Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Hans steek die Rubicon oor
Hans steek die Rubicon oor
Hans steek die Rubicon oor
Ebook242 pages4 hours

Hans steek die Rubicon oor

Rating: 4.5 out of 5 stars

4.5/5

()

Read preview

About this ebook

Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateOct 27, 2017
ISBN9780795801488
Hans steek die Rubicon oor
Author

Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg woon in Kaapstad en het al vyf uiters gewilde spanningsverhale geskryf: Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana en Kamikaze. Hy was ook samesteller van die misdaadverhalebundel Op die spoor van en het ’n besige 2017 afgesluit met die baie suksesvolle komiese roman Hans steek die Rubicon oor.

Read more from Rudie Van Rensburg

Related to Hans steek die Rubicon oor

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Hans steek die Rubicon oor

Rating: 4.6 out of 5 stars
4.5/5

5 ratings2 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    Lekker gelag vir Ou Hans. Net sommer lekker lees stof.
  • Rating: 5 out of 5 stars
    5/5
    it is a cool book to read for all people

Book preview

Hans steek die Rubicon oor - Rudie van Rensburg

RUDIE VAN RENSBURG

Hans steek die

Rubicon oor

Queillerie

1

’n Verwelkte blom.

Dís hoe Hans vir homself in die spieël lyk. Als is verdor, verlep en verskrompel – van sy stroewe gelaat en krom skouers tot sy hangborste en uitgesakte maag.

Hy beskou sy gesig van naderby. Die kepe op sy voorkop lê ingeryg soos jaarringe op ’n boomstomp, sy oë skreef onder woeste wenkbroue, ingesonke wange beklemtoon sy prominente kake.

Hy tree ’n meter terug om hom van kop tot toon te beoordeel. Sy oë skeer oor sy plankdun beentjies. Hoe hulle hom nog regop hou, kan ’n navorsingsprojek vir anatomiestudente word. Hy skud sy kop afkeurend terwyl hy die geheelbeeld gadeslaan. Die praalhuis van sy eertydse sportmansjare is nou ’n murasie.

Een wat sy kinders voetstoots aan die ouetehuis gesmous het. Met al die sigbare en onsigbare gebreke van ’n negentigjarige sal hy vandag verwelkom word as die nuutste inwoner van Huis Madeliefie, oftewel ’n juweel vir ons skatkamer van oumensies, soos die brosjure dit stel.

Gisteraand het hy die fout gemaak om deur die brosjure te blaai. Dít nadat hy soos ’n gees deur die huis gedwaal het. Hy wou afskeid neem van sy standplaas van die afgelope halfeeu, maar sonder die meubels wat die afslaers vroeër opgelaai het, was die vertrekke onbekend en afsydig.

Die eens indrukwekkende ingeboude houtrakke in die studeerkamer het skeletterig teen die muur vertoon. Hul boekbinnegoed is al die vorige dag gepak om verskeep te word na verskillende vastelande en eilande, waar sy kinders en kleinkinders dit ter gedagtenis aan hom sal uitstal … en seker een­dag sal wegsmyt.

Die huis was ’n dolleë dop, gestroop van herinneringe waar­aan hy vir oulaas kon vashou. Dit het ’n mistroostige donkerte oor sy gemoed laat sak. Hy is sleepvoet kamer toe, waar sy bed, bedkassie en hangkas met die lang spieël die enigste oorskot is wat vandag saam met hom na sy beknopte kamertjie in die ouetehuis trek.

Die brosjure het op die bedkassie gelê, nog verpak in die plastiekomhulsel soos dit ’n maand gelede by hom afgelewer is. Desperaat om sy neerslagtigheid te verdryf, het hy die glansblad uitgehaal en oopgeslaan.

Hy sug en maak die hangkas se deur toe. Help nie om met ’n aalwynpil in sy kies daaroor te loop nie. Dis sy eie skuld dat hy hom blootgestel het aan daardie burokratiese lektuur. Die rits kleingeestige reëls het hom in koue sweet laat uitslaan. In sy hele volwasse lewe het niémand nog vir hom voorgeskryf hoe laat hy moet bad, eet, ontspan of slaap nie.

Nou is dit te laat om daaroor te kerm.

Hy het onder groepsdruk geswig toe sy kinders in Desember op hom toegesak het – Carla en haar kroos uit Vancouver, Ben en sy aanhangsels uit Christchurch, en alleenloper Willem uit Melbourne. Sy oudste, Mara, kon weens haar heup­vervanging nie uit Tokio kom nie.

Die hele spul het net een agenda gehad: om hul gryse vader te hervestig in ’n plek van veiligheid. Dít omdat sy bemoei­sieke bure die kinders agter sy rug gebel het oor die inbraak ’n maand gelede toe hy deur ’n rampokker besteel is. Genadiglik het hy deur die hele drama geslaap, maar as hy wakker was, sou daar bloed gevloei het. En dit sou nie sýne gewees het nie.

Met daardie houding is Pa beslis ’n kandidaat om een van die moordstatistieke in hierdie land te word, het Ben gepreek.

Beter as om deur ’n aardbewing aan jou einde te kom, het hy na die Kiwi gekap, waarop ’n stortvloed verontwaardigde uitroepe gevolg het.

Elkeen van sy goed geformuleerde argumente oor waarom hy in sy huis gáán aanbly, is deur die Verenigde Nasies ge­veto – eenparig. Die hoofgesante het op ’n ouetehuis-verkenningsending vertrek, terwyl die kleinkinders hom by die huis moes kalm hou. Met hulle gebroke Afrikaans en vreemde aksente was dié eerder ’n bron van irritasie, sodat hy hom teruggetrek het na RSG op sy transistortjie.

Ná ’n week van intensiewe onderhoude met al wat ’n ouetehuismatrone in die Kaapse Skiereiland is, het Huis Madeliefie met die steun van Nieu-Seeland, Kanada en Japan (Mara is telefonies gebreinspoel) ’n oorweldigende meerderheid behaal oor Australië se keuse, Huis Lentegeur. Suid-Afrika se aansoek om in die huis aan te bly, is tot bedorwe stem verklaar en minagtend van die tafel gevee.

Sy eie vlees en bloed, wie se doeke hy kleintyd omgeruil het en vir wie hy later ’n oortrokke bankrekening moes aangaan om hulle ’n geleerdheid te gee, het hom soos ’n weggooiding op die vullishoop gewerp.

Hy trek sy hemp aan en maak die knope stadig vas. Spook in die sittende posisie om sy broek aan te kry. Sy yl hare stryk hy met ’n handpalm plat voor hy sy kaal voete in die slip-ons druk. Op sy ouderdom is die afstand tussen hand en voet te groot om sokkies te oorweeg.

Die twee tasse langs die bed ontstig hom. Dis die laaste bevestiging dat hy nou op die afdraand is – en dit met die brieke los. Onherroeplik op pad na sy eindbestemming, waar hy sy laaste asem in ’n bedompige kamertjie gaan uitblaas. ’n Troostelose vooruitsig wat hom laas nag lank uit die slaap gehou het.

Die groot tas is gepak met winterklere, die kleintjie het somerklere en sy belangrikste besittings in. Hy tel dié steunend op en sit dit op die bed neer, rits die tas oop om ’n laaste keer seker te maak als is in wat moet in.

Sy tandeborsel en tandepasta is saam met sy skeergoed in ’n Checkerssak toegedraai en sy bloeddrukpille is in ’n houertjie gemerk Viagra. Hy het dit verlede week tydens sy oggendwandeling in die straat opgetel en het besluit dis ideaal om die personeel van Huis Madeliefie op hol te jaag. Dalk kan hy só vir hom ’n summiere skorsing uit die plek bewerkstellig.

Sy ID-boekie lê langs die paspoort wat hy twee jaar gelede moes kry toe hy onwillig in Vancouver gaan kuier het. Hy het eers walgegooi dat die tuin sal verdor as hy so lank weg is, maar Carla het iemand gereël om te kom natlei. Die paspoort sal hy nie weer nodig kry nie. Om deur so ’n uitmergelende vliegtuigrit te moes worstel na ’n land wat in die kloue van die Ystydperk vasgevang is, was nie sy idee van pret nie. Dit het hom ’n eed laat neem om nooit weer die Afrika-vasteland se son te verlaat nie.

So ’n jaar of wat gelede, vóór die inval van die Verenigde Nasies, het hy ’n wenslys opgestel van plekke wat hy nog wil besoek. Die Etosha-panne, Victoria-waterval, Serengeti Nasionale Park en nog ’n paar ander. Maar met die lastige galblaasoperasie wat tussenin gekom het, het dit toe nooit gerealiseer nie. Nou sal dit seker net ’n droom bly.

Hy rits die tas toe, tel dit af en gaan sit op die bed. Dis nou tienuur. Die ouetehuis het laat weet hulle kom sy trek halfelf haal, waarna die tehuis se bussie hom met sy bagasie sal oppik.

Dit voel kompleet soos die oordeelsdag.

2

Met sy hande op sy skoot gevou sit Hans soos ’n verhoorafwagtende, broeiend en bang. En hy raak van voor af omgekrap as hy terugdink aan die grootskaalse propaganda-aanslag in Desember.

Veral Ben en Carla sou Goebbels na ’n beginner laat lyk.

Die inwoners daar se veiligheid word gewaarborg, Pappie, het Carla gesê. Daar’s ’n hoë muur om die tehuis en wagte by die hek. Inwoners word net toegelaat om in groepe met die bussie uit te gaan, en toesighouers begelei hulle wanneer hulle plekke besoek.

Hy snork. Hulle word ingehok en gemonitor asof hulle ’n bedreigde subspesie van die mensdom is – Homo suurstofdieficus.

En elke maand is daar vermaak vir die inwoners wanneer bekende kunstenaars Huis Madeliefie besoek, het Ben weggeval met sy kenmerkende vals glimlaggie vir wanneer hy perdedrolle as vye aan jou probeer verkwansel. Matrone sê die seniors geniet dit geweldig. Die sangers roer altyd die hart­snare met treffers uit die ou dae.

Hy trek ’n gesig. Om na ’n prulsangertjie se nostalgiese en sentimentele snert te luister terwyl ou tannies om hom snuif en trane afvee, is g’n vermaak nie. Belly dancers val meer in sy smaak.

Die hoogtepunt van die jaar is wanneer die tehuis konsert hou. Weer Carla. Elke inwoner kry ’n kans om op te tree, en Matrone sê die talent onder die mense verstóm haar keer op keer.

Dit het hom naar gemaak. En hom herinner aan sy eerste verhoogoptrede, in sub A by die plaasskooltjie se konsert, toe hy net een van sy drie sinne in die toneelstuk kon onthou. Van toe af het hy alle openbare optredes eenvoudig geweier.

Hulle het ook ’n baie oulike speletjieskamer waar hulle vingerbord, dambord …

Ek het snakes and ladders ontgroei, het hy Ben kortgeknip.

Die inwoners hou weekliks vergadering, Pappie, het Carla gekoer. ’n Geleentheid om dinge in die tehuis wat mag hinder met die bestuur te bespreek, wat ek baie bedagsaam vind.

Asof hy nie gedurende sy loopbaan in die korporatiewe wêreld genoeg gehad het van daardie soort tydverkwistende martelsessies nie. Om nie te praat van dié wat hy in die kerk­raad moes deursit nie. Tot vandag toe glo hy dit het direk bygedra tot die aambeiprobleem wat hy ontwikkel het.

Daar is gemeenskaplike badkamers, maar dis silwerskoon, het Ben sy Goebbels-betoog voortgesit. Jy kan létterlik van die vloer af eet.

Ou mans wat pie, korrel almal skeef, het hy gesê. Ek sal nottendêm iets van daai vloer af eet.

Vertel vir Pa van die daaglikse liggaamsoefeninge, het Willem met ’n skalkse glimlag gepor.

Hy het nie belanggestel om verder te luister nie. Hy het sy transistortjie harder gestel, sy leesbril opgesit en die koerant oopgevou.

’n Klop aan die voordeur laat hom nou steun-steun orent kom. Hy loop traag deur toe.

Twee mans in oorpakke wag hom in. Ons is hier om meneer se meubels op te tel.

Hy loop voor hulle uit kamer toe. Julle kan die groot tas ook maar saamvat, los net die kleintjie.

Op die stoep kyk hy hoe hulle die paar meubelstukke op ’n bakkie laai. Het hy sy lewe lank gewerk om met dié paar beskimmelde goedjies sy laaste jare in te gaan?

Die bussie sal nou-nou hier wees vir meneer, sê die be­stuurder toe hulle groet.

Hans loop kamer toe, trek die tas se handvatsel uit en sleep dit agter hom aan. Die wieletjies kierts-kierts oor die plankvloer. Sonder om nog ’n laaste draai deur die huis te loop, sluit hy die voordeur en bêre die sleutel onder die potplant soos hy met die nuwe eienaar afgespreek het.

Hy gaan sit op die stoepmuurtjie en tuur oor die tuin. Dis hopeloos oorgroei, maar dis die nuwe eienaar se probleem. Soos hy is sy huis ook voetstoots verkoop.

’n Bussie kom aangery en hou in die straat stil. Huis Madeliefie staan in goue sierletters oor die lengte van die onooglike turkoois bakwerk geskryf. ’n Skraal kêrel met ’n diklensbril en wippende bokbaard spring flink uit en kom glimlaggend nader.

Ek’s hier om my oompie na Madies toe te vat.

Hy frons. Madies?

Die man lag. Dit is sommer ons noemnaampie vir ons tehuis.

Gee my krag, dink hy.

Wag, laat ek my oompie se tassie dra.

Ek sal self regkom.

Die man maak die skuifdeur van die bussie vir hom oop. Hy ignoreer die aangebode hand en klim op eie stoom in.

Die bussie trek weg. Hy kyk nie om na die huis nie.

My oompie sien seker uit om na ons ou nessie toe te trek?

Hy antwoord nie. Kan die skepsel net in verkleinwoordjies praat? Of is dit ’n Madies-gebruik?

Nessie! Net die gedagte gee hom erge engtevrees.

By ’n rooi verkeerslig sê die man: My oompie is eintlik gelukkig om vandag in te trek. Ons hou vanaand vir die oumensies ’n vleisbraai in die vierkant. Hulle geniet dit altyd vreeslik, veral die vrolike samesang so om die vuurtjie.

’n Versmorende beklemming kom lê op sy bors. Hy asem diep in. Dis tyd vir ’n noodplan.

Hy kyk om hom rond. ’n Entjie voor hulle lê ’n groot winkelsentrum.

Hy tik die kêrel op die skouer en beduie daarheen. Jy kan my by die sentrum aflaai. Ek moet nog ’n paar goed kry. Ek sal self sorg dat ek by die tehuis kom.

Ons is eintlik nie veronderstel om …

Maak net soos ek vra, sê hy bars.

Nou maar reg. Ek sal my oompie later weer hier kom optel.

Jou oompie is fiks genoeg om tehuis toe te stap, dankie.

Hy maak die skuifdeur self oop toe die bussie stilhou, laai sy tas uit en trek die handvatsel op.

Moet ek nie die tassie solank gaan aflaai nie? vra die man besorg.

Hy maak of hy nie hoor nie, stap net vinnig na die naaste ingang. Die tas se wieletjies vat skaars grond.

In die sentrum keer hy ’n sekerheidswag voor. Is hier ’n reisagentskap in dié plek?

Net om daai draai, meneer.

Hy kry dit maklik. African Safari Tours.

Die meisie agter die toonbank glimlag. Waarmee kan ons help?

Hy maak sy tas langs hom staan. Ek wil Suidwes toe gaan.

Suidwes?

Suidwes-Afrika. Etosha-panne.

O, Namibië!

Ja. Vir so ’n week … Nee, maak dit sommer twee.

Hy sal van daar af vir die kinders poskaarte stuur om hulle te kalmeer. Soos hy Carla ken, sal sy teen daai tyd seker al vir Interpol op sy spoor hê.

Daar vertrek môreoggend ’n SAL-vlug Windhoek toe, sê die meisie.

Bespreek vir my op hom. En reël vervoer Etosha toe en akkommodasie en al die ander goeters wat julle gewoonlik vir toeriste doen. Dit moet ’n lékker trip wees.

Dalk moet oom sit. Die besprekings en al die papierwerk gaan ’n tydjie neem.

Los die oom, noem my sommer Hans.

Sy glimlag. Reg, Hans.

Dit klink goed om sy naam te hoor. Dis hoog tyd dat hy weer in die hoofstroom van Homo sapiens opgeneem word.

Die kinders gaan kolossale vloermoere gooi, maar hy gee nie ’n duiwel om nie. Hy kan met sy lewe en sy geld doen wat hy wil. Madies sal hom in sy oorblywende paar jare op hierdie aardbol nie sien nie. Hy sal seker die deposito verbeur, maar dis kleingeld. Hulle kan die afgeleefde meubeltjies en sy winterklere maar hou, of dit opveil vir hulle konsertfonds.

Jy moet vir my plek bespreek in ’n hotel naby die lughawe vir vanaand. Kyk of jy een kan kry waar daar belly dancers optree.

Haar laggie is klokhelder. Lyk my jy’s ’n bok vir sports, Hans!

Hy knik gemoedelik en lag terug. Daar’s nie ’n kat se kans dat hy vanaand saam met ’n klomp oues Sal ons ou kennisse ooit vergeet om die braaivleisvuur gaan sing nie.

Jy weet nie dalk van ’n woonstel wat ek kan huur as ek terug is van Suidwes nie? Verkieslik gemeubileer, en met ’n uitsig oor die see.

3

Hans is verlig dat niemand langs hom sit op die terugvlug na Kaapstad nie. Toe hy twee weke gelede Windhoek toe is, was hy in die middelsitplek vasgepen tussen ’n droewige

Enjoying the preview?
Page 1 of 1