Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Anderkant uit: Stories oor trauma en hoop: Stories oor trauma en hoop
Anderkant uit: Stories oor trauma en hoop: Stories oor trauma en hoop
Anderkant uit: Stories oor trauma en hoop: Stories oor trauma en hoop
Ebook388 pages4 hours

Anderkant uit: Stories oor trauma en hoop: Stories oor trauma en hoop

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In Hanlie Retief se gereelde onderhoude in Rapport oorreed sy doodgewone én beroemde mense om hulle harte behoorlik oop te maak en hul geheime met lesers te deel. Anderkant uit is 'n versameling van onderhoude met dié mense wat trauma en teenspoed beleef het - van verslawing, misdaad en siekte tot verlies - en daarin geslaag het om weer op te staan. Die onderhoude word opgevolg deur 'n kort bespreking oor die impak van trauma op dié mense se lewens deur die sielkundige Louis Awerbuck en Lise Swart, aanbieders van die radioprogram Wie is ek? Op RSG. Ons kan nie kies wat met ons gebeur nie, maar - soos hierdie aangrypende onderhoude wonderlik illustreer - kan ons wel kies hoe ons reageer op die onverwagte wat na ons kant toe kom.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 15, 2016
ISBN9780624073406
Anderkant uit: Stories oor trauma en hoop: Stories oor trauma en hoop
Author

Hanlie Retief

Joernalis en outeur Hanlie Retief is bekend vir haar eerlike, kritiese - en tog empatiese - onderhoude in Rapport. Dié weeklikse onderhoude is iets waarna baie lesers elke Sondag uitsien en heel eerste lees. Onder die joernalistiekpryse wat sy al ontvang het, is die Sikuvile- en Piet Cillié-toekenning, asook Media24-Legends, twee ATKV-Mediaveertjies en 'n Cum Laude Alumni-toekenning van die Universiteit van die Vrystaat. Haar boek Byleveld: dossier van 'n baasspeurder is in 2011 deur Umuzi uitgegee, en Hanlie Retief gesels met ook in 2011, deur Protea Boekhuis. Orania is in 2014 deur Umuzi uitgegee. Hanlie woon met haar man en twee seuns in Kaapstad.

Related to Anderkant uit

Related ebooks

Related articles

Reviews for Anderkant uit

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Anderkant uit - Hanlie Retief

    Anderkant uit

    Stories oor trauma en hoop

    Hanlie Retief, met Louis Awerbuck

    en Lise Swart

    Tafelberg

    Voorwoord

    Hanlie Retief handel nie in spookasem en goedkoop sentiment nie. Sy’s nie ’n one-liner girl nie. As jy ge-Hanlie word, word régtig met jou gedans.

    Week ná week oorreed Hanlie doodgewone én beroemde Suid-Afrikaners om Rapport-lesers nie net in hul binnekamers in te nooi nie, maar hul harte behoorlik oop te maak, en meer te gee as net die gemeenplase wat baie van ons bereid is om oor onsself met die wêreld te deel. Hanlie boor dieper as die oppervlak, stel wanopvattings vreesloos aan die kaak, en skryf eerlik en krities sonder om ooit empatie te verloor. Sy weet mense is kompleks, en broos, en vol hunkering.

    In hierdie keur van onderhoude met mense wat deur trauma getref is en besluit het om weer op te staan, wys Hanlie in die mooiste taal dat ons nie kan kies wat met ons gebeur nie, maar wel hoe ons daarop reageer, en dat daar inderdaad net een ding is waarsonder geeneen van ons kan leef nie, en dit is hoop.

    Waldimar Pelser, Rapport redakteur

    In ’n onderhoud laat iemand jou vir ’n kort rukkie in sy of haar lewe toe. Vir die onderhoudvoerder is dit dus ’n enorme verantwoordelikheid om dit wat gesien en gehoor en gevoel word rég oor te dra. In die onderhoude wat hier opgeneem is, gaan dit bowendien om lewens vol pyn, hartseer en trauma. Dit maak die verantwoordelikheid soveel groter – in ’n sin betree jy ’n ongelooflik private domein, heilige grond, eintlik.

    Dit was ’n voorreg om ’n blik te kry in elkeen van hierdie mense se lewens. Elkeen van hulle léwe in die ten-spyte-van, in die nieteenstaande, in die desnietemin. En dit, in my boek, is die sekerste definisie van ’n held.

    Hanlie Retief

    Inleiding

    As kliniese sielkundige is ek gewoond daaraan om blootgestel te wees aan ander se lyding en emosionele swaarkry. Na 25 jaar in private praktyk gebeur dit noodwendig dat mens by tye ’n eksklusiewe deel word van die moeilikste tye in ander se lewens.

    Meer gereeld as wat ek wil, het ek soos Hanlie ’n private blik op die emosionele pyn waardeur mense soms moet worstel. Lise voer verder weekliks onderhoude op radio met mense wat dikwels ’n swaar pad gestap het, en soms aan die ander kant uitgekom het. Ons het onsself dus as emosioneel bestand genoeg beskou om met Hanlie in gesprek te tree oor die temas wat in haar onderhoude weerspieël word. Min het ons besef hoe diep die gesprekke met Hanlie, asook die lees en herlees van haar op-die-man-af onderhoude, ’n blywende bewustheid sou laat.

    Ek, Hanlie en Lise het tydens ons gesprekke doelbewus daarvan weggeskram om oor die motivering of sielkundige samestelling van die spesifieke persone in die onderhoude te spekuleer. Afgesien daarvan dat ons nie feitelike of akademiese inhoud wou beklemtoon nie, sou dit bloot minagtend wees teenoor die unieke paaie wat die mense in Hanlie se onderhoude moes stap.

    Ek voel byvoorbeeld gemaklik om ’n vakgerigte opinie oor posttraumatiese stres uit te spreek, maar dink nie dat enige iemand werklik bevoeg is om die trauma te verstaan wat Quinton Taylor of die Morris-gesin deurgemaak het nie. Dit is een ding om objektief te gesels oor gesinsmoord of eensaamheid, maar wie is regtig bevoeg om ’n bespreking te voer oor die ervaring van Grace Boltney of Charlotte van der Westhuizen?

    Ek en Lise was bevoorreg om vir ’n rukkie blootgestel te kon wees aan unieke gebeure en mense deur Hanlie se oë.

    Hiermee bring ons hulde aan almal wat moedig veg om anderkant uit te kom.

    Louis Awerbuck

    Eensaamheid

    Ant Stienie met die bokke en haar alleengeit

    Aan die einde van Junie 2013 was pres. Jacob Zuma besig om die regering se gebruiklike beloftes oor armoedeverligting tydens sy staatsrede in die parlement te herhaal terwyl die Kaapse stormwind en reën buite woed. Grace Boltney – wat al meer as ’n dekade van haar 60 jaar in die Malawi-plakkerskamp in Bishop Lavis bly – vertel wat dit régtig beteken om brandarm te wees in Suid-Afrika.

    Julle moet hier in, skerp regs, beduie Grace Boltney ons die Malawi-plakkerskamp, digby die Kaapstad-lughawe, binne.

    Ek bly langsaan die stukkende karre. Moenie alleen hier ingaan nie, nè. Even hierdie kamp het ’n klomp rowers en skelms en drug-koppe.

    Ons karring verby los stormwaterpype vol graffiti, verby skarrelaars (hulle skarrel by die dromme vir ’n living), Rastas onder daggawalms, poele reënwater en gemors en brandsiek honde en dáár bly ’n schizophrenic, wys sy met ’n lang vingernael by die venster uit.

    My ma kon nie schizophrenic sê nie, hoe sê mens… haak haar tong ook vas, schizo, schezo… toe sê my ma sommer skiet-my-vriend.

    Dan hou ons stil. F2, staan die adres in kokipen gemerk teen die plankhut.

    My jaart lyk maar bietjie horrible, maar ek kannie worrie nie.

    Kulula.com skuur oor ons koppe.

    Ons klim uit. Oral waar jy kyk, lê oopgerolde kondome.

    Die gowwerment deel honderde van die goed hier uit. Die kinders maak ballonne daarvan en die mans wil’it mos nie gebruik nie; al wat hulle met die lubricated soort doen, is om hulle se skoene mee te politoer.

    Sy bly al 14 jaar hier. Sy vang die vroue se babas, knip die mense se hare, help die siekes, toi-toi vir toilette.

    Noem my maar ’n jack-of-all-trades, sê sy. Sy rangskik blomme ook. ’n Rebel with a cause vir enige mens wat swaar kry.

    Hulle kom roep my: ‘Ant Grace, kom vang die baby!’ Baie keer as die ambulans kom, lê die kind klaar op die ma se bors. Dan sê ek: ‘Vat julle mens. Ek het haar klaar uitgehaal – die nageboorte ook.’

    Grace se hart is goud, sê haar vriendin Patricia – soos daai stukkie in haar voorste ondertand. Sy’s lieflik, maar lonely.

    En vir wat moet sy altyd so suffer? vra sy – dié Ant Stienie van die plakkerskamp. Maar eintlik is dit ’n sê, nie ’n vraag nie – daai vraag is lankal by die stormwaterpyp af.

    "Laas week, toe’s ek benoud, want dis nat en dit vloed om my en ek sit hier soos ’n hoendertjie. Toe SMS ek maar vir die Son: Hemelse Vader, ek weet U’t winter gemaak, maar sal U die hemelse kraan klein bietjie toeër draai oor ons wat in die plakkershokkies sit en krepeer?

    Sy weet nie of die Son dit geplaas het nie. Koop hom net sometimes as daar ’n sentjie oor is. Maar sy laaik van lees, google op haar selfountjie, veilig gebêre in ’n plastieksakkie. Mens kan maar sê dis een van my hobbies.

    Kyk my stip. Kyk my uit. Katriena, haar een bok, ook. Met geel oë. Bê.

    Julle wat huise het, moet dit waardeer en nie neersien op ons plakkers nie. As ek geld gehad het, was ek môre in Plattekloof.

    Skielik vang dit haar, soos ’n koue wind. Sy druk haar gesig in die pers breiserp, linkerhand swaar op haar kierie, rug leunend teen ’n groot hout-kabelroller wat nou die buurhut se een muur is.

    Deur die hout hoor jy ’n kind se onophoudelike kroephoes.

    Want ons hier is ook maar net mens… dep sy die trane.

    Gisteraand, toe Zuma oor die rooi tapyt stap, het Grace Boltney die twee kilometer walk gevat om haar selfoon te gaan laai in die Bishop (Lavis).

    Die R5 neergesit vir die bunny (sleng vir gay), al bring sy haar eie laaier.

    Terwyl die president gepraat het van die triple challenges of poverty, het sy ’n vuurtjie in haar konka aangesteek vir ’n beker swart tee.

    Sy’t in die donker gesit en droë bruinbrood eet toe Zuma se many households go through difficulties weerklink het.

    Tienuur is sy kooi toe.

    Ingrams op haar skurwe plekke, Vaseline op haar lippe, Milk of Magnesia vir sukkelmaag.

    En toe kom die nag.

    Soos altyd het sy gelê en luister vir die kode-fluite van die gangsters: "Jei-jei-jei, hulle slaap, ons kan inbreek, iets steel innie jaarte.

    Hulle roof mense hier by Modderdamweg se groot robot, Lavis se jongens. Dan hol hulle hier in met die polieste agterna. Soms hoor ek hulle kap, dan loer ek deur die venster, dan’s dit die yster-railings wat hulle by die grootpad uitslaat.

    Sy hoor skote, sy hoor meisies gil as hulle vir verkragters weghol. Jare se fyn luister het haar geleer: As die klein hondjies huil, is dit ’n hut wat iewers afbrand.

    Dignity was die woord wat opgeborrel het in Zuma se staatsrede toe hy praat oor die second phase of our transition.

    Dignity? My dignity is deur die gat getrek.

    Haar ken hang. Sy wys om haar. Is dít dignity? Kyk in watter omstandighede lewe ek. Om te skyt in ’n emmer – is daai dignity?

    In die hoek van haar slaapkamer, onder ’n prent van ’n olifant, staan die toilet-emmer met ’n hoop geskeurde koerantpapier langsaan. Sy lig hom op. Jeyes Fluid skommel bruin onderin. Langs haar bed staan twee groot vullisdromme vir die water wat deur die dak stroom as dit reën. Die een is driekwart vol, te swaar om met haar 60-jarige, ou lyf uit te dra; so nou staan dit maar daar en vol word.

    Die mat is klam, die kamer ruik na muf en vanieljegeur-wierook.

    Op die kombuisrak: ’n botteltjie pienk naelpolitoer, Robertsons se neutmuskaat, gifbolle (goed vir sere) en dawidjieworrel (hoofpyn) en ’n klomp takkies wat sy gebruik vir allerhande dinge, sê sy geheimsinnig.

    Katriena en Suzy Wong, haar ander bok, staan en trap modder in hul kampie. Eenkant lê ’n pop se kop. Die gesig kyk anderkant toe, asof die prentjie te erg is.

    Dis my bokkinders dié, my kínners. Hulle moet nog gaan wei, ek vat hulle veld toe. Oppas vir Katriena. Sy stamp. My boud is nog blou van laas week.

    Heeltyd dreun vliegtuie laag oor. Soms ruik sy hul petroldampe – hulle change gears hier reg bo ons vir die neersit.

    Haar gunsteling is British Airways, want hulle’s pragtig. En besides daai, sal sy dit laaik om in Engeland te gaan bly.

    Dalk is dit beter as hier.

    Haar ouma se mense was nogals Skotte, deel sy. Simpsons.

    So ek gaan maar op ’n fantasy ride to Scotland, whatever.

    Terwyl Jaco foto’s neem, poseer sy skewekop, een voet skalks gelig. Moet ek nou model speel vir my swaargeit, hè? giggel sy.

    Oe, my seun kry ’n bybie as hy hoor ek praat met julle. Hy steek dit klaar weg dat sy ma in ’n plakkerskamp bly.

    Haar dogter is ’n prokureur. Bý UCT se law school klaargemaak. Sy’s nou in Amerika, getroud met ’n Jood. Mrs Matthew Spira.

    Haar pa bly in ’n skemahuis in Lavis. Hy lyk soos ’n Boereman, ek dink my oupa was ’n Boer. Blou oë. Ek praat sometimes met hom, maar jy kan nie orals met jou probleme hardloop nie. Ek moet maar die lewe aanvaar soos dit is.

    Mrs Spira stuur nie vir haar geld nie. Ook nie haar pa nie. Al by wie sy geld kry, is Sassa (die Suid-Afrikaanse maatskaplikeversekeringsagentskap). R1 350 se pensioengeld, op die eerste van elke maand.

    Dis taxigeld daghospitaal toe. Geld vir mieliemeel, bietjie oatsies, partykeer groente en ’n vleisie op pay-day.

    Wat haar die meeste vang, is winter. Dit vang vir my lelik. Ek was twee jaar lank siek gewees oor ek met klam hare, vasgebolling op my kop, gaan slaap het. Toe kom die kopverkoue. Nou’s ek bang vir hare was.

    Grace se triple challenges of poverty.

    Die koue éét mens hier tussen die plasse water – en baie het tering, het vigs, en hóékom gebruik hulle nie daai kondome nie…?

    Maar gelukkig vir my doen ek jare nie meer daai dansie nie, verstaan. Haar man? O djirre, moenie vra nie.

    Gaan sy eendag hier doodgaan?

    Sy kyk verbaas op.

    Nee, willie! Miskien kom daar nog ’n way uit, mens weet nooit. Jy kom bly hier oor daar nie ’n anner uitweg is nie, gehoor. Daar issie werk nie, daar íssie. Die blou mense vat al die werk, hierdie miljoene swartblou kwerekweres.

    Hoe sý hier beland het, nou dááis ’n separate storie.

    Grace en haar kinders het 13 jaar gelede in ’n baksteenhuis in Uitsig gebly. Toe was ek nog iemand.

    Toe raak ’n kind in die omgewing vermis en die gemeenskap beskuldig Grace dat sy die kind gesteel het. Sy moes vlug vir hul boendoehof, gaan wegkruip in plakkerskampe.

    En toe word ek niemand in hierdie niemandsland met my bokke en my alleengeit.

    Die vermiste kind het glo laas jaar haar verskyning gemaak, mét ’n baba, en Grace is Menseregtekommissie toe om haar vuil naam skoon te kry.

    Ek is opgesluit en weer gelos en my naam is my naam en ek soek millions vir my naam. My hele lewe is opge*& hierdeur.

    Sy sluk. Nou wáár’s die vuurhoutjies, soek haar hande rond, lus vir rook, bewerig gepraat.

    Dan skuifel sy uit, verby die bokke, huurder toe in die ander hut, ’n groot Xhosa met krukke en ’n kuitwond wat sukkel om gesond te word. Car accident, Mama, wys hy, ’n jaar en twee maande gelede.

    Uit sy disability betaal hy haar R100 ’n maand. En ’n vuurhoutjie, vandag. Sy steek op, suig haar stompie Pacific Blue holwang.

    Die reën swiep in ons gesigte terwyl ons terugstap kar toe.

    Grace staan by haar hek, gaan nie in nie, kyk vir ons in die reën terwyl ons wegry verby die Rastas, verby die pype tot in Modderdamweg. Weg.

    Daardie nag waai die wind. Dit storm. Ek onthou haar hoë bed, die komberse se hobbels onder ’n ou sunfilter-gordyn wat deken geword het. Die amper-vol drom water.

    En ek druk die elektriese kombers tot by drie.

    Junie 2014

    Want jy’s nié in beheer nie

    Wilma van der Bijl is in 1987 as Mej. Suid-Afrika gekroon, het daarna haar graad in aptekerswese voltooi en is deesdae die eienaar en bestuurder van ’n Engen-vulstasie in Plattekloof in Kaapstad. In Junie 2005, op die ouderdom van 42, is borskanker by haar gediagnoseer en het sy ’n dubbele mastektomie ondergaan. Sy sê dit het haar uitkyk op die lewe radikaal verander. Sy doen deesdae baie motiveringspraatjies om mense wat deur dieselfde donker dieptes gaan te help en te motiveer.

    Haar glimlag is van hoë oktaan, soos die brandstof wat sy deesdae by haar vulstasie in Plattekloof, Kaapstad, verkoop.

    Sy staan met die petrolpomp in haar hand, al 1,83 m van haar.

    Die noordwester waai haar kuif in haar oë, pluk aan haar rokpant, haar pienk serp en almal – álmal – vergaap hulle aan haar.

    Kyk, wys sy opgewonde na die uitsig, dis vandag ’n bietjie dynserig, maar ’n mens kan die hele Kaap van hier af sien: Bloubergstrand, die hawe en daar lê Tafelberg.

    Dis of Wilma van der Bijl alles helderder sien nadat borskanker in 2005 by haar gediagnoseer is.

    "Ek’s die tyd gegun, ek is gesond … en so dankbaar daarvoor.

    Dit voel vir my of ek elke oomblik moet vasgryp.

    Ons onthou haar op voorblaaie 24 jaar gelede toe sy as 24-jarige donkerkop-apteker van Oudtshoorn Mej. Suid-Afrika geword het. Sy’t haar eie stempel op die glanstitel afgedruk: Dié van ’n aweregse langbeen wat eerder boomklim en perdry as bodder met vals wimpers en warmkrullers.

    Sy was steeds die meisiekind wat Desembers by die Bakke in Mosselbaai vakansie gehou het.

    Daar’s die gesinsgrappie oor die keer toe sy en haar sussie op die strand gelê het en twee Tukkie-studente hulle op ’n date vra, sonder dat hulle ’n benul het van hóé lank die Van der Bijl-sussies is.

    Daai aand het Wilma-hulle met seer knieë van die dansbaan teruggekom. Hulle moes heelaand met gebuigde knieë dans, want die kêrels was aan die kort kant. Dit het ’n oneindige gespottery afgegee.

    Vandag nog is Wilma deel van ’n handjie vol Mej. Suid-Afrika’s soos Penny Coelen, Anneline Kriel en Margaret Gardiner wat hulle in die publiek se geheue kom tuismaak het.

    Toe sy ná haar Mej. SA-jaar ’n internskap by ’n apteek in Melville, Johannesburg, gedoen het, het die mense die apteek snuifgetrap om hul pille en poeiers en strope by Wilma te kry.

    Ek het my geselsies met die mense so geniet. Melville is ’n gemoedelike plek en ná my modeljare (sy was ’n bekende model in München, Duitsland) was dit lekker om weer net ‘gewoon’ te wees, vir ’n baas te vra of ek op ete kan gaan.

    Apteker, model, ma vir Alexia (13) en Nikolaos (12), 17 jaar reeds getroud met die Griekse sakeman, Ari Tapanlis, beskermvrou vir die Rooi Kruis-kinderhospitaal en sedert 2006 veral ook ’n pienkstrik-aktivis.

    Die dag, ses jaar gelede, toe ek my vriendinne bel om te vertel ek het borskanker, was ek geskok om te hoor hoe min van hulle het al vir mammogramme gegaan.

    Nadat sy van ’n dubbele mastektomie en chemoterapie herstel het, het Wilma ywerig betrokke geraak by borskanker-veldtogte.

    Ons vroue praat mos nie oor ’n koppie tee oor mammogramme nie. Ons blaai verby die tydskrifartikels daaroor, want ons glo dit gaan nie met ons gebeur nie.

    Sy glimlag. En dan gebeur dit, nè.

    Saam met die Suid-Afrikaanse Raad vir Radioloë kon Wilma nou, met borskankermaand, ’n 10%-afslag vir ses weke beding op mammogramme by deelnemende praktyke. "Dié ondersoeke kan tot R1 000 kos en die afslag help darem so ’n bietjie.

    "Ek was 42 toe ek in 2005 vir ’n roetine-ondersoek gegaan het.

    Daar was vooraf geen waarskuwing nie; geen teken dat ek iets makeer nie. Ek het maar net gegaan vir my gewone jaarlikse ondersoek. En toe kry hulle die knop.

    Waar sou sy nou gewees het as sy dit nié gedoen het nie?

    Beslis in ’n baie hopelose situasie. Die kanker sou heel waarskynlik al versprei het na my bene of my lewer. Sou ek nou al dood gewees het?

    Jaarliks sterf 3 000 Suid-Afrikaanse vroue aan borskanker, beklemtoon sy. "Dis almal vroue met families en mense wat hulle liefhet, wat iewers hoort, iets beteken. Weet jy hoeveel is 3 000?

    Dit kan jou ma wees, of jou suster, jou ouma, ’n tannie, ’n vriendin … of jyself.

    Op ’n manier het Wilma ’n steunpilaar geword vir baie vroue by wie borskanker gediagnoseer is. Hulle bel haar, deel hul kwellings en luister na die troos in daardie sagte stem van haar. Op haar selfoon, onder die hofie kanker, is ’n lang kontaklys.

    "Ek gee glad nie om as mense my bel nie, want kanker is so ’n ongelooflike alleenplek, so ’n skokkende plek om in te wees.

    "As ek vir enigiemand iets kan beteken dan moet ek dit doen, want ék is die tyd gegun.

    As jy met ander praat wat ook daardeur is en gesond geraak het, gee dit jou meer moed. Die behandeling is aaklig, maar ten minste hoor jy: ‘Byt net vas. Jy voel naar vandag, maar môre gaan dit weer beter.’

    Dit help nie ’n mens draai doekies om nie, sê Wilma.

    Borskanker is ’n aaklige, nare, ingrypende siekte, benadruk sy elke woord.

    "’n Bitter, bitter slegte siekte.

    En as jy nie gesond word nie, as die kanker terminaal is, dan is die einde soms so moeilik.

    Dis hoekom sy nie kan verstaan as vroue mammogramme vermy omdat die ondersoek jou borste knyp of seermaak nie. Dit weeg immers hoegenaamd nie op teen borskanker nie.

    Daar’s die vriendinne wat Wilma al finaal moes groet. Dis ongelooflik hartseer as die besef kom dat iemand dit nou nie meer gaan maak nie, dis terminaal. Ten minste is dit nie plotseling soos in ’n motorongeluk nie. Jy word darem ’n afskeid gegun, ’n spesiale tyd waar jy jou kan voorberei vir die onvermydelike einde.

    Haar kanker is in remissie en sy gaan een keer ’n jaar vir toetse.

    Ek is 95% glad nie bang nie, maar vir die ander vyf nip ek maar so bietjie! lag sy breed.

    Sy vertel hoe sy twee keer al bekommerd was oor sy nie lekker voel nie en uit haar eie vir toetse gegaan het, want dis immers nie of ek nooit weer kan kanker kry nie. Als was reg, dit was seker net ipekonders. Maar die ding is, ’n mens moet luister na jou liggaam. Geen dokter gaan jou bel en sê jy’t ’n ondersoek nodig nie; dis jý wat na jouself moet kyk.

    Sy was nog altyd ’n vreeslike perfeksionis, sê Wilma. Alles moet net reg gaan. En toe, vir die eerste keer, was sy nie in beheer nie. Dis die les van kanker: "Jy’s nie in beheer van jou lewe nie; God is. Ek is nie meer aanvallend oor my geloof nie, ek vra nie meer soveel vrae nie, ek aanvaar.

    Dis ’n goeie plek om te wees, om kinderlik te glo.

    Haar pa, die ontslape DA-raadslid Wim van der Bijl, het destyds al gesê sy kind is g’n softy nie, sy floreer op uitdagings. As hy haar nou kon sien, grinnik sy, hier by haar Engen-vulstasie besig om brandstof-volumes uit te werk …

    Mense vra my heeltyd wat sóék ek hier, dan sê ek maar nee, dis ’n lekker uitdaging.

    Veral as die joggie ’n diesel-Mercedes-Benz met die groen pomp volmaak en die motor begin ruk-ruk twee kilometer straataf.

    Sy klink soos ’n gesoute vulstasie-vrou: Sê tog vir almal: As die verkeerde brandstof in jou kar beland, moenie ’n tree verder ry nie!

    Die plek het oor hul pad gekom. Haar man het die grond, wat opsygesit is vir ’n vulstasie, besit. Hy’s die entrepreneur, ek’s meer die doener. Dis ’n goeie kombinasie.

    En dis wat jy moet wees as jy en jou 35 werknemers soveel dinge gelyk moet laat gebeur, van brandstof tot broodrolletjies tot die griller wat perfekte patties moet bak. Jy moet sien hoe slaan ek ’n Wimpy-burger saam. My kinders is natuurlik ekstaties hieroor.

    Die hele ding van 24 uur oop bly, laat haar soms in die middel van die nag wakker skrik.

    Dan wonder ek of die personeel orraait is.

    As jong meisie het sy gedroom van ’n groot huis met houtvloere en honde en kinders wat die trappe op- en afhardloop.

    Nou’t ons nie houtvloere nie, maar ek het darem twee kinders en ’n klein hondjie! ’n Mens se drome word seker nooit presies bewaarheid nie. Maar die beste van my drome hét ek: my twee kinders. Hulle is waaroor my lewe eintlik gaan.

    En haar huis hét trappe, sê sy stil.

    "Daar gaan seker nie ’n dag verby wat ek nie sê dankie Here, ek kan daardie trappe uitklim nie.

    "Toe ons daar ingetrek het, het ek steeds gesukkel met naarheid as gevolg van die chemoterapie.

    "Weet jy hoe voel dit as jy moet boontoe of ondertoe, maar jy’s so uitgeput jy bly maar liewer sit?

    "Daai moeg-moeg.

    Ek weet nie hoekom nie, maar die trappe het vir my simbolies geword.

    Van genesing. En groei, en dankbaarheid.

    Oktober 2011

    Nie ’n takkie om te breek nie

    Die broers Michal en Hennie Zeelie bly alleen in die Goudveld staatsbos naby Rheenendal – die laaste houtkappers in die Knysnabosse. Die onderhoud is in Desember 2012 buite hulle plankieshuis gevoer.

    Dis oë sonder agterdog wat jou groet by die paaltjieshek wat styf vasgewoel is met ’n ou stuk tou. Gesigte vars, agter die verweer, agter die baardstoppels.

    Bosmanne.

    Michal en Hennie Zeelie.

    Laaste houtkappers van die Knysna-bosse.

    Ons gaan sit op boomstompe onder ’n koejawelboom. Die broers sit hande op die knieë, regop, gemaklik, gewoond om so te sit. Drie beeste vreet gras hier om ons. Kolletjie, Witkwas en die derde een is net ’n kalf, sê Michal. Michal is 59, Hennie 58.

    Dis nou 11 jaar wat ek en my broer hier in die losplankiehuis bly. Net ons twee. Al die anner is nou al weg; ons neef is ook al oor.

    Hul lappie grond is langs die Goudveld-staatsbos naby Rheenendal. Sonder krag, afgesluit van die wêreld.

    Verlede jaar was hulle ’n paar oomblikke op die SABC2-reeks, Shoreline, as laaste stemme uit ’n vergange era.

    Vergooi en verwaarloos.

    Deesdae het die Zeelies ’n permit nodig om in die bos rond te loop, die bos wat hulle soos ’n agtertuin ken.

    As jy nou deur die heining klim, moet jy betaal. Voorheen het ons sommer ingegaan en hout gaan saag en water haal by die fontein. Nou’s die bos vir ons toe.

    Nou’s hulle vasgekeer tussen bunny huggers en holistic horse riders van die arty Rheenendal Ramble, teenaan hierdie bos, waar hulle soveel koninklike kalanders laat val het.

    Michal: "Onse oupa Michal-hulle was die eerste houtkappers. Uit 1885 se dae. Ons is die nasate.

    "Toe ons opgeskote raak, onse staan kry, het ons op Bramekraal gebly.

    Hendrik Vonk was oorlede pa se bynaam. Skraal soos ons, maar hy was ’n haastige man.

    Hennie gaan haal ’n foto’tjie uit die huis. Wys stywevinger. Werkershande, sien jy. Hulle ken die vat van ’n byl, die vou om ’n treksaag.

    Dis oupa Michal en ouma Jacoba onder die akkerbome op Bramekraal, en onse ma se suster Cornelia en onse ma Maria Magdalena.

    Hy raak weemoedig. Ai.

    Dik blokke ysterhoute en kalanders en stinkhoute het Oupa-hulle met ’n span osse die klippad af Knysna toe gekarwei, vertel Michal.

    "Smôrens halfvier is ons op pad. Af met die ou Phantompas, en onder by die ou rooi brug is dit eers ’n uitspanning; dan drink die oumense koffie.

    "Dan is dit deur die drif anderkant uit na die fabriek óf by Parks óf by Thesens.

    Ons het ook begin kap toe ons jong laaities was. Ons het súlke blokke gesaag. Hiérdie hoogte, wys hy. Ja. Ja.

    Nou hoe kap mens ’n boom?

    Nee, jy vat ’n gewone byl.

    Hy soek in die hoop vuurmaakhout rond. Waar’s die byl nou? Jy tjip hom, tjip hom voor, beduie sy hande.

    En dan saag jy hom agter met die treksaag. Jy kyk op na die kroon toe. Jy meet hom, kyk: gaan die wind hiernatoe of daarnatoe.

    Vir die Zeelie-broers het ’n boom nog nooit verkeerd geval nie.

    "Ou George Barnard, hy’t ’n Dodge-lorrie gehad, hy’t ook so bos gewerk.

    Net hier op die rug, toe kap hulle ’n ysterhoutboom. Hulle’t nooit gesien bo in die boom hang ’n los stuk tak nie, en toe ou George die boom trek, val daai stuk tak hom middeldeur. Net hierso, druk hy teen sy borskas.

    Toe hulle die tak uit hom trek, toe spring die bloed uit.

    Hy’s dood?

    Hy’s dóód, ja.

    En daar’s Jan Plan gewees.

    "Hy was nie heeltemal all there nie.

    "Die middag laat, toe wonder hulle: Hoekom kom Jan nie aan nie? Sy pa dink: Ag wat, hy bly seker maar vanaand in die bos, slaap daar by die skerm; hy’t mos kos by hom.

    "Die volgende dag kom hulle daar, huh-uh, hy is nie by die skerm nie.

    Oulaas kry hulle hom by Krisjan-se-Nek, waar die boom hom vasgelê het. ’n Week lank het hy daar gelê. Al vol brommers.

    Wanneer was dit? Die Zeelies raak vagerig. Seker ook so… tussen die 18de en die 19de eeu, ja.

    Krisjan-se-Nek. "Dalene Matthee is mos ook daar gebêre. By die kalander.

    Ons het haar geken; sy’t saam met ons rondgegaan, was baie hierso in die bos gewees. ’n Goeie vrou. Ja. Ordentlike vrou gewees. Mooi maniere gehad.

    Hennie: Sy’t mos die boeke ook geskryf. Nee, skud hy kop, ons het nie die boeke nie. Die mense het. Daar gaan vakansietye baie mense na haar graf toe.

    Dit was ’n klómpie jare terug wat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1