Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kwaaiwater
Kwaaiwater
Kwaaiwater
Ebook486 pages7 hours

Kwaaiwater

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die grootste uitdaging van haar loopbaan wag op speuradjudant Storm van der Merwe. Die kusdorp Hermanus hou vir die eerste keer ooit ’n skrywersfees. Deel van Storm se verpligtinge is om by die gemeenskapsaal kywie te hou.
Maar toe daag die sterskrywer van die dorp nie op vir haar sessie nie. Haar liggaam word in Kwaaiwater se Mosselrivier gevind. 24 uur later kom ’n visterman af op nóg ’n lyk – weer ’n vrou, dié keer jonk en swart. En dan is daar ’n derde slagoffer.
Drie dae, drie vroue . ..           
 
LanguageAfrikaans
Release dateSep 15, 2023
ISBN9780798183734
Kwaaiwater
Author

Irna van Zyl

Ná ’n hoogs suksesvolle medialoopbaan van meer as 40 jaar, skryf Irna van Zyl die afgelope agt jaar voltyds. Haar debuutkrimi was Moordvis, en daarna volg Gif​beker, Bloedsteen en Op ’n mooi dag. Al vier titels het ook in Engels verskyn, en Bloedsteen is in Armeens vertaal. Kwaaiwater is haar vyfde spanningsroman. Sy woon in Hermanus.

Related to Kwaaiwater

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kwaaiwater

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kwaaiwater - Irna van Zyl

    9780624089810_FC

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Kwaaiwater

    IRNA VAN ZYL

    Human & Rousseau

    Vir Bridget

    DEEL I

    Kwaaiwater speel af vanaf einde Maart tot begin April 2022

    voor en ná die opheffing van die nasionale ramptoestand.

    1

    Vrydag, dag 5

    12:07

    Die hysbak ruk tot stilstand. Wieg op en af asof dit die tog opwaarts in die toringgebou wil hervat. Sak dan met ’n geknars van staalkabels ’n paar millimeter of wat terug. Daarna stilte.

    Op die laaste hik knik die dakligte uit. Dit is onmiddellik byna stikdonker, behalwe die flou skynsel deur die weerkaatsers van die verdiepingnommers bokant die hysbakdeur. 24, lees Storm van der Merwe en skud haar kop. Bleddie verdomde beurtkrag.

    Storm is oortuig daarvan sy kan die lift nog steeds hoor kreun en steun soos wat die staalraamwerk en spiraalkabels hulle lêplek kry, vasgevang hoog bo die aarde in die ou Absa-gebou in Riebeekstraat, Kaapstad.

    En sy hou niks daarvan nie.

    Sy moes geweet het daar kom moeilikheid toe hulle al op die grondvloer vasgehaak het. Sy het die oopmaakknop gedruk. Niks. Die op-knop. Nog ’n keer. Albei. Harder dié keer. Daarna die alarm. Steeds niks. Totdat dit darem met ’n ruk weggetrek het.

    Die interne luidspreker het aangeklik. ’n Man het om verskoning gevra. Apologies for the delay. Jammer vir die vertraging. Ewe in Engels én Afrikaans. It’s only a small digital hiccup. Nothing to worry about, you will be on your way shortly. To make amends, we will try and give you a smooth ride.

    En hier is hulle nou. Die beloofde smooth ride verloop toe nou nie so glad nie.

    Weer druk sy die op-knop, die af-knop, die oopmaakknop. Én die bleddie alarm.

    Niks. Bleddie boggerol.

    Storm steek haar hand in haar sak om haar selfoon uit te haal. Sy’s reeds laat vir haar afspraak en nou begin die stoom op haar uitslaan.

    Maar voordat sy die sel kan raak vat, gaan die deure oop en stap ’n gemaskerde man in. Houtgerus.

    Hy lig sy hand in ’n groetgebaar, maar sê nie ’n woord nie.

    Ek … dis beurtkrag, ons kon nie uit nie, sê Storm.

    O, sê hy en druk die knop op die hysbakkonsole.

    Die deure gaan weer toe.

    Wag! Emèl Botha, agter haar in die hoek van die hysbak, spring vorentoe. Ons wil uit!

    Storm ken haar skrams van Hermanus af. Weet nou bietjie meer van dié omstrede oudpolitikus sedert al die publisiteit om haar boekbekendstelling die afgelope week.

    Die man druk die knop vir die deure om oop te skuif voordat Emèl by hom kan kom. Die deur beweeg nie. Behalwe dat hy met sy foon staan en vroetel.

    Storm kry haar foon raak gevat in haar sak. Iets is nie pluis nie.

    Ek sal nie dit doen as ek jy is nie, sê hy vir haar sonder om op te kyk. Sy stem agter sy masker onduidelik.

    Asof om dit te beaam, gee die hysbak ’n sug en sak twee, drie millimeter. Of is dit net haar verbeelding?

    Die man staan styf langs die deur. Hy’t die swart uniform en swart stewels van die Kaapse CCID se sekuriteitsmense aan, met ’n groot groen onderbaadjie met ’n geel glimstreep daaroor, ’n swart knuppel ingehaak aan sy gordel en ’n lemmetjiegroen keps op sy kop. Die masker, ook in dieselfde groen, is een van daardie nekdoeke wat mans graag gebruik en is van sy nek af tot onder sy oë opgetrek. Die onderbaadjie sit so los oor sy skouers dat dit lyk asof hy onlangs baie gewig verloor het.

    Daar’s nie opvangs in die hysbakskag nie, sê hy en kyk dié keer darem vlugtig op. Effens vriendeliker.

    Nou maar as jy kon inkom, kan ons mos uit ook. Probeer nog ’n slag. Storm se geduld is aan die opraak.

    Sy was op pad in stad toe so opgemaak met die boodskappe op haar foon, angstig om by te hou met die jongste nuus van speursersant Shirien Niemandt op Hermanus: Ka jy omdraai Mier soek jou met ’n seer hart.

    Hou vas x bel later, was haar boodskap terug aan Shirien oor die kolonel wat haar soek. Nou, op die vyfde en laaste dag van die Skrywersfees op Hermanus.

    Sy moet seker dankbaar wees dis Vrydag, want die hemel weet dis asof iemand jag maak op al wat skrywer is, of enigiemand wat iets met die fees te doen het. Sy’s so toegegooi onder werk en bekommernis, dit voel vir haar sy’t meer as ’n week laas behoorlik geslaap. En nou dié gemors.

    Sy’s boonop aan die siek raak. Erge hoofpyn, en sy sukkel om behoorlik te sluk. So al asof haar regterlip ’n lammigheid aan hom het. Sy hoop tog nie dis Covid nie.

    Emèl het intussen ’n tree weg van die man af gegee en staan nader aan Storm. Asof sy beskerming soek.

    Een-en-sestig, het sy êrens gelees in al die publisiteit oor Emèl se boekbekendstelling. Met ’n bos rooi krulhare – sekerlik nie meer haar natuurlike kleur nie – en modieuse klere. Te té vir haar ouderdom? Slightly mutton dressed as lamb, haar ma se gunsteling-uitdrukking vir dié soort vrou. Alles baie ontwerperskeuse: blinknuwe Superga-tekkies. Wit. Die noupassende olyfgroen broek met pype wat wyer word ondertoe en die donkerder groen sweater wat laag hang – nie gymklere nie, eerder een van die nuwe soort ontspanningspakkies wat so gewild geraak het sedert almal by die huis bly. Met ’n olyfgroen handsak oor haar skouer. Én ’n blink olyfgroen masker waarop Louis Vuitton gegraveer is. Sekerlik ’n fake.

    Hoe ook al, dit is tyd dat sý nuwe oefenklere kry. Dalk sal sy dan ook meermale in die gym uitkom en nie die kilogramme op haar heupe sien groei nie.

    Storm voel soos gewoonlik overdressed: dienlike swart kreukeltrae materiaal vir haar broek, wit linnehemp, swart baadjie. Plat swart skoene vir ver loop. Êrens tussen formeel en prakties.

    Die liggie wat die verdiepings aandui sê steeds 24, die vloer waar sy moet uitklim vir haar afspraak met die life coach of lewensafrigter, die deftige naam wat Mier gebruik het.

    Die sekuriteitsman probeer nog ’n keer, maar die deure weier om oop te skuif, selfs nie eens met ’n millimeter nie. Hulle sit vas. Oorgelaat aan die genade van die hysbakgode.

    Asof die hyser ook ontevrede is met die stand van sake, gee dit weer ’n sug en wieg effens.

    Wat nou? Emèl skuif nader aan Storm. Sy steek haar hand in haar handsak en haal ’n pakkie gemmer-suiglekkers uit. Bied vir Storm een aan en vir die man ook. Hy hou sy hand op. Nee dankie.

    Storm huiwer ’n oomblik. Dankie, sê sy dan en steek die lekker in haar mond. Gemmerlekkers het sekerlik nie so baie kalorieë soos ander suiglekkers nie.

    Kolonel Mier Ritchie het laas Maandag ’n formele vergadering met Storm aangelê. Hier kom dit nou uiteindelik, het sy gedink. My bevordering.

    Toe nie. Mier het op sy gewone manier, sonder ompad, reguit uitgespel wat hy wil hê. Ek’s bekommerd oor jou, Van der Merwe. Hy’t liggies met sy pen op die lessenaar voor hom getik. Jy’t vasgehaak. Jy kom nie oor hierdie ding van jou pa nie en dis al twee jaar sedert sy dood. Dis steeds al waaroor jy praat. Waaroor jy wíl praat. Toe, jy moet darem seker ook al besef dis tyd om aan te beweeg.

    ’n Dramatiese stilte. Tik, tik, tik, met die pen. Drie maal, tel sy.

    Ek stuur jou na hierdie konsultant toe. Hy’s een van ons mense, ’n oudkolonel. Hy verstaan ons wêreld.

    ’n Bevel. Koel en klaar. En Storm sonder teenargument.

    Sy kantoor is ongelukkig in die Kaap. Maar ná ’n eerste of tweede sessie kan julle op Zoom aangaan, dan spaar jy darem petrolgeld.

    Én die arme Volla ook, wou Storm byvoeg. Haar ligblou kewer met die daisies op die neus kan doen met nie te dikwels oor die berg ry nie.

    Toe loop die eerste sessie verlede week glad nie goed af nie. Storm is nie seker wie se skuld dit was nie. Haar oorsensitiwiteit of coach Jan Noorman se moedswilligheid? Dit was asof hulle heeltyd verby mekaar gepraat het.

    Hoekom dink jy voel jy so skuldig oor jou pa se dood? het hy vroeg-vroeg in die sessie gevra.

    Omdat ek hom verdink het van bedrog, van staatskaping, en hy was onskuldig, volgens hom. Ons het nooit kans gekry om die ding uit te praat nie. En ek weet nog steeds nie of hy een van die goeie ouens was of nie.

    Jy het net jou werk gedoen.

    Hy was undercover, ek moes dit geweet het.

    Maar hoe kon jy?

    Sy’t haar kop geskud. Lewis Witvoet het haar altyd beskerm, sonder dat sy eers geweet het hy’s haar biologiese pa, en toe word hulle verhouding so ’n gemors. Hulle kon nie praat nie. Hy was so geheimsinnig en ongemaklik.

    Sy’t hom beskuldig dat hy saam met Grootman werk, ’n karakter met ’n mafia-agtige geskiedenis en kontakte op die hoogste vlak wat hom beskerm het.

    Hy was my bleddie biologiese pa, man. Die woorde het in haar mond vasgesteek. Ek het dit eers die ander dag uitgevind en nou’s hy weg!

    Sy was seker coach Jan se volgende vraag sou wees of sy anger issues het, maar hy’t gelukkig meer in die algemeen oor haar pa gepraat en hoe veeleisend sy hoë pos as kommissaris van die Wes-Kaap se polisiemag was, maar sy kon nie. Wou nie. Sy’s op die ou einde vroeg daar uit, met die belofte dat sy die volgende Vrydag sal terugkom.

    En nou is dit die volgende Vrydag en hier is sy weer, steeds met ’n swaar hart, in lewende lywe op pad na sessie twee – en nou dít. ’n Week van hel. ’n Hysbak wat vashaak, met ’n steekse man en ’n modepop verby haar fleur as medepassasiers. En sy’s laat, baie laat.

    Storm gee ’n tree vorentoe. Ek’s seker ons kan die deure oopforseer. Ons moet ook weer probeer om die alarm te druk. Sy’s langs die man en die kontrolepaneel en steek haar hand uit na die rooi noodknoppie. Dis seker net loadshedding. Kom ons mors nie nog tyd nie, ek moet hier uit.

    Die man se hand skiet uit. Nee!

    Storm steek vas.

    Ons doen niks nie.

    Wat bedoel jy? vra Storm en mik weer na die kontrolepaneel.

    Hy gryp haar pols. Sy hand, yskoud, soos ’n klou om haar arm. Met sy ander hand trek hy sy baadjie se zip af en skuif die pante stadig oop. Hy laat los haar, grawe ’n penflits uit sy broeksak en skyn daarmee op sy middellyf.

    Onder sy onderbaadjie sit ’n gordel met handgesoomde sakke reg rondom vasgeheg. In die sakke, duidelik sigbaar in die flits se lig, is die stawe, lonte en drade van ’n tuisgemaakte bom.

    Storm trek haar asem skerp in. Sy keer met haar hande voor haar lyf. Steier terselfdertyd terug tot teen die vlekvryestaal-sykant van die hysbak. Koue rillings gly af in haar nek. Haar voorkop warm en koud gelyktydig. Haar tong voel asof sy ys gekou het.

    W-wat wil jy van ons hê? kry sy uiteindelik gefluister.

    2

    Maandag, dag 1

    06:15

    Isa du Bois hou van haar getroude van. Al hoe meer soos sy ouer word. Sy vind dit heerlik. So asof Stephanus se van deur die jare amper beter by haar pas as by hom. Asof die mens wat sy nou is eintlik die ware sy is. En hý, haar skatryk eggenoot, eerder ’n gewone van moes gehad het soos Du Toit, Smit of dan Louw, háár van.

    Nie dat haar grootwordjare in die Paarl so gewoon was nie, maar toe het sy dikwels gevoel sy’s uit pas met die Louw-familie van kunstenaars en eksentrieke persoonlikhede. Soos haar pa se enigste suster, Sky, wat gehou het van opdress en om saam met haar pa by vriende se huise te gaan poetse bak.

    Isa het altyd gedink as enigste kind moet sý ook haar erekleure in die familie verwerf met ’n spesiale talent of belangstelling. Iets waaroor die snobistiese en uitsoekerige klomp kan praat, nie skinder nie. Maar sy kon aan niks dink wat eksoties genoeg is nie.

    Sy staan met haar pienk rok met die groen blommotief in haar een hand en blaai met die ander deur die talle opsies in die kas. Haal ’n bloue uit. Blou lyk altyd goed aan haar. Watter een sal dit wees? As Stephanus naby was, kon sy hom gevra het, maar hy vroetel al weer in sy tuin.

    Sy wonder of die ou onsekerhede steeds die rede is waarom dit haar so lank vat om aan te trek. As oorgewig tiener was sy dikwels skaam, menssku. ’n Introvert in die oortreffende trap.

    Deesdae loop sy oënskynlik oor van selfvertroue en ’n behoefte om te sosialiseer. Selfs die pandemie kan haar nie by die huis hou nie. Veral op ’n dag soos vandag: haar eerste openbare optrede in drie jaar.

    Isa kies ’n liggrys jas en sit die blou rok terug in die kas. Die pienke pak sy uit op die bed saam met haar nuutste paar draskoene – klassieke wit Japannese Onitsuka-tekkies.

    Voordat sy stort en aantrek, gaan sy ry om vroeg, soos haar gewoonte is, op die kuspaadjie te gaan stap. Niks soos ’n vinnige bietjie oefening nie. Goed vir die hart en goed vir die lyf.

    Die noupassende grys oefenbroek van spandex en die lang, los perspienk langmouhemp is deel van die versameling oefenklere in haar kas. As jy oor vyf-en-sewentig is, dra jy nie meer moulose tops nie en jy sorg meestal dat jy jou boude toemaak met ’n lang hemp. En as jy so bekend is soos sy, lyk jy altyd op jou beste wanneer jy in die openbaar verskyn. Selfs met lipstiffie en maskara aan.

    Staptyd is háár tyd wanneer sy alleen met haar gedagtes kan wees voordat haar werkdag begin. Die enigste ander mens wat saam met haar mag stap, is Andreas Moerdyk, hulle VIP-oppasser.

    Dis ook die enigste tyd dat sy haarself toelaat om te wonder oor haar onsekerhede en vrese. Soos hoekom sy die afgelope drie jaar so sukkel om aan die skryf te kom.

    Ongelukkig tree daardie vrou, daardie oudpolitikus, voor haar op. En almal gaan aan háár lippe hang. Sy kan al sien hoe die helfte van die saal leegloop ná Emèl se sessie – en hoe afskuwelik pretensieus om van Marie-Louisa Emèl te word.

    Sy moet dit uit haar gaan stap. Hierdie afguns, hierdie groen apie wat haar so kan bespring. Sy hou nou eenmaal nie daarvan om die kalklig met enigiemand te deel nie.

    Stephanus sê sy jaag net spoke op en sy vergeet hoe gewild sy regtig op die dorp is. Mense sal natuurlik bly om na jou te kom luister, my engel, al praat jy ook oor plaatkoekies wat aanbrand. Hulle wil jou net sien, jou net hóór. En dan verkoop jy sommer tonne van jou backlist-boeke daarby.

    Hy’t nagelaat om te noem dat niemand, maar niemand – behalwe miskien Deon Meyer – nog tonne boeke op een slag verkoop nie.

    Sy en Stephanus het afgespreek hulle sal mekaar by die Grobbelaarsaal ontmoet. Hy sal solank vir hulle ’n goeie sitplek in die voorste ry kry terwyl sy gou by die huis stort. Betyds vir Emèl se optrede en kort daarna haar sessie, die tweede van die oggend.

    Stephanus hou net niks van openings en formele geleenthede nie. Hy sal veel eerder in sy oudste klere in die tuin skoffel. Deesdae so mank op sy bene soos ’n man wat ’n mislukte heupvervanging gehad het, maar hy’s min gepla. Die tuin en motorveilings. Soms dink sy dis al waarvoor hy nog leef.

    Skrywers? Ek verstaan dit nie. Dis altyd dieselfde ou storie. Hoe’t jy begin, waar kom die idee vandaan, hoe lyk jou roetine? Waar kry jy jou inspirasie? Wie’s jou gunsteling-karakter en hoekom? vra hy haar elke keer spottend wanneer sy ’n nuwe boek bekendstel.

    Dan glimlag sy maar net liefies, raak aan sy arm as hy naby genoeg aan haar staan. Dis my werk, bokkie. Buitendien gee dit my kans om oor myself te praat, en wie hou nou nie dáárvan nie.

    Maar ter wille van haar gaan hy tog vanoggend deur als sit. Sy verdien seker nie so ’n goeie man nie.

    Hy wou gehad het sy moet eers wag met die stappery tot Andreas Moerdyk opdaag. ’n Baie ontstelde Moerdyk het al sesuur gebel om te sê hy’s laat, hy kry nie sy karsleutels nie en kan sy vir hom wag. Hy soek al ’n halfuur lank. Maar sy’t gesê nee. Daar’s nie vanoggend genoeg tyd nie. En sy’t haar oefening nodig.

    Stephanus was glad nie gelukkig nie. Hy’t gedink dis te gevaarlik om alleen te gaan stap. Veral ná die fietsketting in die posbus Vrydag.

    Moerdyk het dadelik gekom. Die ketting met handskoene hanteer en polisie toe gevat. Toe hy terugkom, het hy die hele huis deursoek en nog ’n stuk tegnologie aan hulle probeer afsmeer. Elke week kom hy met ’n nuwe kamera of ’n nuwe alarm wat hulle buite of binne die huis moet installeer.

    Gelukkig het sy vinnig geleer hoe om die kameras buite aksie te stel wanneer sy haar privaatheid wil hê. En Stephanus het, sover sy weet, net die eerste week of twee gereeld met die nuwighede op sy rekenaar gespeel. Toe het hy ’n ander aandagafleier ontdek wat haar teen die mure uitdryf: woordspeletjies op sy selfoon.

    Eers was dit die kriptiese raaisel in die koerant. Daarna die groot blokraai in Huisgenoot. Gevolg deur Wordscapes. En toe sedert die begin van die jaar Wordle en Octordle. En was hy nou opgewonde toe Wortel ’n maand gelede die lig gesien het. Genade. Eerste ding soggens, laaste ding saans. Aan die etenstafel, selfs in die sitkamer. Sy weet nie wanneer laas hy ’n boek gelees het nie. Of hulle gecuddle het nie.

    Sy verskoning is al die woordspeletjies is goed vir sy brein. Punt.

    Intussen vlieg haar backlist-boeke steeds van die rakke af, al neul haar uitgewer, Joshua Kuiper, aanhoudend vir ’n nuwe een. Enigiets, Isa, selfs ’n biografie, kinderverhale. Of wat van ’n kookboek?

    Sy moet seker gevlei voel. Elke celebrity bring ’n kookboek uit. Maar nee, romanses met ’n kinkel hier en daar, dís haar ding. Soms ’n moord, net om te wys sy hou by met die jongste tendense. Buitendien was sy nog nooit goed in die kombuis nie. Maar Kuiper was vinnig om te sê hy kan vir haar ’n spookskrywer reël, of eerder ’n spookkok.

    Al verstaan sy haar mark se behoeftes so goed, het sy nie veel vriendinne nie. Vroue, het sy al agtergekom, beskou haar as ’n bedreiging. Probeer hulle mans weghou van haar af. Tog kan hulle nie help om haar boeke te lees nie.

    Kannie wag nie, koer hulle op sosiale media. Wanneer kom die volgende Isa du Bois?

    Sy trek haar vingers deur haar hare. Blond met ’n effense golf tot op haar skouers. Sy’s nog sterk, stap menige jonger persoon onder die stof. Wulps, het haar ma haar tot op haar sterfdag genoem, en sy’t nooit geweet of dit ’n kompliment of ’n teregwysing is nie.

    Mans, dis nou iets anders. Hulle hou van haar. En sy van hulle. Elke nou en dan kom kuier van Stephanus se vriende vir haar. Meestal wanneer Stephanus op veilings is waar hy uitsonderlike motors koop en blitsvinnig verkoop. Teen ’n aansienlike wins, nog voordat hy moet betaal. Die senuwees! Sy kennis, dié weet sy, kom van die garage wat hy so lank in die hoofstraat besit het. En hy troetel sy konneksies om net so vinnig ’n ding wat nie reg is nie, reg te dokter. Sy reken soms vat hulle kortpad na die padwaardigheidsertifikaat. Maar sy vra liefs nie. Wat jy nie weet nie, kan jy nie oorvertel nie.

    En partykeer, net partykeer, kuier sy met van dié vriende tot in haar slaapkamer. Hare ja, want dis nou al ’n goeie stuk of twintig jaar dat sy en Stephanus elkeen hulle eie kamer het.

    Sy’t gedink haar inspirasie is aan die terugkom toe sy ’n paar erotiese stories geskryf gekry het. Maar nie lank daarna nie het die eerste dreigement in haar inboks geland.

    Sy’t gewonder of die twee verband hou met mekaar. En later, nadat Moerdyk in hulle lewe gekom het, het sy haar vrese met hom bespreek. Maar hy’t gesê sy moet hom net kans gee. Hy sal haar beskerm. En dis nou al hoe lank? ’n Volle jaar? En hulle het nog niks verder gevorder nie – tot die fietsketting in die posbus.

    Dié keer het hy te ver gegaan, was die eerste ding wat Moerdyk gesê het. Nie lank nie en hy’s vas.

    Maar wat beteken dit? wou sy weet. Wat op dees aarde het ’n fietsketting met my te make?

    Ek weet nog nie, maar ek laaik dit net niks, het Moerdyk gesê.

    Die herfsluggie is koel buite, voel sy met die uitklimslag op die parkeerterrein by Die Gang. Stil ook. Net hier en daar iemand met ’n hond of ’n flukse vroegoggenddrawwer.

    Sy trek haar asem diep in. Ruik die seelug. Soek oor die donkerblou deinings onder die kranse vir ’n verdwaalde, vroeë walvis. Herken die eerste tekens van dou op die klam kuspaadjie en die nattigheid op die kennisgewingbord oor suidelike noorkappers. Hoor die gefluit van ’n rooikeelfisant, die geklets van die Kaapse glasogies en hier en daar ’n tortelduif se gekoer. Dit sal oukei wees. Sý sal oukei wees.

    Onder, verby Kwaaiwater se strand en die houtbruggie oor die Mosselrivier wat amper met die laaste vloede weggespoel het, gaan staan sy ’n oomblik stil om die omgewing te bewonder. Die see hier is roomwit en deurmekaar van die skuim. Die branders breek uitspattig teen die rotse. Daar’s ’n ligte mis wat oor die berg afsak na die dorp toe. ’n Mis wat gewoonlik later deur die son weggebrand word. Sy steek haar arms voor haar uit asof sy die natuur wil omhels. Dís die soort oggend wat haar inspireer.

    Maar iets sê vir haar sy moet met die hoofstraat langs terugstap vandag. Daarom kies sy koers weg van die see af, op, berg se kant toe.

    Sy kyk ’n slag vinnig terug. Daar’s niemand anders op die paadjie nie. Sy stap aan, maar die gevoel dat sy dopgehou word, verdwyn nie heeltemal nie.

    By ’n huis met ’n groot rondomstoep in Langbaai gaan sy stilstaan. En dink terug aan die storie wat sy ’n maand gelede vir daardie aaklige Booysens-literator gestuur het. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd het sy ’n saadjie van ’n gedagte vir ’n volgende boek gehad.

    Die werklose jong man erf sy ma se waardevolle Kaaps-Hollandse huis voor op die see, maar hy gaan slegs oordrag kry wanneer hy ’n winsgewende besigheid opgebou het. Dan ontmoet hy ’n arm student met ’n sak vol skuld en verloor sy hart.

    Sy eksmeisie, pragtig en skatryk, kontak hom kort daarna vir die eerste keer in jare. Die arm student word een vroegoggend in die universiteitsvakansie verwurg langs die strand gevind. Met ’n fietsketting. Isa ril. Was dít hoekom sy ’n ketting in die pos gekry het? Is dít haar dreiger se plan met haar?

    Sy stap sommer vinniger teen die bult uit.

    Bo, op die draai van die pad, kies sy kortpad terug deur die bosse. Digte taaibos wat deurmekaar en oormekaar groei. Net ’n smallerige paadjie uitgekap tussen die hoë bosse. Die lug ruik skerp na verrotting. Dooie visse, uitgedopte perlemoenskulpe, bamboes wat in die water begin gis.

    Daar’s niemand voor haar nie. Sy kyk nog ’n slag om. Niemand agter haar nie. Miskien was dit ’n fout om sonder Moerdyk te kom stap, maar sy’s amper terug op die teerpad. Nog net ’n paar honderd treë. Sy sal oukei wees.

    ’n Geritsel in die fynbos. Sy dwing haarself om aan mooi goed te dink. Bontvisvangers? ’n Grysbok? Selfs ’n otter dalk? Mens sien hulle soms hier langs die rivier.

    Regs van haar, weet sy, is die afdraai na die teerpad toe, onderkant haar ’n val van twintig meter.

    Sy’s in ’n oopte nou. Op ’n sementbruggie. Sy kyk op berg se kant toe. Toe hoor sy dit. ’n Duidelike voetval op die paadjie agter haar. Sy kyk om, ’n glimlag op haar gesig.

    ’n Gemaskerde man. Hy’s by haar. Hy’t ’n tou in sy hande. Nee, ’n ketting. Hy trek dit styf, amper asof hy die sterkte wil toets. Sy probeer nog keer, maar hy gryp haar arms, draai haar om. Ruk haar nek agtertoe met die ketting oor haar keel. Dis koud en hard en sy kry nie asem nie. Help! sukkel sy. Probeer haar vingers onder die ketting ingrawe. Pyn skiet in golwe deur haar kop. Help! wurg sy nog ’n keer. Sy woel, sy krap, sy skop en stamp met haar hakke na sy voete, maar hoe meer sy baklei, hoe meer lag hy agter sy masker vir haar.

    Toe gooi hy haar. In die kloof af. Rotse. Bosse. Takke. Skeur haar klere. Haar gesig. Haar lyf.

    Sy hoor hom aankom. Oor die rotse en deur die takke. Dan is hy by haar. Hy hyg. Hy gryp haar aan die keel. Druk haar neus toe. ’n Plastieksak oor haar kop. Sy knie op haar bors.

    Haar asem roggel.

    Al die krag in haar bene, arms en lyf syfer weg. Soos ’n struispop. Strooipop. Lappo-…

    Die wêreld is my woning nie.

    3

    07:37

    Die Grobbelaarsaal op Hermanus is ’n doodgewone gemeenskapsaal soos op menige dorp.

    Agt beskeie trappe van rooi baksteen tot by die houtvoordeure. Binnemure beige geverf. Houtpanele tot op heuphoogte. Verhoog. Maroen gordyne.

    Hier gebeur alles. Van troues tot begrafnisse, van bloedskenkings tot elke dan en wan ’n basaar van ’n aard. En in die ou dae politieke vergaderings vir ’n uitsluitlik wit gehoor.

    Die laaste keer dat Emèl Botha in die Grobbelaarsaal op Hermanus was, was die dag toe sy afgedank is. Haar grootste vernedering ooit, en dit op ’n brose vier-en-dertig. Al meer as sewe-en-twintig jaar gelede.

    In daardie tyd het niks in die saal verander nie, dink sy. Behalwe veroudering. Die muurpanele kort vernis; die gordyne is verslete en verbleik en die vloere te blink en te donker.

    Soos so baie kere tevore wonder sy hoekom sy besluit het om terug te keer Hermanus toe. Haar belowende loopbaan en groot droom aan skerwe. En elke keer kom sy by dieselfde antwoord uit.

    Om die skandvlek van jare gelede uit te wis.

    Mens sou dink ná sewe-en-twintig jaar sou sy ophou omgee oor wat gebeur het, maar steeds soek sy erkenning van ’n onbekende publiek. Die hemel weet, sy’t flippen hard genoeg aan haar profiel gewerk. En kyk nou net hoe naby is sy. ’n Perfekte, koeëlronde sirkel. Dit kan nie beter nie.

    En dan – of is dit dalk die hoofdoelwit? – wil sy skatryk word. Meer as net welgesteld. Want ryk mense het mag en gemak. Baie daarvan.

    Sy gaan staan stil op die boonste trap en kyk terug na die straat toe asof sy ’n skare wil toespreek. Haar ken in die lug, haar hande op haar heupe. Sy haal diep asem. Stoot haar bors vorentoe. Wonder Woman stance. Dit gee mens selfvertroue.

    Sy stap vinnig na die binnedeur van die saal. Een van daardies met die staalhandvatsels wat inhaak. Here goes. Liewer vroeg as laat. Liewer oud as koud. Haar oomblik in die son het uiteindelik aangebreek.

    In haar lemmetjiegroen broekpak van Franse linne, haar rooi krulhare laag in haar nek met ’n silwer haarring in toom gehou. Rooi met grys wat hier en daar deurslaan soos dit mode geword het tydens die pandemie.

    Sexy, sê Lood graag wanneer hy met sy vingers deur haar hare stryk en sy hand agter teen haar nek laat opgly tot by die holte waar nek en haarlyn ontmoet. Rillings deur haar lyf stuur. Vorentoe leun en in haar oor fluister: I like my women mature. Sy tong nie per ongeluk vlugtig in haar oorskulp nie.

    Hoe lank moes sy nie wag vir haar comeback nie. Dis die eerste dag van die Overbergse Skrywersfees en sý, uitgeworpe adjunkminister, weggegooi uit die politiek, is die hoofspreker van die dag. En dié keer vertel sy alles.

    4

    Adjudant Storm van der Merwe se kop is glad nie by haar werk nie. Sy staan hoogs verveeld agter in die Grobbelaarsaal, aangeleun teen die lelike donker houtpanele. Haar arms oor haar bors gevou. Haar oë dwaal oor die mense wat drupsgewys ingestap kom, betyds vir die opening om agtuur.

    Sy kry nie laas Vrydag se eerste sessie met die life coach uit haar kop nie en sy weet nie of sy skaam, verleë of kwaad vir haarself moet wees oor wat sy alles kwytgeraak het nie.

    Ek is alleen, eintlik eensaam, en ek mis my pa. En my baas sê ek kan nie ophou om oor hom te praat nie.

    Dís een van die goed wat sy vir die bleddie wildvreemde Jan Noorman gesê het toe hy wil weet hoekom sy daar is.

    Sý van alle mense. Die gevreesde speuradjudant Storm van der Merwe maak haar hart wawyd oop nadat die man skaars sy eerste vraag gevra het.

    Wat gaan tog aan met haar? Sy skud haar kop en probeer weer op die skare konsentreer. Sy’s so bleddie moeg van mense oppas.

    Twee jaar op haar eie in die groot plaashuis met die pandemie se oppe en affe en cope met vervelige werk: branderplankryers onwettig in die see by Kammabaai, stappers sonder maskers op die bekende rotspaadjie tussen Grotto Beach en Sieverspunt.

    Nou’s sy die een wat sukkel om soggens betyds wakker te word. The winter of Storm’s discontent, noem haar Engelse ma dit. Alles is ’n effort. Selfs om met haar geliefde Purdey-hond te gaan stap, is amper te veel moeite. En dít … nou dít is ’n sonde. Hoeveel winters het Purdey nog oor? Een? Hierdie een wat op pad is?

    En toe, toe sy die eerste geleentheid kry om oor haarself te praat, kan sy nie ophou nie. Vertel sy vir Jan Noorman, haar splinternuwe lewensafrigter, hoe skuldig sy oor haar pa voel omdat sy hom van staatskaping verdink het.

    Erger nog: dat al die agterdog van voor af begin het ná wat sy agttien maande gelede met die oppakkery van sy huis gevind het. Sy’t dit hoe lank onderdruk, totdat Mier ingegryp het. Soos ’n regte nuwe besem wat wil skoonvee nadat haar vriendin, stasiebevelvoerder Amber Cloete, skielik uit die polisie bedank en ’n baie suksesvolle Uber-besigheid op Somerset-Wes begin het.

    Voor

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1