Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Leo
Leo
Leo
Ebook581 pages10 hours

Leo

Rating: 4.5 out of 5 stars

4.5/5

()

Read preview

About this ebook

’n Student se dood in die berg by Stellenbosch lyk verdag. ’n Oud-recce vermoor as ’n boodskap. ’n Mooi veldgids, gewerf as ’n heuningwip vir die grootste dollar-rooftog in die land se geskiedenis. En staatskapers wat elkeen van die ondersoeke saboteer. Jy’t ’n koel kop nodig om dit alles te ontrafel, om die enorme druk te kan hanteer. Jy moet kalm en gefokus en nugter wees. Maar Bennie Griessel se kop is nie koel nie. Want op 12 Junie moet hy trou. Dis ’n resep vir ’n ramp.
LanguageAfrikaans
Release dateOct 13, 2023
ISBN9780798183390
Leo
Author

Deon Meyer

Internasionaal bekende skrywer Deon Meyer woon op Stellenbosch. Sy publikasies sluit in dertien misdaadromans (onder meer Spoor, 2010, 7 Dae, 2011, Kobra, 2013, Ikarus, 2015, Koors, 2016, Prooi, 2018, en Donkerdrif, 2020). Orion, Proteus en Infanta is met die ATKV-prosaprys bekroon en Prooi met die ATKV-prys vir Spanningsfiksie.

Read more from Deon Meyer

Related to Leo

Related ebooks

Related articles

Reviews for Leo

Rating: 4.4 out of 5 stars
4.5/5

5 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Leo - Deon Meyer

    9780624089810_FC

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Human & Rousseau

    Vir Marianne

    Met liefde

    Leos tend to be full of primal, creative energy. This is a sign that embodies the fire that lives within us all.

    – www.mindbodygreen.com

    The desire of gold is not for gold. It is for the means of freedom and benefit.

    – Ralph Waldo Emerson

    The desire for gold is the most universal and deeply rooted commercial instinct of the human race.

    – Gerald M. Loeb

    ROOIKAT

    (Caracal caracal)

    Bennie en Vaughn

    1

    Anjané van Tonder sit in die misdaadkantoor van die Stellenbosch-polisiestasie. Haar regterhand klou aan ’n groot iPhone asof dit ’n kleinood is.

    Oorkant haar en die verweerde staatsdiens-verskafte houttafel, in verweerde staatsdiens-verskafte houtstoele, sit twee speurders. Hulle het hulself voorgestel as adjudant-offisiere Bennie Griessel en Vaughn Cupido. Hulle kyk nou al twee fronsend en met geboë hoofde na die verklaringsvorm wat sy so sorgvuldig ingevul het. In haar pynlik netjiese handskrif. Taalkorrek. En feitelik.

    Sy het geskryf sy is twintig jaar oud. In haar tweede jaar van ’n Baccalaureus-graad in die Lettere en Wysbegeerte met hoofvakke Afrikaans en Nederlands, en Algemene Taalwetenskap. ’n Inwoner van Minerva Dameskoshuis.

    Wat besteel is.

    Anjané is ’n mooi jong vrou, met haar lang, reguit blonde hare, groot liggroen oë en foutlose vel. Die rosige lippe is nou saamgepers in onderdrukte frustrasie. Want dié twee – en hierdie atmosfeerlose ruimte – maak haar ongemaklik.

    Ten eerste: Vir wat skud hulle hul koppe, asof hulle nie verstaan wat haar verklaring sê nie? Dis alles duidelik uiteengesit.

    Ten tweede: Die Griessel-speurder lyk … net nie betroubaar nie. Vreemde oë. Amandelvormig en donker. En treurig. Maar nie hartseer-treurig nie. Net treurig. Sy hare is slordig. Te lank vir ’n man van sy jare. ’n Gesig met slegte myle op. Drinker-myle. En sy gekreukelde hemp en baadjie skree Pick n Pay Clothing oor die middeljarige dad bod.

    Ten derde: Die Cupido-een het na ’n veel beter proposisie gelyk. Fors en atleties en aantreklik, al span die spierwit hemp so oor sy magie. Netjies aangetrek, sy hare kort en presies geskeer. Maar die bruin man het ’n houding. Vaagweg meerderwaardig. Sy’t gesien, toe hulle inkom, die kyk wat hy vir sy kollega gegee het. Een wat sê: Hier gaan ons al weer.

    Sy het regte. Sy is die slagoffer van ’n slinkse misdaad.

    Die Griessel-een kyk op van die klagtevorm. Juffrou, sê hy, wat presies het hulle van jou gesteel?

    Nie ‘hulle’ nie. Kayla Venter. Sy’t my IP gesteel. Anjané sê die twee letters in Engels. Aai Pie.

    Jou apie? vra die Cupido-een in verstomming.

    Sy slaan haar oë op, soekend na hulp. My Aaaaai Pieeee, herhaal sy die twee letters stadig en duidelik. Dit staan vir intellectual property. Intellektuele eiendom.

    Hulle kyk na haar sonder begrip.

    Haar moed sink verder. Hoe ongelukkig kan ’n mens wees? Die twee dofste lampies in die polisie-kandelaar, en sý moet hulle kry.

    Die Griessel-een sê: Okay. Juffrou, kan jy vir ons van die begin af die storie vertel? In jou eie woorde. Groot geduld in sy stem, wat sy nie nodig het nie.

    My verklaring is létterlik in my eie woorde, sê sy.

    We’re just not feeling it, juffrou, sê die Cupido-een. Asseblief. Just take it from the top.

    Sy trek haar asem stadig in om haarself te kalmeer. Ek het ’n Insta story gepost, sê sy. Eergister. En toe steel Kayla Venter my intellectual property.

    ’n Insta story? sê Griessel.

    Instagram? sê sy. Julle weet van Instagram? En sy aktiveer haar foon.

    Ja, ons ken vir Instagram, sê die Cupido-een.

    Great. So, ek het hierdie story op Instagram gepost … Sy bewerk die foon se skerm met haar duime, en draai dit na die speurders toe, laat die Insta-storie speel.

    Dit wys Victoriastraat, die pad wat deur die hart van die universiteit se kampus loop. Die kamera volg ’n stappende jong vrou van agter. Sy het lang, rooi hare, ’n kort rokkie en atletiese bene. Daar is musiek ook, onheilspellend en dreigend. Terwyl die rooikop onbewus verder stap, verskyn daar woorde op die skerm, een ná die ander, in kursiewe drama:

    Rooikat.

    Oor.

    Rooikat.

    Hoor.

    Rooikat.

    Verloor.

    Die beeld verdoof tot swart.

    Sy kyk met afwagting na hulle.

    Dis jou Insta story …? vra die Griessel-een.

    Dis reg. En toe …

    Ma’ wat meen daai? vra Cupido en wys na haar foon se skerm.

    Dis ’n gedig, sê sy.

    I get that. Ma’ wat meen dit?

    Dis ’n allegorie.

    Still not with you.

    Sy sug. Sy moes geweet het. ’n Allegorie is ’n gedig wat een ding sê, maar dan het dit ’n dieper betekenis. ’n Rooikat is ’n slinkse dier. Dit steel skape en dit het baie groot ore, daar is iets soos sestien spiertjies wat net die ore laat beweeg. So, die gedig praat net van ’n rooikat wat goed kan hoor, maar dit red hom nie. Hy kan nog steeds verloor. En die dieper betekenis is, Kayla Venter kan probeer om storietjies oor my te versprei van goed wat sy gehoor het – en nié waar is nie – maar sy het verloor.

    Daai girl in die video is Kayla Venter?

    Dit is.

    En toe steel sy jou IP?

    Sy het. En ek het die bewysstuk, sê Anjané. Kyk … Sy bewerk weer haar foon, wys vir hulle die skerm. Sy’t my story gevat en toe verander sy dit en sy post dit …

    Dieselfde video. Dieselfde musiek. Dieselfde woorde. Tot net voor die einde. Dan verskyn die woorde NOOIT NIE in bloedrooi hoofletters.

    Hoe kan sy ’n video steel wat sy self op is? vra die Cupido-een.

    Die gedig, sê Anjané. Sy’t my gedig gesteel. My IP.

    Hulle staar weer na haar. Soos village idiots.

    Die Griessel-een se selfoon begin lui. Hy haal dit uit, sê dan vir haar: Ekskuus, ek sal dit moet vat. En hy antwoord: Kolonel?

    Wat gaan julle doen? vra Anjané vir die Cupido-een.

    Ons kom dadelik, kolonel, sê die Griessel-een oor die foon, en lui af.

    Juffrou, sê die Cupido-een, met groot erns, intellectual property cases, daai is ver bo ons pay grade.

    Sy het so gedink. Nou wie kan my help?

    Vaughn, die kolonel sê hy soek ons in sy kantoor, sê die Griessel-een. Hulle staan al twee op.

    Juffrou, sê die Griessel-een, ons beste raad is om liewer met ’n prokureur te gaan gesels. Wat spesialiseer in kopiereg. Hierdie ding is meer van ’n siviele aangeleentheid.

    Dan kan jy vir Kayla Venter sue, sê die Cupido-een. Vir groot geld. Daai sal vir haar ’n les leer.

    Maar jy sal ons asseblief moet verskoon, sê die Griessel-een. Ons bevelvoerder wil ons sien.

    Good luck, juffrou, sê die Cupido-een.

    Totsiens, sê die Griessel-een.

    Hulle loop uit.

    Sy kan sweer sy hoor die Cupido-een lag, maar sy is nie doodseker nie.

    * * *

    In die kar sê Cupido: Wat het ons nóú weer verkeerd gedoen, Benna?

    Niks, sê Griessel, waarvan ek weet nie.

    Hoe’t hy geklink?

    Jy ken vir Witkop. Hy klink altyd die moer in.

    Was hy regular die moer in, of extra special?

    Geklink soos regular.

    En hy’t gesê ‘julle moet nóú kom’?

    Hy’t net gesê hy wil ons so gou as moontlik sien.

    Benna, I think this is it …

    Wat?

    Die Valke wil ons terughê, partner. Dis wat ek scheme. No more IP theft, stolen bicycles and lost cell phones. Back to the big time, pappie. At last.

    Ek weet nie, Vaughn …

    Trust my instincts, Benna. Trust my instincts.

    * * *

    Griessel en Cupido draf in die gang af, op die eerste verdieping van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Stellenbosch-speurkantore, drie kilometer wes van die Eikestad se aanklagkantoor.

    Cupido klop aan.

    Ja, kom die stem van binne.

    Hulle gaan in.

    Luitenant-kolonel Waldemar Witkop Jansen is die speurtak se bevelvoerder. Hy is al amper by aftree-ouderdom, ’n klein en beneukte gryskop-terriër met ’n spierwit Chaplin-snorretjie. Hy frons van agter sy lessenaar. Hulle weet dit is nie noodwendig ’n weerspieëling van sy luim nie.

    Môre. Sit, sê Jansen.

    Hulle groet, en gaan sit.

    Toe julle oorgekom het hiernatoe, van die Valke af, het ek gedink julle is twee windgatte, sê die kolonel.

    Hulle wag.

    Ek was verkeerd. Julle werk is goed. Julle dockets is volgens die boek. Nou, ontvang vir my mooi, ek kan julle nog nie bevorder nie. Julle bly adjudant-offisiere. Maar ek gaan vir julle skuif. Na E-en-G toe. Ernstige en Geweldsmisdade is die enigste spesialisspan by Stellenbosch se speureenheid.

    Dankie, kolonel, sê Griessel.

    Cupido is teleurgesteld. Hy sê niks.

    Ja, moenie te dankbaar wees nie. Dis vier-en-twintig-uur op roep, sewe dae ’n week. Niks meer van net elke vierde week op bystand nie. Ons E-en-G-span is nog steeds te klein, julle gaan ’n swaar vrag moet dra. Ontvang julle my?

    Ja, kolonel.

    Sien julle kans?

    Cupido kom tot verhaal. Colonel, daai is hoe ons roll. Daai is hoe ons by die Hawks gewerk het ook, sê hy. Day and night. En hulle gaan ons any day now terugvat, dan werk ons in any case weer só.

    Kanse is skraal, sê Jansen.

    Colonel?

    Klink mos nou vir my julle het nog nie gehoor nie …

    Wat gehoor, kolonel? vra Griessel.

    Brigadier Manie. Topstruktuur het hom uitgewerk daar. Seker omdat hy ’n eerlike poliesman is.

    Brigadier Musad Manie was bevelvoerder van die DPMO – die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke, algemeen bekend as die Valke – in die Wes-Kaap terwyl Griessel en Cupido aan dié elite-eenheid verbonde was.

    Jissis, sê Vaughn Cupido.

    Diens het ’n moeras geword, sê Jansen, en die skarminkels in Pretoria trek ons al hoe dieper daarin af. Ons het gedink staatskaping is verby. Maar hulle sit nog daar. Die korruptes. Agter die skerms. Nooit gedink ek sal dankbaar wees vir aftree nie.

    Dit is die eerste keer dat hulle vir Witkop Jansen ’n negatiewe woord oor die polisie hoor sê. Hulle sit in stilte, verstom.

    So? vra Jansen eindelik. Is julle reg vir E-en-G?

    STRANDWOLF

    (Bruin hiëna – Parahyaena brunnea)

    Christina Jaeger

    2

    Wat doen mens as ’n leeu jou storm?

    Dis een van die vroue wat dit vra, in ’n Texas-aksent.

    Nege Amerikaners, laataand om die kampvuur in die diep Okavango. Vier middeljarige egpare en ’n hupse weduwee in haar laat sestigs. Bo hulle hang die Melkwegboog soos die koepel van ’n naghemel-katedraal. Die toeriste se aandag is nie by die asembenemende uitspansel nie. Hul oë is op Christina. Hul veldgids. Hulle noem haar Chris. Of Chrissie. ’n Mooi jong vrou in die sagte lig van die vuur, met haar heuningvel, haar swart hare in ’n lang vlegsel oor haar rug, haar elegante nek en wangbene.

    Chrissie glimlag. Die buitelanders vra altyd dié vraag. Met ’n infleksie wat sê hulle is nie bang nie. Net nuuskierig.

    Sy sê: If you run, you’ll only die tired. Sy wag tot die senuagtige gelag bedaar. Dan sê sy Usain Bolt kan teen vier-en-veertig kilometer per uur hardloop. Drie-en-veertig punt nege nege, om presies te wees. ’n Leeu kan tagtig kilometer per uur doen.

    Chrissie is ’n ervare en behendige verteller. Sy ken die waarde van stiltes in ’n storie. Daarom talm sy nou, sodat net die knetterende vuur en die paddas se stemmige massakoor hoorbaar is.

    Sy sê ’n leeu se storm is meestal vertoon. ’n Toets. Sy brul is oorverdowend en baie intimiderend. Hy wil jou die skrik op die lyf jaag, sodat jy vlug. En as jy vlug, is jy katkos.

    What you do is you confront him. Sy staan op uit die kampstoel. Plant haar atletiese bene in die stapstewels wyd, lig haar arms hoog, sprei haar palms. You become the biggest version of yourself that you can manage. You roar back at him. As loud as you can. Clap your hands. Show no fear. He’ll stop charging. They always do. It confuses them. And when he stops, you start moving back. Very, very slowly. Always facing the animal. If he moves, you freeze. If he stops, you withdraw.

    Hulle hang aan haar lippe.

    Sy laat haar arms stadig sak. Sy gaan sit. The trick, sê sy, is to allow them to retreat with dignity. You know, like with men in general.

    Hulle lag weer, soos hulle altyd maak. Vir die humor en die verligting van leeu-spanning. Sy weet wat die volgende vraag gaan wees: How many times have you been charged by a lion? So vier of vyf keer, sal sy antwoord. Sy sal dan oudergewoonte die jaggeweer nadertrek, die Ruger Hawkeye. En sê sy werk nou al vier jaar lank hier by Letsatsi Lodge. Sy het nog nooit nodig gehad om die wapen af te vuur nie. Maar sy dra dit altyd saam. En sy weet hoe om dit gebruik. Daarom kan hulle môreoggend se stapsafari net geniet. Hulle sal heeltemal veilig wees.

    Voor die vraag kom, raak Chrissie bewus van ’n beweging, ’n teenwoordigheid, aan die rand van die vuur se ligkring. ’n Vaag onthoude silhoeët, ’n halfbekende tred. Sy wend haar fokus daarheen. Sy herken die gesig uit haar verlede.

    Haar hart klop ’n klein bietjie vinniger.

    Die man in die halfdonker knik vir haar. Dis ’n subtiele teken, ’n gebaar wat sê: Ek is hier om vir jou te sien. Dan verdwyn hy agter die lapa se houtpaalmuur, in die rigting van die boskroeg.

    * * *

    Rousseau. Ian of Ivan. Of so iets. Hy’t destyds vir Ehrlichmann in Zimbabwe gewerk. Dis al sewe, agt jaar gelede. Oudsoldaat. Lank, groot skouers en hande, stil en eenkant. Sy’t van hom gehou.

    Sy onthou dit terwyl sy nog haar laaste kampvuurpraatjies met die Amerikaners maak. Dan verskoon sy haarself en gaan soek hom.

    Hy sit met ’n halfgedrinkte bier, staan op toe sy aankom. Hy’t steeds die ligblou oë, die kort, rooibruin baard. Hallo, Vlooi, sê hy met ’n beleefde glimlag.

    Dis vir haar vreemd om dié naam weer te hoor. Sy laat dit eers begaan. Rousseau, sê sy. Wat maak jy hier?

    Hy wag tot sy langs hom sit: Wil jy iets drink?

    Nee, dankie.

    Hy knik, tel sy bier stadig op en vat ’n sluk. Kyk vir haar. Ek bring ’n werksaanbod.

    Sy lig haar wenkbroue.

    Rousseau kyk eers dat die kroegman buite hoorafstand is, hou sy stem net hard genoeg dat sy kan hoor. Ons wil twintigmiljoen dollar steel, sê hy. En ons het jou nodig.

    Sy kyk stip na hom, wag vir tekens dat hy ’n grap maak. Tot sy die ligte skok van adrenalien voel. Hy is ernstig.

    Wie is ‘ons’? vra sy.

    Dis ek en Brenner en twee ander. Saam met jou sal ons vyf wees.

    Brenner. Sy onthou vir Brenner. Sy was versigtig vir hom. Hoekom ek?

    Ons gaan ’n honey trap nodig hê. En ’n koel kop. En ons hoop jy het nog kontakte om die dollars te ruil.

    Ek weet nie … Dis baie ou kontakte.

    Ons het ’n Plan B. Bietjie risky, so dit sal great wees as jy kan probeer …

    Wie se dollars is dit?

    Dis wat die hele ding so lekker maak. Daar is nie slagoffers nie. Dis ’n deel van die Chandas se gesteelde staatskapinggeld. Hulle kon dit nie uit die land kry nie.

    Sy weet van die drie Indiese sakeman-broers wat na bewering gehelp het om haar geboorteland rot en kaal te besteel, in sameswering met die vorige president. Dis al waaroor Suid-Afrikaners wat destyds hier aangedoen het, kon praat.

    Waar is die geld?

    Jy sal eers moet sê of jy in is, sê hy met ’n apologetiese glimlag.

    Sy oë is meer melancholies as wat sy onthou. Daar is fyn spikkels grys in sy baard.

    Hoe lank het ek om te dink?

    Hoe laat kom die hopper môre? Hy verwys na die Cessna Caravan wat daagliks toeriste en voorrade in- en uitvlieg.

    Tienuur.

    Hy knik. Dis hoe lank sy het om te besluit.

    Sy onthou meteens sy voornaam.

    Igen, sê sy. My naam is nou Christina. Chrissie.

    En jou van?

    Jaeger.

    Hy herkou daaraan. Chrissie. Jaeger. Dan: Ek like dit.

    Leef Ehrlichmann nog? vra sy.

    3

    Sy lê op haar bed, luister met haar oorfone na Nigel Kennedy wat Beethoven se vioolkonsert speel. En sy dink.

    Ná middernag vat sy die geweer, loop af na die water toe. Sy neem een van die mokoro’s, begin ooswaarts roei. Die maan is ’n sekel net bokant die horison.

    Sy dink aan Ehrlichmann.

    Igen Rousseau sê hy’s deur ivoorstropers geskiet. Al meer as ’n jaar gelede, net suid van Kariba.

    So word hulle al hoe minder. Die geslag bewaarders wat in ’n meer ongeskonde Afrika grootgeword het. Wie se liefde vir dié kontinent en sy natuur ’n verterende vuur was. Wat geglo het hulle kan dit alles nog red.

    Soos haar pa.

    Ehrlichmann, wat destyds tydens die WWF-olifantsensus vroegoggend langs haar kom sit het. Hulle het saam koffie gedrink, gekyk na die son wat opkom, geluister na die voëls wat ontwaak. Toe sê hy sag, vol deernis: I knew your father. I thought Louis van Jaarsveld was the most brilliant tracker I had ever encountered.

    Sy’t nie geantwoord nie.

    And I think you will be even better than him.

    Dit was voor sy die diamante probeer smokkel het¹.

    Sy het gewonder wat Ehrlichmann toe van haar sou dink. Want hulle sou almal eindelik uitgevind het daarvan – hy en sy meelopers. Daarom dat hulle haar nou wil kom werf vir Die Groot Rooftog.

    Sy hoor ’n seekoei blaas in die volgende kanaal. Sy is nie oor hulle bekommerd nie. Dis die reusekrokodille wat maar altyd by haar spook.

    Dit neem haar nog twintig minute om tot by die sandstrandjie te kom waar hulle haar pa gevreet het.

    Sy sleep die mokoro uit, keer dit om. Sy gaan sit daarop, geweer oor haar knieë.

    Ek het kom groet, Pa, sê sy.


    1Sien die roman Spoor (2010) vir volledige gegewens.

    4

    Die eerste ontmoeting met haar medemisdadigers is vir haar surrealisties, soos ’n buite-die-liggaam-ervaring.

    ’n Middelklashuis in Rooihuiskraal, Pretoria. Sy lui die voordeurklokkie, hoor kinders in die erf langsaan wat bal skop en lag. Sy was vier jaar lank net in die Okavango, so om terug in ’n stad te wees is vir haar vreemd en mooi en steurend, alles tegelyk.

    Brenner maak oop. In ’n wit T-hemp en ’n rugbybroek. Kaalvoet. Hy lyk nog vir haar min of meer dieselfde. Die plooie op sy gesig is dalk dieper, maar hy is steeds lenig en fiks. Die kortgeskeerde hare, die stoppelbaard. Intense oë. Die alfa-man. Hy is ’n oud-Spesmagtesoldaat, en hy’t nog altyd daardie afstand. Die aura.

    Sy glimlag is dun, nes sy dit onthou. Maar daar is tog ’n vae warmte, ’n beheersde toegee aan nostalgie. Christina Jaeger, sê hy, asof hy die naam wil aanleer. Hy het haar as Cornel van Jaarsveld geken, destyds. Sy kan nie onthou dat hy haar ooit Vlooi genoem het nie.

    Brenner, groet sy.

    Bly jy’s hier. Kom deur, ons is daar agter. Hy kyk na die rugsak wat agter haar hang. Jy kan dit hier los, sê hy en wys na die sitkamerbank.

    Dis okay, sê sy en volg hom deur die voorkamer en die kombuis. ’n Man se huis. Prakties. Pynlik netjies. Pynlik voorstedelik.

    Uit by die agterdeur. Die ander drie sit agter in die erf, op tuinstoele. Sy glimlag na binne. Hoe Suid-Afrikaans – rooftogbeplanning om die braai-altaar. Want die hout knetter en die rokie trek lui-lui boontoe, ’n soenoffer aan die misdaadgode. Langs die vuur is ’n draad-tuintafeltjie waarop die vleis en braaibroodjies wag, in die ikoniese Hart-ovaalbakke van aluminium. Sy wonder wie die broodjies gemaak het.

    Die drie mans staan in gelid op. Igen Rousseau groet hartlik. Sy ken nie die ander twee nie – ’n spiertier en ’n vreemde, skraal figuur. Hulle kyk nuuskierig na haar.

    Sy wonder wat van haar gesê is voor sy opgedaag het.

    Dis Christina Jaeger, sê Brenner. Jy ken vir Ig. Hierdie, sê hy en wys na die gespierde een, is Themba Jola. Themba was ’n Parabat, maar ek hou dit nie teen hom nie. Die Xhosa het ’n moulose hempie aan, soos spiertiere maar altyd dra, die harde werk in die gim moet ten toon gestel word. Maar sy hou van die manier waarop hy haar hand skud, met ’n glimlag, breed en gemaklik.

    Langs Jola staan die eienaardige figuur. Hy het sterk Oosterse gelaatstrekke, maar daar is ander gene ook. Lang hare tot op die skouers, gitswart en reguit. Van onder die kort mou van sy hemp loop daar ’n getatoeëerde draak langs sy linkerarm af. Hy is fisiek kleiner as die ander, maar daar’s ’n intensiteit aan hom. Jericho Yon, stel Brenner hom bekend. Beste bush pilot in Afrika. Ons noem hom net ‘Jer’.

    Yon knik, die hare wat wip. Skud haar hand met ’n sagte greep. Dis slim ogies daardie, dink sy.

    Binne lui die voordeurklokkie. Dis Niekie, sê Brenner. Sit solank, ek bring hom in. Hy loop agterdeur toe, dan draai hy terug en sê: Geen name terwyl hy hier is nie.

    Sy haal die rugsak af, plaas dit by die oop stoel langs Igen Rousseau, en gaan sit. Niekie? vra sy vir hom. Jy’t gesê ons is vyf.

    Hy glimlag. Niekie is … Wag, laat ek nie die verrassing vir jou bederf nie.

    * * *

    Niekie is vet, iewers in sy dertigs. Hy dra militêre stewels, ’n kakie-kamoefleerbroek en ’n groen T-hemp wat span oor die aansienlike pens. Hy het ’n sigaret tussen die vingers. Hoezit, sê hy en kom vuisstamp elkeen om die beurt.

    Dis Nick Berry, sê Brenner. Niekie, jy verstaan ek gaan niemand voorstel nie?

    Beter so, beter so, sê Niekie. Hy kom by Christina, trek diep aan sy sigaret. Jissis, jy sal doen vir ’n honey trap, sê hy suggestief, sy oë op haar borste.

    Terwyl Niekie gaan sit, gee sy vir Brenner ’n kyk wat sê: Wat maak dié idioot hier?

    Niekie is nie deel van die operasie se uitvoering nie, sê hy.

    Ek kán wees, sê Niekie. Enige tyd, enige plek, ek is reg.

    Brenner is by die vuur, karring met die kole. Sê vir hulle, Niekie. Sê vir hulle hoekom jy hier is.

    5

    Asof hy vir die groot oomblik gewag het: Ek het die geld gesien. Ek was só ver van die fokken geld af. Hy beduie met sy wysvinger en duim, minder as ’n sentimeter. Dan suig hy vir oulaas aan sy sigaret en skiet dit na die vuur toe.

    Dis heeltemal mis.

    Niekie werk vir Ace Security, sê Brenner. Hulle pas die depot op waar die geld is.

    Dis meer van ’n ou warehouse, sê Niekie, gretig vir die kollig. Dit was ’n groot retailer s’n, back in the day. Toe maak hulle dit hierdie, like, fortress. Hulle het dit in sulke strongrooms, sulke mini-vaults, opgedeel, met hierdie moerse dik mure en moerse dik deure. Daar’s ander goed ook in daai vaults, dis nie net die dollars …

    Ander goed? vra Jericho Yon fronsend. Daar’s irritasie in sy stem en sy aksent het vae Kaapse ondertone. Watse ander goed?

    Ek weet nie, dude, ons het nooit die binnekant van die ander vaults gesien nie.

    Nou hoe weet jy daar’s dollars?

    Ons kom daarby, sê Brenner.

    Yon knik liggies. Die hare wip skaars.

    Vertel die storie, Niekie, sê Brenner.

    Vet Niekie se eer is effens gekrenk. Hy haal nog ’n sigaret uit, kyk nie na Yon terwyl hy praat nie. So, ons was vier ouens op ’n shift. Elke shift is agt uur. En dis agt uur van fokkol doen, want daar kom nooit iemand nie, jy sit net daar en jy praat kak met die diere en jy watch die kameras en jy loop die aisle.

    Hy klap sy Zippo oop, steek die sigaret aan, klap die aansteker weer toe. Behendig, soos ’n man wat geoefen het.

    Die aisle is so ’n lang gang tussen die vaults, en jy wonder wat in die vaults is, want niemand het jou iets gesê nie. Maar jy wéét dis iets, want die plek is ’n fokken fortress. Toe is ons eendag op second shift, vieruur tot middernag, en sesuur, toe bel HK ons en sê daar gaan ’n dude kom en ’n sleutel afgee, halfsewe. En dan gaan ’n ander dude agtuur kom en die sleutel vat om iets in ’n strongroom te check. En HK gee ons sulke code names vir hulle, dan moet hulle kom en die regte code name gee. Romeo en Foxtrot. Romeo mag nie inkom nie, hy moet net die sleutel gee. Foxtrot is die main mac, hy mag inkom. Hy gaan vaults toe, maar ons mag hom nie escort nie, ons moet net in die control room bly. Kameras almal afgeskakel. Die control room is voor, by die deur. Moerse deur, daar’s bulletproof one-way glass met ’n view op die parking lot. Langs die control room is ’n kombuis en die pisplek. Anyway, halfsewe kom Dude Nommer Een, Romeo, en hy gee ’n sleutel. So ’n groot, special sleutel, hy’t sulke gaatjies in. En ons weet, die sleutel sal fit in een van die strongrooms se deure, maar ons check hom net, ons doen niks. En toe wag ons vir die agtuur-Foxtrot-dude, en die ander ouens op die shift gaan maak koffie en een gaan pis, toe is ek alleen met die sleutel, en kry ek die idee en ek vat foto’s met my foon. Van die sleutel, nie van die ou wat pis nie, sê Niekie en wag dat hulle moet lag.

    Net Igen Rousseau glimlag. Chrissie dink dis uit hoflikheid.

    Niekie trek aan sy sigaret, blaas die rook lank uit. Anyway, ek vat toe so ’n week later die foudies na ’n pêl van my toe. Hy was ’n locksmith, maar nou sit hy motorised garage doors in. Maar hy ken nog van. Hy sê nee, dis ’n Z-Tech Chromium, dis heavy-duty, high-security, maar check hier, dis die serial number, duidelik op die foudie. Jy kan daai sleutels online order. Maar daar’s een, like, catch. As jy net die sleutel wil order, moet jy proof of purchase hê. Van die hele slot. Toe dog ek, laat ek try. Toe order ek twee slotte, moer duur, amper vierduisend vir die twee. Toe’s die proof of purchase ’n fokken PDF file, en as jy weet wat jy doen, is dit fokkol om ’n PDF te verander. Toe fake ek dit met die foudie se serial number en ek wag ’n maand en toe order ek die sleutel.

    Hy trap die sigaret met sy swaar stewel dood.

    En toe loop ek die aisle, elke shift, dan try ek ’n ander vault se deur. Elke shift net een try. As ek weet die ander dudes speel kaart of maak koffie of whatever. Want jy kan nie die kans vat dat die ander dudes op die CCTV kan sien wat jy doen nie. En toe’s dit die vyfde een. Die vyfde strongroom. En ek kyk wat binne is, en daar’s hierdie moerse klomp dollars, so in plastic gewrap.

    Hoe weet jy dis twintigmiljoen? vra Yon en gooi sy lang swart hare oor sy skouer, sy stemtoon sonder respek.

    Chrissie deel dié sentiment. Sy ken mans soos Niekie Berry. Te lui of te dom om ’n poliesman of ’n soldaat te word, maar hy sien homself só – ’n aksiefiguur in uniform, dikwels met ’n vuurwapen op die heup, breedsprakig oor hoe dapper hy gaan wees as hy net die kans sou kry.

    Dude, dis maths, sê Niekie. Ek het die stack so gemeet. Dis ’n mix van honderds en vyftigs en twintigs. As dit net twintigs is, in daai size, dan is dit klaar sewe-, agtmiljoen. Maar met die mix … Ek sê nie dis presiés twintigmiljoen nie. Dit kan agttien wees, of vyf-en-twintig. Maar dis nog steeds ’n kakhuis vol geld. Vat die exchange rate, dude. Net vyftienmiljoen dollar, maal met vyftien, dis tweehonderd-vyf-en-twintigmiljoen rand.

    Sy onderdruk die impuls om haar kop te skud. Niekie dink hulle sal die volle wisselkoers vir gesteelde dollars kry. Hulle sal gelukkig wees as hulle vyf rand op die dollar kry. Maar dit beteken steeds vyf-en-sewentigmiljoen rand. Gedeel deur vyf mense beteken dit vyftienmiljoen elk. Dis meer as genoeg.

    Sy wonder wat Niekie uit die hele ding gaan kry.

    Okay, sê Brenner. Dankie, Niekie. Ons gaan jou eers verskoon. Jy verstaan mos.

    Niekie staan baie onwillig op. Okay. Cool. Hy kyk na Chrissie. Cheers, sê hy. Sien jou weer.

    Sy reageer nie, wag saam met die ander in die ongemaklike stilte terwyl Niekie na die agterdeur loop. Igen Rousseau en Themba Jola lig hul hande om te groet.

    Toe die agterdeur toegaan, sê Yon: Tien persent vir dié vet fok. Jissis.

    6

    Brenner pak die vleis op die toekniprooster. Tjops en wors. Hy sê: Dis die prys wat ons betaal dat hy nie deel is van die operasie nie.

    Waar kom jy aan hom? vra Christina.

    Brenner gee sy smal glimlag. Ek was met sy suster getroud.

    Sy het nie geweet hy was getroud nie.

    Even Recces fuck up some of the time, sê Themba Jola.

    Brenner knik. Doesn’t work if you’re never home. She’s a sweet girl. Baie anders as Niekie … Hy’s die swartskaap van haar familie. Hy sit die rooster op die kole, draai na Christina toe. Hy’t by my eks gehoor ek is terug uit Zim. Toe kom sien hy my. Met die proposisie.

    Wou seker nog die op gelei het ook, sê Jericho Yon.

    Christina het ’n ongemak oor Niekie se betrokkenheid. Sy probeer dit verwoord: As die Chandas hoor hulle geld is gesteel … Hulle gaan eerste na die sekuriteitsmense kyk. Hulle gaan weet dit was ’n inside job.

    Goeie punt, sê Igen Rousseau. Maar ten eerste, ‘hulle’ … sê hy en maak aanhalingstekens met sy vingers, … gaan dit nie by die polisie aanmeld nie. Dis gesteelde staatsgeld. Ten tweede, Ace Security roteer hulle mense. Niekie werk al die laaste vier maande nie meer by die depot nie. Daar sal geen rede wees om hom te verdink nie.

    Hy’s die soort aap wat sy tien persent gaan vat en splash op flashy karre en girls, sê Yon. Ek ken sy vibe. Hy’s ’n swak skakel.

    Brenner draai die rooster. Jer, daar’s risiko’s. Daar is altyd.

    It’s how we manage it, sê Themba Jola.

    En as hy sy geld opsigtelik begin blaas … Ek sal dit hanteer, sê Brenner.

    Hy was vier maande laas by die pakhuis. Hoe weet ons die geld is nog daar? vra Christina.

    Want sy Ace-kollegas pas nog die plek op.

    Hoe weet ons dis die Chandas se geld? vra sy.

    Onthou jy Niekie het gesê van die tweede ou wat gekom het? Foxtrot? Die een wat die sleutel gevat het, die een wat in die kluis kon ingaan?

    Ja.

    Niekie sê twee weke later kyk hy die nuus op TV. Oor die Zamisa-kommissie, die regter wat staatskaping en korrupsie ondersoek het. En daar wys hulle Foxtrot se foto, en hulle sê sy naam is Ishan Babbar.

    Sy ken nie die naam nie. Wie?

    Ishan Babbar, sê Brenner. Hy’s …

    A piece of work, sê Themba Jola.

    Hy’t vir Staatsekuriteit gewerk, sê Brenner. Onder die vorige president, Joe Zaca. Al die vuilwerk gedoen. En die Zamisa-kommissie se aanklaers sê hy’s die een wat Zaca aan die Chandas voorgestel het. Middelman, en almal se enforcer.

    Hoe seker is Niekie dit was hy?

    Doodseker.

    ’n ‘Enforcer’? vra sy.

    As jy nie doen wat die Chandas wil hê nie, stuur hulle vir Babbar om jou aan te moedig, sê Rousseau.

    Of te kanselleer, sê Brenner.

    Is hy die een wat die diefstal sal ondersoek? vra Chrissie.

    Jip. Maar daar’s nie ’n manier wat hy ons sal kry nie.

    Unless fattie fucks us over, sê Jericho Yon.

    Ek sal dit hanteer, sê Brenner.

    7

    Hulle eet binne, om die tafel.

    Die mans praat sport. Rugby en sokker.

    Steeds het sy die gevoel van: Wat maak ek hier? Tussen hulle en die blatjang en die tamatiesous en die wit papierservette.

    Sy vertrou Rousseau en Brenner omdat Ehrlichmann hulle vertrou het.

    En sy het Ehrlichmann vertrou oor die dinge wat haar pa oor die man gesê het. Dat hy integriteit gehad het. Dat hy Afrika se natuur wou bewaar en beskerm vir al die regte redes. Nie vir geld of aansien of ’n TV-reeks op National Geographic nie. Maar omdat hy dit alles diep liefgehad het.

    Én sy het Ehrlichmann vertrou omdat sy, in die paar maande saam met hom, gesien het dit is waar.

    Brenner stoot sy leë bord eenkant toe. Hy plaas sy mes en vurk presies, kyk na die groep. Okay, kom ons werk. Daar’s ’n paar reëls. Nommer een: Selfone. Ons – ek en Ig – het julle elkeen persoonlik kom werf, ons het nooit julle selfoonnommers gebruik nie. Ons hou dit só. Ek gaan vir jou ’n nuwe selfoon gee, netnou. Jy bel nooit met hom nie, jy gebruik net Telegram. Dis klaar op jou foon gelaai. As jy dit nie ken nie, dis ’n boodskap-app, dis encrypted, dis veilig. Jy stuur vir niemand anders ’n boodskap as vir een van ons nie. Nommer twee: Geen drank nie, geen dwelms nie. Jy kan suip soos jy wil as dit verby is, maar tot dan toe, niks. Nommer drie: Geen roetine nie. Ons sal nooit twee keer by dieselfde plek bymekaarkom nie. Maar probeer ook om jou eie roetine af te wissel. Nie dieselfde coffee shop of restaurant of supermark nie. En nommer vier, dis seker nie nodig om dit te sê nie: Jy praat met niemand oor die operasie nie. Enige vrae oor die reëls?

    Niemand het vrae nie.

    Brenner knik vir Igen.

    Rousseau sê: D-dag is Saterdag, 3 April. Hoekom 3 April? Want dis Paasnaweek. Die sekuriteitsouens gaan gatvol wees, nie lus vir werk nie. As hulle alarm maak, gaan die reaksie daarop hopelik stadiger wees as gewoonlik. Ons mik vir agttienhonderd, want dan is die skof al twee ure daar, met nog vier uur voor die volgende skof opdaag. Vier uur om so ver as moontlik weg te kom. En 3 April beteken ons het agt-en-twintig dae van nou af. Ons dink dit is genoeg tyd om te beplan, te oefen, en die voertuie te kry. Maar die groot vraag is … Hy kyk na haar. Kan jy die dollarhandelaars in dié tyd opgelyn kry?

    Ek sal moet Kaap toe.

    Brenner en Rousseau kyk vir mekaar.

    Wat? vra Christina.

    Ons het gedink jou kontakte was in Zim, sê Rousseau.

    Of verder noord, sê Brenner.

    Sy skud net haar kop, heimlik dankbaar dat hulle so min weet van destyds.

    Kan jy môre al gaan? vra Brenner.

    Ja.

    Hoe vinnig dink jy kan jy dit vasmaak?

    Ek weet nie. Dis ou kontakte …

    Langer as ’n week?

    Hopelik nie.

    Okay, sê Rousseau. Kom ons maak die tafel skoon. Dis tyd om julle te wys waarmee ons werk.

    8

    Rousseau het ’n lêer, in vrolike blou soos die Afrika-lug. Hy maak dit oop, haal ’n paar foto’s uit.

    Dit is van ’n onopvallende eenverdiepinggebou, effens vervalle, in wat lyk na ’n industriële gebied. Voor die struktuur is ’n wye teeroppervlakte.

    Dis die depot, sê Rousseau. In Spartan. By Kempton Park.

    Looks like a dump, sê Jola.

    I think that’s exactly why they chose it, sê Jericho Yon.

    They also chose it because of the distance from the road, sê Rousseau. Hierdie stuk teer was die parkering, toe dit nog ’n pakhuis was. Kyk, daar sit die kamera wat die teer dek. Die sekuriteitswagte sien jou van ver af kom. Na die enigste ingang toe. Hulle het al die ander toegebou. Die ingang is ’n dubbeldeur van staal en beton. Langs die deur – mens kan dit nie hier mooi sien nie, dis in die skaduwee – is ’n venster, omtrent drie meter lank, een meter van die grond af. Dubbele laag koeëlvaste glas, eenrigting na buite. Hulle kan vir jou sien, maar jy kan nie vir hulle sien nie. Onder die venster is ’n interkomboks, sodat hulle kan hoor wat jy sê as jy buite is. Die struktuur is uitstekend vir die doel waarvoor hulle dit gebruik. Daar is net géén swakplekke nie …

    What about the roof? vra Themba Jola.

    Flat roof, reinforced concrete.

    Okay.

    Die swak skakel is die mense, sê Brenner.

    Die sekuriteitsouens, sê Rousseau.

    Niekie sê hulle is ondergemotiveerd, onderbetaal en oorgerus. Verveeld. Daar gebeur nooit iets nie. Nou en dan kom lui ’n smous die interkom, dan ignoreer hulle dit, wag dat hy weggaan, sê Brenner. Daar is geen aflewerings nie, die goed in die kluise was daar van die begin af. Niks word verwyder nie, niks word ingebring nie.

    Hulle speel poker, hulle kyk YouTube en porno op hulle fone, hulle maak koffie en tee, hulle eet en hulle kla, sê Rousseau.

    En hulle praat oor seks, sê Brenner.

    Blykbaar baie, sê Rousseau.

    En dis wat ons gaan gebruik.

    * * *

    Sy wil ’n Uber bestel, maar Rousseau sê hy sal haar gaan aflaai.

    Hy ry met ’n enkelkajuit Toyota Hilux, dalk tien jaar oud, onopvallend. Op die N1 verby Doringkloof vra hy: Hoekom het jy ja gesê vir dié ding?

    Sy kyk by die venster uit, na die dralende verkeer. Ek vertrou julle. Vir jou en vir Brenner.

    Nee. Ek bedoel, hoekom het jy jou Letsatsi-job opgegee. Jy’t … Dis jou groot liefde.

    Om ryk toeriste met ’n babelas op loopsafari’s te neem?

    "Nee, ek bedoel, die bos. Afrika … Sorry, dis seker nie my

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1