Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kopskoot
Kopskoot
Kopskoot
Ebook335 pages6 hours

Kopskoot

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Reeksmoordenaar, of wraak?

Toe iemand Kaapstad se ses en vyftigjarige mans begin afmaai, is dít kaptein Kassie Kasselman se dilemma. Dit wil darem baie na ’n reeksmoordenaar lyk – almal dieselfde modus operandi, almal dieselfde ouderdom − maar Kassie is net nie oortuig nie . . .
Boonop word hy aangesê om ’n skouspelagtige skilderyvervalsing te ondersoek, asof hy nie genoeg regte werk het nie.

En dan’s daar die glibberige aktuaris met die voorliefde vir prostitute – en hy’s óók ses en vyftig − wat die leisels van ’n groot maatskappy gaan neem, as sy afperser nie die oorhand kry nie. Sal Kassie sy aaklige nuwe gesondheidsdieet oorleef om te kan ondersoek hoe dit alles inmekaar steek?
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateMay 5, 2014
ISBN9780795800788
Kopskoot
Author

Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg woon in Kaapstad en het al vyf uiters gewilde spanningsverhale geskryf: Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana en Kamikaze. Hy was ook samesteller van die misdaadverhalebundel Op die spoor van en het ’n besige 2017 afgesluit met die baie suksesvolle komiese roman Hans steek die Rubicon oor.

Read more from Rudie Van Rensburg

Related to Kopskoot

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kopskoot

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kopskoot - Rudie van Rensburg

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Kopskoot

    Rudie van Rensburg

    Queillerie

    1

    Hy gryp die stuurwiel vas, sy hande klam van die sweet. Hy haal diep asem om sy hamerende hart te kalmeer.

    Dis moeilik om nou helder te dink, hy het nog tyd nodig om ontslae te raak van die spanning in sy lyf. Die lang wag het hom roekeloos gemaak. Die drang om sy prooi nóú te vernietig, moet hy eers opsy skuif. Hy sal moet ontspan om sy taak uit te voer. Sonder emosie, gevoelloos en koud soos hy dit soveel keer gevisualiseer het gedurende sy voorbereiding. Só sal hy foute beperk, sy spore ná die tyd ordelik en klinies kan doodvee.

    Hy haal ’n pakkie sigarette uit die bosak van die blou oorpak, skud ’n sigaret uit en steek dit aan. Sy vingers bewe liggies. Die rook is soet in sy mond, sy longe verwelkom die nikotien. Die aroma van die Gauloises vul die binneruim van die bakkie.

    Daar is nie ’n siel in sig in die straat nie; dit is Sondagmiddagstil. ’n Roesbruin kat met ’n stomp stert draf skugter oor die pad en verdwyn agter ’n laventelbos. Twee duiwe dans ’n liefdesriel op ’n ligblou heining.

    Die groot dag het aangebreek.

    Hy kan dit beswaarlik glo. Hoe lank het hy nie hieraan beplan nie? Hoeveel keer het hy dit nie oorgespeel in sy gedagtes nie? Die maande van navorsing was net die voorspel. Nou is dit tyd vir die daad. Giel Lourens.

    Dis net gepas dat Giel eerste aan die beurt kom, al is die ander net so skuldig.

    Vir die soveelste keer moet hy diep asemhaal om die stramheid uit sy lyf te verdryf. Hy is soos ’n renperd in die wegspringhok, hy wéét hy kan nie langer wag nie. Hy slaan die oorpak se kraag hoog op, trek die pet laer af oor sy gesig en sit die donkerbril op. Toe hy uit die bakkie klim, is sy bene styf van die lang sit. Hy trap die sigaretstompie dood tussen die onkruid op die sypaadjie. Sy hand gly vanself na die kolf van die .45-Heckler & Koch in die holster onder sy oorpak.

    Dan stap hy doelgerig na die huis, kalm en gereed.

    Die voorhekkie hang skuins aan ’n enkele skarnier, die tuintjie is dor. ’n Deurgeroeste geut lê op die gekraakte sementvoetpad. Die huis se afgedopte mure wys verskillende kleure verf. Vaalgeskroeide en uitgedorde vensterrame laat die plek nog meer vervalle lyk. Musiek dawer iewers diep in die huis.

    Onder die koperplaatjie van die voordeurklokkie is ’n stukkie karton geplak waarop stukkend geskryf is. Hy klop hard aan die deur en luister aandagtig. Kurt Darren sing voort, die ritme polsend. Hy klop weer, dié keer dringender. Hy wag nog ’n minuut, maar hoor geen voetstappe aankom nie.

    Hy loop gebukkend om die huis. ’n Bakkie is geparkeer voor die enkelmotorhuis. Op die kant van die verweerde bakwerk staan Giel’s Garden Services in groen. Dis nie professioneel gedoen nie, die letters wisselend in grootte en die spasiëring oneweredig.

    Op die agterste lappie gras kartel ’n pluimpie na-rook van ’n braaivleisvuur nog die lug in. Hy staan stil en tel agt leë bierbottels, gestrooi om twee verbleikte kampstoele. Die rooster lê oop op ’n draadtafeltjie. Vlieë draai rond om ’n stukkie wors en ’n halfgeëte tjop.

    Hy vind sy pad geluidloos deur ’n hoop rommel na die oop skuifdeur. ’n Staanwaaier is van buite sigbaar. Kliphard span Kurt Darren die seile daar binne. Hy loer versigtig in. Giel lê op die rusbank.

    Hy gaan in, die pistool in sy hand. Die vertrek ruik suur en muf – na drank, rook en sweet. Sy blik flits oor die ruimte. Vuil glase, borde en messegoed lê bo-op en langs ’n ou TV-stel, onder ’n skryftafel, langs die twee leunstoele en bank. ’n Sokkie is oor ’n bierbeker gedrapeer. ’n Pers hemp hang aan ’n lampskerm, ’n paar tekkies en ’n onderbroek is ingedruk in ’n lendelam boekrakkie. Sigaretstompies peul oor die rande van twee asbakkies.

    Giel se mond is oop, ’n kwylstreep blink langs sy ongeskeerde ken af, sy grys hare is sweetgekoek en dof. ’n Harige maag beur onder ’n te kort T-hemp uit, forse voorarms oor sy bors gevou. Die rooigebrande bene is komieklik dun in verhouding met die buik, die toonnaels lank en onversorg.

    Hy druk liggies met die punt van die knaldemper teen die slapende man se wang. Giel se oë knipper oop. Hy kom vervaard orent, sy kykers wyd gesper. Daar is vrees in sy oë, sy mond gaan oop om iets te sê.

    Voordat Giel ’n geluid kan uiter, trek hy die sneller. Die Heckler & Koch blaf gedemp. Die koeël se loodpunt breek die vel tussen Giel se wenkbroue, deurklief die skedelbeen met ’n dowwe kraakgeluid. Sy kop ruk agteroor, die bloedsproei maak ’n rooi spikkelpatroon teen die wit muur. Giel tuimel met ’n dawerende slag van die bank af. ’n Bord breek onder die gewig van sy groot liggaam.

    Hy staar nog ’n paar oomblikke na die lewelose man terwyl sy hande effens bewe. Kurt hou op sing. Dan hoor hy die geluid agter hom. Hy swaai om.

    In die binnedeur staan ’n vrou. Haar hare hang in olierige slierte langs haar gesig. Sy gaap hom aan, die skewe voortande ontbloot in geskokte afgryse. ’n Sigaret hang tussen haar nikotiengevlekte vingers. Sy’s geset, twee vlesige borste bult oneweredig by ’n geblomde rok uit.

    Wie … wat … stamel sy.

    Hy lig die pistool wild in haar rigting. Sy swaai met ’n gil om, maar is te stadig om weg te kom. Die koeël tref haar in die regterblad en slinger haar teen die oorkantste gangmuur vas. Sy gly teen die muur af en plof op die blokkiesvloer neer, haar regterarm onnatuurlik ingebuig agter haar rug. Sy bly kreunend lê.

    Hy staan besluiteloos. Dan beweeg hy. Dit voel of hy in stadige aksie na die oop skuifdeur hardloop. Dis nie hoe hy dit beplan het nie, kolk dit briesend deur sy gedagtes toe hy blindelings uithardloop en oor ’n geroeste uitlaatpyp struikel. Hy herwin sy balans net-net en storm na die voorhekkie. In die hardloop steek hy die pistool terug in die holster.

    Hy dwing homself met moeite om stadig weg te trek. Hy ry deur die buurt, sy blik gedurig op die truspieëltjie. Geen agtervolgers nie. Op die N1 trap hy die versneller diep in. Met die kom hierheen het hy nie verkeerspolisie gewaar nie. Hy ry asof in ’n droom. Alles voel onwerklik, sy lyf krom van die ingehoue spanning.

    Die berg staan hoekig afgeëts teen die blou lug, net ’n paar yl wolkies hang om Duiwelspiek. Die verkeer op die Sondagmiddag is ongewoon stil. Toe hy op die M5 afdraai, is hy seker niemand is op sy spoor nie.

    Hy swets hardop. Waar kom die verdomde vrou vandaan? Hy het Giel se bewegings die afgelope twee weke fyn dopgehou. Daar was nooit ’n vrou by die huis nie. Giel was geskei, en sover hy kon vasstel al die afgelope vier jaar ’n alleenloper. Die vroumens was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Hy kon nie bekostig dat sy alarm maak nie. Sy saak is belangriker as haar lewe.

    Dalk is sy nie dood nie? Hy word koud by die gedagte. Sy het hom gesien. Sy pet en donkerbril sal ’n ordentlike beskrywing van hom moeilik maak, maar hy kan nie daarop reken nie. Hy moes seker gemaak het sy is dood. Hy skud sy kop. Daar is niks wat hy nou daaraan kan doen nie.

    Hy parkeer die bakkie agter die huis onder die bloekomboom en trek dit sorgvuldig met ’n seil toe.

    Toe hy in die slaapkamer kom, stroop hy die oorpak af. Onder die stort spoel die warm water die spanning uit sy lyf. Hy vou die oorpak op, neem die pistool en stap na die studeerkamer. Daar bêre hy dit in die kluis en haal die lêer uit.

    Met ’n sug sak hy in die leunstoel neer. Die kat kom streel sy wollerige lyf teen sy been, maar hy slaan nie daarop ag nie. Sy aandag is vasgenael op die foto van Giel Lourens. Hy tuur lank daarna. Dan skeur hy dit in flentertjies op en gooi dit in ’n swart koevert.

    Hy neem ’n ander foto, kyk met afkeer na die glimlaggende oë agter die dik brillense, die bolwange, die breë voorkop.

    Jy’s volgende, prewel hy.

    2

    Rocco hou haar dop toe sy uit die storthokkie kom: sy blonde skoonheid, sy prinses met die goddelike lyf. En sy genie met die merkwaardige talent wat hulle albei skatryk gaan maak.

    Haar liggaam is glad, die waterdruppels blink op haar koperbruin vel. Haar vol borste is ferm, die tepels erek en rosig. Die haardriehoekie tussen haar bene skitter soos goud in die streep oggendson wat die kamer verlig. Sy pik die handdoek van die reling op. Grasieus soos ’n kat gee sy twee lang treë na die badkamermatjie.

    Handdoek in die hand buk sy vooroor. Haar borste skommel ritmies saam terwyl sy haar bene afdroog. Toe sy orent kom, gooi sy haar hare agteroor en trek haar vingers deur die nat slierte.

    En nou, as jy my so aanstaar? vra sy met ’n frons.

    Rocco lag. Mag ek nie kyk nie? Begeerte vir haar roer in hom. Hy tik met ’n voorvinger langs hom op die bed. Kom sit eerder hier by my.

    Nie vanoggend nie. Die frons van die afgelope tyd is steeds op haar gesig. Ek kan nie romanties raak wanneer ek my met onheilige goed moet besig hou nie.

    Hy sug. Ai, Katrien, kom ons stry tog nie wéér daaroor nie. Ons het mos besluit om deur te druk. Jy sal nie spyt wees nie. Net twee, dan kan ons Spanje toe verkas en vir die res van ons lewe in die son gaan lê. Ons kan …

    Ja, ja, onderbreek sy hom en tel haar bra van die stoel op. Of vir ’n groot deel van ons lewe in ’n koue, vuil tronksel sit.

    Sy draai haar rug op hom, maak die bra-knippie agter haar rug vas en buk om ’n broekie uit die onderste laai te haal.

    Hy staan op van die bed en stap na haar. Hy streel oor haar gladde rug met een egalige beweging tot by haar ferm boude, aansienlik bleker as die res van haar liggaam. Hy laat sy hande op haar naakte heupe rus toe sy orent kom. Hy wil haar in die nek soen, maar sy beweeg vinnig weg van hom.

    Ek moet gaan werk. Sy tel haar jeans en T-hemp van die stoel op en loop met haar broekie in die ander hand uit die slaapkamer.

    Hy glimlag. Sy gaan darem doen wat sy veronderstel is om te doen. Sy is amper klaar met die eerste een. Nog net een en hulle kan hul droom gaan leef.

    Sy gedagtes loop terug na die dag toe hy haar die eerste keer gesien het. Tien maande gelede. Haar pa, sterwend aan kanker, wou hom en Bill sien. Hulle het hom nie geken nie, maar hy het van hulle geweet. Haar pa het sy storie vertel, met ’n huilstem gebieg. Toe Katrien vir hulle koffie bring, het sy sy asem weggeslaan. Haar pa het onmiddellik ophou praat toe sy die kamer binnekom. Nadat sy uitgestap het, kon Rocco nie weer konsentreer op die ou man se storie nie. Dit was in elk geval ’n saak uit die verre verlede, oor iemand wat hy nooit geken het nie en oor iets waaraan niemand nou meer kon verander nie.

    Tot Bill se ontsteltenis het hy verskoning gemaak en haar in die huis gaan soek. Sy was aan die werk. Haar werk was uitsonderlik professioneel en hulle het lekker daaroor gesels.

    Maar dit was haar skoonheid wat hom by tye stom van verwondering gelaat het. Hy kon nie glo dat só ’n pragtige vrou nie verbind was aan iemand nie. Sy is geskei, maar het haar pa al die afgelope drie jaar versorg sonder om weer ’n mansvriend te hê. Om haar pa op te pas was ’n voltydse en vermoeiende werk, het sy gesê. Hy kon die tamheid in haar oë sien.

    Twee weke later is hy na haar pa se begrafnis met die uitsluitlike doel om haar weer te sien. Hy het die klein doodsberiggie in die koerant gelees, want hy was op die uitkyk daarvoor. Ná die seremonie in die kerkhof het hy haar gaan groet. Sy was bekommerd, want die begrafnis sou haar laaste spaargeld opvreet, haar pa het niks nagelaat nie. Die huisie het hulle spotgoedkoop by ’n familielid gehuur, maar dié wou dit nou terughê. Rocco het dadelik aangebied om te help met die begrafniskoste en het haar genooi om gratis in sy ruim huis in Constantia te kom woon totdat sy weer op haar voete is.

    Hoewel sy baie dankbaar oor sy aanbod was, wou sy aanvanklik niks daarvan hoor nie. Sy sal regkom, het sy hom verseker. ’n Week later het sy hom gebel. Sy was verleë. Sal dit reg wees as sy net tydelik by hom kom bly, net vir ’n week of twee?

    Hy glimlag. Die tydelik is nou blywend. Ná ’n paar maande het hulle besef hulle is bestem vir mekaar. Hulle liefde was volmaak, ’n gelukkige samesyn wat nie een van hulle in vorige verhoudings ervaar het nie.

    Die enigste spoedwal op hulle liefdespad het twee maande gelede opgeduik toe hy die plan opper van hoe hulle skatryk kan word. Dit het drie weke se oorredingswerk geverg. Sy het aanvanklik botweg geweier, maar hy het haar stelselmatig oortuig hulle sal nie uitgevang word nie. Hy het vir haar ander gevalle opgenoem, haar gewys op die foute wat ander gemaak het. Hy het haar verseker hulle gaan nie gulsig wees nie, want dít was die ander se doodsteek. Hulle gaan dit tot net twee beperk en dan die pad vat. Dis ’n sakegeleentheid wat hy nie deur sy vingers kan laat glip nie.

    Uiteraard het haar talent hom die plan gegee. Dis natuurlik nie ’n oorspronklike idee nie, maar in Suid-Afrika kan dit nog werk. Veral met die oplewing in dié spesifieke mark.

    Hy het die afgelope twee maande genoeg navorsing gedoen om te weet hoe om die slaggate te vermy, om te verstaan hoe die wiele van die bedryf draai. Hy het die veldwerk afgehandel, maar nog ’n bietjie leeswerk lê voor.

    Oor haar deel van die taak het hy nie slapelose nagte nie. Sy is briljant.

    3

    Kaptein Kassie Kasselman klim die trappies met gekromde skouers. Hy sluit die deur oop. Selfs die gerusstellende reuke van sy woonstel besweer nie sy donker gemoedstoestand nie. Kassie sug. Dit was nie ’n goeie dag vir hom nie. Hy kom van dokter Leo Moerdyk se spreekkamer af nadat kolonel Daniels daarop aangedring het dat hy gaan.

    Hy is veronderstel om elke jaar ’n dokter te besoek, maar hy het dit telkens vermy. Daniels was ontsteld toe hy op Kassie se personeelrekord sien sy laaste doktersbesoek was ses jaar gelede.

    Fok, Kassie, die brigadier is deesdae juis so knaend oor die gereelde mediese ondersoeke. Hy’t ’n bleddie obsessie daaroor. Jy’s boonop nege en veertig. Jy behoort elke ses maande by ’n kwak uit te kom, is hy berispe.

    As Kassie eerlik met homself moet wees, het dit óók die afgelope ses jaar aan sy gewete geknaag. Maar sy vrees vir die ergste het hom weggehou. Hy het voor sy geestesoog gesien hoe die dokter sy hande in die lug gooi, vir hom sê hy het ’n terminale siekte en sy dae op aarde is getel. Kassie verkies om sulke nuus nie voortydig te kry nie.

    Dan was daar natuurlik die verdomde prostaatondersoek. Net die gedagte aan die prosedure het hom die nag voor die ondersoek ure lank laat rondrol in sy bed. Tot sy verligting het die dokter eergister gesê deesdae kan prostaatprobleme opgespoor word deur ’n bloedtoets. Maar tot Kassie se ontsteltenis het hy vinnig bygevoeg hy doen ook maar altyd die vingertoets, net om doodseker te maak.

    Gelukkig is sy prostaat nog gesond, maar vir Kassie voel dit asof dit ál rat is wat nog geolied draai in sy afgeleefde rammelkas. Hy lewe nog net deur die genade. Tydens die ondersoek het dokter Leo sy groot beerkop bekommerd geskud oor sy hoë bloeddruk. En vandag moes hy hoor sy bloedtoetse wys sy cholesterol is ook hemelhoog.

    Moenie dink jy kan nie ’n hartaanval kry omdat jy net vel en been is nie, het die dokter met ’n swaaiende voorvinger gemaan. Baie mans wat skraal is, kap om van hulle hart.

    Hy het vir Kassie ’n lys kositems gegee wat hy ten alle koste moet vermy. ’n Vlugtige blik daarna het Kassie laat besef sy dieet van vleispasteie, hamburgers, pizzas en geblikte frikkadelle is iets van die verlede. Hy gaan voortaan soos ’n bok blare moet vreet. En hy sal ook minder moet rook.

    Kassie het vir die dokter gelieg toe dié hom vra of hy rook. ’n Tyd gelede opgehou. Hy het nie kans gesien vir nóg ’n lesing nie.

    Maar wat hom vandag veral in ’n put van neerslagtigheid gedompel het, was die testosteroonbevinding.

    Jou testosteroontelling is hopeloos te laag, het die dokter gesê. Ons sal jou elke drie maande moet inspuit om dit te verbeter. Ons noem dit testosteroonvervanging.

    G’n man wil geëtiketteer word met ’n te lae testosteroontelling nie. Beslis nie ’n speurder in die SAPD nie. As Daniels dit op die doktersverslag sien en dié skande onder sy kollegas versprei, gaan Kassie nie die einde daarvan hoor nie.

    Hy het verleë verduidelik hy is al meer as twintig jaar geskei en daar was nie intussen vroue in sy kooi nie.

    Dokter Leo het bulderend gelag. Dit het niks daarmee te doen nie, Kassie. Dit gebeur maar soms met mans van jou ouderdom. Wat belangrik is, is dat ons dit regstel. Die lae telling kan ook nadelig wees vir jou hart.

    Sy hart dra ’n swaar las, dink Kassie. En sy pa is juis op die vroeë ouderdom van vyf en vyftig graf toe. Hy wonder of hy nie een van die SAPD se traumaberaders moet gaan sien nie, maar skud dan sy kop. Dit sal darem ietwat van ’n oorreaksie wees.

    Toe die telefoon in die studeerkamer skril lui, weet Kassie wie dit is. Hy oorweeg eers om dit nie te beantwoord nie, maar stap nogtans soontoe en tel die gehoorstuk op. Dit help nie om die onvermydelike uit te stel nie.

    Hallo, Seunie, kom sy ma se stem krakerig oor die foon.

    Haai, Ma, sê hy terwyl hy ’n Lucky Strike aansteek en die rook in ’n dun straal voor hom uitblaas.

    Rook jy? vra sy ontsteld.

    Nee … nee, Ma, ek sug sommer, sê hy vinnig.

    Sug?

    Ja, dis ’n sug van verligting. Die dokter sê ek’s springlewendig en daar is hoegenaamd niks verkeerd met my nie.

    Ai, Seunie, ek’s só dankbaar, sê sy ma met ’n aangedane stem. Jy weet, met jou pa wat ons so vroeg gegroet het, bly ek maar bekommerd oor jou gesondheid. Ek gaan nie nóg ’n begrafnis oorleef nie. Veral nie van my enigste kind nie. Moet nou nie weer ses jaar wag voor jy dokter toe gaan nie. En jy’t nog nie weer begin rook nie, nè?

    Nee, Ma.

    Toe hulle klaar gepraat het, staan Kassie nog lank met die gehoorbuis in sy hand, sigaret in die mond. Hy voel skuldig, maar hy móés ’n noodleuentjie vertel. Sy ma is tagtig, hy wil haar nie ontstel nie. Hy sal sy las alleen dra … en binnekort ophou rook.

    Hy maak koffie en gooi vier opgehoopte lepels suiker in. Die dokter het aanbeveel hy moet voortaan rooibos drink, verkieslik bitter. Hy stap met die beker koffie sitkamer toe en gaan sit in sy leunstoel, tuur peinsend na die losgetorringde punte van sy skaapvelpantoffels. Dit herinner hom aan afgesuigde mangopitte.

    Hy sug. En nou is Rooi ook moontlik vort. Sersant Rooi Els, sy skaduwee van die afgelope amper drie jaar en die man wat sy lewe die keer met die wapensmokkelaars gered het. Hy gaan Rooi mis. Hy het vir kolonel Daniels gesê hy wil nie weer ’n handlanger hê nie. Hy wil voortaan weer op sy eie werk. Sonder Rooi daar verkies hy dit so.

    Ons is tans dun aan mannekrag, Kassie, was die kolonel se reaksie. So ja, jy sal jou sake alleen hanteer, maar dit gaan net tydelik wees. Jy sal binnekort weer iemand onder jou vlerk moet neem. Jy weet goed dis maar die gebruik hier … en buitendien is dit jou plig as ou hand om die youngsters touwys te maak.

    Kassie snork. Dit het nie veel tot die SAPD se opleidingsplan bygedra dat hy Rooi die fynere aspekte van die speurkuns geleer het nie. Daar foeter hy nou heel moontlik na ’n groot maatskappy se sekerheidsafdeling toe.

    Hoof van security, Kassie, het Els hom trots ingelig. En met ’n pay wat my salarissie by die Diens na kleingeld sal laat lyk.

    Geld, altyd geld, dink Kassie. Dis die grootste rede waarom die SAPD hul belowende mense verloor. Vandag se jonges jaag net geld. Dit gaan nie meer vir hulle oor die saak nie … soos sy geslag polisiemanne altyd hulle broodkrummels probeer regverdig.

    Hy blaas eers lank in die beker voordat hy ’n slukkie koffie neem. Hy is verlig sy belangrikste dossiere is afgehandel. Dit gee hom tyd om voor te berei vir die jaarlikse seëlfees. Hy het reeds sy verlofvorm ingevul, Daniels moet dit nog net teken. Buitendien hoor hy allerlei gerugte oor die seëlfees. Hy gaan vanjaar skynbaar ’n groot rol daar speel. Die organiseerders is nog geheimsinnig daaroor, maar hy het ’n vermoede wat hulle vir hom beplan.

    Hy glimlag. Dit gaan groot uitdagings aan hom stel. En natuurlik ook help om sy gedagtes af te lei van sy kritieke gesondheidstoestand.

    ’n Ligte klop aan die voordeur laat hom met ’n frons opkyk. Wie sal nou laatmiddag so lastig wees?

    Rooi Els staan rooi, kort en breed in die deur.

    Dog jy’s vir jou laaste onderhoud by daai ouens wat jou ’n miljoenêr gaan maak? sê Kassie verbaas.

    Els glimlag. Ek’t besluit om te bly.

    Te bly?

    By die Diens, Kassie. Ek het daai ouens vandag gesê … dat ek mooi oor als gedink het. Ek wil ’n poeliesman bly.

    Kassie klap Els hard teen die arm. Bliksem, Rooi, ek’s lus en soen jou!

    Els se sproetgesig is een breë glimlag. Ek’t die afgelope tyd nie geslaap oor die werkstorie nie. Die geld is goed, maar dié tipe werk sou my knak. Dis eintlik net hope admin, ’n bietjie kantoordiefstal en sekerheidswerk by die ingange. Jy hoef nie speuropleiding te hê om dit te doen nie.

    Beste besluit wat jy nog geneem het, Rooi. Kom ons gaan sit en vier dit. Kan ek vir jou iets skink?

    Ja, dit sal lekker wees, sê Els met opgetrekte wenkbroue, maar van wanneer af hou jy dop in jou woonstel aan?

    Kassie lag verleë. Wat van ’n yskoue Creme Soda?

    4

    Mike Duvenhage kreun van genot. Haar vingerpunte speel eers sag langs sy rugstring af, van sy nek tot kort duskant sy stuitjie. Dan begin masseer sy hom met mening. Haar vingers delf dieper in sy rugspiere in. Sy moet strek om by sy skouerblaaie uit te kom. Die punte van haar naakte borste raak liggies aan sy vel.

    Sy drup nog olie op sy rug, vryf dit in en knie hom dan met haar elmboog langs sy rugstring af. Dit is seer. Sy beweeg na sy bene, haar olierige hande gly gemaklik oor sy styfgespande spiere. Elke keer stop sy diskreet kort duskant die handdoekie. Sy kap sy kuite met die kante van haar oop hande soos mini-karatehoue. Dan klim sy op die masseerbank en sit met oopgesperde bene bo-oor sy voete met haar knieë weerskante van hom. Haar duime druk diep in sy kuitvleise. Sy beweeg dit stadig en ritmies op en af. Haar sagte dye skuur teen sy enkels.

    Jy kan maar omdraai, sê sy.

    Hy maak so en rangskik die handdoekie self weer oor sy lieste. Sy klim soos ’n Olimpiese gimnas van die masseerbank af sonder om haar arms te gebruik. Haar deurskynende deurtrekker vertoon ’n donker bossie hare. Sy spuit olie uit ’n botteltjie in haar hand.

    Haar advertensie in die koerant sê sy is ’n brunet, agt en twintig, mooi gebou en reg vir enigiets (in vetdruk) wat haar kliënt verlang. Sy is nie agt en twintig nie, eerder vyf en dertig, skat hy. Nie sleg gebou nie, maar haar borste het al ’n kind of twee gevoed. Dit hang skommelend bo sy gesig terwyl sy sy skouerknoppe invryf, haar donkerbruin tepels enkele sentimeters van sy neus af. Hy sit sy hand op haar een bors en vryf die tepel tussen sy voorvinger en duim tot dit erek is.

    Sy kom orent en begin sy borskas saggies streel met haar vingerpunte terwyl hy met sy ander hand haar broekie aftrek. Sy hande gly oor haar boude. Sy was lank gelede seker mooi, dink hy. Maar haar gesig het nou harde lyne en haar dun, onverbiddelike lippe is rooi gelipstiffie teen ’n poeierwit vel. Haar grysblou oë is

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1