Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die verkeerde vrou
Die verkeerde vrou
Die verkeerde vrou
Ebook385 pages6 hours

Die verkeerde vrou

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Liela Oloffson het alles wat meeste mense begeer. Skoonheid, roem, en ’n blink loopbaan as aktrise. Maar dan verdwyn sy een Vrydagnag en die polisie moet die media se hulp inroep om haar te vind. Gesoute misdaadjoernalis Ami Prinsloo volg Liela se spoor soos ’n bloedhond van waar sy laas in Johannesburg gesien is, en selfs verder, tot by haar kinderdae. Kruip Liela weg of is sy gekaap? Of dalk ontvoer? En waaroor het sy en haar verloofde so hewig baklei net voor sy verdwyn het? 
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 12, 2022
ISBN9780624093220
Die verkeerde vrou
Author

Irma Venter

Irma Venter is ’n bekroonde joernalis in Johannesburg. Haar romans sluit in Skoenlapper (wenner van die ATKV-prys vir spanningsromans), Skrapnel, Sondebok, Skarlaken, Sirkus, Sondag en Sewe-en-veertig. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse skrywer wat internasionaal uitgegee word deur Amazon Crossing.

Read more from Irma Venter

Related to Die verkeerde vrou

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die verkeerde vrou

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die verkeerde vrou - Irma Venter

    9780624089810_FC

    IRMA VENTER

    DIE VERKEERDE

    VROU

    Tafelberg

    Vir my pa en ma

    ‘Crazy’ is a word that does some dirty cultural work. It is a flip way of referencing mental illness, yes. But it’s also a slippery label that has little to do with how a person’s brain works and everything to do with how she is culturally received. Calling someone crazy is the ultimate silencing technique.

    Sinead O’Connor Remembers Things Differently, Amanda Hess, The New York Times, 18 Mei 2021

    MAANDAG

    1

    Ami hys haarself uit die gim se swembad, haar linkerskouer wat protesteer teen die skielike gewig ná talle lengtes se ritmiese vlinderslag. Sy ignoreer die dowwe pyn van haar ou besering wat aan spier en weefsel knaag. Kyk op haar horlosie. Glimlag.

    Dis die beste tyd in maande vir daardie laaste 200 meter.

    Dis steeds aansienlik stadiger as die tyd waarmee sy jare gelede Olimpiese goud in Athene gewen het, maar dis ’n goeie begin. Begin van wat, weet sy glad nie. Dis nie asof sy ooit weer kompeterend kan swem nie. Sy is al goed oor die dertig en haar beste swemjare is lankal verby.

    Dalk wil sy net weer fiks voel. Sterk en onoorwonne.

    Sy haal die swembril af en stroop die rooi keps van haar kop. Strek haar rug en rol haar skouer versigtig. Voel nie te seer nie. So ses uit tien. Gewoonlik is dit nader aan agt, veral deesdae. Die skete vermenigvuldig stelselmatig hoe ouer sy word, so asof haar lyf boetedoening eis vir al die jare se uitmergelende oefening. Vir die voortdurende soeke na vinniger en vinniger.

    Sy tel haar handdoek op, vryf haarself droog, glip plakkies en ’n T-hemp aan en vat die pad kleedkamer toe.

    Dit lyk goed! roep Tami waar hy besig is om die kennisgewingbord van vergeelde aanmanings te stroop.

    Dankie, sê sy. En dankie vir die oopsluit.

    Die gimbestuurder maak spesiaal die gim ’n halfuur vroeër vir haar oop sodat sy in vrede kan swem.

    Dis nie moeite nie, sê hy. Ek’s mos reeds daai tyd van die oggend hier.

    By haar sluitkas, op pad stort toe, kyk Ami gou na haar foon. Dalk het daar iets nuuswaardigs gebeur terwyl sy geoefen het.

    Sy lig ’n verbaasde wenkbrou. Sy het drie oproepe gemis. Die eerste een was kort ná vier, net voor sy in die swembad gespring het, en die ander twee so tien minute later.

    Dis kaptein Dennis Kgomotso wat haar gesoek het, sy naam met sy voorletters op haar foon gestoor om sy identiteit te beskerm. Dis ’n les wat sy op die harde manier geleer het. Help niks jy staan op ’n misdaadtoneel by die polisiewoordvoerder en dan flits die speurder wat die saak ondersoek se naam op jou foon nie, veral as hy bel met inligting wat hy glad nie veronderstel is om vir jou te gee nie.

    Dennis is by die Rosebankstasie, ’n veteraanspeurder en een van haar betroubaarste, maar moeilikste informante. As hy uit eie stoom bel, moet dit iets groots wees. En hy sal verwag dat die polisie daarby baat vind, maak geen fout nie. Wat beteken sy gaan hom heel waarskynlik skuld. Gróót skuld.

    Sy skakel sy nommer. Vang momenteel haar helderblou oë wat vanuit die spieël oorkant die vertrek na haar terugstaar. Die effense fronslyn op haar voorkop wat die laaste jaar of twee permanent geword het. Die donkerblonde hare wat tot op haar skouers gesnipper is.

    Sy het dit gaan sny net ná Dalene – Leen – se moordenaar verlede jaar April vasgetrek is. Iets moes tog verander het. Sy moes anders gevoel het. Gevoel het asof sy iets of iemand gewen het.

    Sy dink nie dit het veel gehelp nie.

    Die hofsaak begin volgende week, 18 September. Sy moet gaan getuig en sy wil nie. Sy wil die man nooit weer sien nie.

    Of nee.

    Sy wíl, maar sy weet so ’n ontmoeting sal nie goed eindig nie. Daarvoor is sy te kwaad. Sy kan dit net nie regkry om so ordentlik soos haar predikant-pa te wees nie. So kalm en vergewensgesind. So in beheer.

    Ami, antwoord Dennis ná die sesde lui.

    Sy aangename, diep stem herinner haar daaraan dat hy in die koor van die Soweto Faith Bible Church in Orlando-Wes sing. En as sy reg onthou, is sy vrou ’n matrone by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal.

    Sy het Dennis drie jaar gelede ontmoet toe twee kleuters in Rosebank ontvoer is. Die seuns, drie en vier jaar oud, het saam met hulle ma’s by verkeersligte gebedel. Die polisie moes die media se hulp inroep, Nuus360 inkluis, om die bestuurder van die wit paneelwa op te spoor wat die kinders gegryp het.

    Kaptein Kgomotso. Dis ’n verrassing, groet sy hom op Engels.

    Ek’s seker dis ’n aangename een, sê hy droog.

    Hang af.

    Ons het ’n vermiste persoon. VIP.

    Wie?

    Jy behoort haar te ken. Liela Oloffson.

    Die naam lui onmiddellik ’n klokkie. Die aktrise?

    Einste.

    Ami dink vinnig. Die soel donkerkop, wat soos ’n Italianer lyk, kom eintlik van Durban af. Haar loopbaan het in die Afrikaanse teater weggespring, meestal met kleiner rolle in fringevertonings by kunstefeeste. Sy het talle oudisies gedoen terwyl sy as kelner gewerk het, tot sy uiteindelik haar eerste betekenisvolle rol kon losslaan. Ná verskeie suksesse op die verhoog is sy uiteindelik ook TV en grootskerm toe.

    Dennis is reg. Die vrou is groot in Afrikaanse kringe. Sy het reeds elke moontlike prys vir haar werk gewen. Met haar laaste projek, ’n Netflix-reeks, het sy selfs haar vlerke internasionaal gesprei. Sy het die hoofrol vertolk, met ’n opvolg wat hulle binnekort plaaslik begin skiet, het Ami iewers gelees.

    Hoe lank is Oloffson al weg? vra sy.

    Van Vrydagnag af.

    Sy slaan haar sluitkas toe. Julle is vinnig op die ball.

    Oloffson se verloofde sê sy kom altyd huis toe ná hulle baklei het, al vat dit soms ’n rukkie. En blykbaar verdwyn sy nooit so lank sonder om hom te laat weet waar sy is nie.

    So hulle het baklei?

    Dennis brom iets wat sy nie kan uitmaak nie.

    Ek’s op pad daar na jou toe, sê hy dan. Oloffson het ’n spul Afrikaanse aanhangers. Dalk het iemand haar gesien. Dalk weet iemand waar sy is.

    Ami kyk op haar horlosie. Ek kan oor ’n kwartier op kantoor wees.

    Het julle koffie?

    So vroeg? Dink nie so nie. Ek sal vir ons Vida-koffie by die Shell kry.

    Fantasties. Maak myne ’n dubbelskoot.

    2

    Ami navigeer die Triumph Bonneville T120 deur die ondergrondse parkeergarage in Rosebank en stop die motorfiets langs die trappe. Haal haar valhelm af, haak dit oor haar arm, gooi haar rugsak oor haar skouer, en draf na Nuus360 se kantore.

    Bonang Radebe, die ontvangsdame, is reeds op kantoor. Ami het gejaag om haar Vida-aflewering te vang, maar dit lyk asof Bonang haar voorgespring het.

    Ami gryp die twee rooi koppies en ’n bak muesli wat op die toonbank staan. Dankie! Jy red my lewe.

    Dis ’n plesier. Jou gas is by jou lessenaar. Ek het gedink dis beter dat hy daar wag. Die kombuis is nog nie skoon nie.

    Dis honderd. Alles okay? Jy’s vroeg vandag.

    Jip. Bonang wys na haar swanger lyf. Seuntjie hou my wakker. Ek kan netsowel daai spul laat debiteure probeer aanjaag. Sommige is al by 150 dae.

    Hoop jy kom reg. Die pakke daar bo sê ons is al weer in die moeilikheid.

    Hoor ek ook heeltyd.

    Ami rek haar treë na haar hoek van die nuuskantoor. Dennis sit alleen in die stil vertrek, ’n swart baadjie oor sy stoel se rugleuning gedrapeer.

    Jammer ek’s laat, sê sy.

    Jare se swembyeenkomste en vlugte het haar fanaties gemaak oor stiptelikheid.

    Dennis staan op, kyk op sy goue horlosie. Vier minute. Dis okay.

    Sy bied hom die dubbelskoot-cappuccino aan, saam met drie suikers. Ek kan nie onthou hoeveel jy drink nie.

    Hy vryf oor sy effense maag onder die spierwit knoophemp. Niks nie. Nie meer nie. Ek probeer gewig afskud sodat ek saam met die seuns kan rugby speel.

    Ami onthou dat sy oudste hoop om die volgende Siya Kolisi te word, superflank en Springbok-rugbykaptein.

    Dennis haal die koffie se deksel af en gaan sit. Ami sak agter haar lessenaar neer. Gooi suiker in haar americano, roer en neem twee vinnige slukke, op soek na die kaffeïenskop om haar brein aan die gang te kry.

    Sy betrag die man voor haar onderlangs. Hy lyk nie veel anders as laas toe sy hom gesien het nie. Van gemiddelde lengte, kortgeskeerde hare, bietjie goud in die linkeroogtand. Selfs die donkerblou jeans, swart toerygskoene en goue, blink mansjetknope is bekend.

    So. Liela Oloffson, sê Dennis weer in sy morsekode-manier van praat, al die hoflike woorde wat die feite aanmekaar hou blykbaar steeds tydmors.

    Ami vis haar notaboek en pen uit haar rugsak. Wanneer presies het sy verdwyn?

    Uh-uh. Eers die reëls. Hy hou sy hand op, die bonkige goue trouring wat vir ’n oomblik die vroegoggendlig vang. Ek sê vir jou wat ons weet, en jy skryf ’n storie wat ons kan help om haar op te spoor. Op die rekord is op die rekord, en van die rekord af is van die rekord af. Niks se grys gesukkel tussenin nie. En moenie agterna sê jy’t my verkeerd verstaan nie. Nie tyd vir dit nie.

    Okay. Ek het dit.

    En as jy iets kry – énige iets – laat jy my weet. Jy doen nie eers jou storie en dan lees ek dit op julle webwerf nie.

    Dis reg so. Maar jy moet ook weet ek gaan my storie skryf al vind ek iets uit wat jy nie daar buite wil hê nie. Moenie dit probeer stop nie.

    Dennis pik met sy linkerhand aan die blou materiaal wat lostrek op die stoel se armleuning. Maak ’n geluid agter in sy keel, iets tussen omgekrap en instemmend.

    Sy besluit Dennis se brom moet ’n ja wees. Sy sit terug in haar stoel, kruis haar bene in die jeans en bruin stewels. Pluk aan die stywe wit T-hemp wat aan haar klam rug kleef. Sy het kwalik afgedroog ná haar stort, net aangetrek en hierheen gejaag.

    Haar beat was stil die laaste drie maande. Dis asof die koue winter die kriminele by die huis gehou het. Dis seker goed vir die land, maar nie noodwendig ewe positief vir ’n misdaadverslaggewer nie.

    Sy skryf die datum in haar notaboek neer. Vra vir Dennis: Is jy nog by Rosebankstasie?

    Hy knik.

    En julle ondersoek Oloffson se verdwyning?

    Ja. Maar as ons nie gou maak nie, gaan die provinsie of een of ander taakspan seker inspring. Julle Afrikaners maak mos altyd groot geraas as iets met een van julle gebeur. ’n Waarskuwende vinger. Maar dis nie vir jou storie nie.

    Sy gaan nie met hom stry nie. Dis duidelik die polisieman is nie hier omdat hy hier wíl wees nie. Hy is hier omdat hy en sy bevelvoerder weet die saak gaan aandag trek. Dat alles wat hulle doen onder die vergrootglas geplaas gaan word.

    Afgesien daarvan raai sy dat hy reeds op al die ooglopende plekke na Liela Oloffson gaan soek het. Dit beteken hy is al ’n rukkie op haar spoor en dat sy opsies begin min raak. Was hy eerlik met haar oor die foon? Word Oloffson regtig eers van Vrydagnag af vermis?

    Dennis pluk-pluk aan sy regteroor, asof hy sy gedagtes probeer orden. Luister hier. Wat van ons gesels eers en dan besluit ek … ons wat jy kan skryf en wat nie.

    Ons kan dit seker so om doen, ja.

    Sy sit haar pen neer en maak haar notaboek toe. Drink van haar koffie. Haar horlosie wys dis twintig oor ses. Iets sê vir haar die verveling van die afgelope drie maande is verby.

    So. Oloffson het Vrydagnag die pad gevat ná sy en haar verloofde, Jan Bakker, baklei het. Hy het gedog sy’s na ’n hotel of na haar suster toe, daarom was hy nie te bekommerd toe sy die volgende oggend nog nie by die huis was nie.

    Waar bly hulle?

    Dennis maak sy koffie klaar en haal sy sakboek uit sy baadjiesak. Hier naby.

    Sy kyk afwagtend na hom.

    Hy bly stil.

    Komaan. Ek sal tog vroeër of later uitvind.

    Sy tong soek-soek na iets in sy kies, dan gee hy vir haar ’n adres in Jellicoelaan.

    Sy karteer die area in haar kop. So dis ’n huis?

    Ja.

    Duur. Sy ken die buurt. Huise daar kos deesdae miljoene. Sy bly self in ’n woonstel nie te ver daarvandaan nie wat sy reeds jare gelede gekoop het.

    Sy kan nie dink ’n Suid-Afrikaanse aktrise maak so baie geld nie, tensy daai Netflix-reeks besonder goed betaal het. Of dalk is Oloffson se verloofde ’n welaf sakeman of iets.

    Dis een van die kleiner plekke in die omgewing, maar ja, nie arm nie, gee Dennis toe. Jy sal sien as jy netnou soontoe gaan.

    Hy kyk na haar met nougetrekte oë, asof hy haar uitdaag om hom verkeerd te bewys.

    Sy stry nie. Hulle weet al twee sy gaan dadelik ry om te hoor wat Jan Bakker te sê het as sy hier klaar is. Die eintlike vraag is of die speurder heimlik hoop dat sy iets by die man gaan uitvind wat sy bereid sal wees om met hom te deel. Indien die polisie Bakker as ’n verdagte hanteer, is hy seker nie te behulpsaam nie.

    Die feit dat Dennis die adres so geredelik vir haar gegee het, sê vir haar dis heel waarskynlik die geval. Sy weet wat die polisie dink – wat sy ook sou dink. ’n Plaaslike studie het in 2004 bevind dat daar elke ses uur ’n vrou deur haar intieme partner vermoor word. Dis vier vroue per dag, ’n skrikwekkende statistiek, en sy twyfel of dit intussen al verbeter het.

    ’n Gedagte tref haar. Wat as Dennis bloot vir Bakker wil voorspring? Wat as die polisieman hierdie onderhoud soos ’n guns laat lyk, wetende dat Bakker in elk geval oor ’n paar uur hier sou aankom om hulp te vra om sy verloofde op te spoor?

    Vir Ami om die storie eerste te hê, beteken sy skuld die speurder. En dat sy haar inligting met hom moet deel. Dit sou slim wees. Iets wat sy sou doen.

    Sy kyk hoe Dennis deur sy sakboek blaai. Stop. So. Bakker het vroeg Saterdagmiddag begin bekommerd raak toe hy Oloffson steeds nie in die hande kon kry nie. Hy het haar suster gebel, Trienie Saaiman, maar dié het gesê sy het voor die naweek laas van Oloffson gehoor. Alwyn Tredoux, die aktrise se agent, het ook nie geweet waar sy is nie.

    Dennis blaai om. Bakker en Oloffson het beide ’n tracking app op hulle selfone, maar Oloffson se foon was af – is nog steeds af. En haar motor het nie ’n tracker nie.

    Watse kar bestuur sy? vra Ami.

    Vaalblou Jetta. Tien jaar oud, dalk meer.

    Vreemde keuse vir iemand soos Oloffson. Mens sou iets blinker verwag.

    Ek het ook daaroor gewonder. Maar volgens Bakker is sy nie die soort mens wat haar geld op motors spandeer nie. Sy gaan reis eerder of gee dit op haar familie uit.

    Dan is die goeie nuus seker darem dat so ’n ou sedan nie juis kapingsmateriaal is nie.

    Hmm. Behalwe dalk vir die parte. En daar is deesdae ’n spul amateurmisdadigers op straat ná die ekonomie so in die hek geduik het, so mens weet nooit.

    Wat van Oloffson se foon? Julle het seker haar bewegings voor haar verdwyning probeer plot. Waar het dit laas gepieng? Wie het sy laaste gekontak?

    Dennis dink vir ’n oomblik. Skud sy kop. Vir nou hou ons daai inligting vir onsself.

    Ami knik. Los dit daar. Sy sal hom later weer vra, wanneer die storie uit is en die druk op die polisie toeneem.

    Sy waai vir twee van haar kollegas wat by die nuuskantoor inloop. Hulle kyk nuuskierig na Dennis en loop dan kombuis toe.

    Wat het gebeur ná Bakker sy verloofde nêrens kon kry nie? vra sy.

    Hy’t stasie toe gekom om haar as vermis aan te gee.

    En dit was eergister? Saterdag?

    Korrek.

    Hoe laat?

    Kort voor twee in die middag.

    Ami maak die somme. Dis nou al amper twee dae later. Haar vermoede mag dalk reg wees. As Bakker reeds Saterdag by die polisie was, is hy heel waarskynlik gereed om na die media te hol en probeer Dennis bloot om voor die storm te bly.

    Waar het julle orals na Oloffson gaan soek?

    Die speurder se wenkbroue skiet op. ’n Paar plekke.

    Sy wil vra hoe sy veronderstel is om te help as hy dan niks wil sê nie, maar besluit dis onwys om nou reeds ongeduldig te raak. Het julle enige iets verdag by Oloffson en Bakker se huis gekry?

    Hy aarsel net daai oomblik te lank. Nee.

    Ami verraai nie die feit dat sy die huiwering opgemerk het nie. Haar pokergesig kom uit haar swemjare. Mens kon nooit verklap wat jy voel as jy ernstig was oor wen nie. Enige onsekerheid of pyn het bloot die kompetisie aangespoor om vinniger te swem.

    Wat van Oloffson se bankrekeninge? probeer sy.

    Geen groot onttrekkings wat ons kon sien nie. Maar ons is nog besig om deur haar finansies te werk.

    So dis nie kapers wat hoop om ’n klomp geld by ’n OTM te trek nie?

    Lyk nie so nie.

    Ontvoering vir ’n losprys?

    Dis die derde dag sedert sy verdwyn het en niemand het nog haar familie of die verloofde gekontak nie.

    Fanatiese aanhanger?

    Dis ’n moontlikheid. Daar is ’n paar … Dennis soek na die woord, oorentoesiastiese mense op haar sosiale media. Maar niemand wat regtig aandag trek nie.

    Wat van hospitale en lykshuise?

    Niks tot dusver nie.

    Enige geskiedenis van drankmisbruik? Dwelms? Onstabiliteit?

    Dis nog vroeg in ons ondersoek, maar daar’s niks daarvan wat ons kan sien nie. Niks wat iemand laat blyk nie. Altans, teenoor óns laat blyk nie.

    Sy kyk stip na hom. Hierdie verloofde van Oloffson … Is julle seker hy jok nie vir julle nie? Het hy nie dalk iets onheilig gaan staan en aanvang nie?

    Sy gesig word strak. Vir nou is dit ’n vermistepersoon-saak. Niks meer nie.

    Ami sit terug. Drink haar koffie klaar terwyl sy hom laat sweet in die stilte. Die man is besig om al om die waarheid te praat en hulle al twee weet dit.

    Dit klink soos ’n lelike affêre, sê sy uiteindelik. Oorweeg julle dit glad nie dat Oloffson bloot weggeloop het nie?

    Dennis skud sy kop. Geen van haar klere of besittings word vermis nie. Inteendeel, dit lyk asof sy net met haar handsak in haar motor geklim het.

    Mens het nie altyd ’n tas nodig om weg te loop nie. Wat as sy Bakker gelos het en die man nou sukkel om dit te aanvaar?

    Hy trek-trek aan sy regteroor. Ek wens dit was ’n moontlikheid, maar dis nie die gevoel wat ek kry nie. Oloffson se suster is byvoorbeeld baie bekommerd. Sy beaam wat Bakker sê, naamlik dat hy en Oloffson soms baklei, maar volgens haar is Oloffson nooit onverantwoordelik nie. Sy sal nie net so wegbly sonder om iemand te laat weet waar sy is nie. Om die suster aan te haal: ‘Liela is nie een of ander mal loskoppie nie.’ En sy sweer Bakker het nog nooit vir Oloffson fisies seergemaak nie.

    Daar is altyd ’n eerste keer, nie waar nie? vra Ami.

    Die speurder gee haar ’n grimmige kyk.

    Sy hou haar hande op, glimlag. Ek wil net keer dat Oloffson my van een of ander spa in die Magaliesberg bel en uittrap as sy dalk net ’n bietjie gaan asemskep het.

    Dennis trek sy skouers op, hou vol met sy beneukte stilte.

    Sy onderdruk ’n sug. Tel haar notaboek en pen op. So wat wil jy hê moet ek skryf? Ons kan oor ’n halfuur iets op die website hê.

    Ek wil weet of iemand Oloffson sedert Vrydagnag gesien het. Jy kan my naam en nommer as kontak gee. Jy weet mos hoe dit werk. En soos ek gesê het; jy laat my dadelik weet as iemand jou bel. Moenie eers die storie doen nie.

    Honderd. Ek het dit. Het jy ’n onlangse foto van Oloffson wat ons kan gebruik?

    Hy vis in sy baadjiesak en oorhandig ’n kleurfoto aan haar.

    Die A5 wys ’n vrou in haar mid-veertigs met rooibruin krulhare op haar kop gestapel, ’n paar los slierte wat in haar nek hang. Die reguit neus, prominente wangbene en ’n vol onderlip wil-wil mens aan die Italiaanse aktrise Sophia Loren herinner. Ook haar lyf se natuurlike kurwes lyk na Loren, eerder as die plankdun modelvoorkoms wat deesdae in die mode is. Donker wenkbroue boog oor broeiende swart oë, daag jou so half uit om nader te kom en weg te bly tegelyk.

    Dis nie ’n vriendelike of sensuele foto nie. Oloffson tuur na die kamera met iets soos spot, haar hande in die lug asof sy vra: Wat op dees aarde vang jy aan? Sy staan in ’n kombuis, geklee in jeans en ’n stywe rooi bloes, die ronding van haar vol borste net-net sigbaar.

    Ami neem die foto af met haar foon. Daarna gaan skandeer sy dit by die fotokopieerder en gee dit terug aan Dennis.

    Hy druk dit in sy baadjiesak en staan op. Dankie. En dankie vir die koffie.

    Whoa net so bietjie, keer sy vinnig. Ek moet nog ’n paar dinge weet voor ek die storie kan skryf.

    Soos wat?

    Wel, watter klere het Oloffson Vrydagnag aangehad? Wanneer presies is sy by die huis weg en hoekom?

    Dennis gaan sit. Vis weer vir sy sakboek en slaan dit oop. Sy’t die huis om en by 23:00 verlaat. Grys Adidas-sweetpak, wit T-hemp, wit tekkies en wit bofbalpet. Diamanthangertjie en goue horlosie, al twee blykbaar baie werd. Die horlosie is ’n geskenk van Bakker.

    Hy blaai om. "Die paartjie was uit vir die aand. Teater toe vir ’n balletopvoering. Giselle. By die huis het hulle gestry en Oloffson het die pad gevat. Maar moenie die stryery noem nie, dis nie nodig nie. Ons wil dinge nie kompliseer nie. Vir nou soek ons net na iemand wat vermis word."

    Ami skryf die feite neer. Ek kan seker so maak. Beduie na hom met die pen. En waar en wanneer is Oloffson die laaste keer gesien? Jy weet hierdie tipe stories werk net as ons vir lesers kan sê van watter punt af iemand vermis geraak het.

    Dit was iewers ná 23:00 by die Woolworths by die Engen-garage in Sandton. Die een in Rivoniaweg, skuins oorkant daardie groot BMW- en Mini-handelaar. Die vrou by die betaalpunt het Oloffson herken ten spyte van die pet.

    Dennis vee oor sy mond. Oloffson het kontant betaal vir pasteie en ’n paar ander goed. Die pasteie het sy vir ’n bedelaar gegee wat haar blykbaar gepla het net voor sy by die winkel in is.

    Ami staar na die hand wat steeds voor die speurder se mond huiwer. Hoekom voel dit asof die man weer besig is om haar bullshitmeter te roer?

    En? vra sy.

    En wat?

    Komaan, Dennis. Laat my toe om julle te help. Regtig te help. Ons het tog laas goed saamgewerk, nie waar nie?

    Hy frons dat sy oë amper toeskreef. Off the record?

    Natuurlik.

    Die kassier sê Oloffson het bloed in haar nek gehad. In haar hare.

    Dis interessant. Wat sê Bakker oor die bloed?

    Allerhande stories. Hy sweer dit was nie hy nie. Oloffson was glo heeltemal okay toe sy by die huis weg is.

    Was daar iemand in die motor saam met haar by die Woolies?

    Nie wat enige iemand gesien het nie, en ook nie wat die CCTV kon uitwys nie. Dit was verbasend besig by die winkel, al was die petrolpompe stil. Behalwe vir die klante was daar ’n sekuriteitswag aan diens en ’n enkele petroljoggie. Daar is tans konstruksie by die perseel, so dis baie donker in en om die garage. Hy skud sy kop ontevrede. Daar’s orals hierdie groen nette gespan om mense van die bouwerk af te skerm – oorgenoeg plek vir iemand om weg te kruip.

    Sy swaai haar stoel negentig grade, beduie deur die venster na Sandton se toringgeboue. Ek weet van ten minste een 24-uur-winkel in Rosebank. Hoekom is Oloffson Sandton toe? Waarheen was sy op pad?

    Weet nie.

    Bly iemand wat sy ken in Sandton?

    Die frons op Dennis se voorkop verdiep tot iets hard en ongeduldig, en Ami weet sy gaan niks meer uit hom kry nie.

    Sy slaan haar notaboek toe en staan op. Sy gaan moet uitvind wat die speurder alles vir haar wegsteek.

    Ek sal die storie skryf en op die website laai. En as iemand my kontak, sal ek jou laat weet. Sy beduie na ontvangs. Kom, ek stap saam met jou.

    3

    Wat soek die cops so vroeg by jou? vra Warren. Is dit een of ander high-profile storie?

    Die sportjoernalis sit sy werksak langs sy lessenaar neer en haal sy rekenaar uit.

    Ami trek die muesli nader wat saam met die koffie afgelewer is. Neem ’n vinnige hap. Sy is rasend honger ná vanoggend se swemsessie. Sy wil die berig oor Liela Oloffson se verdwyning skryf, voor Dennis dalk met die kompetisie ook gaan praat, en dan wil sy ry om met Jan Bakker te gaan gesels.

    Warren trek aan die kraag van sy vuilwit polohemp, vee oor sy swart wipkuif. Komaan. Is dit iets juicy?

    Nogal, gee sy toe.

    Die man irriteer die hel uit haar uit, meestal omdat hy heeltyd vassteek by haar swemloopbaan, maar sy gaan nie hierdie storie lank kan wegsteek nie. Help nie om te lieg nie.

    Is dit iemand wat ons ken? Hy tel sy vuil koffiebeker op en betrag dit van nader, asof hy wonder of dit skoon genoeg is vir die nuwe dag.

    Ami sou reken dit kort ’n goeie skrop, soos als aan die man, maar Nuus360 se gedragskode verbied haar om iets te sê.

    Haar kantoorfoon lui en sy antwoord dit dankbaar.

    Jy moet kom kyk. Dis Bonang, opwinding in haar stem.

    Wat’s fout?

    Niks nie. Kom kyk.

    Ami loop haastig ontvangs toe. Steek vas. Die hele voorste deel van die kantoor is volgepak met bosse geel ranonkels, elkeen in sy eie vaas.

    Ranonkels is haar gunstelingblom, maar wie sou dit nou weet? Sekerlik nie die man by wie sy verlede naweek geslaap het nie.

    Nee. Slaap is die verkeerde woord. Dit was blote seks. ’n Oomblik van swakheid in ’n Pretoria-klub se badkamer. Dit was net ná sy gehoor het dat sy volgende week in die hof moet wees. Dat sy haar suster se moordenaar weer in die oë gaan moet kyk.

    Ou gewoonte van haar. Nes die drank en pynpille wat sy gesluk het om die herinneringe aan Leen en die teleurstelling oor haar swemloopbaan te verdoof.

    Dit kan nie hy wees nie, besef sy dan. Sy het nie eens haar regte naam vir hom gegee nie.

    Dit laat net een moontlikheid – en sekerlik die man aan wie sy eerste moes gedink het, al was hy die laaste paar maande redelik stil.

    Bonang oorhandig ’n wit koevert aan haar. Bly staan, een hand op haar swanger maag, nuuskierig om te sien wie die blomme gestuur het.

    Ami druk die kaartjie in haar jeans se gatsak. Daar is geen manier dat sy dit hier gaan staan en lees nie. Netnou lê die storie die hele kantoor vol.

    Sy loop terug na haar lessenaar, pak haar rugsak, gryp die muesli en haar valhelm.

    Op ’n drafstap verby ontvangs sê sy vir Bonang: "Vat die blomme

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1