tot roereiers maak tot die smelt van ontharingswaks. Wat sou die sielkunde agter hierdie enkelplaat-fenomeen wees, het sy elke keer gewonder wanneer sy iets op haar gunsteling-stoofplaat neersit. Wel, amper elke keer. Want op die Dinsdag van die wit paneelwa was haar gedagtes elders: Wie sou so vroeg vir haar buurman kom kuier? Dit het nie soos installeerders of ’n tegniese span gelyk nie, want die Caddy se bakwerk was maagdelik wit, sonder ’n handelsmerk of advertensie. Kon dit ’n koeriermaatskappy wees wat eienaars van private voertuie vir afleweringswerk inspan? Dit was seker nie onmoontlik nie. Die besoekers het nie oorgeslaap nie, want die Caddy was nie daar toe sy skuins voor sewe haastig uit is om die melk te gaan koop nie.

    Hier skort iets, het die bekende stem in haar kop gesê. Terwyl sy wag dat die koffiewater kook, het sy weer na haar selfoon gekyk. Dit was net na 07:20.

    Sy wou dit nie doen nie; wou nie haar kluisenaarsbuurman se vroegoggend-privaatheid skend nie. Hy sou net weer sê sy jaag spoke op, soos na die ding met Ruby. Maar dit was byna ’n onwillekeurige beweging toe sy oorleun na die kombuisvenster en die gordyn ietwat na regs druk sodat sy Darius Achenbach se klein agterplaas oor die heining kon bespied. Deur die nat ruit kon sy sien dat die buitekamer, sy werksplek, se deur effens oop was.

    Bemoeisiek: ’n woord met die gevoelswaarde van ’n futlose handdruk. En tog is dit presies wat sy geword het. Skaars een-en-dertig jaar oud en sy is al soos ’n bemoeisieke ou tannie wat haar buurt se bewegings deur skrefiesoë dophou. Jou kop haak uit, het sy hardop vir haarself gesê net voordat sy die kombuisgordyne ’n bietjie té hard en té dig toegetrek het. Sy het haar Beats Solo-oorfone opgesit en die Spotify-ikoon op haar selfoon gesoek. Indie Pop was net die ding vir ’n lieflike, nat somersoggend. Eintlik die perfekte klankbaan vir ’n onbeduidende Dinsdag in November.

    Deel I

    1

    Drie maande vroeër

    Hier gaan jy gelukkig wees, my kind, sê haar ma en begin ’n plastiekemmer vol water tap vir die Hollandse irisse wat sy by Impala Fruit & Veg gekoop het – ’n daknatmaakgeskenk vir die dogter wat oorleef het. Dit voel nie soos ’n voorstad van Johannesburg nie. Dit voel soos ’n oulike klein dorpie, dink jy nie so nie? Alida Verster druk die pers hangwangblomme in die emmer en pof hulle eweredig uit met die behendigheid van iemand wat dit al ’n duisend keer gedoen het. Jy’t seker nog nie jou Jik uitgepak nie?

    Nee, Ma. Magdaleen sug. Soms dink sy dis hierdie ritueeltjies wat haar ma aan die gang hou. Klein vangnette wat haar veiliger laat voel. Die koeldrankproppie in die koekie seep sodat dit nie smetterig raak op die wasbak se rand nie. Die doppie bleikmiddel wat by die blomwater gevoeg word om dit langer vars te hou. Maar hulle staan in ’n vaalbruin see van kartondose na ’n uitmergelende trekdag. Sy het eenvoudig nie die krag hiervoor nie. Sy wens haar ma wil haar los om self haar goed in haar eie tyd uit te pak.

    Ek sou my skoonmaakgoed hier gesit het – my Pine Gel, my Windolene en so aan, stel haar ma voor en maak die kasdeur onder die wasbak oop. Sy doen dit altyd; verwys na huishoudelike goed in die persoonlike vorm: my suiker; my meel; my droë goed. Sy maak nog ’n paar kasdeure in die klein kombuisie oop. Magdaleen vermoed dis iets wat sekere vroue van haar ma se ouderdom maar doen. The last of the homemakers. Trotse tuisteskeppers wat dalk jare lank teësinnig skoolgegee of ’n maatskappy se boeke gedoen het, terwyl hulle eerder tuis sou wou bly en ’n huishouding bestuur met die fokus en tydsberekening van ’n lugverkeerkontroleerder. Miskien is huishoudelike goed so belangrik vir vroue soos Alida Verster omdat hulle niks anders het wat regtig hul eie is nie.

    Magdaleen gaan sit by die kombuistafel wat hier in haar nuwe woonplek ook as haar werkstafel sal diens doen. Sy voel so lam en tam soos op somersdae wanneer die humiditeit hoog is. Maar dis vroeg-Augustus op die Hoëveld en die lug is ysig en droog.

    Sal ek vir ons tee maak? Haar ma se hand is reeds op die ketel.

    Ek wil eintlik gaan slaap, Ma. Ek is doodmoeg. Sy is dadelik spyt oor haar woordkeuse. Waarom word die dood vir soveel oortreffende beskrywings gebruik? Doodmoeg, doodverveeld, doodernstig, vreksnaaks. As Misha nou hier was, sou sy haar slap gelag het oor die ironie. En natuurlik ook vir Magdaleen se legendariese taktloosheid.

    Haar ma lyk seergemaak. Seker darem nie oor die woord dood nie, eerder omdat haar aanbod van tee – en daarmee saam haar blote teenwoordigheid – van die hand gewys word.

    O, oukei dan, sê Alida Verster met aangeplakte lighartigheid. Sy begin haar goed bymekaarmaak. Ek los dan maar die skons hier vir jou. Daar is gerasperde kaas en konfyt in die klein bakkies. Gaan slaap. Maak net seker jy sluit al die deure behoorlik wanneer ek uit is.

    Toe haar ma se Renault Sandero om die hoek verdwyn, druk Magdaleen haar voordeur met onbeskryflike verligting toe, draai die sleutel en glip die veiligheidsketting in die gleuf. Sy weet haar ma het nodig om oor haar te kloek, dat sy haar enigste kuiken seker met alles in haar wil beskerm. Maar die dag was lank en stowwerig. Hulle moes ’n hele paar keer met ’n gehuurde bakkie heen en weer ry om haar besittings op en af te laai. Haar bed is opgemaak en die geiser is aangeskakel. Al wat sy nou wil doen, is stort en slaap.

    Sy skakel ligte af soos sy deur haar nuwe huis stap. Haar voetval op die houtvloer eggo in die paar vertrekke. Sy het nog te min goed om die klank te absorbeer. Voorportaal, leefvertrek, kombuis. In die gang staan die boks met haar persoonlike goed. Stuff het sy haastig met ’n swart viltpen daarop geskryf. Sy hurk langs die boks en met die laaste krag in haar lyf trek sy die breë kleefband aan die bokant af en maak dit oop. Bo-op lê ’n geraamde foto van Misha. Sy druk dit teen haar hart en stap slaapkamer toe. Val uitgeput op haar bed neer. Dalk moet sy eerder môreoggend stort. Vanaand is sy so moeg, sy kan nie eens huil nie.

    Sy is vir ’n paar sekondes heeltemal verlore toe sy wakker word. Sy hoor verkeer, ’n kerkklok wat iewers lui. Tortelduiwe. Die wêreld klink anders. Stadig kom alles in fokus: sy is in haar eie plek. Haar eie huis waarin nét sy gaan woon. In trendy Melville, dink sy in die taal van die eiendomsagent wat dit aan haar verhuur het. Hier kan niemand eensaam wees nie. Hier is jy omring van skeppende, cool nie-konformeerders. Niemand verwag iets van jou nie. Jy kan wees wie jy wil. Die troosfrases wat die afgelope maand rojaal oor almal se lippe gerol het, dwarrel nou soos tolbossies deur haar kop. As sy dit genoeg kere herhaal, sal sy dit dalk begin glo.

    Gister se vuil jeans en trui kleef aan haar lyf. Sy word bewus van iets hards onder haar. Die fotoraam. Sonder om daarna te kyk, sit sy dit neer op die omgekeerde teekrat wat tydelik as bedkassie gaan dien. Toe draai sy weer op haar rug en kyk na die staalplafon se ingewikkelde blompatrone. Die huis ruik nog na verf.

    Die eienaars het dit pas uitgeverf, het die agent verklaar toe sy die plekkie vir haar wys. Kyk, die ou girl lyk soos ’n splinternuwe sikspens.

    Haar vriend Zack het saamgekom vir ondersteuning.

    Laat ek dit vir jou vertaal, het hy in haar oor gefluister. Hulle probeer die stygende vog in die mure wegsteek.

    Sy moet opstaan. Stort, hare was en hierdie nuwe lewe van haar begin uitpak. ’n Lewe waarin sy moet leer om sonder haar ander helfte aan te gaan. Maar eers, koffie.

    Magdaleen probeer by die kombuisvenster uitkyk, maar al wat sy sien, is haar eie weerkaatsing. Elke keer as sy haarself per ongeluk in ’n spieël of winkelvenster gewaar, dink sy vir ’n ontstellende paar sekondes sy kyk na Misha. Sy herken haarself nie in dié te-skraal wese nie. Vanoggend lyk selfs haar hande soos Misha s’n. Die benerige vingers wat die koffiebeker vasklem asof dit ’n reddingsboei is. Die te-lang moue van die tuisgebreide trui, ’n oorblyfsel van ’n kortstondige verhouding in haar twintigs, laat haar nog meer verwese lyk. Sy wonder waar hy nou is. Die skraal jong man met die sensitiewe mond. Sy ma het dit vir hom gebrei. Dink hy ooit aan die trui? Aan haar?

    Sy neem ’n sluk koffie. Dan sien sy iets in haar klein agtertuin beweeg. ’n Kat. Sy sit haar koffiebeker neer en maak die agterdeur oop.

    Ksss, kssss, roep sy en die grys dier kom versigtig nader. Die klokkie om die kat se nek rinkel saggies. Mmm, so jy’s ’n jagter? raai Magdaleen.

    Ruby? brom ’n manstem van die ander kant van die vibracrete-muur. Magdaleen skrik. Eers sien sy net ’n blou laphoedjie. Haar gedagtes spring dadelik na Wilson Wilson, die buurman in die destydse reeks Home Improvement. ’n Mens het net altyd die karakter se stem gehoor, net sy hoed gesien, nooit sy gesig nie.

    Hallo? sê sy tentatief, bewus van die feit dat sy vandag soos die heel slegste weergawe van haarself lyk en ruik.

    Kssss, kssss, roep die man ook nou en Ruby spring dadelik terug na haar eie kant van die muur. Dan loer die ou deur ’n spleet tussen die sementpanele.

    Darius Achenbach, sê hy kortaf. Dit neem ’n sekonde of twee voordat sy besef hy stel homself voor.

    Magdaleen kan net ’n gedeelte van sy gesig uitmaak, maar genoeg om te sien hy is nie meer jonk nie. Hy dra ’n dik bril wat soos ’n vergrootglas werk en sy blou oë soos dié van ’n karakter in ’n Tim Burton-fliek laat lyk.

    Magdaleen Verster, sê sy. Klaarblyklik sal daar nie vandag onnodig woorde verkwis word nie.

    Toe draai hy om en gaan by sy agterdeur in.

    Dis ’n royal fokop, sê Zack en speel met die papierstrooitjie in sy glas pienk amandelmelkskommel. Hulle sit in Mother Earth, ’n vegan-eetplek nie te ver van Magdaleen se nuwe woonplek af nie. Sy kla omdat sy nie ’n lewe het nie. Maar sy wil not ’n donner dat ek hom ’n paar aande per week kom haal om by my te wees. Hy het met sy vuis op die tafel geslaan toe hy not a donner sê. Twee meisies wat by die tafel langs hulle sit, kyk afkeurend in hulle rigting. In die kort rukkie sedert die veganrestaurant in ’n boomryke straat in Linden opgeskiet het, het dit ’n tempel vir verantwoordelike aardbewoners geword. Nie regtig Zack se dam se ganse nie, maar Magdaleen is gek oor die lensiekerrie.

    En wat sê Ben? Het enigeen van julle twee hom gevra wat hý wil hê? Magdaleen se vurk is met borriegeel groente gelaai en halfpad op pad na haar mond toe. Sy laat dit vir ’n paar sekondes daar hang vir dramatiese effek.

    Hy is vyf jaar oud, Maggie. Al wat hy weet, is dat sy ouers mekaar nie like nie, sê Zack bitter.

    Wel, dit moet julle dadelik regstel. Sy kan hoor hoe beterweterig sy klink, dalk selfs veroordelend, maar sy gee nie om nie. Jy kan jou kind liewer elke aand sonder kos bed toe stuur as om hom met daardie wete te laat gaan slaap. Praat met Riska, dude. Fix dit.

    Zack se papierstrooitjie is deurnat en die opening heeltemal toe. Hy vis dit uit die melkskommel en kyk vies daarna. ’n Mens sou dink hy het ’n vlieg of ’n skaamhaar daarin ontdek. Dan sit hy dit in sy kleinbordjie en neem ’n sluk direk uit die glas, sy oë op die strooitjie wat pap en pienk in die bordjie lê.

    Party goed kan nie gefix word nie, sê hy.

    Toe sy lank na hom kyk sonder om ’n woord te sê, verander hy die onderwerp.

    Hoe gaan dit met Victor Frankenweenie?

    Magdaleen glimlag. Sedert die eerste oggend in haar semi in Melville, het sy haar buurman nog net ’n paar keer deur die kombuisvenster gesien. Gewoonlik wanneer hy Ruby se kos op sy agterstoep neersit. Die ou Isuzu-bakkie wat in sy oprit staan, het stof en katspoortjies op. Soms ruik sy sigaretrook.

    Wie weet? Dis tjoepstil langsaan. Hy het nog nie een keer sy bakkie aangeskakel om iewers heen te ry nie. Ek het geen idee wanneer hy kos koop nie.

    Uber Eats? raai Zack. Woolies Online?

    Hy is nie ’n Uber- of Woolies-tipe nie. Meer die bunker-met-blikkieskos-onder-die-huis-tipe.

    Met ander woorde ’n bietjie van ’n grilsmurf? Zack hou sy glas teen ’n hoek van sewentig grade en tik met sy vingers aan die bodem sodat die afsaksels by sy mond kan ingly.

    Nie meer as jý nie. Dit amuseer haar dat die ordentlike meisies by die tafel langsaan in afgryse na hom staar.

    Hy het dit skynbaar ook opgemerk, want hy vra kliphard: Hoe melk ’n mens anyway ’n amandel? Ek het nie eens geweet die goed het tieties nie.

    Die twee meisies stoot summier hul stoele agteruit en stap na die toonbank om te betaal.

    Mens kan jou nêrens heen vat nie, sê Magdaleen.

    Ek weet ek en Riska moet dit fix, maar ek weet nie hoe nie. Sonder die kritiese gehoor het Zack na normaal teruggekeer. Dis al amper drie jaar later, maar sy is nog steeds woedend. En ek is nog steeds die vark in die verhaal. Dit sal nooit verander nie.

    Magdaleen sit haar hand op haar beste vriend se voorarm. Haar lang, bleek vingers lyk vir haar onvanpas op die ryklik getatoeëerde landskap van sy vel. Soos nonne in ’n nagklub. Sy wonder soms hoe hulle twee vir ander mense lyk. Of vreemdes dink hulle is saam in die romantiese sin van die woord. Seker darem nie. Zack lyk soos die soort ou wat geen ouer vir ’n skoonseun wil hê nie. Sy wilde bos donker krulle verbloem nie heeltemal die lang, diep letsel op sy voorkop nie. Sy bonkige lyf wat hy elke dag sonder uitsondering in ’n uniform van swart jeans en swart T-hemp klee, laat hom lyk soos iemand wat agter die skerms op ’n fliekstel werk. Deel van die crew. En dan is daar die prentjieskode waarmee sy vel geïnk is. Min mense aanvaar dit. Nog minder mense verstaan dit.

    Dalk is hulle nie so verskillend as wat sy dink nie. Sy is immers nie meer die obskure helfte van die Verster-tweeling nie. Die een wat in die internasionale model se skadu kon gedy soos mos aan die koel kant van ’n klip nie. Dit was vir haar lekker om die ietwat swaarder, snaakser en minder bekende een van hulle twee te wees. Sy het altyd presies geweet wie en wat sy was toe sy haarself aan Misha kon meet. Nou is sy op reis met ’n outydse padkaart waarvan die skaal aan die onderkant ontbreek. Om die waarheid te sê, sy bevind haar op ongekarteerde terrein langs ’n kennisgewing waarop in dramatiese krulskrif staan Here be dragons.

    Vir ’n ruk sê nie sy of Zack iets nie. Hulle sit net daar, sy met haar bleek hand op sy voorarm. Hy wat daarna kyk.

    Misha! Babes! Hulle skrik albei toe ’n jong vrou op hulle afpyl. Sy is minstens ’n outydse ses voet en witblond. Magdaleen ruik die leer van haar swart baadjie toe die vreemdeling summier vorentoe buig en haar omhels. Die bolyf wat teen haar aandruk, is klein en lig soos ’n mossie s’n. Dis sonder borste, amper ’n seuntjielyf. The last time I saw you, we were in Barcelona! Or was it Rome?

    I’m not Misha. I’m her sister, sê Magdaleen bot.

    Die meisie verslap haar omhelsing en staan effe terug, ’n ligte frons op haar vlekkelose gelaat.

    But …

    Misha passed away seven months ago, sê Zack, en sy weet dit is om haar die pyn te spaar. Dis nie die eerste keer dat sy in hierdie situasie is nie en dit sal ook nie die laaste keer wees nie. As ’n mens een van ’n identiese tweeling is en jou presiese replika gaan dood, sien die wêreld haar gedurig in jou. Daarin lê die kern van jou dilemma. Jy het geen kans op emosionele afsluiting nie. Niemand laat dit toe nie. Want julle was en is selle-selle, soos die dierbare mme Evalyn Manthoro die Verster-susters altyd genoem het. Sym-sym. Deur aan te hou lewe, hou jy ook die ander een vir almal lewend.

    "Oh, sweetie, I’m

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1